Een van die belangrikste temas van Bybelse profesieë is die herstel van die volk Israel, en ons sal dikwels in hierdie program na gebeure in Israel verwys. Oor die eindtydse herstel van Israel sê die profeet Eségiël:
Daar moet dus ‘n geestelike reinigingsproses plaasvind nadat Israel in hulle land versamel is. Dit sal, uiterlik gesproke, ‘n baie pynlike proses wees omdat dit met groot benoudheid en verdrukking gepaard sal gaan. Die Here sê Hy sal hulle in ‘n smeltoond gooi en smelt (Eseg. 22:19-20). Jeremia verwys ook na dié tydperk: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).
Hierdie benoudheid is die komende groot verdrukking. In die ellende wat oor Israel sal kom, sal hulle om hulp na God roep. Die Here sê ook: “In hulle nood sal hulle My soek” (Hos. 5:15). Israel se herstel is dus progressief – eers word hulle fisies en staatkundig in hulle land herstel, maar nog in dieselfde geestelik vervalle toestand as wat hulle was toe hulle uit die land verstrooi is. Ná hulle herstel laat die Here groot benoudheid oor hulle toe, waaruit ‘n oorblyfsel van die volk gered sal word (Rom. 9:27).
Israel is ‘n geruime tyd reeds terug in hulle land, maar as volk is hulle nog steeds geestelik dood omdat hulle, behalwe vir ‘n klein groepie Messiaanse Jode, nog altyd vir Jesus as hulle Messias verwerp. Hulle meen dat hulle heil daarin geleë is om die tempel te herbou en weer die Ou Testamentiese offerdiens in te stel. Israel het egter ‘n groot probleem om die tempel te herbou, en dit is dat die Tempelberg ná die herowering van die Ou Stad van Jerusalem in 1967, aan die beheer van ‘n Moslem-komitee oorgedra is omdat twee van hulle bekende moskees hier staan – die Al Aksa Moskee en die Rotskoepel (of Moskee van Omar). In onlangse jare het hulle twee verdere moskees op die tempelberg gebou, omdat hulle die hele terrein wil beset en voorkom dat Israel hulle tempel daar bou. As gevolg hiervan is die verhoudings tussen Jode en Moslems, veral op die Tempelberg, baie gespanne. Die huidige gewapende stryd tussen Jode en Moslems het juis in September 2000 op die Tempelberg uitgebreek toe Joodse regeringsleiers daar besoek afgelê het. Hernude onluste het toe uitgebreek, wat as die “Al Aksa Intifada” bekend staan. Dit duur nou nog voort.
Daar het egter die afgelope jaar twee dinge gebeur wat by Ortodokse Jode die hoop laat opvlam het dat hulle tempel spoedig herbou kan word. Die eerste gebeurtenis het te doen met ‘n rooi vers. Volgens Numeri 19 is een van die benodighede vir die tempeldiens ‘n rooi vers (sonder enige hare van ‘n ander kleur) wat geslag en verbrand moet word sodat die as daarvan vir die bereiding van reinigingswater gebruik kan word. Op 5 April vanjaar is die Tempel-instituut in kennis gestel dat só ‘n vers op ‘n plaas in Israel gebore is. Twee rabbi’s het bevind dat die vers aan al die vereistes voldoen.
Die ander gebeurtenis is ‘n vebrokkelende muur op die Tempelberg. Daar is tans groot vrees én opgewondenheid in Israel omdat drie Moslem-moskees op die Tempelberg in ‘n dreigende ineenstorting van die suidelike grensmuur vernietig kan word. Dit is die Al Aksa-moskee sowel as twee ander moskees wat die afgelope aantal jare onwettig teenaan die suidelike muur gebou is.
Argeoloë in Israel het op 27 Augustus vanjaar gewaarsku dat die suidelike muur baie onstabiel is en enige tyd kan instort. Daar is ‘n verskuiwing in die muur sigbaar, wat die vorm van ‘n boggel aanneem. Verlede jaar het ‘n gedeelte van 30 meter lank sowat 70 sentimeter ver uitgestaan. Vanjaar staan dié gedeelte omtrent ‘n meter ver uit en is ook baie langer.
Sommige argeoloë het die Israeli-regering versoek om die muur te herstel, maar ander meen dat niks gedoen kan word om die spoedige ineenstorting van die muur te voorkom nie. Die Arabiere op die Tempelberg weier enige herstelwerk aan die muur en beweer dat dit geen gevaar inhou om mee te gee nie.
‘n Ortodokse Joodse beweging wat hom vir die herbouing van die tempel beywer, “Temple Mount and Land of Israel Faithful Movement” sien hierdie gebeure as deur God voorbeskik. Die leier van die beweging, Gerson Solomon, het die eerste minister, Ariel Sharon, in ‘n ope brief versoek om die muur te los dat dit kan val en die heidense tempels vernietig. Volgens Gerson wil die Here sy heilige Naam op die Tempelberg herstel deurdat die derde tempel daar gebou moet word. Voor dit moet die heidene se heiligdomme egter verwyder word omdat dit die terrein ontheilig.
Gerson sê verder in sy brief aan Sharon dat hierdie gebeure die vervulling van profesieë oor die verlossing van die Tempelberg, Israel én die hele wêreld is. Volgens hom is dit jammer dat mense wat na redes vir die verskuiwing van die muur soek, só blind is dat hulle nie hierdie profetiese feite kan raaksien nie. Hy het die Israeli-regering en die argeoloë versoek om nie met God se werke in te meng deur die muur te herstel en sodoende sy val te probeer keer nie. Gerson sê:
Gerson het ‘n oproep op Sharon gedoen om nie die groot geleentheid wat God in ‘n baie kritieke tyd aan hom gegee het, te vermors nie, maar om met die Here saam te werk om sy vyande van die Tempelberg af te verdryf en te begin om die derde tempel te bou. Hy het die slap houding van die Israeli-regering gekritiseer omdat hulle nie ‘n Moslem-demonstrasie op die Tempelberg verbied en die betogers uiteengejaag het nie. Op 24 Augustus vanjaar het 45 000 ondersteuners van die anti-Israelse Islamitiese Beweging ‘n demonstrasie gehou waarin hulle die Arabiese wêreld teen Israel se soewereiniteit oor die Tempelberg én die land van Israel (wat deur hulle “Palestina” genoem word) aangehits het. Volgens hulle is daar geen plek vir Jode op die Tempelberg, in Jerusalem of elders in Israel nie.
Die brief aan Sharon lui verder: “Ons staan nou op die drumpel van die groot historiese en profetiese verlossing van Israel en die Tempelberg. Ons sien die laaste stuiptrekkings van die vreemde, vandalistiese okkupasie van die Tempelberg, Jerusalem en Israel. Indien die Israeli regering nie onmiddellik hierdie verontreinigende okkupasie beëindig nie, sal God dit self doen.”
Gerson het Sharon ook herinner aan die poging wat “Temple Mount Faithful” verlede jaar aangewend het om ‘n hoeksteen vir die derde tempel op die Tempelberg neer te sit. Hulle is egter verhinder om dit te doen, en onmiddellik daarna het die boggel in die muur verskyn. Die volgende teks uit die Psalms word deur Gerson aangehaal en op die verwerpte hoeksteen wat buitekant die suidelike muur staan, toegepas: “Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword” (Ps. 118:22).
Gerson Solomon se opsomming van die situasie op die Tempelberg én in die res van Israel is in sommige opsigte heeltemal reg en in ander opsigte totaal verkeerd.
Hy is reg as hy na Israel se goddelike mandaat oor hulle land verwys, en dit sluit Jerusalem én die Tempelberg in. Hy is ook reg as hy sê dat God die vyande van Israel swaar gaan straf wanneer hulle teen Jerusalem sal optrek en ook die land wat God aan Israel gegee het, tussen Israel en sy vyande sal probeer verdeel.
Die Here sê dat Hy met die nasies ‘n strafgerig gaan hou omdat hulle Israel verdryf en hulle regte in hul land aangetas het (Joël 3:1-2). In dié tyd sal alle nasies op aarde Jode-haters wees wat vir hulle straf teen Jerusalem versamel sal word (Sag. 12:3). Geweldige oordele van die Here sal hulle in daardie oorlog tref (Sag. 14:12).
In ‘n ander opsig is Gerson egter heeltemal verkeerd, en dit is sy vertolking van die profesie oor Israel se hoeksteen. Hy sien die reiniging van die Tempelberg en die bou van die derde tempel as deurslaggewend vir Israel se geestelike herstel. As ortodokse Jood verwys hy nie eers na Jesus Christus nie, en neem ook glad nie die feit in ag dat Hy die ware hoeksteen van Israel is waarna in Psalm 118 verwys word nie.
Die voortgesette verloëning van Jesus as Israel se Verlosser en Messias-Koning, baan die weg vir die valse messias (Joh. 5:43) en lei tot die Jode se sterk motivering om die tempel te herbou. Hulle wil God deur die tempeldiens (die bloed van offerdiere) behaag en soek nie na die reiniging van hul sondes deur die Lam van God wat 2000 jaar gelede ook vir hulle ter slagting gelei is nie (Joh. 1:29). Die tempelprojek spel dus voortgesette rebellie teen God en sy Seun uit. Die valse messias sal dié projek aanmoedig en homself in die herboude tempel tot God verklaar (2 Thess. 2:4; Op. 13:14-15).
Die Here Jesus het aan die ongelowige Jode ‘n gelykenis vertel van ‘n man wat ‘n wingerd gepant en goed versorg het. Dit dui op God wat Israel geroep en vir Homself afgesonder het. Daarna het hy diensknegte gestuur om van die vrug van die wingerd te versamel. Dit dui op die profete wat God in die Ou Testament na Israel gestuur het. Die landbouers het egter die diensknegte geslaan, verdryf en met leë hande weggestuur. Dit dui op Israel se skandelike behandeling van die profete. Daarna het die eienaar van die wingerd besluit om sy seun te stuur, in die hoop dat hulle hom sou aanvaar. Dit dui op die koms van Jesus na Israel. Die gelykenis lui verder oor die reaksie op die koms van die seun:
Die hoeksteen van Israel is die Messias, Jesus Christus. Sonder Hom kan nie een mens op aarde gered word nie – ook nie deur Israel se tempeldiens nie. Petrus het ná ‘n genesingswonderwerk vir die Jode gesê:
Petrus het almal na die ware hoeksteen, Jesus Christus, genooi sodat hulle deur Hom gered kon word:
Hoe langer Gerson Solomon en feitlik die hele Israel vir Jesus as die ware hoeksteen van hulle persoonlike én volkslewe verwerp, hoe langer sal hulle deur vernedering, vervolging en swaarkry in die gesig gestaar word. As gevolg hiervan wag vir Israel die tyd van benoudheid vir Jakob (Jer. 30:7) wat op die verdrukking van sewe jaar onder die valse messias (die Antichris) dui.