Bloedmane, Sonsverduisterings en Meteore

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2013)

Daar is twee belangrike redes waarom daar ’n hernude belangstelling in kosmiese verskynsels soos son- en maansverduisterings is, asook in die werklike gevaar wat meteore en asteroïdes vir ’n digbevolkte wêreld inhou. Een rede is die publikasie van inligting, hoofsaaklik deur Messiaanse Jode, dat verskeie sogenaamde “bloedmane” en verduisterings van die son met belangrike Joodse feesdae saamval en dus eskatologiese betekenis het. Die ander rede is ’n groeiende bewussyn van die gevare wat meteore en asteroïdes vir die lewe op aarde inhou.

Pastor Mark Biltz, ’n Messiaanse Jood van El Shaddai Ministries buite Washington in Amerika, het ’n baie opspraakwekkende ontdekking oor son- en maansverduisterings gedoen en dit met Bybelse profesieë oor Israel in verband gebring. Hy verwys na verskeie “bloedmane” wat in die laaste jaar van die huidige jaarweek in 2014 en 2015 sal voorkom, en bring dit in verband met Joël 2:31 wat lui: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.”

Mark het sy inligting op die NASA Eclipse Website gekry, en daarna vasgestel dat indien hierdie inligting op die Joodse kalender geplaas word, dit ’n duidelike patroon volg. Die voorkoms van vier bloedmane in opeenvolgende jare is baie seldsaam in die geskiedenis. Dit het in 1949/50 gebeur nadat Israel in Mei 1948 in hulle land herstel is, en weer in 1967/68 nadat Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) in Junie 1967 deur Israel herower is. Die volgende keer wanneer dit sal gebeur, sal in 2014/15 wees en dit is beslis moontlik dat dit ook met belangrike profetiese gebeurtenisse in Israel sal saamval. (NASA het dié berig oor ’n maansverduistering in 2015 geplaas: http://eclipse.gsfc.nasa.gov/LEplot/LEplot2001/LE2015Sep28T.pdf).

Dit kan nie as toeval beskou word nie dat die bloedmane in 2014/15 al vier op Joodse godsdienstige feesdae voorkom, saam met twee sonsverduisterings ook op belangrike dae in 2015. Op die 14de dag van Nisan in 2014 sal dit die pasga in Israel wees, dan sal daar ’n maansverduistering wees (vgl. Lev. 23:5). Nisan is die eerste maand in hulle godsdienstige kalender. Op die 15de dag van die sewende maand (Tisjri), wanneer die loofhuttefees begin (vgl. Lev. 23:34), sal daar weer ’n bloedmaan wees. Presies dieselfde sal weer in 2015 gebeur. Omdat Israel maanmaande het, val hierdie vier datums almal met die volmaan saam – dan sal die maan rooi soos bloed word. Hierbenewens is daar nog twee sonsverduisterings op die eerste dag van Nisan 2015 en ook op die eerste dag van Tisjri 2015. Op 1 Tisjri is dit Rosh Hashanah, die Nuwejaarsdag op Israel se siviele kalender.

Wat hierdie ontdekking deur Mark Biltz so belangrik maak, is die feit dat die jaar vanaf 25 Sept. 2014 tot 13 Sept. 2015 ’n sabbatsjaar is. Dit beëindig dus die jaarweek wat met die Rosh Hashanah op 30 September 2008 begin het. In die hele res van die 21ste eeu sal daar nie weer vier bloedmane in opeenvolgende jare op Joodse feesdae voorkom nie. Dit versterk die vermoede dat die jaarweek wat op 30 September 2008 begin het en in September 2015 eindig, dalk ’n finale aanloop kan wees na die donker dae van die verdrukking (die 70ste jaarweek van Daniël).

 

        Die maan sal word soos bloed....                                  en die son soos ’n harige sak.

Sonsverduisterings word met donker tydperke in Israel se geskiedenis verbind, veral wanneer hulle in die maand Av (Julie/Aug) voorkom. In hierdie maand vas ortodokse Jode omdat die eerste tempel op 9 Av deur Nebukadnésar verwoes is, en die tweede tempel op dieselfde dag deur die Romeine in 70 n.C. in puin gelê is.

Daar is verskeie aanduidings dat die spanning tussen Israel en sy Moslem-bure besig is om breekpunt te bereik. Iran se president en godsdiensleiers het hernude oproepe vir die uitwissing van die Joodse staat gedoen. Hulle kernprogram word versnel en Iran het Hizboellah in Libanon tot die tande toe bewapen . Hierdie terroristegroep beskik oor ’n groot arsenaal moderne vuurpyle wat teikens tot in die suide van Israel kan tref. Hulle het hulleself opnuut tot die vernietiging van die Joodse staat verbind. Dieselfde haatveldtog word ook teen Amerika gevoer.

Die wêreldwye druk op die verdeling van Israel se grondgebied en sy hoofstad, Jerusalem, ter wille van die stigting van ’n Palestynse staat, verhaas ook die groot oorlog teen Israel wat in Esegiël 38 en 39 beskryf word. Dit gaan ’n stryd om oorlewing vir Israel wees, maar volgens die Bybel gaan dit deur ’n ingryping van die Here beëindig word. Direk daarna sal die Antichris op die toneel verskyn, krediet vir die voorkoming van hierdie uitwissingsoorlog opeis, en as gevolg daarvan ook deur Israel as Messias aanvaar word (vgl. Joh. 5:43; Dan. 9:27).

Wat sonsverduisterings en bloedmane betref, moet in gedagte gehou word dat daar in die groot verdrukking as gevolg van oorlogvoering, brande en natuurrampe (veral vulkane) vir weke en selfs maande aaneen geweldige lugbesoedeling sal voorkom. Digte rookwolke sal die maan rooi soos bloed en die son soos ’n harige sak laat lyk, en hierdie teken sal baie dramaties en vir almal sigbaar wees. Joël sê: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joël 2:31).

In Openbaring staan daar: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval” (Op. 6:12-13).

Openbaring 8:12 verwys na ’n tyd wanneer ’n derde van die lig van hemelliggame deur ’n oordeel van God uitgedoof sal word, terwyl daar later selfs ’n tyd van totale verduistering op aarde sal intree (Op. 16:10).

Aan die einde van die groot verdrukking, tydens Christus se wederkoms, sal hierdie kosmiese tekens ’n hoogtepunt bereik: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Jaarweke in Israel

Volgens Levitikus 25:1-8 is daar opeenvolgende jaarweke in Israel se tydrekening – dit is periodes van sewe jaar elk, waarvan die sewende jaar ’n sabbatsjaar is. Op Israel se siviele maankalender begin elke jaar op 1 Tisjri wanneer dit Rosh Hanshanah (Nuwejaar) is. Dit is gewoonlik in September op die Gregoriaanse sonkalender.

Moderne Israel volg ’n geruime tyd reeds weer die jaarweke. Die vorige Jaarweek het tussen September 2001 en September 2008 verloop, en die huidige jaarweek sal in September 2015 ten einde loop. Ortodokse Jode verwag dat belangrike eskatologiese gebeure aan die begin van ’n jaarweek sal plaasvind. Daniël bevestig die feit dat die valse messias vir “een week lank” ’n verbond met Israel en die nasies sal sluit, verwysend na ’n jaarweek van sewe jaar (Dan. 9:27).

Meteore

In Openbaring word na “sterre” verwys wat op die aarde sal val in die tyd wanneer die son en maan ook verduister sal word. Dit is egter slegs ’n generiese term vir hemelliggame en het in hierdie geval betrekking op meteore, asteroïdes en komete. Wanneer ’n meteoor die aarde se atmosfeer binnedring, disintegreer dit en laat ’n streep gas en gesmelte deeltjies agter. In die omgangstaal staan dit as ’n “vallende ster” of ’n “verskietende ster” bekend. Die kleur daarvan kan wissel tussen oranje, geel, blou/groen, pers en rooi, afhangend van die chemiese samestelling van die meteoor.

Gewoonlik brand ’n meteoor heeltemal uit in die ruimte, maar soms tref brokstukke daarvan die aarde. Na hierdie stukke rots word verwys as meteoriete. Indien daar baie van hulle is wat deur die lug trek en op die aarde val, word dit as ’n meteoorreën beskryf. ’n Besonder helder meteoor word ’n vuurbal genoem. ’n Meteoor veroorsaak gewoonlik ’n harde slag wanneer dit die aarde se atmosfeer binnedring, omdat dit baie vinniger as die spoed van klank beweeg.

’n Gevallestudie in Rusland

Vroeg op die oggend van die 15de Februarie 2013 het ’n meteoor deur die lug beweeg oor die Oeral-gebergtes en omtrent 25 tot 30 kilometer bokant die nywerheidstad, Tsjeliabinsk, ontplof wat 1 500 kilometer oos van Moskou af geleë is. Die meteoor het teen ’n geskatte snelheid van 18.6 kilometer per sekonde beweeg (meer as 66 000 kilometer per uur) toe dit ontplof het. Die vuurbal se lig het tot oor die horison geskyn, en het ’n lang wit streep in die lug gelaat wat 200 kilometer ver gesien kon word.

Amateurvideo’s toon ’n groot vuurbal in die lug, wat verskeie minute later deur ’n groot knal gevolg is. Ooggetuies het die intense hitte van die vuurbal gevoel. Die verblindende lig van die meteoor was helderder as die son. Toe die vuurbal ontplof het, het dit sowat 1 500 mense beseer – meesal deur sekondêre oorsake soos die vlieënde glasstukke van gebreekte vensters.

Die meteoor is glad nie waargeneem voordat dit die atmosfeer binnegedring het nie, en die ontploffing daarvan het groot konsternasie onder die inwoners veroorsaak. In die hele gebied is 7 200 geboue in ses stede beskadig deur die skokgolwe, en die owerhede het noodspanne uitgestuur om in temperature onder vriespunt die skade te herstel. Die geboue wat beskadig is, sluit 6 040 woonstelblokke, 293 hospitale en klinieke, 718 skole en universiteite, 100 kultuursentrums en 43 sportgeriewe in. Daar is ook ’n gat van ses meter wyd in ’n bevrore meer waar een van die meteoriete geval het.

Die ontploffing is deur ’n helder lig gevolg, asook ’n groot skokgolf en duisende fragmente (meteoriete) wat op die aarde geval het. Die atmosfeer het gelukkig die meeste van die meteoor se energie geabsorbeer. Die totale kinetiese energie van die meteoor, voordat dit die atmosfeer getref het, was gelykstaande aan sowat 440 kiloton TNT – dit is 20 tot 30 keer meer as die energie wat vrygestel is deur die kernbom wat oor Hirosjima ontplof het.

Met ’n grootte van tussen 17 en 20 meter in deursnee, en ’n geskatte gewig van 10 000 ton voordat dit in die atmosfeer ingedring, gedeeltelik uitgebrand en ontplof het, is hierdie meteoor die grootste voorwerp wat deur die aarde se atmosfeer geval het sedert die Tunguska-meteoor in 1908, toe ’n groot en verafgeleë bosgebied in Siberië verwoes is. Die Tsjeliabinsk-meteoor is sover bekend die enigste meteoor wat grootskaalse beserings veroorsaak het.

Probeer net dink watter enorme skade deur ’n apokaliptiese meteoorreën veroorsaak kan word!

 

 

Bo: Foto’s van die meteoor wat in Februarie 2013 bokant Rusland ontplof het. Duisende meteoriete het as gevolg daarvan op die aarde geval.

 

 

 

 

Die volgende is voorstellings of foto’s van ander meteore, asook ‘n krater wat deur ‘n meteoriet veroorsaak is:

 

 

 

 

Hoba_meteorite,_Grootfontein_Namibia

 

The_Willamette_Meteorite_on_display_at_the_American_Museum_of_Natural_History_in_New_York_City.

Die Hoba meteoriet naby Grootfontein in Namibië weeg omtrent 60 ton en is die grootste bekende meteoriet op aarde. Dit bestaan uit 84% yster en 16% nikkel.

 

Die Williamette meteoriet het in die VSA geval en weeg sowat 15.5 ton. Dit bestaan uit 91% yster en 7.6% nikkel.