5. Die Joodse Sabbat of die Christelike Sondag?

Daar is ‘n groeiende beweging onder sekere Christene – selfs evangeliese gelowiges – om na die Ou Testamentiese wet terug te keer, insluitende die wet op sabbatsonderhouding. Hierdie beweging laat baie vrae oor die sg. ‘universele toepaslikheid’ van die sabbat ontstaan. Die basiese vraag is: “Hoe moet die Ou Testamentiese sabbat (sewende dag van die week) en die Nuwe Testamentiese opstandingsdag van Christus (eerste dag van die week) van mekaar onderskei word?” Baie mense is steeds nie van hierdie onderskeid seker nie en, onder die beïnvloeding van Sewendedag-Adventiste, beweer hulle selfs dat Sondag-byeenkomste onbybels is en eers eeue later deur Konstantyn of die Rooms-Katolieke Kerk ingestel is. Wat is die werklike feite?

Daar is ook ander oorwegings vir sabbatsonderhouding: ‘n Paar jaar gelede het daar onder sekere groepe Christene ‘n beweging, die Hebrew Roots Movement, ontstaan, wat sterk daarop ingestel is om op die seremoniële terrein nouer bande met Israel aan te knoop. Hulle koester die ideaal om die Joodse wortels van die Christelike geloof in die volk Israel en hulle Ou Testamentiese wette en feesdae te soek. In die proses word gelykvormigheid aan Israel en hulle godsdienstige tradisies die hoofdoel vir geestelike ontwikkeling, en nie meer in die eerste plek gelykvormigheid aan die Here Jesus en sy leerstellings soos in die Nuwe Testament vervat nie.

Die gevolg van hierdie nuwe oriëntasie is Judaïstiese hervormings waarin sommige van Israel se seremoniële wette onderhou word, insluitende die sabbatsviering op die sewende dag – dit strek van Vrydagaand af tot Saterdagaand. Sommige van hierdie nie-Joodse Christene beskou hulleself later as Jode en begin dan ook om net die Hebreeuse name vir God en Christus te gebruik. Die tragedie is dat hulle hulself onder die wet plaas.

In hierdie hoofstuk sal ons kyk of daar in die Bybel hoegenaamd ‘n verpligting met betrekking tot die wet, insluitende die sabbatswet, op Christene gelê kan word.

Betekenis van die sabbat

Die Here het ná sy skeppingswerk op die sewende dag gerus en dié dag geheilig (Gen. 2:2-3). Op grond hiervan is Israel beveel om op die sewende dag te rus en geen beroepswerk te doen nie (Ex. 20:8-11).

In Levitkus 23, waar die godsdienstige feesdae van Israel ingestel word, word die sabbat eerste genoem, en word dit benewens die aspek van rus ook as ‘n heilige vierdag gekwalifiseer, m.a.w. ‘n dag van geestelike toewyding aan die Here (Lev. 23:2-3). Wat die offers betref, was dit ‘n dag van dubbele toewyding aan die Here. In plaas van een lam moes twee lammers geoffer word, met ‘n ooreenstemmende vermeerdering van die fynmeel (Num. 28:9-10). Op die sabbat moes die Here dus meer as op ander dae gedien en aanbid word. Dit was die dag waarop vars toonbrode in die tempel geplaas moes word (Lev. 24: 5-9), en al die stamme was hierin verteenwoordig.

Daar was ook ‘n derde, spesifiek Joodse rede vir die sabbat, en dit was ‘n teken tussen die Here en Israel. Die onderhouding van die sabbat moes die volk se aandag op die uittog uit Egipte vestig (Deut. 5:15). Dié teken moes hulle daaraan herinner dat die Here hulle verlos, heilig en afsonder vir sy diens (Eseg. 20:12). Ná die Babiloniese ballingskap het die viering van die sabbat onder Jode ontaard en het veral die Fariseërs verskeie nuwe bepalings bygevoeg oor wat nie op hierdie dag gedoen mag word nie. Oor hierdie leerstuk van hulle het Jesus dikwels met hulle in botsing gekom (vgl. Matt. 12:1-8).

Nuwe Testamentiese dag van die Here

Die weeklikse dag van rus en geestelike toewyding sou in die Here Jesus ‘n nuwe, dieper betekenis kry en as sy opstandingsdag gevier word. Twee vrae moet egter hieroor beantwoord word: (1) Waarom is die Nuwe Testamentiese dag van die Here die dag ná die Ou Testamentiese sabbat?, en (2) Gee die Ou Testament enige aanduiding van só ‘n dag ná die sabbat wat in ‘n toekomstige bedeling van groot belang sou wees? Op hierdie twee vrae is daar duidelike antwoorde in die bepaling van Israel se feeste in Levitikus 23.

Eerstens is daar die groot klem op sowel die dieper betekenis van die fees van die eerste vrugte as die besondere dag waarop dit gevier moes word: “Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die Sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11).

In die lentemaand toe Jesus gekruisig is, is die beweegoffer van die eerstelingsgerf op ‘n Sondagmôre gebring – die dag toe Jesus uit die graf opgestaan het: “Hy [het] opgestaan, vroeg op die eerste dag van die week” (Mark. 16:9). Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het (die dood en begrafnis van Jesus), het op die Sondagoggend toe Jesus uit die graf opgestaan het, sy eerste vrug opgelewer. Dit het die oesseisoen ingelui en die hele oes wat daarna ingesamel sou word, geheilig. Verder het dit ook die oorgang van die ou verbond na die nuwe aangedui. Dit is waarom dit op ’n Sondag moes gebeur, die eerste dag van die week en simbolies ook die begin van ’n nuwe bedeling. Dit is waarom die viering van die spesiale dag van rus en toewyding aan die Here in die nuwe genade-bedeling van die sewende na die eerste dag van die week verander het.

Op grond van die volbragte heilswerk van die Messias kan ons elke Sondag opstandingsdag vier. Ons het deur Hom tot ’n nuwe verbond met God toegetree waarin ons deelgenote in die opstandingslewe van die Here Jesus is: “As Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof… Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15:14,20).

In die lig hiervan staan die groot betekenis van opstandingsdag in die Nuwe Testament onteenseglik vas. Net so ook die duidelike uitspraak oor die dag waarop dit sou plaasvind, nl. die dag ná die sabbat. Profeties is dit dus bepaal dat Jesus op die eerste dag van die week (dit is ’n Sondag) uit die dood sou opstaan, en dat Hy op dié dag die volk vir God welgevallig sou maak.

Benewens die dag van voorbereiding en die sabbat (Vrydag en Saterdag) het Israel in Bybelse tye nie name vir die ander dae van die week gehad nie. Hulle het bloot na die eerste of tweede dag van die week verwys, en so ook die daaropvolgende dae. Die dag ná die sabbat word soms die agtste dag genoem. Agt is die getal van nuwe dinge in die Bybel, omdat die agtste dag ook die eerste dag van ‘n nuwe week is. In ‘n breër verband verwys dit na die eerste dag van ‘n nuwe bedeling in die raadsplan van God.

Die vervulling van die pinksterfees, toe die kerk van Jesus Christus sy formele beslag gekry het, was ook vir ‘n Sondag bestem: “Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die Here bring” (Lev. 23:15-16). Die vervulling van hierdie Ou Testamentiese fees, ook op ‘n Sondag, was die dag toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand. 2).

Die fees van die eerste vrugte is dus op die eerste dag (‘n Sondag) deur die beweegoffer van die eerstelingsgerf ingelui, en 50 dae later (weer op ‘n Sondag) deur die pinksterfees afgesluit. Die term Pinksterfees beteken letterlik Die Fees van die Vyftigste Dag.

Ons weet vir seker dat Jesus op ‘n Sondag uit die graf opgestaan het, en daardeur die eersteling geword het van dié wat uit die dode opgestaan het (Matt. 28:1; Joh. 20:1). Daarna het 40 dae tot met sy hemelvaart verloop (Hand. 1:3), en nog tien dae waarin die dissipels op die uitstorting van die Heilige Gees gewag het. Op die vyftigste dag, wat presies met die Ou Testamentiese pinksterfees saamgeval het, is die Heilige Gees uitgestort (Hand. 2:1-3). Op daardie Sondagoggend het die bedeling van die kerk begin.

Kan u sien dat dit slegs deur God se beskikking is dat die belangrike heilsgebeure tussen Christus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees op Sondae plaasgevind het? Die eerste twee geleenthede waarop Christus sy dissipels ná sy opstanding as ‘n groep ontmoet en tot hulle gespreek het, was op Sondae. Dit dui onteenseglik op die prominensie wat Sondag-aanbidding in die nuwe dispensasie sou inneem wat pas begin het. Neem die volgende basiese feite oor die historiese én geestelike betekenis van hierdie dag in ag:

Opstandingsdag. Jesus het op ‘n Sondag sy oorwinning oor die graf en die dood gedemonstreer: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Joh. 20:1).

Die eerste Christelike byeenkomste waartydens Jesus ná sy opstanding boodskappe aan sy dissipels gebring het, was op Sondae: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees... En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!” (Joh. 20:19-22,26). Die uitdrukking “agt dae daarna” is volgens die Jode se inklusiewe tydsberekening presies ‘n week, omdat altwee Sondae getel word.

Uitstorting van die Gees. “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het... En hulle is almal vervul met die Heilige Gees” (Hand. 2:1-4). Volgens Levitikus 23:16 is die pinksterfees sedert sy ontstaan net op die eerste dag van die week gevier – die dag ná die sabbat.

Teen die agtergrond van hierdie gebeure is dit te begrype waarom die dissipels en al die lede van die vroeë Christelike kerk spontaan op Sondae byeengekom het om in gemeenteverband die Here te aanbid, Nagmaal te vier en bydraes vir die werk van die Here te gee: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe” (Hand. 20:7).

Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 412-413) lewer die volgende kommentaar oor Handelinge 20:7: “Dit is die duidelikste teks in die Nuwe Testament wat daarop dui dat Sondag die normale dag vir byeenkomste in die vroeë kerk was. Paulus het vir sewe dae in Troas gebly (v.6) en die kerk het op die eerste dag van die week byeengekom. Lukas se metode om dae te tel was hier nie Joods waarin dae van sononder tot sononder bereken word nie, maar Romeins, waarin dae van middernag tot middernag getel word. Dit kan met groot sekerheid gekonstateer word omdat dagbreek (v.11) die volgende dag was (v.7). Die gemeente het waarskynlik in die aande bymekaargekom omdat die meeste mense in die dag gewerk het. Omdat Paulus hulle moontlik vir die laaste keer sou verlaat, het hy sy rede tot middernag uitgerek.”

Dit was van die vroegste tye af ook gebruiklik om tydens die dienste op Sondae bydraes vir die werk van die Here op te neem: “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insameling nie eers plaasvind as ek kom nie” (1 Kor. 16:1-2).

Omdat ons nie onder die wet is nie, word bydraes deur kerklidmate nie as “tiendes” beskryf nie. Walvoord & Zuck (ibid., bl. 546) sê die volgende oor 1 Kor. 16:1-2: “Die gee van bydraes behoort ‘n sistematiese, weeklikse aktiwiteit te wees op Sondae wanneer die gemeente byeenkom. Die bedrag wat gegee word, behoort in ooreenstemming met ‘n persoon se inkomste te wees.”

‘n Spesiale dag van toewyding

Daar is ook ‘n ander aanduiding in die Ou Testament van ‘n besondere dag wat die Here tot die eer van sy Naam sou maak. Dit staan in verband met die koms van die Messias, en hoewel Hy deur sy eie volk verwerp sou word, sou Hy die opstanding en lewe vir miljoene mense op aarde word: “Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van die Here gekom; dit is wonderbaar in ons oë. Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps. 118:22-24). Petrus bevestig in Handeling 4:10-11 dat Jesus Christus wat gekruisig en uit die dode opgewek is, die steen is wat deur die Joodse leiers verag is, maar ‘n hoeksteen in God se koninkryk geword het. Sy opstanding word elke Sondag as die dag van die Here gevier. Dit is die dag waaroor ons as Christene moet juig en bly wees: Hy het opgestaan – Hy leef!

In die verslae oor die vroeë Christelike kerk is daar oorvloedige getuienis dat Christene nog altyd, sedert die begin van die kerkbedeling, die dag van die Here op Sondae gevier het. Hulle het dit die Here se heilige dag genoem en op dié dag bymekaargekom om die Woord te verkondig, uit apostels se geskrifte wat beskikbaar was, te lees, geestelike liedere te sing, getuienisse van geredde persone aan te hoor, te bid en die Nagmaal te vier.

Dr. David King (The Imperial Bible Dictionary, bl. 112-113) sê: “Die groot aanspraak van hierdie dag op godsdienstige eerbied is dat Christus hierop uit die dood opgestaan het. Sy opstanding was ‘n gebeurtenis met betekenisvolle en blye gevolge. Dit het sy vernedering beëindig en die aanvaarding van sy offer deur die Vader gedemonstreer. Dit was die bekragtiging van sy titel as Middelaar en het die redding van sy volgelinge verseker. Om die aanspraak van hierdie dag se voorkeurposisie nóg duideliker te begryp, moet Christus se posisie op die eerste dag vergelyk word met dié op die voorafgaande sewende dag. Op die Joodse sabbat was Hy in die graf, en op die eerste dag het Hy die bande van die dood verbreek: ‘Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word’ (Hand. 2:24).”

Die vroeë kerkvaders bevestig almal die feit van Sondag-aanbidding as ‘n algemene instelling. Ignatius, die biskop van Antiochië, het in 110 n.C. geskryf: “Diegene onder ons wat die nuwe hoop verkry het, onderhou nie meer die sabbat nie maar die dag van die Here waarop ons in Hom opgestaan het, sodat ons as dissipels van Jesus Christus geken kan word.” Justinius die Martelaar (100 – 165 n.C.), ‘n dissipel van Johannes, het geskryf: “Op Sondae het almal in die stede en op die platteland op een plek saamgekom waar die verslae van die apostels en die geskrifte van die profete gelees is… Sondag is die dag van ons algemene byeenkomste, omdat dit die eerste dag is waarop God uit die duisternis lig geskep en die aarde gemaak het. Jesus Christus, ons Verlosser, het op dieselfde dag uit die dode opgestaan.” Irenaeus het in omtrent 178 n.C. gesê dat die opstanding van die Here Jesus net op die dag van die Here (die eerste dag van die week) gevier kan word. Cyprianus, biskop van Karthage (200-258), het gesê dat die dag van die Here sowel die eerste as die agtste dag is. Die agtste dag is die eerste dag van ’n nuwe week.

Petrus, biskop van Alexandrië, het in omtrent 300 n.C. gesê: “Ons onderhou die dag van die Here as ‘n dag van blydskap omdat Hy op hierdie dag opgestaan het.” Die kerkvader Eusébius het in omtrent 315 n.C. gesê: “Kerke oral in die wêreld het, van apostoliese tye af tot nou toe, ons vastyd op die opstandingsdag van ons Here beëindig… Op byeenkomste is oor ‘n kerklike reël besluit dat die Here se opstanding net op die dag van die Here (Sondag) gevier moet word.” Hierdie tradisie het reeds op die opstandingsdag van Jesus begin en word vandag nog eerbiedig. Dit het hoegenaamd nie in later eeue eers op ’n bedenklike wyse ontstaan nie.

Die Judaïsering van gelowiges

Handelinge 15 doen verslag van ‘n kerkvergadering in Jerusalem waar die vraag deur prominente apostels bespreek is of gelowiges uit die nie-Joodse volke aan die eise van Judaïseerders moes voldoen. Sekere misleiers het rondgegaan en beweer dat alle gelowiges besny behoort te word en die wet van Moses moes onderhou om gered te kon word. Dit beteken dat die onderhou van die ganse wet, insluitende die sabbat, as die grondslag vir regverdigmaking verkondig is – nie slegs geloof in die soendood en opstanding van Jesus Christus nie (vgl. Gal. 5:3-4).

Op die raadsvergadering van die vroeë kerk in Jerusalem is daar egter tot die gevolgtrekking gekom dat gelowiges uit Israel én die nasies almal op dieselfde manier gered word, naamlik deur geloof in die Here Jesus en nie deur die werke van die wet nie (Hand. 15:7-11). Gelowiges uit die nie-Joodse nasies was nie aan die wet onderworpe nie en moes net versoek word om hulle te “onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed” (Hand. 15:20). Dit is morele beginsels wat ook deel van Christelike moraliteit vorm.

Hierdie basiese morele beginsels is aan die jong Christelike gemeentes gegee, maar glad nie die Ou Testamentiese wet nie. Die belangrike saak waaroor dit in hierdie leerstellige uitspraak gegaan het, is dat beide Jode én nie-Jode die Heilige Gees ontvang het om hulle van sonde te oortuig, te wederbaar, krag vir die stryd teen boosheid te gee, en om hulle in die hele waarheid te lei: “En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons” (Hand. 15:8). In die nuwe verbond word mense se lewens nie deur die wet beoordeel wat hulle veronderstel is om te onderhou nie, maar hulle word deur die Heilige Gees van sonde oortuig. Hulle kry vergifnis van sonde deur geloof in Jesus Christus wat gesterf het om versoening vir hulle sonde te doen. Die Here Jesus verwag van ons om getrou aan Hom te bly, deur die Gees te wandel en Hom nie te bedroef nie, en om geestelik na die volwasse man of vrou in Christus op te groei (Ef. 4:13-14,30). Hy het nooit aan sy dissipels opdrag gegee om die onderhou van die Ou Testamentiese wet tot ‘n Christelike deug te verhef nie. Hy verwag ook nie van ons vandag om werke van die wet, soos die besnydenis en sabbatsonderhouding, na te streef nie.

Skaduwee en werklikheid

Die sabbatte, feeste en offers van die Ou Testament, asook die sabbatsjaar elke sewende jaar (Lev. 25:3-4), was almal skaduagtige heenwysings na die nuwe bedeling wat met die koms van die Messias sou aanbreek. In Hom sou hulle konkrete vervulling verkry, want Hy is die “liggaam” of substansie daarvan. In die Messias gaan ons die rus van die Here in, omdat Hy die hele wet vervul het. “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of ‘n nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Ons is nie meer onder die verpligting van wette oor kos, feeste en sabbatte nie, wat almal net skaduwees was van die Messiaanse bedeling wat lankal reeds aangebreek het.

Ons moet ons vreugde, blydskap en geestelike vervulling in die Here Jesus vind en sy opstanding as die spesiale dag van die Here vier, sonder om dit deur wetlike bepalings te verswaar. Hy het aan ons net een wet gegee en dit is die wet van die liefde – liefde teenoor God en liefde teenoor ons naaste. “Want dit: jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie… en watter ander gebod ook al word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself… daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:9-10). Die sabbatswet is ook vervul wanneer ek God deur Jesus Christus liefhet. Ek het my rus in Hom gevind en Hy het my van sonde én die wet vrygemaak.

Die liefde is die vervulling van die hele wet – dit sluit seremoniële sowel as morele wette in. Die woord “vervul” beteken volgens die Strong’s Konkordansie: “die beëindiging van ‘n tydperk of taak, voleindig, afhandel of afsluit.” Die wet is nie in Christus ontbind nie, maar vervul. Deur die wedergeboorte en vervulling met die Heilige Gees word die liefde van God in ons harte uitgestort en die beginsels van sy wet van liefde op die tafels van ons harte geskrywe. Die uitnemende invloed van God se genade deur Jesus Christus is oneindig meer verhewe in die lewe van ‘n gelowige as die morele verpligtings en vrees vir straf wat deur die wet ingeskerp word. Deur die reiniging met Christus se bloed en die instaatstellende krag van die Heilige Gees lei ons ‘n lewe waarin die beeld van God in alle aspekte van ons lewe uitgewerk word. Dit is die opstandingslewe van Jesus Christus, waaraan ons gelykvormig moet word (Rom. 6:5; Fil. 3:10).

In hierdie nuwe lewe moet ons van oorwinning tot oorwinning gaan. Ons moet vasstaan in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en onsself nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie – ook nie diensbaarheid aan skaduagtige wette en sabbatte wat nie eers naby aan die heerlikheid kom wat in die nuwe bedeling aan ons geopenbaar is nie (Gal. 5:1).

Eindtydse kompromie

Die gees van Judaïsering het ná Israel se herstel as ’n moderne staat weer begin opleef. Die Internasionale Christenambassade in Jerusalem het ‘n musikale opvoering, “The Covenant,” in Hebreeus én Engels bekend gestel. Een van die reaksies van ‘n Jood wat diep hierdeur geraak is, was: “As Christene dan so baie van die Joodse tradisies weet, behoort hulle te begin om die sabbat met groter eerbied te vier.”

Dit sou jammer wees indien net die Jode se ortodokse sentimente deur hierdie opvoering versterk is, want dan beteken dit dat die boodskap van Jesus as die Messias van Israel én die nasies verswyg is. Indien ons nie daarin slaag om Jode oor te haal om saam met ons die Messias te dien en sy opstanding uit die dode te vier nie, het ons geestelik niks bereik nie. Om saam met Jode aan feesdae deel te neem waarop die Messias nie uitdruklik erken, geëer en gedien word nie, kom op kompromie en selfs die openlike verloëning van die Messias neer.

Ons sal bereid moet wees om buitekant die laer van Judaïsme te gaan en die smaad van die Here Jesus te dra indien ons iets vir Hom en sy koninkryk wil beteken – ook vir die redding van Jode (Heb. 13:13). Jesus het gesê: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Matt. 11:6). Die Jode het egter telkens aanstoot aan Hom geneem (Matt. 13:57; 15:12). Waarom? Omdat hulle basis vir regverdigmaking die werke van die wet was en nie geloof in die Messias en sy versoeningswerk nie. Paulus sê: “…hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie” (Rom. 9:32-33).

Ons moet ten spyte van die felste opposisie wat dit mag meebring, die Messias aan Israel én die nasies verkondig. Hiermee saam gaan ook die viering van sy kruisiging en opstanding uit die dode. As ons dit regtig met oortuiging doen, sal ons die Jode jaloers maak (Rom. 11:11). Hulle moet kan sien dat ons iets het wat hulle met hulle wettisisme en ortodokse sabbatsvierings glad nie het nie. Dit sal ons nie baat om jaloers op Israel se seremoniële wette en feeste te word en dit te vier nie, want vir hulle het die Here Jesus geen plek daarin nie. Ons kan nie só getuies vir die Messias wees nie, omdat dit ‘n terugkeer uit die vervulde werklikheid na die Ou Testamentiese skaduwee sal wees.

Sondagviering

Die Sondagviering word deur geen wette afgedwing of gekompliseer nie. Dit is slegs tot alle mense se voordeel dat dit eerbiedig word. Hierdie dag kan só van die ander dae van die week onderskei word:

        Die opstandingsdag van Jesus is die rusdag van die Nuwe Testament.

        Dit is ‘n dag van blydskap in die Here.

        Dit is ‘n dag van besondere eerbetoon aan die Here.

        Dit is ‘n dag om deel te neem aan en te gee vir die verkondiging van die evangelie.

        Dit is ‘n dag van geestelike voorbereiding vir die week wat voorlê.

        Dit is ‘n dag om goed te doen aan andere en in hulle behoeftes te voorsien.

        Dit is ‘n dag van geestelike verkwikking.

Die idee is nie om oor uiterlike reëls hare te kloof nie, maar om die algemene gees en karakter van hierdie dag tot sy reg te laat kom en in jou lewe te verwesenlik. Die dag van die Here is juis tot jou beskikking gestel sodat jy die voordele daarvan kan geniet. Dit geld vir alle mense, omdat almal ‘n rusdag nodig het waarop hulle van hul sekulêre werk kan rus: “En Hy sê vir hulle: Die sabbat [die rusdag] is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Mark. 2:27-28). In Hom gaan ons die ewige rus van Here in. Die geestelike rus en verdieping wat ons nodig het, asook die verering van die Here, is die hoofdoel van die Sondag. Hierdie rus het eers ‘n werklikheid geword nadat die Messias op ‘n Sondag uit die dood opgestaan en die Heilige Gees sewe weke later, ook op ‘n Sondag, uitgestort is.

Dit is opvallend dat daar in ons tyd, wat op alle lewensterreine deur ‘n roekelose gees van afvalligheid gekenmerk word, ‘n groter wordende stroom van kritiek teen die onderhouding van Sondag as ‘n Christelike rusdag en dag van spesiale toewyding aan die Here is. Baie van hierdie kritici kom uit sg. Christelike kerke, en hulle vat nou hande met die wêreldlinge om van Sondag ’n veeleisende sportdag, ‘n dag vir wêreldse vermaak en ‘n dag vir werk en inkopies te maak. Wat gaan sonder ’n dag van rus en toewyding van die mens word?

Moenie die eindtydse gees van permissiwiteit ten prooi val en op grond daarvan die Christelike Sondag verwerp of minag nie. Moet aan die ander kant ook nie ‘n rigiede stel reëls vir jouself oplê waardeur die vreugde van hierdie godgegewe rusdag en Christusfees onder ‘n donker wolk van moets en moenies verberg word nie. Bring die dag tot eer van die Here deur en word geestelik verryk en versterk vir die stryd wat voorlê. Rus uit van die week se werksaamhede en herwin sodoende ook jou liggaamskragte. Moeë, onuitgeruste mense is nie produktief nie en kan ook nie krisisse en spanning goed hanteer nie.

Moenie skuldig voel oor noodsaaklike werk wat op hierdie dag gedoen móét word nie, en moet ook nie nalaat om op Sondae goed te doen as dit in jou vermoë is nie (Matt. 12:11-12). Bo alles moet die Here se Naam groot gemaak en jou verhouding met Hom deur ‘n dubbele maat van toewyding versterk word. Deur dit te doen sal jy verseker dat jy nie in jou denke en optrede heeltemal sekulariseer deur alle aandag en energie net aan jou werk en die dinge van die wêreld te wy nie. Dit sal die geestelike balans van jou lewe heeltemal omver werp.

Huidige veldtog deur die SDA

Die Sewende Dag Adventiste (SDA) is by ‘n intensiewe veldtog betrokke om hulle kerk se siening oor die Ou Testamentiese sabbat onder soveel as moontlik mense in Suid-Afrika te bevorder. Dvd’s deur prof. Walter Veith word oral onder die publiek versprei, ook by byeenkomste van Angus Buchan, waar niksvermoedende mense wat by die hekke uitgaan, ‘n geskenkpakkie van die SDA af kry.

Ek wil diegene wat deur Walter Veith beïnvloed is, aanraai om sy teologie deeglik te ondersoek. Die SDA self is diep oor sy leerstellings verdeeld. Op die webtuiste, www.thejerichoroad.com, spreek een van hulle leraars, Jan McKenzie, groot besorgdheid oor prof. Veith se sterk beklemtoning van samesweringsteorieë, geheime organisasies en die Rooms-Katolieke Kerk uit – tot só ‘n mate dat hy baie min oor die evangelie van die kruis te sê het. Jan McKenzie voeg by: “Baie van Veith se stellings is bloot foutief... Ek vind dit ondenkbaar dat ‘n man wat homself ‘n Christelike leermeester noem, só min oor sy Here te sê het.”

Wat die SDA se leer oor die sabbat betref, omseil hulle alle Bybelse feite wat met hulle siening bots, en keer na die bedeling van die wet terug om regverdiging daarvoor te kry. Hulle begaan die ernstige fout om Nuwe Testamentiese uitdrukkings soos die gebooie van Christus (vgl. Joh. 14:15,22) met die Ou Testamentiese wet gelyk te stel en ook die sabbat daarin te lees. Christus se gebooie het egter op liefde, vrede, gehoorsaamheid, vergewensgesindheid, diensbaarheid, gebed en verskeie ander sake betrekking. Hy het nooit sabbatsonderhouding en ander Ou Testamentiese wette hierby ingesluit nie.

Daar is talle historiese bewyse oor Sondag-aanbidding deur die vroeë Christelike kerk, maar die SDA aanvaar dit nie en beweer steeds dat Sondag-aanbidding eers eeue later deur die Rooms-Katolieke Kerk ingestel is. Hulle hou duidelik ook nie van Paulus se verwysing na geestelike byeenkomste, insluitend Nagmaal, op die eerste dag van die week nie (vgl. Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2).

Die SDA het ‘n vreemde beheptheid met die aanbidding van die Here Jesus op Saterdae. Hulle toon uiters gebrekkige insig in Nuwe Testamentiese teologie die kruisiging en opstanding van die Here Jesus, asook die uitstorting van die Heilige Gees. In die proses doen hulle afbreuk aan die kruisboodskap van die Nuwe Testament en hou hulle met eindelose twisgesprekke besig. Daar het reeds verskeie onnodige en bitter familietwiste a.g.v. Walter Veith se dvd’s ontstaan. Die kruisdood en genade-boodskap van Jesus Christus is blykbaar nie vir hulle genoeg nie – dit moet vir hulle nog deur die wet en die sabbat aangevul word. Die SDA se veldtog moet as een van die groot bedreigings vir die evangeliese Christendom in ons land gesien word, daarom moet Christene meer kennis oor hierdie omstrede saak opdoen.

Hierdie kerk is so “begeester” met hulle valse aanname oor die voortsetting van die sabbat nadat die Here Jesus ons van die wet vrygemaak en deur die Heilige Gees in sy evangelie van genade bevestig het (Rom. 10:4), dat hulle talle wonderlike beloftes in die Nuwe Testament oor die hoof sien. Op hierdie manier verarm hulle hulself geestelik. Op grond van die onbybelse vervangingsteologie wat hulle beoefen, sien die SDA hulleself as die Nuwe Testamentiese voortsetting van Israel. Hulle verwerp die belofte van die wegraping as ontvlugting uit die oordele van die verdrukking (Luk. 21:36), daarom is hulle in werklikheid op al die ellendes van die groot verdrukking ingestel. Hulle sien bv. ‘n verwagte verbod op Saterdag-aanbidding as die begin van die vervolging van ware Christene. Wat ‘n jammerlike toestand!

Ek wil hulle aanraai om, soos Paulus, net Jesus Christus te verkondig, en Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2:2). As hulle op iets wil roem, moet hulle nie op hulle kerk of op die sabbat roem nie, maar roem “in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14). Die Nuwe Testamentiese opdrag is om vas te staan in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en ons nie weer onder die juk van diensbaarheid aan die wet te bring nie (Gal. 5:1). Ek wil die SDA aanraai om ‘n intensiewe studie van die boeke Romeine en Galásiërs te doen ten einde groter duidelikheid oor ons verhouding teenoor die wet te verkry. Só ‘n studie sal egter vereis dat hierdie kerk sy dogma én naam sal moet verander!

Ons moet mense eerder daaraan herinner dat die wet nie vir Christene gegee is nie, maar vir ongeredde sondaars (1 Tim. 1:9). Dit is vir hulle ‘n tugmeester na Christus toe (Gal. 3:24-25). In Jesus Christus is daar geen ruimte vir wettisisme nie, omdat dit ons getuienis van Jesus as ons enigste Verlosser heeltemal sal vernietig (Gal. 5:4).

Ons moet besef dat die evangelie van die genade van Christus veel belangriker as die wet van die Ou Testament is. Ons het die voordeel dat die Heilige Gees ons van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig, en ons ook in die hele waarheid lei. Christus reinig ons deur sy bloed en heilig ons deur sy Gees wat ons met die nuwe natuur van die Here Jesus beklee. As mense nie besef dat dit al is wat hulle nodig het nie, en hulle keer na ‘n vorm van Ou Testamentiese wetsonderhouding terug, dan verloën hulle die algenoegsaamheid van die kruisevangelie. Moenie voor die versoeking swig om dit te doen nie. Die wet is volkome deur Jesus Christus vervul en Hy lei ons in ‘n lewe van heiligheid en gelykvormigheid aan Homself.