Daniël 6. Daniël in die Leeukuil

Kores, die koning van die groot Medo-Persiese ryk, het die Meder, Darius, as koning van Babilon aangestel. Een van sy eerste pligte was om die oorwonne koninkryk van Babilon te reorganiseer. Hy het 120 goewerneurs-generaal in sy koninkryk aangestel, en oor hulle drie ministers, waarvan Daniël een was. Hy was toe minstens 83 jaar oud. Darius was ‘n baie goeie organiseerder, want hy het op meriete die beste persone aangestel wat bekwaam was om die land te bestuur. Daniël was vanweë sy buitengewone begaafdheid ‘n sekere keuse as minister, en die koning wou hom selfs oor die hele land aanstel.

Daniël leer hier aan ons ‘n baie belangrike les oor ‘n Christen se optrede in die werksituasie. Al staan jy in ‘n sekulêre beroep wat min met die werk van die Here te doen het, moet jy altyd onberispelik optree en alles doen asof vir die Here (Kol. 3:17). Selfs al werk jy vir ‘n goddelose organisasie, moet jy jouself as ‘n persoon van hoë integriteit onderskei, ‘n reguit pad loop en geen aandeel in korrupte praktyke hê nie.

Die goewerneurs was jaloers op Daniël se sukses en sy hoë posisie, en het alles probeer om hom by die koning in onguns te bring: “Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om ‘n grond vir ‘n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ‘n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie. Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ‘n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” (Dan. 6:5-6).

Waarskynlik het Daniël se bidgewoontes, beginselvastheid en voorbeeldige lewe hierdie kollegas van hom nie aangestaan nie, omdat hulle sleg by hom afgesteek het. Vind ons dit nie vandag ook dat mense dikwels nydig teenoor nougesette Christene is wat nie saam met hulle wil drink, na vuil grappe luister of aan oneerlike dinge meedoen nie? Wêreldlinge lok gewoonlik sulke Christene uit om verkeerde dinge te doen, sodat hulle redes vir aanklagte teen hulle kan kry. Christene wat getuig, word ter wille van Christus gehaat. Dit behoort ons nie te ontmoedig nie, maar eerder te inspireer om vas te staan vir ons geloof.

Daniël het die toets geslaag, want sy kwaadwillige onderdane kon geen gronde vir enige klag teen hom vind nie. Dit is seker die beste getuigskrif wat enige mens kan kry – dat jou vyande geen fout met jou kan vind nie. In hierdie opsig is Daniël ook ‘n tipe van Christus, met wie die Fariseërs gedurig fout probeer vind en uiteindelik totaal onskuldig gestraf het.

Komplot teen Daniël se gebedslewe

“Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning ‘n verordening moet uitvaardig en ‘n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae ‘n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word. Stel nou ‘n verbod vas, o koning, en laat ‘n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is. Hierom het koning Darius die bevelskrif en die verbod geskrywe. En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het. Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek. Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod gespreek: Het u nie ‘n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae ‘n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse. Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op ‘n dag doen hy sy gebed” (Dan 6:8-14).

Daniël het die wette van die land getrou nagekom sover as wat dit nie met die eise van sy godsdiens in botsing gekom het nie. Sy vyande kom toe en loods ‘n aanval op hom wat die hart van sy verhouding met die Here raak. Toe Daniël van die dekreet gehoor het wat uitgevaardig is, was daar oënskynlik nie eers konflik in sy hart oor wat hy moes doen nie. Hy het direk na sy bokamer gegaan en, soos gewoonlik, voortgegaan om God te aanbid. Wat leer ons uit Daniël se gebedslewe?

1.    Gebed was vir hom uiters belangrik – soveel so dat hy sy lewe daarvoor op die spel geplaas het. Gebed was sy verbindingslyn met God, en hy sou dit deur niks in die gevaar laat stel nie.

2.    Hy het ‘n vasgestelde plek en tyd vir gebed gehad. Hy het die gewoonte gehad om drie maal per dag in die bokamer te gaan bid. Hierdeur word eintlik net gesê dat Daniël gereeld gebid het. In die Nuwe Testament het die Here Jesus na die aarde toe gekom om God nader aan ons te bring, en Hy het die Heilige Gees gestuur om gedurig in ons harte te woon. Ons het ook die opdrag om sonder ophou te bid (1 Thess. 5:17). Ons kan dit doen omdat die teenwoordigheid van Jesus Christus in ons harte ‘n werklikheid is. Ons kan dwarsdeur die dag met Hom in verbinding wees oor alles wat ons besig is om te doen en waaroor ons besluite moet neem. Dit beteken egter nie dat ons nie spesifieke tye van stilte en afsondering met die Here moet hê nie. Ons moet by sekere geleenthede die wêreld en sy gedagtes afsluit om alleen met die Here in gesprek te wees. Dit sal bepaal of ons ook vir die res van die dag voortdurend met die Here Jesus in verbinding sal bly.

3.    Hy het ‘n bepaalde doel met sy gebede gehad. Ons lees dat sy venster altyd in die rigting van Jerusalem oop was. Dit was nie net ‘n gewoontehandeling nie, maar dui daarop dat hy in sy gebede aan die verlore toestand van sy volk en die verlatenheid van hulle stad en sy heiligdomme gedink het. Die naam Jerusalem beteken Stad van vrede (of heil), maar groot onheil het hierdie stad en sy inwoners getref. Daniël het vir die redding van Israel en hulle terugkeer na Jerusalem gebid. Die belangrikste onderwerp van u en my gebede behoort ook die redding van mense te wees. Dit is in elk geval die groot taak wat die Here voor sy hemelvaart aan ons opgedra het. Ons sal nooit hierdie opdrag kan uitvoer as ons nie gereeld en in die besonder vir die redding van siele en die koms van die Here se koninkryk bid nie.

4.    Daniël het die regte gebedshouding van nederigheid en selfverloëning gehad. Die feit dat hy gekniel het, is belangrik omdat dit op die innerlike ingesteldheid van sy hart gedui het. Voorbeelde hiervan vind ons in 1 Kon. 8:54; Esra 9:5; Luk. 22:41; Hand. 7:60 en Hand. 9:40. Om te kniel is ‘n goeie houding om in te neem. Ons moet dit egter nie net uit gewoonte doen nie, maar om aan te toon dat ons nietige mense is wat diep van die Here afhanklik is. Ons verootmoedig onsself wanneer ons tot die genadetroon van die grote en goeie God nader wat lankmoedig en groot van barmhartigheid is.

Daniël was in vele opsigte ‘n suksesvolle mens, en die geheim vir sy sukses was niks anders as gereelde kontak met sy hemelse Vader nie.

Daniël word veroordeel en verlos

Toe koning Darius van Daniël se voortgesette gebede gehoor het wat strydig met sy dekreet was, was hy diep bedroef en het planne beraam om Daniël te verlos. Hy kon egter niks aan die saak doen nie, omdat die wette van die Meders en Perse onherroeplik was. Hy was teësinnig verplig om hierby te berus:

“Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos! En ‘n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie. Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die byvroue nie voor hom laat kom nie, en sy slaap het van hom weggevlug. Daarop het die koning die môre vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. En toe hy nader kom na die kuil, het hy met ‘n droewige stem na Daniël geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos? Toe het Daniël met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe! My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie. Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar ‘n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het. En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangekla het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel. Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees! Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe. Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het” (Dan. 6:17-28).

Darius was ‘n besondere persoon wat heel anders as sy senior amptenare opgetree het. Wat was die rede hiervoor en waarom was hy so bekommerd oor wat met Daniël in die leeukuil sou gebeur? Hy het baie van Daniël as persoon gedink, groot agting vir sy vermoëns as minister gehad en wou hom graag in sy diens behou. Uit vers 19-20 lei ons af dat hy groot verwagtings van die God van Daniël gekoester het, daarom het hy die nag in afsondering met vas en in angsvolle verwagting deurgebring, en vroeg in die oggend gaan kyk wat met Daniël gebeur het. Ná die verlossing van Daniël het hy nie net op hierdie geliefde man se vervolgers wraak geneem nie, maar volgens vers 26-28 vereis dat al die volke moet bewe en sidder voor die God van Daniël weens sy groot en magtige verlossingsdade.

Of hierdie respek vir God, wat hy ook op ander mense afgedwing het, genoeg was om sy siel te red, is te betwyfel. Die lewensbelangrike element van persoonlike betrokkenheid by God en ‘n oorgawe aan Hom, word nie by Darius opgemerk nie. Tóg is dit in hierdie geval veelseggend dat God sy mag en heerskappy in só ‘n mate bekend laat word het dat ‘n heidense koning dit selfs erken en daarvan getuig het. Dieselfde reël geld vir ons, want ons kan nie net lippediens aan die Here bewys en Hom net met ons mond bely nie – ons moet ‘n oorgawe aan Hom maak sodat Hy ons sonde kan vergewe en ons hart en lewe grondig verander. Ons moet ons vertroue vir die behoeftes van elke dag net in Hom stel, en Hom ons lewe lank gehoorsaam, volg en dien.

Ons het reeds daarop gewys dat Daniël vir ons ‘n skaduwee is van dit wat Jesus op aarde kom doen het. Hy was onskuldig en niemand kon ‘n geldige klag teen Hom inbring nie, maar tóg is Hy veroordeel en gekruisig. Dit het Hy gedoen sodat ons wat vandag skuldig is en die verdoemenis verdien, vrygespreek kan word en die ewige lewe kan beërf. In sy boek, God se man by halte Babilon, stel ds. Freek Swanepoel dit só: “Die diepte van sy lyding is dat Jesus deur God verlaat is, maar hierin lê juis ‘n wonderlike boodskap. Omdat Jesus van God verlate was, kon Daniël lank tevore tussen die leeus van God se teenwoordigheid bewus wees. Die vrug van Christus se lyding is dat sy kinders nooit alleen is nie, ook nie in die grootste nood en lyding nie... Hy wil jou help om in die lyding vir Hom te oorwin.”

Die lot van God se vyande

Die sondige goewerneurs in Babilon het in werklikheid vir God aangeval toe hulle sy getroue getuie, Daniël, vervolg en sy ondergang gesoek het. Hulle is summier deur die koning gevange geneem en vir die leeus gevoer. ‘n Soortgelyke situasie sal ontstaan wanneer Christus tydens sy wederkoms met sy vyande, wat onder die leiding van die Antichris en die valse profeet teen Hom sal probeer veg, in die gerig sal tree:

“En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:17-21).

Paulus sê in Hebreërs 6 dat daar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed is wat die teëstanders sal verteer. Hy sê dat God se vyande ná die koms van Christus ‘n swaarder straf sal kry as die mense in Ou Testamentiese tye, wat nie so baie lig oor God liefde, genade, en toorn oor sonde gehad het nie:

“As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here... Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:28-31).

Die wederkoms van Jesus Christus is baie naby. Ons moet die vyande van Israel én van God met onvermoeide ywer waarsku om hulle van hul verkeerde weë te bekeer, anders sal hulle in die oordele van God verdelg word. Ook moet ons, soos Daniël, vir Jerusalem bid: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” (Ps. 122:6).

As ons vir die volle herstel van Jerusalem bid, dan bid ons terselfdertyd vir die wederkoms van Israel se Messias, Jesus Christus, wat ook ons Verlosser is. Eers wanneer Hy na Jerusalem terugkeer (Sag. 14:4-5), sal die troon van Dawid in dié stad herstel word (Hand. 15:16-17). Dan sal die tye van die nasies permanent verby wees en God se koninkryk op aarde geopenbaar word met Jerusalem as hoofstad en Jesus op die troon van Dawid.

Al het dit in Daniël se tyd ook hoe onwaarskynlik gelyk dat Jerusalem herstel en herbou sou word, het Daniël op grond van die beloftes in God se Woord met volle geloofsvertroue hiervoor gebid (Jer. 25:11-12; 29:10; Dan. 9:2). Ons het nog meer beloftes oor Israel se eindtydse herstel na hulle land, en is verder bevoorreg om in ‘n tyd te leef wanneer hierdie beloftes toenemend vervul word. Bid vir die geestelike ontwaking van Israel en ook vir die koms van die Messias, sodat die heidense koninkryke verdelg kan word en Christene onder Israel én die nasies tye van verkwikking voor die aangesig van die Here kan hê wanneer sy koninkryk geopenbaar is.