Postmoderne Dekonstruksie op ’n Węreldwye Skaal

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2012)

Gedurende die afgelope twee dekades het postmoderne hervormings met rasse skrede toegeneem onder feitlik alle volke ter węreld. Aansienlike spanning word in die samelewing geskep terwyl die ou orde toegee onder die druk en begin voldoen aan die eise van die ontluikende nuwe węreldorde. Die spanning spruit voort uit die feit dat baie mense steeds getrou bly aan die beginsels en geloofsopvattings van die ou orde, en daarom die radikale hervormings van die postmoderne samelewing as onaanvaarbaar beskou en weerstaan. Die belangrikste beswaar teen die opkomende nuwe węreldorde is dat dit humanisties en antichristelik is, sonder duidelikgedefinieerde doelwitte, en ook sonder vaste morele ankers. Die meerderheid mense steun egter die hervormings en dit is besig om ’n onstuitbare mag vir verandering te word.

Die volgende is die drie belangrikste stadiums van menslike ontwikkeling wat ter sake is vir die bespreking van die huidige oorskakeling na postmodernisme:

Premodern. Alle kulture het deur ’n verlengde fase van premodernisme gegaan wat soms duisende jare lank voortgeduur het. Hierdie fase word in die algemeen geassosieer met tegnologiese primitiwiteit, ongeletterdheid, en ’n mistiese węreldbeskouing wat na verskeie bygelowe gelei het, asook geloof in magiese kragte wat ’n groot rol speel in die beheer van menslike lewe.

Modern. Die motivering vir die oorskakeling na die moderne era kom uit verskeie bronne, waarvan die Christelike geloof die belangrikste is. Nadat die Christendom in verskillende samelewings in die węreld gevestig is, het verreikende veranderings ingetree – soms geleidelik, maar soms redelik vinnig. Geletterdheidsprogramme is ingestel om mense in staat te stel om die Bybel te kan lees, en hieruit het formele onderwysstelsels ontwikkel wat op die Christelike węreldbeskouing gebaseer was. Moderne gesondheidsdienste is gelewer om die inheemse terapie te vervang wat gebaseer was op die geloof dat magiese kragte die belangrikste oorsaak is van siekte en ongesteldheid. Demokratiese politieke stelsels is gevestig om die outokratiese oorheersing deur erflike leiers te vervang en menseregte te bevorder. ’n Regstelsel is ook ontwikkel wat in ooreenstemming is met die beginsels en behoeftes van ’n Christelike samelewing. As deel van die hervormings is ’n nuwe werketiek bevorder wat gelei het na surplus produksie, handel, ’n vryemark en die ontwikkeling van ’n monetęre stelsel. Hierdie nuwe kulturele instellings van die moderne era in Europa het gelei tot die ontstaan van volkstate waarin die belangrike kultuurgroepe, bv. die Duitsers, Grieke of Franse, elk as onafhanklike nasies gevestig is met hul eie, soewereine regering. Hierdie ontwikkelingsmodel het mettertyd in groot dele van die węreld gevestig geraak. In sommige gevalle (bv. Japan) is net die Westerse tegnologie, vryemarkstelsel en demokrasie oorgeneem, en nie die Christelike geloof nie.

In dele van Oos-Europa en Asië is premoderne, en selfs ontwikkelende Christelike samelewings, onder die dwingelandy van die kommunistiese ideologie geplaas en sodoende in moderne maar swak ontwikkelde kommunistiese state omskep. In die Arabiese węreld is die moderne fase betree deur middel van die rykdom wat olie-uitvoere aan hulle gebied het. Stedelike ontwikkeling het gefloreer en ’n moderne Arabiese kultuur, in assosiasie met ’n Islamitiese ideaal vir węreldoorheersing, is baie sterk in die Midde-Ooste gevestig. ’n Premoderne węreldbeskouing het in baie van hierdie samelewings voortgeduur, maar olierykdom en die aanvaarding van Westerse tegnologie het aan hulle die misleidende skyn van ten volle ontwikkelde, moderne samelewings verleen.

Postmodern. Die uitbreiding van hierdie ideologie behels die beweging om ’n nuwe węreldorde te vestig waardeur onbeperkte vryhede aan mense belowe word – polities, moreel, geestelik, en op alle ander terreine van die lewe. Die politieke oorheersing deur diktators en eenpartyregerings is nie aanvaarbaar nie, terwyl streng morele standaarde in die pad staan van mense se vryheid van assosiasie en seksuele oriëntasie. Die voorskriftelike lewenstyl wat deur fundamentele godsdienstige groepe afgedwing word, word ook verwerp. Die uiteindelike doel van postmodernisme is die vestiging van pan-humanisme of globalisme, waardeur die vorming van ’n węreldstaat in die vooruitsig gestel word. Die kenmerke van die węreldstaat is ’n bevolking van węreldburgers wat in ’n verenigde węreld sonder rigiede grense woon, met ’n węreldregering wat dieselfde stel internasionaal aanvaarbare menseregte eerbiedig, ’n sentraalbeheerde węreldekonomie met een geldstelsel vir almal, die uitwissing van die gaping tussen ryk en arm lande, asook ryk en arm individue, en die vorming van ’n alliansie van węreldgodsdienste waarin alle gelowe hande vat met die oog op uiteindelike eenwording onder die leiding van ’n algemeen aanvaarde węreldmessias. Identifisering met een of meer van die bestaande gelowe, of met nie een van hulle nie, is volkome vrywillig, terwyl eklektiese kombinasies van godsdienstige gebruike, asook noue ekumeniese bande, aangemoedig word. Die groot mikpunt van postmodernisme is om ’n toestand te bereik waarin mense oral sal kan sę: “Ons is almal een – ons het een leier, een geldstelsel, en ons aanbid dieselfde universele God van alle gelowe.” Die komende multigodsdienstige messias sal finale uitdrukking verleen aan hierdie globalistiese ideaal.

Dekonstruksie

Die węreld het reeds ver gevorder met die afbreek, of dekonstruksie, van instellings wat met die moderne era in verband staan. In die tradisionele Westerse węreld manifesteer hierdie proses deur die verwerping van die Christelike beskawing, of die ingrypende hervorming van die tipiese instellings daarvan. Voormalige Christelike grondwette is reeds vervang deur sekulęre of multigodsdienstige grondwette, Christelike onderwys as ’n diens wat vroeër deur die staat gelewer is, is beëindig, Christelike moraliteit is verwerp op terreine waarop dit menslike vryhede aan bande lę, Christelike huwelike word nie meer as die enigste boustene van die samelewing gereken nie, nasionale soewereiniteit onder ’n Christelike regering word nie meer as noodsaaklik beskou nie, terwyl kultureelgebaseerde nasieskap op die agtergrond geskuif word ter wille van groter geo-politieke strukture wat die weg moet baan na streeks-, kontinentale, en uiteindelike węreldeenheid.

In die voormalige kommunistiese węreld (met die uitsluiting van Sjina) het postmoderne hervormings gelei tot die val van kommunistiese regerings asook die beëindiging van ’n geforseerde sosialistiese lewenstyl. Veelpartyverkiesings is gehou, godsdienstige verdraagsaamheid en vryheid van keuse is aanvaar, en dit het gelei tot die vestiging van soewereine regerings in die voormalige Sowjet-republieke wat onder die beheer van die Kremlin was. Private eienaarskap van grond en ekonomiese bates word toegelaat, insluitend die vestiging van ’n vryemarkekonomie. Hierdie nuwe state is nie Christelik in hulle węreldbeskouing en openbare instellings nie, daarom ontbreek daar morele stabiliteit en ’n duidelike bewussyn van ’n Godgegewe volksidentiteit.

Sjina handhaaf ’n lomp en irrasionele kombinasie van kommunistiese regering in samehang met ’n Westerse ekonomie. Persoonlike vryhede word egter streng beperk deur die kommunistiese leiers, en hierdie baie groot volk funksioneer sonder sterk openbare steun vir hulle eie regering met sy outokratiese beleidsrigting. Die spanning is besig om op te bou tussen die bevolking en hulle leiers, en dit het die potensiaal om op volskaalse revolusie uit te loop.

Japan en ander soortgelyke lande is in die moderne era ingetrek deurdat hulle Westerse ekonomiese en politieke hervormings nageboots het, maar sonder die morele en godsdienstige basis vir die skep van ’n kerngesonde samelewing. Postmoderne hervormings vind plaas sonder dat hulle ’n sterk ideologiese tradisie hoef af te breek.

Onder die Arabiere word postmoderne dekonstruksie duidelik gedemonstreer deur die voortgaande Arabiese opstande. Die moderne elite wat hulleself verryk het, word steeds sterk geopponeer deur militante massaoptrede. Ook in hierdie geval gaan die dekonstruksie van bestaande strukture en instellings voort deur aanspraak te maak op onbeperkte vryheid, terwyl ’n rasionele alternatief nie aangebied word nie.

Die instelling van postmoderne hervormings

Die volgende vraag behoort deur węreldleiers en alle denkende mense gevra te word: Wat is die belangrikste implikasies van postmoderne hervormings, en wat is die grootste risiko’s wat daaraan verbonde is? Die huidige situasie in Europa bied ’n ideale geleentheid vir ’n gevallestudie oor die gevolge van die huidige transformasieproses. Europa het fundamentele veranderings weg van die moderne era af, in die rigting van ’n nuwe węreldorde ingestel, en ly reeds weens die gevolge daarvan:

·        Die ontworteling van Europa se Christelike tradisie in die regering en samelewing het reeds die stadium bereik waarin daar al hoe meer na die post-Christelike Europa verwys word. Christelike moraliteit word nie meer as die norm aanvaar nie, en onbybelse gebruike soos homoseksualiteit en die vrye verspreiding van pornografiese materiaal is aan die orde van die dag. Islam is besig om Europa diep binne te dring, maar dit lyk nie of hierdie verskynsel enige kommer wek by mense wat doodgelukkig is met die globalistiese, ekumeniese en multigodsdienstige aard van die postmoderne samelewing nie.

·        Nasionale soewereiniteit as ’n Goddelikbepaalde beginsel (vgl. Hand. 17:26) word nie meer ernstig nagestreef nie en word gewilliglik opgeoffer ten gunste van Europese eenheid, wat ’n belangrike magsblok in ’n toekomstige węreldregering sal wees. Die nasionale regerings van Europese volke is reeds afgeskaal na die vlak van plaaslike politieke instellings wat ondergeskik is aan die oorkoepelende struktuur van die Europese regering in Brussel.

·        Die ekonomiese onafhanklikheid en selfbeskikkingsreg wat vroeër geniet is deur lande in hierdie streek, is reeds aansienlik ingekort. Baie van die ekonomiese funksies en besluite berus nou by die Europese parlement en sy geaffilieerde liggame. Selfs nasionale geldeenhede is besig om deur die euro vervang te word. Vir hoe lank sal ryk lande soos Duitsland in staat wees om die ekonomiese las te dra van die baie lande in Europa wat deur bankrotskap bedreig word? Wie sal die uiteindelike verantwoordelikheid vir hierdie ramp aanvaar?

Ten spyte van maatreëls vir eenheid, is daar ’n besliste moontlikheid dat die eurogebied kan disintegreer as gevolg van die hoë skuldvlak van lande soos Griekeland, Italië, Spanje en Portugal. Verskeie ander lande is ook besig om ekonomies agteruit te gaan en kan spoedig bankrotskap in die gesig staar as gevolg van ’n hoë skuldlas, asook ’n krisis in hulle bankwese weens die onvermoë van werklose of onderbetaalde kliënte om hulle verbandlenings af te betaal.

Soos vroeër aangedui, is dit nie net ’n ekonomiese probleem hierdie wat voortspruit uit oorbesteding, buitensporige kredietverskaffing en ’n gebrek aan finansiële dissipline nie, maar eerder die gevolg van kulturele verbrokkeling en die verval van godsdienstige waardes en morele norme. Die basiese fondamente van tradisionele volkstate is onder groot druk en op die punt om te verkrummel omdat die samebindende faktore van die samelewing hulle krag verloor.

Daar is verskeie aanduidings van ’n dreigende sosio-politieke en ekonomiese ineenstorting. Saam met die verlies aan soewereiniteit is daar ’n ooreenstemmende afname in volkstrots. Wanneer landsburgers nie meer trotse lede van hulle volk is wat bereid is om opofferings te maak om hulle land en volk op te bou en te versterk nie, raak hulle dislojaal en onproduktief (veral die staatsamptenare). Sulke mense is selfsugtig en bevorder net hulle eie belange. Hulle eis die gratis dienste van ’n welsynstaat, lae belastings, ’n gemaklike lewe, ’n verlaagde aftree-ouderdom en verhoogde pensioene.

Politieke partye vind dit moeilik om kiesers tevrede te stel en sodoende genoeg ondersteuning te verkry om verkiesings te wen. Hulle maak buitensporige en onrealistiese beloftes, en wanneer hulle aan die bewind kom, verhoog hulle gou die skuldvlak van die land ten einde hulle uitspattige ontwikkelingsplanne te finansier. Wanneer die skuldvlak kritieke afmetings aanneem en die land nie eers meer die rente op sy staatseffekte ten volle kan betaal nie, word die regerende party uitgestem. Hulle opvolgers erf dan bykans onoplosbare probleme wat oor baie jare heen opgebou is.

Die instelling van verpligte besuinigingsmaatreëls lei noodwendig na ’n ekonomiese insinking, armoede, werkloosheid, openbare demonstrasies, en uiteindelik die val van die nuwe regering. Staatsamptenare en politici raak korrup en verryk hulleself solank hulle die onseker geleentheid het om die land te beheer en te administreer. Die kiesers raak ook korrup en probeer alles moontlik om die verhoogde belastings wat op hulle gehef word, te ontduik.

Hierdie toestand vererger as gevolg van die verlies aan godsdienstige identiteit en aanspreeklikheid teenoor God oor hoe ’n persoon sy lewe moet lei. Onbetrokkenheid by godsdiens het ’n afbrekende invloed op persoonlike integriteit en die eerbiediging van die Protestantse werketiek. Saam met die verlies aan volkstrots en lojaliteit teenoor die regering, raak baie van die burgers ’n las vir die staat en funksioneer nie meer as ’n bate nie. Immigrante oorstroom dan sulke lande om die laagbesoldigde werk te doen, en hierdeur word die kulturele identiteit en samehorigheid van die volk verder ondermyn.

Postmodernisme is ’n seker manier vir die vernietiging van ’n Christelike staat wat deur die harde werk en toewyding van sy inwoners as ’n polities soewereine en ekonomies selfversorgende land in die gemeenskap van nasies gevestig is.

Bybelse profesieë

Wat kan ons verwag in die lig van die huidige gebeure in die węreld? Die Bybel bied ook hierop die antwoord. Christene wat hoë agting het vir die Bybel as God se geďnspireerde Woord aan die mensdom, is nie onkundig oor die eindbestemming van die huidige hervormings na postmodernisme nie. Bybelse profesieë beskryf die opkoms van ’n antichristelike nuwe węreldorde in die eindtyd, en dit word duidelik gestel dat Europa, die Midde-Ooste, Rusland en Sjina ’n baie prominente rol hierin sal speel. Hierdie profesieë skets aan ons die groter prentjie waarbinne ons die huidige dekonstruksie van die ou orde en die opkoms van ’n onheilspellende nuwe orde moet verklaar.

Volgens Openbaring 13 sal daar gedurende die laaste sewe jaar voor die wederkoms van Christus ’n węreldregering, ’n alliansie van węreldgodsdienste, asook ’n sentraalbeheerde węreldekonomie gevestig word wat onder die regstreekse leierskap van die Antichris sal funksioneer. Daar kan geen twyfel hoegenaamd oor die letterlike implikasies van hierdie profesieë bestaan nie. Die Antichris sal mag hę oor elke stam en taal en nasie (Op. 13:7), hy sal openlik aanbid word deur al die onderdane van sy węreldryk (Op. 13:4, 8), en hy sal absolute beheer verkry oor die węreldekonomie, waarin daar net van een geldstelsel gebruik gemaak sal word (Op. 13:16-18).

In die komende nuwe węreldorde sal nasionale soewereiniteit, ekonomiese onafhanklikheid en selfbeskikking iets van die verlede wees. Die Antichris sal in sy hervormings roem en sę: “Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ’n maghebber neergewerp” (Jes. 10:13).

In die profesieë oor die Antichris in Jesaja 10 word hy beskryf as “Assirië se koning” en “Assur” (die Assiriër). Sy beleidsrigtings en optrede word bespreek binne die verband van ’n herstelde Israel in die eindtyd, wanneer Assirië vir Israel sal probeer uitwis: “Maar as die Here al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. ... Daarom, so sę die Here Here van die leërskare: o My volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir Assur nie” (Jes. 10:12, 24).

Dit moet in gedagte gehou word dat Assirië in antieke tye ’n magtige ryk was, waarvan sy hartland die huidige Irak en Sirië ingesluit het. Daniël verwys na die heerser van hierdie gebied as die koning van die Noorde (noord soos vanuit Israel gesien), wat in ’n konfrontasie gewikkel was met die koning van die Suide in Egipte (Dan. 11:40-45). Uit hierdie profesieë is dit duidelik dat daar in die eindtyd onder Israel se vyande twee antagonistiese magsblokke tot stand sal kom – een in die noorde (Sirië, Irak en hulle bondgenote) en die ander een in die suide (Egipte en sy bondgenote). Hulle sal albei vir Israel probeer vernietig en Jerusalem die hoofstad van ’n Islamitiese węreldstaat probeer maak. Aan die einde sal die koning van die Noorde, wat onder die regstreekse beheer van die Antichris sal staan, oorwin.

Verder word daar in Eségiël 38 en 39 ’n eindtydse Russies-Arabiese inval in Israel beskryf waarin Persië (die huidige Iran), wat tans ’n geswore vyand van Israel is, ook ’n groot rol sal speel. Openbaring 9:13-21 beskryf ’n Sjinese inval in die Midde-Ooste en die Westerse węreld. Die spanning is besig om van alle kante af op te bou. Beide Sjina en Rusland gebruik die Siriese konflik om die res van die węreld te konfronteer deur die radikalisme van die huidige regime in Damaskus te verskoon en op die voortsetting daarvan aan te dring. Wanneer al hierdie feite in ag geneem word, het die opstande in Sirië die potensiaal om die vervulling van eindtydse profesieë oor die openbaring van die Antichris en die instelling van sy nuwe węreldorde te versnel.

Die situasie in Sirië is hoogs gekompliseerd. Daar word nie slegs ’n burgeroorlog tussen die regering en opposisiegroepe gevoer nie, maar daar is ook ’n ernstige botsing tussen Sjiďete en Soenniete (soos dit ook die geval is in Irak). President Bashar al-Assad voeg homself by die Sjiďtiese leiers in Irak en Iran, terwyl die belangrikste opposisiegroepe deel is van die Soenniete in Egipte, Saoedi-Arabië en ander Moslemlande. In ’n węreldwye verband maak Assad staat op die steun van Rusland en Sjina, terwyl die opposisiegroepe die steun van feitlik die hele res van die węreld geniet.

’n Verslegtende toestand

’n Breëspektrum evaluering moet gemaak word van die huidige verslegtende toestand in die węreld, waarin die ongekende ekonomiese probleme in verskeie ontwikkelde lande ook in verband gebring word met politieke en militęre ontwikkelings in die Midde-Ooste. Een so ’n analise kom van ’n vooraanstaande Amerikaanse akademikus. Hy is Prof. Nouriel Roubini, voorsitter van Roubini Global Economics en dosent in ekonomie aan die Stern Business School van die Universiteit van New York, wat mede-outeur is van die boek Crisis Economics (2012). Hierin beskryf hy die onrusbarende toestand wat tans besig is om in die węreld te ontstaan.

Roubini sę ’n dreigende storm broei op die ekonomiese horison, en donker wolke is besig om in te beweeg uit die eurosone, Amerika, Sjina en elders. Die las van fiskale beperkings en staatskuld het reeds die punt bereik waarin verskeie lande nie meer hulle verpligtings kan nakom nie. Die chaotiese disintegrasie van die eurosone is ’n baie groot moontlikheid.

In Amerika het die groeikoers van die ekonomie na slegs 1,9% afgeneem, en die werkloosheidsyfer is besig om te styg. In Sjina is fundamentele hervormings in die ekonomie en politieke struktuur van die land nodig indien hulle die storm wil afweer.

Verder kan die stygende spanning in die Midde-Ooste oor die saak van kernwapens tussen Israel en Amerika aan die een kant, en Iran aan die ander kant, in 2013 kookpunt bereik. Die huidige rondte samesprekings sal waarskynlik misluk, en selfs strenger sanksies sal Iran nie daarvan weerhou om kernwapens te ontwikkel nie. Indien Amerika of Israel militęre metodes sou gebruik om die probleem op te los, kan die olieprys die hoogte inskiet en ’n węreldwye resessie tot gevolg hę. Vergeleke met die krisis van 2008-2009, het regerings en banke nie die vermoë om die huidige krisis met betrekking tot kredietverlening en dreigende bankrotskap te hanteer nie. ’n Węreldwye ekonomiese ineenstorting is glad nie ’n onwaarskynlike scenario op die kort termyn nie.

Die pad vorentoe

Moenie mislei word deur beloftes van ’n beter toekoms indien ons die opkomende nuwe węreldorde sou aanvaar nie. Uit ’n Bybelse oogpunt is dit absoluut seker dat die węreld nie op ’n Utopia afstuur nie, maar eerder op ’n groot verdrukking soos daar sedert die begin van die węreld af nie gewees het en ook nooit daarna sal wees nie (Matt. 24:21).

Die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris sal ingestel word deur die ideologie van globalisme toe te pas, en dit sal lei na die algemene aanvaarding van ’n węreldleier, ’n węreldregering, ’n alliansie van węreldgodsdienste, en ’n węreldekonomie. ’n Valse idee van vrede en eenheid sal deur hierdie hervormings geskep word, en alle mense sal die Antichris in verwondering navolg oor dit wat hy bereik het.

Wanneer hierdie nuwe węreldorde egter misluk om aan die verwagtings van die internasionale gemeenskap te voldoen, sal die Antichris homself tot God verklaar, die aanbidding van alle mense eis, ’n militęre diktatorskap instel en sy beleid deur geweld op almal afdwing.

Slegs dan sal die meeste mense eers begryp wat die werklike verskil is tussen Christelike modernisme en antichristelike postmodernisme. Ons kom nie alleen te staan voor ’n politieke en ideologiese keuse oor die aard van die węreld waarin ons wil leef nie – ons moet ten diepste ’n godsdienstige keuse maak. Jesus Christus was “bestemd tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel” en ook in die hele res van die węreld (Luk. 2:34).

Om Hom te verwerp, kom neer op die verwerping van ’n Christelike leefwyse en dus ook van die fondamente van die Christelike beskawing. Die noodwendige gevolge van so ’n noodlottige besluit is geestelike blindheid, morele verdorwenheid, onsekerheid oor jou persoonlike en nasionale identiteit (wie jy regtig is en wat jy behoort te wees), ’n korrupte en laakbare lewenstyl, ’n gebrek aan respek vir gesag, asook ’n onregverdige en onderdrukkende vorm van regering. Dit is alles die vrugte van doelbewuste blootstelling aan die koninkryk van die duisternis, waardeur dié koninkryk toegelaat word om chaos en wanorde te skep, sy verwronge waardes te vestig en ook ’n kultuur van sonde te kweek.

Die aanvaarding van Christus is die enigste manier om op te staan in ’n nuwe lewe onder sy leiding, en daagliks in ooreenstemming met sy goddelike voorskrifte te wandel. Wanneer Hy weer kom, sal Hy sy regering van vrede en geregtigheid vestig volgens die beginsels in sy Woord.

Wat die huidige situasie betref, is nóg die koninkryk van God nóg die koninkryk van Satan fisies geopenbaar en op aarde gevestig, maar volgens Bybelse profesieë sal beide van hulle in die eindtyd geopenbaar word. Ons het die keuse om onsself aan enigeen van die twee te verbind. Indien ons Christus as ons Verlosser en Koning aanvaar, moet ons die antichristelike hervormings in die samelewing weerstaan. Indien ons nie sy dissipels word nie, sal ons noodwendig in die koninkryk van die Antichris beland en sy navolgers word (vgl. Joh. 5:43).

Die pad vorentoe vir almal op aarde hang van hulle eie keuse af of hulle na die drie-enige God en sy Woord sal terugkeer, en of hulle op die pad van postmoderne hervormings na ’n nuwe węreldorde sal volhard. Geen politieke of ekonomiese stappe sal die huidige probleme oplos nie, omdat dit nie die worteloorsaak van rebellie teen die God van die Bybel en sy Seun aanspreek nie (vgl. Ps. 2:1-3).

Nadat die groot meerderheid van die węreldbevolking hulleself teen die raadsplan van God verenig het op ’n manier soortgelyk aan dié in die tye van Noag en Lot, sal die Here al die ware gelowiges wegneem uit die toneel van sy komende oordele (Luk. 21:36; Op. 3:10). God sal dan die bose mense aan die mag van die Antichris oorlewer en ook sy oordele oor hulle uitstort (Op. 6 tot 19).