Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2013)
In Moslemlande van die Midde-Ooste kom daar opstande en groot magsverskuiwings voor waarteen nie eers die sterkste regerings bestand is nie. Botsende doelstellings word deur ontevrede skares mense nagestreef, wat dikwels daartoe lei dat hulle self slagoffers van hulle eie revolusie word. Enersyds eis hulle meer regte en ’n groter aandeel in hulle lande se rykdom, maar andersyds betoog hulle vir ’n terugkeer na fundamentele Islamitiese beginsels waardeur menseregte aansienlik ingekort gaan word. Hulle einddoelwit is die vestiging van ’n Islamitiese wêreldorde wat oor al sy vyande sal heers.
Daar is egter diepgaande Islamitiese faksieverskille in hierdie lande, veral tussen die Sjiïete en Soenniete. Hierdie verskille, saam met wydverspreide ontevredenheid oor onderdrukkende regerings, lei in baie gevalle na bloedige burgeroorloë. Sirië is die jongste slagoffer van so ’n burgeroorlog en dit het reeds na die dood van omtrent 60 000 mense gelei, terwyl groot getalle Siriese vlugtelinge in buurlande is.
Daar is ook saambindende faktore in hierdie onderling verdeelde Moslemlande, wat egter deur die res van die wêreld ervaar word as negatiewe faktore wat betrekking het op die beplande ondergang van Judaïsme en die Christelike beskawing asook die opkoms van Islam as die onbetwiste wêreldleier. Die groot vraag is: hoe gaan hierdie stryd verder verloop, watter metodes gaan Islam gebruik om hulle doelwitte te bereik, en wat gaan hulle doen om hulle onderlinge verskille te oorbrug? Die volgende is die belangrikste kenmerke van die huidige stryd, asook die finale mikpunte van die Islamitiese revolusie:
Arabiese Moslemlande in die Midde-Ooste, asook aangrensende Moslemlande soos Turkye en Iran, is sterk onder druk van radikaalfundamentalistiese groepe wat die hele samelewing met al sy instellings onder die gesag en riglyne van Islam se sharia-wette wil bring. In 1979 het radikale Islam in ’n bloedige revolusie onder die leiding van Ajatollah Khomeini beheer oor Iran verkry.
Sedertdien beywer Iran hom vir die fundamentele Islamisering van Arabiese state, en maak ruim gebruik van heilige oorloë (jihads) soos deur Mohammed en die Koran voorgeskryf. Radikale groepe wat rojaal deur Iran ondersteun en aangepor word, is Hizboellah in Libanon, asook Hamas en Islamitiese Jihad in Gaza. Al Qaeda is ’n bekende radikale groep wat onafhanklik van Iran funksioneer.
Jihadiste word buite die Moslemwêreld as terroristegroepe beskryf, en hulle voer hulle stryd, of heilige oorlog, op die volgende twee fronte: Eerstens veg hulle binnelands ten einde die regering, die regstelsel en alle ander instellings in die samelewing onder die beheer van radikale Islamitiese leiers en die sharia-wet te bring. Tweedens voer hulle stryd teen al Islam se eksterne vyande en hulle nie-Islamitiese ideologieë. In die Midde-Ooste is dit veral Israel wat dit moet ontgeld, maar die jihadiste val ook oral in die wêreld teikens aan in lande wat as vyande van Islam beskou word.
Wat getalsterkte betref, is die grootste radikale Islamitiese beweging in die Midde-Ooste die Moslem Broederskap wat in 1928 in Egipte gestig is. Hulle is grootliks vir die val van Egipte se vorige regering onder Hosni Mubarak verantwoordelik, en is ook die grootste opposisiegroep in verskeie ander Arabiese lande. In ’n artikel sê Wikipedia: “Die Broederskap se credo is: Allah is ons doelwit, die Koran ons wet, die Profeet ons leier, Jihad ons lewenswyse, en die dood ter wille van Allah ons hoogste ideaal. Hulle bekendste slagspreuk wêreldwyd is: Islam is die oplossing. ... Die groep glo dat die Koran en Soenna die volmaakte sosiale en politieke organisasie bevat wat God vir die mensdom voorgeskryf het. Islamitiese regerings moet op hierdie stelsel gebaseer wees en uiteindelik verenig word in ’n Kalifaat (’n Islamitiese wêreldstaat onder die leiding van ’n afstammeling van Mohammed). ... Die Broederskap is sterk gekant teen Westerse kolonialisme en het gehelp om pro-Westerse monargieë in Egipte en ander Moslemlande omver te werp” (http://en.wikipedia.org/wiki/Muslim_Brotherhood).
Die twee belangrikste godsdienstige faksies in Islam is die Sjiïete en die Soenniete. Die groot meerderheid van alle Moslems is Soenniete. Sunnah beteken Tradisie en verwys na die feit dat hierdie groep ’n versameling tradisies (die hadiths) het wat volle erkenning op dieselfde vlak as die Koran geniet. Hulle erken al die kalifs wat as opvolgers van Mohammed heersers in die Moslemwêreld was, terwyl die Sjiïete hierdie linie van Soennitiese kalifs as indringers beskou wat wederregtelik hulle posisies verkry het, en wie se leerstellings ook verwerp word.
Ná Mohammed se dood is sy leierskapsposisie op Abu Bakr as-Siddiq oorgedra, een van sy intieme medewerkers, maar ’n groep van sy volgelinge was van mening dat Ali ibn Abi Talib die wettige opvolger was wat op die titel van kalif aanspraak kon maak. Beide groepe beweer dat Mohammed hulle leier as opvolger aangewys het: die ondersteuners van Abu het die Soenniete geword en dié van Ali die Sjiïete.
Onder die Soenniete was daar verskeie opvolgers van Mohammed wat as kalifs bekend gestaan het. Onder die Sjiïete het Ali se opvolgers as imams bekend gestaan. Hierdie dinastie van godsdiensleiers het by die twaalfde imam geëindig wat na bewering in 940 n.C. by die put Jamkaran in die huidige Iran verdwyn het. Die Sjiïete glo dat hy in die eindtyd ’n herverskyning sal maak as die Imam Mahdi, wat saam met Isa (Jesus Christus) sal optree om hulle missie te vervul om vrede en geregtigheid in die wêreld te bring. In die tussentyd word ajatollahs gekies om as beskermhere van die geloof op te tree. Daar heers ’n bitter stryd tussen die Soenniete en Sjiïete oor die kwessie van geestelike leierskap in die Moslemwêreld en hulle roei mekaar by die duisende uit in lande soos Irak en Sirië.
In Iran en Irak is daar groot groepe Sjiïtiese Moslems, met Iran as die belangrikste vesting van hierdie groep. Daar is ook sterk verteenwoordiging van hierdie faksie (hoewel steeds ’n minderheidsgroep) in Sirië, asook Gasa in Palestina (veral die Hamas-beweging). Die ander belangrike Arabiese state is algeheel Soennie-oorheersd – veral Katar, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte. Daar is ook groot groepe Soenniete in Sirië en Irak, en dit het die potensiaal vir burgeroorlog in dié lande aansienlik verhoog.
Volgens Daniël 11:31-45 gaan daar in die eindtyd ’n baie groot magstryd onder Israel se vyande in die Midde-Ooste ontstaan. Daniël noem die een faksie die koning van die Noorde en die ander een die koning van die Suide. In antieke tye was Assirië en Babilonië die noordelike koninkryk en Egipte die suidelike een. Die huidige lande ten noorde en noordooste van Israel is Iran, Irak en Sirië, en saam is hulle ’n sterk magsbasis vir die Sjiïtiese Moslems. Die eindtydse koning van die Suide verwys nie net na Egipte nie, maar ook na ander Soennie-georiënteerde lande. Hierdie stryd gaan uiteindelik deur die eindtydse koning van die Noorde gewen word, en dit dui daarop dat die Antichris uit hierdie streek sal kom (Jesaja 10:12-14 verwys ook na die Antichris as die Assiriër).
Die huidige oorlog in Sirië kan ’n belangrike voorspel wees tot die eindstryd tussen die twee groot magsblokke in Islam. Die stryd tussen hulle is ook reeds ten volle geïnternasionaliseer, want die Sjiïtiese alliansie wat gevorm is tussen die Siriese regering, Irak en Iran geniet die ondersteuning van Rusland en Sjina. Die Soennitiese opposisie in Sirië geniet nie net die steun van die meeste Arabiese lande nie, maar ook van die grootste deel van die Westerse wêreld. Desnieteenstaande stuur hulle af op ’n neerlaag teen die noordelike alliansie. Die opposisiemagte in Sirië word grootliks beheer deur die Moslem Broederskap, wat Egipties in oorsprong is. Daar kan dus verwag word dat Egipte (die koning van die Suide) ’n baie sterk rol in die uitbreiding van fundamentele, Sunnitiesgeoriënteerde Islamisme gaan speel, maar dat hulle uiteindelik die knie voor die noordelik alliansie sal buig.
Israel het alle rede om bekommerd te voel oor die polarisasie tussen Sjiïtiese en Soennitiese magte in Islam, want beide van hulle is hoogs vyandig teenoor Sionisme. Israel lê tussen hierdie twee “konings” en sal dit dikwels in oorloë tussen die noordelike en suidelike magsblokke ontgeld. Volgens Daniël 11:41 sal baie Jode na Jordanië vlug (wat in antieke tye Edom, Moab en Ammon was) omdat die koning van die Noorde se aggressie nie teen dié land gerig sal wees nie. In Israel self sal sommige van die misleide en kompromiemakende Jode die valse messias uit die noorde erken en met hom saamwerk, maar die res sal moet vlug (Dan. 11:32-33).
Jerusalem, en spesifiek die Tempelberg, is vir Islam die derde-heiligste plek op aarde ná Mekka en Medina in Saoedi-Arabië. Daar is ’n algemene gevoel onder hulle dat Jerusalem die hoofstad van ’n Moslem Kalifaat moet wees, waaroor ’n afstammeling van Mohammed moet regeer. Hierdie staat moet ’n saambindende rol speel om alle Moslem faksies in ’n onverdeelde liggaam te verenig.
’n Geestelike leier van die Moslem Broederskap in Egipte het tydens hulle land se algemene verkiesing gesê: “Ons hoofstad sal nie Kaïro, Mekka of Medina wees nie maar, as dit Allah behaag, Jerusalem.” Volgens hulle moet Jerusalem die hoofstad van die verenigde Arabiese state wees. Dit is die rede waarom die Palestynse kwessie, en veral hulle aanspraak op Jerusalem as hoofstad, soveel prominensie geniet. Dit gaan nie net om ’n onafhanklike Palestina nie, maar om die totale uitwissing van Israel en die skep van ’n hoofsetel vir Islam se verwagte wêreldmessias.
Daar is ook onder Moslem Palestyne in Israel self ’n sterk beweging aan die gang gesit om die Israeliete uit hulle land en hoofstad te verdryf en dit dan ten volle by Palestina in te lyf. Sjeik Riyad Salah, die hoof van die Islamitiese Beweging in Israel, propageer aktief die beginsels van ’n Islamitiese revolusie. “Ons is voor die poorte van ’n Islamitiese revolusie,” sê hy aan die Arabiere van Israel. “Die wêreldwye magte van boosheid sal in ’n Islamitiese revolusie uitgeskakel en deur ’n Islamitiese wêreldstaat vervang word, met Jerusalem as hoofstad.” Salah se organisasie het bygedra tot pogings om Arabiese moskees op die Tempelberg te restoureer, en ook om Joodse oudhede op die Tempelberg te vernietig. Duisende van die jong Arabiere neem onder die opruiende slagspreuk van Byeenkomste om Revolusie te Verkondig aan die party se jeugbeweging deel. Hierdie beweging het onlangs naby die Rotskoepel op die Tempelberg ’n banier gespan met die volgende woorde: Revolusie is ’n opdrag van Allah. Die jeuggroep is deur ander partylede begroet met die woorde: Volgende jaar in Jerusalem, onder die beheer van die Islamitiese Revolusie.
Israel se Arabiese bure (die gematigdes én radikales) vorm ’n verenigde front teen hulle en is op die totale vernietiging van die Joodse staat ingestel. Verskeie oorloë is sedert Israel se onafhanklikheid in 1948 teen sy Moslemgeïnspireerde Arabiese bure gevoer. Dié nasies het nog nie hulle sinistere doel bereik nie, want die Here het Israel in sy oorlewingstryd gehelp. Hierdie vyande se herhaalde neerlae het hulle net nog meer fanaties gemaak, en hulle haat vir die Jode sal voortgaan tot op die stadium dat hulle eendragtig sal saamsweer om Israel van die aardbodem af te verdelg:
“o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ’n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ’n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Ámalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ’n arm vir die kinders van Lot” (Ps. 83:2-9).
In hierdie gedeelte word die antieke volke genoem waaruit die moderne Arabiese volke afgestam het. Die noordelike Arabiere, waaronder ook Mohammed en sy volgelinge, stam van Ismael af en beskou hulleself as Ismaeliete. Volgens hulle vererf die beloftes aan Abraham deur sy oudste seun, Ismael, na Mohammed en sy opvolgers. Die suidelike Arabiere (Egipte en naburige volke) beweer dat hulle van Kagtan afstam, wat waarskynlik op Joktan dui (Gen. 10:25-30). Al die Arabiere, soos die Jode, stam van Sem af en is dus Semitiese volke.
Grootskaalse Arabirisering het in die 7de en 8ste eeue plaasgevind tydens die veroweringstogte van Islamitiese Arabiere. Taalkundige en kulturele assimilasie het plaasgevind, met die gevolg dat baie mense van ander volke hulleself daarna ook as Arabiere beskou het. Daar is tans sowat 286 miljoen Arabiere in die Midde-Ooste en Noord-Afrika en nog 14 miljoen wat verstrooid in ander lande van die wêreld woon – saam is hulle 300 miljoen.
President Ahmadinejad van Iran, in samewerking met sy land se godsdienstige leiers, sê dat dit die hoofdoel van hulle Islamitiese revolusie is om die weg vir die 12de Imam, die Mahdi, se herverskyning voor te berei. Iran se regering het selfs ’n kabinetsvergadering gehou waarin daar besluit is om ’n verbond met die 12de Imam te sluit wanneer hy opdaag. ’n Groot aantal van Ahmadinejad se intieme vriende en politieke bondgenote praat openlik oor voorbereidings vir die herverskyning van die verborge Imam, en verbind hierdie voorbereidings uitdruklik aan Iran se kernprogram. Hulle argument is dat hulle boosheid, tirannie en onderdrukking moet bevorder ten einde die koms van die 12de Imam te bespoedig.
Iran voer uiters bose planne in die mou om sy doel te bevorder om Israel, Amerika en ander Westerse lande te beveg, en hiervoor is dié land met ’n hoëprioriteit kernontwikkelingsprogram besig. Dit sal hulle in staat stel om langafstand missiele met kernplofkoppe oor enige land af te vuur. Hulle word ook nie deur sanksies en selfs ’n militêre aanval op Iran afgeskrik nie, maar dreig om hard terug te slaan en ook die Straat van Hormoes in die Persiese Golf vir deurgang deur olietenkskepe te blokkeer. 35% van die wêreld se petroleum word deur hierdie strategies belangrike seestraat vervoer.
Op hierdie manier, meen Iran se radikale Moslemleiers, sal die chaos geskep word wat ’n vereiste vir die verskyning van die Imam Mahdi is. Hulle is selfs bereid om Iran te laat ondergaan, net solank Israel en die Weste geknak kan word sodat Islam hulle kan oorwin.
Volgens Bybelse profesieë in Eségiël 38 en 39 gaan daar inderdaad in die eindtyd ’n gepoogde uitwissingsoorlog teen Israel gevoer word, waarin Rusland (Gog, in die agterhoeke van die Noorde) en Persië (die moderne Iran) ’n groot rol sal speel. Dit mag net wees dat die Antichris (Islam se valse messias) na vore sal kom uit die wêreldwye wanorde en onstabiliteit wat deur ’n multinasionale invalsmag in Israel veroorsaak sal word. Op grond van die Antichris se buitengewone vermoë om te kan mislei, sal hy homself as die universele messias van alle gelowe aanbied en beloof om eenheid en vrede te bring in ’n hoogs verdeelde wêreld wat op die randjie van ’n derde wêreldoorlog sal wees.
In Openbaring 18 word daar van die antieke stad, Babilon, gepraat wat in die eindtyd weer opgebou sal word tot ’n internasionale ekonomiese sentrum wat die Mekka van wêreldhandel sal wees. Babilon was die hoofstad van die eens magtige Babiloniese Ryk wat in die Midde-Ooste geleë was, tussen die Middellandse See en die Persiese Golf. Hierdie stad is teenaan die Eufraatrivier in die huidige Irak geleë en word tans weer herbou nadat dit ’n paar keer in historiese tye verwoes is.
Dit is opvallend dat die gebied van die ou Babiloniese Ryk juis dié gebied is waarin die moderne, olieproduserende state van die Midde-Ooste geleë is, en dat groot rykdomme tans hier opgebou word. Die sewe Persiese Golfstate, naamlik Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein, Katar, Koeweit, Irak en Iran beskik oor 60% van die wêreld se oliereserwes en hulle produseer tans 30% van die wêreld se olie wat daagliks verbruik word. Hulle het dus ’n geweldige potensiaal om meer olie te produseer en nog ’n groter aandeel in die oliemark te verkry. Die rykdomme wat in ’n kort tyd deur die handel in olie verkry is, het tot die bou van skouspelagtige nuwe wêreldstede gelei – veral Dubai, Abu Dhabi, Riyad, Koeweitstad en Doha.
Hierdie verwikkelings is besig om die Midde-Ooste in ’n belangrike handelsentrum te omskep. Dit is ook nie onmoontlik dat Babilon self ook herbou kan word om ’n leidende rol in die eindtyd te speel nie. Ekonomiese beheerliggame soos effektebeurse, die IMF en die Wêreldbank kan maklik daarheen verskuif word. Daar word deur kenners beraam dat Irak ’n geweldige groeipotensiaal het en selfs oor groter onontginde oliereserwes as Saoedi-Arabië beskik. Wat ook al gebeur, die Golfstate, wat ’n moderne herlewing van die ou Babiloniese Ryk is, is besig om ’n uiters belangrike plek in die wêreldekonomie in te neem.
Wat veral verontrustend is, is die feit dat die olieryk Moslemstate ’n obsessie het om hulle rykdom, prag en praal te gebruik om internasionale aansien aan die Islamitiese kultuur en godsdiens te verleen en dit uiteindelik, in ’n wêreldryk, heerskappy oor al die ander nasies te laat verkry. In die verwesenliking van hierdie ideaal sien hulle ’n noue verband tussen die godsdienstige, politieke en ekonomiese beheer van die wêreld – alles moet in ooreenstemming wees met die voorskrifte van die Koran en uiteindelik onder die beheer wees van Islam se verwagte wêreldmessias.
Daar is op verskeie terreine groot misleiding in die wêreld aan die gang wat daarop gerig is om ’n Midde-Oostersbeheerde nuwe wêreldorde tot stand te bring waarin Islam ’n groot en selfs oorheersende rol sal speel. Die stroom van misleiding loop egter net so sterk onder ander gelowe as onder Islam:
Die Sjiïete verwag die Imam Mahdi wat volgens hulle die ander gelowe sal verbied en die hele wêreld onder die gesag van Allah en die Koran sal plaas. Volgens hulle sal die Soenniete ook die Sjiïtiese Imam as die afstammeling en wettige opvolger van Mohammed aanvaar. Een van die Imam se medewerkers sal ’n Islamitiese Jesus (Isa) wees wat hom sal help om die wêreld te Islamiseer.
Die Soenniete verwag ook ’n eindtydse afstammeling van Mohammed in die linie van die kalifs. Saam met sy verskyning verwag hulle die wederkoms van ’n Jesus (Isa in die Koran) wat nie God is nie maar net ’n menslike profeet wat die enkelvoudige God (Allah) dien. Isa was na bewering ’n wegbereider vir Mohammed, wat gesien word as God se finale openbaring aan die mensdom.
Baie van die Jode is oop vir die idee dat hulle Messias ook bande met die ander gelowe sal hê, en dat die herboude tempel op die Tempelberg naas Islamitiese en Christelike heiligdomme moet funksioneer as ’n aanbiddingsplek vir alle gelowe (www.godsholymountain.org/).
Misleide Christene onderskryf ook die multigodsdienstige idee dat daar ’n universele Christus vir alle gelowe op die toneel sal verskyn, wat mense sal leer dat alle gelowe ’n Godgegewe bestaansreg het en almal maar net verskillende paaie is na dieselfde Skeppergod van alle gelowe. Sulke gelowiges sal dus die Islamitiese Isa met ope arms aanvaar.
In die Boeddhistiese wêreld is daar ook intergeloofsieninge wat ruimte skep vir die verskyning van die sogenaamde “Vyfde Boeddha” wat terselfdertyd titels uit ander gelowe op homself sal verenig. Hy sal ’n tydperk van vrede en harmonie vir die hele wêreld inlui.
Die Hindoes staan nie agter wat hierdie nuwe verwagting betref nie, want volgens hulle gaan daar ’n nuwe Avatar op die toneel verskyn wat terselfdertyd ’n nuwe inkarnasie van Krisjna en Jesus sal wees. Almal sal met hom kan identifiseer en hom ook aanbid.
Die ontwrigtende omstandighede wat tans in die Midde-Ooste en ook in ’n mindere of meerdere mate in die res van die wêreld bestaan, is die groeipyne van ’n ontluikende nuwe wêreldorde wat heeltemal vyandig teenoor die koninkryk van God is. Omdat daar so baie antichristelike magte aan die werk is, gaan daar geen ooreenkoms deur hulle bereik word waardeur bestendige vrede gewaarborg sal kan word nie. Wat hulle besig is om te doen, is eerder ’n resep vir groter vyandigheid en oorloë. Hulle sal sê: “Vrede en veiligheid, dan oorval ’n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:3).
Die verwagte Islamitiese messias in sy rol as Antichris, “sal een week lank [van sewe jaar] met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van dié week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees” (Dan. 9:27). Daar sal tydens sy bewind net vir 3½ jaar lank ’n valse vrede wees, dan sal hy godsdiensvryheid verbied en almal dwing om hom as God te aanbid (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Die alliansie van valse wêreldgodsdienste sal dan alle regte verloor om hulle eie vorm van godsdiens te beoefen en hulle aanbiddingsplekke sal verwoes word (Op. 17:16).
Islam is reeds besig om hierdie gees van godsdienstige onverdraagsaamheid te propageer, en daardeur kan ons ’n idee kry van wat onder ’n toekomstige Moslemdiktator se bewind gaan gebeur. Die volgende berig is vroeg in 2012 wyd gepubliseer deur nuusagentskappe, onder meer deur die televisiediens, Russia Today op 16 Maart 2012: “Die Groot Moefti van Saoedi-Arabië het gesê dat alle kerke in die Arabiese Skiereiland vernietig moet word. Hierdie uitspraak het ontsteltenis en teleurstelling van Christene oral in die Midde-Ooste uitgelok. ... Die Groot Moefti, Sjeik Abdul Aziz bin Abdullah, is die hoogste amptenaar vir godsdienstige wette in Saoedi-Arabië en ook hoof van die Opperraad vir Islamitiese Geleerdes. Hy het die profeet Mohammed aangehaal, wat gesê het dat die Arabiese Skiereiland onder net een godsdiens mag wees” (http://rt.com/news/peninsula-saudi-grand-mufti-701/). Geen kerke of aanbiddingsplekke vir enige ander gelowe mag in die grondgebied van Saoedi-Arabië opgerig word nie.
Christenvervolging sal ’n kenmerk van die Antichris se regering wees, en hy sal vir ’n tyd lank as wêreldleier welslae daarmee behaal: “En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God. ... Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:6-7). Daar gaan dus ’n kortstondige tyd wees wanneer Islam se droom van wêreldheerskappy vervul gaan word, maar dit is slegte nuus vir alle mense op aarde – ook vir die Moslems self. Kyk maar hoe sleg hulle mekaar nou reeds behandel in lande soos Egipte, Libië, Irak, Iran en Sirië.
Volgens die Bybel sal vrede eers op aarde neerdaal wanneer die ware Christus kom en die magte van die Antichris totaal verdelg (Op. 19:19-21). Wanneer dit gebeur, sal nie net die oorblyfsel van Israel met Hom versoen word nie (Sag. 12:10–13:1), maar ook lede van alle ander nasies wat die Here se oordele in die groot verdrukking oorleef het (Matt. 24:29-30). Eers dan sal daar ware vrede op aarde heers, ook in die Arabiese wêreld:
“En die Here sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die Here bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees. In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:22-25).
Daar is net een oplossing vir wêreldvrede, ook vir die misleide en militante Moslems, en dit is om met die enigste ware Vredevors, Jesus Christus, versoen te word. Hy is die Seun van God wat ook een met die Vader is (Joh. 10:30), en kan daarom nie gelykgestel word met Isa van die Koran nie, wat bloot as die seun van Maria beskryf word. Die Here Jesus, die gekruisigde en opgestane Verlosser, is ook veel meer as net die Heilige van Israel – Hy is die Koning en Verlosser van die hele wêreld.