God is die bron en verpersoonliking van ware liefde. Almal wat aan Hom wil behoort, moet sy goddelike liefde in hulle harte ontvang en dan volgens die verhewe beginsels daarvan leef:
“Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het. En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom, en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom” (1 Joh. 4: 7-16).
‘n Ware gelowige is nie iemand wat God deur uiterlike pogings tot wetsnakoming probeer behaag nie, maar ‘n persoon wat die nuwe lewe van die Here Jesus deur die geloof ontvang het en homself daagliks daarmee beklee. God se agape-liefde word deur die Heilige Gees in sy kinders se harte uitgestort (Rom. 5:5); dit verander hulle karakter heeltemal en stel hulle in staat om die nuwe lewensbeginsels prakties uit te leef. Die liefde van God is die belangrikste kenmerk van hulle persoonlike lewe én optrede na buite:
“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Kor. 13:4-7).
God se liefde het tot openbaring gekom in ‘n geestelik verdorwe wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). As gevolg van Satan se verleidingswerk in die Tuin van Eden het ons eerste ouers ‘n sondige natuur gekry, en dit het van al hulle afstammelinge van nature sondaars en teëstanders van God gemaak (Rom. 5:12). Teen hierdie donker agtergrond het God se liefde groot betekenis verkry omdat dit die enigste hoop op redding aan die miljoene sondaars op aarde bied. Sy aanbod van redding lei egter na oordele oor sy vyande omdat die verwerping van sy genade straf inhou. Die uiteenlopende reaksies op God se liefde lei tot die openbaring van verdere attribute van Hom, waarvan ons kennis moet neem:
Waarheid. God is die maatstaf vir alle waarheid. Sy Woord is die waarheid en sy Gees is die Gees van waarheid wat ons in die hele waarheid lei (Joh. 17:17; 16:13). Die Here Jesus het hierdie waarhede aan ons geopenbaar en verkondig (Joh. 14:6). Die teenoorgestelde begrip van leuens word met Satan verbind wat die vader van leuens is (Joh. 8:44). Ons moet duidelik tussen die waarheid en die leuen kan onderskei, daarom oortuig die Heilige Gees ons van sonde, geregtigheid en die oordele wat oor Satan en sy volgelinge uitgespreek is.
Toorn oor sondaars. God haat sonde omdat dit ‘n uitdrukking van die verwerping van sy liefde is, en dus ook van sy koninkryk van waarheid en geregtigheid (Ps. 45:8). Sy toorn en oordele rus op almal wat Hom minag deur volhardend in sonde te leef (Op. 14:10). Hulle tree onder die aanstigting van Satan op, wat die hoof van die koninkryk van die duisternis is.
Regverdigheid. God is regverdig omdat Hy aan almal ‘n vrye wil en keuse tussen goed en kwaad gee. Diegene wat Hom verwerp, sal die voorwerpe van sy regverdige oordele wees (1 Pet. 2:23; Op. 16:5). “Die siel wat sondig, moet sterwe” (Eseg. 18:4). “Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). Ons mag nie ‘n soort liefde aan God toeskryf wat sy regverdigheid en toorn oor sonde verberg of kanselleer nie. Daar is diegene wat verkeerdelik redeneer dat God só liefdevol is dat Hy niemand in die hel sal straf nie.
Genade. Die Here is groot van genade, barmhartigheid en vergewensgesindheid, daarom bied Hy vergifnis en geestelike herstel aan almal wat in sonde geval het. God haat sonde maar het die sondaar lief, omdat hy na sy beeld geskape is en deur Satan se toedoen in sonde geval het. God se regverdige oordeel oor sondaars verplig Hom egter daartoe om die ewige doodstraf oor almal van hulle te voltrek. Hoe kan genade (sy goedheid en guns) dan aan sondaars betoon word as hulle reeds verdoem is? Deur ‘n Regverdige Persoon in die plek van die onregverdiges te laat sterf. Jesus Christus se kruisdood is ‘n losprys vir ons sonde, op voorwaarde dat ons ons sonde bely en sy soenoffer in die geloof aanvaar. “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie” (Joh. 3:18). God het sy regverdige oordeel oor sonde op sy Seun laat neerkom sodat almal wat in Hom glo, vrygespreek kan word. Dit is genade! Sy genade tot redding word gevolg deur die verlening van genade vir alle ander behoeftes op ons lewenspad. Ons moet die Here vir alles vertrou, want sy genade is in elke situasie vir ons genoeg (2 Kor. 12:9).
In die Ou Testament het die Here dikwels in ‘n totaal vervalle en goddelose wêreld ingegryp om sondaars te oordeel en regverdiges uit te red, bv. in die tyd van Noag en Lot. Die goddeloosheid is egter deur opkomende geslagte voortgesit, en dit het daartoe gelei dat God vir Hom ‘n volk uit die heidendom geroep het wat heilig en afgesonderd van die sondaars moes leef. Dit was die volk Israel. Hy het sy liefde aan hulle geopenbaar deur sy wette aan hulle te gee. Dit was ‘n basiese stel reëls wat die regte optrede beveel en verkeerde optrede verbied het: “Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44).
Die liefde en genade van God is nie deur die Heilige Gees in mense se harte uitgestort nie, daarom was die volk nie innerlik gemotiveerd om die Here te dien nie. Daar was maar ‘n kort treetjie tussen diens aan die Here en die afgodediens waarin Israel so dikwels verval het. Die vasgestelde tye vir geestelike toewyding is ook maklik verontagsaam en die Here heeltemal buite rekening gelaat. ‘n Sondebesef is deur die lees van die wet by Israel ingeskerp, en vergifnis deur middel van herhalende diere-offers verkry. Priesters was die middelaars tussen die volk en die Here, gevolglik was die gewone mense se ervaring van God se liefde, heiligheid, vergewensgesindheid en leiding in hulle lewe baie beperk. Hulle het aan uiterlike wetsnakoming en die verbondsteken van die besnydenis vasgehou. Die salwing van die Heilige Gees het net op sekere leierspersone (konings, profete en priesters) gerus. Genade en vergifnis is wél aan mense geskenk, maar slegs nadat die priesters gebede en offers aan die Here vir hierdie sondes aangebied het.
Die offers onder die wet was ‘n skaduagtige heenwysing na Christus se offer vir die sonde van die hele wêreld, toe Hy as die Lam van God aan die kruis gesterf het. Die wet self kon niemand red nie, omdat geen mens dit volkome kon onderhou nie. Die wet het die hele wêreld doemwaardig voor God gemaak, “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van die sonde” (Rom. 3:19-20).
Met die koms van Christus het die bedeling van die wet verbygegaan en die bedeling van genade aangebreek. Paulus sê: “Die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!” (Rom. 6:14-15). Sonde is heeltemal in botsing met die nuwe lewe wat ons van bo af kry, want God se agape-liefde lei tot ‘n lewenswandel wat in ooreenstemming met sy heiligheid is (1 Pet. 1:15-16). Die Heilige Gees is oor alle mense uitgestort, en oortuig hulle van sonde – dit is alle gedagtes, gesindhede en dade wat in stryd met die heilige natuur van God is.
In die bedeling van genade openbaar God sy liefde aan ‘n geestelik sterwende wêreld deur die kruisdood van sy Seun, en word ons op grond daarvan salig verklaar. Genade is God se geskenk van sondevergifnis aan verlore sondaars wat van hulle Skepper en sy goddelike natuur vervreem geraak het. Sy Heilige Gees oortuig almal van hulle sonde en van Christus se geregtigheid (Joh. 16:8). Dit word nie meer deur die voorlees van die wet gedoen nie. Vergifnis word ook nie deur ‘n priester se offers bewerk nie, omdat elke sondaar self tot die genadetroon toetree waar hy sy sonde kan bely en vergifnis verkry (Heb. 4:16). Die vergifnis wat hy vryelik (uit genade) van die Here kry, verbind hom daartoe om ook sy oortreders van harte te vergewe (Matt. 6:15).
Die feit dat ons nie onder die wet is nie, beteken dat ons op ‘n veel hoër geestelike vlak as die mense van die Ou Testament leef. Die Heilige Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom. 8:16), en oortuig ons ook van alle sonde wat tussen ons en die Here staan. Selfs die kleinste sonde kan ons verhouding met die Here vertroebel en ook die Heilige Gees bedroef as ons dit nie dadelik bely en laat staan nie (Ef. 4:30). Die Here se genadewerk in ons lewens behels reiniging deur die bloed van Christus en vervulling met sy Heilige Gees, waardeur die regverdigheid en heilige natuur van Christus aan ons toegereken word – ons word met Hom beklee (Rom. 13:14).
Die liefde van God wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is (Rom. 5:5) dring ons om die Here met ons hele hart, siel en verstand lief te hê en geen ander liefdes bo dit te stel nie (Matt. 10:37; 1 Joh. 2:15-16). Op grond van Jesus Christus se kruisdood kan ons sterf vir die sonde en lewend word vir God deur Jesus Christus (Rom. 6:11). Ons hoef dus nie onder die heerskappy van die sonde te leef nie (Rom. 6:12-14). Sy genade word ryklik oor ons uitgestort.
In hierdie hoër lewe van diens aan die Here moet ons nooit die wet tot norm verhef nie, want dan keer ons na die “swakke en armoedige eerste beginsels” van die wet terug (Gal. 4:9). Indien ‘n Nuwe Testamentiese gelowige sy geloofsverhouding met die Here deur Jesus Christus met ‘n Ou Testamentiese verbondsteken soos die besnydenis probeer aanvul, of ook deur die wettiese onderhouding van die Sabbat, dan betwyfel hy daardeur die algenoegsaamheid van die Here se genade en doen só afbreuk daaraan (Gal. 5:2-4). “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie (Gal. 5:1). Die Living Bible parafraseer hierdie teks só: “Christus het ons vrygemaak. Maak dan seker dat julle vry bly en nie weer die slawe van Joodse wette en seremonies word nie.” Ons moet nie aan die sonde óf die Mosaïese wette diensbaar wees nie.
In die lig hiervan is dit van die grootste belang dat elkeen van ons sal besef wat die grondbeginsels van die bedeling van genade is, hoe dit in ons lewens moet funksioneer en wat die Here van ons verwag. Laat ons nie in die strik van die Galasiërs trap en die genade van die Here geringskat deur dit met wetsonderhouding te probeer aanvul nie. In die nuwe bedeling gaan dit nie oor uiterlike verbondstekens soos die besnydenis om ‘n kind van God te wees nie, “want in Christus Jesus het nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel” (Gal. 6:15). Verbondstekens (doop of besnydenis) maak nie van ons nuwe mense nie – net die wedergeboorte wat deur God se Gees bewerk word op grond van sy genade, kan ons red. Ons moet volgens die reëls van die nuwe mens wandel (Gal. 6:16), en in die volle waarheid hiervan sal die Heilige Gees ons lei.
Die liefde van God het sy eie dinamiek en beginsels om ons op die regte spoor te hou (1 Kor. 13:4-7). Dit veredel die mens innerlik as jy altyd daarvolgens leef: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.... Die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Gal. 5:22-25). Christene behou steeds hulle vrye wil, daarom moet ons op ‘n gereelde en vasberade manier die vlees oorlewer om gekruisig te word (Ef. 4:22). Ons is diep van die Here afhanklik om ons met sy Heilige Gees te vervul sodat ons geestelik versterk kan word na die innerlike mens, om aan ons kennis, wysheid en insig te gee, deur die lewe te lei, as dissipels te skool, in sy diens te gebruik, deur alle krisisse te dra en van die Bose te bewaar. Ons sal nooit alleen wees nie, want Hy verseker ons van sy voortdurende teenwoordigheid in ons lewe (Heb. 13:5).
In die bedeling van genade ná die koms van Christus word die Here se reddende genade aan alle nasies verkondig, en dit het tot die Nuwe Testamentiese Kerk van Christus aanleiding gegee. Die verkondiging van die evangelie geskied deur die instaatstelling van die Heilige Gees (Hand. 1:8), en dit is ook die Gees van God wat mense se harte wederbaar om van hulle Christene te maak (1 Kor. 12:13). In die lig hiervan staan die bedeling van genade ook as die kerkbedeling en die bedeling van die Heilige Gees bekend. Kom ons kyk wat ‘n lewe uit die genade van die Here alles behels:
Alle sondaars is van God vervreem en kan Hom nie sien of hoor nie, daarom moet sy liefde en genade aan hulle verkondig word deur kinders van Hom wat reeds deur sy genade herskep is. Die Heilige Gees stel sondaars in staat om in geloof op God se roepstem te reageer en sy Seun as Verlosser aan te neem. Wanneer hulle dit doen, word hulle gelowiges wat aan God verbind is omdat hulle sy genadewerk deur die geloof ontvang het. Hulle verkry ‘n hoopvolle toekoms in die Here omdat hulle weet dat hulle vir sy ewige heerlikheid bestem is. Vroeër was hulle sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef. 2:12).
Die geestelike kenmerke van ‘n persoon wat deur die genade van God herskep is, is geloof, hoop en liefde. Deur geloof is hy aan die lewende God verbonde. Dit gee aan hom ‘n vaste hoop op die Here vir daaglikse onderskraging en bewaring, maar veral op die ewige lewe in die hemel. Die liefde van God bepaal die aard van ons verhouding met Hom, asook met ander mense. ‘n Christen moet daarin gewortel en gegrond word sodat hy self ‘n toonbeeld van die Here se liefde en genade kan wees (Ef. 3:17-19). Liefde en genade moet meer oorvloedig in ons lewe word, en ons geloof ook sterker.
Geen mens kan sonder die soenoffer van Jesus Christus aan die kruis gered word nie. Dit is die grondslag vir God se reddende genade, en kan net deur die geloof as ‘n geskenk van Hom af ontvang word. Daar is geen manier waarop ons ons saligheid selfs in die geringste mate kan verdien nie, daarom word ons glad nie op grond daarvan gered nie: “Uit genade is julle gered deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Ef. 2:8-9).
Met werke word hier die mens se eie pogings tot wetsnakoming en ‘n goeie lewe bedoel, op grond waarvan sommiges hulle saligheid probeer verdien. Indien ‘n persoon hierin kon slaag, dan sou hy vir sy redding in sy eie pogings en werke kon roem. Hy kan dit egter nie doen nie, want dit is net deur genade op grond van Christus se soenverdienste dat hy ‘n kind van God kan word. Speel werke dan geen rol in ‘n kind van God se lewe nie? Ons moet versigtig wees om nie die plek van werke in Christene se lewens verkeerd te verstaan nie, want dan kan ons onsself van groot seëninge en godsvrug beroof. Hoewel menslike werke en ‘n goeie lewe nooit in die geringste mate as ‘n grondslag vir redding aangebied kan word nie, neem werke nogtans ‘n belangrike plek in ‘n Christen se lewe in.
Ons kan nie eers die Here se reddende genade deelagtig word as ons nie deur die werke van sondebelydenis en bekering op sy roepstem tot redding reageer nie (1 Joh. 1:9). Dit is geloof in aksie. Bekering en vergewing van sondes moet aan alle mense verkondig word (Luk. 24:47). Vergifnis uit genade moet deur bekering voorafgegaan word. Ná ons redding moet ons deur die krag van die Heilige Gees werke doen wat by die bekering pas (Hand. 26:20). Ons moet op die fondament, Jesus Christus, bou deur werke te doen wat ewigheidswaarde het (1 Kor. 3:11-15). Sommige Christene doen dit nie, en sal gevolglik met leë hande voor die Here verskyn. Geloof en werke gaan hand aan hand, daarom is geloof sonder werke dood (Jak. 2:14,17).
Direk nadat Paulus werke as ‘n grondslag vir saligheid verwerp het, het hy die groot rol van werke in ‘n Christen se lewe só verduidelik: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10). Wanneer ek slegs uit genade deur geloof gered is, dan gebruik die Here my daagliks om vir Hom te werk.
Vir baie mense is dit moeilik om te aanvaar dat God se genade genoeg is om al hulle sonde te vergewe. Hulle leef in ‘n voortdurende skuldkompleks omdat hulle nie kan glo dat genade meer en groter as al hulle sonde is nie. Die Bybel is egter baie duidelik hieroor: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade wat Hy oorvloedig aan ons bewys het” (Ef. 1:7-8). Daar is ‘n rykdom van genade wat aan ons gebied word.
Aan die ander kant is daar net so baie mense wat God se genade misbruik en dink dat sy oorvloedige genade ‘n verskoning is om aan te hou sondig. Hierdie idee het die afgelope 30 jaar baie populêr begin word. Baie predikers gee ‘n skewe voorstelling van genade omdat hulle meer in groot gemeentes belang stel as om die woord van die waarheid reg te sny (2 Tim. 2:15). Mense in sulke kerke dink dat dit nie saak maak hoe hulle leef nie, omdat die Here maar altyd weer sal vergewe. Dit het tot ‘n geslag Christene gelei wat elke Bybelse beginsel behalwe dié van genade verloën.
Dit is nie ‘n nuwe probleem nie, want Paulus het ook daarmee in aanraking gekom: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:1-2). Hy bied dan in die volgende 12 verse ‘n kort maar ingewikkelde argument aan. Die slotsom hiervan is dat as ons werklik weergebore is (saam met Christus gesterf en opgestaan het) dan behoort ons dood vir die sonde en lewend vir God te wees. Diegene wat aanhou sondig sodat die genade meer kan word, sê daardeur duidelik dat hulle nie nuut gemaak is nie – hulle het slegs God se genade aangeneem om sy oordele te kan vryspring. Hulle het geen begeerte om met Hom verenig te word, om in en vir Hom te lewe, of om hulleself vir heiligmaking en diensbaarheid ten volle aan Hom oor te gee nie. Al wat hulle wil hê is ‘n kaartjie van vrywaring teen die hel, asook ‘n lisensie om met hulle sonde voort te gaan sonder om daaroor skuldig te voel.
In Romeine 6:15 maak Paulus ‘n soortgelyke stelling: “Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!” In die volgende 8 verse verduidelik hy hierdie stelling. Hy sê dat diegene wat aanhou sondig omdat daar genade is, moet vasstel van wie hulle diensknegte is. As hulle aan sonde verslaaf is, dan is sonde hulle meester. As hulle aan geregtigheid verslaaf is, dan is God hulle Heer en Meester. Hy sê dan wesenlik dieselfde as wat hy vroeër in die hoofstuk gesê het. Mense wat aanhou om te sondig en God se genade te misbruik, is dalk glad nie gered nie! As ons waarlik gered is, sal ons aan goeie dinge verslaaf wees en nie aan sonde nie. Wanneer ons wél sondig, sal ons dit dadelik bely en reiniging daarvan verkry (1 Joh. 2:1-2).
Indien ons die boodskap van die evangelie reg verstaan, asook die prys wat Jesus vir ons betaal het en die grootheid van God se genade, sal ons nie wíl sondig nie maar Hóm wil behaag en dien. Jy kan nie sonde ligtelik beskou nadat jy aan die voet van die kruis was nie. Wanneer jy selfs net gedeeltelik verstaan wat sonde aan Jesus gedoen het, sal jy daarvan wegvlug. (Hierdie gedeelte is ‘n vertaalde uittreksel uit Anton Bosch se artikel, Grace covers it all (Aug. 2007).
Die genade van die Here staan nie net met redding in verband nie, maar ook met heiligmaking en afsondering van die wêreld: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke” (Titus 2:11-14). Dit is die Heilige Gees wat ná ons bekering die genade van die Here meer oorvloedig oor ons uitstort en ons in ‘n nuwe lewe van heiligheid en diensbaarheid lei. Ons moet sy leiding heelhartig volg.
Paulus wou nie hê dat die Korinthiërs by redding volstaan en terugsit nie, maar geestelik in die genade van die Here ontwikkel en opgroei: “In hierdie vertroue wou ek vroeër na julle kom, dat julle ‘n tweede genade kan ontvang” (2 Kor. 1:15). Wanneer die Heilige Gees ons wederbaar, bedien Hy die eerste genadewerk van redding aan bekeerlinge. Wanneer Hy ons daarna vervul en vir diens toerus, doen Hy die tweede genadewerk van heiligmaking in ons lewens. Hierdie werkinge word op grond van die Here Jesus se soenverdienste aan die kruis gedoen, daarom ontvang ons uit sy volheid genade op genade (Joh. 1:16). Die Here Jesus het die losprys vir ons redding en heiligmaking betaal, maar die Heilige Gees is die bedienaar van sy genade.
Die Heilige Gees wat die liefde van God in ons harte uitstort, beklee ons met die natuur van Christus en stel ons in staat om daarvolgens te leef. Op hierdie manier leer Hy ons om heilig en rein te leef. Hoewel God ons deur sy Gees op grond van Christus se versoeningswerk heilig maak (1 Thess. 5:23), verwag Hy beslis ook daarna van ons werke van toewyding (2 Tim. 2:19,21; 2 Kor. 7:1). Ons moet nougeset optree om van enige vorm van kwaad in ons lewe afstand te doen en ons hoop volkome in die Here se genade tot heiligmaking te stel. Hy kan en wil ons harte reinig as ons ons volle samewerking gee.
Baie Christene werk nie aan hulle heiligmaking soos hulle behoort nie, en bedroef voortdurend die Heilige Gees. Hulle laat na om hulleself te verloën en die ou natuur oor te lewer om gekruisig te word. As gevolg hiervan wandel hulle nie deur die Gees nie, maar staan Hom deur hulle ongekruisigde vlees teë (Gal. 5:16-17). Die Heilige Gees wil ons uit ‘n wêreldse en selfgesentreerde oriëntasie lei deur goddelike eienskappe, gesindhede en gedagtes by ons aan te moedig. As ons onsself hiervoor beywer, sal ons groter genade ontvang om volkome in hierdie wonderlike, nuwe lewe op te gaan. Dan sal die Here elke dag kennelik met ons wees en ons harte met sy blydskap vervul:
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees” (Fil. 4:4-9).
Hierdie nuwe lewenswyse is deel van die genade wat ons van die Here af ontvang, maar ons moet dit ook uit die Woord van die Here aanleer. Dit behoort vir ons ‘n groot aansporing te wees om te sien hoe dit in Geesvervulde kinders van die Here se lewens ‘n werklikheid is. Ons moet mekaar beslis in hierdie rigting aanmoedig deur die blydskap van die Heilige Gees uit te leef en altyd die regte Bybelse waarhede aan te haal: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here” (Kol. 3:16).
Ons moet as Christene voortdurend uit die genade van die Here put as ons Hom wil behaag en vir Hom wil werk. Hy het ons nie net uit genade gered sodat ons eendag hemel toe kan gaan nie, maar ook om in hierdie verdorwe wêreld as sy getuies op te tree. As jy nie aan hierdie roeping voldoen nie, is jy tevergeefs as ‘n dissipel gewerf. Is jy ‘n dissipel van Christus wat jouself aangebied het om vir Hom te werk? Paulus sê: “Deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is” (1 Kor. 15:10). Paulus is nie net deur genade gered nie, maar die Here se genade tot diensbaarheid is ook ryklik aan Hom geskenk. Hy het nie in homself geroem oor dit wat hy vir die saak van God bereik het nie.
Die Here verwag van elke kind van Hom om in sy genade te groei, sodat ons almal kan meewerk om sy Woord aan die ongeredde wêreld te verkondig. Ons word verkwalik as ons nie geestelik groei nie: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:12–6:1).
Een van die algemeenste redes vir die gebrek aan geestelike groei en diensbaarheid, is sonde en wêreldgesindheid. Daar moenie dinge in ons lewe wees wat ons getuienis beklad nie, want dan kan die Here ons nie gebruik nie: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid... As iemand homself hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk” (2 Tim. 2:19,21).
Die Heilige Gees rus ons met genadegawes toe om vir die Here te kan werk (1 Kor. 12:4; Rom. 12:6). Wanneer ons onsself tot diensbaarheid beskikbaar stel, het ons die verpligting om naas die instaatstellende krag van die Here (Hand. 1:8) ook onsself te dissiplineer. Paulus sê: “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Daar móét werke uit ons geloof voortvloei. Lei jou geloof na werke, of het jy dalk ‘n dooie geloof? Gebruik jy jou talente in die Here se diens, of is dit steeds onbenut? Slegte en lui diensknegte gaan tevergeefs probeer om geldige verskonings vir hulle gebrek aan diensbaarheid vir die Here aan te bied (Matt. 25:24-28; Luk. 19:20-24).
Die Here Jesus het gesê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, terwyl dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Doen jy dit ook? Die nag van God se oordele gaan spoedig oor hierdie sondige wêreld toesak. Dan sal die bedeling van genade verby wees en die tyd van oordeel en afrekening aanbreek: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18). Die Here Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Ons sal rekenskap van ons lewens moet gee.
Die Here Jesus het self onder versoeking gely, daarom kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:18). “Ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Heb. 4:15). Omdat ons swak mense is, skenk die Here aan ons genade om die versoekings te kan oorwin. Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, en belowe uitkoms sodat ons dit sal kan verdra (1 Kor. 10:13). Versoekings is nogtans nodig om ons geloof te toets en sterk te maak (Jak. 1:2-15). Ons moet daarteen weerstand bied en dit oorwin. Die Here belowe ook aan ons krag en genade vir die hewige stryd waarin ons teen die Bose gewikkel is (Ef. 6:10-11). Ons is nie nou konings wat saam met die Here regeer nie, maar soldate vir die kruis in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Onder hierdie omstandighede is ons soveel te meer van die Here se genade afhanklik, sodat ons in “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) staande kan bly.
Die Here neem ons hele lewe vir sy rekening, daarom sê Hy dat Hy elke behoefte van ons sal vervul na die rykdom van sy genade (Fil. 4: 19; Ef. 2:7). Vir hoeveel van jou behoeftes het jy die Here al vertrou? Vir elke moeilike taak wat ons moet aanpak, moet ons om genade bid, ook wanneer ons versoekings en sonde moet weerstaan of krisisse moet hanteer. Daar is geen situasie waarin ons kan wees, waarvoor die Here se genade nie genoeg is nie.
Wanneer jy siek is en swak voel, is die genade van die Here vir jou genoeg om jou óf te genees óf aan jou krag te gee om jou ten spyte van die beproewing staande te hou en deur te dra. Sy genade is genoeg om jou selfs in uiterste omstandighede te laat triomfeer: “Waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20).
Dit is belangrik dat ons die algenoegsaamheid van Jesus Christus se genade sal glo en aanvaar. Daar is geen sonde wat nie deur sy genade vergewe en geen demoniese binding wat nie daardeur verbreek kan word nie. Die Here Jesus het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8), daarom is sy genade ook hiervoor genoeg. Vir vergifnis en verlossing van sonde, volkome vryspraak van alle oortredinge, en watter ander geestelike behoefte ook al, is Jesus Christus se genade genoeg: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:16). Ons hoef nie deur gebruike soos bevrydingsessies, innerlike genesing, hipnose, sielkundige berading en die breek van beweerde bloedlynvloeke by die Here se genade te probeer aanvul nie, want dan onderskat ons die waarde en verlossingskrag daarvan tot ons eie nadeel. Hy het gekom dat ons lewe en oorvloed kan hê (Joh. 10:10).
Deur sy genade rus die Here elkeen van ons vir spesiale bedieninge toe: “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10). Elke prediker, evangelis en getuie vir Christus moet die veelvuldige genade van die Here verkondig – vir redding, heiligmaking, diensbaarheid, krag om die storms van die lewe te trotseer, oorwinning oor elke versoeking en aanslag van die vyand, asook voorsiening in die daaglikse behoeftes van die heiliges.
Ons moet ook al die struikelblokke identifiseer wat verhoed dat mense die volheid van die Here se genade in hulle lewe ervaar. Wanneer dit uit die weg geruim is, kan ‘n kind van die Here by hernuwing met die nuwe mens beklee word wat na God geskape is, in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:24). Dan sal hy weet en ervaar dat die Here se genade in elke opsig en vir elke behoefte van hom genoeg is. “Hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:13).
Die vraag is: hoeveel van die genade van die Here ervaar jy in jou lewe? Ons verkry dit deur die geloof in gebed. Indien ons nie om die Here se genade bid en die beloftes in sy Woord in die geloof toeëien nie, sal ons geestelik arm bly. Jakobus sê: “Julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2). Dit was Daniël se gebruik om drie maal ‘n dag te “bid en voor sy God om genade te smeek” (Dan. 6:12). Die Here het hom in al die krisisse in sy lewe kragtiglik uitgered en ook gebruik om groot dinge vir sy koninkryk te doen.
‘n Wettiese lewe staan direk teenoor ‘n lewe wat deur die genade van Christus volgens die beginsels van sy liefde gelei word. Ons moet dus duidelik besef dat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade (Rom. 6:14). Die feit dat ons nie onder die wet is nie, beteken nie dat ons wetteloos en ongebonde leef nie, maar dat ons deur die genade van Christus op ‘n hoër vlak van toewyding aan God leef. Sy genade leer ons om die sonde en wêreldse begeerlikhede te verloën en ook in ons verborge gedagtes en gesindhede aan die gekruisigde en verrese Here Jesus gelykvormig te word.
Paulus sê: “...die wet is nie gegee vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddeloses en sondaars” (1 Tim. 1:9). Die wet is nie bedoel vir diegene wat reeds hulle sonde erken en vir vergifnis en redding na Christus gekom het nie. Die wet is vir sondaars ‘n tugmeester na Christus toe sodat hulle deur die geloof geregverdig kan word (Gal. 3:24). Ná ons redding is ons nie onder die wet nie, maar wandel deur die Gees (Gal. 5:13-26). Die Heilige Gees wortel en grond ons in die liefde van Christus. Hy lei en bekragtig ons ook om volgens die beginsels daarvan te leef. Hy oortuig ons voortdurend van die sondes wat ons moet bely en aflê.
Ons moet die sin van Christus hê (1 Kor. 2:16) en in sy voetstappe volg (1 Joh. 2:6). Hy het die wet volkome vervul, daarom hoef ons nie na uiterlike wetsbepalings terug te keer om ons gedrag daarvolgens te reël nie. Wanneer die liefde van Christus in ons harte uitgestort is, en ons daarvolgens leef, dan het ons die wet vervul (Gal. 5:14). As ek God met my hele hart liefhet, dan het ek nie ‘n wet nodig om vir my te sê dat ek geen ander gode voor sy aangesig mag hê nie. As ek my naaste liefhet soos myself, het ek ook al die wette wat my optrede teenoor my naaste bepaal, vervul (Rom. 13:8-10). Die liefde van Christus (nie die wet nie) sal my ook dring om die evangelie aan ander mense te verkondig (1 Kor. 9:16; 2 Kor. 5:14).
Ons is net aan die wet van Christus gebonde, wat die wet van die liefde is (Joh. 13:34; 15:12). Selfs die bepalings oor die sabbat is in Christus vervul, omdat ons in Hom die rus van die Here betree het. Ons is vry om enige dag van die week ‘n spesiale dag van toewyding aan die Here te maak, of selfs al sewe dae! (Rom. 14:5). Ons leef daagliks uit sy genade en hoef nie skaduagtige feesdae te vier wat reeds in Hom vervul is nie (Kol. 2:16-17).
Die Here wil hê dat ons Hom vrywillig moet liefhê, daarom dwing Hy niemand om Hom na te volg nie. Ons behou ons vrye wil ná ons bekering en kan dus steeds sondig, verkeerde besluite neem en só die Heilige Gees bedroef. As gevolg hiervan is daar ‘n besliste moontlikheid van veragtering in die genade in plaas van groei in die genade: “Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:15).
Behalwe veragtering in die genade, bestaan daar volgens die Bybel ook ‘n moontlikheid van verval uit die genade indien ons nie in Christus bly nie. Dit gebeur wanneer mense in valse leerstellings glo of volhardend, teen hulle beterwete en in stryd met die Gees se waarskuwings, in sonde terugval. Waarskuwings hieroor is reeds van Ou Testamentiese tye af aan Israel gerig: “As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe” (Eseg. 18:24).
Geloof is ons verbindingskanaal met die Here, en wanneer dit verswak raak of selfs ophou bestaan, verminder of verdwyn genade uit ons lewe. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Heb. 11:6). Daar is verskillende waarskuwings teen geloofsverval in die Nuwe Testament. Die volgende is die belangrikstes:
Verval uit Christus se liefde. Daar is individue én selfs gemeentes wat heeltemal uit die liefde van Christus verval. Die plek daarvan word dan deur liefde vir hulle kerk, liefde vir hulle leraar én ander vreemde liefdes ingeneem – ook liefde vir die wêreld (1 Joh. 2:15-17). Die Here Jesus waarsku sulke mense dat indien hulle nie na hul eerste liefde terugkeer nie, Hy hulle kandelaar (‘n simbool van die Heilige Gees) van hulle af sal wegneem: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Die lig van die evangelie kan dus in ‘n persoon se lewe óf in ‘n gemeente uitgedoof raak wanneer geestelike afvalligheid voortduur. Die Bybel sê: “Die Gees van die Here het van Saul gewyk” (1 Sam. 16:14). Hy was deur sy ongehoorsaamheid vir die ernstige verval in sy lewe verantwoordelik, en is nooit daarna geestelik herstel nie. Daar is baie sulke mense vandag wat in die lig van God se koninkryk begin het, maar in geestelike duisternis geëindig het.
Verval uit Christus self. Ons het ‘n opdrag om in Christus te bly (“the abiding life”). Nie almal doen dit nie: “Bly in My, soos Ek in julle... As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur” (Joh. 15:4,6). Wat dan van die waarborg: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Joh. 10:27-28)? Daar is ‘n duidelike voorwaarde aan hierdie belofte verbonde: Christus se skape moet aanhou om na sy stem te luister en Hom te volg. Slegs dan bly hulle in Hom en het die versekering dat geen ander mag hulle uit die Here se hand sal ruk nie – daarom die opdrag: “Bly in My!” Die ewige lewe is net in Christus. As ons nie in Hom bly nie en uit eie beweging van Hom afvallig raak, is dit inderdaad ‘n ewige saligheid wat ons verbeur.
Verval uit die genade. Wanneer gelowiges nie meer die genade van Christus as genoegsaam vir redding en heiligmaking beskou nie, en dit deur wetsnakoming probeer aanvul, verval hulle uit die genade. Paulus het aan geredde Galasiërs wat na die wet begin terugkeer het, gesê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Gelowiges kan deur hulle eie toedoen van Christus losgemaak word. Die volgende belofte is voorwaardelik: “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Ef. 4:30). Hier word die voorwaarde vir ewige sekerheid saam met die belofte genoem – ons moenie die Heilige Gees bedroef nie. Sommige gelowiges laat egter nie toe dat die Heilige Gees hulle vervul en in die hele waarheid lei nie. Daardeur bedroef en weerstaan hulle Hom. Hoe kan die Gees van God aanhou om ons saligheid te verseël as ons nie meer sy beheer oor ons lewe erken nie? Omdat alle mense ‘n vrye wil het, kán ons verkeerde dinge doen, in verkeerde dinge begin glo en selfs ook van die geloof afvallig raak. Paulus sê vir die Thessalonicense: “Blus die Gees nie uit nie” (1 Thess. 5:19). Die Griekse term in hierdie teks beteken dat ons die Gees nie moet uitdoof, soos ‘n lig wat afgesit of ‘n vuur wat uitgeblus word nie. Ons verhouding met die Heilige Gees is baie sensitief en van ons volle gehoorsaamheid afhanklik. Soos wat ons ‘n gordyn kan toetrek om die sonlig uit ‘n vertrek te weer, kan ons ook deur moedswillige sonde die Gees en sy leiding verwerp. In sulke situasies verval al die waarborge wat ons as Christene gehad het.
Geloofsverval weens misleiding. Mense wat nie in die leer van Christus bly nie (2 Joh. v.9) en in plaas daarvan valse leerstellings aanvaar, verval uit die geloof: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:8). Sulke mense hou nie aan die geloof en ‘n goeie gewete vas nie, maar stoot dit van hulle af weg en “ly aan die geloof skipbreuk” (1 Tim. 1:19). Omdat hulle van die waarheid afgedwaal het, en hulle drogredes ook aan ander verkondig, “keer hulle die geloof van sommige om” (2 Tim. 2:18). Een van hierdie drogredes wat verkondig word, is die verloëning van Jesus deur sy godheid en die betekenis van sy kruisdood te ontken. Petrus waarsku teen die “valse leraars wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg” (2 Pet. 2:1-2). In die plek van Bybelse waarhede sal fabels (m.a.w. leuens of menslike teorieë) verkondig word (2 Tim. 4:3-4). Voormalige Christene wat in leuens begin glo, raak tot hulle eie verderf en ondergang van die waarheid van die Woord én ‘n ware geloof afvallig. Hulle het nagelaat om die boodskappe van valse profete in die lig van Bybelse waarhede te toets (1 Joh. 4:1).
Geloofsverval weens sonde. Mense verval nie net weens verkeerde leerstellings uit die geloof nie, maar ook weens sonde. Die gelowige Hebreërs word só gewaarsku: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Dit het ook met die verlore seun gebeur, maar hy het sy gebroke verhouding met sy vader herstel toe hy met bitter berou oor sy sonde na sy vader teruggegaan het (Luk. 15:18-19). Gedurende die tyd van sy afdwalings was hy verlore en geestelik dood (Luk. 15:32). Christene wat in sonde teruggeval het, kán weer tot bekering kom en geestelik herstel word. Koning Dawid het die erns van die situasie begryp toe hy in sonde geval het, want hy het besef dat die Here sy Heilige Gees van hom kon wegneem indien hy in sy sondes sou volhard. Hy het gebid: “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde... Delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Ps. 51:4,11-13).
Geloofsverval weens die aantasting van God se Woord. Die Here self waarsku ons in die laaste paar verse van die Bybel oor vergrype teen sy Woord: “Ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19). In die lig van dié uitspraak is dit volkome moontlik dat iemand se naam in ‘n stadium in die boek van die lewe opgeskryf mag wees, maar later weens sy afvalligheid en aanmatigende houding oor die Woord van die Here, uit die boek van die lewe weggeneem kan word. Dit geld sowel diegene wat die Here se Woord in nuwe Bybelvertalings verander, as predikers wat in die verkondiging van die Woord sekere kardinale aspekte daarvan verdraai, weglaat of ontken. Indien ons egter onder die oorwinnaars is wat nie dwaalleerstellings aanvaar, in sonde verval, die Here Jesus of sy Woord verloën of weens ander redes die spoor byster raak nie, sal ons name altyd in die boek van die lewe opgeskryf bly. Die Here Jesus sê: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele” (Op. 3:5). Dit kán egter onder sekere omstandighede gebeur dat name uitgewis word. Aan die getroues wat nie afgedwaal het nie, sê die Here Jesus: “Jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie... Kyk Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:8,11). Ons moet aan die gesonde leer vashou en op die regte pad volhard.
Geloofsverval weens selfregverdiging en materialisme. Aan ‘n gemeente van dié aard sê die Here Jesus: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3: 16-17). Christus self onttrek Hom uit kringe waar mense op hulle eie prestasies roem en hulleself salig spreek. Hulle weet nie eers dat die Here nie meer in hulle midde is nie. ‘n Ander gemeente wat aan dieselfde kwaal gely het, is Sardis. Jesus Christus sê: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). Die Amplified Bible sê: “Julle is veronderstel om geestelik lewendig te wees, maar in werklikheid is julle dood.” Hulle geloof het weens geestelike stagnasie weggekwyn omdat dit nie meer na werke van toewyding gelei het nie. Hulle het hulleself egter nog steeds as goeie Christene beskou. Hulle het dalk goed begin, maar nie goed geëindig nie (vgl. Gal. 3:3). Demas was ook ‘n persoon wat goed begin het, maar materialisme en liefde vir die wêreld het na sy geestelike ondergang gelei. Paulus sê: “Demas het my verlaat omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Tim. 4: 10). Ons moet goed begryp dat liefde vir God en liefde vir die wêreld nie saam in ons lewe kan bestaan nie, omdat dit botsende beginsels verteenwoordig (1 Joh. 2:15).
Geloofsverval weens ‘n gebrek aan volharding. Paulus sê vir die Hebreërs: “Ons moet die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou... Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:6,14). Vir die Kolossense sê hy ook dat hulle gerond en vas moet bly in die geloof en hulle nie van die hoop van die evangelie laat afbring nie (Kol. 1:23). Paulus het self die aanslae van die duiwel, die sonde en die wêreld op sy eie geloofslewe ervaar. Hy het dikwels ander gelowiges vermaan om nie moedeloos te word en hulleself aan die moeilike geestelike wedloop te onttrek nie. Hy sê vir die Hebreërs: “Nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Heb. 10:37-39). Daar is verskeie redes waarom mense soms die stryd gewonne gee of van die pad van die waarheid afdwaal. Paulus het op die regte pad volhard tot die einde toe, en net voor sy dood geskryf: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim. 4:7).
Geloofsverval weens die doelbewuste verwerping van Christus, sy soendood en die Heilige Gees. Hoewel die meeste gelowiges wat uit die genade verval het, weer herstel kan word, is daar diegene wat later vir Jesus as hulle Verlosser belaster en verwerp (m.a.w. weer kruisig) en ook die Heilige Gees belaster. Hulle kan nie weer geestelik herstel word nie (Heb. 6:4-6) omdat hulle die enigste Verlosser en Koning van die koninkryk waaraan hulle in ‘n stadium behoort het, verwerp het. “Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:29). Petrus waarsku ook teen hierdie dwase handeling: “Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is” (2 Pet. 2:20-21). Dit is ‘n ernstige saak.
In plaas van verval uit die genade moet daar by ons ‘n teenoorgestelde proses van groei in genade wees: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:17-18).
Genade en kennis moet saam ontwikkel en vermeerder. Kennis van die waarheid is nodig as ons geestelik wil groei en ook wil toeneem in die genade. Ons moet egter nie net by kennis berus nie, maar al die beloftes van die Here in die geloof toeëien sodat ons geestelik kan groei en meer volkome in die Here se genade bevestig word. Die Here Jesus is vol van genade en waarheid (Joh. 1:14). Sy woorde moet ryklik in ons woon (Kol. 3:16) sodat genade oorvloedig in ons harte uitgestort kan word. Dit sal ons help om op die regte pad te bly.
Ons moet daadwerklik daarna streef om volmaak en volkome te wees in die ganse wil van God (Kol. 4:12). Dit beteken dat ons volmaak in die liefde moet wees (1 Joh. 2:5) terwyl ons in die allerheiligste geloof opgebou word (Judas 1:20). Moenie by die eerste beginsels van die evangelie van Christus bly nie, maar gaan na die volmaaktheid voort (Heb. 6:1). Groei op na die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13) en leef op na die hoë roeping wat God in sy diens vir jou het (Fil. 3:14-15). Sy genade stel jou in staat om daagliks op die pad na uiteindelike volmaaktheid vordering te maak.
Genade onbegryplik groot, wat ‘n sondaar uit die diepste put optrek en aan hom die lewe skenk; wat goddelike liefde in sy hart uitstort en hom die krag gee om soos Christus te wees; wat hom versterk vir die stryd en toerus om oorvloedig te arbei vir die Heer; wat die beeld van die Verlosser al hoe meer in hom gestalte laat verkry en deur die regverdige dade van die heiliges aan hom ‘n gepaste kleed vir die bruilof van die Lam verleen (Op. 19:7-8). Wandel in die volheid van die Here se genade, want hiertoe is almal van ons geroep.
Wanneer ons die volheid van God se genade deur die versoeningswerk van Jesus Christus en die vervulling met die Heilige Gees deelagtig geword het, bereik ons die doel waarvoor die Drie-enige God ons geskape het. Hy het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen. 1:26). Die einddoel van die Here se genade aan ons is dat die beeld van sy Seun in ons gestalte sal aanneem. Christus het ons liefgehad en Homself oorgegee om ons te red en te heilig, sodat ons voor Hom gestel kan word “sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, maar dat ons heilig en sonder gebrek sal wees” (Ef. 5:25-27). Deur die liefde van die God van alle genade kan hierdie verhewe doel van ons bestaan ‘n heerlike werklikheid word.