Die Wegraping van die Kerk

Dr. David L. Cooper

(David Cooper [1886-1965], stigter en president van die Biblical Research Society, het ‘n groot bydrae gelewer om ’n premillennialistiese eskatologie, tesame met ’n voorverdrukking-wegraping, in die VSA te vestig. Hieronder is ’n verkorte weergawe van enkele van sy artikels hieroor. Die volledige teks kan hier gelees word: http://www.biblicalresearch.info/page471.html).

Soos wat die tyd verbygaan, is daar ’n toenemende belangstelling in die wegraping van die kerk. Namate dié belangstelling groei, is daar ook ’n eweredige toename in onsekerheid hieroor. Die verskilpunt is nie soseer oor die feit van die wegraping nie, maar eerder oor die tyd wanneer dit sal plaasvind. Sekere gelowiges glo dat dit voor die verdrukking sal gebeur, ander meen dat dit vir die middel van die tyd van oordele bestem is, terwyl nog ’n groep beweer dat dit eers aan die einde van die verdrukking sal plaasvind.

Soos wat hierdie onderwerp nagevors word, raak dit duidelik waarom daar ernstige en eerlike soekers na die waarheid is wat verskillende standpunte hieroor huldig. ’n Verdere verskilpunt is die onderwerp van ’n gedeeltelike wegraping. Sekere broeders glo dat die hele kerk – dit is alle weergebore persone – tydens die wegraping weggevoer sal word. Ander glo weer dat net die “oorwinnaars” weggeneem sal word, terwyl die res van die kerk wat nie hierdie vlak van heiligmaking bereik het nie, deur die benoudheid van die verdrukking sal moet gaan sodat hulle gelouter en gesuiwer kan word om hulle vir ’n ontmoeting met die Here voor te berei.

Belofte oor die wegraping

Paulus sê: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde. Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen” (1 Thess. 4:13–5:11).

In hierdie aanhaling vind ons ’n profesie oor die wegraping van die kerk. Ek het dit nodig gevind om die hele gedeelte aan te haal, omdat ’n aanhaling van verse 4:13-18 alleen die gedagtegang sou onderbreek en aspekte van die betekenis daarvan sou verswyg. Hierdie wyse van aanhaling is in harmonie met die algemene beginsel dat ’n teks wat buite sy Skriftuurlike verband aangehaal word, dikwels net ’n voorwendsel is (“... a text apart from its context is but a pretext”).

Die apostel verklaar dat Jesus Christus op een of ander tyd in die toekoms uit die hemel sal neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel, en met geklank van die basuin van God. Op daardie oomblik sal dié wat in Christus gesterf het, eerste opstaan. Direk daarna sal die heiliges wat nog lewe, saam met hulle weggevoer word. Hulle liggame sal volgens 1 Kor. 15:50-58 in ’n oomblik, in ’n oogwink van sterflikheid tot onsterflikheid verander word.

Gelowiges wat nog lewe aan die einde van hierdie bedeling wanneer die Here kom, word verseker dat hulle nie vir die toorn bestem is nie. Hulle sal dus nie in die tydperk van toorn ingaan wat as die dag van die Here of die verdrukking bekend staan nie, maar sal die saligheid verkry en verlos word uit die tyd van oordele. Die manier waarop hulle hieruit verlos word, is dat die Here uit die hemel sal neerdaal om hulle liggame wonderbaarlik te verander en hulle van die aarde af weg te neem. Wanneer hulle die Here in die lug ontmoet saam met die ontslape heiliges wat opgewek is, sal die Here hulle na die heerlike teenwoordigheid van God die Vader neem. Hierna sal die onsterflike heiliges vir altyd by die Here wees.

Bybelse profesieë is vas en betroubaar: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet. 1:19-20). Totdat die Here kom, word ons vermaan om op vaste Bybelse profesieë ag te slaan wat soos ligte in ’n donker plek skyn, totdat die môrester in ons harte opgaan.

Net voor dagbreek verskyn daar grys strepe lig in die oostelike hemelruim. Die môrester verrys bokant die horison en kondig die koms van ’n nuwe dag aan. Deur hierdie beeld vestig die apostel ons aandag op die Here se koms net voor dagbreek. Hy is spreekwoordelik die blink môrester wat nie in die lugruim skyn nie, maar in mense se harte. Hierdie metafoor dui op ’n letterlike werklikheid, net soos ook alle ander simbole in die Bybel. Die môrester kondig aan dat die dag op hande is. Hierdie ster skyn in gelowiges se harte net voor dagbreek. Dit is baie moontlik dat Petrus verwys na die feit dat die Here in die harte van sy kinders wat weergebore en vir God aanneemlik is, getuienis sal lewer dat die tyd vir hulle naby is om uit die wêreld weggeneem en met Hom verenig te word.

Die premillennialistiese standpunt

Op my reise deur Amerika kom ek met duisende mense in aanraking, en baie van hulle vra aan my: “Gaan die kerk deur die verdrukking, of word dit weggeraap voordat die verdrukking begin?” Daar word ook vrae gevra oor die moontlikheid van ’n wegraping in die middel van die verdrukking. By die kantoor ontvang ons ook honderde briewe met dieselfde vrae. As gevolg van al hierdie vrae het ek besluit om ’n reeks artikels oor dié onderwerp te skryf.

Ter wille van ’n goeie begrip van die onderwerp sal ek eers die premillennialistiese standpunt so duidelik as moontlik stel, sodat ons in ons gedagtes die regte Skriftuurlike opeenvolging van gebeure kan verstaan. As ons ’n duidelike verwysingsraamwerk van die huidige bedeling het, tesame met die beëindiging daarvan en die oorgang na ’n nuwe bedeling, dan kan ons verskillende Bybelverse op hulle regte plekke inpas sodat die groter profetiese program duideliker gesien sal kan word.

Ek hoor dikwels die uitdrukking: “Ek is ’n premillennialis sonder ’n program.” So ’n stelling is weersprekend omdat premillennialisme ’n duidelike program van eindgebeure veronderstel. Mense wat hierdie stelling maak, sê klaarblyklik dat hulle die detail van die program tot ’n minimum beperk en basies net glo dat Jesus terugkeer voor die duisendjarige vrederyk soos in Openbaring 20:1-6 vermeld. In sy mees vereenvoudigde vorm is premillennialisme inderdaad ’n program, en dit is onmoontlik om anders daaraan te dink. Ek is ’n premillennialis met ’n program en is nie skaam daaroor nie. Ons moet die Bybel toelaat om vir homself te praat, en bereid wees om alles te aanvaar wat God sê. Omdat die waarheid nooit homself weerspreek nie, kan daar in die meeste gevalle vasgestel word waar ’n bepaalde gebeurtenis wat in die Bybel bespreek word, binne die algemene raamwerk van eindgebeure inpas. Daar mag egter dinge wees wat moeilik is om in ’n bepaalde raamwerk in te pas. Die Skrif is nogtans duidelik genoeg om ’n definitiewe program van eindgebeure te kan vasstel.

God se plan vir die evangelie tydens die Christelike bedeling

Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy gesê dat alle mag in die hemel en op aarde aan Hom gegee is. In die lig daarvan het sy dissipels die opdrag gekry om die hele wêreld in te gaan, van alle nasies dissipels te maak en hulle te doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Diegene wat Christus aangeneem het, moes daarna geleer word om alles te onderhou wat Hy ons beveel het. Hierdie program van onderrig moet tot aan die einde van die bedeling voortgesit word (Matt. 28:19-20).

In verdere gesprekke oor hierdie program het die Here Jesus in die gelykenis van die saaier sekere basiese kenmerke van die huidige bedeling genoem. Die Saaier dui op die Seun van God wat uitgegaan het om die saad te saai. Sekere daarvan het langs die pad geval en die voëls van die hemel het dit opgeëet. Ander saad het op rotsagtige plekke geval waar dit dadelik opgekom maar gou verskroei het omdat dit nie diepte gehad het nie. Derdens het ’n ander deel tussen die dorings geval, maar die dorings het dit verstik sodat dit geen goeie vrug gedra het nie. Laastens het ’n deel van die saad in goeie grond geval waar dit vrug gedra het: die een honderd-, die ander sestig-, en die ander dertigvoudig. In elke geval verwys die saad na die Woord van God. Soos ons gesien het, is daar vier soorte grond waar die saad op geval het. Slegs in die geval van die goeie grond is die Woord effektief. In die eerste drie gevalle is dit nie doeltreffend nie. Die saad moet dwarsdeur die Christelike bedeling op alle tipes grond gesaai word, selfs al is dit net in die goeie grond doeltreffend.

Die gelykenis van die koring en die onkruid wys daarop dat die onkruid wat deur die duiwel gesaai is nadat God die goeie saad gesaai het, saam met die koring sal groei tot in die oestyd, wat op die einde van hierdie bedeling dui. Die twee groei dus dwarsdeur die kerkbedeling saam.

Die Christelike bedeling eindig in goddeloosheid

Soos ons hierbo gesien het, groei die koring en onkruid saam tot aan die einde van die dispensasie wanneer dit oestyd sal wees. Hierdie feit toon duidelik aan dat daar nie ’n geredde wêreld sal wees voor Christus se koms tydens die oes nie. In die volgende uitspraak is dit duidelik dat die Christelike era in afvalligheid en goddeloosheid sal eindig:

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5).

Hierdie toestand van afvalligheid word ook deur die volgende stelling bevestig: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:1-4).

Die verdrukking

Soos dit uit die aanhalings hierbo blyk, sal die bedeling van genade dwarsdeur die wêreld in ’n toestand van afvalligheid en boosheid eindig. As gevolg daarvan sal die oordele van God tydens ’n periode van sewe jaar oor die aarde uitgestort word, soos blyk uit Daniël 9 en ander gedeeltes. In Jesaja 24:1-20 word ’n duidelike prentjie van die verdrukking aan ons voorgehou. ’n Ander baie spesifieke uiteensetting van hierdie tyd word aangetref in Matthéüs 24:9-28, waarvan die eerste helfte van die verdrukking in verse 9-14 bespreek word, en die tweede helfte in verse 15-28. Uit verskeie gedeeltes in die Bybel leer ons dat God verskillende redes het waarom Hy die oordele van die verdrukking oor die wêreld gaan uitstort:

·      Om ’n wêreldwye herlewing teweeg te bring: “... want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid” (Jes. 26:9).

·      Om al die bose mense op die aarde te verdelg: “Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit. ... Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; ... daarom word die inwoners van die aarde deur ’n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:1, 5-6).

·      Om die mag van die heilige volk (Israel) te verbreek (Dan. 12:7), sodat hulle op die punt kan kom waar hulle hul nasionale sonde van die verwerping van die Messias sal bely, en by Hom sal pleit om terug te keer en hulle te verlos.

Die wederkoms van Christus

In Openbaring 19:11-21 word ’n baie duidelike en indrukwekkende prentjie geskilder van die Here Jesus Christus se wederkoms in mag en majesteit aan die einde van die verdrukking.

In die Ou Testament is daar verskeie beskrywings van sy wederkoms, een daarvan in Habakuk 3:1-15. Nadat die Here Jesus Christus in Matthéüs 24:9-18 ’n oorsig oor die verdrukking gegee het, verwys Hy in ’n profesie in Matthéüs 24:29-31 na sy wederkoms aan die einde van die verdrukking.

Die sigbare vestiging van God se koninkryk op aarde

Nadat die profeet in Jesaja 24:1-20 ’n duidelike beeld oor die verdrukking geskep het, verwys hy baie spesifiek na die sigbare vestiging van God se koninkryk op aarde. Hy deel ons eers mee dat “die leërskare van die hoogte in die hoogte” [Satan en sy bose geeste] opgesluit sal word in ’n kuil vir baie dae [die duisend jaar van Openbaring 20:1-4] waarna hulle vrygelaat sal word (Jes. 24:21-22; vgl. Op. 20:7). Wanneer die duiwel en sy menigtes in die put gebind is, sal die Here in Sion regeer (Jes. 24:23).

In Jesaja 11 sien ons in verse 1-2 die eerste koms van Christus, en in verse 3-5 sy tweede koms. In hierdie geval word die hele Christelike bedeling verswyg. Hierdie profesie voeg die twee komste van die Messias saam in een prentjie, en dit word in verse 6-9 gevolg deur ’n profesie oor die opheffing van die vloek oor die aarde. Die Here gaan die vloek ophef wat weens Adam se sonde oor die aarde gekom het, en daarna sal Hy sy regering van geregtigheid vestig. In vers 10 word daar na die verheerlikte Jerusalem verwys waar die Here sal regeer.

In Matthéüs 25:31-46 sien ons die sigbare vestiging van God se koninkryk op aarde. Wanneer die Here Jesus in die heerlikheid van sy Vader kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit, en voor Hom sal al die nasies versamel word wat die verdrukking oorleef het. Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei, en dan gelowiges wat deur die skape voorgestel word, toelaat om die duisendjarige ryk te beërf wat van die grondlegging van die wêreld af vir hulle berei is. Diegene aan sy linkerkant sal na ’n plek van ewigdurende veroordeling weggestuur word wat berei is vir die duiwel en sy engele.

In Openbaring 20:1-3 is daar ’n beskrywing van “die draak ... die ou slang wat die duiwel en Satan is” wat vir ’n duisend jaar gebind word sodat hy die nasies op die aarde nie meer sal kan verlei tydens die duur van Christus se regering op aarde nie. Dan sal die heiliges van die huidige bedeling toegelaat word om vir ’n duisend jaar saam met Christus te regeer. Daar is ’n volmaakte harmonie en ooreenstemming tussen al hierdie voorstellings van die vestiging van die koninkryk wanneer die Here Jesus na die aarde terugkeer.

Christus se duisendjarige ryk

Die Ou Testament verwys dikwels na Christus se regering op aarde uit Jerusalem – die stad Jerusalem wat gereinig, gesuiwer en vergroot is, en geskep sal word om die vreugde van die hele wêreld te wees. Maak ’n noukeurige studie van Jesaja 33:17-24, Jeremia 3:16-18 en Sefánja 3:14-17. Hierdie Ou-Testamentiese gedeeltes sê nie vir ons hoe lank die Here in die Persoon van Jesus Christus hier sal regeer nie, maar voorspel bloot hierdie wonderlike gebeurtenis en brei verder uit oor sekere aspekte daarvan. Dit is aan die apostel Johannes oorgelaat om die tydsduur van hierdie regering aan te dui, naamlik eenduisend jaar. Hierdie periode van ’n duisend jaar word ses keer in Openbaring 20 genoem. Verskeie mense ontken die letterlike vertolking van hierdie Skrifuitspraak, omdat dit die enigste plek in die Bybel is waarin die lengte van Christus se regering genoem word.

Die bewering word dikwels gemaak dat ons nie hierdie gedeelte letterlik kan opneem nie omdat daar beeldspraak in voorkom. Dit is waar dat daar sekere simbole in dié gedeelte voorkom wat volgens hulle normale betekenis vertolk moet word, maar daar is ook letterlike stellings in wat letterlik verklaar moet word. Daar is niks wat aandui dat die duisend jaar iets anders bedoel as wat die woorde aandui nie. As ons getrou aan die teks wil wees, moet ons hierdie stellings letterlik opneem, naamlik dat Christus vir ’n duisend jaar lank sal regeer.

Die oordeel van die groot wit troon

Ná die afloop van die Here Jesus se duisendjarige regering in die beeldskone en verheerlikte Jerusalem, “sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is” (Op. 20:7-8). Hy sal ’n wêreldwye opstand teen Christus lei in ’n poging om Hom te intimideer, soos wat in Openbaring 20:7-9 beskryf word. Wanneer hierdie mag Jerusalem beleër, sal hulle deur vuur uit die hemel vernietig word (v. 9).

Direk ná hierdie gebeurtenis sal die oordeel voor die groot wit troon plaasvind. Die ongeredde dooies sal dan opgewek en voor dié troon gedaag word waarop Christus sal sit. Hulle sal dan geoordeel en verdoem word tot die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Hulle sal vir altyd lewe om hulle ewige straf te ondergaan (Op. 20:11-15).

Tydens die groot wit troon-oordeel sal die huidige materiële orde aan sy einde kom. Dit sal die vervulling wees van die Here Jesus se profesie: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde saal nooit verbygaan nie” (Matt. 24:35; Mark. 13:31; Luk. 21:33).

Die ewigheid

Nadat die huidige materiële orde vergaan en die groot wit troon-oordeel afgehandel is, sal God die ewige orde vestig deur ’n nuwe hemel en aarde te skep, asook ’n nuwe Jerusalem wat uit die hemel op die nuwe aarde sal neerdaal. Dit word in Openbaring 21 en 22 beskryf, en behoort noukeurig bestudeer te word.

In die voorgaande studie het ons ’n Bybelse bloudruk van gebeure tussen die eerste koms van Christus en die aanbreek van die ewige orde. Dit behels ’n program wat baie duidelik deur die Here self uiteengesit is. Skrifverwysings is deurgaans aangehaal om standpunte wat gestel is, te bevestig. Die noukeurige leser sou agtergekom het dat daar in hierdie oorsig niks gesê is oor die wegraping van die kerk nie. Ons sal egter verdere ondersoek in die Bybel instel om te bepaal waar die wegraping in hierdie opeenvolgende reeks gebeure inpas – voor, in die middel of aan die einde van die verdrukking. God se Woord is die finale gesag oor sulke sake.

Die dae van Noag en Lot

Aangesien daar uiteenlopende opinies is oor wanneer die wegraping sal plaasvind, is dit onmoontlik dat almal van hulle reg kan wees. Kan ons uit ’n studie van God se Woord vasstel wanneer die presiese tyd van die wegraping is met betrekking tot ander eindgebeure?

In Matthéüs 24:34-39 praat die Here Jesus van die verdrukking en vergelyk dit met die dae van Noag pas voor die sondvloed. Net soos in die tyd van Noag toe mense geëet, gedrink, getrou, gekoop en verkoop het totdat die vloed gekom en hulle weggevoer het, so sal dit wees in die dag van die Seun van die mens. Van watter koms praat Hy hier? Dit is beslis onmoontlik om hierdie gedeelte te vertolk as ’n verwysing na sy koms in heerlikheid aan die einde van die verdrukking.

Die rede waarom ek hierdie stelling maak is duidelik. Elkeen wat kennis dra van profesieë oor die geweldige vernietiging wat veroorsaak sal word deur die oordele van die verdrukking, sal besef dat dit in die sin van hierdie gedeelte onmoontlik is vir mense om te eet, te drink en te trou tot aan die einde van die verdrukking wanneer Christus in heerlikheid sal kom (Matt. 24:29-30). Maar wanneer Hy kom in die vervulling van hierdie gedeelte voor die oordele, sal mense met wêreldse dinge besig wees en nie veel aandag gee aan die tyd waarin hulle leef nie. Dit is dan wanneer hulle sal sê: “Vrede en veiligheid ...” (1 Thess. 5:2-3). In die lig van hierdie en ander feite, is dit is dit onmoontlik om in die stelling “... so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” ’n verwysing na enige ander koms te sien as die koms van die Here Jesus uit die hemel om die heiliges weg te voer voor die vernietigende oordele van die verdrukking.

Hierdie koms van Christus is beslis die een wat voor die verdrukking plaasvind, omdat die omstandighede wat beskryf word, nie aan die einde van die verdrukking kan bestaan nie. By hierdie geleentheid sal die Here Jesus net diegene wegneem wat aan Hom behoort: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander verlaat. Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie” (Matt. 24:40-42).

Uit die verband van hierdie gedeelte is dit duidelik dat dit slegs op die koms van Jesus voor die verdrukking dui, wanneer Hy die heiliges sal wegvoer. Die een wat weggeneem word, is die een wat vir Christus ken en weergebore is, en daarom gereed is om saam met die Here te gaan. Die ander een, die persoon wat nie weergebore is nie, word agtergelaat om deur die verdrukking te gaan.

In Matthéüs 24:45-51 wys die Here Jesus op regte en verkeerde houdings wat gedurende die tyd van die wegraping voor die verdrukking, deur verskillende diensknegte van Hom ingeneem sal word. Die regte houding word deur die getroue dienskneg ingeneem wat alles doen met die oog op die rekenskap wat sy heer tydens sy koms van hom sal opeis. Die ontroue dienskneg sê dat sy heer talm om te kom. Hy vergeet dus van sy aanspreeklikheid teenoor sy heer, begin arrogant en gevoelloos teenoor andere op te tree en wyk heeltemal van sy opdragte af.

Wanneer Christus sy heiliges tydens die wegraping voor die verdrukking kom haal, sal Hy hulle na Hom toe neem en hulle beloon, soos ons in die gelykenis van die talente lees (Matt. 25:14-30). In ander gedeeltes sien ons ook duidelik dat Christene ná die wegraping voor die regterstoel van Christus sal verskyn om genadeloon te ontvang.

Sy koms in heerlikheid

“En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Matt. 25:31-32).

Soos ons reeds gesien het, verwys die koms van die Seun van die mens in Matthéüs 24:39 na sy koms in die lug vir sy heiliges – die wegraping van die kerk. Sy koms in Matthéüs 25:31 en verder dui egter op sy koms aan die einde van die verdrukking wanneer al die nasies wat die verdrukking oorleef het, voor Hom sal verskyn sodat Hy van mekaar kan skei soos ’n herder skape en bokke van mekaar afskei. Hierna sal Hy sy duisendjarige ryk van geregtigheid op aarde vestig. Dit sal die wêreld se goue eeu wees!

Wanneer ons hierdie gedeelte analiseer soos wat pas gedoen is, sal ons noodwendig sien dat die wegvoering van die heiliges, die gelowiges in Christus, sal plaasvind tydens die Here se koms voor die verdrukking. Dit is onmoontlik vir enigeen om ’n ander vertolking aan hierdie gedeelte te gee indien hy bereid is om getrou te bly aan die boodskap daarvan. As ons egter gedwonge konstruksies op die Here se woorde plaas, dan kan ons in die teks iets inlees wat nie daar staan nie. Maar as ons die grammaties-historiese metode van eksegese volg, wat die enigste een is wat deur objektiewe navorsers erken word, is dit onafwendbaar dat ons tot die gevolgtrekking sal kom dat die wegvoering van die kerk voor die verdrukking plaasvind.

 

Biografie van David L. Cooper

David L. Cooper (1886-1965) was die stigter en president van die Biblical Research Society http://www.biblicalresearch.info/). Hy het die Here Jesus as sy Verlosser aangeneem toe hy ’n jongman van 19 jaar was, en spoedig daarna die oortuiging gekry dat die Here hom vir voltydse bediening roep. Hy het homself onmiddellik toegewy aan ’n lang tyd van intensiewe studie en navorsing as voorbereiding op die Here se diens.

David het aan die Tulane-universiteit, die Universiteit van Louisville, die Universiteit van Chicago en die Southern Baptist Theological Seminary gestudeer, en ook ’n doktorsgraad behaal aan die Bob Jones-universiteit. Verder het hy ’n meestersgraad en D. Phil. in Semitiese tale behaal.

In 1923 het hy uit die Bybel van God se plan vir die Jode bewus geword. Die feit dat God se uitverkore volk in ’n toestand van verworpenheid was terwyl hulle deur die Here bestem is om ’n seën vir die hele wêreld te wees, het sy hart so oorweldig dat hy die Here belowe het dat hy sy posisie as dosent sou bedank om voltydse Joodse evangelisasie te doen indien dit die Here se wil was. In dieselfde tyd het mev. Cooper ook ’n las vir die Jode gehad en gebid dat God haar man vir ’n bediening onder Israel sou roep.

David en sy vrou het by die Moody Bybel-instituut vir ’n kursus in Joodse sendingwerk ingeskryf, terwyl David ook aan die Universiteit van Chicago spesiale studies in Hebreeus, Aramees en Babiloniese tale gedoen het. Hy het later ’n posisie aanvaar by die Bybel-instituut van Chicago waar hy voorsitter van die Joodse Departement geword het. Hy het daar gewerk tot in die groot depressie, toe hy weens besnoeiings verplig was om te bedank. Dit was toe dat die Here hom vir sy werklike lewenstaak geroep het.

Terwyl hy in die Bybel-instituut was, het dr. Cooper begin skryf aan ’n boek wat uiteindelik deel van ’n stel van sewe volumes sou wees, getiteld The eternal God Revealing Himself to Suffering Israel and to Lost Humanity. Sy visie vir Israel se geestelike nood het toegeneem terwyl hy die Hebreeuse Skrifte gelees het. Hierdie boek was die eerste een wat gratis aan Jode gestuur is deur die nuwe Bible Research Society wat in 1930 gestig is.

Dwarsdeur David se bediening was Paulus se woorde in Romeine 1:16 vir hom ’n konstante herinnering en uitdaging oor die besondere plek wat Jode in God se hart geniet: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek (nie-Jode).”

Moderne geloofshelde

Die verhaal oor David en Lita Cooper se lewens is – soos die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word – ’n verhaal oor ernstige stryd en talle probleme wat oorkom moes word, oor ontberings wat deur die hele gesin gely is, en ook oor lang ure van fisiese en verstandelike werk wat elke dag gedoen moes word. Dit is ook ’n verhaal oor die wonderbaarlike maniere waarop God gewerk het om hulle voor te berei en toe te rus om in sy diens te staan. Hulle het getrou gebly aan die taak wat die Here aan hulle opgedra het, en hulle nie blind gestaar teen persoonlike uitputting, ongerief en probleme nie.

Ná vyf jaar van Bybelskoolopleiding wat gefinansier is deur deeltydse werk en tentdienste wat hy in die somer in afgeleë plekke gehou het, en waarvoor hy baie min betaal is, het David een oggend terwyl hy oor die profesieë gepreek het, besef dat wat hy gesê het, ’n dwaling was. Hy was so verskrik hieroor dat hy dit oorweeg het om sy bediening te laat vaar. Hy het sy verloofde hieroor ingelig, maar sy het daarop gereageer deur te sê: “Die roeping van God is onberoulik, en sy opdrag is ook sy instaatstelling. ... Gaan terug kollege toe en leer meer oor die waarheid.” Hulle is kort daarna getroud, en David en Lita het na Louisville in Kentucky gegaan om sy studies voort te sit.

Sy begeerte na die waarheid het daartoe gelei dat hy vir ’n verdere agte jaar aan verskeie universiteite en ’n teologiese seminarium gestudeer het. Dit was ’n moeilike taak om nie net homself finansieel te onderhou nie, maar ook ’n groeiende gesin van uiteindelik vier kinders en ’n vrou wie se gesondheid nie goed was nie. David Cooper het benewens sy gewone kollege-grade ook twee meestersgrade verwerf (een in lettere en een in teologie), asook ’n Ph. D. Tydens sy leeftyd is hy met ’n eredoktorsgraad in teologie vereer (D.D.) asook ’n D. Litt. in lettere.

Hy was nooit tevrede om Bybelvertalings te aanvaar wat deur ander mense gedoen is nie, en het vir jare lank gevorderde studies in Hebreeus en Grieks gedoen. David het uiteindelik nege tale bemeester – Engels, Latyn, Spaans, Duits en Frans, asook die Bybelse tale: Aramees, Babilonies, Hebreeus en Grieks. Hy was vir ’n tyd lank professor in Engels aan ’n universiteit, en het ook Hebreeus en Grieks gedoseer.

Die belangrikste doel in David se lewe was om God se wil te doen. Sy leuse was: “God se wil – niks meer, niks minder en niks anders nie.” Hy het besef dat Hy God se waarheid moes ken as Hy God se wil wou doen. Vir 24 jaar lank het hy 4-uur elke oggend opgestaan om Bybelstudie te doen. Gedurende die later jare van sy lewe het mev. Cooper daarop aangedring dat hy eers 6-uur opstaan sodat hy sy kragte kon spaar. Ten spyte daarvan het hy steeds sowat vier ure per dag Bybelstudie gedoen. Hy het verkies om die Bybel te bestudeer voordat hy enige ander boek oopmaak. Eers wanneer hy ten volle oortuig was oor die betekenis en vertolking van ’n bepaalde gedeelte, sou hy ook oplees oor hoe God hierdie waarheid aan ander geopenbaar het.

Dr. Cooper was altyd bereid om sy kennis met jong predikante te deel. Hierdie jongmanne was vir hom soos Timótheüsse vir wie hy baie omgegee het en verplig gevoel het om hulle deeglik in die waarheid te onderrig. Omdat David die Ou Testament so deeglik bestudeer het as deel van sy voorbereiding om die boeke in sy Messiaanse Reeks te skryf, het hy ’n buitengewone insig gehad in God se profetiese plan vir die mensdom. Profesie was ’n gereelde tema in die artikels wat in die Biblical Research Monthly verskyn het. Volgens hom was daar ’n groot behoefte aan die regte verstaan hiervan. “Daar is te veel raaiwerk en spekulasie op die terrein van profesie,” het hy geskryf. “Dit is tyd dat ons die teks akkuraat bestudeer, presies vasstel wat dit bedoel, en dit dan met ander Skriftuurlike feite en kennis vergelyk.”

David het na die volgende “goue reël van interpretasie” verwys: “Wanneer die basiese betekenis van die Woord logies verstaanbaar is, moet dan nie na ’n ander betekenis soek nie; vertolk dus elke woord volgens sy primêre, gewone, letterlike betekenis tensy die onmiddellike konteks daarvan in die lig van verwante gedeeltes en grondwaarhede, duidelik op ’n ander vertolking dui.” (Eng.: “When the plain sense of Scripture makes common sense, seek no other sense; therefore, take every word at its primary, ordinary, usual, literal meaning unless the facts of the immediate context, studied in the light of related passages and axiomatic and fundamental truths, indicate clearly otherwise.”

“Deur hierdie reël te volg, vermy ons die slaggat van pogings om iets anders in die teks in te lees wat nie daar staan nie, en dan in gebreke te bly om werklik te sien wat in die Heilige Woord staan,” het hy aan sy klasse verduidelik. “Aangesien daar diegene is wat nie besef wat die waarde van die bestudering van profesieë is nie, vestig ek die aandag op die feit dat die Here die profetiese gedeeltes van sy Woord vir ons inligting en geestelike verryking gegee het. ‘Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus’ (2 Tim. 3:16-17). Sonder ’n behoorlike kennis van die profetiese woord sal niemand volkome toegerus wees vir al die goeie werke wat God van sy kinders verwag nie.”

David Cooper het ook die noodsaaklikheid van heiligmaking beklemtoon. Hoewel die Skrifte volgens hom nie sondelose volmaaktheid leer nie, hou hulle wel die moontlikheid van die oorwinnende lewe voor. Dit word in baie dele van die Bybel uiteengesit. In Romeine 12:1-2 moedig Paulus die Christene aan: “... dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Met verwysing na al die probleme en beproewings wat ervaar word deur mense wat heilig in Christus Jesus wil leef, sê Paulus: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Rom. 8:37). Vir die Thessalonicense sê hy: “Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo” (1 Thess. 2:10). Petrus moedig gelowiges aan om sekere deugde by hulle Christelike geloof te voeg, en sluit dan af deur te sê: “... want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie” (2 Pet. 1:5-10). David Cooper het hierby gevoeg: “Die oorwinnende lewe kan slegs geleef word in en deur die krag wat die Heilige Gees aan die gelowige verleen.”

Verskeie bekende, konserwatiewe geleerdes het Dr. Cooper se verklaring van Skriftuurlike waarhede aanvaar en daarop staatgemaak. Hulle het waardering gehad vir sy intensiewe studie van die Ou Testament, sy buitengewone kennis van die Bybelse tale, asook sy vaste oortuiging dat die Bybel God se Woord is wat foutloos in sy oorspronklike tale is, en presies weergee wat God se bedoeling is.