Die Rots wat die Nasies se Koninkryke sal Vernietig (Daniël 2)

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2013)

Die Here het in ’n droom aan Nebukadnésar die aard en opeenvolging van heidense koninkryke geopenbaar, vanaf die vernietiging van Israel se koninkryk deur die Babiloniese Ryk, tot aan die einde van die tye van die nasies wanneer die Antichris se węreldregering deur Christus vernietig sal word (Op. 19:19-21). Direk hierna sal die troon van Dawid deur die Messias self in Jerusalem herstel word (Hand. 15:16-17). Hierdie profetiese scenario is ononderbroke en strek regdeur die kerkdispensasie, insluitend die tyd wanneer Jerusalem steeds deur nie-Joodse heersers vertrap word: “...en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Die skielike beëindiging en vernietiging van heidense regerings in die węreld sal tydens die wederkoms van Christus plaasvind (Op. 11:15). Hy is die klip (rots) wat die beeld sal vernietig (sien Dan. 2:34-35).

Nebukadnésar het nie sy profetiese droom verstaan nie, maar Daniël het oor goddelike insig beskik en was in staat om die droom aan hom te beskryf en te verklaar:

“U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, en sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Dan. 2:31-35).

Die volgende verklaring van die droom deur Daniël is akkuraat vervul in die daaropvolgende verloop van die węreldgeskiedenis. Ons is nou op die drumpel van die finale vervulling daarvan:

“U, o koning, koning van die konings ... is die hoof van goud. En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was – dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is – ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. ... Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar” (Dan. 2:37-45).

Daniël se uitleg het ’n opeenvolging van heidense ryke aangedui wat as magtige koninkryke oor die destyds bekende węreld, en dus ook oor Israel, sou regeer. Die Babiloniese Ryk was die kop van goud. Die Here het Nebukadnésar aangestel sodat uitvoering aan God se raadsplan vir die nasies deur hom gegee kon word. Alle mense is aan sy gesag onderwerp, selfs ook die diere en die voëls. Die Babiloniese Ryk het van 626 tot 539 v.C. regeer.

Die tweede deel van die beeld was die bors en arms van silwer. Dit het gedui op die ryk van die Meders en die Perse (die twee arms van die beeld) wat die Babiloniërs in 539 v.C. oorwin en onderwerp het. Hoewel die Medo-Persiese Ryk meer as 200 jaar lank regeer het, van 539 tot 330 v.C., wat veel langer was as die Babiloniese Ryk se 87 jaar, was dit minderwaardig teenoor die Babiloniese Ryk, soos wat silwer minder werd is as goud.

Die buik en lendene van koper stel die derde koninkryk voor, naamlik die Griekse Ryk. Alexander die Grote het die Medo-Persiese Ryk in 330 v.C. verslaan en daarna hulle hele gebied beheer. Hy het die Griekse Ryk verder oos tot in Indië uitgebrei.

Die bene van yster stel die Romeinse Ryk voor. Hulle het die Griekse Ryk in 63 v.C. verower. Hoewel die Romeinse Ryk in twee dele verdeel is, soos die twee bene van die beeld, en uiteindelik in ’n mengsel van yster en klei sal eindig, was dit nogtans een ryk. Hierdie ryk is deur sy groot krag gekenmerk, soos wat yster sterker is as brons, silwer en goud. Die Romeinse Ryk het hard en genadeloos toegeslaan en al die lande wat deel van die vorige drie ryke was, by hulle eie ryk ingelyf. Met verloop van tyd het die Romeinse Ryk sy solidariteit verloor en in 476 n.C. as ’n gesentraliseerde politieke eenheid verbrokkel en van die toneel verdwyn.

Daarna het verskeie lande van die voormalige Romeinse Ryk egter in hulle eie reg magtig geword en voortgegaan om uit Europa ’n baie sterk invloed op die politieke, ekonomiese en kulturele landskap van die res van die węreld uit te oefen. ’n Europese taal, Engels, is ook mettertyd as ’n węreldtaal gevestig.

Voortbestaan van die twee bene

Die Romeinse Ryk is nooit deur ’n ander węreldryk oorwin en vervang nie, en in ’n verborge vorm het dit voortgegaan om sy invloed op verskeie lewensterreine oor die aarde te laat uitgaan. Ten spyte van sy politieke verbrokkeling as ’n enkele węreldryk, het lande in dié gebied voortgegaan om nuwe kennis op die terreine van geletterdheid, wetenskap, tegnologie, medisyne, godsdiens, filosofie en politiek te ontwikkel. Twee belangrike groeipunte is gevestig met die oog op die verkenning en ontwikkeling van die buitewęreld – die een in die weste en die ander een in die ooste van Europa. Op hierdie manier het die twee bene van die beeld deur die eeue heen voortgegaan om hulle invloed in die res van die węreld te laat geld. Die dinamika van Europese kultuur was die stukrag en motivering vir ’n nuwe beskawing in die węreld.

Die westelike deel van die Romeinse Ryk wat uit Rome beheer is, was ’n belangrike groeipunt vir die Westerse beskawing en sy kapitalistiese vryemarkstelsel wat kenmerkend van die eerste węreld is. Wes-Europese kulture, die Romeinse reg en die Christelike geloof (Katolisisme én Protestantisme) het hiervandaan verder versprei – ook na ander węrelddele wat weens kolonisasie deur Wes-Europese lande onder hulle beheer gekom het. Die invloed van Europese kultuur was fenomenaal, en in ’n stadium het die Britse Ryk kolonies rondom die węreld gehad – vanaf Amerika in die weste tot anderkant Indië in die ooste. Dit het tot die uitdrukking gelei: “The sun never sets over the British Empire.”

Die oostelike deel van die Romeinse Ryk wat uit Konstantinopel beheer is, het ook verder uitgebrei tot in Rusland en dele van Asië. Hiermee saam het die invloed van die Grieks-Ortodokse Kerk gegaan, wat gelei het tot die vestiging van die Russies-Ortodokse Kerk. Sodoende het Oos-Europa ’n groeipunt vir die tweede węreld geword, wat later deur kommunisme oorheers is. Die revolusionęre ideologie van kommunisme is ook ’n uitvoerproduk van Europa. Karl Marx (1818-1883) was ’n Duitse filosoof wat later ook in Parys, Brussel en Londen gewoon het. Hy en sy vriend Engels het in 1847 die Kommunistiese Manifes gepubliseer, met die volgende openingsreël: “’n Gedaante spook in Europa – die gedaante van kommunisme.” Kommunisme is egter nie in Europa aanvaar en geďmplementeer nie. Die later aanvaarding van kommunisme deur Rusland, Sjina en verskeie ander lande, het daartoe gelei dat ’n derde van die węreldbevolking in ’n stadium onder kommunistiese beheer was.

Die ideologiese, ekonomiese en godsdienstige verdeling van die węreld tussen ’n eerste en tweede węreld, het veral sterk gemanifesteer as ’n ideologiese verdeling tussen kapitalistiese en kommunistiese state. Dit het Europa ook ná die Tweede Węreldoorlog op ’n ooglopende wyse deur middel van die ystergordyn verdeel (’n verdere manifestasie van die twee bene van die beeld). Vir baie lank is daar verwys na die rigiede onderskeid tussen die weste en die ooste, wat gemanifesteer het as die twee węrelde van kapitalistiese vryheid enersyds, en beperkende, ateďstiese kommunisme andersyds. Beide het gestreef om in eie reg die hele węreld te oorheers, maar nie een van die twee kon heeltemal daarin slaag nie. Die twee bene van Daniël se beeld het voortgegaan om in die węreld gesien te word, terwyl elkeen van hulle se invloed steeds verder uitgekring het – kapitalisme in ’n veel groter mate as kommunisme.

Met die verloop van tyd is daar ’n sogenaamde derde węreld tot die internasionale gemeenskap toegevoeg, wat ontstaan het uit die ontdekking en kolonisering van onbekende gebiede ver van Europa af. Die derde węreld het egter nie ’n duidelike ideologiese identiteit van sy eie nie, aangesien dit veral onder die beheer van die eerste węreld gekom het. Koloniale moondhede soos Brittanje, Duitsland, Spanje, Portugal, België en Nederland het hulle beskouings, gebruike en instellings baie sterk op hierdie lande afgedruk deur selfs hulle grense en name te bepaal. Sodoende het hulle nog ’n wyer toepassing aan die twee bene van die Romeinse Ryk verleen.

Mettertyd het kommunisme, behalwe in Sjina, voor ekonomiese werklikhede geswig en tot ’n val gekom in Rusland, die groot kampvegter van hierdie radikale ideologie. Daarmee saam het die hele Unie van Sosialistiese Sowjet Republieke (USSR) ontbind toe die betrokke lande oorgeskakel het na die Westerse kapitalistiese vryemarkstelsel, demokratiese verkiesings, asook die erkenning van groter vryhede in die algemeen. Selfs in Sjina is na die kapitalistiese ekonomie oorgeskakel, maar sonder om van die politieke diktatuur van kommunisme af te sien.

Kapitalisme, saam met die vryhede wat dit in die samelewing meebring, het mettertyd die dominante mag in die węreld geword, en dit het daartoe gelei dat ekonomiese mag ook die aansien van politieke mag en militęre vermoëns bepaal het. Die geldgod, Mammon, het sy greep stewig in alle samelewings ingeslaan, en dit het die einde van die Romeinse Ryk se twee bene van ’n oos-wes-verdeling in die węreld meegebring. Die nuwe ontwikkeling was die vestiging van onafhanklike ekonomiese en geo-politieke magsblokke in die węreld.

Die tien tone van die beeld

Dit is hoogs betekenisvol dat die twee bene van die beeld wat Nebukadnésar gesien het, in sy finale stadium verdeel en op tien tone uitloop. Hulle is soos yster en klei wat nie tot ’n hegte eenheid saamgevoeg kan word nie, en dit impliseer dat daar onderling ’n groot mate van ideologiese, kulturele en godsdienstige diversiteit is. Hulle is ook nie ewe sterk en ewe ver ontwikkel nie, want sommige van hulle is bros soos klei en ander sterk soos yster (Dan. 2:42).

Die tien tone is profeties beslis eindtyds omdat die vernietiging van die beeld in die laaste dae met die vernietiging van die tien tone in verband staan. Daniël sę: “’n klip [het] losgeraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het” (Dan. 2:34). Hierdie tien tone verwys dus nie na tien historiese provinsies van die antieke Romeinse Ryk nie, maar na tien eindtydse gebiede in die hele węreld wat tot ’n groot mate hulle ekonomiese en politieke karakter uit Europa verkry het.

Die nuwe węreldorde wat nou aan die ontstaan is, is ’n poging tot die vereniging van die eerste en tweede węrelde wat uit die twee bene van die Romeinse Ryk voortgevloei het, asook al die verdere verdelinge wat sedertdien plaasgevind het. Die doel hiermee is dat die struktuur van nie-Joodse (heidense of humanistiese) heerskappy weer, soos in antieke tye, polities en militęr sal manifesteer as ’n enkele węreldregering wat die mag het om ’n eenvormige politieke, ekonomiese en godsdienstige beleid op al sy onderdane af te dwing.

In moderne tye het die węreld in ’n groot aantal onafhanklike lande verdeel geraak. Ernstige ekonomiese probleme weens oorbesteding deur regerings sowel as individue het egter daartoe gelei dat lande op ’n streeksbasis, soos bv. in Europa, besig is om ter wille van ontwikkeling en oorlewing groter ekonomiese eenhede te vorm. Daar is ook ander oorwegings vir sulke alliansies, bv. beveiliging teen moontlike oorloë en terroriste-aanvalle. Gaandeweg ontwikkel elke streek ’n sterker identiteit en politieke samehorigheid, soos gesien kan word in Europa, die Arabiese lande in die Midde-Ooste, Noord-Amerika, ens.

Dit is interessant dat die hele węreld tans in tien ekonomiese magsblokke of groeipunte verdeel raak. Weens onderlinge wedywering, asook ideologiese en godsdienstige verskille tussen lande, word die begrensing van sekere van hierdie streke tans nog betwis, maar die proses is onomkeerbaar. Wanneer daar op Google gesoek word na “Ten economic regions of the world”, word verskeie bronne genoem waarin daar na hierdie tien gebiede verwys word. Nie almal is dit eens oor presies hoe hulle afgebaken moet word nie, maar erken nogtans die feit dat daar tien sulke streke is. Die volgende is die mees waarskynlike afbakening:

1. Die Europese Unie; 2. Noord-Amerika (VSA, Kanada en Alaska); 3. Suid-Amerika; 4. Australië saam met eilandstate in die suidelike Stille Oseaan; 5. Rusland en verskeie lande in sy invloedsfeer; 6. Sjina en omliggende lande; 7. Indië en state in sy omgewing; 8. ’n Suidoos-Asiatiese ekonomiese blok met Japan as leidende land; 9. die Midde-Ooste; en 10. Afrika soos verteenwoordig deur die Afrika-Unie.

Dit is om ander redes ook duidelik dat die tien tone van die beeld nie na die tien provinsies in die antieke Romeinse Ryk verwys nie. Die herstelde Romeinse Ryk soos deur die Europese Unie verteenwoordig, het reeds 27 lidlande en dit is baie onwaarskynlik dat hulle tot tien verminder sal word. Daar is ook geen konkrete aanduidings dat die eindtydse groep van tien uit Rome beheer sal word nie.

Die tien tone is ekonomiese en geo-politieke streke in die węreld wat óf in ’n stadium onder die direkte beheer van ’n Europese land was, óf op een of ander wyse hulle ekonomiese ontwikkeling aan die Westerse beskawing te danke het. Die VSA en Kanada was bv. in ’n stadium ook Britse kolonies en is dus ’n wesenlike deel van die Wes-Europese been van die antieke Romeinse Ryk. Die tien tone is inderdaad verteenwoordigend van die hele węreld, daarom is dit onnodig om vrae te vra soos: “Waarom word Amerika nie in Bybelse profesieë genoem nie?” Amerika is ’n belangrike deel van die eindtydse węreld wat na aanleiding van Europese uitbreiding geskep is, en sal voortgaan om ’n belangrike rol te speel.

In die ontluikende nuwe węreldorde is die tien ekonomiese streke in die węreld besig om ook nouer politieke bande met hulle bondgenote te smee, sodat hulle in ’n  toekomstige węreldregering die belange van hulle streek beter sal kan behartig. Soos wat die Europese Unie, die Arabiese Bond in die Midde-Ooste, en die Afrika-Unie elk ’n leier het, sal ander streke ook onder gepaste politieke leierskap verenig word. In sommige gevalle sal die staatshoof van die leidende land in die streek die leiding neem, soos, bv. in die gevalle van Rusland, Sjina en Indië.

Dit is interessant dat die kwessie van leierskap in die tien streke eers finaal bepaal sal word wanneer die Antichris op die toneel verskyn. Dit is ’n aanduiding dat hy leiers van sy eie keuse sal aanstel. In Openbaring 13 en 17 word die tien tone van die beeld voorgestel as tien horings op die kop van die dier (die Antichris). Johannes sę: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Op. 17:12-13).

Hierdie tien konings ( hoofde van die tien streke) sal saam met die res van die węreldbevolking verwonderd agter die dier aangaan, en sal só in vervoering wees oor hom dat hulle hom self as ’n węreldmessias sal aanbid (Op. 13:3-4). Johannes sę: “...aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Moet dus nie dink dat hy net ’n Midde-Oosterse of Europese leier sal wees nie – hy sal ’n volwaardige węreldleier wees. In sy opgang na węreldheerskappy sal hy sy eie magsbasis verder uitbrei, en dit sal daartoe lei dat die tien tone (of streke) na agt sal verminder.

Regering van die Antichris

Later in die boek Daniël word daar weer na hierdie tien uitlopers van die Romeinse Ryk verwys, maar dan as tien horings op die kop van ’n wreedaardige dier (Dan. 7:7-8, 20-28). Dit is dieselfde dier met die tien horings waarna Johannes ook verwys (Op. 13:1; 17:3, 12, 16). In ’n historiese toepassing kan die horings verwys na provinsies in die antieke Romeinse Ryk, maar in die eindtydse toepassings daarvan, wanneer die Antichris verskyn, verwys dit beslis in ’n breër verband na tien ekonomiese streke wat onder die nasies sal bestaan. Drie van die tien horings sal deur hierdie eindtydse leier (die Antichris) ontwortel en onder sy persoonlike leierskap verenig word.

Volgens Daniël 11:31-45 sal een van die Antichris se titels “die koning van die Noorde” wees (noord, soos gesien vanuit Israel). In verskillende stadiums het “die Noorde” verwys na Sirië, Assirië of Babilonië (vgl. ook Jes. 10:12-14). Dit impliseer dat die Antichris uit die Midde-Ooste sal verrys. Sirië was een van die tien provinsies van die antieke Romeinse Ryk, en is bestem om in die eindtyd weer ’n belangrike rol te vervul.

Binne die groter scenario van tien ekonomiese magsblokke in die węreld sal die Antichris dus uit die Midde-Ooste verrys en dan hierdie streek met twee ander verenig om ’n baie sterk magsblok in ’n verminderde groep van agt te vorm. Die Bybel gee nie vir ons ’n aanduiding van watter drie streke verenig sal word nie, maar dit sal mettertyd deur die verdere vervulling van Bybelse profesieë duidelik word. Dit mag bv. wees dat hy die Midde-Ooste, Rusland en Europa sal verenig, of dalk die Midde-Ooste, Europa en Noord-Amerika. Die VSA is reeds d.m.v. NAVO by Europese en Midde-Oosterse sake betrokke.

Daar gaan gewis ’n nuwe węreldorde tot stand kom, wat sal lei tot die skepping van ’n węreldregering met uitvoerende magte. Die Antichris sal beheer hieroor verkry, en die leiers van die tien streke sal vrywilliglik hulle gesag aan hom oordra. In navolging van die Antichris (Op. 13:5-7) sal hierdie ryk fanaties teen die koninkryk van God en die ware Christus gekant wees. “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings” (Op. 17:14).

Die Antichris se węreldregering sal die hervatting en voortsetting wees van ’n lang tradisie van węreldregerings wat in assosiasie met valse godsdienste opgetree het – net baie erger as ooit in die verlede. Hierdie regering gaan alles in die stryd werp om teen Christus en sy hemelse leër te veg wanneer Hy weer kom. Daar sal selfs van demoniese misleiding gebruik gemaak word om militęre magte rondom die węreld te mobiliseer om aan hierdie oorlog deel te neem (Op. 16:13-16).

Huidige verwikkelings in die Midde-Ooste is baie belangrik met die oog op die vestiging van ’n toekomstige węreldregering wat beheer sal verkry oor alle lande se politieke mag en ekonomiese belange. Olieryk Arabiese state sal ’n sleutelrol in die ontluikende nuwe węreldorde speel, omdat die ekonomiese toekoms van die węreld tot ’n groot mate afhang van die ononderbroke beskikbaarheid van olie wat hier ontgin word. Die betrokkenheid van verskeie węreldmoondhede by die stryd in Sirië is ook ’n aanduiding dat die knoop vir węreldvrede hier deurgehaak sal moet word. Rusland, Sjina en Iran steun die bewind van Bashar al-Assad, terwyl omtrent die hele res van die węreld die opposisiemagte steun. Dit is ’n gevaarlike brandpunt wat na groter konflik en selfs ’n węreldoorlog kan lei. Indien proaktiewe stappe egter gedoen word, kan doeltreffende węreldstrukture geskep word om eenheid en vrede in die hand te werk en ’n volskaalse oorlog af te weer.

Die vrede wat die Antichris en sy węreldregering sal bring, sal egter van korte duur wees omdat hy die spesiale verteenwoordiger van die koninkryk van die duisternis sal wees. Hy sal vrede en eenheid net as ’n rookskerm gebruik om sy bose motiewe te verbloem. Johannes sę: “Die draak [Satan] het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2). Die Antichris sal in samehang met ’n alliansie van valse godsdienste regeer en alles in sy vermoë doen om die aanbidding van die ware Christus van die aarde af uit te roei (Op. 13:7; 17:3-6). Goddelike oordele sal oor hierdie ryk uitgestort word, en dit sal die skielike einde daarvan meebring.

Vernietiging van die beeld

’n Duidelike beskrywing word gegee oor die vernietiging van die beeld van die nasies se heerskappy op aarde. ’n Klip raak sonder toedoen van mensehande los, tref die beeld aan sy tone en vergruis die hele beeld. Wanneer die koninkryke van die nasies finaal vernietig word, sal dit nie deur menslike toedoen geskied nie. Die klip (rots) wat neerdaal en dit tref, dui op die wederkoms van Christus, wat ook Israel se Messias is. Hy word dikwels in die Bybel met ’n rots vergelyk (Ps. 118:22; Jes. 8:14; 1 Pet. 2:6-8). Hierdie rots sal groot word en die hele aarde vul. Die koms van Christus, en sy verdelging van die aardse magte wat onder die leiding van die Antichris in Israel sal saamtrek, word só beskryf:

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer. ... En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Op. 19:11-15, 19-20; vgl. Sag. 14:12-13).

Dit is ’n kort en dramatiese beskrywing van die slag van Armagéddon, wat deel is van die oordele van die dag van die Here. Jesaja sę: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ’n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. ... En Ek sal aan die węreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. ... En soos ’n gemsbok wat gejaag word, en soos kleinvee wat niemand bymekaar maak nie, sal hulle elkeen draai na sy volk toe en elkeen vlug na sy land toe” (Jes. 13:9-14). Die oordele van die Here sal nie net ’n einde aan sondige, menslike regerings bring nie, maar ook die wanorde en verlies aan kulturele identiteit beëindig wat deur die grootskaalse vermenging van volke teweeggebring is weens onbeheerde immigrasie.

Nadat Christus die aardse koninkryke verbrysel het, sal Hy sy ewige koninkryk in hulle plek vestig. Dit sal die vervulling wees van Openbaring 11:15: “Die koninkryke van die węreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Hieruit is dit duidelik dat Jesus Christus tydens sy wederkoms al die aardse koninkryke sal vernietig om in hulle plek te regeer – dit sal nie net Europese regerings in die gebied van die antieke Romeinse Ryk wees nie. Daniël sę: “Die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Dan. 2:35). Daar sal dus ’n Christelike nuwe węreldorde op aarde gevestig word, en dit sal blywende vrede op aarde verseker:

 “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sę: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4).

Jeremia bevestig ook hierdie profesie: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Die troon van die Messias sal in Jerusalem wees waar Hy die Dawidiese koningskap sal herstel. Dit sal die vervulling wees van ’n profesie wat die engel Gabriël tweeduisend jaar gelede aan Maria gegee het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Wanneer Christus van hierdie troon af regeer, sal die bedeling van magshonger heidense regerings wat deurtrek is van selfsugtige motiewe en bose instellings wat hulle vyandig gemaak het teenoor Israel en die koninkryk van God, iets van die verlede wees.

Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om ’n persoonlike keuse ten opsigte van Jesus Christus te maak. As Hy die rots en fondament is waarop ons lewens gebou is, sal ons nie in die storms van die lewe tot ’n val kom nie (Matt. 7:24-27). As ons egter die Here Jesus as Verlosser verwerp, dan bou ons ons lewens op die sand van selfmisleiding en sal onsself onder die vyande van Christus bevind vir wie Hy in die finale oordeel ’n rots van struikeling sal wees (1 Pet. 2:4-8).