Petrus se Lewe Voor en Ná Pinksterdag

Prof Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2010)

In Petrus se geestelike lewe kan daar twee duidelike fases onderskei word, naamlik die fase tussen sy bekering en vervulling met die Heilige Gees, gevolg deur die fase wat op Pinksterdag aangebreek het. In die eerste fase was hy ‘n vleeslike Christen wat nog vol van homself en sy eie idees was, hoewel hy toe reeds belangrike openbarings oor Jesus as Verlosser en Messias begryp het. As gevolg van sy vleeslikheid is sy lewe gekenmerk deur mislukkings, nederlae en geestelike dwalings. In die tweede fase het hy egter die ondervinding van heiligmaking deelagtig geword en daarna van krag tot krag in sy geestelike lewe gegaan. Hierdie twee fases is kenmerkend van alle Christene se pad van geestelike ontwikkeling ná bekering.

Petrus was voor Pinksterdag reeds, ‘n bekeerde volgeling en dissipel van Jesus. Wat sy kennis van Jesus se ware identiteit as Seun van God en die beloofde Messias van Israel betref, het hy bó sy volksgenote en mede-dissipels uitgestyg. Ons lees die volgende hiervan in Mattheus:

“En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees” (Matt. 16:13-19).

Petrus kry krediet vir sy insig. Die Here Jesus sê vir hom: “Jy is Petros [‘n klein rotsie] en op hierdie Petra [‘n groot rots] sal Ek my gemeente bou.” Op die rots van Petrus se getuienis van Jesus as die Seun van God, sou die kerk van Christus gebou word. As gevolg van die Woordverkondiging deur die kerk sou die hemel vir baie mense oopgesluit word, terwyl die ongeloof van baie ander daartoe sou lei dat die hemelpoorte vir hulle toegesluit bly. Petrus was dus nie die eerste pous wat die sleutels van God se koninkryk gehad het nie – die Here Jesus is die Rots waarop die kerk gebou is en net Hy het die sleutels om oop te sluit of toe maak.

Geestelike dwalings

Pas nadat Petrus die groot getuienis oor Jesus se Messiasskap uitgespreek het, het sy vleeslikheid en gebrek aan geestelike insig oor die volle raad van God, hom egter op ‘n ernstige dwaalspoor laat beland. Die duiwel het sy onkunde uitgebuit en hom dinge laat sê wat lynreg teen die evangelie van verlossing ingedruis het:

“Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Matt. 16:21-23).

Binne ‘n paar oomblikke het Petrus ‘n groot waarheid én ‘n groot dwaling verkondig. Hy kon nie die noodsaaklikheid van Jesus se lyding en sterwe insien nie, en het homself teen hierdie idee uitgespreek. Dit het hy gedoen ten spyte van die talle Ou Testamentiese profesieë oor die lydende Messias wat die straf vir ons sonde moes betaal. Jesaja 53 en Psalm 22 het hierdie boodskap baie duidelik uitgedra, maar Petrus het toe nog nie verstaan dat Jesus daardie pad moes bewandel om sy bloed vir die redding van sondaars te stort nie. Het Petrus dalk in die generiese goedheid van God geglo wat vergewe sonder dat Hy ‘n offer vir ons sondes verwag? Of het hy dalk gedink die Ou Testamentiese offerdiens was voldoende?

Die gebrek aan geestelike insig oor die evangelie is kenmerkend van vleeslike Christene wat nie onder die salwing en leiding van die Heilige Gees praat nie. Hulle mag sekere dinge reg verstaan, maar in ander opsigte totale onkunde openbaar – tot só ‘n mate dat hulle hulself heeltemal onbruikbaar in die diens van die Here maak. Die Here Jesus weet wat die oorsprong van geestelike misleiding is, en bestraf vir Satan wat pas deur Petrus gepraat het. Die ironie is dat Petrus ‘n mondstuk vir die Here was, maar soms ook ‘n mondstuk vir die duiwel.

Hierdie situasie is kenmerkend van vleeslike Christene wat nie oor die nodige kennis en onderskeidingsvermoë beskik nie. Hulle het nie verligte oë van die verstand om die verborgenhede van die evangelie van wedergeboorte en heiligmaking in alle opsigte reg te verstaan nie. Sommige van hulle kan nie die godheid, attribute en genadewerk van die Here Jesus reg verstaan nie. Alle vleeslike Christene het ook ‘n ernstige gebrek aan kennis oor die noodsaaklikheid van heiligmaking as ‘n tweede genadewerk. Hulle is nie in die ware sin van die woord geestelike mense wat die dieper dinge van die Here se Woord kan verstaan nie. Paulus het sulke vleeslike Christene aangespreek toe hy aan die Korinthiërs gesê het:

“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).

Die probleem van hierdie Christene is duidelik – hulle besef nie dat hulle ‘n tempel van die Heilige Gees is nie (vgl. 1 Kor. 3:16), want hulle is in werklikheid nog [vol OF: vervul] van hulleself. Dit is die rede waarom hulle nie met vaste spyse uit die Woord gevoed kon word nie. Hulle was bloot nie in staat om dit te kon verstaan nie, want die ondervinding van heiligmaking het nog in hulle lewens ontbreek.

Die Hebreërs het mank gegaan aan dieselfde probleem, daarom was daar ook geen geestelike groei onder hulle nie. Paulus sê: “Hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van bekering” (Heb. 5:12–6:1).

Hoe groei ‘n mens op tot ‘n volwasse man of vrou in Christus en ontwikkel geestesvermoëns om alle leerstellings in die Bybel reg te kan verstaan? Die groeiproses na geestelike volwassenheid vind nie vanself plaas ná bekering nie. Vanweë die tyd wat verstryk het, moes die Hebreërs al hierdie oorgawe gedoen en begin groei het, maar hulle het nie en het geestelik gestagneer. Hulle was totaal onbruikbaar in die diens van die Here, en soms nie eers meer seker van hulle eie redding nie. Daar moes maar weer oor geloofsekerheid met hulle gepraat word.

Die voortgaan na volmaaktheid wat by hulle ontbreek het, dui nie op ‘n toestand van sondelose volmaaktheid nie, maar wel op ‘n lewe van heiligheid, oorwinning en vervulling met die Heilige Gees. Geen mens groei in heiligmaking sonder ‘n volle oorgawe nie. In hierdie oorgawe moet daar ‘n tyd van selfondersoek en kruisiging van die vlees en sy hartstogte wees, wat gevolg sal word deur ‘n vervulling met die Heilige Gees.

Arrogansie

Wat Petrus se lewe betref, is daar ‘n tweede kenmerk van sy vleeslikheid en dit is arrogansie en selfgesentreerdheid. Selfs nadat hy die feit aanvaar het dat Jesus moes ly en sterf, het hy uit eie krag gesê dat hy by Jesus sou staan en selfs saam met Hom sou sterf: “Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie” (Luk. 22:33-34). Petrus het gemeen dat hy self, sonder die krag van die Heilige Gees, hierdie pad sou kon bewandel en enduit by Jesus sou staan.

Dit was ‘n groot vergissing. Hy kon dit nie doen nie, en geen ander Christen in die wêreld kan dit doen nie. Nogtans probeer vleeslike Christene om uit eie krag hulle weg suiwer te hou en ten alle tye by die Here Jesus te staan. Dit is die rede waarom hulle aanhou struikel en ‘n lewe van val en opstaan lei. Hulle is mislukte Christene wat kompromie maak, nie by hulle voornemens bly nie, meesal nie die toets kan slaag wanneer hulle beproef word nie, en in die algemeen van neerlaag tot neerlaag en van mislukking tot mislukking gaan.

Sulke mense is vol van hulleself en hulle eie vermoëns. Soos Petrus, sê hulle: “Laat hierdie saak in my goeie hande en ek sal dit uitvoer – ek sal U nie in die steek laat nie.” Só ‘n persoon kan egter nie eers voor ‘n eenvoudige dienskneg van die Here Jesus getuig wanneer omstandighede moeilik raak en vervolging dreig nie. Die rede hiervoor is dat hy nie deur die Heilige Gees bekragtig en gemotiveer word nie.

Versaking van jou roeping

‘n Lewe van vleeslikheid lei so dikwels na mislukte pogings, dat so ‘n persoon maklik terugval, selfs die stryd gewonne gee en besluit om nie meer vir Jesus te volg nie. Dit was in ‘n stadium ook Petrus se reaksie, want hy het daarvan afgesien om Jesus te volg en besluit om weer na sy ou beroep as visserman terug te keer. Hy het ná die kruisiging en begrafnis van Jesus gedink dit was die einde van die pad vir Jesus se volgelinge, en het vir ‘n paar van die ander dissipels gesê: “Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie” (Joh. 21:3).

Toe dit dag word, het die opgestane Jesus op die strand aan sy dissipels verskyn sonder dat hulle besef het dit was Hy. Op sy bevel het hulle egter weer die net ingegooi “en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie” (Joh. 21:6). Johannes het toe besef dat dit Jesus was en dit vir Petrus gesê.

Die Here Jesus het begrip vir hulle gebrek aan kennis en geestelike motivering gehad, en duidelik vir hulle gewys dat hulle nie gelukkig sou wees as hulle na die wêreld terugkeer nie. Hy het aan hulle ‘n groot vangs gegee en daardeur vir hulle gewys dat Hy van hulle vissers van mense kon maak. Jesus het aan Petrus die geleentheid gegee om drie keer te bevestig dat hy Hom waarlik liefhet. Sodoende het hy vergoed vir die drie keer wat Hy Jesus verloën het, en toe die opdrag gekry om as ‘n herder vir die Here se kudde op te tree.

Daar is baie vleeslike Christene wat ook ná ‘n tyd besluit om nie meer die Here te volg en dien nie en hulleself weer ten volle in die wêreld en sy bose praktyke uit te leef. Paulus se een metgesel het dit gedoen: “Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Tim. 4:10). Die verlore seun het homself ook in só ‘n situasie bevind. Sulke mense sal nooit geluk vind nie, daarom is daar vir hulle net een pad, en dit is terug na die Here Jesus, na hernude reiniging deur sy bloed en die vervulling deur sy Heilige Gees. Teruggevallenes moet Psalm 51 lees en ‘n nuwe oorgawe aan die Here doen.

Die Pinksterondervinding

Kyk watter groot verskil het die Pinksterondervinding in die lewens van Petrus en die ander dissipels teweeggebring. Hulle is van kragtelose, biddelose, twyfelende en sukkelende getuies vir Christus, omskep in vreeslose en doeltreffende diensknegte in sy koninkryk. Wat het die verskil gemaak? Bemagtiging deur krag uit die hoogte:

“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

In Handeling 1:8 het Hy gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”

Petrus, wat in ‘n stadium nie eers voor eenvoudige mense wou erken dat hy ’n volgeling van Jesus was nie, het homself vir tien dae saam met die ander dissipels verootmoedig om sy sondigheid en vleeslikheid te bely, sy geloof volkome op Jesus Christus te stel en op die uitstorting van die Heilige Gees te wag. Hulle is op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul en Petrus het met groot oortuiging die evangelie aan ’n agnostiese Joodse volk verkondig. Hy het ’n kragtige boodskap gebring en op een dag 3000 siele na Christus gelei. Dit was die eerste vaste treë van die jong Christelike kerk op aarde.

Daarna het die vroeë kerk dikwels mank gegaan aan vleeslikheid en ’n gebrek aan kennis, en dit onderstreep die feit dat almal van ons ’n tweede genadewerk van vervulling met die Heilige  Gees nodig het. Sonder hierdie ondervinding sal ons niks in die diens van die Here bereik nie.

Petrus is só volkome met die Heilige Gees en met hemelse insig beklee, dat die Gees hom gelei het om twee sendbriewe te skryf wat later ‘n deel van die Bybel geword het. Hy het die jong Messiaanse gemeentes daaraan herinner dat hulle hul hoop volkome moes stel in die genade wat hulle deel sal word by die openbaring van Jesus Christus, omdat hulle vrygekoop is deur die kosbare bloed van Christus, die vlekkelose Lam sonder gebrek (1 Pet. 1:13-19). Hy het hulle opgeroep om die deugde te verkondig van Hom wat hulle uit die duisternis geroep  het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9).

Die jong gemeentes is ook daaraan herinner dat hulle bywoners en vreemdelinge is in ‘n bose en verbygaande wêreld waarin hulle veel verdrukking sou verduur (1 Pet. 2:11; 4:1-19). Hy het ‘n hele hoofstuk gewy aan die tragiese verskynsel van teruggevallenes wat die pad van die Here verlaat en na ‘n sondige lewe in die wêreld teruggekeer het (2 Pet. 2). Christene word egter bemoedig om geestelik staande te bly in hierdie goddelose en verbygaande wêreld: “Terwyl al  hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12).

Dit is die taal van ‘n man wat deur die volheid van die Heilige Gees gewandel het en ver verby die aardse begeerlikhede gekyk het na ons ewige woning in die hemel. Hy het geweet wat dit was om ‘n vleeslike Christen te wees wat die Here Jesus in baie opsigte teleurgestel en ook verloën het, maar hy het genadiglik op die opdrag gereageer om op die Here te wag totdat hy  toegerus was met krag uit die hoogte. Daarna het hy nooit weer omgekyk of gehuiwer nie, selfs nie toe hy aan die einde van sy lewe ‘n martelaarsdood deur kruisiging in die gesig gestaar het nie.

Wandel jy ook deur die volheid van die Heilige Gees? Dan sal jy krag ontvang om ‘n getuie vir Christus te wees en onder die moeilikste omstandighede staande te kan bly sonder om moedeloos te word en terug te draai na die wêreld toe. Jy sal ook kragtig word in die Here om met sukses weerstand te kan bied teen die aanslae van die duiwel. Verder sal jou kennis van die Here en sy Woord toeneem totdat jy saam met al die heiliges ten volle sal kan begryp wat die breedte, lengte en diepte van Christus se liefde is, sodat jy vervul kan word tot die volkome volheid van God.