Daniël 8. Die Antichris in die Griekse Ryk

Twee jaar nadat Daniël die visioen van die vier diere gehad het wat in Hoofstuk 7 beskryf is, het hy weer ‘n visioen gehad. Die saak wat eerste opval, is dat Daniël van hierdie hoofstuk af weer in Hebreeus skryf, die taal van die Israeliete, in teenstelling met die wêreldtaal, Aramees, wat van hoofstuk 2 tot 7 gebruik is. Daniël skryf dus van nou af meer spesifiek vir sy eie volksgenote. In die vorige hoofstukke het dit om die regeerders van die aarde en die uiteindelike regering van die Antichris gegaan, terwyl ons van hierdie hoofstuk af veral met die lotgevalle van Israel te doen het, te midde van die magstryd wat in die wêreld aan die gang is.

In die visioen sien Daniël homself in die paleis van die koninklike vestingstad Susan, meer as 300 kilometer oos van Babilon in Persië, teenaan die Ulairivier wat in die Tigris inloop. Dit was een van die koninklike stede van Persië. Die rede hiervoor is omdat die visioen oor die toekomstige regering van die Meders en Perse handel. ‘n Eeu later het die Persiese koning, Artasásta, ‘n groot paleis hier gebou. Dit is waar die gebeure wat in die boek Ester beskryf is, afgespeel het (vgl. Ester 1:2).

Die skaap- en bokram

Daniël skryf: “En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan ‘n ram voor die rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom. Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword. Terwyl ek daarop ag gee, kom daar ‘n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het ‘n aansienlike horing tussen sy oë gehad. En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop. En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie. En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel” (Dan. 8:3-8).

Die verklaring van die ram en die bok wat Daniël in sy visioen gesien het, word ook aan hom verskaf: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het – vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie” (Dan. 8:20-22).

Die ram stel dus die Medo-Persiese ryk voor. Hy het twee horings gehad, waarvan die hoogste een laaste uitgekom het. Medië was reeds in die tyd van die Babiloniese ryk ‘n groot mag, want hulle het Babilonië in 612 v.C. gehelp om Sirië te onderwerp. Persië was in daardie stadium ‘n kleiner land in die suide. Nadat Kores egter in Persië aan bewind gekom het, het hy ook beheer oor Medië verkry en die grootste mag in die Medo-Persiese ryk geword.

Hierna het die ram sy horings na die weste gestoot toe Darius en Kores vir Babilon, Mesopotamië, Sirië en Klein Asië verower het. In die noorde is Armenië en die volke langs die Kaspiese See verower. In die suide is Judéa, Egipte, Libië en Ethiopië tot die lys van hierdie ryk se veroweringstogte toegevoeg. Die profesieë oor die Medo-Persiese ryk is met verbasende akkuraatheid vervul, daarom moet ons ook die letterlike vervulling van alle eindtydse profesieë verwag wat nog onvervuld is.

In vers 5 sien Daniël ‘n bokram wat met ‘n groot spoed uit die weste aankom. Die koning van Griekeland, Alexander die Grote, is die een aansienlike horing wat hy tussen sy oë gehad het. Die geskiedenis leer ons dat Alexander se aanvalsmag kleiner as dié van die Perse was, maar hulle was baie beweeglik en hoogs doeltreffend. Hulle het die magte van Darius, die Pers, in drie veldslae verslaan.

Daniël sê dat toe die bok sterk was, die groot horing afgebreek het (Dan. 8:8). Alexander die Grote het nie eers ná sy groot oorwinnings oor Medo-Persië teruggekeer huis toe nie, en is op 32-jarige ouderdom in die omgewing van Babilon aan malaria dood, asook komplikasies as gevolg van alkoholisme. Sy ryk is tussen vier van sy generaals verdeel: Cessander het oor Griekeland en Macedonië regeer, Lysimachus  het Tracië en Bitinië gekry, Ptolemeus is oor Egipte aangestel en Seleusus het beheer oor Sirië gekry.

Die klein horinkie teen die Pragtige Land

Uit een van die vier horings van die bok het daar ‘n klein horinkie opgekom wat tot groot onheil vir Israel was. Daniël sê:

“En uit een van dié het ‘n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap. Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is. En ‘n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad. Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur – van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid – sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word? En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word” (Dan. 8:9-14).

Uit een van die vier magsgebiede van die Grieke kom ‘n koning te voorskyn wat die volk van God op ‘n wreedaardige wyse sou teister. Vandag is dit ‘n bekende feit dat slegs Antiochus Epifanes aan al die beskrywings voldoen wat hier gegee word. Hy was die agtste heerser in die magsgebied van Seleusus, en het inderdaad klein begin omdat hy nie die wettige troonopvolger was nie, maar die mag op ‘n slinkse wyse ingepalm het deur sy broer te vermoor en in 175 v.C. in sy plek op te volg. Daarna het hy baie sterk geword en in ‘n reeks veroweringstogte sy magsgebied uitgebrei. Wat veral hier van belang is, is sy magsuitbreiding in die Pragtige Land, naamlik Israel. Dit sluit ook by Daniël 11:16 en 46 aan.

Israel het in die pad gelê van Antiochus se militêre veldtogte teen Egipte, en is in die proses dikwels aangeval en baie van die inwoners om die lewe gebring. Die leër van die hemel teen wie Antiochus geveg het, dui op Israel. Die Here het vir Abraham gesê dat sy nageslag soos die sterre van die hemel sal wees (Gen. 15:5; 22:17). Hy het ook teen die vors van dié leër geveg, naamlik God, deurdat hy die offers aan Hom verbied het. Epifanes beteken Skitterend en dui op Antiochus se hoogmoed en begeerte om self as God aanbid te word.

Antiochus het in ‘n tydperk van bykans sewe jaar groot verwoestingswerk in Israel gedoen. Hy het die tempel in Jerusalem verontreinig deur varke daar te offer en het ook die Jode gedwing om varkvleis te eet en onrein offers te bring. Verpligte afgodediens is ingevoer en mense is gedwing om alle kopieë van die Wet van die Here (die Torah) op te skeur of te verbrand. Hy het die besnydenis verbied en ouers laat teregstel wat hulle kinders besny het. Baie van hulle is van die stadsmure afgegooi. Hy het die tempel geplunder en die goue en silwer voorwerpe buitgemaak. Hy het ook die stad gedeeltelik verwoes, baie mense doodgemaak en sommige in gevangenskap weggevoer. In die plattelandse gebiede het hy mense se vee geroof.

Die 2300 aande en môres waarin die tempel ontheilig sou wees, is letterlik gedurende die bewind van Antiochus Epifanes vervul. Dit is ‘n tydperk van ‘n bietjie meer as ses jaar. Hierdie tydperk was waarskynlik tussen Antiochus se eerste inval in Jerusalem in  in 170 v.C. en die herstel van die tempel deur Johannes Makkabeër op 25 Desember 164 v.C. Hierdie profesie is dus letterlik vervul.

Reaksie van Daniël

“En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos ‘n man gelyk het. En ek het ‘n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan! Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde. En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde” (Dan. 8:15-19).

Die reaksie van Daniël terwyl die engel nader gestaan het om die visioen aan hom uit te lê, is nog hewiger as wat ons aan die einde van Hoofstuk 7 gesien het. Die rede hiervoor is omdat die gesig van ‘n strafgerig oor sy eie volk gaan, en ook oor die ontheiliging van die tempel en van God se Naam. God is heilig en geen sweem van kwaad, ongeloof en ongehoorsaamheid kan voor Hom verskyn nie. Jesus Christus het wel volkome die prys aan die kruis betaal sodat ons sonder smet voor God kan verskyn, maar alte dikwels vergeet mense dat die toegang tot hierdie wonderbare vergifnis langs die weg van ‘n hartgrondige skuldbelydenis en verootmoediging voor die heilige God kom. Daar is vandag te veel kerkmense wat hulleself Christene noem, maar wat geen begrip het van wat dit beteken om by die kruis van die Here Jesus van jou sondelas verlos te word, en aan die oue mens van sonde te sterf nie (Heb. 4:12-13; Rom. 6:6).

Eindtydse toepassing

Die engel Gabriël het duidelik aan Daniël gesê dat die gesig ook ‘n eindtydse toepassing het: “...die gesig sien op die tyd van die einde... Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde” (Dan. 8:17,19). In die lig van hierdie duidelike uitspraak moet ons nie die fout maak om die profesieë in Daniël 8 net tot die Medo-Persiese en Griekse ryke van die Ou Testament te beperk nie, want dit dui beslis ook op die tyd van die einde.

Gabriël toon hierdeur aan Daniël wat aan die einde van die strafgerigte met Israel sal gebeur. Dr. Renald Showers het ‘n studie van die woord “strafgerig” gemaak waar dit in die Bybel in verband met Israel gebruik word, en tot die slotsom gekom dat dit op die ganse tydperk van wêreldse regering dui, soos in Daniël 2 en 7 uitgebeeld, waartydens Israel deur verskeie volke onderdruk word. Dit is van die Babiloniese ballingskap af tot met die wederkoms van die Messias. Ons weet in elk geval dat die einde van die strafgerigte oor Israel sal aanbreek wanneer die volk by die wederkoms, soos in Sagaria 12:10 en 13:8-9 beskryf, deur die smeltkroes geneem is en Jesus as hulle Messias en Here aangeneem het.

Die toorn van God oor Israel én die nasies se sonde sal op die bewind van die Antichris en God se oordele gedurende daardie tyd uitloop. In die lig hiervan moet ons weer na die geskiedenis van Antiochus Epifanes gaan kyk, want hy word as die groot tipe of voorloper van die Antichris voorgehou. Ons weet egter dat die bewind van die Antichris in intensiteit baie erger as dié van Antiochus sal wees, “want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21).

Die tipologie van Antiochus as ‘n voorloper van die eindtydse Antichris word baie duidelik aan die einde van hierdie hoofstuk gestel: “Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal ‘n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan. En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges. En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word” (Dan. 8:23-25).

Uit die een horing van die bok, wat die Siriese provinsie van die verdeelde Griekse ryk is, het ‘n klein horinkie opgekom wat ‘n eerste vervulling in Antiochus Epifanes gehad het, maar sy finale vervulling in die Antichris sal hê. Vers 23 stel die saak bo enige twyfel: “Aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal ‘n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.” Die heidense nasies se heerskappy moet eers tot ‘n einde kom. In die beslissende  laaste fase sal hulle die maat van hulle goddeloosheid teenoor die Here én sy volk Israel, asook Nuwe Testamentiese gelowiges, vol maak. In daardie tyd sal daar ‘n koning optree wat hard en ongenaakbaar teenoor al sy teëstanders is. Dit sal die Antichris wees.

Verskeie van sy eienskappe word in vers 23 tot 25 genoem. Hy sal groot mag verkry deur ander volke te onderwerp. Hy sal slim en oorredend wees en aan mense ‘n valse vrede bied. Hy sal deur ‘n ander mag beheer word, want hy sal sterk word, maar nie deur sy eie krag nie. Volgens Openbaring 13:2 sal Satan aan hom sy krag gee en sy troon en groot mag. Omdat Satan die owerste van hierdie verdorwe wêreld is (Joh. 14:30), is ons geestelike worstelstryd teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu (Ef. 6:12). In ‘n stadium sal Satan sy groot mag as wêreldheerser aan die Antichris oordra. Een van sy spesiale teikens sal die volk Israel wees, omdat hy weet dat die Here Jesus ‘n oorblyfsel in Israel tydens sy wederkoms sal red en dan die wêreld uit Jerusalem sal regeer.

Die Antichris sal ook teen die Vors van die vorste optree, wat Jesus Christus as die Koning van die konings is. Dit sal die grootste fout wees wat hy ooit kon begaan, want hy sal sonder die toedoen van mensehande verbreek word. Die geleentheid wanneer hy teen die Vors van die vorste sal optree, sal by die slag van Armageddon tydens Christus se wederkoms wees. Johannes sê: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit en teen sy leër” (Op. 19:19).

Die goddelose wêreldkoninkryke wat sedert die Babiloniese ballingskap van Israel beheer oor die nasies uitgevoer en hulle stempel op wêreldgebeure afgedruk het, sal in die tyd van die einde ‘n baie groot aanslag teen Christus en sy koninkryk loods. Hulle sal probeer voorkom dat God sy koninkryk ten koste van hulle sigbaar op aarde openbaar, met Israel as die leidende nasie in die wêreld. Wanneer die laaste jaarweek van Israel se heilsgeskiedenis voor die koms van die Messias sy einde nader, sal demone uitgestuur word om alle regeringsleiers op te sweep om hulle magte na Israel te stuur om teen die komende Messias te veg. Johannes sê:

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Op. 16:13-16).

In hierdie groot eindstryd sal die Antichris en die valse profeet lewendig in die poel van vuur gegooi en die wêreldse magte wat saam met hulle na Jerusalem opgetrek het, deur Christus verdelg word. Dan sal die tye van die nasies verby wees en die geredde Israel, asook die kerk van Christus, vir altyd saam met Hom regeer. In Jeremia 30:11 sê die Here vir Israel: “Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het, maar aan jou sal Ek geen einde maak nie.”

‘n Verdere afleiding wat ons uit Daniël 8 se profesieë moet maak, is dat die klein horinkie wat uit die Siriese provinsie van die Griekse ryk opkom, waaraan sowel Antiochus Epifanes as die Antichris se optrede gekoppel word, ‘n duidelike boodskap bevat dat die eindtydse koning wat beheer oor die goddelose nasies sal verkry, binne die raamwerk van die Griekse wêreldryk geopenbaar sal word en tot ‘n magsposisie uitstyg. In Daniël 11 word dieselfde diktator “die koning van die noorde” genoem, wat spesifiek na die Siriese provinsie se leier verwys.

Die fout moet dus nie gemaak word om te beweer dat die Antichris uit Wes-Europa sal kom, bv. uit Italië, Engeland of Frankryk nie. Die Griekse ryk het nie hierdie lande beheer nie. Die Antichris sal in die Midde-Ooste opstaan uit ‘n land wat deel van die ou Siriese provinsie was, met ander woorde uit die huidige Sirië of Irak. Die feit dat die Antichris in Daniël 7 as komende uit een van die tien provinsies van die Romeinse ryk voorgestel word, verplig ons om na die Siriese provinsie van die Romeinse ryk as die oorsprong van hierdie diktator te kyk, omdat dit met dieselfde provinsie in die Griekse ryk ooreenstem.

Hierdie dramatiese openbarings het ‘n groot impak op Daniël gehad. Hy sê: “En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie” (Dan. 8:27). Hy was totaal oorweldig en uitgeput deur hierdie openbaring, en kon verskeie dae lank nie met sy werk voortgaan nie. Hoe tree jy en ek op in die lig van die feit dat daar ‘n groot verdrukking kom soos wat daar nog nooit op aarde was nie en ook nooit daarna sal wees nie? (Matt. 24:21). Genadetyd is besig om uit te loop, en aanstons sal die Here, soos in die tyd van Noag en Lot, die ware gelowiges na ‘n veilige plek in die hemel neem voordat die toorn van God oor die sondaars uitgestort word (Luk. 21:36).