Verskeie natuurrampe, veral aardbewings, word vir die komende groot verdrukking tydens die bewind van Antichris deur die Bybel voorspel. Die Here sal op hierdie manier die rebelse nasies oordeel en ook die spoedige koms van sy Messias-Koning, Jesus Christus, aankondig. Die volgende is belangrike profesieë hieroor:
Aardbewings is geweldige natuurkragte wat nie deur die mens beheer kan word nie. Groot aardbewings kan tot ernstige rampe en lewensverlies lei. Volgens die Nasionale Aardbewingsinligtingsentrum in Amerika was daar 85 ernstige aardbewings in 2002 waarin 1711 mense wêreldwyd gesterf het. Ernstige aardbewings het ‘n sterkte van 6.5 grade of meer op die Richter-skaal, of veroorsaak aansienlike sterftes, beserings of skade. Die dodelikste aardbewing van die afgelope jaar het in Afghanistan voorgekom, en ten spyte van sy sterkte van slegs 6.1 het dit tot die dood van ten minste 1000 mense gelei. Daar was 13 groot aardbewings in 2002, met ‘n sterkte van 7.0 tot 7.9, en nie een aardbewing van 8.0 of hoër nie. Die 7.9 skudding wat Sentraal-Alaska op 3 November getref het, was die wêreld se grootste aardbewing van 2002, en ook die grootste in die VSA sedert 1996 toe ‘n 7.9 skudding Alaska se Andreanof-eilande getref het.
Die VSA se aardbewingsinligtingsentrum registreer omtrent 50 aardbewings elke dag, of byna 20 000 per jaar. Baie daarvan gaan ongemerk verby omdat hulle in afgeleë gebiede voorkom of ‘n baie lae sterkte het. Gemiddeld is daar wêreldwyd omtrent 18 groot aardbewings tussen 7.0 en 7.9 per jaar en een baie groot aardbewing van 8.0 of hoër.
Die volgende was die aardbewings wat die meeste sterftes en skade in 2002 veroorsaak het:
Turkye: Op 3 Februarie het ‘n 6.6 aardbewing die Afyon-provinsie van Turkye getref. Ten minste 44 mense is dood en 318 beseer, terwyl 622 geboue beskadig is.
Afghanistan: ‘n Groot aardbewing met ‘n sterkte van 7.4 grade het op 3 Maart die Hindu Kush-gebied getref waarin 150 mense dood, verskeie beseer en 400 huise in die grondverskuiwings beskadig of verwoes is. In ‘n daaropvolgende skudding van 6.1 in dieselfde gebied op 25 Maart, is ten minste 1000 mense dood terwyl honderde beseer en duisende mense dakloos gelaat is.
Iran: Op 22 Junie het ‘n aardbewing van 6.5 grade gedeeltes van Westelike Iran geskud en tot die dood van 261 mense gelei, terwyl 1300 beseer en duisende huise beskadig of totaal verwoes is. Iran is in ‘n aktiewe seismiese sone geleë en skuddings van ‘n lae intensiteit kom gereeld daar voor.
Nieu Guinee: Op 9 September het ‘n kragtige aardbewing van 7.6 grade in die noorde van die gebied voorgekom en baie geboue beskadig maar net drie mense gedood.
Alaska: Op 23 Oktober het ‘n aardbewing van 6.7 grade ‘n groot gebied in die platteland van Alaska geskud. (Die “Goeie Vrydag- aardbewing” van 1964 het 8.5 op die Richter-skaal geregistreer en die dood van 131 mense veroorsaak). Op 3 November 2002 het ‘n kragtige aardbewing van 7.9 die sentrale gebiede van Alaska geskud, met skokke wat só erg was dat dit reusegolwe op mere veroorsaak het. Die skuddings is tot 430 kilometer verder suid gevoel.
Italië: Op 31 Oktober het ‘n 5.9 aardbewing naby die provisiale hoofstad Campobasso, omtrent 220 kilometer suidoos van Rome, voorgekom. Verdere kragtige skuddings het die suide van Italië op 1 November getref. Een van die ná-skokke was feitlik net so sterk as die aardbewing van die vorige dag, en het ‘n skool waarin sesjarige kinders en twee onderwysers was, op hulle laat instort. Meer as 30 mense is uit die puin van ander geboue in die dorpie bevry.
Pakistan: Op 2 November het ‘n vulkaan in die noorde van Pakistan tot uitbarsting gekom nadat ‘n 5.6 aardbewing die gebied getref het. Volgens berigte het rook uit die berge opgestyg terwyl ontploffings gehoor is. Op 3 November het ‘n 4.5 skudding omtrent 200 kilometer noord van Islamabad voorgekom, waarin 10 mense dood en 48 beseer is. Op 21 November is 25 mense dood en omtrent 1000 huise verwoes in ‘n 5.8 skudding wat Pakistan se Gilgit-streek geruk het. As gevolg van die talle ná-skokke was mense té bang om na hulle huise terug te keer.
Indonesië: Op 2 November het ‘n hewige aardbewing van 7.4 grade Indonesië se Soematra-eiland geskud en ten minste 48 mense beseer. Reusegolwe is ook deur die seismiese aktiwiteit veroorsaak.
Japan: Op 3 November het ‘n 6.2 skudding die noorde van Japan getref en hoë geboue in die gebied vir meer as 10 sekondes heen en weer laat swaai. Die middelpunt van die skudding was onder die seebodem, omtrent 430 kilometer noord van Tokyo.
Ander groot aardbewings van meer as 7.0 grade het in 2002 in die volgende plekke voorgekom: die Vanuatu-eilande op 2 Januarie (7.3 grade), die Filippyne op 5 Maart (7.5 grade), Taiwan op 31 Maart (7.1 grade), die Mariana-eilande op 26 April (7.1 grade), Oos-Rusland, naby die Sjinese grens op 28 Junie (7.3 grade), die Fiji-eilande op 19 Augustus (7.6 grade), en die Kuril-eilande op 17 November (7.3 grade).
Gedurende die eerste twee maande van 2003 het daar vier groot aardbewings voorgekom. ‘n Skudding van 7.3 het die Solomon-eilande op 20 Januarie getref. Op 22 Januarie het ‘n kragtige aardbewing van 7.8 die sentraal-westelike dele van Mexico getref en 21 mense laat sterf. Paniekbevange inwoners van dorpe het na die strate toe gehardloop om vallende geboue te ontkom, terwyl daar ook wydverspreide kragonderbrekings was. Op 27 Januarie het ‘n 6.1 skudding Turkye geruk en op 24 Februarie het ‘n 6.4 aardbewing die suidelike Xinjiang-provinsie van Sjina geskud.
Daar word verwag dat aardbewings verder sal toeneem omdat daar verskeie onstabiele foutgebiede is waarin bewegings in die onderste aardlae gereeld voorkom. Hoë digtheid samelewings sowel as hoë kantoor- en woonstelgeboue verhoog die vernietigende gevolge van sterk aardbewings. Volgens geoloë wat ‘n studie van aardbewings in die San Andreas-foutgebied in Amerika gemaak het, is dit reeds lankal tyd vir die volgende groot aardbewing in Kalifornië. Hulle het die datums bereken van 14 aardbewings van ‘n sterkte van omtrent 7.0 grade wat in dele van die foutgebied voorgekom het. Oor die afgelope 1500 jaar het sulke groot skuddings gemiddeld elke 105 jaar voorgekom. Die tussenposes tussen hierdie groot aardbewings was op die kortste 62 jaar en op die langste 192 jaar. Die laaste groot skudding het in 1857 voorgekom – 146 jaar gelede. Terwyl Kalifornië die volgende groot aardbewing verwag, is daar volgens die VSA se aardbewingsinligtingsentrum 75 miljoen Amerikaners in 39 state wat aan potensiële aardbewings blootgestel is. Wat die komende verdrukking betref wat in die Bybel beskryf word, is die hele wêreld aan vernietigende aardbewings blootgestel. Die uiteindelike aardbewing sonder gelyke wat in Openbaring 16:17-20 beskryf word, sal van ‘n wêreldwye omvang en ‘n onvergelyklike vernietigingskrag wees. Jesja 24:19 sê: “Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud.”
Israeli’s word ook gewaarsku om hulleself op die moontlikheid van groot aardbewings in die nabye toekoms voor te berei. Hulle land is op ‘n belangrike foutgebied geleë, wat deur die eeue heen dikwels deur ernstige aardbewings geteister is. Volgens seismoloë is dit net ‘n kwessie van tyd voordat daar weer ‘n groot aardbewing sal voorkom. ‘n Brosjure met inligting oor hoe om op groot aardbewings voor te berei, is aan baie Israeli’s gestuur. Die komitee wat hiervoor verantwoordelik is, is in die lewe geroep toe Turkye in Augustus en November 1999 deur twee kragtige skuddings getref is. Op 17 Augustus 1999 het ‘n aardbewing in Noordwes-Turkye meer as 17 000 mense se dood veroorsaak en 44 000 beseer. Drie maande later het ‘n aardbewing in dieselfde streek tot die dood van meer as 700 mense gelei.
Die boek Openbaring beskryf in hoofstuk 11:13 ‘n groot aardbewing wat in die middel van die sewe jaar lange verdrukking in Jerusalem sal voorkom: “En dié uur het daar ‘n groot aardbewing gekom, en ‘n tiende van die stad het geval, en seweduisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring.” Die wêreldwye aardbewing wat aan die einde van die groot verdrukking sal voorkom, sal uit die aard van die saak ook vir Israel tref. Die Here sê: “Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid: Waarlik, in dié dag sal daar ‘n groot aardbewing wees in die land van Israel, sodat van my aangesig af weg sal bewe die visse van die see en die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld en al de gedierte wat op die grond kruip, en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val” (Eseg. 38:19-20). Hierdie profesie sluit aan by dié een wat in Openbaring 16:18-20 beskryf word: “…en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing. En die stede van die nasies het geval… en alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie.”
‘n Verskynsel wat ten nouste met aardbewings verbind kan word, is vulkane. Hulle kom dikwels tot uitbarsting wanneer rotse in die onderaardse verskuiwings, wrywing en hitte wat deur aardbewings veroorsaak word, in gesmelte lawa verander. ‘n Toename in aardbewings sal dus ook tot ‘n toename in vulkaniese uitbarstings lei. Vulkane in verskillende dele van die wêreld het die afgelope paar jaar weer aktief begin raak. Sedert Januarie 2002 het daar 43 vulkaniese uitbarstings in die volgende lande voorgekom: Rusland, Ecuador, Wes-Indië, Hawaii, Mexico, Indonesië, Nieu-Guinee, Italië, Alaska, Guatemala, Nicaragua, Costa Rica, die Filippyne, Java, Chili, Japan, die Solomon-eilande, Ethiopië, die Kongo, Tanzanië en Reunion.
Hoewel nie baie algemeen nie, word Europa ook hierdeur geaffekteer. Op 27 Oktober het die grootste aktiewe vulkaan in Europa, nl. Etna in Sicilië, tot uitbarsting gekom en gesmelte rots 200 meter die lug in geblaas. Strome lawa het van die berg afgevloei en klein geboue op die eiland oorstroom. Mense het die gebied betyds in die pad van die lawa ontruim. ‘n Dennebos is heeltemal verwoes. Inwoners van Catanië, Sicilië se tweede grootste stad, het vooraf ‘n reeks klein aardskuddings gevoel wat op die ooskus van die eiland voorgekom het.
In sy profetiese rede het die Here Jesus gesê dat in die laaste dae voor sy wederkoms, daar ‘n groot verdrukking sal wees waarin die kragte van die hemele geskud sal word. Hy het uitdruklik na die wye voorkoms van aardbewings verwys, maar ook gesê dat daar tekens aan die son, maan en sterre sal wees. In sy visioen oor die eindtyd is die volgende toneel op die eiland Patmos aan Johannes geopenbaar: “En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval” (Op. 6:13).
Hierdie hemelliggame wat op die aarde sal val, sal waarskynlik asteroïdes, komete of meteoriete wees. Die grootskaalse verwoesting wat hulle sal aanrig, sal aanvullend wees tot die verwoesting wat deur aardbewings en vulkaniese uitbarstings in verskeie plekke op aarde veroorsaak sal word.
Die Here Jesus het aan sy dissipels gesê: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28). Is jy geestelik gereed om die hemelse Bruidegom te ontmoet wanneer Hy soos ‘n dief in die nag sal kom om sy bruid van die planeet aarde af weg te voer? Indien nie, dan wag daar onbeskryflike lyding en verdrukking op jou. Die goddelose mense sal haastig uit die rampgebiede wegvlug waar hulle lewens bedreig sal word deur geboue wat tydens aardbewings ineenstort. Hulle sal na die berge toe vlug, in grotte wegkruip en tot die rotse en berge uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).
Die toorn van God word net oor sondaars en boosdoeners uitgestort – oor ‘n Christus-verwerpende wêreld wat nie die Here se opdrag tot bekering en sy aanbod van redding uit genade aanvaar het nie. Soos tydens die Here Jesus se eerse koms, het die meeste mense die duisternis liewer as die lig omdat hulle werke boos is. Hulle leef in die waan dat dit net beter sal gaan en dat daar geen oordele op hierdie aarde óf in die ewige poel van vuur hierna op hulle wag nie. Wanneer die nag van God se oordele skielik oor hulle toesak en die kragte van die hemel geskud word, sal hulle paniekbevange van sy aangesig af probeer wegvlug.
Geestelike verduistering as gevolg van die verwerping van die Drie-enige God, sy onfeilbare Woord en sy weg van verlossing wat op die kruisdood van die Here Jesus gebaseer is, is ‘n algemene kenmerk van die eindtydse wêreldgemeenskap met sy losse sedes, geldgierigheid, diefstal en bandelose gedrag. Daar is selfs in baie kerke groot geestelike afvalligheid omdat hulle die gesonde leer van die Bybel verwerp het en dit volgens 2 Timotheus 4:1-5 met misleidende boodskappe en mensgemaakte teorieë vervang het. ‘n Deel van hierdie misleiding is dat God só liefdevol is dat Hy nooit enige mense aan ‘n groot verdrukking met al sy natuurrampe, hongersnode, pessiektes en die onbeskryflike tirannie van die Antichris sal onderwerp nie, en ook geen sondaars in die hel sal verdelg nie. Daar is selfs leraars wat beweer dat daar nie eers ‘n duiwel of ‘n hel is nie. Sulke mense ken nie die attribute van God nie en glo nie regtig wat in sy Woord staan nie, maar bedrieg hulleself en mislei ook duisende ander mense.
God se liefde is só grensloos dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het om vir ons sonde aan ‘n kruishout te sterf. Op grond daarvan bied Hy aan om alle mense se sonde te vergewe en hulle siele te red. Hy is egter ook só regverdig dat Hy almal wat sy genade-aanbod verwerp, aan die ergste denkbare oordele sal onderwerp. Johannes 3:18 sê dat hy wat in Jesus glo, nie veroordeel sal word nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel. Vir die ongelowiges wag al die rampe van die groot verdrukking, asook die onuitbluslike poel van vuur daarna. Jesaja 13:9 sê dat die wêreld in die eindtydse dag van God se toorn en grimmigheid in ‘n verwoeste plek omskep en sy sondaars daaruit verdelg sal word. Tref die nodige geestelike voorsorg sodat jy nie onder hierdie mense sal wees nie. Volgens 1 Thessalonicense 5:9 is almal wat waarlik gered is, nie vir die toorn van God bestem nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.