2. Die Wet van die Here

Die wet van die Here word in die eerste vyf boeke van die Bybel beskryf en in Hebreeus die Torah genoem. Torah beteken om te onderrig en behels God se riglyne waarvolgens sy volk Israel moes lewe. Daar is 613 voorskrifte in die Torah, wat ook as die Pentateug bekend staan. Hieronder kan basies agt soorte wette onderskei word:

Wette oor Israel se verhouding met God, veral met betrekking tot die aanbidding, verering en navolging van Jahweh, offers vir vergifnis, asook die feit dat Israel nie afgodediens mag beoefen nie. Geen ander gode mag voor die aangesig van die Here gebring word nie.

Wette oor ‘n teokratiese regering. God het oppergesag wat geld oor sy volk, daarom moes hulle Hom raadpleeg en ken in al hulle besluite. Die leiers van die volk moes al God se wette eerbiedig, hulle onderdane in die onderhouding daarvan onderrig, met die priesters en profete van die Here saamwerk, toesien dat die jong geslag in die vrees van die Here onderrig word, en oorloë teen die vyande van God voer.

Wette oor menseverhoudings en morele en etiese sake. Dit sluit ‘n groot aantal bepalings oor die huwelik, verhoudings tussen mans en vrouens, ouers en kinders, werkgewers en werknemers, regeerders en onderdane, asook verhoudings met vreemdelinge soos slawe en proseliete in. Verder word persoonlike gedrag, barmhartigheidsdiens, sedelike kuisheid, verskeie vorms van verontreiniging, rein en onrein voedselsoorte, en reinigingsrituele omskryf.

Wette oor ekonomiese sake. Hierby inbegrepe is wette oor arbeid, lone, die gee van tiendes, landbou-aktiwiteite, oes- en slagprosedures, asook natuur- en grondbewaring.

Seremoniële wette soos feeste en sabbatte, wat almal skaduagtige heenwysings na die koms van die Messias is. Israel moes hierdeur op die koms van die Messias voorberei word.

Offers en ander ritusse as tydgebonde heenwysings na die eenmalige offer van die Messias, wat in die volheid van die tyd gebring sou word. Israel is hierdeur voorberei om die betekenis van die Messias se eenmalige offer aan die kruis te begryp, toe Hy homself as die volmaakte Lam van God geoffer het om versoening vir alle mense se sondes te doen.

Wette oor priesterskap onder die leiding van ‘n hoëpriester. Die middelaarsrol wat deur priesters beoefen is, sou met die koms van die Messias vervul word, wat as Hoëpriester in die orde van Melgisédek ‘n amp sou vervul wat nie op ander priesters sou oorgaan nie. Deur sy kruisdood sou vrye toegang aan alle gelowiges tot die genadetroon verleen word.

Wette oor profete. Die Ou Testament bepaal dat profete 100% korrek moes profeteer, ooreenkomstig dit wat die Here aan hulle bekend gemaak het. Valse profete wat hulle eie, misleidende woorde gespreek het, moes gestenig word. Hierdie amp sou, volgens Moses, voortduur totdat God ‘n ander Profeet (die Messias) sou stuur (Deut. 18:15,18).

Uit die aard van die verskillende kategorieë wette is dit duidelik dat hulle streng en basiese reëls was wat daarop gerig was om ‘n ordelike samelewing te verseker wat eers later tot volle ontplooiing sou kom. Dit is die rede waarom baie van die wette slegs ‘n voorbereidende funksie met die oog op die koms van die Messias gehad het. In Hom is hulle finaal vervul en sou nie daarna in hulle oorspronklike vorm voortgesit kon word sonder om die Messias te verloën nie. Selfs die morele reëls is ook in die Messias vervul omdat net Hy die hele wet volmaak kon nakom. Deur sy genadewerk en die krag van die Heilige Gees stel Hy gelowiges in staat om die geestelike en morele beginsels van God se wet (‘n rein hart, ‘n rein lewe en opregte diens aan die Here) te eerbiedig en uit te leef. Hy maak dit vir ons moontlik om die verhewe doelstellings van die wet te kan uitleef (vgl. Miga 6:8).

Die Nuwe Testamentiese wet van die liefde

Hoe moet ons weet op watter manier die beginsels van God se wet in die NT uitgeleef moet word? Die Here Jesus het dit alles vir ons in die wet van die liefde saamgevat toe Hy gevra is: “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hieraan gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matt. 22:36-40).

In hierdie opsomming het Christus Skrif aangehaal wat die Tien Gebooie in twee dele verdeel, nl. liefde tot God (Deut. 6:5) en liefde tot ons naaste (Lev. 19:18,34). In die nakoming van die wet van die liefde sal ons alle wette vervul wat op ons verhouding met God en ons naaste betrekking het. As ons God waarlik liefhet, sal ons heilig voor Hom leef en nooit ander gode voor sy aangesig bring nie (2 Kor. 6:14-18). Dieselfde beginsel van liefde geld vir ons verhouding met ander mense: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. Want dit: jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:8-10).

Nege van die Tien Gebooie word in die Nuwe Testament herhaal, in die wet van die liefde saamgevat en op alle gelowiges van toepassing gemaak. Die eerste drie gebooie vereis liefde tot God (Ex. 20:2-7) en die laaste ses bepaal ons menseverhoudings (Ex. 20:12-17). Die vierde gebod het op die onderhouding van die sabbat op die sewende dag van die week betrekking (Ex. 20:8-11). Dit is die enigste van die Tien Gebooie wat nie in Christus se opsomming weerspieël word nie, omdat Hy dit doelbewus uitgelaat het. Waarom? Omdat dit slegs aan Israel gegee is as ‘n teken tussen hulle en God (Ex. 31:17). Die onderhouding van die sabbat moes die volk se aandag op die uittog uit Egipte vestig (Deut. 5:15) en hulle daaraan herinner dat die Here hulle verlos, heilig en afsonder vir sy diens (Eseg. 20:12). Ná die Babiloniese ballingskap het die viering van die sabbat onder Jode ontaard en het veral die Fariseërs verskeie nuwe bepalings bygevoeg oor wat nie op hierdie dag gedoen mag word nie. Oor hierdie leerstuk van hulle het Jesus dikwels met hulle in botsing gekom (vgl. Matt. 12:1-8).

Die sabbat was een van die seremoniële wette wat net ‘n skaduagtige betekenis in die Ou Testament gehad het, hangende die koms van die Messias. Paulus sê: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of ‘n nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Ons is nie onder die verpligting van wette oor kos (behalwe dit wat deur afgode besoedel is), feeste en sabbatte nie, omdat die nuwe lewe in Christus nie van die onderhouding daarvan afhanklik is nie. In Hom het ons die rus van die Here betree, en behoort elke dag ‘n dag van toewyding aan Hom te wees.

Of ons spesiale dae vir toewyding aan die Here het of nie, is ‘n saak van persoonlike oortuiging in die lig van ons omstandighede: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees” (Rom. 14:5). Ons het nie rigiede wetsbepalings wat dit betref nie, slegs ‘n lang Christelike tradisie van Sondag-aanbidding. Dit het begin by Jesus se opstanding uit die dood op ‘n Sondag en sy prediking aan die dissipels op dieselfde dag (Joh. 20:1,19-22), hulle ontmoeting ‘n week later weer op ‘n Sondag, en die uitstorting van die Heilige Gees op die sewende Sondag ná Jesus se opstandingsdag. Daarna het die Here Jesus se dissipels spontaan op Sondae byeengekom om sy opstandingsdag te vier en hulleself ook duidelik van wettiese byeenkomste deur die ortodokse Jode op die sewende dag te distansieer (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:1-2).

Nuwe Testamentiese gelowiges uit die nasies moet daarop bedag wees dat hulle nooit deel van Israel en sy verbonde en wette was nie, en dit ook nie ná hulle bekering word nie. ‘n Belangrike deel van God se verbond met die Jode sluit die reg tot die bewoning van die land Israel in. Hierdie reg, sowel as ander aspekte van hulle verbonde met die Here, is nie op die kerk oordraagbaar nie en dus ook nie op hulle van toepassing nie.

Die vraag was: watter wette moes die apostels op die heidene van toepassing maak, want daar is tog algemeen geldende beginsels in God se wet vir alle mense? Daar is reeds op gewys dat die wet van die liefde vir alle gelowiges geld en dat dit in verskeie Nuwe Testamentiese voorskrifte vervat word. Hierbenewens is daar volgens ‘n besluit wat in Handelinge 15 bespreek word, net drie van Israel se wette wat op gemeentes in die nie-Joodse wêreld van toepassing gemaak is:

Eerstens is daar in Handelinge 15:20 die verwysing na voedsel wat deur afgode besoedel is. Dit moet in die lig van Openbaring 2:14 en 20 beoordeel word, waarin die Here Jesus twee van sy gemeentes duidelik teen die eet van afgodsoffers waarsku. Dit was ‘n algemene gebruik onder die nie-Joodse nasies om onthale in afgodstempels te hou en daar kos te eet wat aan die afgode geoffer is. Paulus het hierdie gebruik in 1 Korinthiërs 10:14-20 veroordeel en onder meer gesê: “Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.”

Tweedens was hoerery so algemeen onder die heidense nasies dat hierdie vorm van immoraliteit ook deur baie gelowiges beoefen is. Paulus waarsku die gemeentes baie sterk hierteen (1 Kor. 6:12-20). Hy wys daarop dat ons liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is, en sê dan: “Vlug vir die hoerery... wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam... Julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:18,20).

Die derde gebod gaan terug na Genesis 9 waar God ‘n verbond met Noag sluit, wat vandag nog van krag is. Hy het aan mense die reg gegee om vleis te eet, maar die bloed moes uit die vleis gedreineer word. Dit beteken dat daar ook nie bloedwors geëet mag word nie.

Al drie hierdie verbodsbepalings moet as moreel-etiese reëls gesien word. Deur dit na te kom, sal Christene hoë morele standaarde handhaaf en nie aanstoot aan Jode gee nie, aan wie hierdie verbodsbepalings goed bekend was. Let wel, dat hierdie wette wat aan die Christene uit die heidense nasies gegee is om te onderhou, glad nie enige seremoniële wette soos feeste of sabbatte ingesluit het nie, en ook nie diere-offers of ritusse soos die besnydenis nie. Daar is dus nie aan Judaïseerders se eise voldoen, wat die kerk onder die wet wou plaas nie.

Kenmerke van die wet

Die feit dat die groot meerderheid van Israel se 613 wette nie op die Nuwe Testamentiese kerk onder Jode én heidene oorgedra is nie, en dat dié wat wel oorgedra is binne die raamwerk van ‘n totaal nuwe genadeverbond gedefinieer word, dui daarop dat die bedeling van die wet as sodanig verby is. In die lig van die progressiewe ontplooiing van God se raadsplan met die mens het die wet dispensasioneel egter ‘n baie belangrike doel in Israel gedien. Wat is hierdie doel?

Die wet het niks met verlossing of redding te doen nie. Israel het eers die wet ontvang nadat hulle deur ‘n soewereine daad van God uit die slawehuis van Egipte gered is. Die slag van die offerlam in Egipte en die besprinkeling van sy bloed aan hulle deurposte, asook hulle wonderbaarlike uittog daarna, was uiterlike tekens van God se reddende genade oor Israel. Die paaslam dui profeties op die Lam van God wat in die volheid van die tyd sy lewe aan die kruis afgelê het sodat Hy die sondes van Israel en die hele wêreld kon wegneem (Joh. 1:29; 1 Kor. 5:7; 1 Pet. 1:18-19).

Die wet is uitgebreide riglyne waarvolgens God se verloste volk moes leef. Tydens die gee van die wet was Israel reeds die verloste volk van God gewees: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het” (Ex. 20:2). Israel moes nou geleer word om ‘n afgesonderde, heilige lewe te lei sodat hulle God kon behaag en dien. Hulle het geen kennis van die geregtigheid van God gehad nie, en moes deur middel van ‘n groot aantal wette prakties leer wat om te doen en wat om nie te doen nie. Deur dit getrou na te volg en uit te leef, sou hulle die Here dien en geen aandeel aan die morele verdorwenheid en afgodediens van die heidennasies rondom hulle hê nie.

Die wet skerp die beginsel van liefde by Israel in. Hulle moes die Here hulle God van harte liefhê en hulleself met al hul kragte hieraan toewy (Deut. 6:5). Hulle moes ook hul mede-volksgenote liefhê soos hulleself en hierdie liefde verder uitbrei om ook die vreemdelinge in hulle midde in te sluit (Lev. 19:18,34). Die innerlike, geestelike motivering het in die bedeling van die wet egter ontbreek om die liefde van harte uit leef, omdat die wet mense nie gehelp het om oorwinning oor hulle sondige natuur te verkry nie.

Die wet bring kennis van die sonde. Sonder die wette van God sou Israel nie geweet het wat sonde is nie, want sonde is ‘n bewuste oortreding van ‘n bekende wet van God. Paulus sê: “...deur die wet is die kennis van sonde... Ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie... waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie” (Rom. 3:20; 7:7; 4:15). “Die krag van die sonde is die wet” (1 Kor. 15:56), want die wet is die spieël waarin ons die sonde en rebellie van die mensdom kan sien. Die wet het in werklikheid die sonde meer laat word omdat dit die sonde in sy groot omvang beskryf het – hoe meer wetlike bepalings, hoe meer sonde is daar (Rom. 5:20).

Die wet maak van mense slawe van die sonde. Omdat die wet nie die gevalle, sondige natuur van die mens kan verander nie, maak dit van hom ‘n slaaf van die sonde deur ‘n onbereikbare hoë standaard aan hom te stel. As gevolg van sy sondige natuur is die mens wat onder die wet is, van nature ‘n wetsverbreker en per definisie ‘n helverdiende sondaar. Die wet verklaar mense nie net tot sondaars nie, maar plaas hulle ook onder die toorn van God omdat hulle die wet nie voortdurend en in alle opsigte kan nakom nie: “Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie... want voor die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie” (Rom. 4:15, 5:13).

Die wet vereis sondevergifnis op grond van God se barmhartigheid en genade. Omdat die wet ‘n standaard stel wat behalwe vir God se volmaakte Seun, Jesus Christus, nog nooit deur een mens gehandhaaf kon word nie, vereis dit daaglikse instellings waardeur die volk vergifnis van hulle menigvuldige sondes kon verkry. Hieruit het die uitgebreide offerdiens van die Ou Testament voortgevloei, asook ‘n orde van priesters wat as middelaars tussen sondige mense en ‘n heilige God kon optree. Die wet het die hele volk, insluitende die priesters, tot sondaars verklaar, en dit het meegebring dat selfs die hoëpriester net een maal per jaar die Allerheiligste van die tempel kon betree om ‘n bloedoffer vir die versoening van die volk se sondes te bring. Op grond van sy barmhartigheid en genade het God telkens die volk se sondes van wetsverbreking vergewe wanneer hulle dit met opregte harte bely en hulle daarvan bekeer het.

Die wet is ‘n noodsaaklike voorbereiding op die koms en genadewerk van die Messias. Die diere-offers wat ooreenkomstig die eise van die wet as versoening vir sondes gebring is, was onvolmaak en onvoldoende – dit moes in ‘n volmaakte, eenmalige offer vir die sondes van die hele wêreld vervul word: “Want die wet, wat ‘n skaduwee het van toekomstige weldade... kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gebring word, die wat toetree tot volmaaktheid lei nie... want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei... Toe het Ek gesê: Kyk Ek kom... om u wil te doen, o God... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10: 1-10). Die offers in die bedeling van die wet kon dus nie ‘n blywende verandering bring nie, daarom is die belofte van ‘n nuwe verbond onder die Messias by Israel ingeskerp. Hulle het reikhalsend na die koms van die Messias uitgesien, maar was geestelik so afgestomp dat hulle volksleiers Hom nie eers kon herken toe Hy wél gekom het nie.

Die offers onder die wet het net ‘n skaduagtige betekenis as heenwysings na die Messias se kruisiging gehad. Jode in die Ou Testament is by voorbaat op grond van die Messias versoeningswerk aan die kruis gered, gevolglik het die diere-offers net ‘n tipologiese betekenis gehad. “Alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie” (Heb. 11:39). Die Messias, op wie hulle hul hoop gestel het, hét egter gekom en daardeur die tweede Adam vir alle mense geword wat as gevolg van die eerste Adam se sondeval ‘n verdorwe natuur gekry het. Net die Messias kon aan al die eise van die wet voldoen en daardeur vryspraak vir almal bewerk wat op grond van die wet se bepalings sondaars geword het op wie die toorn van God rus. Die Messias is die hoop van Israel én die hele wêreld – die enigste Verlosser wat vryspraak aan sondaars kan bied (Rom. 5:19).

Die wet het verskeie beperkings as gevolg van menslike swakhede en onvolmaakte offers gehad. Die bedeling van die wet het mank gegaan aan dienswerk deur onvolmaakte hoëpriesters, daarom moes dit deur die genadewerk van ‘n volmaakte Hoëpriester vervang word. Die diere-offers was ook onvoldoende en moes deur die offer van ‘n volmaakte Offerlam vervang word. “Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede” (Heb. 7:28). Hulle moes eers vir hul eie sondes offers bring en dan vir dié van die volk (Heb. 7:27). Die offers wat hulle gebring het, kon ook nie regtig ‘n wesenlike verskil maak nie: “Elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie” (Heb. 10:11). Deur die wet is Israel in bewaring gehou totdat die Messias gekom het om vir hulle te doen wat die wet nie kon doen nie: “Voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof” (Gal. 3:23-24).

Die wet moes die weg na ‘n beter verbond baan. Die wet het duidelike maar menslik onbereikbare eise oor God se geregtigheid aan mense gestel. Die gebrek aan ‘n vaste grondslag vir versoening, asook die onvolmaakte bediening deur priesters wat self met swakhede bevange was, verklaar die feit dat dit net ‘n voorbereidende fase vir ‘n beter verbond was. “Jesus [het] van ‘n beter verbond borg geword... Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan... Want so ‘n Hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan wat vir ewig volmaak is... Hy [het] ‘n voortreflike bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is. Want as daardie eerste [verbond onder die wet] onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie” (Heb. 7:22,25-28; 8:6-7).

Toetrede tot die ou verbond

Die ou verbond is net met die volk Israel gesluit, naamlik die biologiese afstammelinge van Abraham deur Isak en Jakob. Uiterlike lidmaatskap van die verbondsvolk is deur geboorte verkry, daarom het die seuntjies die verbondsteken, naamlik die besnydenis, ‘n paar dae ná geboorte ontvang. Ten spyte van Israel se roeping as God se volk, asook die verbondsteken in hulle liggame, is hulle almal in sonde ontvang en gebore en moes dus nog steeds geestelik lewend gemaak word. Hulle moes dus gelowige Israeliete word wie se harte ook besny is.

Deur hierdie geestelike ondervinding is hulle harte verander en is God se wet van liefde op die tafels van hulle harte geskryf: “Die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe” (Deut. 30:6). Hierdie oproep tot bekering is dikwels aan die besnyde Israeliete gerig: “ As jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My... Besny julle vir die Here en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem” (Jer. 4:1,4).

Die hartsbesnydenis was ‘n geestelike ondervinding wat die Here Jesus aan ‘n onkundige Joodse godsdiensleier as “wedergeboorte” beskryf het (Joh. 3:3). Biologiese geboorte alleen, saam met ‘n verbondsteken aan die vlees, het nie ware, geestelike Israeliete met veranderde harte opgelewer nie. Geloof het nog steeds in hulle harte ontbreek, daarom het die Here geen welbehae in sulke Israeliete gehad nie (1 Kor. 10:5). Hulle probleem was ‘n gebrek aan geloof, soos Paulus aangedui het: “...die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Heb. 4:2).

Geen Israeliet kon op grond van uiterlike pogings tot wetsnakoming gered word nie – hy of sy móés ook ‘n geloofsverhouding met die Here hê. Dit beteken dat hulle van harte tot bekering moes kom en binne die raamwerk van die Ou Testamentiese offerdiens om die vergifnis van hulle sondes moes bid. “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jes. 55:7). “Die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en tog bekeer hulle hul nie tot die Here hulle God nie” (Hos. 7:10). ‘n Ware bekering en die vergifnis van sondes op grond van die Messias se toekomstige soenoffer (dit waarheen al die diere-offers gewys het) was die grondslag van die Ou Testamentiese verlossingsleer. Geen uiterlike pogings tot wetsnakoming alleen, sonder bekering en sondebelydenis, kon enige Jood red nie. Sy sondes wat deur die wet geopenbaar is, moes hom na die Here toe dryf om vergifnis te verkry.

Die beëindiging van die bedeling van die wet

Met die koms van die Messias, en spesifiek sy kruisiging, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees ná sy hemelvaart, het die bedeling van die wet as ‘n geïntegreerde sisteem heeltemal tot ‘n einde gekom. Nie net het die offerdiens en die bemiddeling deur onvolmaakte priesters vir gelowiges verval nie, maar die slawerny aan sondes wat deur die wet geïdentifiseer en as ‘n swaar juk op mense geplaas is, is deur die verlossingswerk van Christus beëindig. “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4).

Christus is die einddoel van die wet omdat Hy dit volmaak nagekom het. Ook het Hy deur sy dood die prys betaal vir die verlossing van alle mense wat weens hulle sondes deur die wet veroordeel word. Deur die versoening in die geloof te aanvaar, word die genade van die Here se verlossingswerk aan verloregaande sondaars toegereken. Alle mense het hieraan behoefte, want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die geregtigheid van God. Baie van die Jode het egter die onmoontlike weg verkies om hulle eie geregtigheid deur middel van onvolmaakte pogings tot wetsnakoming uit te werk, en het sodoende die geregtigheid wat God deur die Here Jesus aan hulle gebied het, verwerp.

Wat dan van die Jode wat onder wet geleef en gesterf het? Baie van hulle het nie net uiterlik volgens die letter van die wet probeer leef nie, maar hulle harte is ook deur die Here besny (Rom. 2:28-29). Hulle het ‘n duidelike begrip van hulle oortredings gehad en het deur die offerdiens om die vergifnis en verlossing van die Here gebid. Dit is aan hulle geskenk, omdat die offerdiens vorentoe gewys het na die offer van die Messias. Hoewel hulle nie in hulle lewe die belofte van die koms van die Messias ontvang het nie, het hulle dit in die verte gesien en begroet (Heb. 11:13). Hulle het nie op hulle onberispelike wetsnakoming geroem nie, maar eerlik hulle sondes bely en vergifnis daarvoor gevra.

Dawid het gebid: “Teenoor U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë... was my, dat ek witter kan wees as sneeu... delg uit al my oortredinge. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees... Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer” (Ps. 51:6-15). Ou Testamentiese gelowiges soos hierdie het almal die verlossing van die Here verwag. Volgens Jesaja 53:5 het hulle geweet dat Hy ter wille van hulle oortredinge deurboor en ter wille van hulle ongeregtighede verbrysel sou word. Die straf vir hulle oortredings van wetsverbreking sou op Hom kom, en deur sy wonde aan die kruis sou daar vir hulle krank siele genesing kom.

Om hierdie rede het ‘n engel voor Jesus se geboorte aan Josef gesê: “Jy moet Hom Jesus noem [dit beteken Jahweh is Verlossing], want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Godvresende Israeliete was sterk op die koms van die Messias ingestel en het hulle grootliks verbly toe dit gebeur het. Sagaria het gesê: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het” (Luk. 1:68). Simeon was ook ‘n vroom man wat die vertroosting van Israel verwag het. Die Heilige Gees het aan hom geopenbaar dat hy nie sou sterf voordat hy die Messias gesien het nie. Toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het, het Simeon Hom in sy arms geneem en gesê: “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede... omdat my oë u heil gesien het wat U berei het voor die oë van al die volke – ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel” (Luk. 2:29-32).

Mense soos dié het hulle geregtigheid deur die geloof in die Messias gesoek en sodoende deelgenote van God se reddende genade geword. Hulle het nie op hulle eie prestasies van wetsnakoming geroem nie, maar op die genade en vergewensgesindheid van ‘n barmhartige God. Dit was die ingesteldheid van gelowige Jode voor die koms van die Messias gewees. Ná sy koms het die Messiaanse Jode nét in sy genadewerk geroem en glad nie in die wet of die werke van die wet nie. Die Messias was vir hulle die einde van ‘n wettiese godsdiens en die deur tot die ware geregtigheid van God.

Paulus het ook hierdie duidelike oorgang van die bedeling van die wet na die bedeling van genade gemaak, wat op geloof in Christus se dood en opstanding gebaseer is. Voor sy redding was hy ‘n wettiese Fariseër wat sy geregtigheid in wetsnakoming gesoek het en nie in die barmhartigheid en sondevergifnis van God nie. Hy beskryf sy lewe voor sy bekering só: “As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik” (Fil. 3:4-6).

Paulus se wetsnakoming was net in sy eie oë en in die oë van die ander Fariseërs onberispelik gewees. Hy was ten spyte hiervan so ver uit voeling met God dat hy die Messias én die gemeente van die Messias vervolg het. Die wet kon hom nie red nie, daarom sy gebed om in Christus gevind te word, “nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:9-10).

Die verpersoonliking van die liefde

Liefde is die belangrikste kenmerk van God (1 Joh. 4:8). Dit was die basiese motivering waarom Hy genade aan ‘n gevalle mensdom betoon het deur sy Seun as ‘n offer vir ons sonde na die aarde toe te stuur (Joh. 3:16). God se liefde vorm die grondslag van alle geregtigheid, omdat dit die goddelike beginsel is waaruit die verlossingsplan gebore is. Jesus Christus is die verpersoonliking van God se agape-liefde. Hy het sy hemelse heerlikheid verlaat en mens geword om die Vader se liefde te gedemonstreer deur aan die kruis die doodstraf te betaal vir alle sondaars wat God se wette verbreek het. Die wet het vir Israel ‘n vloek geword omdat dit die doodstraf op almal gelê het wat die wet verbreek. Christus het vir hulle én alle sondaars buite Israel ‘n vloek geword – dit is ‘n doodsveroordeelde wat volgens Galásiërs 3:13 aan ‘n kuis moes sterf – om hulle van die vloek te verlos wat op sondaars en wetsverbrekers rus (Eseg. 18:20; Gal. 3:10).

Die Here Jesus verwag van almal wat Hom as hulle Verlosser wil aanneem, om deur die wedergeboorte nuwe mense te word en in sy voetspore te volg: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6; 1 Pet. 2:21). Omdat Jesus die verpersoonliking van God se liefde is, moet Hy deur die geloof in ons harte woon sodat ons self ook in sy liefde gewortel en gegrondves kan word (Ef. 3:17). Hierdie liefde wat deur Jesus Christus aan ons geopenbaar en deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is (Rom. 5:5), is ons lewensbeginsel en die Nuwe Testamentiese wet waarvolgens ons lewe. Hieruit vloei verskeie opdragte, of gebooie, wat die Here Jesus aan ons gee.

Ons moet ten alle tye Christus se wet van die liefde wat deur geloof in Hom uitgeleef word, van die Ou Testamentiese wet onderskei. Ons is nie nou met uiterlike, menslike pogings tot wetsnakoming besig nie, maar leef die goddelike liefde uit wat ons reeds van die Here af ontvang het. Ons kan slegs liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Joh. 4:19). Dit is ons opdrag om die gebod van die liefde uit te leef:

        “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê: soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34).

        “As julle my liefhet, bewaar my gebooie” (Joh. 14:15).

        “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar” (Joh. 14:21).

        “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly... Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Joh. 15:10,12).

        “En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh. 3:22).

        “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3).

Die Here skenk aan ons die krag en genade om sy gebooie te kan hou, m.a.w. om Hom waarlik lief te hê, asook vir alle mense – insluitend ons vyande. Ons word ook tot hoër hoogtes in hierdie lewe van liefde geroep, naamlik om die Here se Woord só te bewaar en te eerbiedig dat ons volmaak in sy liefde kan word (1 Joh. 2:5). Hierdie liefde bewaar ons só dat ons vrymoedigheid sal hê om te weet dat ons nie die oordele van God oor die sondaars hoef te vrees nie (1 Joh. 4:17), “en sy Seun uit die hemele te verwag... Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10).

Ons moet onthou dat die liefdevolle God wat ons siele deur Jesus Christus wil red en aan ons sy liefde wil skenk om sy gebooie te bewaar, ook sy regverdige toorn oor al die sondaars gaan uitstort wat sy liefde versmaai het. Ons moet nie die fout maak om die Here se genade in ongebondenheid te verander nie, want dan verloën ons die Here Jesus (Judas v.4). Die Nuwe Testamentiese wet van liefde tot God en liefde tot ons naaste, vereis van ons om alle vleeslike, sondige werke wat in stryd daarmee is, af te lê en deur die Gees te wandel (Gal. 5:13-25).

Met die oog hierop kon Paulus met vrymoedigheid sê dat hy “onder die wet van Christus” is (1 Kor. 9:21). Leef jy hierdie wet teenoor jou medebroeders én ander mense uit? “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus” (Gal. 6:2).

Die grondslag van Israel se wettiese vormgodsdiens

Die meeste Jode, soos ook hulle leiers – die Fariseërs, Sadduseërs en ander skrifgeleerdes – het die Messias verwerp en met hulle wettiese vormgodsdiens voortgegaan. Hulle het in hulle eie pogings tot wetsnakoming geroem, as gevolg daarvan nie onder sonde-oortuiging gekom nie en dus nie die Here van harte gedien nie. Hulle het van die wet self ‘n verlossingsinstrument gemaak, wat dit nooit bedoel was om te wees nie. Die wette is as riglyne vir God se verloste volk gegee en sou nie sonder die Here se hulp en die gereelde vergifnis van oortredinge eerbiedig kon word nie. Baie van die Jode het egter, soos Paulus voor sy bekering, in hulle onberispelike, wettiese lewens geroem. Die Fariseër in die tempel het die Here gedank omdat hy so ‘n goeie mens was: “O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry” (Luk. 18:11-12). Die tollenaar het net gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig!” Die Here Jesus se beoordeling van hierdie twee mense is soos volg: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan, eerder as die eerste een” (Luk. 18:14).

Dit is hieruit duidelik dat baie Israeliete nie ernstig na God gesoek het nie en dus nie onder die oortuiging van hulle sondes gekom het nie. Hulle het die Here net met hulle lippe gedien, maar hulle harte was ver van Hom af (Matt. 15:8). Die Here Jesus het die Jode gewaarsku dat as hulle geregtigheid nie meer oorvloedig as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs is nie, hulle die koninkryk van God nie sou sien nie (Matt. 5:20). Hierdie mense se lewens lyk net uiterlik mooi, soos witgepleisterde grafte, maar hulle harte is verdorwe.

Jesus het vir hulle gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Matt. 23:13). In hulle vormgodsdiens was die letter van die wet die enigste norm, daarom het hulle Jesus ook net uit ‘n eng, wetlike oogpunt beoordeel en verkeerdelik as ‘n wetsverbreker en sondaar bestempel (Matt. 11:19; Joh. 19:7). Hulle het sy mag om duiwels uit te dryf en siekes gesond te maak as komende van die duiwel beskou (Matt. 9:34; 12:24; Joh. 8:48). Daardeur het hulle teen die Heilige Gee gelaster en sodoende ‘n onvergeeflike sonde gedoen (Matt. 12:28,32).

Slegs die vroom Jode wat nie by ‘n wettiese vormgodsdiens berus het nie, hulle sondes bely het, op God vertrou en op die koms van die Messias gehoop het, het Jesus as Messias erken en aanvaar. Hulle het Johannes geglo toe hy van Jesus gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Hy was die volmaakte Lam van God wat sonder sonde was (Heb. 4:15; 7:26). In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik (Kol. 2:9).

Met die koms van die Messias het die bedeling van die wet met al sy skaduagtige instellings en menslike beperkings verbygegaan. In Jesus Christus het die beloftes van God se toekomstige weldade ‘n heerlike werklikheid geword. Die tyd toe onvolmaakte, sondige priesters die tempeldiens waargeneem het om “dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sonde kan wegneem nie” (Heb. 10:11), is met die koms van die Messias afgesluit. Hy is sondeloos volmaak en het deur sy bereidwilligheid om Homself tot die dood van die kruis te verneder, ‘n volmaakte soenoffer vir die sondes van alle mense geword. Dit is net Hy wat sy volk van hulle sondes kan verlos – ‘n sondeskuld wat deur die bepalings van die wet op hulle geplaas is.

Geen kompromie

Daar is ongelukkig mense wat met die ou verbond kompromie maak deur na sekere bepalings daarvan terug te keer, ten spyte van die feit dat die nie-Joodse volke nooit onder die ou verbond was nie. Dit hou baie ernstige implikasies in omdat die vervulling van die wet in Jesus Christus daardeur verloën word. Paulus sê vir die Judaïseerders wat die gemeente in Galásië weer onder die wet van Moses wou plaas: “O onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dít alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? ... Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 3:1-2, 5:2-4).

Kompromie van hierdie aard geld nie net die besnydenis nie, maar ook die wettiese onderhouding van sabbatte, feeste, offers en dieetkundige wette wat nie deel van die Nuwe Testamentiese opdrag van liefde teenoor God en ons naaste is nie. Die wet is klaar vervul in Christus en sy liefde is deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort. Dit sou ‘n verloëning van Hom wees indien ons weer na die skaduwee van die wet sou terugkeer. Paulus blameer mense wat dit doen verder deur te sê: “Hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar” (Gal. 4:9-10).

Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 602) sê die volgende oor hierdie teks: “Onder die invloed van Judaïseerders het die Galásiërs weer die Mosaïese kalender begin volg. Hulle het spesiale dae waargeneem (die weeklikse sabbat), en maande (nuwe mane), en seisoene (seisoenale feeste), en jare (sabbatsjare en jubeljare). Hulle het gemeen dat hulle hierdeur ekstra guns in die oë van die Here sou vind. Paulus het dit egter duidelik gemaak dat hulle deur die werke van die wet niks tot hulle saligheid kon bydra nie.”

Uit die werke van die wet sal geen vlees voor die Here geregverdig word nie, want deur die wet is die kennis van die sonde (Rom. 3:20). Ons moet vasstaan in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en onsself nie weer onder die diensbaarheid aan die sonde en die wet bring nie (Gal. 5:1). Enigeen wat ‘n evangelie bring in stryd met volledige en absolute redding uit genade op grond van Christus se soendood, word ‘n vervloeking genoem (Gal. 1:8-9).

As die beginsels van goddelike liefde deur die Heilige Gees op die tafels van ons weergebore harte geskryf is, het ons waarlik ‘n boodskap vir ‘n wêreld in sy nood en kan ons die lieflike geur van Christus se kennis oral versprei. Dit sal ons in staat stel om die kwaad deur die goeie te oorwin en sodoende toonbeelde van Christus se liefde, vergewensgesindheid en reddende genade te wees. Ons is ook geroepe om die ortodokse Jode jaloers maak deur die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien (Rom. 11:11). Hierdie doel sal heeltemal verydel word as ons saam met die Jode feeste vier wat deur die wet voorgeskryf word, bv. die sabbat, omdat Jesus Christus daarop verloën word. Dan sou ons weer skaduwees najaag in plaas van die werklikheid van die Messias wat reeds gekom het. Alle Messiaanse Jode wat vroeër onder die wet was, moet saam met Paulus kan sê: “Nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons [die Here] dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie” (Rom. 7:6).

As sulke verlostes dán feeste vier, moet dit eg Messiaanse feeste soos die Nagmaal wees, of die opstandingsfees van die Messias op Sondae. Ook die pinksterfees en die loofhuttefees kan as Messiaanse feeste gevier word waarin die eerste koms van die Messias, die uitstorting van die Heilige Gees, en die hoop op die Here Jesus se wederkoms uitdruklik erken word. Wanneer dit gedoen word, is die betrokke fees nie meer ‘n blote skaduwee van toekomstige dinge nie, maar dit het ‘n konkrete gestalte en vervulling in die Messias verkry (Kol. 2:16-17). Daardeur sal die deelnemers aan die fees vir Israel én die hele wêreld sê dat hulle viering nie binne die raamwerk en bepalings van die wet is nie, maar binne die raamwerk van die Messias se Nuwe Testamentiese heilsplan vir alle mense. Dit is só ‘n Christelike fees wat Paulus in gedagte gehad het toe hy gesê het: “Want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier...” (1 Kor. 5:7-8). Ons wat Christene is, moet ons nie ter wille van aanvaarbaarheid deur ortodokse Jode of ongeredde wêreldlinge vir Jesus skaam en sy Naam verswyg wanneer ons feesvier en die Here dien nie. Hy is ‘n lig tot verligting van die nasies én tot heerlikheid van sy volk Israel (Luk. 2:32). Israel is egter nie sy volk as hulle Hom nie as Messias erken en aanvaar nie. Dieselfde vereiste geld vir lede van die nie-Joodse volke, wat Jesus Christus in die geloof moet aanneem as hulle aan Hom wil behoort en deelgenote van sy genade wil word. Het jy dit al gedoen en dien jy Hom van harte onder die leiding van die Heilige Gees?