Ons sluit die bespreking van wet en genade af met ‘n besinning oor die belangrike leerstellige uitsprake wat Paulus in Romeine 5 en 6 hieroor gemaak het. In dié hoofstukke sê hy onder meer die volgende:
“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang gekry het tot hierdie genade waarin ons staan... Die liefde van God is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is... God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn... Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens [Adam] baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één [Jesus Christus] baie tot regverdiges gestel word. Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here” (Rom. 5:1,2,5,8,9,19-21).
“Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie – òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid. Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking. Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid. Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood. Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6:1-23).
Ons het deur die geloof, op grond van die liefde van God, toegang verkry tot die genade waarin ons staan. Omdat God alle sondaars liefhet en hulle redding begeer, het Hy sy Seun gestuur om aan die kruis versoening vir ons sonde te doen. Genade en liefde is dus twee nou verwante begrippe: omdat God ons liefhet, het Hy sy genade deur sy Seun ryklik aan ons verleen.
Die Heilige Gees bevestig ons in God se genade deur sy liefde in ons harte uit te stort. Hierna word ons gedrag nie deur uiterlike dwang tot wetsgehoorsaamheid gekenmerk nie, maar deur die Heilige Gees se innerlike oortuiging van sonde en geregtigheid. As ons hierop reageer en in die lig daarvan wandel, sal ons ‘n onversteurde verhouding met die Here hê. Alles wat in stryd met die beginsels van goddelike liefde is, is sonde. Die groot dryfkrag in ons lewe is nie die letter van die Ou Testamentiese wet en al sy skaduagtige gebruike nie, maar die genade en liefde van die Here Jesus wat deur sy Woord aan ons geopenbaar word, deur sy Gees in ons harte bevestig word, en waaraan ons deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees uitvoering gee.
Ons lewe in die genade van God het ‘n groot potensiaal vir groei en verdere ontwikkeling. Paulus maak duidelik van twee genadewerkinge melding waaraan ons deel moet hê as ons werklik die Here wil behaag. Die eerste genadewerk is regverdigmaking deur die bloed van Christus: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Rom. 3:23-25; vgl. Rom. 5:1,8).
Hierna word ‘n baie duidelike uitdaging vir ‘n tweede genadewerk aan ons gestel, naamlik om saam met Christus te sterf sodat ons ook saam met Hom kan lewe. Hierdie geloofstap vereis selfdissipline én ‘n radikaal veranderde ingesteldheid ten opsigte van die ou én die nuwe lewe. Die realiteite van ons geestelike posisie moet deeglik begryp word sodat besluite oor ons lewenstyl en optrede in die lig daarvan geneem kan word. Die proses van heiligmaking, wat met die tweede genadewerk in verband staan, sal heeltemal ongedaan gemaak word indien ons kompromie met sonde maak en weier om die oue mens af te lê. Hierdie struikelblok móét eers uit die weg geruim word deur met Christus saam te groei in die gelykvormigheid aan sy dood (Rom. 6:1-5). Dit alleen sal die weg na eenwording met sy opstandingslewe baan.
Die groot vraag is: hoe moet ek my ou natuur afsterf? Paulus het vir die Efésiërs gesê dat hulle daarvan afstand moet doen: “...dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). Ek moet ‘n oorgawe maak waarin ek my ou, sondige natuur oorlewer om gekruisig te word sodat ek innerlik vernuwe kan word en met die natuur van Christus beklee word. Paulus sê: “Aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie” (Rom. 6:6). Die woord “tot niet maak” (Grieks katargeo) wat ten opsigte van die ou, sondige natuur gebruik word, is problematies en kan volgens verskillende Griekse woordeboeke ook as “kragteloos maak” vertaal word. Die Amplified Bible vertaal dit só: “We know that our old (unrenewed) self was nailed to the cross with Him in order that [our] body, [which is the instrument] of sin, might be made ineffective and inactive for evil, that we might no longer be the slaves of sin.”
Die verstaan van hierdie begrip het na verskillende teologiese standpunte gelei. Diegene wat die ontwortelingsteorie van die ou natuur aanhang (Wesleyane), maak daarop aanspraak dat ons ou, sondige natuur heeltemal deur die Here vernietig word. Dié wat die onderdrukkingsteorie aanhang (Calviniste) sê dat ons die ou natuur gedurig moet onderdruk en probeer onderhou sodat ons net ‘matige’ sondaars is. Hulle bevind hulleself as gevolg hiervan in ‘n geestelik onvrugbare toestand van vleeslikheid. Diegene wat die selfkruisigingsbeginsel aanhang (Andrew Murray en ander Keswick-predikers) sê dat die ou natuur elke dag in ‘n gekruisigde posisie moet bly, en waarsku dat dit weer kan herleef as ‘n persoon nalaat om homself met Christus se kruis te vereenselwig en dan weer willens en wetens sonde begin doen.
In sy boek Soos Christus sê Andrew Murray: “Die geheim van heiligmaking is dat ons, soos Christus, ook vir die sonde moet sterf. Die Christen wat dit nie verstaan nie, dink altyd dat die sonde té sterk vir hom is, dat dit steeds mag oor hom het en dat hy dit soms moet gehoorsaam. Hy dink egter net so omdat hy nie weet dat hy, soos Christus, dood vir die sonde is nie. Indien die gelowige nóg sondig, is dit omdat hy nie sy voorreg gebruik om te leef soos iemand wat dood vir die sonde is nie. As gevolg van onkunde, ‘n gebrek aan waaksaamheid, of ongeloof, vergeet hy die betekenis en krag van sy gelykvormigheid aan Christus se dood, en sondig dan weer. Indien hy egter ‘n vaste geloof het in wat sy deelname aan Christus se dood beteken, het hy die krag om sonde te oorkom. Hy verstaan duidelik dat daar nie gesê word: ‘sonde is dood’ nie. Nee, sonde is nie dood nie. Die sonde leef nog en werk deur die vlees; maar die gelowige is self vir die sonde dood en lewend vir God. Sonde kan dus nie vir ‘n enkele oomblik sonder sy toestemming mag oor hom hê nie. Indien hy sondig, is dit omdat hy homself daaraan onderwerp en dit toelaat om oor hom te heers. Geliefde Christen wat daarna streef om soos Christus te wees, neem die gelykvormigheid aan sy dood as een van die heerlikste dele van die lewe wat jy lei. Probeer om ‘n dieper begrip te verkry van wat dit beteken om te leef soos iemand wat dood vir die sonde is; as een wat, deur te sterwe, van die heerskappy daarvan bevry is en nou in die nuwe lewe deur Jesus Christus daaroor kan heers. Dan sal die gelykvormigheid aan sy dood toenemend in jou werksaam wees terwyl Christus se dood sy volle krag in jou hele lewenswandel sal openbaar. Dit is waarom Paulus sê: ‘Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?’ (Rom. 6:2). In die krag van Christus se opstandingslewe kán ons oor die sonde triomfeer” (einde van aanhaling uit Murray se boek).
Dit is absoluut noodsaaklik dat ’n gelowige sy stand in Christus reg sal verstaan en ooreenkomstig daarmee sal lewe. Paulus gebruik nóg ‘n sleutelwoord hiervoor: “So moet julle ook reken (Gr. logizomai) dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” Dit beteken letterlik: “Ag jouself dood vir die sonde.” Dit kan jy slegs doen nadat jy in ’n volle oorgawe die oue mens afgelê en oorgelewer het om gekruisig te word. Die Here Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself (die ou, eie-ek) verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Paulus sê: “Ek mag nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).
Wat gebeur indien ’n Christen nalaat om in die geloof die vlees oor te gee om gekruisig te word? Dan groei hy nie met Christus saam in die gelykvormigheid van sy dood nie, en bevind homself in ’n posisie waarin sonde en vleeslike gesindhede steeds die hoofkenmerke van sy lewe is. Dit lei effektief na ’n blokkering van die vrug van die Gees in sy lewe: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). In die gemeente in Korinthe was daar baie van hierdie vleeslike Christene wat nie oorwinnend geleef het nie. Paulus sê:
“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie? ... Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:1-3,16).
Hierdie mense het hulleself nie vir die wêreld en die sonde dood gereken nie, en daarom nog nie ’n oorgawe vir die kruisiging van die ou natuur, hartsreiniging en vervulling met die Heilige Gees gemaak nie. Wanneer ’n mens nie ten volle met die dood van die Here Jesus identifiseer nie, sal sy opstandingslewe ook nie uit jou optrede blyk nie en sal jy nie ’n bruikbare instrument in die hand van die Here wees nie.
Dit is ’n algemene neiging onder sulke vleeslike Christene om na aspekte van die Ou Testamentiese wet terug te gryp en dit te onderhou ten einde darem ten minste in hulle vleeslike toestand ’n gedaante van godsaligheid te hê. Hulle word egter daarop gewys dat hulle nie aan die sonde diensbaar moet wees nie, maar hierdie vryheid en oorwinning kan hulle net deur die Here Jesus se genade deelagtig word – nie deur die wet nie: “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:12-14).
‘n Standpunt moet teen die ou natuur en sy begeerlikhede ingeneem word. Deur die krag wat die Here verleen kán die verdorwe natuur oorwin en gekruisig word. In die plek daarvan moet die gelowige homself opnuut met die nuwe lewe van die Here Jesus beklee en om ‘n nuwe vervulling met die Heilige Gees bid: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Die volgende stap is om jouself daadwerklik vir die diens van die Here beskikbaar te stel. Soek na geleenthede om ‘n getuie vir Christus te wees en sy koninkryk te bevorder, sodat andere ook sy genade deelagtig kan word. Dit is die pad van toenemende diensbaarheid en heiligheid wat ons daagliks moet bewandel. Op hierdie pad sal ons in die kennis en genade van die Here Jesus toeneem (2 Pet. 3:18).
Ons moet nooit onder diegene wees wat ‘n gebrekkige Christelike lewe deur Ou Testamentiese wetsnakoming probeer aanvul nie, want dan onderskat ons die waarde van Christus se genade. Paulus sê: “Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe” (Gal. 2:21). Hy het homself egter wél aan Christus se Nuwe Testamentiese wet van die liefde gebonde geag (Gal. 6:2; 1 Kor. 9:21), want deur die prediking van die evangelie word die Verlosser se wondergenade aan ‘n geestelik sterwende wêreld gebied (Joh. 13:34; Gal. 5:14).
Christus se wet van die liefde laat ons toe om onder die leiding van die Heilige Gees volkome vryheid te ervaar oor hoe ons uitvoering daaraan gee. Dit is nie tot sekere dae beperk nie, nie aan die gee van ‘n vaste persentasie van ons inkomste nie, nie aan ‘n wetlik-bepaalde vorm van dienslewering aan God deur die bemiddeling van priesters nie, nie aan verpligte ritualisering deur sakramenteurs en ander kerklike ampsdraers nie, en ook nie aan enige verantwoordelikhede wat uit menslik-bepaalde tradisies en dogmas voortspruit nie.
Die liefde van God laat ons ook nie toe om in passiwiteit te verval en die lig van die evangelie onder ‘n maatemmer te verberg nie. Sy liefde het ‘n eie dinamiek wat ons aanspoor om maniere te vind waarop ons die verkondiging van die evangelie kan bevorder. Ons sal ‘n liefde vir God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees hê; ons sal ‘n liefde vir die Here se Woord hê; ons sal ‘n liefde vir die broeders hê; ons sal ‘n liefde vir die ware kerk van Christus oral op aarde hê, en so ver as moontlik ‘n ondersteunende rol daarin vervul. Ons sal ook ‘n liefde vir ‘n verloregaande wêreld hê en die verkondiging van die goeie nuus van Jesus Christus se reddende genade op allerlei maniere bevorder. Ons moet volmaak word in die liefde, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (1 Joh. 4:7-21; Ef. 3:14-19).
Ons is reg aan die einde van die kerkbedeling, en moet besef dat die tyd min geraak het om ons geestelike lewe in orde te kry sodat dit volkome, in alle opsigte, in ooreenstemming met “die leer van Christus” sal wees (2 Joh. 1:9). Dit vereis ‘n duidelike begrip van die Here Jesus se genade in ons lewe – nie net vir redding nie, maar ook vir die uitvoering van ons opdragte om gedurig te bid, heilig te lewe en die lig van die evangelie oral in hierdie donker wêreld te laat skyn. Weldra sal ons voor Christus se regterstoel moet verskyn om rekenskap van ons lewens as Christene te gee (Rom. 14:10,12; 2 Kor. 5:10).
Dit is nodig dat ons nou reeds deur ons geloof en werke die voorbereidings sal tref om met vrymoedigheid te kan antwoord op ‘n paar duidelike en reguit vrae wat aan ons gestel gaan word. Daar sal nie by hierdie geleentheid aan ons gevra word of ons gered of ongered is nie, want net die persone wat uit genade gered is, sal weggeraap word en daarna voor die regterstoel van Christus verskyn. Die diensknegte van die Here sal rekenskap van hulle lewe ná bekering moet gee, sodat vasgestel kan word of hulle waardig gewandel en die opdragte van die Here uitgevoer het. Wanneer ons na die krone kyk wat as genadeloon aan die oorwinnaars toegeken sal word, is dit duidelik dat daar nie aan hulle gevra sal word of hulle die wet en die sabbat onderhou het nie, want dit is nie waarvoor ons in die wêreld uitgestuur is nie. Christus sal ons na aanleiding van die volgende vrae beoordeel en beloon:
• “Het jy heilig geleef, alle sondes en laste afgelê en jouself in die Here se koninkryk diensbaar gestel?” Die onverwelklike kroon sal hiervoor toegeken word (1 Kor. 9:24-27; 2 Kor. 7:1; Heb. 12:1-2).
• “Het jy evangelisasiewerk ondersteun en siele na Christus gelei?” Aan almal wat hierin getrou was, sal die kroon van roem toegeken word (Hand. 1:8; 1 Thess. 2:19; Fil. 4:1).
• “Was jy ‘n getroue herder?” Hierdie vraag geld vir almal wat ander mense, ook kinders, onder hulle sorg gehad het. Hulle sal die kroon van heerlikheid kry (1 Pet. 5:2-4).
• “Was jy bereid om vir Christus te ly en het jy onder moeilike omstandighede aan die geloof vasgehou?” Dan sal jy die kroon van die lewe ontvang (Op. 2:10; Jak. 1:12; 2 Kor. 4:16-18; Heb. 11:35).
• “Het jy Christus se koms liefgehad, dit verkondig en in die lig daarvan gewandel?” Dit vereis ‘n ingesteldheid van vreemdelingskap in die huidige verdorwe wêreld. Sulke persone sal die kroon van geregtigheid ontvang (2 Tim. 4:7-8; Fil. 3:20-21).
Omdat hierdie werke slegs deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees gedoen kan word, word die loon as genadeloon beskryf. Dit is die rede waarom die ouderlinge in die hemel, wat volgens Openbaring 5:9-10 die verheerlikte kerk voorstel, hulle krone voor die voete van die Here Jesus sal neerlê. Slegs Hy is waardig om die heerlikheid en eer te ontvang vir dit wat op aarde in sy Naam en vir sy koninkryk bereik is (Op. 4:10-11).