Die Dispensasies van God – Is Jou Perspektief Reg?

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2010)

In die menslike geskiedenis op aarde, vanaf Adam en Eva in die paradys, is daar ‘n progressiewe openbaring van God en sy raadsplan deur die eeue heen, totdat tyd verby sal wees en die mens sy ewige bestemming bereik. In die raadsplan van God kan daar sewe duidelike dispensasies, of bedelings, onderskei word wat deur toenemende kennis van goed en kwaad gekenmerk word. Soos wat die dispensasies mekaar opvolg, kom daar groter duidelikheid oor die koninkryk van Christus wat by sy wederkoms in al sy heerlikheid en uitnemendheid geopenbaar sal word. Daar kom ook groter duidelikheid oor die opponerende koninkryk van die duisternis wat tydens die Antichris se bewind in al sy boosheid en verdorwenheid geopenbaar sal word.

Hoewel daar sekere tydlose beginsels is wat in al sewe die dispensasies dieselfde bly, soos bv. God se geregtigheid en sy verafskuwing van sonde, word daar ook in elke nuwe dispensasie nuwe beginsels gevestig. Hierdie verskille is soms só belangrik dat ‘n gebruik wat in een dispensasie hoog aangeskrewe was, bv. die besnydenis in die Ou Testament, in die daaropvolgende kerkbedeling as ‘n daad van die verloëning van Christus beskryf word. Paulus sê vir die wettiese Galasiërs: “Ek sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie” (Gal. 5:2).

Die sewe dispensasies in God se heilsplan vir die mens is die volgende:

1. Die bedeling van onskuld

Die heel eerste bedeling waarin Adam en Eva in die paradys was, was die bedeling van onskuld, omdat hulle geen kennis van goed en kwaad gehad het nie. Die Here het aan hulle sekere opdragte gegee, wat ook ‘n verbod op die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit het. As hulle hiervan sou eet, sou hulle sekerlik sterwe (Gen. 2:17). Satan het vir Adam en Eva op ‘n listige wyse verlei om God se opdrag te oortree en van die boom se vrugte te eet (Gen. 3:1-5). Hierdeur het hulle nie net van die  onderskeid tussen goed en kwaad bewus geword nie, maar self slagoffers van die kwaad geword. Omdat hulle teen God gerebelleer en na die duiwel geluister het, het hulle ‘n sondige natuur gekry en geestelik gesterf. Hulle het ook fisies sterflike mense geword. Adam en Eva se sondige natuur is deur al hulle afstammelinge geërf, daarom verwys ons na die sondige natuur waarmee ons gebore word, as ons erfsonde (Rom. 5:12). Hierdie toestand kan slegs deur ‘n geestelike wedergeboorte verander word. Die bedeling van onskuld is deur die sondeval beëindig en Adam en Eva is uit die paradys verdryf.

2. Die bedeling van die gewete

Vir ‘n lang tyd ná die sondeval, het die mens deur middel van die stem van sy gewete tussen goed en kwaad onderskei. Hy het geen ander voorskrifte gehad om na te volg nie. Kain het ten spyte van hierdie gewetenskennis steeds die sonde verkies en dit gedoen (Gen. 4:7-8). Daarteenoor het verskeie mense na aanleiding van hulle innerlike oortuigings geregtigheid nagestreef en ook getuienis ontvang dat hulle God behaag het. Die Here het Homself aan hierdie mense geopenbaar en selfs met hulle gepraat. Baie van hulle het predikers van geregtigheid geword wat die wil van God aan ander bekend gemaak het, bv. Abel, Henog en Noag. Gedurende hierdie bedeling het boosheid só intens en algemeen geraak dat God se toorn oor die hele mensdom ontvlam het. In die sondvloed het almal behalwe agt mense omgekom.

3. Die bedeling van menslike regerings ná die vloed

Die Here het ná die vloed ‘n verbond met Noag gesluit (Gen. 9:1-9), en daarna die leiers van familiegroepe of volke vir hulle besluite en die welsyn van hulle volgelinge verantwoordelik gehou. Volgens Romeine 13:1 is hierdie magte, of menslike regerings, deur God ingestel. In Genesis 10 is daar ‘n lys afstammelinge van Noag deur Sem, Gam en Jafet, wat almal familiehoofde en later hoofde van volke geword het. Wanneer hierdie regerings in afgodediens verval het, is hulle hierin deur die hele groep nagevolg. Abraham was ook ‘n patriarg met ‘n groot gevolg, maar hy het in God geglo en sy volgelinge geleer om God te dien. Die konsolidering van menslike magte het by die vestiging van die Babiloniese ryk tot ‘n wêreldregering en uiterste vorm van rebellie teen die koninkryk van God gelei. Dit het die grondslag vir talle goddelose volksregerings en wêreldregerings gelê wat daarna gevolg het, maar ook die moontlikheid vir godvresende regerings ingehou.

4. Die bedeling van die wet

By Sinai het die bedeling van die wet aangebreek, waarin die onderskeid tussen goed en kwaad baie meer eksplisiet uitgespel is. God het nie net in die Tien Gebooie nie, maar ook deur ‘n groot aantal verordeninge en insettinge, aan sy volk opdragte gegee oor wat hulle móés doen en nie toegelaat was om te doen nie. Sodoende moes Israel God se ryk én Satan se ryk beter leer ken. Ten spyte van ernstige waarskuwings het hulle herhaaldelik die afgode van die heidennasies rondom hulle aanbid omdat hulle innerlike motivering om die Here te dien, swak was. Hulle het hul harte verhard en geweier om hulle tot die Here te bekeer en sy wette te gehoorsaam (Jer. 5:3; 23:14; 44:5).

5. Die bedeling van genade (kerkbedeling)

Die bedeling van genade word ook die kerkbedeling of die bedeling van die Heilige Gees genoem. Ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus, is die Heilige Gees uitgestort om mense te wederbaar en in die hele waarheid te lei. Omdat Hy hulle van sonde en geregtigheid oortuig, verkry hulle nou veel dieper insig in die onderskeid tussen goed en kwaad. Die goeie sluit ‘n dieper kennis van God deur Jesus Christus in, soos in die boeke van die Nuwe Testament vervat. Die duiwel en sy werke word ook tot ‘n groot mate in hierdie bedeling geopenbaar (Kol. 2:15). Ons weet veel meer van Satan, sy demone en hoe hulle te werk gaan om mense te verlei. Ons ken egter nog nie ten volle nie (1 Kor. 13:9) hoewel ons verligte oë van die verstand het (Ef. 1:18) om veel meer as in vorige dispensasies oor lig en duisternis te kan verstaan. Omdat die goddelike agape-liefde die grondbeginsel van ons lewe is, stel die Heilige Gees ons in staat om daarin gewortel en gegrond te wees, om saam met al die heiliges ten volle te kan begryp wat die breedte, lengte en diepte van Christus se liefde is, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:16-19). Die Heilige Gees laat die hemelse lewe van Christus in ons gestalte aanneem. Ons moet daarin toeneem, sodat Christus meer kan word en ons minder (Joh. 3:30).

6. Die bedeling van die Antichris se regering

Wanneer die teëhouer, naamlik die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees, deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:6-12). Hy sal deur die hele wêreld as godsdienstige en politieke leier aanvaar word (Op. 13:3-8). Dit sal ‘n hele nuwe bedeling inlui waarin die hele mensdom deur die krag van die dwaling mislei sal word om die Antichris na te volg en te aanbid. Die kwaad sal dan tot sy volle ontplooiing kom en dit sal ‘n tyd van ongekende demoniese aktiwiteit wees en Satan sal as die god van hierdie wêreld vereer word (Op. 12:12; 13:4; 2 Kor. 4:4). In teenstelling hiermee sal die kerk wat weggeraap is, met verheerlikte opstandingsliggame beklee word om die goeie ten volle te ken. Hulle sal Jesus Christus van aangesig tot aangesig sien en nooit weer van Hom geskei word nie (1 Thess. 4:16-17).

7. Die bedeling van die koninkryk

In die duisendjarige vrederyk sal die ware gelowiges van alle tye saam met Christus in sy koninkryk regeer (Op. 5:10; 20:6). As verheerlikte wesens sal hulle nie meer aan pyn, droefheid, ellende en die dood onderworpe wees nie, en ook nie meer deur ander vorms van onvolmaaktheid geteister en beperk word nie. Hulle kennis van God sal volmaak wees. In daardie tyd sal die geestelik herstelde Israel die lof van die Here oral verkondig, en die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Jes. 11:9). Die duiwel sal gebind wees (Op. 20:2-3) en die Here se vrede en geregtigheid sal oral op aarde heers. Harmonie en goeie orde sal ook in die natuur heers. Uiteindelik sal hierdie sewende bedeling opgevolg word deur die nóg beter orde van die ewige nuwe hemele en nuwe aarde.

Wet en genade

Ons bevind onsself tans in die kerkbedeling, wat die bedeling van genade is. Hierdie bedeling is deur die soendood van Jesus aan die kruis moontlik gemaak en het begin op die dag toe die Heilige Gees uitgestort is om mense van sonde te oortuig, hulle te wederbaar, te vervul en in die hele waarheid te lei. Voor Christus se kruisdood het die wet nog gegeld en is mense beveel om die wet te onderhou. Daarna moes hulle egter vir redding na Christus kom en deur die Gees wandel as hulle teen sonde en die vlees wou oorwin. Die Here Jesus het al die offers en feeste van die Ou Testament vervul en sodoende ‘n nuwe bedeling ingelui.

Dit is nodig dat ons ‘n duidelike en volkome oorgang na die bedeling van die genade moet maak en nie die Ou Testamentiese wet en Christus se genade met mekaar sal probeer vermeng nie, want dan trek ons die mat onder onsself uit. Paulus sê: “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Ons word slegs deur geloof gered op grond van die genadewerk van die Here Jesus aan die kruis. Die Heilige Gees, en nie die wet nie, oortuig ons van sonde, geregtigheid en oordeel. Sonde word in die Nuwe Testament as die werke van die sondige vlees uitgespel, en sluit alles in wat van die geregtigheid van Christus afwyk. Ons opdrag is nie om aan die wet gelykvormig te word nie, maar aan die heiligheid van God soos deur Jesus Christus aan ons geopenbaar.

Indien ons op enige manier ons saligheid deur Ou Testamentiese wetsnakoming probeer aanvul, ongeag of dit die besnydenis, sabbatsonderhouding of wat ook al is, dan doen ons afbreuk aan Christus se genade en trek ‘n streep deur ons redding. Baie van die Galasiërs het dit gedoen, en Paulus het hulle op die ernstige gevolge hiervan gewys: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Dit verwys na mense wat reeds deur genade gered was, maar wat daarna as gevolg van hulle wettisisme hulle redding ongedaan gemaak het.

Ons is ook nie ná ons redding ter wille van morele standaarde aan die wet onderhorig nie, maar wel aan die beginsels van God se genade: “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Die wet maak van mense slawe van die sonde, want dit oortuig hulle net van sonde maar kan hulle nie daarvan verlos nie. Wanneer die Heilige Gees ons egter van sonde oortuig, lei Hy ons na die kruis waar ons volle verlossing daarvan kan kry.

Tydens wedergeboorte verkry ons die nuwe natuur van Christus wat op die beginsels van God se liefde en genade gebaseer is. As ons ‘n volle oorgawe aan die Here maak, vervul die Heilige Gees ons lewe en stort die liefde van Christus ryklik in ons harte uit (Rom. 5:5). Wanneer ons volgens die eise van Christus se liefde leef wat uit genade aan ons geskenk is, het ons die wet vervul: “Want dit: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Rom. 13:9).

Ons is trouens op ‘n baie hoër vlak as die wet, want die Heilige Gees oortuig ons van sondes wat nie eers deur die wet genoem word nie. Hy moedig ook Christelike deugde aan waarvan die wet geen melding maak nie, bv. evangelisering, gebed, vervulling met die Heilige Gees en geestelike weerbaarheid deur die gebruik van ‘n Bybelse wapenrusting. Die liefde van Christus wat uit genade aan ons geskenk is, het sy eie aard en beginsels wat ons leer en aanspoor om op ‘n baie hoër vlak van toewyding te leef as wat die wet van mense verwag het: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Die Nuwe Testamentiese grondwet, of lewensbeginsel, is die liefde van Christus. Hy het vir sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). Uit hierdie gebod vloei verskeie ander Nuwe Testamentiese gebooie of bevele, asook die Groot Opdrag om die hele wêreld te evangeliseer. Die wet van Christus moet nie met die Ou Testamentiese wet verwar word nie.

Waarom wil mense hierdie verhewe lewe wat binne die raamwerk van die Here Jesus se liefde onder die leiding van die Heilige Gees geleef word, na die skaduagtige gebruike van die wet verlaag? Daar was onder die Galasiërs gelowiges wat weer begin het om die Ou Testamentiese Sabbatte en sabbatsjare te vier. Paulus sê vir hulle: “Noudat julle God ken... hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het” (Gal. 4:9-11).

Waarom wil ons na die skaduwee van die wet terugkeer as ons die volle vervulling daarvan in die Nuwe Testament het? Daar was egter in die vroeë kerk Judaïseerders wat rondgegaan en verkondig het dat redding in die Naam van Jesus nie genoeg was nie – gelowiges moes ook die wet van Moses onderhou om saligheid te kon verkry. Kort nadat Paulus en Bárnabas in Handelinge 13 afgesonder is om die heidene te evangeliseer, het Judaïseerders probeer om die juk van die wet op hierdie bekeerlinge te plaas. Dit het ook onder die dissipels tot ‘n twispunt gelei, en dit het volgens Handelinge 15 na die eerste sinodesitting van die vroeë kerk in Jerusalem gelei. Die besluit op hierdie vergadering was dat die heidene nie onder die wet is nie omdat die Here hulle harte deur die geloof reinig op grond van sy genade (Hand. 15:8-11). Die heidene was nooit onder die wet nie – nie voor hulle redding nie en ook nie daarna nie.

Israel was wel onder die wet en hulle het vir eeue lank offers gebring, wat almal vervul is deur die slag van Christus as die Lam van God. Die Messias het vir hulle gedoen wat die wet nie kon doen nie, naamlik om hulle van sonde te verlos. Die wet het hulle in bewaring gehou en was vir hulle ‘n tugmeester na Christus toe. Ná hulle redding het hulle egter nie meer ‘n tugmeester nodig nie omdat hulle deur die Heilige Gees gelei word (Gal. 3:24-25).

Dit is van die allergrootste belang dat ons sal vasstaan in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het, streng volgens die beginsels van sy goddelike liefde sal wandel, en onsself nie onder die juk van diensbaarheid aan die wet sal bring nie. Ons moenie in die kerkbedeling onder die skadu van die wet probeer leef en sodoende die beginsels van Christus se reddende genade ondermyn en deur wette probeer aanvul nie.

Wanneer ons die hoë morele standaard van die lewe in Christus oortree, dan bedroef ons die Heilige Gees. Die oplossing hiervoor is nie om na die wet terug te keer nie, maar om onsself meer intiem met Christus te vereenselwig: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14). Ons moet dus deur die Gees in die voetspore van Christus wandel sodat Hy volle gestalte in ons kan verkry – dan sal Hy ook vir ons die einde van die wet tot geregtigheid wees. Wanneer my hart deur sy liefde vervul is, het ek nie uiterlike wette nodig om my verhouding met God en ook my verhouding met ander mense te reël nie, want hy wat waarlik liefhet, het die wet vervul.

Koninkryksteologie

Die bedeling van genade word egter nie net ondermyn en kragteloos gemaak deur dit met die bedeling van die wet te vermeng nie, maar daar is ook diegene wat ‘n valse karakter daaraan verleen deur dit met die toekomstige bedeling van die koninkryk van God op aarde te vermeng. Indien die toekomstige dispensasie van die koninkryk – dit is die duisendjarige vrederyk van Christus – nie duidelik van die huidige kerkdispensasie onderskei word nie, kan dit tot groot teologiese verwarring en verkeerde verwagtings lei. Wanneer hierdie twee bedelings saamgegooi word, lei dit na ‘n vorm van koninkryksteologie (Engels: kingdom now) waarin tekens en wonders nagestreef word, asook transformasiebyeenkomste en mensgemaakte herlewings met die oog op die verwagte oorname van die wêreld. Baie Christenleiers wil nóú soos konings leef en groot magte beoefen.

Dit is totaal onmoontlik om nou reeds op aarde toestande soortgelyk aan die millennium te probeer skep. Slegs die Here Jesus kan die oorblyfsel van Israel én die nasies red, die duiwel in 'n put laat bind, die troon van Dawid herstel en verseker dat vrede en harmonie op aarde heers. As ons bereid is om nou te ly en ons bediening te midde van groot teëstand te vervul, sal ons waardig wees om saam met Christus in sy geopenbaarde koninkryk te regeer (Rom. 8:17). Ons is nie nóú konings wat regeer nie, maar soldate vir die kruis wat vreemdelinge en bywoners is in ‘n wêreld wat in die mag van die bose lê.

Dit is egter nie net misleide mense wat voor die wederkoms van Christus ‘n groot en magtige koninkryk op aarde wil vestig nie – die duiwel is ook hard besig met soortgelyke planne. Hy weet baie goed dat Christus as Koning van die konings na die aarde sal terugkeer, sy vyande sal verdelg en dan ‘n wêreldwye koninkryk van geregtigheid sal vestig. Satan span op die oomblik al sy magte in om hierdie koninkryk voor te spring deur ‘n alternatiewe koninkryk aan die mens te bied. Volgens Openbaring 6 sal die Antichris as ‘n valse vredevors op die toneel verskyn, met alle valse gelowe ‘n verbond sluit, sy vyande stelselmatig verdelg en ‘n wêreldwye koninkryk van Satan op aarde vestig.

Volgens die Bybel gaan dit inderdaad gebeur, daarom gaan daar ‘n kort maar baie duidelike bedeling van die Antichris se regering op aarde verloop tussen die kerkbedeling en die aanbreek van Christus se vrederyk. Die ware kerk is die teëhouer vir die openbaring van die Antichris. Paulus sê: “Net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is, en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8). Ná die wegraping gaan daar ‘n sewe jaar lange regering van die Antichris op aarde verloop, totdat die Here Jesus hierdie koninkryk tydens sy wederkoms sal verdelg en dan sy eie koninkryk van geregtigheid sal vestig.

Die planne en verwagtings van koninkryk-nou teoloë is dispensasioneel heeltemal buite orde. Deur hulle optrede ondermyn hulle nie alleen die beginsels van die genade-dispensasie nie, maar hulle tree in werklikheid op as wegbereiders vir die alternatiewe koninkryk van die Antichris. Die ekumeniese bande wat hulle smee, die sterk beklemtoning van tekens en wonders, hulle belangstelling in buite-Bybelse openbarings deur valse profete, asook die verloëning van die uniekheid en godheid van die Here Jesus, gaan alles deur die Antichris gebruik word om sy koninkryk op te bou. Hy sal só ‘n suksesvolle misleier wees dat min mense deur sy bedekte bedrog sal kan sien. Johannes sê dat die hele wêreld verwonderd agter hom sal aangaan en hom ook as vredemaker en messias sal aanbid (Op. 13:3-4).

Wanneer die Antichris sy koninkryk op aarde vestig, sal hy ook deur middel van die wet én die koninkryksteologie die boodskap van die ware Christus se reddende genade ondermyn. Hy sal ortodokse Jode aanmoedig om volgens die wet te leef, die tempel in Jerusalem te herbou en weer hulle geloof te stel in diere-offers. Hierdeur sal hulle die eenmalige offer van Christus aan die kruis verwerp en sodoende die aanvaarding van ‘n ander (valse) messias moontlik  maak. Die Antichris sal verder ook die derde tempel gebruik om homself in die Allerheiligste tot God en koning te verklaar (2 Thess. 2:4). Israel én die nasies sal mislei word om met hom ‘n verbond te sluit.

Die Antichris sal ‘n magtige ryk op aarde vestig wat op valse vrede en eenheid gebaseer is. Hy sal eers in die middel van die verdrukking ‘n militêre diktatuur instel wanneer opstande teen sy koninkryk uitbreek en ‘n aanslag op sy lewe gemaak word. Op daardie tydstip sal hy homself tot God verklaar. Israel en baie lede van die nasies sal dan eers besef dat hy ‘n valse messias is en hom gevolglik verwerp. Dit sal tot grootskaalse vervolging van Jode en Christene lei gedurende ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21).

Aan die einde van die 3½ jaar van groot verdrukking sal Christus terugkom, die antichristelike magte verdelg, die duiwel bind en dan sy duisendjarige vrederyk instel. Dit sal die sewende en laaste dispensasie in die raadsplan van God vir die mensdom wees. Aan die einde daarvan sal die eindoordeel plaasvind en ‘n nuwe hemel en aarde geskep word. Dan sal die smal pad en breë pad elk sy finale bestemming bereik – die een in die nuwe Jerusalem en die ander een in die poel van vuur.

Ons is nou nog in die tyd van genade en kan deur geloof in Christus van die breë pad van sonde af na die smal pad van God se geregtigheid oorgeplaas word. Het jy al uit die duisternis van sonde oorgekom na sy wonderbare lig? Hierdie bedeling spoed na sy einde en ons het min tyd om ons saak met die Here reg te maak. Weldra sal die Here sy bruidsgemeente kom haal, dan sal die Antichris sy mag oor ‘n ganse misleide wêreld uitbrei. In daardie tyd sal dit soveel moeiliker wees om ‘n Christen te word en teen die magte van die duisternis staande te bly. “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes. 55:6).