Hoe Moet ons Gereed Maak vir Christus se Wederkoms?

Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2015)

 

Description: http://www.christian-books-and-entertainment.com/images/manharvestsunset.jpg

Description: http://bibledaily.files.wordpress.com/2009/09/watchman.jpg

Besig om ʼn oes in te samel

Waak teen die vyand se aanvalle

Description: http://cache.desktopnexus.com/thumbnails/1640531-bigthumbnail.jpg

Description: http://achicdirection.com/wp-content/uploads/2011/05/kate-middleton-wedding-dress.jpg

ʼn Skynende lig in ʼn donker węreld

Gereed om afskeid te neem

 

Daar is verskeie profesieë in die Bybel waardeur Christene aangemoedig word om waaksaam en gereed te wees vir die skielike koms van die hemelse Bruidegom. Hierdie voorskrifte en vermanings moet ernstig opgeneem word, omdat daar so baie dinge is waardeur ʼn gelowige se aandag afgetrek kan word van sy roeping om ʼn dienskneg van Christus te wees wat met vrymoedigheid rekenskap van sy lewe sal kan gee wanneer sy Heer op ʼn onverwagte uur terugkeer. Op daardie dag sal Hy sy bruidsgemeente na haar hemelse woning wegvoer, dan sal dit te laat wees om gereed te maak en jou prioriteite in die lewe reg te kry. Die volgende is een van die talle oproepe om wakker en getrou bevind te word tydens die wederkoms:

“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ʼn man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sę, sę Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:33-37).

Die opdrag om te waak

In hierdie gedeelte beskryf die Here ʼn geestelike ingesteldheid van gereedheid wat onder sy diensknegte moet heers – dit is mense wat aan Hom behoort, wat deur Hom gekoop is en in sy diens staan. Ons word daaraan herinner dat dit moontlik is om fisies wakker te wees, maar nogtans geestelik aan die slaap en onbetrokke by die Here se werk, selfs al is die persoon ʼn dienskneg. Gelowiges kan in passiwiteit verval, dan is hulle nie meer waaksame en aktiewe Christene wat die woord van die waarheid reg verstaan, hulleself met die regte dinge besig hou en met oop oë deur die lewe gaan nie. Die Here Jesus wil voorkom dat ons geestelike visie vervaag en dat ons voeling verloor met Hom, met sy opdragte en beloftes, met gereedmaking vir sy wederkoms, met die groot omvang van ons taak in sy koninkryk, en met die erns van die gevare waardeur ons bedreig word. Dit behoort nie nodig te wees om iemand te stuur om ons wakker te skud sodat ons die aangesig van die Here sal soek, sy wederkoms daadwerklik sal verwag en aktief betrokke sal raak by dit wat Hy ons beveel het om te doen nie.

In Markus 13 word die gelykenis vertel van ʼn huisheer wat op reis gegaan en aan elkeen van sy diensknegte hulle werk gegee het, asook ʼn opdrag aan die deurwagter om te waak en die eiendom te beskerm. Wanneer die huisheer op ʼn onverwagte uur terugkeer, wil hy alles in orde vind. In die geestelike toepassing van hierdie gelykenis is die Here Jesus die Huisheer wat tydens sy hemelvaart op ʼn lang reis vertrek het hemel toe. Voor sy vertrek het Hy aan sy dissipels volle verantwoordelikheid gegee oor die behartiging van die sake van sy koninkryk op aarde, asook die opdrag om te waak teen vyandelike aanvalle. Tydens sy wederkoms op ʼn onverwagte uur, sal dit aan die lig kom wie getroue en wie ontroue diensknegte was.

Daar is twee belangrike toetse vir die bepaling van gereedheid vir Christus se koms, naamlik eerstens die uitvoering van ons basiese pligte in die uitbreiding van sy węreldwye koninkryk, en tweedens geestelike weerbaarheid wat sal verseker dat ons oorwinnings behaal oor die veelvuldige aanvalle op ons geestelike belange en geloofslewe. As ons Jesus Christus aktief verwag, moet ons ywerig wees in die uitvoering die taak om oral sy getuies te wees, en ook weerbaar teen die vyand sodat hy ons nie kan verblind, mislei, beroof en aan die slaap sus nie.

In ʼn sekere sin hang die toekoms van die hele węreld van die getrouheid en waaksaamheid van evangeliese Christene af, want hulle is geroepe om die lig van ʼn donker węreld te wees en onder alle volke, stamme en nasies ʼn oes vir die koninkryk van die hemel in te samel. Die groot belangrikheid van die leer oor geestelike waaksaamheid en gereedheid vir die wederkoms blyk uit die feit dat dit telkens in die Nuwe Testament bespreek word. As ons op al hierdie voorskrifte en riglyne ag slaan, sal ons gereed wees op die dag wanneer die basuin blaas. Die volgende is ʼn paar van die belangrikste uitsprake oor die geestelike toewyding en volharding wat die Here van ons verwag:

Lei ʼn Geesvervulde lewe

In die gelykenis van die tien maagde (Matt. 25:1-13) word dit baie duidelik gestel dat die groot verskil tussen die wyse en dwase maagde in verband staan met die ekstra olie wat die wyse maagde gehad het. Die olie is ʼn bekende simbool van die Heilige Gees, en dit vestig die aandag op sy onontbeerlike rol in die lewens van alle gelowiges – eerstens in verband met wedergeboorte en tweedens wat heiligmaking betref. Heiligmaking staan in verband met ʼn geloofstap wat geneem word deur diegene wat reeds deur die Heilige Gees wederbaar is, maar nog nie met die Gees vervul is nie. Die ervaring van vervulling met die Heilige Gees stel die gelowige in staat om op te groei tot geestelike volwassenheid (Ef. 4:11-14), om ʼn getuie vir Christus te wees (Hand. 1:8), om oor sonde en versoekings te oorwin (Gal. 5:16), om die regte perspektief op die koms van die Bruidegom te hę (Joh. 16:13), en om ʼn waaksame en biddende Christen te wees (Luk. 21:36).

Christene wat nalaat om hierdie stap van toewyding te neem, tree dwaas op en beperk hulleself tot ʼn vleeslike lewe waarin die Heilige Gees nie tot sy reg kom nie, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Sulke dubbelhartige gelowiges het nie die motivering of krag om die stygende gety van sonde en ongeregtigheid te weerstaan nie, met die gevolg dat hulle in hulle liefde verkoel (Matt. 24:12) en dus nie in staat is om gereed te maak om die Bruidegom te ontmoet wanneer Hy kom nie.

Dit is nie die wil van die Here Jesus dat sy volgelinge nalatig sal wees oor die aard van hulle geestelike lewe nie, daarom het Hy nie net vir die reiniging van hulle sondes tydens wedergeboorte voorsiening gemaak nie, maar ook vir hulle heiligmaking. Die doel met heiligmaking is: “... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Ons moet dus nie geestelik stagneer nadat ons tot die Christendom toegetree en deur die Heilige Gees wederbaar is nie, maar ook vir die ekstra olie in ons lewe voorsiening maak deur die Here vir die vervulling met die Heilige Gees te vertrou (Ef. 5:18). Hy verwag dit van ons (1 Thess. 4:7-8), want sonder heiligmaking sal ons die Bruidegom nie sien nie (Heb. 12:4).

Streef na volkome heiligmaking

Die ervaring van vervulling met die Heilige Gees word ook as “volkome heiligmaking” beskryf, en dit dui daarop dat heiligmaking reeds by wedergeboorte begin, maar daarna in ʼn volle oorgawe deur die vervulling met die Gees volvoer moet word: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24). Hierdie gebed is vir Christene wat reeds weergebore is, en een van die doelstellings daarmee is spesifiek om ons wederkomsgereed te maak.

Dit is God wat deur sy Gees die werk van volkome heiligmaking in ons lewe doen, maar ons het die verantwoordelikheid om Hom daarvoor te vertrou en ons volle samewerking te gee deur alle besoedeling van die sondes van vleeslikheid, hoogmoed, materialisme, losbandigheid, ens., af te lę en sodoende die opdrag tot heiligmaking te volbring: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Ons moet daaraan toegewyd wees om die smal pad sonder enige geestelike of morele kompromie te bewandel.

Werk in die oeslande

Alle Christene het werk om te doen wat sal bydra tot die uitbreiding van God se koninkryk op aarde. Jesus het vir sy dissipels gesę: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Die Christelike kerk het die taak om tydens hierdie bedeling die hele węreld te evangeliseer. Dit sou nie ʼn maklike taak wees nie, want die omvang daarvan is enorm en die vyandskap van die ongeredde węreld soms baie fel. Ons moet die uitdaging aanvaar om hierdie groot werk te doen, al is dit ook te midde van veel teëstand en vyandigheid: “Hy sę toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur. Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe” (Luk. 10:2-3). Ons het egter die krag van die Heilige Gees om hierdie groot taak te kan uitvoer en die vyandigheid van ʼn bose węreld die hoof te kan bied (Luk. 24:46-49; Hand. 1:8).

Die Here gaan van sy diensknegte rekenskap eis oor die mate waartoe hulle by die uitvoering van die Groot Opdrag betrokke was (Matt. 25:14-30). Sommiges sal genadeloon ontvang, terwyl andere onaanvaarbare verskonings vir hulle geestelike ontrouheid en onbetrokkenheid by die uitvoering van hulle taak sal aanbied (Luk. 19:11-27). Vleeslike en egoďstiese Christene is gewoonlik baie gemaksugtig en gee nie regtig om oor die sieleheil van ander mense nie.

Bestuur jou tyd reg

Die opdrag oor waaksaamheid beklemtoon ook die belangrike faktor van tyd. Daar is nie tyd om te sluimer en te slaap nie, daarom moet ons in ʼn oorgeorganiseerde lewe daagliks die tyd uitkoop om uitvoering aan ons geestelike verpligtinge te kan gee. Dit sluit ook tyd vir gebed en Bybelstudie in. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesę wat tydens ʼn krisissituasie deur die slaap oorval is: “So was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:40-41).

Elkeen van ons het net een lewe en beperkte geleenthede om ons deel in die evangelisering van die węreld te doen. In die lig hiervan is dit belangrik om ons prioriteite reg te bepaal en ons tyd so te bestuur dat ons ook aan God kan betaal wat Hom toekom. Dit sal terselfdertyd verseker dat ons nie geestelik verarm raak nie, maar ook dinge doen wat ewigheidswaarde het en sodoende vir ons ons skatte in die hemel bymekaarmaak.

Uit die oogpunt van die ewigheid is ons aarde lewe baie kort, daarom moet ons met dubbele ywer werk want die nag kom nader. Selfs die Here Jesus het geweet dat Hy tydens sy aardse bediening baie dinge moes doen voordat die tyd daarvoor met die aanbreek van sy kruisiging, opstanding en hemelvaart verby sou wees. Het het gesę: “Ek moet die werke doen van Hom wat my gestuur het, solank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Die nag van God se oordele sal ook aan die einde van hierdie bedeling oor die węreld kom, dan moet ons werk afgehandel wees.

Waak teen die vyand se aanvalle

Die Here Jesus het nie aan sy dissipels ʼn sorgvrye en probleemvrye lewe op aarde belowe sonder enige stryd teen die opponerende koninkryk van die duisternis nie – inteendeel! Christene van alle tye het met die vyand van hulle siele te kampe, omdat hy daarop ingestel is om hulle te ontmoedig, te mislei, van hulle krag en blymoedigheid te beroof, en selfs hulle geloof te probeer vernietig. Ons het ook in hierdie opsig die beskerming van die Here en die krag van die Heilige Gees nodig om te kan oorwin: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).

Satan se aanvalle en versoekings is veral op twee gebiede toegespits, naamlik die geestelike en morele terreine van ons lewe. Hy probeer voortdurend om Christene geestelik te mislei, daarom waarsku die Here Jesus ons ernstig in sy profetiese rede: “Pas op dat niemand julle mislei nie. ... Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. ... Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4, 11, 24).

Hierdie misleiding sal in die eindtyd węreldwyd uitkring. Paulus sę daar sal ʼn tyd wees wanneer mense die gesonde leer van die Bybel nie sal verdra nie, maar vir hulle ʼn menigte valse leraars sal versamel wat van die waarheid sal afwyk en hulle wend tot fabels (2 Tim. 4:3-4). Die misleide leraars sal belangrike gedeeltes van die Bybel mitologies verklaar – van die skeppingsverhaal af tot by die wederkoms van Christus en die vestiging van sy aardse vrederyk – en hierdie leerstellings deur hulle spekulatiewe vergeestelikingsteologie wegredeneer. Petrus sę die valse leraars sal selfs die Here Jesus verloën, en daardeur hulleself en hulle misleide volgelinge van die enigste ware geestelike fondament beroof (2 Pet. 2:1-2). Hulle sal nie Jesus se bestaan as mens verloën nie, maar ontken dat Hy ʼn hemelse oorsprong het, dat Hy die Seun van God en self ook God is. Hulle sal Hom beskou as ʼn “historiese Jesus” wat slegs ʼn sterflike mens en een van baie profete was – niks meer as die profete van ander gelowe nie. Christene is daartoe verbind om hierdie dwalings teë te staan en “kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Jud. 1:3).

Die ander terrein waarop die duiwel se aanvalle gerig is, is op morele gebied. Hy sal alles moontlik probeer om Christene te laat toegee aan vleeslike begeerlikhede soos selfverryking, hoogmoed, betrokkenheid by korrupte praktyke, buite-egtelike verhoudings, wraaksugtigheid en liefdeloosheid teenoor almal wat hulle teëgaan of probeer reghelp. Ons moet al hierdie versoekings deur die krag van die Heilige Gees weerstaan: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

Oorwin teen die sorge van die lewe

Een van die faktore wat baie Christene se geestelike lewe ondermyn, is depressie wat veroorsaak word deur die toenemende aantal sorge, probleme en teleurstellings van die lewe (Luk. 21:34). Wanneer mense geestelik en emosioneel deur aanhoudende negatiewe ervarings afgetrek word, verswak dit hulle geloof, laat hulle hoop op die wederkoms van Christus verflou, asook die vooruitsig van ʼn lewe saam met Hom in die hemel. Depressie lei nie net na ʼn apatiese houding oor geloofsake nie, maar ook na sosiale onttrekking en die nalaat van alledaagse verpligtinge soos werk en studies. Sulke mense het ʼn sterk ondersteuningsgroep nodig om hulle te motiveer, maar boweal ʼn nuwe oorgawe aan die Here vir die versterking van hulle wankelende geloof. Die belofte oor die spoedige wederkoms van Christus kan ʼn groot rol speel om weer die blydskap van die Here in ʼn persoon se hart te vestig.

Ontwikkel die regte profetiese perspektief

Dit is uiters belangrik om ten alle tye die regte profetiese perspektief te hę, want dit sal verseker dat jy jou prioriteite reg bepaal en as gelowige goed voorbereid is op dit wat in die toekoms gaan gebeur. Om dit te kan doen, moet jy absolute duidelikheid oor die opeenvolging van profetiese gebeure hę, anders kan jy dalk by aktiwiteite betrokke raak wat onnodig is omdat dit profeties uit plek is. So-iets bring altyd ʼn onnodige verkwisting van tyd, geld en energie mee, daarom is dit geestelik nadelig en moet vermy word. Die huldiging van die regte profetiese perspektief vereis veral duidelikheid oor die volgende sake:

·         In die raadsplan van God word die bedeling van die kerk deur die bedeling van die wet voorafgegaan. Hierdie oorgang is reeds gemaak, daarom is ons nie meer onder die wet nie (ook nie onder die sabbatswette nie) maar onder die genade (Rom. 6:15; 10:4; Gal. 5:4).

·         Die kerkbedeling gaan gepaard met die internasionale verstrooiing van Israel, maar teen die einde van hierdie bedeling word Israel weer as volk in hulle land herstel (Luk. 21:24). Die kerk is nie die geestelike Israel nie en moet homself nie in hierdie rol probeer plaas deur vervangingsteologie te beoefen nie.

·         In die bedeling van die kerk leef ons in ʼn węreld wat in die mag van die Bose lę (1 Joh. 5:19), daarom moet daar baie aandag aan geestelike weerbaarheid gegee word. Hierdie feit verklaar ook die verdrukking en vervolging van evangeliese Christene wat dikwels deur die eeue heen voorgekom het.

·         Die kerkbedeling eindig in groot afvalligheid as ʼn aanloop tot die openbaring van die mens van sonde (die Antichris) wat vir sewe jaar lank oor die aarde sal regeer. Selfs evangeliese kerke wat nie waaksaam genoeg is nie, sal deur valse leerstellings beďnvloed word as hulle nie duidelik besef dat die volgende węreldkoninkryk wat gevestig gaan word, dié van die Antichris is nie. Eers wanneer hierdie koninkryk vernietig is, sal Christus se vrederyk gevestig word. Mense moet versigtig wees oor watter koninkryk hulle steun en bevorder.

·         Die verdrukking van sewe jaar sal benewens die Antichris se diktatuur ook gekenmerk word deur ʼn groot reeks oordele van God oor ʼn onbekeerlike węreld. Hierdie feit vereis dat die Here sy kinders voor die tyd sal kom haal deur middel van die wegraping (Luk. 21:36; 1 Thess. 4:16-17), want hulle is nie vir Goddelike oordele bestem nie (Rom. 8:1). Christene moet aktief besig wees om vir hierdie ontmoeting voor te berei.

·         Diegene wat nie aan ʼn wegraping voor die verdrukking glo nie, beroof Christene van die salige hoop op die skielike koms van Christus, vervang hierdie onmiddellike vooruitsig deur ʼn Antichrisverwagting en maak van oorlewingstrategieë tydens die sewe jaar van verdrukking ʼn prioriteitsaak onder hulle volgelinge. Dit is misleidend en geestelik teenproduktief.

·         Die duisendjarige vrederyk van Christus sal eers ná die sewe jaar van verdrukking plaasvind. Voordat dit gebeur sal die Here Jesus sy vyande verdelg (Op. 19:19-21), die oorblyfsel van Israel red (Rom. 11:25-26) en die troon van Dawid in Jerusalem herstel (Hand. 15:16-17). Christene wat nou al (in die kerkbedeling) hierdie koninkryk probeer bespoedig deur middel van tegnieke soos transformasiebyeenkomste, strategiese geestelike oorlogvoering op nasionale vlak, en ekumeniese alliansies tussen verskillende kerke, verstaan die Here se raadsplan heeltemal verkeerd en hou hulleself met wensdenkery besig. Ons is nie geroepe om nou reeds soos konings in ʼn geopenbaarde koninkryk te regeer nie, maar as soldate van die kruis wat ʼn verskerpende stryd teen die koninkryk van die duisternis moet verwag.

Slaan ag op die tekens van die tye

Dit is belangrik dat ons ʼn studie sal maak van tekens wat dui op die naderende koms van Christus as die hemelse Bruidegom. Dit sal ons waaksaamheid verskerp, as ʼn motivering dien vir toenemende heiligheid en ons met dubbele ywer laat werk om siele vir die koninkryk van Christus te wen. Daar is ʼn groot aantal tekens wat op die spoedige einde van die kerkbedeling dui, asook tekens wat vir ons wys dat strukture vir die węreldregering, węreldgodsdiens en węreldekonomie van die Antichris se toekomstige regering toenemend vervul word. Geestelike misleiding met die oog op die węreldwye aanvaarding van ʼn ander, valse Jesus in die plek van die ware Jesus het reeds oral gevestig geraak (vgl. Joh. 5:43; 2 Kor. 11:2-4; Op. 13:3-4). Die gevorderde stadium van die herstel van Israel, die verdiepende stryd om die beheer oor Jerusalem, asook dreigemente oor ʼn baie groot oorlog teen Israel, is alles tekens wat op die spoedige koms van die Messias dui. Die Here Jesus sal ons verkwalik as ons nie op hierdie tekens ag slaan nie, soos wat Hy die profetiese onkunde van Jode in die eerste eeu bestraf het:

“En Hy het ook aan die skare gesę: Wanneer julle ʼn wolk in die weste sien opkom, sę julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sę julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?” (Luk. 12:54-56). Daar is nog veel meer tekens wat op die wederkoms van Jesus betrekking het, en dit kan net tot ons eie nadeel wees as ons dit nie raaksien en daarop ag slaan nie.

Wees gereed vir die regterstoel-oordeel

Profesieë oor die eindtyd konfronteer alle Christene met die afspraak wat hulle voor die regterstoel van Christus het om rekenskap van hulle lewens as dissipels van Jesus te gee: “Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. ... So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10-12).

Paulus herinner die gemeente in Rome ook daaraan dat dit nie vanselfsprekend is dat elke Christen werke sal doen wat ewigheidswaarde het en dus die regterstoel-oordeel sal kan deurstaan nie: “... elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:13-15).

Hieruit blyk dit ook dat heiligmaking onontbeerlik is om werke te doen wat vir die Here aanvaarbaar is, omdat net die vrug van die Heilige Gees aan hierdie standaard voldoen. Vleeslike werke wat mense uit eie inisiatief en deur hulle eie krag doen, sal soos hout, hooi en stoppels in vlamme opgaan, en die betrokke persoon sal voor die Here staan met leë hande – gered asof deur vuur heen. Maak seker dat dit nie met jou sal gebeur nie.

Streef na groter Christusgelykvormigheid

ʼn Aktiewe verwagting van die spoedige koms van die hemelse Bruidegom en ons vereniging met Hom, daag ons uit om gelykvormig te word aan sy beeld van heiligheid en reinheid: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Dit impliseer morele sowel as leerstellige reinheid. Persoonlike heiligheid is belangrik omdat ons geroepe is om in ons hele lewenswandel heilig te word (1 Pet. 1:15). Ons moet egter ook van geestelike besoedeling gereinig word, omdat dit ons geloofslewe aantas (2 Kor. 7:1) en ons verhouding met die Here Jesus negatief beďnvloed. Alle valse leerstellings moet van ons verwyder word, sodat ons onbelemmerd kan toeneem in die genade en kennis van Christus: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:17-18). Hy is vol van genade en waarheid (Joh. 1:14).

Die tyd is byna daar dat die basuin gaan blaas om die kerkbedeling te beëindig en ons in die heerlike teenwoordigheid van die Bruidegom te stel: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18). Ons plek op aarde sal dan skielik leeg wees. Die skok onder diegene wat agtergebly het, sal egter baie groot wees.

Die gevolge van ʼn gebrek aan gereedmaking

Wat gebeur met dié diensknegte wat nie ag slaan op die bevel tot waaksaamheid nie en dus nie hulle Heer se koms enige tyd verwag nie? Hulle raak geestelik nalatig en, soos die dwase maagde, maak hulle nie voorsiening vir die ekstra olie in hulle lampe nie. Hulle neem dus nie die stap van volle oorgawe om met die Heilige Gees vervul te word, ernstig op nie. Die gevolg is dat hulle liefde vir die Bruidegom begin verkoel, en dit lei daartoe dat hulle nie in die middernaguur wanneer Hy ʼn rukkie langer talm, aanhou waak en op Hom wag nie. Hulle sal agtergebly wanneer Hy kom.

Gelowiges sonder ʼn aktiewe wederkomsverwagting raak maklik vleeslik en selfgerig omdat hulle nie meer ʼn intieme verhouding met die hemelse Bruidegom handhaaf nie. Op hierdie manier word die deur vir sonde oopgemaak, en dit kan allermins versoen word met ʼn waaksame en biddende Christen: “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sę: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ʼn dag dat hy dit nie verwag nie en op ʼn uur dat hy dit nie weet nie; en hy sal hom pynig en hom ʼn deelgenoot van die geveinsdes maak” (Matt. 24:48-51).

Die dienskneg wat gereed en waaksaam is, kan ʼn heel ander reaksie van sy Heer verwag: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sę vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:45-47).

Dit hou vir ons groot voordele in om die sonde af te lę, asook alle laste wat ons van ons kosbare tyd, geld en energie beroof wat nodig is om die geestelike wedloop doelgerig voort te sit en as oorwinnaars te voltooi. Paulus sę: “Laat ons ook elke las aflę en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lę, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2).

Die dag wanneer ons die hemelse Bruidegom in al sy skoonheid sien, sal geloof oorgaan in aanskoue. Wat ʼn wonderlike gesig sal dit nie wees nie! Paulus sę Hy kom “om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Dit is met die oog op ons voorbereidings vir hierdie baie besondere ontmoeting dat Johannes sę: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hę wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28).