6. Die Sewendedag-Adventiste

Vir ‘n beter begrip oor hoe wettiese elemente soms verkeerdelik in ‘n Christelike geloofsbelydenis ingeweef word, bied ons aan u ‘n oorsig van die Sewendedag-Adventiste (SDA) se teologie. Die SDA is ‘n Protestantse kerk wat baie sterk teen die valse leer van die Rooms-Katolieke Kerk gekant is. Hulle het egter ook oortuigings wat hulle duidelik van die hoofstroom van Protestantse denke onderskei. Die volgende is die belangrikste aspekte van hulle teologie:

Naam

Soos uit die Sewendedag-Adventiste se naam blyk, het hulle hul identiteit rondom die volgende twee leerstellings gebou:

Sabbat. Hulle eerbiedig die Ou Testamentiese (OT) sabbat op die sewende dag van die week, ooreenkomstig die Joodse tydsberekening. Die sabbat strek van Vrydagaand sononder tot Saterdagaand sononder. Na aanleiding hiervan word hulle Sabbatariërs genoem. Die SDA beweer, heeltemal in stryd met die kerkgeskiedenis, dat die vroeë kerk Saterdag as hulle dag van aanbidding gebruik het. Volgens hulle het die instelling van sabbatsonderhouding voortgeduur totdat Konstantyn, wat as die Vader van die Rooms-Katolieke Kerk beskou word, in 321 n.C. die Christene se aanbiddingsdag onder heidense beïnvloeding van Saterdag na Sondag verander het.

Advent. Hierdie woord dui op die koms of wederkoms van Christus. Adventiste is baie sterk ingestel op die spoedige wederkoms van die Here Jesus en wy baie aandag aan ’n studie van die tekens van die tye. Een van die aanleidende faktore vir die stigting van hierdie kerk was ’n sterk verwagting in 1844 op die wederkoms van Christus in daardie jaar. Spekulasie van hierdie aard het die SDA al in ’n groot geloofwaardigheidskrisis laat beland en aansienlike verdeeldheid onder hulle geskep. 

’n Sekte of nie?

In boeke oor die sektewese word die SDA soms ingesluit en soms nie. Die woord “sekte” is egter ’n omstrede begrip omdat nie alle Protestante dit op dieselfde manier definieer en toepas nie. Daar was bv. ’n tyd toe gereformeerde kerke alle denominasies wat nie die gereformeerde belydenisskrifte aanvaar nie, as sektes beskou het. In die huidige, postmoderne, ekumeniese denkklimaat is daar weer só ’n groot mate van verdraagsaamheid teenoor ander kerke dat selfs die Rooms-Katolieke deur baie van die moderniste as ’n volwaardige Christelike kerk erken word. Die aanvanklike beweegrede vir die Kerkhervorming word hierdeur bevraagteken en in diskrediet gebring.

Dit is nodig om ’n vaste, leerstellige grondslag vir die evangeliese Christendom te hê, sodat Christelike kerke in die lig daarvan as behoudend of afwykend beoordeel kan word. Hoe anders kan aan gelowiges raad gegee word oor die kerke waarby hulle met vrymoedigheid kan aansluit?  ‘n Evangeliese Christen moet ten minste die volgende drie leerstellings onderskryf:

        Christologie. Die Bybelse leer oor Christus moet ten volle aanvaar word. Dit sluit sy maagdelike geboorte, godheid en ewige selfbestaan in. As God die Seun is Hy gelyk aan én een met God die Vader en God die Heilige Gees (1 Joh. 5:7). Hy het mens geword sodat Hy Homself as ’n soenoffer vir ons sonde aan die kruis kon bied. Jesus Christus het ook opgestaan uit die dood, opgevaar hemel toe en sal weer terugkeer om ’n regering van geregtigheid op aarde te vestig.

        Soteriologie. Alle mense het ’n verdorwe, sondige natuur geërf en is van nature sondaars wat onder God se toorn is (Rom. 6:23). Verlossing van sonde word op grond van Christus se kruisdood aan ons gebied (Ef. 1:7; Rom. 3:25). Die Heilige Gees is uitgestort om ons van sonde te oortuig, te wederbaar, te lei, te vervul en toe te rus met krag uit die hoogte.

        Skrifgesag. Die Bybel is die geïnspireerde en foutlose Woord van God wat die volle leer oor die saligheid bevat (2 Tim. 3:16-17). Omdat dit God se Woord is, word die gesag daarvan ten volle erken. Deur Bybelstudie en die ontwikkeling van ons geloofslewe word ons opgeroep om toe te neem in die genade en kennis van Jesus Christus (2 Pet. 3:18).

Kerke wat hierdie drie leerstellings erken, kan nie as sektes beskou word nie, selfs al verskil hulle oor sekondêre leerstellings soos die uitverkiesing, die doop, talespreek en die eskatologie. Daar is ‘n aantal Protestantse teoloë wat aanvoer dat die SDA op grond van hulle Christologie, soteriologie en siening oor die Bybel, nie as ‘n sekte bestempel kan word nie. Een van hulle is dr. Walter R. Martin (The Kingdom of the Cults, bl. 360). Sy kriteria vir die identifisering van sektes is egter nie konsekwent toegepas nie, aangesien hy nie die kultiese godsdiens van die Rooms-Katolieke Kerk in sy boek oor die groot sektes bespreek nie. Verskeie ander teoloë, soos M.R. de Haan, John Rice en Oswald Smith, beskou die SDA as ‘n sekte. Dr. A. Hoekema (The Four Major Cults, bl. 403) verwerp verskillende aspekte van die SDA-teologie en beskryf hulle as ‘n sekte, maar bevraagteken nie hulle verbintenis tot die basiese Christelike leerstellings nie. Hy skryf:

“It is recognised with gratitude that there are certain soundly Scriptural emphases in the teaching of Seventh-day Adventism. We are thankful for their affirmation of the infallibility of the Bible, of the Trinity and of the full deity of Jesus Christ. We gratefully acknowledge their teachings on creation and providence, on the incarnation and resurrection of Christ, on the absolute necessity for regeneration, on sanctification by the Holy Spirit, and on Christ’s literal return.”

Daar is egter dikwels teenstrydige vertolkings van SDA-teologie – sommige daarvan meer evangelies en ander minder so. Verskeie van die voormalige kerkleiers wat van die SDA af weggebreek het, hou vol dat Sewendedag-Adventisme ’n kultiese godsdiens is. In sy artikel, Is the Seventh-day Adventist Church a Cult? (hersien op 2 Jan. 2009 op die webtuiste www.truthorfables.com) definieer Robert K. Sanders, ‘n voormalige lid van die SDA, ‘n sekte soos volg:

1.    Alle sektes het ’n leier, ’n groep leiers, ’n profeet of profetes wat daarop aanspraak maak dat  hulle namens God praat. Ellen White, die stigteres van die SDA, beweer dat sy Jesus Christus vervang om namens God te praat. In Hebreërs 1:1-2 staan daar: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” Ellen White sê: “In die ou tyd het God deur profete en apostels met die mense gepraat. In hierdie dae spreek Hy tot ons deur die getuienis van sy Gees. Daar was nog nooit ’n tyd waarin God sy volk ernstiger aangespreek het as nou nie, wanneer Hy hulle oor sy wil inlig en ook oor die koers wat hulle moet volg ... In hierdie briewe wat ek skryf, in die  getuienis wat ek lewer, bied ek aan julle dit wat God aan my gegee het. Ek skryf nie eers een artikel waarin ek net my eie idees bespreek nie. Dit is alles inligting wat God deur visioene aan my geopenbaar het – kosbare ligstrale wat van sy troon af skyn” (Testimonies 5, bl. 67). Glo u wat die Here vir sy kerk sê, of glo u die misleidende boodskappe van Ellen White en haar getuienis? (beklemtoning deur die outeur; verdere inligting oor die dwalings van hierdie profetes kan gelees word op: www.ellenwhiteexposed.com).

2.    Hulle geskrifte en lering aan hulle volgelinge weerlê die Bybel. Ellen White het meer as 50 stellings gemaak wat strydig met die Bybel is.

3.    Baie van die lede wat die gesag van die leier in twyfel trek, word uit die gemeente geban, vermy, of nie toegelaat om ampte in die kerk te beklee nie.

4.    Sektepredikers maak op die onfeilbaarheid van die leerstellings en geskrifte van  hulle sekteleier aanspraak, in hierdie geval Ellen G. White. “Dit is met die uitgangspunt dat lig deur die Gees van Profesie gekom het, nl. mev. White se geskrifte, dat die vraag oorweeg moet word oor ons opvatting dat die Gees van Profesie die enigste en onfeilbare verklaarder van Bybelse beginsels is, aangesien Christus op hierdie manier betekenis aan sy eie woorde gee” (G.A. Irwin, president van die SDA se Algemene Konferensie, in die traktaatjie, Die Merk van die Dier, bl. 1).

5.    Kultuslede glo dat hulle meer verhewe as ander mense is, weens hulle unieke leerstellings wat aan hulle kennis van God se wil gee wat ander Christene nie het nie. As gevolg van die valse leerstellings van hulle profeet of leier, beskou hulle hulself as spesiaal uitverkore deur God, en sien hulleself as die enigste ware kerk wat oorgebly het. Ellen White en die SDA Kerk sien hulleself as die oorblyfsel wat in 1844 deur God geroep is vanuit al die ander afvallige kerke wat saam Babilon genoem word. Die Adventiste sien hulleself nou nog steeds as die ware kerk: “Een van die gawes van die Heilige Gees is die gawe van profesie. Die gawe is die kenmerk van die ware kerk en het deur die bediening van Ellen G. White gemanifesteer.”

6.    Godsdienstige sektes beskou individue wat hulle verlaat as verlore en sonder enige redding. Dit is vir die SDA ondenkbaar dat ’n persoon hulle kerk kan verlaat en nog steeds ’n geredde Christen bly. Nadat ek die SDA Kerk verlaat het, het ek briewe ontvang waarin gesê is dat ek deur die duiwel gelei word, dat ek oorlog teen God se kerk voer, dat ek in die hel sal brand, en dat ek na die kerk moes terugkeer. Christene wat nie aan die SDA behoort nie, word dikwels “buitestanders” genoem. Wanneer Christene van ander kerke af na die SDA oorkom, word gesê dat hulle “na die waarheid oorgekom het.”

7.    ’n Godsdienstige sekte is ’n organisasie wat van die hoofstroom-Christendom af weggebreek het om onbybelse leerstellings na te volg. Sulke mense glo eerder hulle leiers se afwykende sienings as wat hulle die Bybel glo. Die SDA Kerk verkondig verskeie onbybelse sienings. Christene behoort op te let na wat verkondig word en te weier om onbybelse leerstellings te aanvaar – veral as die betrokke kerk ’n profeet het. Die neiging bestaan ook in kultusse om onfeilbaarheid aan die kultusleier se uitsprake toe te skryf. Mense vind gemak en sekuriteit in kultusse, omdat die leerstellings in ooreenstemming is met dit wat hulle gebreinspoel is om  as die waarheid te aanvaar (einde van Robert Sanders se stellings).

Sekere van die dogmatiese teenstrydighede in die SDA is deur een van hulle voormalige leraars, Dennis J. Fischer, aangetoon in sy artikel: Beyond Adventism: The Truth Re-examined (www.truthorfables.com; hersien in Okt. 2008). Hy sê:

“Verskeie aspekte van Adventisme is as gevolg van hulle dubbelsinnigheid en kompleksiteit moeilik om te verstaan, te beoordeel en aan die lig te bring... Baie van hulle leidende apologete verskil grootliks in die vertolking van hulle geloof en leerstellige beginsels. Dit is nie vreemd om teenoorgestelde sienings oor verskeie onderwerpe in Ellen White se geskrifte te vind nie... Sedert die 1950’s was daar by Sewendedag-Adventiste ’n diep begeerte om as evangeliese Christene beskou te word. Die boek, Questions on Doctrine, wat in 1957 sonder die aanduiding van ’n outeur gepubliseer is, is ’n goeie voorbeeld van die strategie om hulleself as evangelies voor te doen en sodoende die stigma as ’n sekte af te skud. Sedert daardie tyd het die SDA Kerk egter amptelik van die sleutelwoorde uit sekere van hulle leerstellige standpunte verwyder en vervang, bv. die woorde ‘algenoegsaam’ en ‘foutloos’ wat uit hulle stelling oor die gesag van die Bybel verwyder is. Hierdie stap het ruimte geskep vir die buite-Bybelse geskrifte van hulle geëerde profetes, Ellen G. White...

“Nadat ons vir meer as 40 jaar lank toegewyde, derde geslag-Adventiste was, het my vrou, Sylvia, en ek versoek dat ons name van die SDA se lidmaatregister geskrap moes word...

“Jesus Christus is ons ware sabbatsrus. Jesus is die werklikheid en substansie van die Ou Verbond se skaduwees, insluitend die weeklikse sabbat wat eksklusief aan Israel gegee is (vgl. Kol. 2:16-17; Deut. 5:3). Volgens Levitikus 23:2-3 was die sabbat een van die vasgestelde feeste wat Israel moes onderhou. Dit word sekerlik nie van ons verwag om die Joodse feeste te vier ten einde ons verlossing te verkry of te onderhou nie” (einde van Dennis Fischer se stellings).

In die lig van die wyd uiteenlopende vertolkings van SDA-teologie kan dit verwag word dat mens ook in hierdie kerk evangeliese gelowiges sal aantref wat hulle hoop slegs stel in die soendood van Jesus Christus aan die kruis, ten spyte daarvan dat hulle in baie opsigte mislei is deur bv. sabbatsonderhouding en ’n verkeerde verstaan van Bybelse profesieë. Aan die ander kant is daar ook naamchristene wat só wetties is en meegesleur is deur die buite-Bybelse profesieë van Ellen White dat hulle geloof op valse fondamente berus. Die teologiese tradisies wat van geslag na geslag oorgelewer is, sowel as redding wat ritueel toegereken word aan lede wat die kerk se leer onderskryf, lei na ’n gedaante van godsaligheid wat as kerkisme of dooie vormgodsdiens beskryf kan word. Die kerk en sy dogma word die metode waardeur mense salig verklaar word, maar hulle ritualisering gaan selde of ooit met ’n geestelike ondervinding gepaard wat na ’n lewensveranderende verhouding met die Here Jesus lei. Vir sulke mense wat nie ware volgelinge van Christus is nie, het hulle kerk ’n kultiese instelling geword.

Die SDA is hoegenaamd nie uniek wat sy groot aantal misleide, nominale gelowiges betref nie. Hierdie verskynsel kom in feitlik alle kerke voor, wat daarop dui dat omtrent almal van hulle se teologiese beskouings uit ’n mengsel van die waarheid en die leuen bestaan. Die invloed van elkeen van hulle se kerkvaders leef steeds voort, ook hulle dwalings. Uit die aard van die saak kan alle kerke nie oor alle leerstellige kwessies reg wees nie, omdat daar een sentrale waarheid  in die Bybel is, maar baie verskillende vertolkings daarvan. As gevolg hiervan het die meeste kerke “ingeboude” sektariese neigings waarteen gewaak moet word. Die swak punte in elkeen se teologiese konstruksies kan maklik na dwalings en vormgodsdiens lei, en selfs van ’n voormalige evangeliese kerk ’n sekte maak.

Hierbenewens is daar die rol van moderne teoloë wat as “agente” vir teologiese verandering optree. In baie gevalle lei dit na groter verval omdat hulle ter wille van ekumeniese bande met ander kerke, insluitende die Rooms-Katolieke, nie meer sterk op Christelike leerstellings staan nie. Baie van die tradisionele leerstellings word deur hulle verwerp. Die volgende is voorbeelde van sektariese neigings waarteen Protestantse kerke, insluitend die SDA, moet waak:

Die Gereformeerde Kerke se belydenisskrifte is op die leer van Calvyn gebaseer, en dit bevat tipiese gebreke wat maklik na ’n dooie vormgodsdiens kan lei. Hieronder is die uitverkiesingsleer (die mens het nie ’n vrye wil nie, en die Here het lankal reeds besluit wie gered sal word en wie verlore sal gaan); die verbondsteologie (alle uitverkorenes kom d.m.v. die kinderbesprinkeling in ’n verbondsverhouding met die Here en word daarna as geredde verbondskinders beskou); ewige sekerheid (nie een van die verbondskinders kan uit die Here se hand geruk word nie, daarom word die baie algemene verskynsel van geloofsverval, wat verval uit God se genade weens sonde is, nie deur hulle erken nie); koninkryksteologie (die kerk is die instrument in die Here se hand om in hierdie bedeling sy koninkryk op aarde te vestig, daarom is daar nie ’n toekomstige vrederyk ná die wederkoms nie. Alle profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking word vergeestelik omdat die wêreld volgens Calviniste nie al hoe slegter word en op ’n verdrukking afstuur nie, maar al hoe beter word totdat die hemelse koninkryk ten volle geopenbaar sal wees).

Ten spyte van bogenoemde leerstellings was daar deur die eeue heen baie evangeliese Calviniste wat nie die Calvinistiese dogma in sy volle konsekwensies verkondig het nie, en dus bruikbare instrumente in die Here se hand was. Dis egter duidelik waarom Calvinisme maklik in ’n dooie vormgodsdiens kan verval waarin daar net lippediens aan die Here gebied word (Matt. 15:8-9). Aan mense wat hulleself in terme van kerklike tradisies en dogmas regverdig sonder dat hulle hoegenaamd weergebore is, sê die Here: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou... So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (Mark. 7:9,13). As dit gebeur, het die betrokke kerk of groep in die Bybelse sin van die woord ’n sekte geword. Wanneer die invloed van sekere moderne teoloë nog bykom, bv. die openlike ontkenning van die Here Jesus se maagdelike geboorte, godheid en opstanding uit die dood, die verwerping van die kruisevangelie en die Bybel as God se geïnspireerde Woord, asook die mitologisering van die duiwel en die hel, het ’n kerk sy Christelike karakter heeltemal verloor en in ’n rowerspelonk ontaard (Luk. 19:46). Dit is vir evangeliese predikers baie moeilik om in sulke kerke te oorleef.

In charismatiese kerke is daar ander faktore wat, ten spyte van die onderskrywing van ’n basiese evangeliese belydenis, na sektariese neigings kan lei. Hieronder is veral buite-Bybelse openbarings deur drome, visioene en talespreek. Op grond hiervan word daar dikwels aanspraak gemaak op ’n gawe om, onafhanklik van die Bybel, profesieë uit te spreek. Die  grootste gevaar is egter geleë op die terrein van die ervaringsteologie. Groot klem word in hierdie kerke en groepe gelê op fisiese manifestasies van die Heilige Gees, bv. tekens en wonderwerke soos genesing, val in die Gees, lag in die Gees en dans in die Gees. Dit word dan ’n plaasvervanger vir wedergeboorte wat uit sonde-oortuiging voortspruit, en sonder sondebesef kan daar uiteraard geen geloofsaanvaarding van die gekruisigde Here Jesus as Verlosser wees nie. Mense wat hulleself op grond van ’n ervaring soos val in die Gees salig verklaar, bou hulle lewens op die sand van selfmisleiding.

Die potensiële dwalings van die Sewendedag-Adventiste is op die terrein van ‘n wettiese vormgodsdiens, insluitend Ou Testamentiese sabbatsonderhouding, die erkenning van Ellen White se vertolking van die Bybel (waarin daar erg onbybelse beskouings is), die idee van ’n sieleslaap ná die dood, asook ’n totaal verwronge eskatologie. Verder erken hulle ’n buite-Bybelse gawe van profesie wat na ongelooflike spekulasie oor die eindtyd en die wederkoms van Christus lei. Baie van hierdie idees het in die 19de eeu neerslag gevind in die geskrifte van Ellen G. White, wat die  gesaghebbende “kerkmoeder” van die SDA is. Sy het verskeie visioene gehad, soos ook in Great Controversy beskryf, en dit word as God se finale boodskap aan die wêreld beskou. Hierin word die Rooms-Katolieke Kerk as die Antichris beskou, Sondagaanbidding as die merk van die dier, en Saterdagaanbidding as die seël van God. Daar word geweldige antagonisme teen Sondagaanbidding geskep en sabbatsonderhouding op die sewende dag word tot ’n kenmerk van ware Christenskap verhef. Hierdie soort wettisisme neig daartoe om by die genadeboodskap van die Nuwe Testament aan te vul en die algenoegsaamheid van die kruisevangelie ernstig in die gedrang te bring. Daar is sekerlik lidmate van die SDA wat in hierdie sektariese denkrigting vasgevang raak, hoewel nie almal van hulle dié ekstreme siening huldig nie.

Die vraag of ’n bepaalde kerk sektaries is of nie, hang af van hoe die basiese Christelike leerstellings verkondig, aanvaar en uitgeleef word. Dit het baie met die plaaslike leraar se eie oortuigings te doen. As sy saak met die Here reg is en hy plaas die klem van die evangelie op die regte plekke, sal die Here geëer en siele gered word. Indien hy egter die sekondêre leerstellings van sy kerk verhef en oormatig beklemtoon, kan dwalings intree en baie skade aan die verkondiging van die evangelie gedoen word.

Vir ’n opsomming van die SDA-teologie sal ons hoofsaaklik van twee van hulle eie geskrifte gebruik maak, nl. Questions on Doctrine (1957) en Family Bible Studies (Harvest Time Books, 2008). Laasgenoemde boek is anoniem uitgegee sonder enige aanduiding van die outeur(s) of die kerkgenootskap wat dit uitgereik het. Mens kry duidelik die indruk dat die name “Sewendedag-Adventiste” en “Sabbatariërs” weerstand by die publiek ontlok en daarom vermy word. Anonieme publikasies laat egter ook vrae ontstaan oor waarom die betrokke instansie sy identiteit verberg. Dr. Oswald J. Smith sê in sy boekie, Who are the False Prophets? (The People’s Press, 1953): “Seventh-day Adventists are not out to win new converts from among the unsaved; their work is to proselytize... And they often strive to hide their identity. Why, I wonder?”

Die volgende is die belangrikste aspekte van hierdie kerk se sekondêre leerstellings. Dit is ondenkbaar hoe daar soveel swak begrip vir ander Skriftuurlike waarhede getoon kan word in ’n kerk waar die leer oor Christus, asook die werking van die Heilige Gees (behalwe vir die gawe van profesie), in die algemeen redelik goed verstaan word.

Die gawe van profesie

Baie van die teologiese dwalings in die SDA kan teruggevoer word na sogenaamde “profetiese openbarings” aan hulle stigteres, Ellen G. White. In Questions on Doctrine (bl. 89) sê die SDA:  “Ons beskou nie die geskrifte van Ellen G. White as aanvullend tot die heilige kanon van die Skrif nie. Hulle is nie universeel toepaslik nie, maar word net as riglyne vir die SDA gesien.” Hulle sien haar baie visioene as ’n besondere gawe wat die Heilige Gees in die laaste dae van die kerkdispensasie aan haar gegee het. Hoewel hulle dit ondergeskik aan die Bybel stel, aanvaar hulle nogtans die foutiewe leerstellige gevolgtrekkings wat sy van verskeie gedeeltes in die Bybel maak. Dit het die weg na baie wanopvattings gebaan.

Hoewel mev. White steeds wyd aangehang word, is daar ook talle kritici wat haar teologie en geskrifte verwerp. Sommige van hulle bestempel haar as ’n opregte maar emosioneel onstabiele mistikus, terwyl ander haar openlik ’n valse profetes noem. Die meeste kritici erken egter dat sy ’n ware Christen was wat in baie opsigte mislei was.

In die SDA se jongste publikasie, Family Bible Studies (bl. 317-326), is ’n hoofstuk ingesluit onder die titel, Die Gawe van Profesie. Hierin herbevestig hulle hul standpunt dat daar in die eindtyd ’n oplewing van hierdie gawe sal wees. As regverdiging vir hulle standpunt word Handelinge 2:17-18 aangehaal, waar die Here sê dat Hy in die laaste dae sy Gees oor alle vlees sal uitstort. Profesieë, drome en visioene sal dan algemeen voorkom.

Petrus het egter in Handelinge 2:17-18 ’n profesie uit Joël 2:28-32 aangehaal wat spesifiek met die oog op Israel uitgespreek is. Hy verwys nie net na die uitstorting van die Heilige Gees nie, maar ook na die natuurrampe van die groot verdrukking: “En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Hand. 2:18-20).

Israel as volk het die Here Jesus nie tydens sy eerste koms as hulle Messias-Koning aanvaar nie – net ’n klein minderheid het Hom erken en as Verlosser aangeneem. Die gevolg was dat profesieë oor Israel se geestelike herstel (vgl. Eseg. 36:24-28) eers in die eindtyd vervul sal word wanneer hulle deur ’n tyd van verdrukking gaan – dit is die tyd van benoudheid vir Jakob (Jer. 30:7). Dan sal daar ’n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel wees in voorbereiding op hulle ontmoeting met die Messias (Sag. 12:10; Matt. 37:39).

Wanneer dit gebeur, sal Israel in ’n groot verdrukking vasgevang wees soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:15-22). Weens hulle lang kondisionering op grond van die rabbi’s se OT prediking sal hulle min of niks van die vervulling van eindtydse profesieë weet nie – veral nie van die wederkoms van Jesus Christus nie. As gevolg van hulle onkunde sal hulle die verkeerde messias aanneem en met hom ’n verbond sluit (Joh. 5:43; Dan. 9:27). Wanneer hy in die middel van die verdrukking die tempel ontheilig en homself daarin tot God verklaar (2 Thess. 2:4), sal Israel as gevolg van hierdie godslasterlike daad hulle verbond met hom as hulle Messias verbreek. Hulle sal dan vir oorlewing na die berge moet vlug omdat die valse messias hulle sal probeer uitwis.

Dit sal die tyd van groot oordele en natuurrampe wees waarna Joël ook verwys. Dan sal die Here Homself op ’n bonatuurlike wyse aan sy voortvlugtende volk openbaar en aan hulle profetiese inligting gee wat tot hulle beskerming en redding sal lei.

In die lig hiervan is dit heeltemal ongeregverdig om Joël se profesieë almal op die kerkbedeling toe te pas. Die belofte oor buitengewone profetiese openbarings het nie op ons betrekking nie. Die kerk van Christus het al vir eeue lank die hele Bybel wat die volle openbaring van God se raad vir die mensdom bevat (Hand. 20:27). In ons tyd kan ’n gawe van profesie hoogstens vertolk word as verligte oë van die verstand om Bybelse profesieë reg te kan verstaan en ook reg op ons tydsomstandighede toe te pas. Daar moet glad nie na buite-Bybelse profesieë gesoek word nie, want dit kan ’n deur wees wat mense onbewustelik aan die duiwel bied om valse profesieë deur te gee. Baie mense kan hierdeur mislei en verwar word. Selfs al is hierdie spesiale profesieë nie demonies in oorsprong nie, is dit steeds ’n manier waarop sekere mense geloofwaardigheid aan hulle eie idees, drome en vrye verbeeldingsvlugte probeer gee.

Die sabbat

Een van die baie belangrike sake in die SDA se praktiese teologie is die onderhouding van die OT sabbat. Dit is op die totaal verkeerde aanname gebaseer dat die kerk ’n voortsetting van Israel is, en op grond daarvan ’n ewige verbintenis het om die sabbat te onderhou. Hulle haal Exodus 31:16-17 hiervoor aan: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken” (Family Bible Studies, bl. 144).

Dit moet egter in gedagte gehou word dat die kerk nie “die kinders van Israel” is nie en dat die Hebreeuse en Griekse woorde wat as “ewig” vertaal word, soms net ’n dispensasie of beperkte tyd aandui. Volgens Strong’s (Heb. 5769) beteken die woord olam wat ook in Exodus 31:16-17 gebruik word: perpetual, eternal, a long time. Die Griekse weergawe hiervan is aioon (Gr. 165) en dit beteken eternal, for ever, an age, a messianic period (present or future). Groot omsigtigheid is dus nodig om die woord in die verband waarin dit gebruik word, reg te vertaal en ook teologies reg te vertolk.

Die SDA is baie goed van hierdie verskillende betekenisse bewus, want hulle gebruik dit as ’n argument om die idee van die “ewige” straf vir sondaars te weerlê. Hulle sê: “As u Exodus 21:6  lees sal u vind dat vir ewig ook kan beteken vir so lank as wat ’n mens lewe” (Family Bible Studies, bl. 259). Verder verwys hulle ook na Jona wat gesê het dat hy op die punt gestaan het om vir ewig onder in die see vasgevang te raak (Jona 2:6).

Die SDA moet dus twee dinge in verband met Exodus 31:16-17 baie goed verstaan: 1. Die “kinders van Israel” sluit nie lede van die nie-Joodse nasies in nie, en dus ook nie die NT kerk nie; en 2. Die verbond wat die Here vir ewig met Israel gesluit het, het volgens die Bybel self ook ’n einde en sal deur ’n nuwe verbond vervang word: “As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning” (Heb. 8:13). ’n  Ou verbond wat aanvanklik vir ewig gesluit is, kan dus ook verbygaan en tot ’n einde kom.

Dit is foutief om God se “ewige wet” as die Tien Gebooie voor te stel en dit dan universeel en vir alle tye op alle mense van toepassing te maak. Dit is juis die SDA se argument waarom die sabbatswet steeds van krag is (Family Bible Studies, bl. 121-132). Hoe moet ons dan God se ewige wet verstaan? God is liefde, en terselfdertyd die mees verhewe uitdrukking van heiligheid. Sy ewige wet is die wet van die liefde, en dit behels ook die opdrag om sonde te haat en sy heiligheid deelagtig te word. Hy vereis dat almal Hom sal liefhê met hulle hele hart, en dat sy liefde ook die grondslag vir hulle verhoudings met ander mense sal wees. Die morele beginsels wat uit hierdie basiese wet voortspruit, is in die OT onder andere in die Tien Gebooie verwoord, en ook in die seremoniële verpligting van sabbatsonderhouding.

In die NT het die Here Jesus die diep geestelike en morele beginsels van die OT wet kort en kragtig as die wet van die liefde opgesom, maar sonder enige verwysing na sabbatsonderhouding (Matt. 22:36-39; vgl. Luk. 10:25-28). In daardie stadium het die OT wet nog gegeld, maar die dae van sabbatsonderhouding was getel. In die laaste onderwysing van Jesus aan sy dissipels het Hy aan hulle ’n “nuwe gebod” gegee, bedoelende dat dit die OT weergawe van die wet vervang, en dit was dat hulle mekaar moes liefhê soos Hy hulle liefhet (Joh. 13:34-35). Weer eens was die sabbat glad nie ter sprake nie.

Die Here Jesus het God se liefde en heiligheid aan Israel én die wêreld kom openbaar. Deur aan Hom gelykvormig te word en in sy voetstappe te volg, gee ’n persoon uitvoering aan die ewige wet van die liefde: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6). Paulus sê dat Christus in ons gestalte moet kry (Gal. 4:19). Hý is ons norm, nie die wet nie. As sy liefde in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees (Rom. 5:5), dan voldoen ons aan al die vereistes wat die wet gestel het, en het dus nie meer die wet nodig nie. Ons moet net aan die eise van God se liefde voldoen:

“Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ’n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:8-10). Die hele OT wet word deur die uitleef van die wet van die liefde vervul. Ons leef nou in die bedeling van genade wanneer die Here dit vir ons deur sy Gees moontlik maak om Hom te behaag.

Waarom is die genade soveel meer uitnemend as die wet? Die Here Jesus het ons deur sy bloed van alle sonde en ongeregtigheid gereinig – iets wat die OT offers wat deur die wet vereis is, nie kon doen nie (Ef. 1:7; Heb. 10:4-10). Die Heilige Gees is ook uitgestort om ons van sonde te oortuig – dit is nie meer die wet wat ons van sonde oortuig nie. Die Heilige Gees wederbaar almal wat hulle sonde bely en Jesus Christus as Verlosser aanneem, en Hy vervul hulle ook met krag sodat hulle vir die Here kan werk en staande kan bly teen die liste van die duiwel. As ons sy leiding getrou volg, sal Hy die beeld van Christus in ons lewens uitwerk. Dit is alles deel van die omvangryke genadewerk wat die Here Jesus vir ons doen. Ons word deur genade in staat gestel om meer as die gelowiges van die Ou Testament, God se heiligheid en krag tot oorwinning deelagtig te word. Wy jouself hieraan toe: “Beklee julle met die Here Jesus Christus en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikheid te bevredig nie” (Rom. 13:14). “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

In die lig hiervan is dit duidelik waarom Paulus sê: “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Hy vermeng nie die twee konsepte deur te beweer dat ons onder die genade kan leef en steeds wetsnakoming moet nastreef nie. Dit is onmoontlik, “want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Ons word gemaan om vas te staan in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het, en onsself nie weer onder die juk van die wet te plaas nie (Gal. 5:1). As mense dit wél doen, verval hulle van die genade (Gal. 5:4). Wanneer wet en genade vermeng word, word die algenoegsaamheid van Christus se genadewerk betwyfel en met iets anders aangevul.

Paulus het ook vir Timotheus daaraan herinner dat die wet nie vir die regverdige bedoel is nie (1 Tim. 1:9). Ons leef volgens die beginsels van Christus se genade, soos wat dit in die NT beskryf is en deur die Heilige Gees in ons harte ingeskerp word. “Want die reddende genade van God... leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12).

Die enigste gebooie waarvan daar ná die kruisiging van Jesus sprake is, is NT opdragte wat ’n verdere uitbreiding op die wet van die liefde is, bv. heiligheid, gebed, vergewensgesindheid en ook verskeie vrugte van die Gees. In nie een enkele geval word die sabbat as deel van dié gebooie of voorskrifte genoem nie. In Handelinge 15 moes uitsluitsel gegee word of die OT wet op die NT gemeentes van toepassing is. Die antwoord was ’n duidelike “nee.” Slegs enkele norme vir moreel aanvaarbare gedrag is genoem.

Die Sondagoggend toe Jesus uit die graf opgestaan het, was die bedeling van die wet verby. Daardie selfde dag het Hy sy dissipels ontmoet en hulle uitgestuur om die evangelie te gaan verkondig. Die volgende Sondag het Jesus weer aan hulle verskyn, sy vrede aan hulle gegee en ook Thomas se ongeloof uit die weg geruim (Joh. 20:19-29). Op die vyftigste dag ná Jesus se opstanding en tien dae ná sy hemelvaart, is die Heilige Gees uitgestort – weer op die eerste dag van die week (Sondag).

Dit het die grondslag gelê vir die dissipels én die vroeë kerk om op Sondae byeen te kom en die Here te dien. Hulle het dit die dag van die Here genoem. Paulus bevestig ook dat sy prediking op die eerste dag van die week was (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2). Op sy sendingreise het hy op die sabbat met die Jode gepraat omdat dit die dag van hulle samekoms was. Daar was nie enige wettiese motief hiermee nie.

Die vroeë kerkvaders bevestig almal die feit van Sondagaanbidding as ’n algemene instelling. Die SDA verwerp egter die getuienis van die vroeë kerkvaders oor Sondagaanbidding geheel en al, omdat dié vaders glo op baie punte sou gedwaal het en nie teologies vertrou kan word nie (Family Bible Studies, bl. 165). Waarom sou hulle egter almal oor die gebruik van Sondagaanbidding lieg? Dit was nie ’n omstrede saak nie, maar ’n gebruik wat spontaan eerbiedig is.

Die bewering van die SDA dat Sondagaanbidding eers in 321 n.C. deur ’n dekreet van  Konstantyn ingestel is (Family Bible Studies, bl. 169, 210), dui slegs op die amptelike erkenning van hierdie dag se status deur dié monarg. In daardie stadium het Christene hierdie gebruik al byna 300 jaar lank beoefen, en is beslis nie deur Konstantyn beïnvloed om dit te doen nie.

Die SDA se stelling dat Sondagaanbidding aan die verering van die songod verbind kan word, het slegs betrekking op diegene wat songod aanbidding beoefen het. Vir die Christene was hierdie dag óf die eerste dag van die week óf die dag van die Here. Die heidense songod het nooit eers vaagweg in hulle gebruike ter sprake gekom nie.

Die name van die weeksdae is van die son, maan en vyf van die planete afgelei, en in die heidense mitologie het dit vir sekere van die antieke Europese volke godsdienstige konnotasies gehad. Christene is egter hoegenaamd nie hierdeur beïnvloed nie en het eers later, bloot as ’n sekulêre gebruik, hierdie name aanvaar. Indien die SDA beweer dat Sondagaanbidders iets met die aanbidding van die songod te doen het, dan moet diegene wat op Saterdae aanbid aan die heidense Saturnusfees verbind word. Hopelik sal hulle insien dat sulke argumente heeltemal irrasioneel is.

Dit is duidelik dat die SDA al sedert hulle ontstaan ’n diepgewortelde afkeer in Sondagaanbidding het – tot só ’n mate dat hulle dit direk aan die Antichris verbind. Volgens hulle is die Rooms-Katolieke Kerk die dier van Openbaring 13, die getal 666 dui volgens hulle op die pous, en Sondagaanbidding is die merk, of teken, wat hy aan sy volgelinge gee (Family Bible Studies, bl. 295-306). Hierteenoor word sabbatsonderhouding as die teken of merk voorgehou wat die Here aan al sy getroue volgelinge gee.

Op hierdie punt kom die SDA gevaarlik naby aan die verloëning van die evangeliese Christendom, omdat hulle norm vir ’n ware geloof nie die aanvaarding of verwerping van die gekruisigde en opgestane Here Jesus is nie, maar die aanvaarding of verwerping van die OT sabbat. Hulle lidmate is in die meeste gevalle totaal antagonisties teenoor almal wat die Here op Sondae aanbid, en neem die houding in dat sulke mense vinnig besig is om onder die oordele van God in te beweeg.

In hulle 2008-publikasie, Family Bible Studies, bl. 299, haal die SDA eers Openbaring 14:9-10 aan: “As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.” Direk daarna lewer hulle die volgende kommentaar: “Hoe kan ons van die Here verwag om te swyg oor só ‘n belangrike saak soos die verandering van die enigste wet wat sy teken en seël as Skepper en Redder van die wêreld aan ons gee? God se oordele sal egter nie oor die mensdom kom voordat hulle duidelik gewaarsku is nie.”

Hulle haal ook ’n gedeelte uit Great Controversy (bl. 144-145) aan waarin gesê word dat die breër Christendom in twee groepe verdeel sal word, naamlik diegene wat die gebooie van God en geloof in Jesus in ere hou, en diegene wat die dier en sy beeld aanbid en ook sy merk van Sondagaanbidding ontvang. Kerk en staat sal volgens Openbaring 13:16 kragte saamsnoer om aan almal, klein en groot, die nommer van die dier te gee. In die lig hiervan verwag die SDA dat regerings in die nabye toekoms met die Rooms-Katolieke Kerk sal saamwerk om Sondagaanbidding op al hulle onderdane af te dwing. Diegene wat dit aanvaar, sal volgens hulle vir ewig verlore gaan, terwyl die oorwinnaars oor die dier en sy merk in die hemel sal wees (Op. 15:2-3).

Word alle Sondagaanbidders nou reeds as verlore volgelinge van die Antichris bestempel? Nee, maar die SDA kom baie naby daaraan. In Questions on Doctrine (bl. 183) word beweer dat daar ware Christene in alle kerke is, maar hulle wandel nie in die volle lig van die vierde gebod nie. ’n Tyd van toetsing sal glo aanbreek wanneer ’n wet uitgevaardig sal word om Sondagaanbidding af te dwing – dan sal die finale skeiding kom, en diégene wat die sabbat onderhou, sal deur die  antichristelike Sondagaanbidders vervolg word.

Eskatologie

Wederkomsprediking is ’n baie sterk eienskap van die SDA en baie tyd en aandag word hieraan gewy – ook in hulle geskrifte. Hulle leer oor die eindtyd is egter in groot omstredenheid gehul omdat dit nie op gesonde beginsels van eksegese berus nie. Mense word eerder verwar as wat hulle duidelike en logiese antwoorde op hulle vrae kry. Die SDA is egter nie alleen wat die verdraaiing van Bybelse eskatologie betref nie, omdat die meeste Protestantse kerke ook op hierdie terrein faal – veral die groot gereformeerde kerke.

Die SDA is premillennialisties omdat hulle glo in die wederkoms van Jesus voor die millennium. Met hierdie basiese opvatting is daar niks verkeerd nie, maar in hulle uiteensetting van al die besonderhede raak hulle die spoor heeltemal byster: Hulle glo nie in die wegraping as die geheime koms van die Here Jesus vir sy gemeente nie, hulle glo nie in ’n verdrukking van sewe jaar onder die bewind van ’n enkele persoon wat as die Antichris beskryf word nie, hulle glo nie in die herstel van Israel in hulle land as ’n teken van die eindtyd nie, en hulle glo ook nie in Christus se duisendjarige vrederyk op aarde wanneer Hy saam met sy heiliges uit Jerusalem sal regeer nie.

Die volgende is die SDA se mees omstrede eskatologiese sienings:

Ontvlugting verwerp. Die SDA verwerp die idee van die kerk se ontvlugting uit die oordele van die verdrukking (vgl. Luk. 21:36). Hulle sê dat enige idee van ’n geheime koms op menslike afleidings gebaseer is wat nie deur die Skrif bevestig word nie (Family Bible Studies, bl. 55). 

Verdrukking onder die RK Kerk. Die SDA glo nie in ’n verdrukking van sewe jaar onder die bewind van die Antichris nie. Hulle beskou die Roomse Kerk as die Antichris, en die 1260 dae van die Antichris se optrede in die tweede helfte van die verdrukking as 1260 jaar van Rooms-Katolieke oorheersing. Volgens hulle moet elke dag as een jaar gereken word. Roomse oorheersing het van 538 n.C. tot in 1798 n.C. gestrek toe die Franse die pous van daardie tyd onttroon het, en dit is volgens hulle die “dodelike wond” wat die dier ontvang het (Op. 13:3). Nou wag die SDA dat die dodelike wond genees, wat vir hulle beteken dat die Vatikaan weer beheer oor die wêreld gaan kry (Family Bible Studies, bl. 159-160). Hulle dwaal egter grootliks oor die 1260 dae, omdat dit in Openbaring 11 tot 13 en in Daniël 9:27 ook as 42 maande of 3½ jaar (tyd, tye en ’n halwe tyd) beskryf word. Dit is dus letterlik net 1260 dae en nie 1260 jaar nie. Hulle beantwoord ook nie die vraag oor waar die ander helfte van die verdrukking inpas nie.

Die merk van die dier. Die gelykstelling van die merk van die dier met Sondagaanbidding is een van die ergste dwalings van die SDA. Die ware merk van die dier het met die beheer van koop en verkoop te doen (Op. 13:16-18). Die tweede helfte van die verdrukking wanneer die Antichris sy skrikbewind sal voer, sal net 42 maande lank wees. Dit is dieselfde as 1260 dae, 3½ jaar of ’n halwe jaarweek (Dan. 9:27; Op. 12:6,14; 13:5). Die SDA doen hulle wederkomsprediking groot skade aan deur die onbybelse voorstelling van die laaste jaarweek voor Christus se koms as ’n tydperk van meer as ’n duisend jaar lank.

Daniël se profesieë skeefgetrek. Alle verwysings na die Antichris in Daniël word ook op die RK Kerk toegepas. Die klein horinkie van Daniël 7:8,20-26 dui egter op die eindtydse Antichris wat uit die herstelde Romeinse ryk sal voortkom en ’n veel groter magsbasis as die pous sal verkry. Die klein horinkie in Daniël 8:8-25 dui op die Antichris en een van sy voorlopers, Antiochus Epifanes, maar hierdie keer binne die verband van die antieke Griekse ryk. Dit is al klaar ’n onomstootlike bewys dat die Antichris nie uit Italië sal kom nie, omdat die Griekse ryk net beheer oor Macedonië, Tracië, Sirië en Egipte gehad het. Die Siriese provinsie van die verdeelde Griekse ryk was die gebied waaroor Antiochus Epifanes beheer gehad het, en waaruit die eindtydse Antichris sal kom. Dit was ook ’n provinsie van die Romeinse ryk. Sirië was vroeër ook as Assirië bekend, en was vir lang tye deel van die Babiloniese ryk. Dit is waarom die Antichris ook die Assiriër genoem word (Jes. 10:12-14), en in Daniël 11:31-45 die koning van die noorde, soos vanuit Israel gesien. Dit is onmoontlik om die Rooms-Katolieke Kerk in hierdie scenario te plaas.

Datumbepaling. ‘n Misleidende vorm van datumbepaling het uit die SDA se verkeerde verstaan van Daniël se profesieë voortgevloei. Hulle het die 2300 dae waarin die tempel volgens Daniël 8:14 in ’n verwoeste toestand sou wees, as 2300 jaar vertolk. Hoewel hierdie profesie letterlik tussen 170 en 164 v.C. vervul is nadat Antiochus Epifanes die tempel verwoes en Judas Makkabeus dit weer herstel het, is dit steeds die SDA se siening dat die 2300 jaar tussen 457 v.C. en 1844 n.C. verloop het. Op grond hiervan het hulle ’n sterk saak uitgemaak dat Jesus Christus se wederkoms op 22 Oktober 1844 sou plaasvind. Hierdie growwe vergissing het ’n groot knou aan die geloofwaardigheid van hulle eskatologiese boodskap oor die “advent” gegee.

Ignorering van Israel. Benewens die foutiewe verabsolutering van die RK Kerk as die hoofrolspeler in omtrent alle eindtydse profesieë, is die ander baie ernstige swakheid van SDA- eskatologie die afwesigheid van enige verwysings na Israel, hulle herstel, en die belangrike rol wat Jerusalem in die eindtyd sal speel. Israel word nie eers in hulle lys van tekens van die tye genoem nie (Family Bible Studies, bl. 63-74). Dit alleen is ’n sterk bewys dat die SDA uit voeling is met die belangrikste eskatologiese gebeure van ons tyd. Weet die SDA nie dat Jesus na Jerusalem terugkom en dat die oorblyfsel van Israel met Hom versoen sal word nie (Sag. 12:10; 13:8-9; 14:4-5)? Die herstel van Israel is een van die mees prominente profetiese temas in die Ou Testament en enige kerk wat dit buite rekening laat, plaas homself in ’n posisie waar dit onmoontlik is om ’n Bybelgetroue weergawe van eindtydse gebeure te kan gee. Israel se vyande, veral Islam, sal dan ook geïgnoreer word asof hulle nie bestaan nie. Daniël se profesieë oor die Antichris uit die gebied van die koning van die noorde, vestig die aandag juis op die moderne woongebiede van radikale Islam. Hier sal die Antichris as ’n dinamiese eindtydse leier verrys, en Israel ook mislei om met hom ’n verbond te sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43). Dink die SDA Israel sal ’n afgeleefde pous in Italië as hulle Messias aanvaar?

’n Verdere bewys dat die SDA Israel uit die toneel van eindtydse gebeure uitskryf, is hulle beskouing oor die 70 jaarweke van Israel se heilsgeskiedenis tot en met die wederkoms van die Messias. Hulle sien die verloop van die 70 jaarweke verkeerdelik as tussen 457 v.C. en 34 n.C. (Family Bible Studies, bl. 102-103). Volgens Daniël 9:24 moet daar ná die 70ste jaarweek ewige geregtigheid in Israel heers. Ons almal weet dat dit nog nie so is nie. Aan die begin van die 70 jaarweke, in 445 v.C., het koning Artasásta aan die Jode in die ballingskap opdrag gegee om Jerusalem en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1). Die aanvanlike bouwerk is ná 7 jaarweke voltooi. In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid verder uitgebrei en bewoon. Aan die einde van 69 (7+62) jaarweke, in April 32 n.C., is die Messias in Jerusalem verwerp en gekruisig. Dit was die laaste stap van geestelike rebellie wat na Israel se internasionale verstrooiing in die eerste eeu gelei het, en wat ’n lang onderbreking in hulle heilsgeskiedenis meegebring het. Nou, in die eindtyd, kom Israel na hulle land terug om deur die 70ste jaarweek te gaan voordat hulle die Messias sal aanvaar (Matt. 23:39; Sag. 12:10; Rom. 11:26). Sonder die volk Israel in die prentjie is geen eskatologie eers naastenby Skrifgetrou nie.

Samesweringsteorieë. Wanneer die werklike feite op die grond nie meer ’n bepalende rol in die analisering van wêreldgebeure speel nie, bv. die opsigtelike stryd tussen Israel en radikale Islam, Amerika en Islamities-gesteunde terrorisme, Rusland en ander lande, wend baie mense hulle na allerlei vergesogte samesweringsteorieë (‘conspiracy theories’). Prof. Walter Veith van die SDA hou hom op groot skaal hiermee besig. Verborge komplotte word aan die lig gebring waarin beweer word dat die RK Kerk, die Vrymesselaars en die Illuminati agter al die konflikte in die wêreld sit. Daar word selfs beweer dat George Bush en die CIA vir die 9/11 ramp verantwoordelik is. Islam hou baie van sulke teorieë, want by implikasie verontskuldig dit hulle as die werklike sondebokke. Teorieë oor die Illuminati as ’n Westerse of Joodse geldmag wat wêreldgebeure manipuleer, kan maar vergeet word. Baie van die groot Westerse banke is feitlik bankrot, en die sterkste banke is in Saoedi-Arabië en Japan. Dit is waar die geldmag nou geleë is.

’n Spookagtige millennium. Nog een van die SDA se beskouings wat skreeu teen die waarheid, is dié van ’n verlate en onbewoonde aarde tydens die millennium, wanneer die duiwel sal rondswerf sonder om enigiets te doen te hê. Hierdie teorie is ook ’n nalatenskap van Ellen White. Die siening word gehuldig dat Christus met sy wederkoms al die goddeloses op aarde sal verdelg en daarna met sy heiliges hemel toe gaan om daar te regeer. Satan sal op die verlate, verwoeste en spookagtige aarde agtergelaat word totdat die millennium verby is. Die SDA sê: “Sommige mense dink aan die millennium as ’n duisend jaar van vrede en voorspoed hier op aarde. Dit verskil heeltemal van die Bybelse weergawe... Die eerste opstanding sal plaasvind en al die heiliges uit die dood opgewek word... Die konings van die aarde en die hele wêreld (Op. 16:14) sal deur Christus vernietig word. Hy is die groot kryger van die hemel wat sal uittrek om die magte van rebellie uit te wis (Op. 19: 11-16). Al die bose mense sal sterf en die  aarde ontvolk word... Die opgewekte heiliges én die lewende regverdiges sal dan van die wêreld af na die hemel weggeneem word... Satan sal op die aarde gebind word (Op. 20:2-3). Tydens die millennium sal die aarde verlate wees omdat die goddeloses almal dood sal wees... Daar sal nie ’n enkele lewende persoon op aarde wees wat deur Satan mislei kan word nie. Hy sal ’n  duisend jaar lank vakansie kry van sy werk van misleiding sodat hy oor sy lang loopbaan van rebellie kan nadink, asook die ellende wat dit vir hom meegebring het. Hy sal dan sy laaste groot aanslag beplan wanneer die goddeloses tydens die tweede opstanding opgewek word... Wanneer hy losgelaat word, sal hy die goddeloses wat vir ’n kort tydjie uit die dood opgewek is,  in ’n laaste rebellie teen God se koninkryk lei” (Family Bible Studies, bl. 75-83).

Die SDA moet letterlik honderde profesieë verontagsaam of verdraai as hulle weier om die volgende Bybelse feite te erken: Christus en sy heiliges sal tydens die millennium op aarde regeer (Op. 2:26-27; 5:9-10; 11:15; 19:15-16; 20:6); die Here Jesus sal in die herstelde koninkryk van Israel van die troon van Dawid af regeer (Hand. 15:16-17; Jer. 3:17); die nasies sal van hulle swaarde pikke smee en nie meer leer om oorlog te maak nie (Jes. 2:2-4); Israel sal ’n voorspoedige en geestelik vrugbare volk wees (Jes. 27:6); Jerusalem sal ’n lof op aarde wees (Jes. 62:6-7); die nasies sal die Messias dien en Israel as sy spesiale volk eer (Sag. 8:20-23); en almal op aarde sal die Here ken (Jes. 11:9-10).

Sieleslaap

Die SDA huldig ook ’n baie vreemde siening oor sieleslaap ná die dood. In ’n hoofstuk, Die  ander kant van die dood (Family Bible Studies, bl. 245-254), verduidelik hulle dat slegs God onsterflikheid besit, en ’n mens wat dit ook wil hê, moet die ewige lewe in die evangelie soek. Volgens hulle word gelowiges eers onsterflik wanneer hulle tydens die opstanding onsterflike liggame ontvang. Bose mense is egter nie onsterflike wesens nie, en sal heeltemal ophou bestaan. Die ongelowiges kry dus nooit onsterflike liggame nie. Hulle sal by die tweede opstanding opgewek word slegs om finaal in die poel van vuur verdelg te word. Die SDA glo daar is  nie ’n ewige hel nie, omdat ewig ook na ’n beperkte tyd kan verwys – so lank as wat dit neem om heeltemal uit te brand.

Volgens die SDA is daar nie verskillende bestemmings vir afgestorwe gelowiges en ongelowiges nie. Daar is net ’n doderyk waarheen alle gestorwenes gaan om die tyd van hulle opstanding af te wag. Voor die millennium sal “die opstanding van die lewe” plaasvind, en daarna “die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29).

Die regverdiges sal die ewige lewe beërf: “The saints who have slept in silence, unconscious of the passing of time, will suddenly be awakened. Some have slumbered for thousands of years; others have had only a brief period in the grave. To all, the time will seem the same – as just a moment. They will come forth with their faces glowing with joy, health, and immortality” (Family Bible Studies, bl. 257). Die goddeloses sal finaal in die poel van vuur verdelg word.

Verder glo die SDA dat geen mens tussen sy dood en die opstanding ’n bewustelike bestaan in die hemel of die doderyk voer nie. Daar word beweer dat die mens se liggaam tot stof terugkeer en dat sy gees na God terugkeer wat dit gegee het, en dat die dooies geen gedagtes, gevoelens of herinneringe sal hê tot op die dag wanneer hulle uit die dood opgewek word nie. Hulle is in ’n diepe slaap, onbewus van alles rondom hulle.  Die SDA is baie sterk daarvan oortuig dat die Bybel hierdie verkeerde standpunt van hulle onderskryf: “Yes, the Scriptures are plain. When death comes, all thinking and feeling end. If they do not, the Bible is false and unreliable. Thinking and feeling did not exist before God breathed life into man, and they stop entirely when the man dies” (Family Bible Studies, bl. 249).

Die SDA se leer oor elke aspek van sieleslaap is heeltemal in stryd met die Bybel. Sedert OT tye was daar ná die dood uiteenlopende bestemmings vir die regverdiges wat na die paradys gegaan het, en die onregverdiges wat na die doderyk (Heb. sheol, Gr. hades) gegaan het. Tussen hierdie twee bestemmings is daar ’n groot kloof, soos blyk uit die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Luk. 16:19-31). Uit hierdie gelykenis is dit duidelik dat daar geen vorm van sieleslaap by die regverdiges óf onregverdiges bestaan nie. Hulle het aktiewe gedagtes, gevoelens, én ’n goeie geheue oor wat hulle gedoen het.

Ná Christus se opstanding gaan gestorwe gelowiges nie meer paradys toe nie, maar hemel toe. Paulus sê: “Ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil” (Fil. 1:23-24). Hy het beslis nie na ’n sieleslaap in die graf uitgesien toe hy begeer het om te sterf en in die teenwoordigheid van Christus te wees nie!

Finale beoordeling

Hoewel sommige predikers in die SDA op ’n evangeliese verlossingsleer en die onfeilbaarheid van die Bybel staan, is baie van die ander só wetties en op buite-Bybelse profesieë ingestel dat die evangelieboodskap ernstig in die gedrang kom. Die SDA het ook verskeie hoogs kontroversiële leerstellings waardeur die Bybel nie reg vertolk word nie. Dit het veral te doen met hulle siening oor die wet en die sabbat, asook met hulle eskatologie, hulle siening oor die profetiese gawe en hulle leer oor sieleslaap. Walter R. Martin (The Kingdom of the Cults, bl. 383) sê die volgende oor kritiek teen mev. Ellen G. White en die SDA:

“Die inspirasie vir 90% van die negatiewe kritiek wat oor die jare heen teen mev. White gelewer is, kom in die boeke van Dudley M. Canright voor. Hy was vroeër ’n baie suksesvolle en geliefde Adventiste leraar, en ook ’n persoonlike vriend van Ellen White, haar man, James, en verskeie Adventiste leraars. Hy het uit die beweging bedank omdat hy geloof in die inspirasie van mev. White se visioene en leerstellings verloor het. Hy het in 1887 uit die SDA bedank en ’n Baptiste leraar geword. Hy het ook sterk teen die uiterste wettisisme te velde getrek wat onder baie van die Adventiste voorgekom het. Hy het twee boeke oor sy besware geskryf, nl. Seventh-day Adventism Renounced en Life of Mrs. E.G. White.

Dudley Canright het sy finale gevolgtrekking só geformuleer: “Nadat ek die sewende dag vir 28 jaar lank eerbiedig het; nadat ek meer as ’n duisend ander mense oortuig het om dit te doen; nadat ek my Bybel meer as 20 keer vers-vir-vers deurgelees het; nadat ek elke vers wat selfs net in die geringste mate op die sabbat-vraagstuk betrekking het, na die beste van my vermoë bestudeer het; nadat ek al hierdie verse in die oorspronklike tale én in baie vertalings gelees het; nadat ek leksikons, konkordansies, kommentare en woordeboeke geraadpleeg het; nadat ek talle boeke oor beide kante van die debat gelees het; nadat ek elke reël gelees het wat die vroeë kerkvaders hieroor gesê het; nadat ek self verskeie boeke ten gunste van Sewendedag-Adventisme geskryf het wat goed deur my broeders ontvang is; en nadat ek al die getuienis hieroor in die vrees van God en met die oog op die oordeelsdag oorweeg het, is ek in my eie gemoed ten volle daarvan oortuig dat al die getuienis téén die onderhouding van die sewende dag is” (aangehaal deur Oswald Smith in Who are the False Prophets? bl. 18).

‘n Ander tydgenoot van Ellen White het ook haar visioene bevraagteken, maar nie haar persoonlike geloof in die Here Jesus as Verlosser nie. Haar neef, James White, het geskryf: “Ek aanvaar nie suster Ellen se visioene as goddelik geïnspireer nie, ten spyte daarvan dat sy dink dit is so. Nogtans beskuldig ek haar nie van doelbewuste oneerlikheid nie... Ek dink dat dit wat sy as visioene van die Here af beskou, niks meer is nie as godsdienstige mymeringe (of dagdrome) waarin haar verbeelding die loop neem oor sake waarin sy baie geïnteresseerd is. Wanneer sy in hierdie mymeringe opgaan, is sy onbewus van enigeen naby haar. Daar is twee soorte mymering: sondig en godsdienstig. In albei gevalle is die oorsprong van sentimente in die persoon se eie kennis, leerstellige oortuigings en studies geleë. Ek dink hoegenaamd nie dat haar visioene van die duiwel af kom nie” (A Word to the Little Flock, 1847, bl. 29).

Martin (The Kingdom of the Cults, bl. 385) sê hy kan glad nie die SDA se aanspraak aanvaar dat Ellen White ’n gawe van profesie gehad het soos wat dit in 1 Korinthiërs 14 beskryf word nie. Die groot verskil tussen Ellen White se visioene en dit wat die Bybel sê, laat geen  ruimte vir ’n kerk om sy leerstellings op haar twyfelagtige visioene te bou en hulle steeds as godgegewe openbarings te beskou en te verkondig nie.

Dit is in die geval van die SDA baie duidelik dat wanneer die wet met genade vermeng word, mense hulle insig en geestelike vermoë verloor om “die woord van die waarheid reg te sny” (2 Tim. 2:15). Alles val nie reg in plek nie, en groot verwarring ontstaan nie net oor die beginsels van die leer van heiligmaking nie, maar ook oor die eskatologie. Sekere beloftes soos die wegraping word misgekyk, terwyl sondagaanbidding vir hulle die merk van die dier word. Dit is ernstige misleiding!