Die Wêreld Weerkundige Organisasie waarsku dat abnormale weersomstandighede in die toekoms meer dikwels sal voorkom terwyl die wêreld besig is om warmer te word. In die afgelope jaar het ongewone weerstoestande rekordvlakke bereik:
· Die swaar reën en sneeu in Sjina in Julie vanjaar was vyf keer hoër as normaal. Meer as 60 persone is in grondverskuiwings en sneeustortings dood.
· Sowat 1000 mense is beseer en 38 het gesterf in die kragtige tifoon Dujuan wat die suidelike Sjinese Guangdong-provinsie getref het. Dit was die ergste tifoon sedert 1979.
· In Sri Lanka het die aanhoudende reën vloede en modderstortings veroorsaak waarin meer as 300 mense dood is.
· Turkye gaan onder ’n strawwe droogte gebuk, en sekere gebiede het die afgelope somer net 10% van die jaarlikse gemiddelde reënval gekry.
· Buitengewone hittegolwe het van Junie tot Augustus in Europa voorgekom. In verskeie lande het die kwik tot meer as 40o C gestyg. In Switserland was dit die warmste in 250 jaar. Riviere het as gevolg van die smeltende sneeu skerp gestyg.
· Daar het in Augustus na raming drieduisend mense in Frankryk as gevolg van hitte-verwante oorsake gesterf – veral ou mense kon die hitte nie vat nie.
· Hittegolwe in Indië het die temperatuur op verskeie plekke tot tussen 45 en 49 grade laat styg en ten minste 1400 sterftes veroorsaak.
· Ongewone droogtes en hitte het dele van Suidelike en Oos-Afrika getref. Dit het tot grootskaalse misoeste en vernietigende veld- en bosbrande gelei.
· Die afgelope jaar het ‘n knellende droogte in Australië voorgekom. Landbou-produksie het met 70% gedaal en uitvoere was 28% minder. Die 2002-2003 droogte word as die ergste in die geskiedenis van dié land beskou. Groot bosbrande wat deur sterk winde aangedryf is, het ook voorgekom.
· ‘n Ernstige watertekort word in die verre Ooste van Rusland ondervind. In die hawestad Vladivostok is ‘n noodtoestand as gevolg van ‘n nypende watertekort afgekondig. Besparingsmaatreëls is só drasties dat die stad net ‘n sewende van die water kry wat dit benodig. Hierdie toestand is deur ‘n langdurige droogte veroorsaak, en die toestand is besig om buite beheer te raak. Woongebiede kry net twee ure per dag water, met niks op Woensdae nie, en staar verdere beperkings in die gesig. Inwoners grawe selfs verlate putte oop in hulle koorsagtige soektog na water.
· In die VSA was daar in Mei vanjaar 562 tornado’s waarin 40 mense gesterf het. Dit was veel hoër as die vorige maandelikse rekord van 399 wat in Junie 1992 aangeteken is.
· Daar word gevrees dat die voortgesette verwarming van die wêreld die smelt van ys in die poolstreke sal veroorsaak. Dit kan die seevlak laat styg en tot die oorstroming van laagliggende kusgebiede lei. In Antarktika het daar binne ‘n maand van die Larsen-ysgebied af ‘n ysberg die grootte van die eiland Ciprus afgebreek. Dit weeg biljoene ton. Die Antarktiese gebied word geleidelik warmer, wat beteken dat die pakys bros raak.
Wetenskaplikes sê dat die wêreld in hierdie jaar warmer as enige ander tyd die afgelope 1000 jaar was. Hulle sê dat die uiterste hittegolf wat die afgelope somer oor 30 lande in die Noordelike Halfrond gevestig was, ’n aanduiding is dat mensgemaakte klimaatsveranderings aan die toeneem is. Die veranderings tree baie vinniger in as wat aanvanklik verwag is. Volgens vorige projeksies is hittegolwe van hierdie omvang eers oor 20 tot 30 jaar verwag.
Weerpatrone in Afrika het veroorsaak dat warm lug van die Sahara-woestyn af oor Europa gevoer is, en dit het die koeler lug van die Atlantiese Oseaan af verdring. Honderde miljoene rande se skade is reeds aan oeste in Europa aangerig, en dit het voedsel-uitvoere en ander ekonomiese aktiwiteite drasties laat afneem.
Die droogtes en hitte in baie van die voedseluitvoerlande kan tot groot stygings in voedselpryse lei, asook tot ernstige voedselskaarste en hongersnode in verskeie lande. Wanvoeding kan ook tot siekte-epidemies lei en sodoende die skuldlas van arm lande verder laat styg.
In sy profetiese rede het die Here Jesus gesê dat daar in die laaste dae voor sy wederkoms ‘n groot verdrukking sal wees waarin die hele mensdom deur uitwissing in die gesig gestaar sal word (Matt. 24:21-22). “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Die ontwrigte weerstoestande en hongersnode wat ‘n noodwendige gevolg daarvan sal wees, is deel van die natuurrampe wat oor die wêreld sal kom. In Openbaring 16, waarin die sewe laaste plae aangekondig word, is die meeste daarvan natuurrampe:
Die tweede skaal tref al die oseane van die wêreld – nie net ‘n derde soos in die geval van die basuine nie. Die water daarvan word soos bloed, en alle seediere vrek. ‘n Ramp van hierdie omvang sal die mens van ‘n belangrike voedselbron ontneem, hongersnode veroorsaak, pessiektes deur ontbindende seediere in die hand werk, mense van die kusgebiede af laat wegvlug en seevaart haas onmoontlik maak.
Die derde skaal word op die riviere en fonteine uitgegooi en laat die water daarvan in bloed verander. Sodoende word oorlewingskanse op land ook drasties verminder en staar miljoene mense en diere ‘n gewisse dood in die gesig.
Die vierde skaal word op die son uitgegooi en bring ongekende hittegolwe mee. Groot uitbarstings sal op die son voorkom, en moontlik sal die osoonlaag dan omtrent vernietig wees. Behalwe vir die toenemende hitte sal skadelike ultravioletstrale sere en velkanker veroorsaak by mense wat aan direkte sonstrale blootgestel word.
Die sesde skaal word oor die Eufraatrivier uitgegooi en laat dit opdroog sodat die Oosterse nasies droogvoets daardeur kan trek om ook by Armagéddon aan daardie groot oorlog van die Almagtige God deel te neem. Onder demoniese misleiding sal daar, volgens Openbaring 9:14-19, ‘n reuse leër van 200 miljoen Asiatiese soldate deur ‘n opgedroogte Eufraatrivier optrek om ‘n derde van alle mense te verdelg. Turkye het reeds 30 groot damme in die Tigris- en Eufraatriviere gebou, en as gevolg daarvan groot probleme laer af in Irak veroorsaak. Die suidelike Irakse vleilande is besig om in ‘n soutwoestyn te verander, en op plekke is die watervlak van die Eufraatrivier só laag dat ‘n mens te voet daardeur kan loop.
Die sewende skaal het die grootste aardbewing tot gevolg wat daar nog ooit op aarde was. Die stede van die nasies sal val en in baie dele van die wêreld, insluitende Israel, sal die landskap tot ‘n groot mate deur die aardbewings verander word. Die verwoesting deur die aardbewings sal Jerusalem in drie dele verdeel en Babilon totaal vernietig. Die skuddings sal ook met ongekende haelstorms gepaard gaan. Vir haelstene van 50 kilogram om te val, beteken dit dat daar geweldige hoë temperature moet wees sodat die vog deur die stygende warm lug tot buitengewone hoë hoogtes opgevoer kan word. Die voorkoms van sulke hittegolwe word in Openbaring 16 bevestig. Jesaja sê hieroor:
Die skerp stygende hitte van die afgelope jaar is dus net ‘n voorspel tot veel intenser hittegolwe wat die aarde in die komende groot verdrukking gaan tref. Ons het ook nog nie die einde van vernietigende brande gesien nie. Veel erger brande sal as oordele van God voorkom. In Jesaja 34:9 word Edom as ‘n voorbeeld van Israel se vyande genoem, en gesê dat sy stof swael sal word en sy hele land brandende pik. Dink net wat sal gebeur as die olie- en piklae in die Arabiese olieproduserende lande deur groot aardbewings otbloot word en aan die brand moet slaan. Reuse brande sal buite beheer woed, en volgens Jesaja 34 die betrokke lande vir baie lank onbewoonbaar maak.
As gevolg van die ernstige lugbesoedeling wat deur groot brande veroorsaak sal word, sal die son soos ‘n harige sak lyk en die maan soos bloed (Op. 6:12). Hierbenewens sal daar ook talle ander tekens in die lug wees wat die mense sal verskrik, want die brokstukke van verskietende en half-uitgebrande hemelliggame sal op die aarde val en groot skade aanrig (Op. 6:13).
Moontlik sal daar ook ander, vreemde en onverklaarbare tekens in die hemelruim wees. Daar was onlangs vreemde ligte in die noord-oostelike lugruim van Skotland, wat kenners laat kopkrap het. Sestien voorwerpe soos ligte het in twee opeenvolgende nagte vinnig oor die dorp Yvie beweeg. Lugruimbeheerpersoneel en lugvaartkenners sê dat dit nie vliegtuie of satelliete kon wees nie, omdat die ligte té vinnig beweeg het. Sterrekundiges sê dat dit ook nie verskietende sterre kon wees nie, omdat hulle hiervoor weer té stadig en ook uit verskillende rigtings beweeg het. Die vreemde vlieënde voorwerpe het tydens die twee nagte net sekondes geneem om oor die hele lugruim te beweeg.
Hierbenewens is daar ook mense in verskillende plekke in die wêreld wat beweer dat hulle gesigte en visioene gesien het met aanduidings van datums vir die wederkoms van Christus. Daar was ook iemand wat glo op 16 Desember 2002 by Kaap Algullas ‘n visioen bokant die see gesien het, met ‘n aanduiding daarby dat die millennium van Christus se regering op 22 September 2003 sal begin. Hierdie soort openbarings en tekens is strydig met die Bybel omdat die Here Jesus dit duidelik stel dat niemand die dag of uur van sy koms sal weet nie, gevolglik sal selfs nie eers sy dissipels dit op daardie oomblik verwag nie (kyk. Matt. 24:44 en 25:13). In Handelinge 1:7 sê Jesus dat dit ons nie toekom om die tye of geleenthede te weet wat die Vader vir wederkoms en die openbaring van sy koninkryk bepaal het nie. Verder moet ons ook die feit in ag neem dat die hele raad van God in die Bybel geopenbaar is, en dus nie deur drome en visioene aangevul sal word nie.
Stellings in Joël oor drome en gesigte in die laaste dae word verkeerdelik op die kerkdispensasie toegepas. Joël het oor Israel geprofeteer en dinge aangekondig wat in die donker dae van die groot verdrukking sal gebeur, wanneer die Woord van die Here skaars sal wees. In daardie tyd sal daar spesiale openbarings van die Here aan Israel wees.
Soveel van die drome en visioene wat mense die afgelope paar jaar gehad het, is in elk geval nie vervul nie. Luister na wat die Woord van die Here oor hierdie selfaangestelde profete sê: “…as die profeet in die Naam van die Here spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie” (Deut. 18:22).
Die Here het aan ons sy Woord gegee, waarby ingesluit is die profetiese woord wat skyn soos ‘n lamp in die donker plek. Net hierop moet ons ag gee. Volgens Bybelse profesieë is daar bepaalde tekens wat op die naderende koms van Christus dui, en hierdie tekens is duidelik vir alle mense sigbaar. Iemand wat dit nie kan raaksien nie, word skynheilig genoem. Jesus sê: “Wanneer julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! En dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! En dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? (Luk. 12:54-56).
Dit is opvallend dat die Here juis aan ons maklik waarneembare tekens in die aarde en die lug gegee het om die boodskap van sy naderende koms vir sy heiliges, asook van sy oordele oor die sondaars, aan te kondig. Dit is daar vir almal om te sien, en is nie verborge, mistiese openbarings wat net aan ‘n paar geselekteerde mense gemaak word nie. Ons moet na veranderende weerpatrone kyk, veral uiterste hittegolwe en droogtes, en ook na natuurkragte wat in beweging kom, soos ‘n drastiese toename in aardbewings en vulkaniese uitbarstings. Tekens sal ook in die hemelruim aan die son, maan en sterre verskyn.
Verder het ons die teken van Israel, want hierdie volk word tereg as die horlosie van God beskryf. Ons weet onder meer uit Lukas 21 dat die herstel van Israel, en veral die stad Jerusalem, die eindfase van die kerkbedeling inlui. Ná die herstel van Jerusalem in 1980 as Israel se onverdeelbare hoofstad, weet ons vir seker dat ons laaste geslag Christene is wat die koms van die hemelse Bruidegom vir sy bruidsgemeente enige tyd te wagte moet wees. Hoewel Hy soos ‘n dief in die nag sal verskyn wanneer niemand Hom verwag nie, moet ons nogtans op grond van die tekens van die tye weet dat dit enige oomblik kan gebeur. Is jy geestelik gereed om heilig en onbesmet voor Hom te verskyn? As jy alle bewuste sondes bely en laat staan, kan die Here Jesus jou op hierdie oomblik van alle ongeregtigheid reinig. Dan sal jy vrymoedigheid hê wanneer Hy verskyn, en nie beskaamd van Hom af weggaan nie.