Goddelike Agapé Liefde

Johan Malan, Mosselbaai (Junie 2016)

Skriflesing: 1 Korinthiërs 13:1-13

Die apostel Paulus definieer die basiese kenmerke van ʼn gelowige se geestelike lewe in 1 Korinthiërs 13:13, waar hy sê: “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” Waarom is die liefde groter as geloof en hoop? Geloof is baie belangrik as die uitdrukking van die verhouding waarin ons tot die Here staan, die geloofsband tussen ons, maar die liefde is die essensie of inhoud van daardie verhouding. Geloof gaan oor die grense van die sigbare wêreld en verbind ons aan Jesus Christus wat in die onsigbare, hemelse sfeer is. Ons glo in Hom, ons neem Hom in die geloof as Verlosser aan, en ons lewe ook deur die geloof. Paulus sê geloof is ʼn “bewys van die dinge wat ons nie sien nie. ... En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Heb. 11:1, 6). Geloof sal egter tot ʼn einde kom wanneer die Here terugkom as die Voleinder van ons geloof (Heb. 12:2). Ons sal Hom dan van aangesig tot aangesig sien en Hy sal die onsigbare wêreld ten volle aan ons openbaar.

So ook is hoop deel van die Christen se lewe. Christene stel hulle hoop en vertroue vir tydelike én ewige dinge in die Here. Ons het die hoop op die ewige lewe saam met die Here “as ʼn anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Heb. 6:19). Iemand wat nie hierdie hoop het nie, is sonder God en sonder hoop in die wêreld (Ef. 2:12). Maar hoop sal ook eendag in ʼn finale vervulling gaan en daarna nie meer as ʼn geestelike attribuut beoefen word nie. Die liefde is egter ewig en onvernietigbaar: “Groot waters kan die liefde nie uitblus nie en riviere dit nie oorstroom nie” (Hoogl. 8:7). Daar is ʼn ewigdurende liefdesband tussen die hemelse Bruidegom en sy bruid. Dit sal vir altyd bestaan, en dít is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan – die agapé liefde van God.

Jesus Christus is die verpersoonliking van God se liefde en genade vir ʼn sondige mensdom. Sy liefde maak genadiglik ʼn geloofsverhouding met Hom moontlik. Dit stel ons in staat om in hierdie lewe Christelike uitnemendheid te bereik en gee ook aan ons die hoop om vir ewig in ʼn noue verhouding met Hom te leef. Wat ʼn voorreg om met Goddelike liefde toegerus te word en die hoë ideaal te koester om daarin gewortel en gegrond te wees (Ef. 3:17), selfs tot op die punt waarin hierdie liefde in ons vervolmaak kan word (1 Joh. 2:5). Is jy gewillig om die uitdaging te aanvaar om te sterf vir die wêreld en vir jou ou, sondige natuur, en dan agapé liefde na te jaag deur aan die beeld van Christus gelykvormig te word?

Die vyf groot eienskappe van God se liefde is die volgende:

1. Dit is ʼn ewige en onveranderlike liefde

God se liefde bestaan van ewigheid tot ewigheid. Dit is nie tydelik en verbygaande van aard nie. Ons leef in ʼn sondige wêreld waarin alle dinge aan die verganklikheid onderworpe is. Niks het ewigheidswaarde nie, daarom kan hierdie wêreld geen blywende geluk aan jou bied nie. Die meeste mense is weens hulle vleeslikheid en sondige natuur onbetroubaar en veranderlik. Goedgesindheid gaan dikwels oor in kwaadwilligheid, aanvaarding in verwerping, toegeneentheid in afsydigheid, en liefde in liefdeloosheid, veragting of selfs haat.

God se liefde is egter ewig en onveranderlik. Dit gee aan jou iets om voor te lewe waarop jy altyd kan peil trek en wat niemand van jou kan wegneem nie – selfs nie die dood nie. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Rom. 8:37-39). Agapé liefde maak die lewe oor en oor die moeite werd omdat dit ʼn saak is wat jou oor die grense van tyd en ruimte aan die ewige God Self verbind. Die mees verhewe en sinvolle gedagtes wat die mens kán bedink is oor die liefde van God. ʼn Verslaggewer het by geleentheid aan ʼn professor in Afrikaanse letterkunde gevra wat die mees betekenisvolle en mooiste woorde is wat sy ooit gelees het. Hierdie dame is ʼn diep gelowige en is benewens die Bybel goed belese in die Afrikaanse, Engelse en Franse letterkunde. Sy het sonder huiwering die eerste paar woorde van 1 Korinthiërs 13:8 aangehaal: “Die liefde vergaan nooit nie” (1983-vertaling).

Wat ʼn aangrypende gedagte: Die liefde van God vergaan nooit nie! Dit is ʼn lewendmakende, onvervreembare en onverganklike geskenk van God self. Dit bied aan jou oneindig meer as wat dit van jou vra. Al wat dit van jou vra is ʼn bereidwilligheid om deur hierdie liefde herskep te word. Jy moet uit jou lewe van sondigheid, kortsigtigheid en materialisme opstaan, jou tot die lewende God bekeer deur in Hom te glo, en ʼn lewe te lei waarin jy Hom deur die Here Jesus sal liefhê en jou hoop vir tyd en ewigheid in Hom alleen sal stel.

Christene het die versekering dat ons in hierdie liefde bewaar sal word en dat niemand ons uit die Here se hand kan ruk nie (Joh. 10:28). Daar is egter ʼn voorwaarde aan hierdie belofte verbonde, en dit is dat ons sal aanhou om na die Here se stem te luister en sal volhard om Hom te volg (Joh. 10:27; vgl. Joh. 15:4-6; Heb. 3:14; Kol. 1:23; Op. 2:25-26). Ons moet getrou bly.

2.  Dit is ʼn liefde wat gee

God se liefde het ʼn uitwaartse gerigtheid deurdat dit uitreik na ʼn wêreld in sy nood. Dit is waarom Hy die kosbaarste van alle geskenke vir die wêreld kon gee, naamlik sy eniggebore Seun wat Homself vir ons sondes geoffer het: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Daar is nie ʼn groter offer as dit nie: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:13). Hy is die goeie Herder wat sy lewe vir die skape afgelê het.

Hierdie eienskap van God se liefde is presies die teenoorgestelde as dié van die sondige mens wie se sinne deur Satan verblind is. Die gevalle mens het ʼn verwronge, hebsugtige en selfgerigte liefde. Hy is opgeblase, vol van homself en praat graag groot. Hy het homself ten koste van andere lief. Dit wat hy sien, begeer hy en wil dit vir homself inpalm. Hy wil nie homself verloën en aan ander gee nie, want hy het geen ware meegevoel nie en gee nie regtig om as die onheile ander mense tref nie. Hy het net diegene lief uit wie hy iets kan kry, en vir wie hy kan gebruik en ook misbruik om sy eie doel te bereik. Hy word verbitterd as hy nie sy sin kry nie, en is sterk op vergelding ingestel.

Hoe anders is die rein, suiwer, herskeppende en onselfsugtige liefde van God nie! Dit is só groot en opreg dat dit alle sondaars insluit. “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Hy het alle mense lief, reik uit na hulle in hulle sondige toestand en bied aan om hulle geestelik lewend te maak deur hulle uit die duisternis te lei tot sy wonderbare lig. Hy dra almal se ewige belange op die hart en wil nie hê dat een verlore moet gaan nie maar dat almal gered moet word (2 Pet. 3:9).

3.  Dit is ʼn liefde wat kan vergewe en vergeet

God se liefde vergewe algeheel en ongekwalifiseerd – só volkome dat Hy nooit weer een keer na die sonde wat vergewe is, verwys nie. Hy werp dit in die diepte van die see en dink nie weer daaraan nie (Miga 7:19; Jer. 31:34). Hy reken die kwaad nie toe nie en verwyt mense nie vir sondes wat bely en laat staan is nie. Selfs al sondig sy kinders weer, dan raak Hy nie teen hulle verbitterd nie, en vergewe maar weer. Jesaja 55:7 sê Hy vergeef menigvuldiglik.

Mense wat teruggeval het, soos bv. die verlore seun in die gelykenis, moet net bereid wees om na hulle Vader terug te keer en hulle saak met Hom reg te maak. Hulle sal in Hom ʼn liefdevolle en vergewensgesinde Vader vind wat opnuut vir hulle ʼn feesmaal in sy koninkryk sal berei. Hy sal hulle nie donker aankyk as hulle met berou na Hom terugkeer nie (vgl. Jer. 3:12).

Hoe anders tree die gevalle mens nie op nie, hoe onopreg is sy liefde nie, en hoe traag is hy nie om volkome te vergewe en ʼn saak vir altyd te bedek nie. Salomo sê: “Wie ʼn oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ʼn saak weer ophaal, skei vriende van mekaar” (Spr. 17:9). Nie net vriende se paaie skei as gevolg van liefdelose beskuldigings nie, maar ook dié van huweliksgenote. Mense wat nie met die liefde en vergewensgesindheid van God vervul is nie, raak maklik verbitterd teenoor mekaar, grawe ou koeie uit die sloot, en beskuldig mekaar opnuut oor en weer. Waar is die gesindheid van Christus, om dinge wat reggemaak is nooit weer op te haal en sodoende te laat herleef nie?

Ons het die volgende duidelike opdrag oor vergewensgesindheid: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ʼn klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kol. 3:13-15). God se liefde help ons om uit te reik na ander, om te vergewe, ja, selfs 70 maal 7 keer, om wonde te genees en gebroke verhoudings te herstel.

4. Dit is die wet van die Nuwe Testament

Om in die liefde van God gewortel en gegrond te wees, is die geheim van ʼn lewe van volkome geestelike vervulling. Dit is waarom ons in die Nuwe Testament net een omvattende wet of lewensbeginsel het, en dit is die wet van die liefde. As jy die Here liefhet met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en met al jou kragte, dan sal jy aan Hom getrou bly en nooit die knie voor ander gode buig nie. As jy jou naaste liefhet soos jouself, dan vervul jy al die wette wat jou verhouding met jou medemens reël: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:10).

Liefde moet die hoof kenmerk van die Christen se lewe wees. In sy Hoëpriesterlike gebed het Jesus aan die Vader gesê: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Joh. 17:26). Aan die dissipels het Hy gesê: “ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34-35). Jou lewe, gesindhede en werke moet deur Goddelike liefde gekenmerk word, en nie deur dienstigheid aan die letter van die Ou-Testamentiese wet nie. Goddelike liefde is dinamies, dit bevorder Christusgelykvormigheid, en word prakties gedemonstreer deur morele en geestelike kenmerke wat ver bokant die eise van die Ou-Testamentiese wet is.

Daar is dus baie goeie redes waarom Paulus sê: “... die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Die genade van die Here is die uitvloeisel van sy liefde, en dit het ʼn dryfkrag en dinamiek wat die mikpunte van die wet ver te bowe gaan (Tit. 2:11-13). Hierdie genade rig nie alleen ons morele en geestelike voetstappe deur die lewe nie, maar maak die Here Jesus ʼn lewende werklikheid in ons lewe, bevestig sy Godheid en skep ook in ons harte die salige hoop op Christus se wederkoms wanneer Hy skielik in die midde van sy bruidsgemeente sal verskyn.

5. Dit is grensloos

Ons kan geen grense stel of beperkings plaas op die liefde van Jesus nie. Ons moet daarvan bewus wees dat dit elke aspek van ons bestaan insluit. Paulus sê in sy gebed vir die Efésiërs: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, … dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:14, 16-19).

Hoewel ons van die rykdom van God se liefde bewus kan wees in soverre dit in al ons behoeftes kan voorsien, beteken dit nie dat ons dit ten volle kan deurgrond nie. God se liefde in Christus Jesus is onpeilbaar en grensloos. Dit is breër as die wêreld, dieper as die diepste see en hoër as die hoogste hemel. Die volle omvang van God se agapé liefde oortref die denke en begrip van die mens in elke dimensie daarvan:

Die breedte daarvan. God se agapé liefde is nie eng en beperkend nie, want dit sluit alle aspekte van ons bestaan in. Dit wil ons hele lewe vernuwe. Sy liefde kan ook nie beperk word tot net een volk (bv. Israel) of slegs ʼn groep uitverkorenes uit alle volke nie – nee, dit sluit alle mense op aarde in. So lief het God die (héle) wêreld gehad dat Hy sy Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word (Joh. 3:16). Hy wil nie hê dat sommige (selfs nie een nie) verlore moet gaan nie maar dat almal gered moet word (2 Pet. 3:9).

Die lengte daarvan. God se liefde strek van die grondlegging van die wêreld af tot in die verste toekoms – van ewigheid tot ewigheid. Hy het vir sy volk in die Ou Testament gesê: “Ek het jou liefgehad met ʼn ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid” (Jer. 31:3). Die nuwe lewe wat ons by Hom kry, word die ewige lewe genoem, omdat selfs nie eers die onbepaalde verloop van tyd ʼn einde daaraan kan bring nie.

Die diepte daarvan. God se neerbuigende liefde kan die diepste en mees gevalle sondaar uit die kuil van vernietiging optrek en sy voete op ʼn rots sit. Daar is niemand wat so laag kan daal dat die Here nie sy siel kan red nie. Die verlorene moet net tot God roep om hulp.

Die hoogte daarvan. Daar is ook ʼn opwaartse dimensie in ons verhouding met God. Paulus praat van die hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14). Die Here wil ons ophef en laat uitstyg bo ons omstandighede. In ʼn ruimtelike sin is daar ʼn hoë hoogte waarvoor ons bestem is, naamlik die hemelse woning wat Christus vir ons gaan voorberei het. Paulus sê hy is weggeruk tot in die derde hemel waar hy in die Paradys was (2 Kor. 12:1-4). Die Bybel verwys na die eerste hemel as die atmosferiese hemel waarin die voëls van die hemel vlieg (Matt. 6:26); die tweede hemel is die groot sterrehemel wat ons in die nag kan sien (Matt. 24:29); terwyl die derde hemel waarin God woon, nog hoër as dit is (Luk. 2:14; Ef. 4:10).

Aan die einde van die kerkbedeling sal die Here Jesus uit die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met geklank van die basuin van God. Dan sal dié wat in Christus gesterf het eerste opstaan; daarna sal ons (dié wat nog lewe) in ʼn oogwink verander word na onsterflikheid en saam met hulle weggevoer word die Here tegemoet in die lug (1 Thess. 4:16-17; 1 Kor. 15:51-53). Dan word ons opgeneem na ons ewige woning in die hemel.

Is jou lewe volkome onder die beheer van God se herskeppende, onveranderlike, en ewige liefde? Dan sal daar by jou ʼn groot verlange wees dat ander mense dit ook deelagtig sal word.

Kom ons kyk kortliks hoe lyk ʼn hart en lewe wat deur hierdie liefde herskep is.

ʼn Hart vervul met liefde

Paulus sê: “... die liefde van God [is] in ons harte uitgestort ... deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Hierdie liefde verander ons lewens geestelik, intellektueel en emosioneel.  Op ʼn geestelike vlak ervaar ons ʼn diep liefde vir God, vir ons medebroeders en -susters in die Here, vir almal naby aan ons, en ook vir ʼn verloregaande wêreld. Ons bedink net die beste vir almal en wil baie graag sien dat die verlorenes gered word. Op intellektuele vlak gee die Heilige Gees aan ons “verligte oë van die verstand” – dit is Goddelike wysheid om alles in die wêreld uit ʼn Bybelse oogpunt te kan verstaan (Ef. 1:17-18). Op die emosionele terrein verkry ons die blydskap van die Here, asook die ingesteldheid van besorgdheid oor die verlorenes, diepe meegevoel met die lydendes, verdraagsaamheid teenoor ons kritici en al die dwalendes, selfbeheersing, asook die vermoë om die kwaad deur die goeie te kan oorwin.

Kenmerke van hierdie aard word deur die Heilige Gees in ons harte gevestig, en as ons Hom toelaat om dit ongehinderd te doen sonder die weerstand van ʼn ongekruisigde vlees, sal die vrug van die Gees in ons lewens sigbaar wees. Paulus sê: “... die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22). Dit is die eienskappe of gesindhede van ʼn hart en lewe wat deur die Heilige Gees met Goddelike liefde vervul is.

Die eerste drie vrugte beskryf ons verhouding met God, die tweede drie ons verhouding met ons medemens, terwyl die laaste drie vrugte die aard van ons persoonlike lewe beskryf:

Ons verhouding met God

Liefde. God is liefde. God se liefde was die beweegrede waarom hy jou siel gered het. Om dit moontlik te maak, het Hy sy Seun na die wêreld gestuur om ʼn losprys vir die redding van sondaars te betaal. Toe jy hierdie agapé liefde ontvang het, het dit jou uit die duisternis laat oorkom tot in die wonderbare lig van Christus. Dit het ʼn ewige liefdesband tussen jou en die Here geskep, en jy dien Hom omdat jy Hom liefhet. Jy soek graag sy teenwoordigheid op, besing sy lof, eer Hom en roep dikwels sy Naam aan in gebed.

Blydskap. Daar is ʼn Goddelike blydskap in jou hart oor die groot verlossing wat jy as ʼn geskenk ontvang het, en jy verbly jou elke dag in die Here. Saam met die begenadigde koning Dawid kan jy sing: “Loof die HERE, o my siel en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf. ... So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ʼn vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees” (Ps. 103:2-4, 12-13). Die blydskap van die Here is ons beskutting (Neh. 8:11).

Vrede. In jou hart is daar ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan, want die Here Jesus is jou vrede. Hy het gesê: “... my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27). Die wêreld se vrede is vals, maar die Here se vrede is ʼn diep, innerlike wete dat jou sonde vergewe is omdat jy met God versoen is. Jy hoef niks te vrees nie omdat jy nie in die oordeel van sondaars sal kom nie. Jy weet ook dat geen vyandige magte, benoudheid, vervolging of enige probleme en aanslae jou ooit sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom. 8:34-39).

Ons verhouding met ons medemens

Wanneer Goddelike liefde in aksie gestel word teenoor jou medemens, manifesteer dit deur die volgende drie gesindhede:

Lankmoedigheid. Jy is nie meer haatdraend en veroordelend teenoor mense nie, maar lankmoedig. Jy kry hulle jammer en bid vir hulle, selfs jare lank, sonder om moedeloos te word en hulle af te skryf. Die Here het dalk lank vir jou gewag om tot Hom te nader, en jou in die proses baie kanse gegee, daarom hou jy vas aan sy belofte om ook andere te red, selfs al mag hulle op die oomblik ʼn onbekeerlike houding inneem.

Vriendelikheid. Jy is ook ʼn vriendelike en gasvrye mens wat nie net vir jouself lewe nie, maar tyd het vir ander en ook na hulle uitreik. Selfsug, jaloesie en die hartelose bevordering van eiebelang is nie kenmerke van Goddelike liefde nie.

Goedheid. Jy  doen goed aan mense en gee wat jy kan om in ander se nood en behoefte te voorsien. Paulus sê: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10).

Ons persoonlike eienskappe

Die derde groep vrugte is persoonlike karaktertrekke wat jy met die Heilige Gees se hulp en deur selfdissipline ontwikkel. Wanneer jy dit doen, sal jy as ʼn dissipel van die Here Jesus herken word, sy beeld en gesindhede in jou lewe vertoon en waarlik in sy voetspore volg.

Getrouheid. Jy is getrou in al jou verantwoordelikhede, bowe-al t.o.v. jou stiltetye, en nie ʼn agtelosige en gedisorganiseerde mens wat jou pligte versuim nie.

Sagmoedigheid. Jy het ʼn  welwillende gemoed, wat beteken dat jy nie hard, ongenaakbaar en genadeloos is nie, maar iemand wat vol deernis is vir ander in hulle nood. Sagmoedigheid beteken ook dat jy nie ʼn hart van klip het wat hom teen die Here se Woord verhard nie. Jy het ʼn leerbare gees en laat jou deur die Woord van die Here én deur ander mense vermaan.

Selfbeheersing. Hierdie persoonlikheidseienskap beteken dat jy nie impulsiewe dinge doen of sê waaroor jy later verskoning moet vra nie. Jy maak nie in ʼn oomblik van drif afbrekende opmerkings wat uit ʼn ongekruisigde vlees voortkom nie, want dit sou beslis nie die vrug van die Gees wees nie. Hoe ken mense jou in die alledaagse lewe? Salomo sê: “Die lankmoedige is beter as ʼn held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ʼn stad inneem. … Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm van gees is, is ʼn man van verstand” (Spr. 16:32; 17:27). In die Nuwe Testament word hierdie kosbare gesindheid saam met die ander wat genoem is, as die vrug van die Heilige Gees beskryf. Jy het die Here se genade nodig om aan hierdie standaard te kan voldoen, omdat die vrugte wat genoem is, uitdrukkings van die Goddelike natuur is.

Is hierdie nege vrugte van die Gees ook ʼn beskrywing van jou lewe as Christen? Indien nie, bely die feit dat jy die Heilige Gees so dikwels deur jou gedagtes, begeertes, gesindhede, woorde en dade bedroef. Maak die saak met die Here uit en onderwerp jou volkome aan die gesag van die inwonende Gees van God. Hy sal jou in die weë van geregtigheid lei en jou hart opnuut met die liefde van God vervul. Hierdie liefde is die grondslag van die Goddelike natuur, en elke Christen moet daarna streef om volkome in die lig daarvan te wandel.

Is jou hart – die geestelike sentrum van jou lewe – met agapé liefde vervul? Is jy ten volle bewus van die ewige en lewensveranderende band wat dit tussen jou en die Here Jesus skep? Kom daar ook bewondering en blydskap in jou hart op as jy in 1 Korinthiërs 13:8 lees: “Die liefde vergaan nooit nie”? As daar enigiets in jou lewe is wat die Heilige Gees bedroef en teen die beginsels van hierdie liefde inwerk – dalk bedekte hoogmoed, wêreldgesindheid en vleeslike hartstogte – bely en laat staan dit dadelik. Vra die Here Jesus om jou van elke besoedeling van die vlees en die gees te reinig en jou opnuut met sy agapé liefde te vervul. Daar is geen beter lewe as om ʼn hart te hê wat deur die Heilige Gees met God se liefde vervul is nie. Dit is God se weg na geestelike vernuwing, ware geluk en vrugbare diens in sy koninkryk.

Humanistiese plaasvervangers vir agapé liefde

Terwyl ons ingestel is op die uitnemendheid van agapé liefde as ʼn lewensveranderende liefde met ʼn sterk geestelike betekenis, moet ons altyd daarvan bewus wees dat daar ʼn humanistiese nabootsing daarvan is wat geen geestelike waarde het nie. Humanisme is ʼn ideologie of lewensuitkyk wat op sekulêre ideale ingestel is en dus slegs rasionele oplossings vir menslike probleme nastreef. Humaniste is nogtans eerlik begaan oor diegene wat in die nood is en toon menslike meegevoel deur hulp te bied aan die slagoffers van oorloë, revolusies, natuurrampe, armoede, hongersnood, werkloosheid, gebrek aan behuising, siektes, die miskenning van menseregte, en verskeie ander ellendes. Liefde vir hulle medemens is egter die weldoeners se enigste beweegrede, daarom staan hulle bekend as filantrope (afgelei van filo en antropos, dit is liefde vir mense). Goddelike liefde is nie die dryfkrag in hulle benadering van materiële hulpverlening aan die lydendes nie. Regerings, agentskappe van die Verenigde Nasies en groot humanitêre hulporganisasies is die belangrikste rolspelers in noodleniging.

Ten einde verwarring te voorkom, beskryf Christene hulleself nie as filantrope nie maar eerder as evangeliese gelowiges wat ook by welsyns- en barmhartigheidsdienste betrokke is. Hulle belangrikste doelwit is egter altyd evangelies van aard en dus op geestelike wedergeboorte ingestel. Ware geestelike verligting bevorder ʼn lewenstyl van sinvolle ontwikkeling wat die individu ophef uit sy geestelike verduistering, bygeloof, immoraliteit, onderontwikkeldheid en fatalistiese lewensuitkyk.

Ongelukkig is daar Christene wat hulle roeping en geestelike missie na ʼn ongeredde wêreld verloor, en dan oormatig betrokke raak by humanistiese aksies en sosiale opheffing. Die gevaar is dat hulle dan in die eerste plek kampvegters word vir menseregte, sosio-ekonomiese en politieke hervormings wat reeds in verskeie lande gelei het tot ʼn vorm van bevrydingsteologie wat geen geestelike inhoud het nie. Wanneer kerke verpolitiseer raak, begin hulle om ʼn menslik-gedrewe koninkryksteologie na te jaag wat geen verband het met die geestelike koninkryk van God nie. Hulle hou steeds ʼn uiterlike gedaante van godsaligheid in stand, maar hulle het die ware krag daarvan verloën, naamlik agapé liefde wat alleen in staat is om mense geestelik te transformeer en hulle lewens van binne af te verander.