Program 7: Israel se Herstel

Waarom speel die Midde-Ooste so ‘n groot rol in eindtydse wêreldgebeure? Dit is baie belangrik om te begryp dat die grootste enkele oorsaak vir die spanning in die Midde-Ooste én in die hele wêreld, die herstel van die volk Israel na hulle eie land is. Die vraag ontstaan egter by baie mense: Hoe kan só ‘n klein volkie in só ‘n klein landjie die hele wêreld in beroering bring? Die antwoord is eenvoudig: omdat dit God se volk is wat Hy uit die heidendom geroep het, en wat Hy in ‘n toekomstige bedeling as die hoof van al die nasies gaan aanstel. “Want só sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o Here, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel! Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde” (Jer. 31:7-8). Dit is dus die Here self wat hierdie volk in die eindtyd met ‘n doel na hulle eie land toe terugbring.  Hierdie doel sal egter eers verwesenlik word wanneer Israel met hulle Messias, Jesus Christus, versoen is.

Israel is só belangrik dat hulle alle mense op aarde beïnvloed. Ons is óf ondersteuners van Israel wat ontvanklik is vir die geestelike seëninge wat die Here deur Israel aan die hele wêreld bied, óf ons is vyande van Israel op wie die oordele van die Here rus. Die Here het vir Abraham gesê, wat sy fisiese nageslag deur Isak en Jakob betref: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen 12:3). Uit die oogpunt van hierdie uitspraak is daar net twee groepe volke op aarde – dié wat Israel seën, erken en ondersteun, en dié wat Israel haat, verwerp en vervolg.

Waarom moet ons ondersteuners van Israel wees? Omdat die seën wat die Here deur Abraham aan die nasies beloof het, deur ‘n nasaat van hom uit die Joodse volk na die wêreld gekom het. Hierdie nasaat is die Messias, Jesus Christus, wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is. Galásiërs 3:13-14 sê dat Christus ons aan die kruishout losgekoop het van die vloek wat deur die sonde op ons rus, “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus.” Hierdie volk het dus vir die wêreld ‘n Verlosser gebring! Dit is egter nie al nie – God het ook sy Woord deur die bemiddeling van Israel aan ons gegee. Al die Bybelskrywers, behalwe Lukas, was Jode. Paulus sê in Romeine 3: “Wat is dan die voordeel van die Jood?… Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is” (Rom. 3:1-2).

Wanneer ons die Bybel opneem en lees, en ook die knie in gebed voor die Here Jesus buig, dan ontvang ons seëninge wat die Here deur Israel na ons toe gestuur het. Ons word touens in die Olyfboom, Israel, ingeënt. Toe Israel weens ongeloof nie die Messias aanvaar het nie, het die opdrag gekom dat die boodskap van sy reddende genade na alle nasies uitgedra moes word. Israel is dus selfs in hulle geestelik verblinde toestand ‘n seën vir ons deurdat ons nou die kans kry om die Messias wat hulle verwerp het, aan te neem. Paulus sê in Romeine:

“Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom… En as hulle val die rykdom van die wêreld is, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! … die verharding [het] ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:11-12, 25-26).

Ons is oneindig veel aan Israel verskuldig, deur wie die keur van God se seëninge tot die heidene gekom het. Nie alleen word ons geseën as ons Jesus en sy Woord aanvaar nie, maar ons moet ook vir Israel in hulle geestelik afvallige toestand seën deur hulle jaloers te maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakbob deur die Messias dien en liefhet.

Die ongeredde menigtes wie se sinne deur die god van hierdie wêreld verblind is, haat egter die volk Israel, hulle verwerp die Messias wat as Seun van die mens uit hierdie volk gebore is, en minag die Bybel as die Woord van die lewende God. Hulle is bewus daarvan dat daar ‘n sterk geestelike dimensie in hulle verhouding met Israel is, daarom verklaar hulle ‘n sogenaamde heilige, godsdienstig-gemotiveerde, oorlog teen israel. Hulle het die diep geestelike oortuiging dat die koninkryk waaraan Israel behoort, vyandig teenoor hulle eie geestelike koninkryk is, daarom wil hulle Israel van die aardbodem af verdelg, Jerusalem beset, hulle eie heiligdomme op die Tempelberg bou en die hele land Israel oorneem. Vir Israel word daar onder sulke mense geen bestaansreg gegun nie. In Psalm 83:5 sê dié vyande: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.”

Mobilisasie vind dus op ‘n diep geestelike en ideologiese vlak teen Israel plaas. Die koninkryk van die duisternis weet beslis dat Israel se Messias terugkom Jerusalem toe en op die hoogtepunt van die slag van Armagéddon sy voete op die Olyfberg sal sit, die oorblyfsel van Israel sal red en die troon van Dawid in Jerusalem sal herstel. Dan sal dit met die huidige koninkryke van die wêreld klaar wees en die vyande van Israel sal kruipende na hulle toe kom en hulle guns soek (Jes 60:12, 14). Dan sal al die afgode uitgeroei word, en sal die kennis van die Here, die Heilige Van Israel, die aarde vervul soos die waters die seebodem bedek (Jes. 11:9).

Dit wil die koninkryk van die duisternis glad nie hê nie, daarom die huidige opbouing van antichristelike magte in die wêreld, maar spesifiek in die Midde-Ooste. Die terugkeer van Israel na hulle land spel vir die hele wêreld die boodskap uit dat die dag van die Here spoedig sal begin. Eers gaan die ware gelowiges weggeneem word, soos in die tyd van Noag en Lot. Dan sal God se oordele oor ‘n Christus-verwerpende wêreld uitgestort word. Israel sal ook in groot benoudheid kom, sodat ‘n oorblyfsel van hulle gered kan word. Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal die tyd vir die koms van die ware Christus aanbreek. In daardie stadium sal die Antichris reeds sewe jaar lank oor die wêreld regeer het – eers as ‘n valse vredevors en daarna as ‘n militêre diktator.

Hy sal alles in die stryd werp om die koninkryk van God te beveg en al die verteenwoordigers daarvan uit te roei. As deel van hierdie program sal hy ‘n Joodse volksmoord gelas sodat die volk van God uitgewis kan word. Die Here sal egter aan sy volk ‘n plek van ontvlugting in die woestyn gee waar hulle uit die gesig van die dier vir die laaste 3½ jaar van die verdrukking onderhou kan word. Die Here Jesus noem hierdie tyd ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit was nie en nooit weer daarna sal wees nie (Matt. 24:21).

Die Antichris sal ook die Christene wat daardie tyd eers tot bekering kom, vervolg en laat doodmaak. Hy sal geen godsdiensvyrheid aan hulle verleen nie en almal dwing om hom alleen te aanbid (Op. 13:4, 15). Hy sal dus ‘n totale oorlog teen die koninkryk van God voer: dit behels Israel as die volk van God, die nie-Joodse Christene wat ook deel van God se koninkryk is, Jerusalem as die stad waarheen Christus terugkeer om sy duisendjarige ryk te vestig, en uiteindelik teen Jesus self wat beloof het om na die aarde terug te kom en sy vyande te verdelg.

Die Antichris sal alle moontlike militêre mag tot sy beskikking oproep om teen die ware Christus te veg wanneer Hy terugkeer, en ook om die oorblyfsel van Israel uit te delg sodat die Here hulle nie kan red en sy doel met hulle in die millennium kan bereik nie. Vir hierdie mobilisasie sal demone ingespan word. Johannes sê:

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God… En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13-16).

Die gevolge van hierdie oorlog teen Israel en sy Messias word in Openbaring 19 beskryf:

“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Hierdie geprofeteerde neerlag sal die Antichris probeer voorkom deur dit in ‘n oorwinning vir hom en sy magte te omskep, maar alles tevergeefs.

Wat ons nou in die Midde-Ooste sien, is die begin van die groot, eindtydse konfrontasie tussen die magte van die lig en die duisternis. Israel se blote teenwoordigheid in die land van sy vaders, sy beheer oor die stad Jerusalem en sy voorneme om die Joodse tempel op die Tempelberg te bou, het die eerste fase van hierdie konfrontasie aan die gang gesit. Die huidige pogings om Israel se grondgebied te verdeel, en ook Jerusalem tussen Israel en sy vyande te verdeel, is net die begin van vyandige sameswerings om hulle geheel en al te verdryf en uit te delg.

Die feit is egter dat die Here hierdie land aan Israel gegee het. God het aan Abraham gesê: “Slaan tog jou oë op en kyk van die plek van waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en jou nageslag tot in ewigheid” (Gen. 13:14-15). Hierdie belofte is aan Isak en Jakob herbevestig. Israel het dus ‘n goddelike mandaat oor die land, en almal wat dit nie erken nie, skaar hulleself by die vyande van Israel. Oor hulle sal die oordele van die Here uitgestort word, selfs al verdeel hulle net die land en vervreem sodoende ‘n deel van Israel se erfenis. Die Here sê:

“Want kyk, in dié dae en dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek [dit is die Kidron-vallei in Jerusalem] om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).

Let daarop dat Israel God se volk is en dat die land ook God se land is. Dit is ‘n daad van rebellie teen God om hierdie land van Israel te vervreem, al is dit ook net gedeeltelik, deur dit tussen hulle en hul vyande te verdeel. Jerusalem is ook ‘n stad wat die Here verkies het om sy Naam vir ewig daar te vestig (1 Kon. 9:3). Jerusalem se rol as ‘n plek van godsopenbaring is dus nie afgehandel nie, maar moet ná die herstel van  Israel verder voortgaan. Die Messias kom hierheen terug en Hy sal ook in die millennium van die herstelde troon van Dawid af uit dié stad regeer.

Die vyande van Israel aanvaar nie hierdie toedrag van sake nie, en het hulle eie bose agenda wat hulle volg. Hulle werk direk teen die raadsplan van God, en maak dus van Jerusalem ‘n omstrede stad. Juis omdat hulle dit doen, sal die Here hulle in Israel en ook spesifiek in en rondom Jerusalem vergader om hulle te straf. Die Here sê:

“Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring van Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word… En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sag. 12:2-3; 14:12).

Soos wat Israel gehaat word deur ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, word die kerk van Christis eweneens deur ‘n sondige wêreld gehaat. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie… daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19). Evangeliese Christene pas dus net so min as Israel in die ontluikende nuwe wêreldorde van die Antichris in. Nie net word die Christendom tot die vlak van die heidense gelowe gereduseer en daarmee gelykgestel nie, maar dit word ook uit grondwette, parlemente en staatskole uitgegooi. Dit alles is ‘n bewys daarvan dat die evangeliese Christendom net so min in die nuwe wêreldorde geduld sal word as wat Israel aanvaar en geduld sal word. Albei is aan die koninkryk van God verbonde, en sal primêre teikens in die komende ryk van die Antichris wees. Die huidige vyandigheid wat Israel en die evangeliese Christendom ervaar, is ‘n bewys daarvan dat politieke, ideologiese en godsdienstige strukture nou reeds vir die wêreldryk van die Antichris gevestig word.

God het die geloofwaardigheid van sy eie Woord aan die oorlewing, redding en verheerliking van ‘n oorblyfsel van Israel gekoppel. Die Antichris sal dus nie in sy doel slaag om hulle heeltemal uit te roei nie. Hy sál egter daarin slaag om al die nasies teen Israel te versamel, insluitende Amerika en Engeland. In ‘n stadium gedurende die donker dae wat kom, sal Israel heeltemal alleen staan. Die Here sê dat hulle dan, in hul nood, hulle skuld sal erken en die Messias se aangesig sal soek (Hos. 5:15).

In daardie stadium sal die wêreld deur die donker dae van die groot verdrukking wees, en sal net ‘n klein oorblyfsel van die nasies die vrederyk ingaan nadat hulle almal met die Messias versoen is. Dit is soveel beter om nóú met God versoen te word deur sy Seun wat die straf vir ons sondes op Homself geneem en aan ‘n kruishout daarvoor gesterf het. Nie net sal Hy aan ons ‘n nuwe lewe en die vrede van sondevergifnis gee nie, maar ook ‘n liefde vir sy volk Israel en die versekering dat ons in sy vrederyk as konings saam met Hom sal regeer.