Die meeste van die tekens van die tye wat in die profetiese rede in Mattheus, Markus en Lukas genoem word, het op die wederkoms van Christus ná die komende verdrukking van sewe jaar betrekking, en sal gedurende hierdie sewe jaar-tydperk eers in finale vervulling gaan. Die oorloë, aardbewings, hongersnode, pessiektes en tekens aan die son, maan en sterre, asook geestelike misleiding deur valse profete, het deur die eeue heen in ‘n mindere of meerdere mate voorgekom, maar nooit almal saam nie. Die geïsoleerde voorkoms van enkele daarvan was nie as sodanig tekens wat op die spoedige koms van Christus gedui het nie.
Daar was wél die afgelope halfeeu ‘n eskalasie van sommige van hierdie tekens waarneembaar, veral aardbewings en pessiektes soos Vigs, waaruit dit duidelik is dat verskeie krisisse besig is om op te bou na ‘n toekomstige situasie waarin hulle rampafmetings sal aanneem, en ook kenmerkend van dieselfde tydperk sal wees.
Sommige van die tekens wat op Christus se koms ná die verdrukking dui, sal nie ‘n aanloopfase en geleidelike opbou hê nie, maar net eenmalig voorkom. Een van hierdie tekens is die ontheiliging van die herboude tempel in Jerusalem deurdat ‘n gruwelike afgodsbeeld van die Antichris daarin geplaas sal word (Matt. 24:15; Dan. 9:27; 11:31). Dit sal wees wanneer die Antichris homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Die Jode sal nie hierdie godslastering en ontheiliging van die tempel aanvaar nie en hulle verbond met die Antichris verbreek. Hy sal weerwraak op hulle neem, en as gevolg daarvan sal hulle haastig uit Jerusalem en Judéa moet vlug (Matt. 24:16-20). Dit sal die begin van die groot verdrukking wees, m.a.w. die tweede helfte van die sewe jaar lange verdrukking (Matt. 24:21; Op. 13:5-15). Aan die einde van die groot verdrukking sal daar geweldige tekens in die lug plaasvind wanneer Jesus Christus sal terugkeer na die aarde toe (Matt. 24:29-30).
Die feit dat die Antichris die Joodse tempel sal ontheilig, impliseer baie duidelik dat Jerusalem in die eindtyd herstel én die tempel herbou sal moet word. Die vernietiging van Jerusalem én die tempel was tekens van die eerste eeuse verstrooiing van Israel na die nasies (Matt. 23:37–24:2; Luk 21:20-24). Die Jode sal dus na hulle land moet terugkeer, sodat hulle Jerusalem kan herstel en ook die tempel herbou. Dit kan duidelik uit die Here Jesus se woorde afgelei word: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Aan die einde van Israel se internasionale verstrooiing sal Jerusalem se vertrapping dus beëindig word. Dit het inderdaad die afgelope net meer as ‘n halfeeu gebeur. Jerusalem het in 1948 gedeeltelik onder Joodse beheer gekom, en in die 1967-oorlog ten volle. In Augustus 1980 is Jerusalem as Israel se hoofstad herstel. Sedertdien word nog net die Tempelberg deur die heidene vertrap.
Wanneer ons al die Nuwe Testamentiese tekens van die tye in ag neem, dan is dit duidelik dat daar drie groepe tekens is. In sy profetiese rede het die Here Jesus sowel eerste geslag- as laaste geslag-gebeurtenisse in die tydperk voor sy wederkoms genoem. Daar moet noukeurig na die tekens gekyk word om vaste te stel watter van hulle reeds in die eerste geslag vervul is. Wat die laaste geslag betref, dui die meeste van die tekens op die sigbare koms van Jesus ná die sewe jaar. Wat die wegraping voor die sewe jaar betref, moet in gedagte gehou word dat sy koms soos ‘n dief in die nag nie deur baie duidelike tekens voorafgegaan word nie, want Hy kom op ‘n uur dat niemand dit verwag nie. Nogtans is daar sekere algemene tekens wat met hierdie tyd geassosieer word, soos hieronder aangedui. Die drie groepe tekens is die volgende:
1. Die verwoesting van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van Israel
Hierdie gebeurtenis het in die jaar 70 plaasgevind, m.a.w. in die eerste geslag van die Christelike bedeling ná die kruisiging van Christus. Die teken hiervoor was die beleëring van Jerusalem (Luk. 21:20). Dit sou na die verwoesting van die hele stad lei, insluitende die tempel, asook na die dood van baie Jode en die internasionale verstrooiing van die oorlewendes (Luk. 19:41-44; 21:24; Matt. 23:36–24:2).
2. Die sigbare koms van Christus op die Olyfberg