Die slag van Armagéddon, aan die einde van die groot verdrukking wanneer Christus terugkom aarde toe en self tot die stryd toetree, word in die Ou Testament as “die dag van die Here” beskryf. Dit is nodig om op sommige van hierdie vroeëre profesieë te let.
Die dag wanneer die Here kom om die oorblyfsel van sy volk te red en die nasies te oordeel, sal ‘n dag van verskrikking wees wanneer die kragte van die hemele geskud sal word. Baie van die Ou Testamentiese profete het profesieë oor die dag van die Here uitgespreek. Mense sal enersyds deur skroeiende hitte en droogtes geteister word, en andersyds deur verstikkende duisternis en die gerammel van geweldige aardbewings. Die sondaars wat hulle harte verhard het, sal saam met hulle handewerk verbreek word en op die puinhoop van ‘n verwoeste aarde beland:
Daar is baie meer sulke ernstige waarskuwings oor die oordele van die dag van die Here opgeteken, sodat mense nie die realiteit daarvan ligtelik opsy moet skuif nie. Die ontsettende omvang van die verwoesting, die redes daarvoor, naamlik ‘n uiters sondige geslag mense soortgelyk aan dié in die tyd van Noag en Lot, asook die feit dat dit oordele van God is, word telkens beklemtoon:
Oor die slag van Armagéddon, wat die Here se strafgerig teen die ongehoorsame nasies is, sê Joël die volgende:
Die dal van Josafat verwys na die dal van Kidron in Jerusalem. Baie van die Antichris se magte sal hier saamgetrek wees in afwagting op Jesus se verskyning op die Olyfberg aan die einde van die sewe jaar lange regering van die Antichris. Die ander magte van die Antichris sal in Noord- en Sentraal-Israel ontplooi wees, terwyl sommige nog by die Eufraatrivier sal wees. Wanneer die duisternis van God se oordele oor hulle toesak, sal baie van hierdie soldate mekaar begin doodmaak:
Johannes beskryf die wederkoms van Christus en die slag van Armagéddon só in Openbaring:
Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat die Antichris se laaste groot teiken Christus self en sy hemelse leërmag op die dag van sy wederkoms sal wees. Hy sal besef dat Jesus se koms die einde van sy koninkryk sal beteken, daarom sal hy alles in die stryd werp om teen die ware Messias te veg.
Dit sal ‘n totaal futiele poging wees, omdat Jesus die Koning van die konings is, wat alle mag in die hemel én op aarde het. Die Antichris sal deur hierdie konfrontasie sy eie ondergang sowel as dié van sy volgelinge bewerkstellig. Dit sal nie ‘n lang en hewige stryd wees nie, maar ‘n oombliklike verdelging van die vyandelike magte wat dit sal waag om teen Christus te veg. Daniël sê hierdie magtige koning wat ‘n skrikbewind op aarde gevoer het, “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45).
In Openbaring 19:20 word dit duidelik gestel dat die Antichris en die valse profeet op die dag van Christus se wederkoms gevang en lewendig in die hel gewerp sal word. Die plek waar hierdie konfrontasie en oordeel sal plaasvind, is uit ‘n Bybelse oogpunt baie betekenisvol. Dit sal volgens Joël 3 in die dal van Jósafat wees, wat die Kidronvallei tussen die Olyfberg en die Tempelberg is. Josafat beteken Die Here oordeel.
Die spruit Kidron was in Bybelse tye die oostelike grens van Jerusalem. Die naam daarvan beteken die swart spruit as gevolg van die vuil afvalwater wat hierin gevloei het. Dit was ‘n onooglike terrein wat ook ‘n massa-begraafplaas vir armes was. Afgode is ook dikwels hier vernietig en tot stof fyngemaal. Van die godvresende koning Josía word gesê:
Die Kidrondal sluit suid van die stad by die Hinnomdal aan, en staan daarvandaan as die vuurdal bekend. Die Hinnomdal (ge Hinnom) is die dal van die seuns van Hinnom. Hierin was die Tofet waar die afvallige Israeliete hulle kinders deur vuur aan die afgod Molog geoffer het. Afval uit die stad is ook hier gestort en aan die brand gesteek. Weens die houtstapels vir die offer van die kinders aan Molog, en ook as gevolg van die brandende afval, het die dal van Hinnom ‘n simbool van die hel geword. In die Talmoed, ‘n Joodse boek van godsdienstige oorleweringe, word gesê dat een van die poorte na die hel in die dal van Hinnom is, op ‘n plek waar rook tussen twee palmbome uit die grond opgestyg het.
Op grond van dié beskouing is die naam van hierdie dal in die Nuwe Testament van ge Hinnom na gehenna verander. Dit beteken die helse vuur (Matt. 5:22). Die Here het gesê dat hierdie dal se naam na Moorddal verander sou word:
Hierdie dal sou sinoniem met ‘n plek van dood, verderwing, vertering deur wurms en van verbranding word, daarom is die naam vir die hel, gehenna, hiervan afgelei. Jesaja verwys ook na die aaklige lot van die mense wat van God afvallig word:
Die feit dat die dal van Kidron en Hinnom op die dag van die wederkoms van Jesus vol vyandige magte sal wees, en daardie omgewing ook die ontmoetingspunt tussen ‘n hemesle leër en die leërs van die Antichris sal wees, bring mee dat die twee groot eindtydse afgode van die hele mensdom, die Antichris en die valse profeet, ook hier in die openbaar verdelg gaan word en in die helse vuur sal neerdaal.
Nadat die vyande van God oorwin is en die Antichris saam met die valse profeet en hulle volgelinge geoordeel is, word die duiwel in ‘n plek van bewaring opgesluit:
Die beskrywing van die binding van die duiwel vorm ‘n eenheid met die gebeure in Openbaring 19, en is dus een van die gevolge van die wederkoms van Jesus. Dit vind net ná die finale oordeel oor die Antichris en die valse profeet plaas, en is nie ‘n gebeurtenis wat van hierdie konteks losgemaak, duisende jare teruggeskuif en op die bedeling van die kerk van toepassing gemaak kan word nie. Aan die kruis is die oorwinning oor die duiwel wél in beginsel behaal, en ons kan dit ook in die geloof aanneem en ‘n oorwinnende lewe lei.
Dit beteken egter nie dat die Satan op Gólgota vernietig of van die stryd uitgeskakel en iewers ingekerker is nie. Inteendeel, hy het ‘n magsposisie in die wêreld, want 1 Johannes 5:19 sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê. Volgens 1 Petrus 5:8 loop hy soos ‘n brullende leeu rond en kyk wie hy kan verslind. Hierdie waarskuwing word aan Christene gerig, sodat hulle waaksaam en nugter kan bly en hulleself met die geestelike wapenrusting van God beklee om staande te bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). Ons kán in die oorwinning van Gólgota leef, maar dit sal nie sonder hewige stryd en aanslae deur die sielevyand gebeur nie.
Die vrede van die Here wat ons as verlostes ervaar, beteken nie dat ons reeds in die duisendjarige vrederyk is nie. Die huidige stryd teen die duiwel en sy bose magte is nie te versoen met ‘n toestand waarin hy gebind is en dit bo hom verseël is sodat hy nie die nasies kan verlei nie. Ons is nog nie in só ‘n situasie van vrede nie, maar in ‘n stryd wat reeds deur die hele Nuwe Testamentiese bedeling voortduur en in die komende verdrukking ongekende afmetings sal aanneem (Matt. 10:34). Satan self sal die nasies aanhits om tot militêre geweld oor te gaan, na die Midde-Ooste op te trek, Israel te probeer uitwis en selfs teen die Here en sy leërs te veg.
Dit is eers met die wederkoms dat die magspel van die sataniese driemanskap vernietig, twee van hulle in die vuurpoel gewerp en die draak in ‘n verseëlde plek aan kettings van duisternis oorgegee sal word om vir die eindoordeel in bewaring gehou te word (vgl. 2 Pet. 2:4). Hier moet hy ‘n duisend jaar lank bly.
In ‘n tyd soos hierdie – kort voor die aanbreek van die groot verdrukking en die slag van Armagéddon – is dit van die uiterste belang om seker te maak dat ons weergebore is en met die wapens van die lig weerstand bied teen die oprukkende magte van die Antichris. Mense wat nie aan die ware Christus behoort nie, sal mislei word om medewerkers van die Antichris te wees, of hulle daarvan bewus is of nie. Die wêreld polariseer nou tussen die volgelinge van die twee christusse – die ware Christus en die valse christus. Die Here Jesus het self sy eie volgelinge teen die gevare van misleiding deur die Antichris en sy meelopers gewaarsku toe Hy gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).
Die oordele van die dag van die Here, insluitende die slag van Armagéddon, is die oordele van God oor ‘n Christus-verwerpende wêreld. Dit is nie vir die ware kinders van die Here bedoel nie, omdat ons nie in die oordeel kom nie. Ons is nie vir die toorn van God bestem nie, omdat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus Jesus is nie. Soos in die tyd van Noag en Lot sal die Here eers sy kinders wegneem en in ‘n plek van veiligheid stel voordat Hy sy toorn oor die goddeloses sal uitstort.
Is jy gereed vir die ontvlugting? Die Here Jesus het gesê: “Waak en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).