Die boek Daniël is gedurende die Babiloniese ballingskap van Juda en Israel deur die profeet Daniël geskryf. Die profesieë hierin het op die toekoms van sowel Israel as die groot wêreldryke betrekking. Die tydsraamwerk van hierdie profesieë strek vanaf die Babiloniese ballingskap tot by die wederkoms van die ware Messias – dan sal die goddelose wêreldryke wat vir Israel vervolg het, beëindig en die koninkryk van Israel onder die leiding van die Messias herstel word.
Verskeie van die profetiese uitsprake in hierdie boek het ‘n eindtydse toepassing en sluit by Christus se profetiese rede oor die tyd kort voor sy wederkoms aan. Daniël verwys na die laaste jaarweek van Israel se heilsgeskiedenis voordat die Messias kom, en sê dat die valse messias dan die herboude tempel in Jerusalem sal ontheilig (Dan. 9:27; 11:31). Die Here Jesus het spesifiek na hierdie verse in Daniël verwys toe Hy oor die eindtyd gepraat het, en gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom... dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug... Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15,16,21). Daar is ook verskeie parallelle tussen Daniël se profesieë en dié van Johannes in Openbaring.
Wanneer ons die boek Daniël bestudeer, moet ons in gedagte hou dat die Here se waarskuwings oor ‘n ballingskap vir Israel weens hulle ongehoorsaamheid in twee stadiums vervul is – eers die beperkte Babiloniese ballingskap en later die lang internasionale verstrooiing van die volk. Waarskuwings oor die ernstige gevolge van Israel se geestelike afvalligheid dateer terug na die tyd van Moses.
Die Ou Testament bevat talle beloftes van seën vir die volk Israel indien hulle aan God getrou bly (Deut. 28:1-14), maar net soveel waarskuwings van sware straf weens ontrouheid (Deut. 28:15-68). In die geval van voortgesette goddeloosheid sou die Here uiteindelik die volk heeltemal uit hulle land verdryf en onder al die nasies van die aarde verstrooi laat raak, waar hulle verdruk sou word en voortdurende benoudheid beleef: “En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode dien... En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie... En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang” (Deut. 28:64-66).
In die boeke van die Ou Testament is daar verskeie profesieë oor die internasionale verstrooiing van Israel regoor die wêreld, asook hulle uiteindelike herstel uit die verstrooiing. Volgens Jesaja 11:12 sou Israel en Juda na die vier hoeke van die aarde weggevoer word. Jeremia verwys na “al die nasies” waarheen Israel verstrooi sou word (Jer. 30:11). Hy voeg by dat Israel tot in die Noordland (dit is Rusland) en die agterhoeke van die aarde verstrooi sou word (Jer. 31:8). Esegiël bevestig ook die feit dat Israel na baie volke verstrooi sou word (Eseg. 38:8).
Die internasionale verstrooiing van Israel het eers vroeg in Nuwe Testamentiese tye plaasgevind, toe Israel die maat van hulle ongeregtigheid volgemaak het deur ook die Messias te verwerp. Die Here Jesus het hulle gewaarsku dat Jerusalem beleër en ingeneem sou word, dat die stad verwoes en sy inwoners krygsgevange geneem sou word na alle nasies. Daarna sou Jerusalem deur die nasies vertrap word terwyl die tye van die nasies (dit is ook die tyd van wêreldevangelisasie) sy loop neem (Luk. 21:20-24). Die verwoesting van Jerusalem en die begin van Israel se internasionale verstrooiing het in 70 n.C. plaasgevind toe die Romeine die land onderwerp, hulle stede verwoes en die oorlewende inwoners uit die land verdryf het.
Benewens hierdie groot, internasionale verstrooiing van die volk, was daar ook die korter Babiloniese ballingskap na net een heidense koninkryk toe. Jeremia sê: “En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies [dit is Israel en sy omliggende volke] sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien” (Jer. 25:11).
Verskeie profete het gewaarsku dat die volk in ballingskap weggevoer sou word as hulle in sonde volhard. Jesaja het vir Hiskia gesê: “Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders tot vandag toe opgehoop het, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die Here. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel” (2 Kon. 20:17-18).
Die noordelike tienstammeryk is in 722 v.C. na Assirië weggevoer. Ons lees in 2 Konings 17 van vers 6 af: “In die negende jaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië... want die kinders van Israel het gesondig teen die Here hulle God... hulle het die drekgode gedien waarvan die Here vir hulle gesê het: Julle mag dit nie doen nie.” Assirië is by Babilonië ingelyf nadat Ninevé in 612 v.C. deur Nebopolasser onderwerp is.
Die suidelike koninkryk van Juda het later aan die beurt gekom toe Jerusalem in die hande van Babilon geval het. Die Babiloniese ballingskap is in drie fases voltrek: In 605 v.C. is Daniël en sy drie vriende saam met ander uitgesoekte jong Jode na Babilon weggevoer. In 597 v.C. is ongeveer 10 000 mense weggevoer (2 Kon. 24:11-16). In 586 v.C. is Jerusalem verwoes en het Judéa ‘n provinsie van Babel geword (2 Kon. 25:1-21).
In die boek Daniël lees ons van die eerste fase van die wegvoering. In die maand Nisan (April) 605 v.C. was Nebopolasser nog koning van Babilon en hy het sy seun, Nebukadnésar, gestuur om die Assiries-Egiptiese bondgenootskap te gaan verbreek. Die Egiptenare is in ‘n groot slag by Karkemis verslaan, en daarna is die Siries-Palestynse gebiede ook onderwerp. Nebopolasser is op 8 Ab (15 Augustus) 605 v.C. in Babilonië dood, en Nebukadnésar het teruggegaan Babilon toe om sy pa as koning op te volg. Hy het ook vir Daniël en sy drie vriende wat in Jerusalem gevange geneem is, saam met hom geneem.
Wat die samestelling van die volk Israel betref, moet in gedagte gehou word dat die volk vir 250 jaar lank in twee koninkryke verdeel was, naamlik die tienstammeryk van Israel in Samaria en die tweestammeryk van Juda in Jerusalem. Daar was verskeie migrasies van die noordelike na die suidelike ryk, met die gevolg dat Juda spoedig weer verteenwoordigend van al twaalf die stamme was (vgl. 2 Kron. 11:14-16; 15:9).
Gedurende die ballingskap het hulle verder verenig geraak, omdat Babilonië ook die voormalige Assirië verower en ingesluit het. Israel en Juda is saam in dieselfde gebied verdruk: “So sê die Here van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, Here van die leërskare is sy Naam” (Jer. 50:33-34).
Wanneer Daniël tydens die ballingskap na Israel verwys, bedoel hy die verenigde volk wat uit twaalf stamme bestaan. Tydens en ná die Babiloniese ballingskap word daar net na een volk verwys wat as “Jode” én “Israeliete” beskryf is (Esra 6:8,16-17,21; Neh. 1:6 en 4:1). Daar word geen ruimte vir die teorie van die “tien verlore stamme van Israel” gelaat nie, en derhalwe ook nie vir die Brits-Israelse Beweging en die Israelvisie nie.
Daniël was ‘n bekende historiese persoon wat uit ‘n koninklike familie gebore is (Dan, 1:3,6). Hy was fisies aantreklik en verstandelik baie intelligent (Dan. 1:4). Tydens sy gevangeneming was hy ‘n jong man gewees. Daniël is in ‘n besondere mate begenadig om die oppergesag en alwetendheid van God in die midde van ‘n heidense wêreld te openbaar. Dit is ook die rede waarom die boek Daniël in twee tale geskryf is, naamlik Hebreeus en Aramees. Hebreeus was die taal van Israel en Aramees die taal van die heidenwêreld van daardie tyd.
Vanaf hoofstuk 1:1 tot 2:4a, asook hoofstukke 8 tot 12, is in Hebreeus geskryf omdat dit oor die lotgevalle van die volk Israel handel. Die gedeelte vanaf hoofstuk 2:4b tot aan die einde van hoofstuk 7, is in Aramees geskryf omdat dit profesieë oor die heidennasies bevat. Dit is gepas dat die gedeelte oor die heidense koninkryke in hulle eie taal geskryf is. Wanneer die klem weer na dié koninkryke se invloed op Israel verskuif, word die teks in Hebreeus geskryf.
Ten spyte van die twee tale waarin die boek Daniël geskryf is, vorm dit ‘n integrale geheel. Die eerste ses hoofstukke is wél geskiedenis en die laaste ses hoofstukke profetiese visioene, maar tóg vul dit mekaar aan en kan daar in die eerste hoofstukke ook profetiese boodskappe gelees word. So bv. is die droomgesig van Daniël 2 ‘n beskrywing van opeenvolgende wêreldkoninkryke ná Nebukadnésar, en word dieselfde koninkryke in die laaste hoofstukke deur dierebeelde voorgestel.
Liberale teoloë het dikwels die outeurskap van Daniël in twyfel getrek, omdat hulle nie kon aanvaar dat die geskiedenis so akkuraat voorspel kon word nie. Vir ons is dit eintlik geen probleem nie, want ons weet dat dit nie Daniël self was wat sulke voorspellings kon maak nie, maar dat die Heilige Gees die ganse Skrif goddelik geïnspireer het (2 Pet. 1:20-21).
Met die skryf van die boek Daniël was daar die volgende duidelike doelstellings:
1. Die boek dui vir elkeen wat dit lees, besonder uitdagende voorbeelde aan van wat ‘n ware, toegewyde lewe aan God beteken. Dit wys ons wat God gewillig is om te doen deur diegene wat heelhartig aan Hom toegewy is. Daniël het egter ‘n unieke en eenmalige rol vervul. Nie een van ons kan weer ‘n Daniël wees nie, maar ons kan en behoort die boodskap van Daniël in ons eie tyd toe te pas en uit te leef. Hiervoor is dit nodig om ‘n grondige kennis van sy boek te hê.
2. Die boek verseker ons van God se voortgesette belang by sy volk Israel, en sy troue sorg oor hulle – selfs wanneer hulle gestraf word. Dit word in historiese gebeurtenisse beskryf, maar ook in profetiese beloftes oor Israel se uiteindelike herstel. Die belangrikste van hierdie beloftes is die koms van die Messias, asook Israel se volkome geestelike herstel wanneer die maat van hulle ongeregtighede vol sal wees en daar ‘n einde aan hulle sonde sal kom. Die Here troos sy volk te midde van hulle lyding, en doen daardeur ‘n oproep op mense om in die lig van toekomstige weldade nóú hulle saak met die Here reg te maak en in sy weë te wandel.
3. Daniël is die belangrikste bron vir die interpretasie van die Nuwe Testamentiese Apokalips – Openbaring. Die boek verskaf baie inligting oor die opkoms van ‘n magtige heidense koninkryk in die eindtyd, asook die verskyning van dié wêreldryk se leier, wat Israel sal vervolg en homself op groot dinge beroem. Hy sal homself nie net bokant alle mense verhef nie, maar ook bokant God. Verder beskryf Daniël uit Israel se oogpunt die gebeurtenisse van die eindtyd binne die raamwerk van ‘n jaarweek, wat ‘n tydperk van sewe profetiese jare is. Hierdie week word in twee helftes verdeel, en dit vind direkte aansluiting by Openbaring se beskrywing van die sewe jaar lange verdrukking onder die bewind van die Antichris, wat net voor die wederkoms van Christus op aarde sal verloop.
Hoe gaan ons te werk om Daniël se profesieë te verklaar? Die volgende riglyne en beginsels van uitleg moet gevolg word:
1. Enige skrifgedeelte het net een primêre betekenis. Dit moet in die historiese situasie waarin die boek geskryf is, bepaal word. Met wie het die profeet gepraat en wat was sy boodskap aan daardie mense of volke? In die geval van Daniël was daar duidelike boodskappe aan die volk Israel in hulle eie taal. Hierbenewens was daar ook profetiese uitsprake oor heidense koninkryke en hulle leiers, asook dit wat die toekoms vir almal van ons inhou.
2. Wanneer hierdie waarhede vasgestel en gekonstateer is, kan ons voortspruitend daaruit verskeie praktiese toepassings en boodskappe vir ons tyd aflei. Die lyn kan na ons situasie deurgetrek word deur sekere beginsels van God se handelswyse met mense aan te toon. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n waarskuwing aan Nebukadnésar om met sy sonde te breek (Dan. 4:27). Hy het dit nie gedoen nie, arrogant opgetree en is deur die Here van sy koningskap onthef (Dan. 4:29-31). Ná ‘n tyd het hy tot besinning en bekering gekom en God se oppergesag erken (Dan. 4:36-37). Hierdeur wil die Here ook goddelose leiers in ons tyd waarsku om nie minagtend teenoor die Here en sy Woord op te tree nie. Dit sal een of ander tyd bitter gevolge vir hulle meebring.
3. Vervolgens kan daar uit die verband van die primêre waarheid in baie gevalle ook profetiese openbarings gelees word. Verhale wat vertel word, het bv. dikwels ‘n tipologiese heenwysing na persone of gebeurtenisse in die toekoms. So bv. is Antiochus Epifanes, die koning van die Siriese provinsie in die voormalige Griekse wêreldryk, ‘n tipe van die Antichris. Baie van sy optredes teenoor Israel is ‘n vooruitskouing na dit wat die eindtydse koning van die noorde sal doen (Dan. 11).
Hierdie drie riglyne is interafhanklik en moet almal ook in hierdie volgorde toegepas word. Sommige mense bly slegs by die primêre vertolking van die Skrif en eindig dan by ‘n stuk dooie dogmatiek of geskiedenis wat van weinig praktiese nut in die lewe is. Andere begin weer by die geestelike en profetiese toepassings, sonder om as ‘n eerste stap die Skrif behoorlik te bestudeer. Die gevaar is dat daar dan willekeurige en ongegronde afleidings gemaak kan word.
Bybelse profesieë, waarvan daar baie in Daniël is, moet letterlik verklaar word en nie deur vergeesteliking of allegorisering van hulle grondbetekenis beroof word nie. In sy gesaghebbende boek, Things to Come, gee Dwight Pentecost die volgende definisie van die letterlike metode van Skrifverklaring: “Die letterlike metode van interpretasie is daardie metode wat aan elke woord dieselfde betekenis toeskryf as wat dit in die gewone, alledaagse gebruik van die spreektaal, skryf- of denkwyse het. Dit word die grammaties-historiese metode genoem om die feit te beklemtoon dat betekenis deur beide die grammatiese konstruksie en die historiese verband waarin die woord gebruik is, bepaal word.” Wanneer ‘n woord ‘n logiese betekenis het in die verband waarin dit gebruik word, dan mag dit nie simbolies opgeneem en anders verklaar word nie: “When the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.”
Die sterkste bewys vir die letterlike verklaring is die wyse waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. ‘n Mens kan maar net kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor Christus wat in die Nuwe Testament vervul is, naamlik oor sy geboorte, sy lewe, sy werk en sy dood. Geen een van hierdie profesieë is anders as letterlik vervul nie. Die Ou Testament gee meer as 300 uitdruklike voorspellings aangaande die eerste koms van Christus, sodat dit vir elke Fariseër en skrifgeleerde duidelik moes wees wie Jesus is. Tóg het hulle die Here Jesus nie as Messias herken en aanvaar nie, maar die waarheid onderdruk en hulle eie mense mislei. Waarom het hulle dit gedoen?
Die ganse sisteem van die verdoeseling en versluiering van Bybelse profesieë deur middel van allegoriese interpretasie, is ‘n duidelike set van die Satan om mense te laat vergeet van die wederkoms van die Verlosser wat as Persoon van die hemel af sal kom om hier te regeer. Tydens Christus se eerste koms het Israel die voorspellings oor sy koms geïgnoreer en moes die sware gevolge daarvan dra. Hulle sou vir eeue lank geestelik verblinde voortvlugtendes onder die nasies wees omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur die Messias besoek het, nie opgemerk het nie (Matt. 23:37-39; Luk. 19:41-44; 21:20-24).
In die boek Daniël is daar verskeie duidelike profesieë oor die koms van die Messias – selfs ‘n aftelling van 69 jaarweke vanaf Israel se herstel uit die Babiloniese ballingskap tot by die verwerping en kruisiging van die Messias. Die uiteindelike gevolg van hierdie onbesonne daad deur Israel sal die koms van die valse messias in die eindtyd wees, reg aan die einde van die tye van die nasies. Daniël sê: “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word” (Dan. 12:1). Vir diegene wat kan volhard en die valse messias se diktatuur oorleef, sal daar geestelike herstel wees wanneer die ware Messias kom.
Hierdie boodskap aan Israel kan ook op alle mense toegepas word: diegene wat die ware messias verwerp, sal in ‘n groot verdrukking beland waarin sommige wél gered sal word, maar die meeste sal in hulle sonde sterf. Daniël gee aan ons baie inligting oor hierdie komende tyd van die einde. As ons dit saam met Christus se profetiese rede en Johannes se boek, Openbaring, lees, sal dit vir ons duidelik wees dat ons aan die einde van die tye van die nasies is, en dat die geprofeteerde tyd van wêreldwye benoudheid enige oomblik kan aanbreek. Mense se verhouding met die God van die hemel sal bepaal of hulle die seën van die Messias se toekomstige koninkryk sal beërf, en of hulle weens ongeloof aan die skrikbewind van die valse messias uitgelewer sal word.