Calvinisme uit die Bybel Weerlê

Prof. Johan Malan, Universiteit van Limpopo, RSA (Januarie 2006)

Skrifaanhalings is uit die 1933/53 vertaling van die Afrikaanse Bybel.

Suid-Afrika was sedert sy begin as ‘n klein Hollandse kolonie aan die Kaap van Goeie Hoop in 1652, sterk onder die invloed van Calvinistiese (gereformeerde) kerke wat deur koloniste uit Holland hier geplant is. Calvinisme het so sterk in die land gevestig geraak dat die NG Kerk, grootste van die drie gereformeerde kerke van Nederlandse afkoms, feitlik as ‘n staatskerk gefunksioneer het. Dit was baie seldsaam dat senior posisies in die staatsdiens deur kandidate gevul sou word wat nie aan die NG Kerk, of, ten minste aan een van sy twee susterskerke, behoort het nie. Alle kerke buite hierdie familie is as sektes beskou en selfs openlik so genoem.

Vir meer as 300 jaar is die openbare mening oor godsdienstige sake deur die Calvinistiese dogma bepaal. Kommunikasie met God is op ‘n baie formele en gestruktureerde wyse as liturgiese rituele binne kerkverband gesien. Die geordende leraars met hulle spesiale titels en ampsdrag was ver bokant die leke verhewe. Hulle het van indrukwekkende, hoë kansels af gepreek wat soos trone gelyk het, en dit het die absolute gesag van God se woord gesimboliseer. Die kerkgeboue was ewe indrukwekkend (vergelyk dit met die eenvoud van die vroeë Christene wat in huise bymekaargekom het, Hand. 12:12; Rom. 16:5). Hierdie reuse, katedraalagtige strukture met hulle hoë torings is monumente van menslike hoogmoed en oorheers die landskap van die meeste dorpe en stede, terwyl een van die belangrike strate gewoonlik Kerkstraat genoem word. ‘n Belangrike stelling is hierdeur gemaak dat die kerk se gesag en invloed in die gemeenskap gevestig is.

Predikante word as die spesiaal gesalfde verteenwoordigers van God beskou, met die eksklusiewe reg om die genade van die Here deur sakramente soos die kinderdoop en die Nagmaal te bedien, en ook om die Woord te verkondig. Hulle is streng aan Calvinistiese belydenisskrifte verbind en weerstaan enigiets wat hiermee in stryd is. Geloof in die uitverkiesingsleer is so sterk dat alle gedoopte en aangeneemde lidmate van die kerk as die uitverkorenes van God beskou word. Hulle kinders word ook outomaties as uitverkorenes beskou, en wanneer hulle kort na geboorte as suiglinge gedoop is, is hulle verbondskinders wat volgens Calvinistiese sienings nooit uit die hand van die Here geruk kan word nie. Hulle word dus van kleins af as “weergebore” beskou.

Genadiglik kom baie van hierdie persone later agter dat hulle slagoffers van ‘n menslik bepaalde vormgodsdiens is (die leringe van mense, Matt. 15:9), waarin hulle gevange gehou is. Wanneer hulle hulself dan aan die Here Jesus oorgee om waarlik gered en weergebore te word, word hulle gewoonlik van sektariese invloede beskuldig en gewaarsku om niks te sê waarin die kerk en sy leerstellings negatief voorgestel sal word nie. Indien hulle op die nuwe weg voortgaan en hulleself ook as gelowiges laat doop, word hulle feitlik altyd uit die kerk geskors op grond van die aanklag dat hulle die verbond met God verbreek het wat tydens hulle kinderdoop gesluit is – en dit ten spyte van die feit dat die kinderdoop nêrens in die Bybel aangetref word nie. Hulle word egter nie so hard behandel as wat Calvyn die Anabaptiste behandel het nie, maar die reaksie van minagting en verwerping is in beginsel dieselfde.

Daar wás nogtans tye toe die evangelieboodskap op só ‘n manier van verskeie gereformeerde kansels af verkondig is dat baie mense gered is. Lidmate is opgeroep om die Here Jesus vir die redding van hulle siele te vertrou. Sulke predikers het nie groot betekenis aan die kinderdoop geheg nie, anders as net ‘n verbintenis deur die ouers om hulle kinders in die vrese van die Here op te voed. Doopsaligheid is nie verkondig nie. Die predikers in hierdie kategorie was sogenaamde eenpunt-Calviniste, soos wat later verduidelik sal word. Sekere van hierdie predikers, soos bv. Andrew Murray, het erken dat hulle baie oor heiligmaking by John Wesley en ander herlewingspredikers geleer het. Premillennialisme (die leer oor die wederkoms van Christus voor die duisendjarige vrederyk) is ook in die eerste deel van die 20ste eeu deur verskeie predikers verkondig, maar hierdie leer is later deur die meerderheid amillennialistiese (antichiliastiese) teoloë verwerp en doodgedruk. Die “beter tye” in die kerk was toe daar nie streng by Calvyn se leerstellings gehou is nie.

Ons leef nou in ‘n postmoderne tyd waarin lank gevestigde godsdienstige dogmas, politieke ideologieë en kulturele tradisies deur baie mense bevraagteken en verwerp word. Dit is ‘n baie verwarrende stadium van die wêreldgeskiedenis waarin konformisme ‘n verdwynende verskynsel is. Tradisie het sy mag oor die samelewing verloor en elkeen doen nou net wat hy of sy wil. Menslike vryhede word baie wyd gedefinieer en daar is min mense wat hulleself aan Bybelse beginsels en konserwatiewe waardes steur. In Suid-Afrika het die voormalige regerende party homself tot in sy finale ondergang getransformeer. Die meeste kerke is ook in ‘n oorlewingstryd en stel radikale hervormings in om minder voorskriftelik, minder veroordelend en meer verbruikersvriendelik te word. Die voormalige ‘staatskerk’ het selfs opgehou om sondaars soos  homoseksuele te veroordeel, en bevriend hulleself ook nou met hulle eeue oue vyand, die Rooms-Katolieke Kerk. Hoë kansels word afgebreek en platforms gebou waarop moderne orkeste saam met predikers optree wat informeel geklee is en nie meer met hoogdrawende, pastorale stemme praat nie. Alles word meer ontspanne en gemaklik – selfs ook hoogs aanvaarbaar vir die ongeredde wêreld.

Die huidige benadering en minder dogmatiese prediking in kerke word goed deur 'n oud-Suid-Afrikaner, Eldo Barkhuizen, geformuleer wat nou in Norfolk, Engeland woon, waar soortgelyke verval aan die gang is: “Ek hoor nie meer veel prediking oor die hel en oor heiligmaking nie. Al wat mens nou hoor, is oor God se liefde en genade, en oor hoe spesiaal ons vir Hom is. Die moderne Christendom het stilletjies die kruis begrawe, en nou is alles perskebloeisels en sonskyn met geen wolke in sig nie. O ja, en moenie vergeet nie, die Here wil almal van ons ryk maak omdat ons Koningskinders is!”

Ten spyte van al hierdie veranderings en moderne giere, word teologiese dogmas nog steeds deur die ouer geslag eerbiedig, hoewel op ‘n meer verdraagsame en pragmatiese manier. Ons moet nog steeds weet wat die dwalings en gevare van Calvinisme, Rooms-Katolisisme en ander leringe en gebooie van mense is (Matt. 15:8-9). Ons moet ook van onbybelse identiteitsbewegings soos die Israelvisie bewus wees, omdat hulle vinnig in die postmoderne samelewing toeneem waarin die grense van die ou orde besig is om te verdwyn. Aangesien alle opsies in ‘n postmoderne samelewing oop is, het ons beslis die reg om evangeliese Christene wees wat moet opstaan en ook ons stemme laat hoor.

Ons sal nou aan Calvinisme aandag gee omdat dit die belangrikste dogma was wat gebruik is om miljoene Suid-Afrikaners in ‘n sosiaal aanvaarbare, teologiese drukgang te plaas waarin hulle tot ‘n groot mate vir die eise van die evangelie verblind is.

Die dwalings van Calvinisme

Calvinisme is ‘n misleidende leerstelling waardeur ‘n valse geestelike fondament aan ongeredde mense gebied word. Saam met die verwante leerstellings van die Lutherse en Rooms-Katolieke kerke het dit ‘n groot aandeel in die groeiende naamchristendom van ons tyd. Dit is duidelik ‘n verlengstuk van die Ou Testamentiese begrip van Israel as God se uitverkore volk, omdat hulle die Christendom as ‘n ‘volk’ sien wat deur God uitverkies, gered en ewiglik bewaar word. Die ‘nuwe Israel’ word as die produk van God se eensydige besluite en handelinge gesien, waarin die vrye wil van die mens geen rol speel nie. Calvyn het gesê dat God deur sy ewige voorsienigheid sekere mense vir redding uitverkies en die ander vir die ewigdurende verdoemenis voorbeskik het. Die volgende is die basiese beginsels van die Calvinistiese verlossingsleer. Dit word volledig in Dave Hunt se boek, What love is this? Calvinism's misrepresentation of God (Loyal Publishing, Sisters, Oregon, 2002), bespreek.

1. Totale verdorwenheid. Die meeste Christelike leerstellings erken die morele en geestelike verdorwenheid van die mensdom as gevolg van die sondeval. Calvinisme leer egter dat die gevalle mens só verdorwe is dat hy homself nie tot God sal bekeer nie omdat hy nie ‘n besluit hiertoe kan neem nie. God moet eers tussenbeide tree deur die harte van sy uitverkorenes te wederbaar, waarna geloof aan hulle geskenk sal word wat hulle in staat sal stel om hulle te bekeer. Volgens Calvyn vind wedergeboorte tydens die kinderdoop plaas, wanneer ‘n ewige verbond met God gesluit word. Bekering word nie in die lewens van die uitverkore en weergebore gelowiges met die oorgang uit die duisternis van verlorenheid tot die lig van ‘n nuwe lewe in Christus in verband gebring nie, maar as ‘n voortgaande proses gesien. Die sondes waarvan lidmate hulleself moet bekeer, word deur die kerk bepaal, wat ook die instrument vir die Here se genadewerk deur sakramente soos die doop en die Nagmaal is. Indien die kerk sou besluit dat gebruike soos homoseksualiteit, rook, dobbel en die gebruik van alkohol nie wesenlik sondig is nie, hoef gelowiges hulle nie daarvan te bekeer nie. Christus se heiligheid word aan hulle toegereken, sonder ‘n duidelike, persoonlike verbintenis tot ‘n heilige lewenswandel.

Kommentaar: In die Ou Testament moes selfs die uitverkore volk, Israel, hulle vrye wil gebruik om te besluit of hulle die Here wou dien of nie (Jos. 24:15; Jes. 55:6-7). Die meeste van hulle het as goddeloses gesterf omdat hulle die verkeerde keuses gemaak het deur ‘n lewe van sonde te verkies (1 Kor. 10:5). Hoewel hulle “verbondskinders” was, het hulle nie geglo wat aan hulle verkondig is nie (Heb. 4:1-2). Dit is wel waar dat verdorwe mense nie na God soek voordat hulle deur sy oproep tot redding geestelik ontwaak het nie (Jes. 1:18; Matt. 9:13; 11:28; Luk. 19:10). ‘n Ontwaakte sondaar wat die oproep tot bekering gehoor het, besef sy probleem van verlorenheid en het ook van die oplossing hiervoor kennis geneem. Hy moet dan besluit of Hy God se oproep gaan teëstaan en of hy gehoor daaraan sal gee om die Here Jesus as sy Verlosser aan te neem (Heb. 3:7-8; Ef. 5:14). Hoewel God alle sondaars vra om in hulle eie belang tot bekering te kom (Hand. 17:30), dwing Hy niemand nie (Matt. 23:37). “Laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17; my beklemtoning).

2. Onvoorwaardelike verkiesing. Calvinisme hou krampagtig aan die onbybelse stelling vas dat God sekere mense vir die hemel en ander vir die hel uitverkies het. Volgens hierdie beskouing het Hy voor die grondlegging van die wêreld twee lyste met die name van alle toekomstige verlostes en verlorenes opgestel (Eng. ‘n “good luck” en ‘n “tough luck” lys). Dit is jammer as jou naam op laasgenoemde lys is, want dan sal God nie jou hart wederbaar en sy reddende genade oor jou uitstort nie. Jy is dan ‘n verdoemde siel wat vir jou aanhoudende sondigheid die ewige straf in die hel sal moet verduur. Hierdie feit kan nie verander word nie. Volgens die Bybel is die groot meerderheid van die mensdom onder die verlorenes (Matt. 7:13-14). Dit, volgens Calvinisme, beteken dat God net ‘n minderheid van die mensdom liefhet.

Kommentaar: Die Here het voorkennis van die keuses wat alle mense gemaak het (en nog sal maak), maar Hy het nooit enigeen vir die hemel of hel voorbestem nie. God is ‘n God van liefde. Hy het alle mense lief en “verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). In die volgende vers staan daar dat Hy die wêreld deur Jesus Christus in geregtigheid sal oordeel (Hand. 17:31). Dit beteken dat die ongereddes uit eie beweging met hulle rebellie teen die God van eindelose liefde voortgaan, omdat hulle weier om hulle te bekeer. Hoe anders kan hulle weens hul gebrek aan bekering deur God aanspreeklik gehou word? Indien slegs die uitverkorenes se harte wederbaar word, en net weergebore mense kan glo en hulle kan bekeer, maak dit geen sin om diegene aan wie redding doelbewus weerhou is, te oordeel omdat hulle nie in Christus glo nie. Dit is ‘n growwe belediging vir God om te beweer dat Hy nie alle mense wil red nie.

3. Beperkte versoening. In ooreenstemming met hulle beskouing dat God slegs sekere mense uitverkies het, beweer Calviniste dat Christus net vir hierdie selektiewe groep gesterf het om vir hulle sonde versoening te doen. Die res van die mensdom is sonder God, sonder hoop, en sonder die geringste moontlikheid van redding. Vir hulle is die Lam van God nie vir al die sondige en geestelik verlore afstammelinge van Adam geslag nie – net vir sommiges wat deur God verkies is.

Kommentaar: Jesus Christus het vir die sonde van die hele wêreld gesterf (Joh. 3:16; 2 Cor. 5:19), insluitende diegene wat voor sy menswording en kruisiging geleef het. Hulle het die belofte van die komende Messias geglo (Heb. 11:13) en onvolmaakte offers vir hulle sondes gebring, wat heenwysings na die eenmalige offer van God se volmaakte Lam was (Heb. 10:1-10). Christus is “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). Hy het nie net vir die uitverkorenes gesterf nie, maar versoening vir sondes van alle mense op aarde gedoen. Die weg is sodoende vir almal geopen om vergifnis van sonde en die ewige lewe te verkry: “Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:2). Die Bybel stel dit duidelik dat God “wil hê dat alle mense gered word” (1 Tim. 2:4), en dat Hy “nie wil hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Diegene wat verlore gaan, is in hierdie posisie omdat hulle die duisternis liewer gehad het as die lig (Joh. 3:19). Die Jode wat die Messias verwerp het, was almal lede van die uitverkore volk, Israel. Jesus Christus “het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:11). Slegs diegene wat Hom in die geloof aangeneem, hulle sondes bely en weergebore is, het kinders van God geword (Joh. 1:12). In die Nuwe Testament word alle mense verkies en tot redding opgeroep. Net ‘n klein groep reageer positief op die uitnodiging tot redding, en in Christus Jesus is hulle deel van die uitverkorenes. Omdat die Here Jesus die voorkennis het van almal wat Hom as Verlosser sal aanneem, het Hy hulle tot heilige, vrugbare lewens verordineer en ook bepaal in watter hoedanighede hulle Hom moet dien (Ef. 1:4-5).

4. Onweerstaanbare genade. Calviniste sê dat God deur sy Heilige Gees almal in besit neem wat reeds op grond van hulle verkiesing en kinderdoop in ‘n verbondsverhouding met Hom is. Hulle is soos robots wat deur God gemanipuleer word omdat hulle nie uit hulle eie wil optree nie en net doen wat God in hulle harte gewerk het om te doen. Sy soewereine besluite en voorbestemming is die kritieke faktore in hulle redding, en gelowiges stel hulle geloof hierin. Calviniste glo dat dit verkeerd is vir persone wat nog altyd onder die uitverkorenes was, om te getuig dat hulle verlore en onder die oordele van God was, en enige behoefte aan redding gehad het wat hulle uit die duisternis van verlorernheid na God se wonderbare lig moes oorbring.

Kommentaar: Dit is ‘n kenmerk van God se genadewerk dat Hy nie dwang gebruik nie, omdat Hy wil hê dat gelowiges Hom vrywillig moet liefhê. Dit is die rede waarom die ongereddes (of hulle van die uitverkore volk Israel is of nie) hulle harte kan verhard en die Heilige Gees wat hulle tot bekering wil lei, kan weerstaan (Hand. 7:51). Daar is geen moontlikheid dat genade onweerstaanbaar kan wees nie. Die Heilige Gees pleit by mense deur hulle van hul sondes en Christus geregtigheid te oortuig (Joh. 16:8), maar laat die keuse by hulle om op hierdie oortuigings te reageer. Selfs ná hulle redding kan gelowiges die Heilige Gees bedroef deur nie sy leiding te volg nie (Ef. 4:30). Paulus waarsku die Thessalonicense om nie die Heilige Gees uit te blus nie (1 Thess. 5:19). Die feit word hierdeur beklemtoon dat Christene steeds ‘n vrye wil het, en daarop ingestel behoort te wees om God se volmaakte wil te ken en te doen (Rom. 12:1-2).

5. Volharding van die heiliges. Hierdie beginsel berus ook op die Calvinistiese idee dat mense nie ‘n vrye wil het nie – dat aangesien God ons redding beplan het, voorsiening daarvoor gemaak en dit op 'n onweerstaanbare manier aan ons toegereken het, Hy ook daarvoor sal sorg dat ons nie uit sy hand geruk word nie. Christus sal dus namens ons volhard en sodoende ons ewige sekerheid waarborg (die siening van eenmaal-gered-altyd-gered). Calviniste verwerp geheel en al die idee van terugval en verval uit die genade, omdat hulle glo dat God onvoorwaardelik die volmaakte lewe van sy Seun aan Christene toegereken het, en die versekering gee dat daar voortdurend vir alle sondes wat hulle doen, versoening gedoen sal word.

Kommentaar: Die Bybel leer ons anders. Al God se seëninge en genadewerk is voorwaardelik. Ons moet tot bekering kom en ons sondes bely as ons gered wil word (1 Joh. 1:9). Ná ons redding moet ons in Christus bly en in geloof en heiligmaking volhard as ons onder die bloed wil bly (1 Joh. 1:7). Wat gebeur as ons hierdie verhouding verbreek? Dan val ons geestelik terug, selfs tot op die punt van verval uit die genade. In ons verhouding met die Here is daar twee partye, en ons moet getrou bly as ons die voordele van God se ononderbroke teenwoordigheid in ons lewens wil ervaar. Ons moet “die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:6). As ons dit moedswillig verwerp, dan gee ons ons geloof prys en kom geestelik tot 'n val. Paulus het vir Timotheus vermaan om “aan die geloof en ‘n goeie gewete vas te hou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Die Living Bible parafraseer hierdie teks tereg soos volg: “Hou sterk aan jou geloof in Christus vas, en hou altyd jou gewete skoon deur te doen wat jy weet wat reg is. Sommige mense was ontrou aan hulle gewete en het moedswillig gedoen wat hulle weet wat verkeerd is. Dit is nie verbasend nie dat hulle spoedig hulle geloof in Christus verloor het nadat hulle God só uitgetart het.” Die versekering wat in Johannes 10:28-29 gegee word dat niemand ons uit die hand van Christus sal ruk nie, beteken dat geen persoon van buite af, selfs nie die duiwel nie, ons verhouding met Christus sal kan verbreek as ons in Hom bly nie. Die voorwaarde vir hierdie belofte word egter in vers 27 genoem: ons moet aanhou om na sy stem te luister en Hom te volg. As ons nie in Hom bly nie, loop ons die gevaar om uitworpelinge te word: “Bly in My, soos Ek in julle... As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4,6).

Eenpunt-Calviniste

Daar is baie sogenaamde evangeliese of eenpunt-Calviniste wat die leerstellings van uitverkiesing, beperkte versoening, onweerstaanbare genade en ‘n vorm van verdorwenheid wat besluitneming tussen goed en kwaad onmoontlik maak, verwerp; maar hulle aanvaar nogtans punt 5, waardeur ewige sekerheid geleer word. Is ‘n 20% Calvinis waarlik ‘n Calvinis? Nie regtig nie. Die vyf punte van Calvyn is interafhanklik en kan nie rasioneel van mekaar geskei word nie. Hulle is almal op die aanname van ‘n uitgeskakelde, wanfunksionerende of volkome verwronge menslike wil gebaseer, asook die beweerde vervanging daarvan deur God se ewige raadsplan vir alle mense.

Het mense nie die vermoë tot vrye wilsbesluite wat hulle in staat stel om tussen goed en kwaad te kies nie – en word Christene daarvan weerhou om ná hulle bekering verkeerde en selfs noodlottige besluite te neem? Sekerlik nie! As sterflinge het ons menslike liggame met die moontlikheid om versoek te kan word om immorele dinge te doen, ons het beperkte kennis en kan mislei word om van die waarhed afvallig te raak, en in hierdie bedeling het ons met ‘n gevaarlike en uitgeslape vyand te doen teen wie ons sekere stappe moet neem as ons staande wil bly (Ef. 6:11-12). Slegs wanneer ons in die hemel nuwe liggame sal hê, asook volmaakte kennis (1 Kor. 13:12), wanneer selfs die herinnering aan sonde uit ons gedagtes gewis sal wees (Op. 21:4) en Satan, ons aartsvyand, vir ewig in die poel van vuur sal wees, sal ons vry wees van die moontlikheid om teen God te sondig.

Ten spyte van hierdie feite hou baie mense nog steeds aan Calvyn se vyfde punt vas. Selfs Dave Hunt wat Calvyn se eerste vier punte meesterlik weerlê het, het in beginsel met punt vyf saamgestem deur te ontken dat Christene op só 'n wyse kan optree dat hulle uit die genade kan verval. In sy boek (ibid, bl. 377) sê hy dat hy altyd homself as 'n eenpunt-Calvinis beskou het totdat hy agtergekom het dat hy ander redes het waarom hy aan ewige sekerheid glo. Hy verduidelik dat ons ewige sekerheid in Christus se genadewerk aan die kruis berus, omdat Hy die ewige lewe gee aan dié wat in Hom glo. Dit is inderdaad ‘n ewige verlossing wat aan ons geskenk word wanneer ons Christus in ons lewe ontvang, maar ons behou dit net solank as wat ons in Hom bly. Die ewige lewe is nie in ons gesetel nie, maar in Jesus Christus wat sy dissipels tot getrouheid teenoor Homself oproep. Wat gebeur as mense in ‘n lewe van moedswillige sondes terugval, nie meer in die lig wandel nie en na ‘n lewe van ongeloof omdraai? Wat van hulle wat “die regte pad verlaat en verdwaal het” (2 Pet. 2:15), wat, “nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word” (2 Pet. 2:20)? Wat hulle verloor, is nie ‘n tydelike nie maar ‘n ewige verlossing.

Die probleem met die leer van ewige sekerheid is dat dit die kosteberekening vir dissipelskap ondermyn en ook die noodsaaklikheid van heiligmaking as ‘n manier om getrou aan Christus te bly en sodoende die moontlikheid van terugval te voorkom, verswak. Ons moet ook “elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus... Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:1,2,4).

Die Dallas Teologiese Seminarium onderskryf ook Calvyn se vyfde punt. In hulle kommentaar (Bible Knowledge Commentary onder redaksie van proff. Walvoord & Zuck) het hulle nogtans aan Zane C. Hodges die vryheid verleen om deur die objektiewe feite gelei te word en in sy eksegese van Hebreërs 12:14-17 tot gevolgtrekkings te kom wat teenstrydig met hulle amptelike standpunt is. Die betrokke verse is die volgende:

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie [Eng. ‘looking diligently less anyone should fall short of the grace of God’]; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.”

Zane Hodges lewer die volgende kommentaar hierop, waarin hy Calvyn se vyfde punt verwerp deur te beweer dat die lewens van Christene wat soos Esau optree, in ‘n totaal afvallige toestand kan eindig:

“Vrede met alle mense, sowel as persoonlike heiligheid, moet met oorgawe gesoek word omdat niemand die Here sonder heiligmaking sal sien nie. Omdat geen sonde in God se teenwoordigheid kan verskyn nie, moet, en sal, Christene sondeloos wees wanneer hulle voor die Here verskyn (vgl. 1 Joh. 3:2). Die besef hieraan is ‘n sterk beweegrede om hier en nou heiligheid na te streef. Die skrywer kon egter ook die feit in gedagte gehad het dat jou begrip van God selfs nou al deur die maat van jou heiligheid bepaal word (Matt. 5:8). As ‘n ernstige waarskuwing van wat met gelowiges kán gebeur, verwys die skrywer na ‘n persoon wat die genade van God misloop en soos ‘n bitter wortel word omdat sy ongeloof teenoor God ook ander mense beïnvloed. Die skrywer het hier Deuteronomium 29:18 in gedagte gehad, waarin ‘n Ou Testamentiese afvallige met ‘n wortel vergelyk word wat bitter gif voortbring. Só ‘n persoon is goddeloos en onheilig soos Esau, Jakob se broer, wie se losse en immorele karakter daartoe gelei het dat hy sy erfreg as die oudste seun vir die tydelike genot van ‘n bord kos verkoop het. Die skrywer waarsku sy lesers om nie aan tydelike genot toe te gee en sodoende hulle erfenis in die Here te verbeur nie. Indien sommiges dit doen, sal hulle uiteindelik hierdie dwase besluit berou wanneer hulle uitvind dat hulle, soos Esau, hulle geestelike erfenis onherroeplik verloor het. Dit kan gebeur as iemand sy Christelike lewe in ‘n toestand van afvalligheid en goddeloosheid eindig – iets waarteen die skrywer van die Hebreër-brief telkens gewaarsku het.”

Die mees algemene rede vir ernstige afvalligheid is moedswillige sonde: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag... sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:12-14). Die verlore seun is deur die sonde en plesier van die wêreld van sy vaderhuis af weggelok. Gedurende die tyd van sy afdwaling was hy geestelik dood en verlore (Luk. 15:32), maar hy is opnuut in sy vader se guns herstel nadat hy homself verootmoedig en bekeer het.

Christene kan ook uit die genade verval wanneer hulle leerstellige dwalings aanvaar. Paulus het aan afvalliges in Galásië gesê: “Julle... is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4; vgl. 1:8). Daar was ook persone in Korinte wie se sinne bedorwe geraak het, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus (2 Kor. 11:3-4). Die Heilige Gees waarsku ons dat dit in die eindtyd ‘n algemene verskynsel sal word (1 Tim. 4:1). Daar sal “valse leraars wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën” (2 Pet. 2:1). Verskeie voormalige evangeliese leraars verloën nou openlik die godheid en maagdelike geboorte van die Here Jesus en verkondig fabels in plaas van die waarheid (2 Tim. 4:3-4). Hulle verander doelbewus die Woord van God deur hulle valse prediking of deur onegte Bybelvertalings te gebruik. Hoewel hulle in ‘n stadium gered was, sal die Here Jesus hulle name uit die boek van die lewe verwyder (Op. 22:19). Dit sal egter nooit met die “oorwinnaars” gebeur nie: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie” (Op. 3:5).

Wie is hierdie oorwinnaars? Eenvoudig gestel, is dit Christene wat in die geestelike stryd oorwinnaars is – wat oor die vyand, hulle eie vleeslike begeertes én alle probleme oorwin. Dit is diegene wat aan die Here Jesus getrou bly, selfs tot die dood toe. Vir hierdie stryd het ons die krag van die Heilige Gees in die vorm van verskeie geestelike wapens: “Word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Om te kan oorwin, moet ons die reëls van die Christelike wedloop eerbiedig (1 Kor. 9:24), alle middele tot ons beskikking gebruik (2 Tim. 3:16-17), ons daarvan weerhou om te sondig (1 Joh. 2:1) en volhard tot die einde toe (Heb. 12:1).

Paulus sê: “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12). Die Here is egter altyd daar om ons te beskerm, te motiveer en te bekragtig om die goeie stryd te stry (1 Tim. 6:12), maar ons moet getrou aan Hom bly en geestelik sterk word (Ef. 4:13-14). “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:17-18).

Calvyn se vyfde punt kan nie ‘n Skriftoets deurstaan nie en, soos die vorige vier, is dit nie werd om ernstig oorweeg of ondersteun te word nie – nie eers in ‘n gewysigde vorm nie.

Die ware vader van Calvinisme

Wanneer ons die valse leer van Calvyn beoordeel, moet ons in gedagte hou dat hy bloot die leerstellings wat meer as ‘n duisend jaar tevore deur die kerkvader, Augustinus (354-430), opgestel is, herhaal en verder verfyn het. Augustinus het die twyfelagtige eer dat hy deur beide die Rooms-Katolieke Kerk as Protestantse hervormers soos Calvyn en Luther as die hoogste teologiese gesaghebbende erken word. Dave Hunt (ibid, bll. 38,40) sê heeltemal tereg dat Calvyn se weergawe van die Christelike leer ongetwyfeld ‘n verdere uitbreiding op die stellings van Augustinus was. ‘n Basiese beginsel van die nuwe godsdienstige stelsel is ‘n ekstreme siening oor God se soewereiniteit waarin die menslike wil ontken word, asook die beskouing dat die kerk die verteenwoordiger van God se koninkryk op aarde is. Beide hierdie beskouings kom uit Augustinus se geskrifte.

Augustinus het geleef in die tyd toe die westelike Romeinse ryk opgebreek het. Dit was die val van die westelike ryk met sy setel in Rome wat hom sy bekende boek, Die Stad van God, laat skryf het. Hierin huldig hy die mening dat die kerk, as die stad van God, bestem is om die wêreld te regeer en dat dit nooit ten gronde sal gaan nie. Die hele tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms is vir hom die koninkryksbedeling wanneer die kerk die wêreld moet regeer. Hy het ook die leerstelling geformuleer dat redding slegs deur die bemiddeling van die kerk en sy sakramente soos die kinderdoop verkry kan word. Sy beskouing oor die kerk as ‘n uiterlike, wêreldse organisasie, het daartoe gelei dat hy uiterlike, sekulêre metodes vir die handhawing en selfs die afdwing van sigbare kerkeenheid nagestreef het.

Edmunt Broadbent haal Augustinus soos volg aan: “Die Here self het gesê: ‘Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom’ (Luk. 14:23). In die lig hiervan moet die goddelike krag wat die kerk vir ‘n bepaalde tyd deur die godsdienstige karakter en geloof van konings ontvang het, die instrument wees waardeur diegene wat in die paaie en lanings is – dit is almal wat afgedwaal het – gedwing moet word om in te kom. Laat hulle dus nie enigsins daarmee fout vind om gedwing te word nie” (The Pilgrim Church, Grand Rapids: Gospel Folio Press,1999 bl. 49).

Broadbent (ibid, bll. 49-50) lewer die volgende kommentaar op hierdie stelling: “Só 'n leerstelling deur só 'n gesaghebbende het die metodes van vervolging geregverdig en aangeblaas waardeur die Vatikaan die wreedhede van heidense Rome geëwenaar het. Op hierdie manier het ‘n man met sterk gevoelens, wat van die beginsels van die Bybel afgewyk het, die aanstigter van ‘n uitgebreide en genadelose vorm van vervolging geword.” Calvyn het hierdie voorbeeld gevolg en ‘n staatskerk gevestig wat diegene vervolg het wat geweier het om sy leerstellings te eerbiedig en sy gesag te erken. Hy het selfs baie mense laat teregstel wat in terme van sy eie, vooropgestelde idees ketters was. Calvyn het hierdie wrede dade tot met sy dood geregverdig.

As ‘n antichilias wat die kerkbedeling met die toekomstige koninkryksbedeling gelykgestel het, was Augustinus ‘n vervangingsteoloog wat verskeie Bybelse begrippe vergeestelik en ander betekenisse daaraan toegeskryf het om hulle in sy eie verwysingsraamwerk te kan inpas. Die kerk het volgens hom vir Israel vervang, en hy het dit as die kerk se taak gesien om die wêreld te oorwin en te regeer sodat die wêreld gaandeweg al hoe beter kon word. Profesieë oor eindtydse geestelike afvalligheid, ‘n groot verdrukking en die openbaring van die Antichris, is histories verklaar deur die vervulling daarvan aan eerste eeuse gebeure tydens die bewind van Nero te koppel.

Koninkryksteologie

Augustinus en Calvyn het grootliks gedwaal deur hulle siening dat Christus se koninkryk nog voor sy wederkoms sigbaar op aarde gevestig moet word, selfs al moet uiterste vorms van dwang en geweld gebruik word. Die kerklike heerskappy wat kenmerkend van hulle koninkryksteologie is, is ‘n regstreekse aanval op die geestelike aard van ons verhouding met die Here Jesus, en dus geheel en al in opposisie teen die evangeliese Christendom. Hulle het die eise van die evangelie verydel, wat bepaal dat ons deur bekering en wedergeboorte lede van Christus se geestelike koninkryk moet word. In plaas hiervan doop hulle suigelinge wat nie kan glo en hulle kan bekeer nie, om sodoende lede van die sigbare kerk te word. Volgens die Bybel word suigelinge nie deur die doop geheilig nie, maar deur die geloof van een of beide van hulle ouers (1 Kor. 7:14), totdat hulle die evangelie kan verstaan en deur geloof hulle harte aan die Here Jesus kan gee. Slegs dan kan hulle gedoop word. Dwang van enige aard kan nie uit die Bybel geregverdig word nie.

Die kerk het geen opdrag om sy heerskappy oor die nasies te vestig deur hulle te dwing om ‘n deel van God se koninkryk op aarde te word nie. Sarah Leslie (op www.discernment-ministries.org) definieer die dwaling van die koninkryksteologie soos volg:

“Die evangelie van verlossing word verkry deur die koninkryk van God in die huidige bedeling as ‘n letterlike en fisiese koninkryk op aarde te vestig en uit te brei. Sekere koninkryksteoloë tref op só ‘n manier ‘n vergelyking tussen die Nuwe Testamentiese koninkryk en Israel se koninkryk in die Ou Testament, dat hulle militêre geweld en ander strafmaatreëls in die oorlog teen hulle koninkryk se vyande regverdig. Hulle verkondig dat mense gedwing moet word om in die koninkryk in te kom, en ken aan die kerk pligte en regte toe wat volgens die Bybel net aan Jesus Christus behoort” (beklemtoning deur die outeur).

Volgens Sarah Leslie is die korrekte perspektief van die evangelie die volgende:

“Die evangelie van verlossings is deur geloof in Jesus Christus en sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het. Die klem is op die bekering en redding van individuele persone. Die koninkryk van God is in hierdie bedeling geestelik en groei as gevolg van pogings tot evangelisasie en Bybelonderrig. Dit is ‘nie van hierdie wêreld nie’ (Joh. 18:36), maar ‘n geestelike heerskappy in die harte van mense (Luk. 17:20-21). Die koninkryk van God sal eers tydens Christus se wederkoms na die aarde toe finaal geopenbaar word, wanneer Hy sy letterlike en fisiese regering sal vestig” (beklemtoning deur die outeur).

Die donker kant van Calvinisme se held

Calvyn het gewilliglik Augustinus se verwronge, menslik-geïnspireerde dogma voortgesit en die koninkryksmagte wat aan die kerk as die manifestasie van God se onvernietigbare koninkryk op aarde toegeskryf is, gebruik. Baie van sy teëstanders het met hulle lewe betaal omdat hulle hom en sy staatskerk teëgestaan het. Die “uitgebreide en genadelose vorm van vervolging” waarvoor Augustinus se teologie voorsiening gemaak het, is nie net gebruik om die “heilige oorloë” van die Katolieke Kerk te regverdig nie, maar ook die vervolging, marteling en moord van talle evangeliese Christene wat dit gewaag het om hulle geestelike lewe op ‘n wyse te lei wat hulle in konflik met Calvyn en sy medewerkers gebring het. Die moord wat seker die meeste opslae gemaak het, was dié op dr. Servet:

“Michael Servet was ‘n Spaanse medikus en teoloog wie se onortodokse leerstellings na sy veroordeling as ‘n ketter deur beide die Protestante en Rooms-Katolieke gelei het, en ook na sy teregstelling deur Calviniste in Genève... In sy boek het Servet geargumenteer dat God die Vader én sy Seun, Jesus Christus, deur die aanvaarding van die Niceense Belydenis onteer is, dat dit die verlossingswerk van Christus verberg en ook tot die val van die kerk sou lei. Servet het gesê dat hy die kerk weer op die regte spoor kon kry deur dit van die staat los te maak en leerstellings te verkondig wat uit die Bybel bewys kan word en deur pre-Konstantynse kerkvaders gehuldig is... Servet is van kettery aangekla. Calvyn het ‘n groot rol in die saak gespeel en op die teregstelling van die beskuldigde aangedring. Ten spyte van sy intense biblisisme en Christosentriese beskouing van die heelal, is Servet aan kettery skuldig bevind – hoofsaaklik op grond van sy beskouings oor die Drie-eenheid en die doop. Hy is op 27 Oktober 1553 lewendig verbrand. Sy teregstelling het groot omstredenheid oor die toepassing van die doodstraf weens kettery veroorsaak, en tot sterk kritiek teen Calvyn gelei” (Servetus, Michael, in: The New Encyclopaedia Britannica, 1990. Volume 10, bl. 654).

“Michael Servet het agtergekom dat die bekendmaking van sy sienings oor onder meer die verwerping van die kinderdoop, ewe aanstootlik vir die Protestante én Katolieke was... Op 13 Augustus 1553 is hy deur magistrate in in Genève op aanklagte van godslastering en kettery in hegtenis geneem... Calvyn het dringend en ernstig op die toepassing van die doodstraf aangedring. Hy het vroeër reeds aangedui dat indien Servet na Genève sou kom, hy sy bes sou doen om te verhoed dat Servet die stad lewendig sou verlaat” (Servetus, Michael, in: The Encyclopedia Americana: International Edition, 1992. Volume 24 bl. 584).

“Neem in ag dat die Calviniste van Genève half-groen hout rondom Servet se voete gepak het om sy lyding te verleng. Hulle het ook ‘n kroon van gevlegte takkies op sy kop gesit, waarop swael gestrooi is. Dit het meer as ‘n halfuur geneem voordat hy onder dié omstandighede gesterf het. Inwoners van Genève het toegekyk hoedat hy stadig doodgebrand het... ‘Genade, genade! Jesus, Seun van die ewige God, wees my genadig!’ het die gefolterde man in die vlamme uitgeroep.” (www.evangelicaloutreach.org/ashes.htm)

Dit is uiters verbasend en selfs ondenkbaar hoe mislei mense kan raak as hulle van Bybelse waarhede afwyk en navolgers van ander mense word. Jesus Christus het gesê: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering [tradisie] te onderhou” (Mark. 7:9). Enigiets is dan moontlik, selfs die regverdiging van geweld in die vestiging en uitbreiding van God se koninkryk. Matthew Henry het gesê: “Christus het nooit bedoel dat sy evangelie deur vuur en die swaard verkondig moes word nie, of dat sy geregtigheid deur die wraak van mense afgedwing moes word nie... Christus se oorwinnings geskied deur die krag van sy evangelie en genade oor geestelike vyande.”

Die erfenis leef voort

‘n Oorheersende en feitlik onveranderde Augustynse erfenis word deur die leerstellings van beide die Rooms-Katolieke en Protestantse kerke weerspieël. Dié kerke het soveel met mekaar in gemeen dat ‘n mens tereg baie van die teologiese redes vir die Hervorming kan bevraagteken. Dit is duidelik dat die korrupte gebruike van die Vatikaan, eerder as suiwer teologiese vraagstukke, die belangrikste redes vir die Hervorming was. Uit ‘n teologiese oogpunt was die Hervorming halfhartig, onvolledig en vir baie evangeliese Christene onaanvaarbaar. Dave Hunt (ibid, bl. 37) sê: “Terwyl hy Katolisisme as vals bestempel het, het Calvyn baie van dié kerk se valse gebruike soos die kinderdoop, ampsdraers met spesiale magte, asook die heilswaarde van sakramente wat deur sulke ampsdraers bedien word, na die Protestantisme oorgedra.”

Daar word altyd twee groot probleme ervaar wanneer ‘n persoon dit waag om Calvinisme teë te staan. Die eerste is dat jou besware nie net Calvyn se integriteit in die gedrang bring nie, maar ook dié van die magtige kerkorganisasie wat eens oor nasies, regerings en miljoene van hulle onderdane geheers het. Jou ondersoekende vrae is ook glad nie vleiend vir die waardigheid van die kerk se geleerde teoloë nie. Hoe durf jy, as ‘n nietige leek, so verwaand te wees dat jy hierdie reus met al sy mag en invloed probeer aanval en verkeerd bewys?

Die ander probleem is dat die vyf stellings in Calvinisme se verlossingsleer só interafhanklik is dat indien een van hulle gediskrediteer word en val, dan stort die hele kaartehuis in duie! In hierdie leer word die mens heeltemal van sy vrye wil gestroop, sodat alles wat met hom gebeur, aan God se raadsplan voor die grondlegging van die wêreld toegeskryf word. Geen kompromie word oor hierdie uitgangspunt gemaak nie, en enigiets anders word as kettery en menslike werke beskryf. Enige poging om Calvinisme te hervorm, word altyd met mag en mening teëgestaan.

Jakob Arminius (1560-1609) was een van die teoloë wat die Calvinistiese kamp moes verlaat nadat hy as een van hulle al die dwalings in hulle leer ontdek het. Broadbent (ibid, bl. 255) sê: “Arminius, wat ‘n Calvinistiese onderrig ontvang het, is deur almal as ‘n man van onbesproke karakter en ‘n ongeëwenaarde akademiese vermoë erken. Aan hom is die taak opgedra om ‘n studiestuk op te stel waarin Calvinisme teen kritiek van buite af verdedig word. Terwyl hy egter die beginsels en leer van Calvinisme ondersoek het, het hy agtergekom dat baie daarvan onverdedigbaar verkeerd is: dit maak van God die outeur van sonde, dit plaas beperkings op sy reddende genade, en dit laat die meerderheid van die mensdom sonder hoop en sonder die moontlikheid van redding. Hy het in die Bybel gesien dat die versoening van Christus vir almal is en dat die mens se vryheid van keuse ‘n goddelike insetting is... Die bekendmaking van sy nuwe oortuigings het vir hom soveel persoonlike stryd en konflikte meegebring dat die trauma sy lewe verkort het. Sy leerstellings het egter later die grondslag vir ‘n evangeliese herlewing gevorm.” Vir Arminius was dit onmoontlik om Calvinisme met die ware evangelie te versoen. Die Here het sy getuienis kragtig gebruik en sy behoudende invloed leef vandag nog voort.

Was Spurgeon 'n Calvinis?

Daar is baie ware gelowiges in Calvinistiese kerke, maar hierdie verskynsel kan nie in die minste aan die waarheid van Calvinisme se verlossingsleer toegeskryf word nie. Hierdie gelowiges het die waarheid in hulle eie Bybelstudie ontdek, in die lees van evangeliese literatuur, of in die preke van Calvinistiese predikers wat nie die verbondsteologie en sy verbintenis aan die kinderdoop onderskryf nie. Sulke predikers is nie ware Calviniste nie.

Een van die groot 19de eeuse evangeliese predikers in Engeland, Charles Spurgeon, het verkeerdelik homself as ‘n Calvinis beskryf en word vandag nog deur Calviniste as ‘n voorbeeld genoem van die evangeliese ywer wat hulle leer in ‘n persoon se lewe kan skep. Die volgende aanhalings demonstreer Spurgeon se assosiasie met Calvinisme:

“Ek verkondig graag die kragtige, ou leerstellings wat onder die bynaam ‘Calvinisme’ bekend staan” (Spurgeon's Sovereign Grace Sermons, Still Waters Revival Books, bl. 170). “Jesus het net vir die uitverkorenes gesterf” (New Park Street Pulpit, 1856). “Hy wat glo dat die mens hom uit sy vrye wil na die Here bekeer, kon nie deur die Here geleer gewees het nie” (Free will a slave, 1855). “Ek klim nie op hierdie kansel in die hoop dat iemand dalk uit sy eie wil na Christus sal kom nie... Ek hoop dat my Meester sommige mense in besit sal neem en sal sê: ‘Jy is myne, en jy sal myne wees; Ek eis jou vir myself op’” (Sermons, Vol. 3, bl. 130). “Die menslike wil is so volkome verdorwe en slegs tot boosheid geneig... dat sonder die kragtige, bonatuurlike, onweerstaanbare werking van die Heilige Gees, geen mens ooit tot Christus aangetrokke sal voel nie” (Sermons, Vol. 4, bl.139).

Dit is ironies dat Spurgeon se pogings om die evangelieboodskap met Calvinisme te versoen, totaal onoortuigend en in stryd met sy eie prediking was. Die volgende feite spreek vanself:

·       Hy was ‘n Baptis wat net gelowiges gedoop het. Hy het die verbondsteologie en sy geassosieerde gebruik van die kinderdoop volkome verwerp. Indien hy gedurende die tyd van Calvyn in Switserland geleef het, sou hy dalk as ‘n ketter tereggestel gewees het.

·       Hy was ‘n premillennialis wat op die letterlike vertolking van die Bybel aangedring het. Hy het die idee verwerp dat ons nou in die koninkryksbedeling leef waarin dit God se doel is om die hele wêreld deur middel van die kerk te regeer. Hy het dit duidelik gestel dat, ná die wederkoms, die heiliges die wêreld vir ‘n duisend jaar lank saam met Christus sal regeer.

·       Hy het deurgaans ‘n beroep op mense se wil gedoen om Jesus Christus as hulle Verlosser te ontvang, en nooit eers vaagweg geïmpliseer dat regverdigmaking aan enige sakramente van die kerk verbind kan word nie. Hoewel hy die idee van ‘n vrye wil verwerp het, het hy altyd by sondaars gepleit om hulle skrikwekkende lot te oorweeg en vir redding na Christus te kom.

·       Hy het die sondaars dikwels daaraan herinner dat hulle versuim tot hulle ewige veroordeling kan lei. Waarom het hy nie aan hulle gesê dat hulle nie onder die uitverkorenes is indien hulle weier om tot bekering te kom nie, dat God hulle van sy reddingsplan uitgesluit het, dat Hy hulle bose dade gepredestineer het deur sy besluit om hulle nie te red nie, dat Hy hulle in ooreenstemming met sy ewige raadsbesluit tot die hel sal verdoem, en dat Hy die verantwoordelikheid vir hulle ongeredde toestand aanvaar?

·       Hy is dikwels deur die realiteit van mense se vrye wil gekonfronteer, en het implisiete erkenning hieraan gegee deur te sê: “’n Persoon word nie teen sy eie wil gered nie, maar hy word deur die Heilige Gees se oortuigingswerk gewillig gemaak” (Sermons, Vol. 10, bl. 309). Dit is geen bewys van Calvyn se onweerstaanbare genade nie, maar eerder ‘n geval van iemand wat ‘n vrye keuse maak in reaksie op God se roeping tot bekering wat aan alle mense gerig word.

‘n Basiese aspek van Spurgeon se eskatologie was sy geloof in die letterlike, fisiese opstanding van gelowiges en ongelowiges. Hy het deurgaans die waarheid verkondig dat daar aparte opstandings vir die regverdiges en onregverdiges sal wees – die opstanding van die regverdiges net voor die duisendjarige vrederyk, en vir die onregverdiges aan die einde van die millennium. Hy het van die antichiliaste verskil wat die duisendjarige vrederyk van Christus op aarde vergeestelik het: “Ons verwag ‘n regering van Christus op aarde. Dit word so duidelik en letterlik gestel dat ons dit nie durf vergeestelik nie” (Things to Come, 15:329). Hy het ook die feit van Israel se herstel in hulle land duidelik gestel en hom sodoende van die vervangingsteoloë gedistansieer (The Harvest and Vintage, 50:553).

Die volgende uittreksel uit Spurgeon se preek oor die eerste opstanding (New Park Street Chapel, 17.2.1856) beklemtoon duidelik sy oproep tot verlorenes deur hulle vir hulle eie bestemming verantwoordelik te hou. God het nie hulle verdoemenis voorbeskik nie – hulle moet self ‘n besluit neem oor waar hulle die ewigheid wil deurbring:

“O, arme sondaar, ek moet jou waarsku teen dit wat op jou wag... daardie oë wat nou so vol wellus is, sal ellendes aanskou wat jou sal treiter en verskrik. Daardie ore wat jy nou uitleen om na godslasterlike liedjies te luister, sal uitroepe van benoudheid en verskriklike geluide van die verdoemdes hoor. Daardie keel waardeur die drank in jou liggaam vloei, sal met vuur gevul wees. Hoe sal jy dit kan verdra as jy deur siektes en pyn geteister word, met jou liggaam ‘n tempel van demone en ‘n kanaal vir die grootste ellendes wat oor jou sal kom? Sal jy blindelings voortstrompel soos ‘n dier wat ter slagting gelei word? Menere, baie van julle leef sonder Christus; julle is goddeloos en vol eiegeregtigheid. Die een gaan hier uit om sy daaglikse plesier te geniet, een is ‘n geheime hoereerder, een bedrieg sy buurman, een belaster God, een is ‘n dronkaard, en nog een praat oor God maar is ‘n verdorwe skynheilige. Wat sal julle doen op die dag wanneer julle voor die Here staan en die oordeel uit sy mond hoor: ‘Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele’? Julle sien nou op Christus neer, maar dan sal julle nie op Hom neersien nie... O, my hoorders, die toorn wat kom! die toorn wat kom! die toorn wat kom! Wie van julle kan in verterende vuur bly wat altyd aanhou brand? Kan jy, meneer? Kan jy vir altyd in die vlam bly? ‘Nee,’ sê jy, ‘wat kan ek doen om gered te word?’ Luister na wat die Bybel wat sê: ‘Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word’ (Hand. 16:31). ‘Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word’ (Mark. 16:16). ‘Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol’ (Jes. 1:18).”

Moedswillige sonde en ongeloof is die redes vir mense se veroordeling – nie uitverkiesing van een of ander soort nie. Hulle sal dus nie die blaam vir hulle toestand na God kan verskuif nie.

Die debat gaan voort

Die debat oor Calvinisme gaan nog steeds voort. Ná die publikasie van Dave Hunt se boek oor Calvinisme in 2002, is nuwe stukrag aan hierdie debat verleen. Sedert dié tyd het Calviniste verskeie vrae aan hom gestel, wat duidelik, eerlik en reguit in sy tydskrif, The Berean Call (TBC), beantwoord is. Die volgende is sommige van sy mees onlangse antwoorde:

In The Berean Call van September 2005 het Dave op die volgende vraag gereageer: “Is dit moontlik vir iemand wat in die verlossingsleer van Calvinisme glo, om gered te kan word – veral met die oog daarop dat God eers iemand se hart moet verander?” Hy het gesê:

“Daar is baie skakerings van Calviniste. Soos die Lutherane is baie van die Calviniste as babas gedoop. Hulle glo, soos ook baie van hulle ouers, dat die kinderdoop ‘n mens red. Calvyn het selfs verklaar dat die kinders van die uitverkorenes outomaties ook onder die uitverkorenes is – en selfs al was die ouers uitverkore of nie, maak die kinderdoop (al is dit ook deur 'n ongeredde Katolieke priester bedien) van jou ‘n kind van God. Die aanneming van die persoon as lidmaat bevestig net hierdie misleiding. Dit is duidelik dat iemand wat in hierdie valse evangelie glo, nie gered is nie.

“Die verwerping van die kinderdoop vir redding was een van die twee aanklagte wat deur Calvyn as staatsprokureur teen Servet aanhangig gemaak is, en op grond waarvan hy veroordeel en op die brandstapel tereggestel is (Servet was een van dosyne mense wat weens beweerde kettery onder Calvyn in Genève ter dood veroordeel is). Calvyn is nie ná sy skeiding van die Katolieke Kerk as ‘n gelowige gedoop nie, en het dié vorm van die doop beskryf as “kettery wat die dood waardig is.” Daar is sekerlik ‘n groot menigte Calviniste wat hel toe gelei is omdat hulle Calvyn se leerstelling aanvaar het dat die kinderdoop jou een van God se uitverkorenes maak, net soos wat die besnydenis seuntjies in Israel as lede van die uitverkore volk gemerk het.

“Dit is maklik om die verband te kan sien tussen die opvatting dat die kinderdoop sonder geloof in die evangelie red, en net later bely moet word, en die leer dat die uitverkorenes deur God wederbaar word sonder dat hulle dit weet, en dan later geloof gegee word om die evangelie te kan glo sodat hulle gered kan word sonder enige wilsbesluit aan hulle kant. Is dit ‘n valse evangelie? Natuurlik is dit! Die Bybel beklemtoon herhaaldelik die feit van redding vir “hom wat wil” (Deut. 18:19; Esra 7:26; Mark. 8:34; Luk. 9:5,24; Op. 22:17, ens.). Die mens moet uit sy vrye wil na God toe kom en homself gewilliglik oorgee...

“Ons word wederbaar deur in Christus te glo. Calvinisme verkondig egter wedergeboorte voordat ‘n persoon kan glo – ‘n geestelike geboorte wat sonder geloof in die evangelie lewe gee! Word ons twee keer weergebore? Sonder geloof in die evangelie is daar geen wedergeboorte nie, geen lewe in Christus nie, daarom is Calvinisme se ‘wedergeboorte’ wat ‘n voorwaarde vir die ontvang van die gawe van geloof van God af is ten einde in die evangelie te kan glo, sonder enige twyfel kettery.

“’Ja, maar ons is dood in ons misdade en sondes,’ haal die Calvinis aan om sy leerstelling te regverdig... As diegene wat geestelik dood is nie die evangelie kan hoor, verstaan en glo nie, maar eers weergebore moet word, dan maak die hele Bybel geen sin nie. God se ontelbare oproepe aan die mensdom om hulle te bekeer en na Hom toe te kom, is ‘n bespotting as diegene met wie Hy praat, dood is en nie kan hoor nie – as hulle só verdorwe is dat hulle hul glad nie tot Hom kan bekeer sonder die genade wat Hy van hulle weerhou nie, terwyl Hy hulle blameer omdat hulle nie tot bekering kom nie. Die dosyne verse waarin God die hele mensdom beveel om Hom te soek, en waarin Hy beloof dat almal wat Hom met hulle hele hart soek, Hom sal vind – dit alles word ‘n bespotting indien die ongereddes God nie kan soek nie, en indien Hy net aan die uitverkorenes genade verleen om Hom te kan soek. Die Here pleit eindeloos deur sy profete, nie net by Israel om hulle te bekeer nie, maar sê: ‘Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde!’ (Jes. 45:22)...

“Alle mense sondig en is veroordeeld; almal het verlossing nodig. Volgens Calvinisme kan God almal red as Hy wil, maar Hy verkies om net sommiges te red. Wie ook al gered of ongered is, is nie in dié toestand omdat hulle dit so verkies het nie, maar omdat dit God se wil is. Die Calviniste glo in ‘n God wat doelbewus miljoene (moontlik miljarde) mense verdoem wat Hy kon gered het as Hy wou. Dit is die saak waaroor dit gaan. Die Calvinisme beklad God se karakter deur Hom minder liefdevol te maak as wat Hy van ons verwag om te wees.

“Ons word duidelik meegedeel dat God ‘wil hê dat alle mense gered word’ (1 Tim. 2:4)... In sy kommentaar oor hierdie gedeelte probeer John MacArthur in sy Studiebybel om Calvinisme te regverdig deur te beweer dat God ‘n wil van begeerte en ‘n wil van bepaling het wat met mekaar in konflik is: Hy wil hê dat almal gered moet word, maar Hy bepaal dit nie! Op hierdie manier dwarsboom God sy eie wil? Verbasend!”

'n Evangelie wat nie kan red nie

Volgens The Berean Call van Desember 2005, het Dave Hunt die volgende vraag ontvang: “Glo jy werklik wat jy in TBC van September gesê het, dat diegene wat net in die valse evangelie van Calvinisme glo, nie gered kan word nie?” Sy antwoord was soos volg:

“Soos wat ek in my reaksie gesê het, is daar baie Calviniste wat gered is voordat hulle Calviniste geword het, of wat ten spyte van Calvinisme in die evangelie glo. Diegene wat egter net die valse evangelie van Calvinisme ken, is nie gered nie. As iemand net glo dat die kinderdoop hom red, soos wat Calvyn geleer het en wat steeds deur baie Calviniste geglo word, dan is so ‘n persoon beslis nie gered nie. Indien iemand glo dat sy kinderdoop hom gered het, hoe is dit vir hom moontlik, sonder om hierdie valse geloof af te lê, om waarlik gered te word deur in die evangelie te glo? Hy het geen behoefte aan die ware evangelie nie, omdat sy sonde reeds vergewe en hy deur die kinderdoop ‘n kind van God geword het. Hy mag tydens sy aanneming bely dat Christus vir sy sondes gesterf het, maar hy glo steeds dat die voordele van Christus se offer deur die kinderdoop aan hom toegereken is, lank voor die bevestiging van hierdie leuen.

Hoe kan só ‘n valse geloof red? Indien wel, dan is die talle voormalige Katolieke, Lutherane en Presbiteriane wat besef het dat hulle nie deur hulle kinderdoop gered is nie, wat daarna hulle geloof in Christus gestel, weergebore en as gelowiges gedoop is, mislei. Hulle sal egter heftig ontken dat hulle, ten spyte van hulle kinderdoop, al die tyd gered was! Hulle sal ook vir Calvyn as ‘n voormalige Katoliek verwerp omdat hy voortgegaan het om vir redding op sy kinderdoop te vertrou. Hy het verklaar dat om as ‘n baba gedoop te word, ‘n sekere manier is om te weet dat jy onder die uitverkorenes is, daarom het hy almal wat later gered is en hulle laat doop het, vervolg. Hy het die Anabaptiste in 1537 uit Genève verban, en selfs sommige van hulle op die brandstapel vir hierdie geloof laat sterf.

“Ontken ek dat Calvyn gered was? Nee, net die Here het sy hart geken. Indien al wat hy geglo het, soos wat hy ook geleer het, dat Christus net vir die uitverkorenes gesterf het, en dat sy kinderdoop in die Rooms-Katolieke Kerk die bewys is dat hy een van die uitverkorenes is, dan is hy nooit gered nie, ongeag watter mooi woorde hy oor Christus se lyding aan die kruis vir ons sondes geskryf het.

“Indien al wat ‘n persoon in glo net is dat hy nie ‘n keuse het nie – dat dit God is wat veroorsaak dat sommige glo en ander nie, en dat ‘n persoon onbewustelik deur Hom wederbaar moet word, en slegs daarna geloof ontvang om die evangelie te kan glo – wanneer maak só ‘n persoon dan ‘n duidelike keuse om in Christus te glo? Hoe kan daardie persoon in terme van sy Calvinistiese geloof die versekering kry wat in 1 Johannes 5:13 aan ons gebied word? Ongeag hoe eenvoudig of sterk sy geloof in Christus mag blyk te wees, hoe kan hy daarvan seker wees dat hierdie ‘geloof in Christus’ waarlik deur God aan hom gegee is nadat Hy hom wederbaar het?

“Indien al wat ‘n persoon in glo die aanname is dat Christus net vir die uitverkorenes en nie vir almal gesterf het nie – hoe kan daardie persoon daarvan seker wees dat Christus vir hom gesterf het en dat sy geloof in Christus nie maar net ‘n veronderstelling is nie? Hoe kan hy die ware evangelie glo dat ‘As iemand dors het, laat Hom na My toe kom en drink! ... laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet’ (Joh. 7:37; Op. 22:17), indien hy werklik glo dat hy so totaal verdorwe is dat hy nie eers die evangelie kan hoor of daarop reageer nie? Calvyn het selfs gesê dat God ‘n valse sin van sekerheid aan die nie-uitverkorenes gee om hulle nog beter te kan verdoem. Indien ‘n persoon se mees basiese geloof die sekerheid verloën wat die Bybel aan ons gee, hoe kan daar dan gesê word dat só ‘n persoon die belofte van die evangelie aanvaar: ‘Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word’ (Hand. 16:31)?

“Dit is moontlik dat ‘n persoon ten spyte van sy geloof in die valse evangelie van Calvinisme, die ware evangelie kan glo en dus gered kan wees. Ek kan egter nie sien hoedat só ‘n persoon die feit kan verklaar dat teenstrydige opvattings gehuldig word nie. Wat glo hy regtig?”

Voorbestem vir die hemel?

Dave Hunt (TBC, Desember 2005), is gevra: “Hoe kan ‘n nie-Calvinis 2 Thess. 2:13 verklaar? Is dit nie absoluut duidelik dat diegene aan wie Paulus geskryf het, ‘verkies is tot saligheid’ nie, m.a.w. dat hulle vir die hemel voorbestem is?” Sy antwoord was:

“Daardie vers lui: ‘God [het] julle van die begin af verkies tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid.’ Beteken dit dat hulle vir die hemel uitverkies is? Absoluut nie! Die duidelike boodskap van die Bybel, van Genesis tot Openbaring, is dat alle mense ‘verkies is tot saligheid’ deur God, wat ‘wil hê dat alle mense gered word’ (1 Tim. 2:4). Hy is ‘n ‘behouder van alle mense, insonderheid van die gelowiges’ (1 Tim. 4:10). Sy Seun het ‘Homself gegee as ‘n losprys vir almal’ (1 Tim. 2:6). Die feit dat iemand vir saligheid verkies is, beteken nie dat hy vir die hemel voorbestem is nie, maar dat hy ‘n sondaar is, en alle sondaars het die geleentheid om die evangelie te glo – wat die meeste van hulle weier om te doen.

“Christus het vir sy dissipels gesê: ‘Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie, en een van julle is ‘n duiwel! En Hy het bedoel Judas Iskáriot... wat Hom sou verraai’ (Joh. 6:70-71). Die feit dat Judas een van dié is wat uitverkies is om ‘n dissipel te wees, was duidelik nie ‘n waarborg dat hy sy roeping sou vervul nie. Hy was moreel daarvoor verantwoordelik om Christus in die geloof te volg. As gevolg van sy eie keuse het hy dit nie gedoen nie en is nou in die hel.

“Dieselfde Bybelse waarheid word in Israel gedemonstreer: ‘Die Here jou God het jou uitverkies... om sy eiendomsvolk te wees’ (Deut. 7:6). Daardie ‘uitverkiesing’ het nie verseker dat elke fisiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob noodwendig as uitverkorenes sou leef nie. Ongelukkig het Israel as ‘n geheel nie hulle roeping vervul nie en in sonde geleef, daarom het God hulle uit hulle land verdryf [vgl. 1 Kor. 10:1-2 – red.].

“Uit hierdie en ander Skrifgedeeltes is dit duidelik dat verkiesing tot redding nie redding bring nie: ‘n persoon moet die evangelie glo om gered te kan word. Hierdie feit word deur die res van die vers verduidelik: ‘...in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid.’ Hoewel hulle ‘verkies is tot saligheid,’ was die middel vir hulle saligheid nie God se verkiesing nie, maar die individu se geloof in die waarheid.”

‘n Aantasting van God se liefde

Dave Hunt (ibid, bl. 414) sluit sy boek só af:

“My hart is gebroke oor Calvinisme se wanvoorstelling van die God van die Bybel wat ek liefhet, en ook oor die verskoning wat hierdie teologie aan ateïste bied om nie in God te glo nie. My eerlike en opregte begeerte met die skryf van hierdie boek is om God se karakter te verdedig teen die lastering wat sy liefde vir alle mense verloën, en wat beweer dat Hy nie redding tot almal se beskikking stel nie omdat Hy nie almal wil red nie. Dit is my gebed dat lesers sal begryp dat Christelike skrywers en leiers uit antieke of moderne tye, ongeag hoe hoog hulle gerespekteer word, feilbaar is en dat die Bybel ons enigste gesag is. God se Woord verklaar dat die evangelie, wat die ‘krag van God tot redding is vir elkeen wat glo’ (Rom. 1:16), die ‘goeie tyding van groot blydskap’ is, nie net vir sekere uitverkorenes nie, maar vir alle mense (Luk. 2:10). Die aanspraak dat slegs ‘n geselekteerde groep tot redding uitverkies is, is nie ‘n goeie tyding van groot blydskap vir alle mense nie! Hoe kan só ‘n leerstelling Bybels wees?”

Tim LaHaye, mede-outeur van die bekende reeks boeke oor die mense wat ná die wegraping sal agterbly en hulle in die groot verdrukking sal bevind, lewer die volgende kommentaar oor Dave Hunt se boek:

“Om te impliseer dat die barmhartige, lankmoedige, genadige en liefdevolle God van die Bybel só ‘n verskriklike leerstelling soos Calvinisme sou bedink, wat ons wil laat glo dat dit ‘n daad van genade is om slegs sekere mense vir die hemel te verkies en, deur uitsluiting, ander vir die hel, kom bitter naby aan godslastering. Ek wil Dave Hunt gelukwens omdat hy hierdie uitstekende verklaring van ‘n leerstelling geskryf het wat sy wortels meer in die Griekse humanisme as in die Bybel het. Hierdie kan dalk die belangrikste boek wees wat in die 21ste eeu vir alle evangeliese Christene geskryf is om te lees. Dit sal u help om die ware God van die Bybel te ken en lief te hê. Hy het van Homself gesê: ‘Ek wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.’ Calvinisme is ver verwyderd van die God van die Bybel wat die mensdom so liefhet dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat om genade in die Naam van sy verrese Seun, Jesus Christus, uitroep, gered kan word. Elke evangeliese prediker behoort die boek te lees. Indien hulle dit doen, sal ons ‘n groot herlewing in ywer vir siele-wenning sien. Dit sal die wêreld omkeer as miljoene mense aan die ware God van die Bybel voorgestel word, nie aan die valse God van Augustinus en Calvyn nie.”

Die waarheid sal julle vrymaak

God se Woord is die waarheid en ons moet die waarheid oor alle sake rakende ons geloof daarin vind. “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie... Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie... want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die geregtigheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom. 3:10,12,23,24). Alle lede van die hele menslike geslag is sondaars wat ‘n dringende behoefte aan God se reddende genade het. “Want so lief het God die [hele bewoonde] wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). God “verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). Waarom doen Hy hierdie sterk oproep tot bekering aan “al die mense oral”? “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie” (Rom. 2:11).

Petrus, wat aanvanklik gedink het dat redding ‘n gawe van God slegs aan die uitverkore volk Israel is, het gou sy siening oor hierdie saak verander: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Hand. 10:34-35). Let asb. daarop dat dit nie diegene was wat reeds in die uitverkiesing deur God aanvaar is, wat tot bekering gekom en Hom gevrees het nie. Hy aanvaar almal uit Israel én die heidendom wat Hom van harte soek en wil dien.

Dit beteken net een ding: God roep alle mense oral tot bekering en geloof in sy Seun op, en bied daardeur aan hulle die keuse tussen lewe en dood. Diegene wat moedswillig die aanbod van redding verwerp, sal in die hel daarvoor gestraf word en net hulleself kan blameer: “As jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe" (Eseg. 33:9). Die goddeloses sal nie sterwe omdat hulle nie onder die uitverkorenes was nie, maar omdat hulle die aanbod tot redding verwerp het. “God het soewerein besluit dat die mens vry moet wees om morele keuses te kan maak, en die mens het van die begin af hieraan uitvoering gegee deur sy keuse tussen goed en kwaad te maak” (A.W. Tozer: The Knowledge of the Holy). Dit is die rede waarom mense in stryd met God se wil kan optree.

Wanneer ons gered word, word ons volgelinge van die Here Jesus alleen, wat ons Redder en getroue Hoëpriester is. Ons moenie blinde navolgers van feilbare menslike ‘priesters’ met onbybelse leerstellings wees nie, ongeag hoe populêr en beroemd hulle mag wees. Baie van hulle “is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val” (Matt. 15:14). Christus is “die weg, die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Almal in die wêreld word na hierdie nuwe en lewende weg uitgenooi.

Volharding

Ons moet op die pad van die Here volhard. As ons dit doen, sal ons nooit enige rede tot kommer oor ons geestelike lewe hê nie, en ook geen vrese dat ons doelbewus die Gees van die Here sal weerstaan en uitblus nie (1 Thess. 5:19). Waarom moet ons so sterk staan in reaksie op punt 5 van Calvyn, wat leer dat ‘n gelowige nooit uit die genade kan verval nie? Omdat ons enersyds moet seker maak dat ons vorder op die pad van heiligmaking en geestelike groei (Fil. 3:10-12; Ef. 4:13), deur die duidelike wete dat daar geen plek vir sonde en geestelike dwalings in ons lewe is nie (1 Joh. 2:1; Ef. 4:27). Andersyds moet ons begrip vir die volle omvang van teruggevallenes se probleme hê en daarteen waak om hulle gedurende hulle vervalle toestand salig te spreek.

‘n Calvinis, Arthur Pink, het die volgende oor Johannes 10:27-28 gesê, wat deur sy mede-Calviniste as ‘n waarborg geneem word dat geen Christen ooit weer verlore kan gaan nie, al doen hy ook wat: “Daar is ‘n dodelike en verwerplike dwaling wat vandag algemeen verkondig word, naamlik dat ‘n sondaar wat Christus aangeneem het, nooit verlore kan gaan nie, ongeag hoe hy daarna leef. Dit is ‘n duiwelse leuen omdat dit direk in stryd met die Woord van die Waarheid is. Iets meer as blote geloof in Christus is nodig as mens seker wil wees dat jy eendag in die hemel uitkom. ‘As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels’ (Joh. 8:31). ‘My skape luister na my stem… en hulle volg My… en niemand sal hulle uit my hand ruk nie’ (Joh. 10:27-28).

“Die belofte van vers 28 is net van toepassing op hulle wat aan die voorwaardes van vers 27 voldoen. Dit is hulle wat na die Here Jesus se stem luister, hulleself aan die gesag daarvan onderwerp en Hom voortdurend volg. Dit veronderstel voortgesette toewyding: ‘…as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie’ (Kol. 1:23). Ons moet bid om in die genade van Christus bewaar te word. ‘Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou’ (Heb. 10:23). Die Here is getrou, maar ons kan ontrou word; dit is waarom ons tot volharding op die pad van die Here aangemoedig en vermaan word.”

Arthur Pink is geweldig deur ander Calviniste gekritiseer omdat hy die leer van die volharding van die heiliges só beskryf het dat dit die verantwoordelikheid op die gelowiges geplaas het om die Here Jesus getrou, tot die einde toe, te volg. Volgens hulle sal alle Christen hemel toe gaan, al het hulle ook in ‘n sondige toestand teruggeval. Die Calvinistiese leer is op die onbybelse aanname gebaseer dat toegerekende geregtigheid jou van alle menslike pogings onthef om ‘n heilige en waardige lewe te lei. Paulus het egter gesê dat die feit dat hy as ‘n Christen by die geestelike wedloop betrokke is, geen waarborg is dat hy as ‘n oorwinnaar sal eindig nie. Hy het die moontlikheid besef dat selfs ook hy gediskwalifiseer kon word (1 Kor. 9:27).

Die ewige verlossing wat die Here Jesus aan ons bied, is voorwaardelik. Ons moet tot bekering kom, ons sonde bely en die Here Jesus as Verlosser aanneem om weergebore kinders van God te kan word. Ná ons redding moet ons heilige, toegewyde lewens lei en altyd getrou aan Christus bly. Indien ons nie op die weg van heiligmaking en dissipelskap volhard nie, is daar ‘n besliste gevaar dat ons deur Satan mislei kan word en as teruggevallenes eindig. Neem die volgende voorbeelde in ag:

Korinte: Paulus was baie teleurgesteld met die vleeslike lidmate van die gemeente in Korinte (1 Kor. 3:1-3), wat geen onderskeidingsvermoë gehad het nie en maklik deur Satan mislei is: “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4). Valse weergawes van die evangelie van Jesus Christus is onder die invloed van verleidende geeste verkondig, en die meeste van die gemeentelede het dit naïewelik aanvaar.

Éfese: Die Efésiërs het ernstige waarskuwings van Paulus ontvang, maar nie daarop ag geslaan nie: “Want ek weer dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29-30). ‘n Geslag later was die hele gemeente teruggevalle en moes deur Christus tot bekering opgeroep word (Op. 2:4-5).

Galásië: Die Galásiërs het in ‘n wettiese godsdiens teruggeval waarin Christus se versoeningswerk aan die kruis nie as genoegsaam vir redding beskou is nie. Paulus het hulle sterk vermaan omdat hulle geestelik agteruitgegaan het (Gal. 3:1-3). Hulle het as teruggevalle, vleeslike Christene geëindig, wat ‘n duidelike risiko geloop het om van die genade te verval (Gal. 5:4).

Die Hebreërs. Baie van die Hebreeuse Christene het hulle geloof as gevolg van sonde verloor (Heb. 3:12-13). Ander het geestelik gestagneer en teruggeval omdat daar geen geestelike groei by hulle was nie (Heb. 5:12-13). As gevolg hiervan het hulle onseker van hulle redding gebly, en telkens weer tot bekering gekom sonder om daarna geestelik te groei (Heb. 6:1).

Pergamus: Die kompromie wat die kerk in Pergamus met die goddelose wêreld gemaak het, het noodwendig tot dislojaliteit en ongeloof onder die lidmate gelei (Op. 2:14). Baie van die moderne kerke maak ook met die nie-Christelike gelowe kompromie, en laat immoraliteit oogluikend toe.

Thiatire: Die kerk in Thiatire is deur valse leerstellings en seksuele immoraliteit gekenmerk. Baie van die moderne kerke is net so skuldig aan hierdie sondes, aangesien valse leerstellings geweldige steun geniet, terwyl seksuele  immoraliteit, insluitende homoseksualiteit, openlik verdra en selfs as normaal aanvaar word. Kerke wat hierdie eienskappe vertoon, het só ver teruggeval dat hulle selfs uit die genade verval het. Hulle sal die wegraping misloop en as navolgers van die Antichris in die verdrukking eindig (Op. 2:20-22). Daar is verskeie van die moderne kerke wat dalk goed begin het, maar nou voor die poorte van Sodom staan en hulleself volgens die beginsels van die antichristelike nuwe wêreldorde hervorm.

     Die Here Jesus rig die volgende waarskuwings aan nominale en teruggevalle kerke:

·       Die kandelaar van vormgodsdienstige gemeentes sal deur Hom weggeneem word, wat beteken dat Hy sy Gees aan hulle sal onttrek (Op. 2:5)

·       Kerke wat met die wêreld kompromie maak, sal deur die Woord van die Here geoordeel word omdat hulle daaraan ontrou geword het (Op. 2:16).

·       Afvallige kerke wat leerstellings van duiwels aanvaar en verkondig, sal in die groot verdrukking beland as hulle hul nie bekeer nie (Op. 2:22).

·       Die Here Jesus sê Hy onttrek Homself ook heeltemal aan die kerke en gemeentes wat deur geestelike louheid weens materialisme en selfregverdiging gekenmerk word (Op. 3:16-17).

Ware Christene moet hulle taak op aarde vervul terwyl hulle aanvegtinge verduur van ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, en ook van valse kerke wat net ‘n gedaante van godsaligheid het. Dit is ‘n bomenslike taak wat nie sonder die genadige instaatstelling en bekragtiging deur die Heilige Gees uitgevoer kan word nie, en ook nie sonder ‘n ingesteldheid van volharding op die pad van die Here tot die einde toe nie. Ten spyte van hulle min krag in hierdie bedeling (Op. 3:8), sal sy getroue dissipels geestelik met manna uit die hemel gevoed en vir die stryd versterk word.

Ons moet nooit moedeloos raak en onsself van “die goeie stryd van die geloof” onttrek nie (1 Tim. 6:12). Volg die voorbeeld van die Here Jesus: “Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).

“Want julle het lydsaamheid nodig om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Heb. 10:36-39).

Is jy ‘n oorwinnaar wat op die pad van die Here volhard? Jesus Christus het gesê: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). In die lig van sy skielike koms word ons vermaan om vas te hou wat ons het, sodat die sielevyand dit nie van ons beroof nie. Hy wat oorwin, sal ‘n pilaar in die tempel van God wees (Op. 3:12), wat simbolies van die oorwinnaars se permanente plek in die hemel is.

Voordat Johannes na Patmos verban is, het hy gelowiges teen terugval en die verlies aan hulle beloning in die hemel gewaarsku: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. v.8). Ons moet valse leerstellings en morele korrupsie suksesvol weerstaan as ons getrou aan die leer van Christus wil bly.

“Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh. v.9). Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê die volgende oor dié teks: “Hierdie woorde impliseer duidelik dat die apostel na geloofsverval verwys onder diegene wat in ‘n stadium geglo het. Die uitdrukking “bly in” (Grieks meno) word 23 keer in Johannes se eerste sendbrief gebruik, en verwys na die lewe wat voortdurend in Christus bly (“the abiding life”). Iemand wat nie in iets bly nie, was duidelik vroeër in dit gewees. Die Nuwe Testamentiese skrywers was realisties oor die moontlikheid dat ware Christene die slagoffers van dwaalleerstellings kan word, en het dikwels teen dit gewaarsku, veral in die boek Hebreërs. Johannes het pas sy lesers teen die moontlike verlies aan loon gewaarsku (v.8). Hulle word nou gewaarsku om nie buite die grense van die gesonde leer te beweeg nie, maar om in die leer van Christus te bly en daarin te volhard. Wanneer ‘n persoon van die waarheid afwyk, dan laat hy God agter, want Hy is nie met só een nie. Wat hierdie persoon doen, doen hy sonder die Here.”

 

Bibleguidance home page