Daar gaan nog meer as een oorlog in die Midde-Ooste gevoer word. Een van dié oorloë is die Russies/Arabiese inval in Israel. Die Here het vir Eségiël opdrag gegee om oor ‘n groot steeksoorlog te profeteer wat in die eindtyd, in die laaste dae, in Israel sal uitbreek. Hierdie oorlog is teen die verdere herstel van Israel as God se volk gerig, asook teen Joodse beheer oor die stad Jerusalem waarheen die ware Messias beloof het om terug te keer en sy koninkryk te vestig. Eségiël sê die volgende oor hierdie oorlog:
Die identiteit van Gog word uit drie verskillende oogpunte baie duidelik as die moderne Rusland bevestig:
1. Die land Magog
Volgens die register van nasies in Génesis 10 was Magog ‘n kleinseun van Noag (v. 1-2). Die afstammelinge van Magog het ten noorde van die Kaukasusgebergte in die huidige Rusland gewoon, en is die belangrikste antieke volk waaruit die moderne Russe afgestam het.
2. Die vors van Ros, Meseg en Tubal
Ros, of Rus, was een van die stamme wat van Magog afgestam het. Hulle het lank in die omgewing van die Wolga gewoon. Meseg en Tubal was jonger broers van Magog (Gen. 10:2) en het ook in die gebied van die huidige Rusland gevestig. Meseg was die stigter van die Moski, en van dié naamwoordstam is ‘Moskou’ afgelei. Tubal is die stamvader van die Tibereni wat langs die Swart See gewoon het.
3. Die agterhoeke van die Noorde
Moskou, die hoofstad van Rusland, is reg noord van Jerusalem in die agterhoeke van die Noorde geleë. Onmiddellik noord van Israel was Assirië, die land van die koning van die Noorde. Rusland word egter onderskei as geleë in die agterhoeke van die Noorde.
Die profesie in Eségiël 38 en 39 het duidelik op die laaste dae betrekking, en is dus nie in Ou Testamentiese tye vervul nie. Dit verwys uitdruklik na ‘n aanval op ‘n herstelde volk Israel, wie se land gedurigdeur as ‘n puinhoop gelê het (Eseg. 38:8).
Die Sowjet-Unie het ná Wêreldoorlog II militêr in ‘n sterk moondheid ontwikkel wat uitgesproke vyandig teenoor Israel was. Sedert Israel se herstel in 1948 is die Arabiese lande telkens van groot arsenale Russiese wapens (AK 47’s), pantservoertuie, misiele en vegvliegtuie voorsien om ‘n uitwissingsoorlog teen die volk Israel te voer. Al hierdie oorloë was voorlopers vir die geprofeteerde Russies-Arabiese inval in Israel.
Eségiël noem die volgende bondgenote wat saam met Rusland ‘n inval in Israel sal doen:
1. Persië
Die naam van Persië is in 1935 na Iran verander. Ná die Islamitiese revolusie van die Ajatolla Khomeini het hierdie land uitgesproke anti-Israels geraak en baie sterk in Rusland se magsfeer beland. In samewerking met Russiese wetenskaplikes het Iran onlangs sy Shihab-3 ballistiese misiele ontwikkel wat teikens in Israel kan tref. Binnekort sal Iran oor kernplofkoppe vir sy misiele beskik. Iran en Irak het ook nou vrede gesluit ter wille van hulle gemeenskaplike stryd teen Israel en sy magtige bondgenoot, Amerika.
2. Kus
Kus is die oorspronklike Hebreeuse benaming vir Ethiopië. Ná die val van Haile Selassie se bewind in 1974 het Ethiopië eers in ‘n kommunistiese diktatuur verander, en later in ‘n Islamitiese staat. Beide hierdie ideologieë het ‘n sterk anti-Joodse ingesteldheid tot gevolg.
3. Put
Put is die Hebreeuse naam vir Libië. Dié land is deur die militante kolonel Gaddafi tot ‘n sosialistiese republiek verklaar. Hy handhaaf noue bande met Rusland, en dit is sy verklaarde beleid om Israel te verdelg en sy grondgebied aan die Palestyne te oorhandig. Libië beskik oor ballistiese misiele wat van Noord-Korea aangekoop is, waarmee Israelse teikens uit Libië bestook kan word.
4. Togarma
Dit is ‘n verwysing na Turkye, ‘n land wat ‘n oorheersende Moslembevolking van omtrent 97% het. Turkye is nog net nominaal ‘n NAVO-bondgenoot en vriend van Israel. Ná die onlangse mislukte Camp David vredesberaad tussen Israel en die PBO, het Jasser Arafat Turkye besoek waar hy ongekwalifiseerde steun vir die stigting van ‘n Palestynse staat met Oos-Jerusalem as hoofstad gekry het. Israel kan nie meer vir voortgesette steun op Turkye reken nie, maar die PBO kan wél.
5. Gomer
Deur die naam Gomer word Duitsland as een van die bondgenote in die oorlog teen Israel geïdentifiseer. Daar is groeiende ekonomiese, politieke en selfs militêre bande tussen Duitsland en Rusland, aangesien Rusland deur die Duitse regering as ‘n belangrike faktor vir die toekomstige stabiliteit van Oos-Europa beskou word. Goeie verhoudinge met olieproduserende Arabiese state sal ook vir dié lande bondgenote in hulle stryd teen Israel verkry. Vir Duitsland se ekonomiese ontwikkeling is dit ‘n baie belangrike strategiese oorweging om die voorgesette lewering van olie uit die Midde-Ooste te verseker. Waarskynlik sal hulle, soos baie ander lande, hulle vriendskap met Israel hiervoor opoffer.
Die uitslag van die Russies-Arabiese inval in Israel sal hoogs verrassend, onverwags en uiters dramaties wees. Die een oomblik sal Israel nog deur uitwissing in die gesig gestaar word terwyl die inval dreig om in ‘n wêreldoorlog te ontaard, dan sal die Here die invallende leërs op die berge van Israel verdelg. Daar sal selfs vuur uit die hemel neerdaal (Eseg. 39:4-6), terwyl ‘n groot aardbewing ook sal voorkom (Eseg. 38:19-23).
Dit sal Israel sewe maande neem om die lyke van hul vyande te begrawe, en hulle sal sewe jaar lank van die oorlogsbuit gebruik (Eseg. 39:9-12). Hulle sal hulle grootliks in in hierdie ingryping deur die Here verbly, omdat hulle van gewisse dood en nasionale ondergang gered is. Hulle blydskap sal geen perke ken nie.
Hierdie situasie sal waarskynlik deur Satan uitgebuit word om die ergste moontlike misleiding te doen in ‘n poging om die Antichris as wêreldmessias deur Israel, die Moslemlande én al die ander nasies aanvaar te kry. Die Antichris met sy bonatuurlike [duiwelse] magte sal die krediet vir die oorwinning opeis deur te beweer dat God hom na die aarde toe gestuur het om ‘n dreigende kernoorlog af te weer en sodoende die hele wêreld van ondergang en uitwissing te red. Israel en die nasies sal ‘n baie ernstige oordeelsfout begaan deur hierdie man as die beloofde Messias te aanvaar en ‘n verbond met hom te sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43; Op. 13:3-4).
Die Antichris kom beslis en sal homself later ook in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar. Indien hy tydens die Russies-Arabiese inval in Israel geopenbaar word, dan beteken dit dat die wegraping van die kerk ook in hierdie tyd moet plaasvind. Hulle is die teëhouer teen die openbaring van die Antichris. Paulus sê:
Die Antichris sal in die misleiding van die wêreld deur die valse profeet bygestaan word. Hy sal skouspelagtige tekens en wonderwerke doen, en selfs vuur uit die hemel laat neerdaal. Dit sal daartoe lei dat feitlik alle mense op aarde die Antichris as God sal aanbid (Op. 13:11-15).
Daar is ‘n nuwe vlaag Jodehaat besig om oor die wêreld te versprei. Dit skep die ideale denkklimaat en ondersteuningsbasis vir Israel se vyande om dié land te probeer verdelg. Ten spyte van die geestelike doodsheid van die Joodse volk is daar geen regverdiging hoegenaamd om ‘n haatveldtog teen hulle te voer nie. Trouens, dit is naas die verwerping van God een van die heel gevaarlikste dinge op aarde om te doen! Om in stryd met God se wil en opdragte te handel, is om jouself met baie smarte te deurboor. Kyk net wat met Israel gebeur het omdat hulle God verwerp het. Dieselfde God waarsku egter die vyande en kritici van Israel wanneer Hy vir Abraham sê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).
Nasies en individue wat Israel vervolg, bring ‘n vloek oor hulleself. Hulle grawe ‘n put waarin hulle self sal val. Groot wêreldryke is al vernietig omdat hulle Israel probeer vernietig het. Hieronder is die eens magtige Babiloniese, Assiriese en Romeinse ryke.
‘n Term wat steeds verkeerdelik as sinoniem vir Jodehaat gebruik word, is anti-Semitisme. Hitler het hierdie term voor die Tweede Wêreldoordlog gepopulariseer omdat die Jode toe die mees prominente verteenwoordiger van die Semitiese volke was. As afstammelinge van Sem is die Arabiere egter ook Semiete wat onder andere deur Ismael en Easu se nageslag nou verwant aan die Jode is. Die meerderheid Arabiere tel egter onder die mees fanatieke Jodehaters in die wêreld vandag, maar kan as Semiete nie anti-Semiete genoem word nie! Aangevuur deur die Moslemgeloof, het baie van die Arabiese lande al probeer om ‘n uitwissingsoorlog teen Israel te voer. Die Bybel verwys na hulle, asook die feit dat hulle eintlik ‘n heilige oorlog teen die God van Israel voer:
“o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan… Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit… (hulle) sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem!” (Ps. 83:2-9, 13).
Uit hierdie antieke vyande van Juda het die moderne Arabiese volke afgestam, insluitende die Palestyne. Hulle wil Israel vernietig en die woninge van God (Sion en die Tempelberg) vir hulleself in besit neem. Omdat hulle in moderne tye, sedert 1948, nog nie daarin kon slaag om Israel te vernietig nie, probeer hulle nou om druk op Israel uit te oefen om sy land met hulle te deel. Ook die stad Jerusalem moet verdeel word.
Hierdie druk sal tot met die slag van Armagéddon, aan die einde van die groot verdrukking, volgehou word. Dan sal die Here met Israel se vyande wat die volk verstrooi en hul land verdeel het, afreken. Dit is duidelik dat in daardie stadium die hele wêreld teen Israel sal draai en die kant van sy vyande sal kies. Die komende multi-nasionale mag wat in Israel ontplooi sal word, sal deur die Here verdelg word:
“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).
Die swaard van die Here se toorn hang oor die vyande van Israel, en hulle verhaas deur hul dwase optrede hulle eie ondergang. Die nasies van die wêreld wat booswigte se kant kies en hulle ook nog help om die land van Israel te verdeel of van sy regmatige eienaars weg te neem, grawe hulle eie grafte. Sagaria 14 beskryf in duidelike taal die oordele van God wat oor die nasies sal kom wat dwaas genoeg is om teen Jerusalem te veg. Jodehaat is die ideologie van die Antichris. Vermy dit geheel en al!
Jodehaat sal dus nie net in die komende Russies/Arabiese inval ‘n rol speel nie, maar ook in die finale slag van Armagéddon.
As Christene ondersteun ons egter vir Israel omdat die seën van Abraham deur Jesus Christus, wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is, ook na ons toe gekom het. Israel is vir ons ‘n seën omdat hulle Messias die Verlosser van die hele wêreld is. In Romeine 11:11 sê Paulus, wat self ‘n Israeliet uit die stam van Benjamin was: “Ek vra dan: Het [Israel] miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.” Ons moet dus nie vir Israel vervolg of aanval nie, maar hulle uit hulle ongeloof na die Here teruglei deur hulle jaloers te maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien.