As vertrekpunt vir hierdie hoofstuk verwys Daniël na die einde van die Medo-Persiese ryk, die ontstaan van die Griekse ryk en die verdeling daarvan in vier onafhanklike koninkryke:
“Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland. Dan sal ‘n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil. En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie – want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander” (Dan. 11:2-4).
Die dapper koning wat opgestaan en die Medo-Persiese ryk verslaan het, was die jong Alexander die Grote. Met sy vroeë dood het hy geen opvolgers gehad nie, en is sy ryk in vier koninkryke onder die bewind van vier van sy generaals verdeel. In die voortgesette stryd teen Israel was net twee van hierdie vier provinsies van direkte belang, naamlik die Siriese provinsie ten noorde van Israel en die Egiptiese provinsie ten suide van Israel. Na hulle word in dié hoofstuk as die koning van die Noorde en die koning van die Suide verwys.
Vanuit die magstryd tussen hierdie twee koninkryke word die lyn profeties deurgetrek na die optrede van ‘n eindtydse koning van die Noorde, naamlik die Antichris. Hoewel een van die historiese konings van die Noorde, naamlik Antiochus Epifanes, ‘n duidelike tipe van die Antichris was, beskryf Daniël van vers 36 af tot aan die einde van die hoofstuk nét die optrede van die eindtydse koning van die Noorde, wat die Antichris is.
Daniël beklemtoon in hierdie hoofstuk weer eens die eindtydse toepassing van die visioene wat hy gehad het. Al sy visioene moet egter in ag geneem word voordat enige konkrete gevolgtrekkings oor die verskyning van die Antichris gemaak word. In Daniël 7 word die Romeinse ryk voorgestel as ‘n dier met tien horings op sy kop, en die Antichris as ‘n klein horinkie wat uit een van die tien opkom. In Daniël 8 word die Griekse ryk as ‘n bokram beskryf wat later vier horings op sy kop gehad het, en die Antichris as ‘n klein horinkie wat uit een van die vier opkom. In Daniël 11 word die perspektief in die Griekse ryk egter vernou en word aangedui dat die Antichris die eindtydse koning van die Noorde is wat uit die Siriese provinsie van die Griekse ryk na vore sal kom. Eers word die Antichris dus as een uit tien in die Romeinse ryk voorgestel, dan as een uit vier in die Griekse ryk, en uiteindelik as een uit twee in die Midde-Oosterse provinsies van die Griekse ryk. Daar word ook aangetoon watter een van hierdie twee sy gebied van oorsprong is.
Binne hierdie totale scenario moet ons dus na ‘n gebied kyk wat gemeenskaplik deur die Romeinse en Griekse ryke beheer is. Ons weet reeds uit die oogpunt van die Griekse ryk dat dit die gebied van die koning van die Noorde is, naamlik die Siriese provinsie. Hierdie selfde provinsie was ook onder die beheer van die Romeinse ryk, daarom hoef daar nie oor die Antichris se gebied van oorsprong gespekuleer te word nie. Die Griekse ryk het nie die lande in Wes-Europa beheer nie, daarom kwalifiseer nie een van hulle om die rol van die eindtydse koning van die Noorde te vervul nie. In elk geval is hulle wes van Israel en nie noord nie. Die feit staan dus vas dat die Europese Gemeenskap ook na die Midde-Ooste gaan uitbrei en uiteindelik hulle regeringsetel hier sal vestig. Dan sal die rol van Brussels uitgedien wees.
Wat die Siriese provinsie uit historiese tye betref, moet in gedagte gehou word dat dit veel wyer as die huidige land Sirië strek – dit sluit Sirië, Irak en Libanon in. Die ou Babiloniese ryk was ook deel daarvan, asook die Medo-Persiese ryk. Wanneer die Antichris dus uit dié gebied na vore tree, sal hy al vier die groot wêreldryke verteenwoordig waarvan Daniël in sy profesieë skryf. Dit is presies waarom Johannes hom in die jaar 95 as ‘n dier beskryf het wat al vier die diere in Daniël 7 verteenwoordig. Hy sal die bek van ‘n leeu hê (die Babiloniese ryk), die pote van ‘n beer (die Medo-Persiese ryk), die lyf van ‘n luiperd (die Griekse ryk) en tien horings op sy kop (die Romeinse ryk) (Op. 13:1-2).
Die Antichris sal die Romeine se mag tot verwoesting en vernietiging hê, die Grieke se spoed en doeltreffendheid, die onveranderlike wette van die Meders en Perse, en die Babiloniërs se oorheersingsdrang en eis tot aanbidding van die koning. Al vier hierdie ryke het ‘n satanies-geïnspireerde haat vir Israel gehad, en hulleself daartoe verbind om Israel uit hulle land te verdryf en van die aarde af uit te delg. Die Babiloniërs het die Jode as ballinge weggevoer, Jerusalem en die tempel geplunder en verwoes, die koninklike dinastie van Juda beëindig en die ballinge gedwing om die gode van Babel te aanbid. In die Medo-Persiese ryk het koning Ahasveros aan Haman die volmag gegee om al die Jode dood te maak (Ester 3), en hierdie dekreet was onherroeplik. In die Griekse ryk het Antiochus Epifanes die tempel ontheilig, Israel se godsdiens met afgodediens probeer vervang en baie Jode laat doodmaak. Die Romeine het Jerusalem en die tempel in die jaar 70 n.C. totaal verwoes, 1,1 miljoen Jode om die lewe gebring en 97 000 as krygsgevangenes weggevoer. Al hierdie bose eienskappe sal kenmerkend van die eindtydse ryk van die Antichris wees.
In Daniël 11:5-20 word die magstryd tussen die koning van die Noorde en die koning van die Suide beskryf. Seleusus het beheer oor Sirië in die noorde gevoer en Ptolemeus het gesag oor Egipte in die suide gehad. Dit is merkwaardig dat die profesieë wat in 535 v.C. oor hierdie twee koninkryke uitgespreek is, honderde jare later, tussen 320 en 165 v.C., letterlik vervul is. Ons het dus alle rede om te glo dat die oorblywende profesieë wat op die eindtydse ryk van die Antichris dui, nét so letterlik vervul sal word.
‘n Langdurige stryd is tussen die konings van die Noorde en die Suide gevoer, met ‘n wisselende mate van sukses aan albei kante. Uiteindelik het die koning van die Noorde die oorhand gekry en die sterkste mag geword. In hierdie voortslepende konflik het Israel dit dikwels ontgeld omdat hulle tussen dié twee moondhede geleë was. Die volgende is ‘n greep uit hierdie lang geskiedenis van geweld en weerwraak:
“Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen die koning van die Noorde veg, wat ook ‘n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word. As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tien duisende neerslaan, maar nie sterk bly nie. Dan sal die koning van die Noorde weer ‘n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met ‘n groot leër en ‘n groot gevolg. En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om ‘n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom. So sal dan die koning van die Noorde kom en ‘n wal opwerp en ‘n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs nie sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie. En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is” (Dan. 11:11-16).
Die koning van die Suide was in hierdie stadium (221-204 v.C.) Ptolemeus IV en die koning van Noorde Antiochus III. Ptolemeus IV het kwaad geword vir Antiochus se veroweringstogte en ‘n leër van 70 000 voetsoldate, 5 000 ruiters en 73 olifante teen hom gemobiliseer en opgetrek om die leërs van Antiochus by die suidelike grens van Israel te ontmoet. Ptolemeus was suksesvol in die veldslag en duisende van Antiochus se manskappe het gesneuwel. Ptolemeus het hierdie oorwinning egter nie opgevolg nie en na Egipte teruggetrek om in sy grootheid te roem.
Antiochus het omgedraai en ‘n paar jaar later met ‘n veel groter leër teen Egipte opgetrek. In hierdie aanval het hy die hulp van Macedonië gekry, van Egiptiese rebelle én ook van Joodse rebelle wat na Sirië opgesien het om Egipte se heerskappy van hulle af te werp. In die proses het die Jode tot hulle eie ondergang bygedra, aangesien Sirië sodoende beheer oor hulle sou verkry. Dit het die weg vir Antiochus Epifanes geopen om in later jare ‘n skrikbewind in Israel te voer.
‘n Groot deel van Daniël 11 word aan hierdie diktator gewy, omdat hy so ‘n duidelike tipe van die Antichris was: “Daarna sal ‘n veragtelike in [Seleusus IV] se plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig. En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond. Want sodra ‘n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word. Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir ‘n tyd. En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met ‘n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met ‘n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam. En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê. En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees. En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan. Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie. Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het. En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. En terwyl hulle struikel, sal hulle met ‘n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit. En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde – want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Dan. 11:21-35).
Antiochus Epifanes was ‘n veragtelike mens. Hy het homself Epifanes (die skitterende) genoem maar sy bynaam was Epimanes (die mal mens). Hy was nie die wettige troonopvolger nie, maar het sy neef, Demetrius, met listigheid uitoorlê. Hy het sy mag met bedrog uitgebrei. Benewens verskeie ander oorloë het hy ook in 170 v.C. teen Egipte opgetrek. ‘n Groot veldslag het net oos van die Nyldelta plaasgevind, waar Ptolemeus verslaan is. In 168 v.C. het Antiochus weer ‘n aanslag op Egipte geloods. Egipte is toe deur die Kittiërs gehelp, wat Romeinse onderdane was. Antiochus kon hierdie keer nie die oorwinning behaal nie. Hy het teruggetrek en sy frustrasie en woede op Israel uitgehaal.
In Antiochus se optrede teen Israel het hy die ondersteuning van verskeie Jode gekry wat nie volgens die wet gewandel het nie. Deur hulle het hy ‘n venynige aanslag op die godsdienstige Jode gedoen. Hy het die tempel in Jerusalem ontheilig en ‘n beeld van die afgod Zeus daarin opgerig. Israel is op dié manier gedwing om ‘n Griekse god in plaas van hulle eie God, Jahweh, te aanbid. Diegene wat van die geloof afvallig geraak het, is verder deur Antiochus verlei. Daar was egter ook dié wat tot die dood toe standvastig in hulle geloof in die ware God gebly het.
Die uitdrukking om “loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde” (11:35) is ‘n oorgang van die beskrywing van Antiochus na die beskrywing van die Antichris in die laaste verse. Die geweldige lyding wat Israel tydens Antiochus se regering verduur het, het wél aan die einde van sy bewind tydelik opgehou, maar die loutering, reiniging en suiwering van God se volk het deur die eeue heen voortgeduur. In die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris, sal Israel ongekende beproewings en vervolging verduur.
Antiochus Epifanes se ontheiliging van die tempel deur die oprigting van ‘n gruwelike afgodsbeeld daarin, asook die verpligte aanbidding van die beeld, is ‘n direkte heenwysing na dit wat die eindtydse koning van die Noorde, die Antichris, ook sal doen. Die Here Jesus het in sy profetiese rede spesifiek hierna verwys: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15,16,21). Die Antichris sal die tempel in Jerusalem ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar (2 Thess. 2:4) en ‘n beeld van homself daarin laat oprig (Op. 13:14-15).
Die laaste aantal verse van Daniël 11 het nie op Antiochus Epifanes betrekking nie, maar slegs op die Antichris: “En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word. En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou. Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer. So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van ‘n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel. Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vry raak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg. Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:36-45).
Die Antichris sal homself bo elke god verhoog – selfs ook bokant die God van die hemel, want hy sal op Hom geen ag slaan nie. Hy sal ook die liefling van die vroue verag, wat op Christus dui. Joodse vroue het altyd begeer om die moeder van die beloofde Messias te wees, omdat dit aan hulle baie eer sou bring. Die Antichris sal slegs een god vereer, en dit is die god van vestings. Dit is ‘n beskrywing van Satan, want dit is hy wat sy onderdane leer oom oorloë te voer en vestings in te neem. Die eindtydse koning van die Noorde sal weer met die koning van die Suide (Egipte) in botsing kom. Die moderne Arabiese wêreld sal dus tussen ‘n radikale noordelike deel en ‘n gematigde suidelike deel verdeeld raak. Die noordelike deel sal deur die Antichris uit Sirië of Irak beheer word. Hulle sal deel van ‘n vergrote Europese gemeenskap word, waaroor die Antichris ook beheer sal verkry onderweg na sy einddoel as wêreldheerser wat ook as God aanbid sal word.
Die Antichris sal beheer oor die goud en silwer verkry en dus ook ‘n ekonomiese diktator wees. In Jesaja 10 word hierdie koning van die Noorde die Assiriër genoem. Hy sal sê: “Die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ‘n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ‘n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ‘n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ‘n vlerk verroer of ‘n bek oopgemaak of gepiep het nie (Jes. 10:13-14). Hy sal sy beleid van internasionalisering dus sonder teëstand deurvoer.
Gerugte uit die Ooste sal hom verskrik en hy sal uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. Hierdie gerugte sal waarskynlik met die groot opmars uit die Ooste in verband staan waarvan ons in Openbaring 9:14-19 lees. Dit verwys na lande oos van die Eufraatrivier, waarvan Sjina die belangrikste is. Volgens die Afrikaanse Bybel sal die Antichris sy paleistente, m.a.w. sy militêre beheersentrum, tussen die see en die berg van die heilige Prag opslaan. In die oorspronklike taal word daar egter in die meervoud na seë verwys. Die bedoeling is dat hy homself op die berg Sion in Jerusalem sal ingrawe, wat tussen die Dooie See en die Middellandse See is.
Die Antichris se mag sal sonder die toedoen van mensehande verbreek word. Dit sal op die dag van die ware Christus se wederkoms gebeur, wanneer hy saam met sy mede-regeerder, die valse profeet, gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi sal word (Op. 19:19-20). Paulus sê die Here Jesus sal hom “met die asem van sy mond verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet maak” (2 Thess. 2:8). Geen menslike óf duiwelse mag sal hom op daardie dag kan help nie, want Christus het alle mag in die hemel én op aarde. Die god van die vestings, Satan, sal niks aan die skielike beëindiging van die Antichris se bewind kan doen nie, want hy sal ook gevang en vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind word (Op. 20:1-3).