Program 102. Die Wederkoms en Vrederyk

Tydens die slag van Armageddon, op die laaste dag van die groot verdrukking, sal Jesus Christus op ‘n wit perd op aarde verskyn, gevolg deur ‘n hemelse leër en al sy heiliges, en tot die stryd teen sy vyande toetree: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer” (Op. 19:11-15).

Die wederkoms van Jesus wat in Openbaring 19 beskryf word, sal soos die weerlig van oral af gesien kan word, maar fisies kom Hy na Jerusalem terug, na dieselfde plek op die Olyfberg van waar Hy na die hemel opgevaar het. “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Die Here Jesus kom dus saam met sy heiliges wat voor die verdrukking reeds weggeraap en met Hom verenig is. Paulus het aan die gemeente gesê: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).

Versoening met Israel

By hierdie geleentheid, wanneer die Olyfberg sal oopskeur en geweldige aardbewings oor die hele wêreld voorkom, sal daar ‘n baie dramatiese versoening tussen Jesus en die oorblyfsel van Israel plaasvind. Tydens die monstering van antichristelike magte in en om Jerusalem, asook in ander dele van Israel en die Midde-Ooste, sal die Jode wat in die woestyn ontvlug het, ten spyte van die groot gevaar wat dit vir hulle sal inhou, na die Olyfberg optrek om die koms van die Messias te aanskou. Hulle sal volgens die profesieë in Daniël 12 weet dat daar 3½ jaar sal verloop sedert die dag dat die valse messias hom in die tempel tot God verklaar het, totdat die ware Messias sy verskyning sal maak. Daniël 12:11 sê: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop.” Net voordat die Groot Versoendag van die einde van dié tyd aanbreek, sal hulle ongewapend maar in vaste vertroue in die koms van die Messias na die Olyfberg optrek. Tydens die benoudheid van die groot oorlog van Armageddon sal hulle na Jerusalem gaan. In ‘n stadium sal hulle uitwissing in die gesig staar en dink dat hulle hoop verlore is, dat dit klaar is met hulle. Dan sal die Messias egter kom, die Olyfberg sal middeldeur split en die duisternis van God se oordele oor die vyande van Christus en van Israel toesak. Die optrekkende Jode sal hulle toevlug in die rotsskeure van die Olyfberg neem om die agtervolgende leërs van die Antichris te ontkom.

Die Jode sal baie verbaas wees om op dié dag te sien dat hulle Messias, soos deur Sagaria beskryf, merke in sy hande het. Wanneer hulle die spykermerke in Jesus se hande sien, sal hulle vra: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy antwoord: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6). Dit sal ‘n hartroerende oomblik wees wanneer Israel onder die oortuiging van die Heilige Gees groot berou oor hulle sondes sal hê, en veral oor die feit dat hulle vaders die ware Messias tydens sy eerste koms vals beskuldig en verwerp het. Die Here sê: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10). Jesus sal die gelouterde, voortvlugtende en treurende oorblyfsel van sy volk aanneem en troos deur te sê: “Dit is my volk!” Hulle sal in antwoord hierop uitroep: “Die Here, my God!” (Sag. 13:9). Jesaja sê: “Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here” (Jes. 59:20). Paulus sê: “…en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26).

Die gerig met die nasies

Die Here sal sy vyande tref met die swaard wat uit sy mond uitgaan. Hy sal net ‘n woord spreek wat tot hulle ondergang sal lei. In die donkerte sal hulle nie die Israeliete verder kan agtervolg nie en ook nie enige poging kan aanwend om Christus en sý leërs aan te val nie. In plaas daarvan sal hulle mekaar begin doodmaak: “Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem… En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:2-4,12-13).

Die wyse waarop die nasies versamel sal word, sal wees deur bose geeste los te laat wat hulle in die verhardheid van hulle bose harte verder sal verlei om op te trek na die Midde-Ooste en teen Christus en sy hemelse leër, asook teen Israel, oorlog te voer. Johannes sê hierdie onreine geeste is “geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Op. 16:14-16).

Verdelging van die Antichris en die valse profeet

Die Antichris en valse profeet se laaste groot teiken sal Christus self en sy hemelse leërmag op die dag van sy wederkoms wees. Hy sal besef dat Jesus se koms die einde van sy koninkryk sal beteken, daarom sal hy alles in die stryd werp om teen die ware Messias te veg. Dit sal ‘n totaal nuttelose poging wees, omdat Jesus die Koning van die konings is, wat alle mag in die hemel én op aarde het. Daniël sê hierdie magtige koning wat ‘n skrikbewind op aarde gevoer het, “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Johannes sê: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Die binding van Satan

Nadat die vyande van God oorwin is en die Antichris saam met die valse profeet en hulle volgelinge geoordeel is, sal die duiwel in ‘n plek van bewaring opgesluit word: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word” (Op. 20:1-3).

Die beskrywing van die binding van die duiwel vorm ‘n eenheid met die gebeure in Openbaring 19, en is dus een van die gevolge van die wederkoms van Jesus. Dit vind net ná die finale oordeel oor die Antichris en die valse profeet plaas, en is nie ‘n gebeurtenis wat van hierdie konteks af losgemaak, duisende jare teruggeskuif en op die bedeling van die kerk van toepassing gemaak kan word nie. Aan die kruis is die oorwinning oor die duiwel wél in beginsel behaal, en ons kan dit ook in die geloof aanneem en ‘n oorwinnende lewe lei.

Dit beteken egter nie dat die Satan op Gólgota vernietig of van die stryd uitgeskakel en iewers ingekerker is nie. Inteendeel, hy het ‘n magsposisie in die wêreld (1 Joh. 5:19) en hy loop soos ‘n brullende leeu rond en kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Hierdie waarskuwing word aan Christene gerig, sodat hulle waaksaam en nugter kan bly en hulleself met die geestelike wapenrusting van God beklee. Ons kán in die oorwinning van Gólgota leef, maar dit sal nie sonder hewige stryd en aanslae deur die sielevyand gebeur nie.

Die vrede van die Here wat ons as verlostes ervaar, beteken nie dat ons reeds in die duisendjarige vrederyk is nie. Die huidige stryd teen die duiwel en sy bose magte is nie te versoen met ‘n toestand waarin hy gebind is en dit bo hom verseël is sodat hy nie die nasies kan verlei nie. Ons is nog nie in só ‘n situasie van vrede nie, maar in ‘n stryd wat reeds deur die hele Nuwe Testamentiese bedeling voortduur en in die komende verdrukking ongekende afmetings sal aanneem (Matt. 10:34). Satan self sal die nasies aanhits om tot militêre geweld oor te gaan, na die Midde-Ooste op te trek, Israel te probeer uitwis en selfs teen die Here en sy leërs te veg.

Dit is eers met die wederkoms dat die magspel van die sataniese driemanskap vernietig, twee van hulle in die vuurpoel gewerp en die draak in ‘n verseëlde plek aan kettings van duisternis oorgegee sal word om vir die eindoordeel in bewaring gehou te word (vgl. 2 Pet. 2:4). Hier moet hy ‘n duisend jaar lank bly.

Die troon van heerlikheid

Mattheus verwys na die oordeel oor die nasies wanneer Christus ná sy wederkoms op sy troon van heerlikheid sal sit: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Matt. 25:31-32). Lede van die nasies sal individueel voor die troon van die Here verskyn en aanvaar of verwerp word op grond van die verhouding wat hulle met die “broers” van Christus gehad het, naamlik Israel. Hulle werke sal hulle nie red nie, maar die feit dat hulle ‘n helpende hand na die voortvlugtende en vervolgde Israeli’s uitgesteek het, sal ‘n bewys van hulle redding wees. Diegene wat Israel saam met die Antichris vervolg en ondermyn het, sal verwerp word.

Die Bruilofsmaal van die Lam

Ná die wederkoms sal die bruilofsmaal van die Lam op die aarde plaasvind. Johannes sê: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Op. 19:7-9).

Regeer met Christus

Met die wederkoms sal die bruid in die oomblik van Christus se grootste triomf deel wanneer Hy as Koning van die konings na hierdie aarde terugkeer, die mag van die vyand verbreek en ‘n regering van geregtigheid tot stand bring waarin sy diensknegte saam met Hom sal regeer. Die bruilofsmaal sal ‘n luisterryke geleentheid wees wat deur baie genooide gaste bygewoon sal word, onder andere die bekeerde oorblyfsel van die volk Israel wat kort tevore die Here Jesus as Messias aanvaar het. Hulle blydskap en vreugde in die Here sal volkome wees.

Hierna sal Jesus, die Messias-Koning, die troon van Dawid herstel en die lank verwagte Messiasryk vestig, waarna tereg as die duisendjarige vrederyk verwys word. Sy getroue diensknegte sal saam met Hom as konings regeer. Aan diegene wat as getuies en gestuurdes van Christus in hierdie bedeling getrou bevind is, sal Hy sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17). Aan ‘n ander een wat minder produktief vir sy Heer gearbei het, sal Hy sê: “En jy moet wees oor vyf stede” (Luk. 19:19). Ons het nóú die geleentheid om onsself aan die Here toe te wy en vir Hom te werk. By die wederkoms sal Hy ons hiervoor beloon deur genadeloon aan ons toe te ken, en in sy vrederyk sal ons saam met Hom regeer.

Kenmerke van die vrederyk

Die volgende is die belangrikste kenmerke van die toekomstige vrederyk op aarde:

·         God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer. ‘n Teokratiese wêreldregering sal dus gevestig word (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16).

·         Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8:22; Jes. 2:2-3; 24:23). Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6).

·         Daar sal vrede wees. Nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4; Miga 5:4).

·         Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4).

·         Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6, 27:6, 40:9). Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en die Here sal geëer word (Jes. 28:5).

·         Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14).

·         Daar sal nie siekte wees nie: “Geen inwoner sal sê: ek is siek nie” (Jes. 33:24).

·         Mense sal hoë ouderdomme bereik. ‘n Man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23).

·         Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal gedeeltelik herstel word. Die hele skepping wag met reikhalsende verwagting op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20).

·         Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek. Wanneer dit planttyd is, sal die vorige oes nog nie eers klaar ingesamel wees nie (Jes. 55:13; Amos 9:13-14; Joël 3:18).

·         Daar sal ‘n ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskap wees wat in die behoeftes van die Koning se onderdane sal voorsien (Jes. 65:21-23).

·         Harmonie sal in die diereryk heers. Die leeu sal by die lam lê en gras vreet soos ‘n os, omdat die Here ‘n nuwe verbond met die diere sal sluit (Jes.11:6-9, 65:25; Hos. 2:17).

Die eindoordeel

"En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid" (Op. 20:7-10).

Die tweede opstanding sal plaasvind, en almal wat sonder Christus geleef en gesterf het sal tot die ewige verdoemenis veroordeel word. Die smal en die breë weg sal dan elkeen sy finale bestemming bereik – die een in die nuwe Jerusalem met sy pêrelpoorte en goue strate, en die ander een in die poel van vuur: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15).

'n Nuwe skepping

Tydens die eindoordeel word die aarde verbrand, die hemel wyk weg soos 'n boek wat toegerol word, en 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde word geskape. Die nuwe Jerusalem, daardie wonderstad wat die Here Jesus gaan berei het vir dié wat Hom liefhet, daal dan uit die hemel neer en rus op die nuwe aarde. Die stad en sy strate is van suiwer, deurskynende goud gebou. Die fondamente van die muur is met kosbare edelgesteentes versier wat wissel van kristalhelder stene tot dieprooi sardius, groen chrisoliet en vonkelende blou saffier. In die hoë mure rondom die stad is daar twaalf poorte, en elke poort bestaan uit 'n pêrel. Die idee van 'n traan word deur 'n pêrel vertolk, omdat sy vorming met pyn en lyding gepaard gaan. Wanneer die oester beseer word, vorm dit 'n skitterende pêrel op daardie plek. Toe Jesus se hande en voete deur ruwe spykers deurboor is en Hy sy lewe vir ons aan die kruis afgelê het, is die hemelpoorte weer vir ‘n verlore mensdom geopen. Deur Jesus se trane en lyding het Hy vir ons die kosbare pêrel geword wat self die poort na die nuwe Jerusalem is. Elkeen wat glo en hom tot Christus bekeer, kan deur Hom ingaan en die ewige heerlikheid van die Here beërf. Al die sondaars sal buite hierdie stad wees en hulle lot in die poel van vuur sal vir ewig afgryslik wees. Waarheen is jy op pad?