Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2013)
Daar is groot afwagting vir die tyd wanneer Israel as volk met die Messias versoen sal word, want dit sal die formele afsluiting van die tye van die nasies wees wat van Israel se Babiloniese ballingskap af tot aan die einde van die Antichris se regering strek. In daardie hele tyd het daar geen koning op die troon van Dawid regeer nie. Ná Israel se geestelike ontwaking sal hulle koninkryk onder die persoonlike leiding van die Messias herstel word. Dit sal ’n tydperk in die wêreldgeskiedenis inlui wanneer die kennis van die Here, asook eerbied vir sy Naam en sy Woord, die hele aarde sal vervul soos die waters die seebodem oordek (Jes. 11:9). Enige studie oor Israel se eindtydse herstel moet dus op sowel die volk se fisiese en staatkundige herstel as hulle geestelike ontwaking ingestel wees. Die Messias sal hulle Verlosser én Koning wees.
Israel se huidige hervestiging in die land van hulle vaders is slegs ’n voorbereidende stap vir hulle geestelike herstel wanneer hulle in die ware sin van die woord God se volk sal word. Hulle harte moet besny word, en dit kan net die Messias alleen deur die Heilige Gees doen (Rom. 2:28-29). Dit is presies wat sal gebeur wanneer Jesus terugkom om sy voete op die Olyfberg te sit en ’n herontmoeting met die Joodse volk te hê. Hierdie keer sal dit met absolute positiewe gevolge wees, omdat al die oorlewende Jode met gebroke harte vir redding en begenadiging na Jesus sal opsien en Hom ten volle as hulle Koning en Messias sal aanvaar (Sag. 12:10).
Toe Jesus tydens sy eerste koms deur Israel en hulle godsdienstige leiers verwerp is, het Hy geweet dat dit nie die einde van sy verhouding met Israel as volk sal wees nie, want Hy het vir hulle gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Hierdie tweede ontmoeting kom vinnig nader, en slegs dit kan Israel geskik en waardig maak om die beloofde Messiasryk te beërf en almal diensknegte van die Messias te wees.
Daar was in elke geslag Jode sedert die eerste koms van Jesus ’n klein oorblyfsel in Israel wat met die Messias versoen was en ’n verhouding met Hom gehandhaaf het. Die ballingskap van die volk het egter voortgeduur weens die ongeloof van die meerderheid. Tydens Israel se herstel in 1948 was die volk se geestelike toestand nog onveranderd. Messiaanse gelowiges word deur die meerderheid ortodokse Jode verag omdat hulle nie hulle redding aan die navolging van die Tora verbind nie, maar “agter die God van die heidene aanloop”. Ten spyte van hulle negatiewe ervarings is die getalle van die Messiaanse Jode besig om dramaties toe te neem, en hierin kan ons duidelik die begin van Israel se geestelike ontwaking raaksien. Dit is ’n belangrike eskatologiese ontwikkeling, want hierdie groep is ’n vroeë aanduiding van dit wat die hele volk in die toekoms sal wees.
Messiaanse Jode noem hulleself “vervulde Jode” en ervaar glad nie ’n neiging om dislojaal teenoor hulle eie volk te wees nie. Die teendeel is eerder waar, want hulle het ’n groot liefde vir hulle volk en is diep besorg oor die geestelike blindheid van die meerderheid. ’n Vervulde Jood (a completed Jew) is ’n Jood wat die hoop van Israel, naamlik die Messias, ontmoet en sy lewe aan Hom oorgegee het – hy is dus ’n Messiaanse Jood. In sy getuienis, A completed Jew, sê Jeff Miller: “I accepted Jesus into my life and He completed me” (www.precious-testimonies.com/BornAgain).
In ’n artikel oor Messiaanse Jode sê Wikipedia: “Messiaanse Judaïsme glo dat Jesus nie slegs ’n gewone mens was nie, maar die Joodse Messias en God die Seun (een van die persone in die Drie-eenheid), en dat redding slegs verkry kan word deur Jesus as jou Saligmaker aan te neem. Enige Joodse wette en gebruike wat daarna nog gevolg word, is kultureel van aard en dra nie tot ’n persoon se saligheid by nie.”
Ortodokse Jode beskou ’n “vervulde Jood” uit die Messiaanse beweging egter as ’n “verlore Jood” omdat hy ’n Messias bely wat nie deur hulle erken word nie, en ook omdat hy nie meer sy geloofsekerheid aan wetsonderhouding verbind nie. Die gevolg is dat die moderne Joodse dissipels van die Messias net soveel stryd en teenkanting van die ortodokse Jode af kry as wat die geval met die dissipels in die eerste eeu was.
Wat hulle getalle betref is die Messiaanse beweging nog gering teenoor die groot meerderheid ortodokse en ongelowige (“nie-praktiserende”) Jode, maar hulle maak nogtans goeie vordering en brei vinnig uit. Daar is verskeie groot, internasionale sendingorganisasies, asook koördinerende liggame vir Messiaanse gemeentes, waarvan enkeles hier onder genoem word. Hulle stel hulleself só bekend, en op sommige van hulle webwerwe kan meer inligting oor hulle standpunte en visie verkry word, asook getuienisse van Messiaanse Jode:
Die Caspari-sentrum vir Bybelse en Joodse Studies (www.caspari.com)
“Die Caspari-sentrum is ’n netwerk van mense oor die hele wêreld, Jode én nie-Jode, wat saamwerk om inligting te versprei oor Joodse gelowiges in Jesus, en om ook die uitbreiding van gemeentes in Israel te ondersteun. Dit is ons passie om opkomende leiers te ondersteun wat Israel sal verander deur leiding te neem in die vestiging van groeiende, geestelik volwasse Messiaanse gemeenskappe. ... Ons het na ons nuwe perseel verhuis in HaNevi’im (Profete) St. 55 in Jerusalem. ... Die boek, Jewish Believers in Jesus: The Early Centuries, is die eerste in ’n reeks boeke wat deur die Caspari-sentrum geredigeer is. Dit handel oor die eerste vyf eeue van Christelike geskiedenis, soos ervaar deur Jode wat Jesus Christus as hulle Verlosser bely het.”
Unie van Messiaanse Joodse Gemeentes (www.umjc.net)
Hierdie organisasie huldig die volgende geloofsbelydenis:
1. Ons glo in die Bybel as die geïnspireerde, foutlose en gesaghebbende Woord van God.
2. Ons glo dat daar een, ewige God is wat in drie Persone bestaan – Vader, Seun en Heilige Gees.
3. Ons glo in die Godheid van die Here Jesus (Jeshua), die Messias, in sy maagdelike geboorte, in sy sondelose lewe, in sy wonderwerke, in sy plaasvervangende versoeningsdood deur die storting van sy bloed, in sy liggaamlike opstanding, in sy hemelvaart na die regterhand van sy Vader, en in sy persoonlike wederkoms in krag en heerlikheid.
4. Ons glo dat wedergeboorte deur die Heilige Gees absoluut noodsaaklik is vir verlore en sondige mense.
5. Ons glo in die huidige bediening van die Heilige Gees, deur wie se inwoning die gelowige in staat gestel word om ’n Goddelike lewe te lei.
6. Ons glo in die opstanding van verloste én verlore mense – dié wat verlos is vir die opstanding van die lewe, en dié wat verlore is vir die opstanding van die veroordeling.
7. Ons glo in die geestelike eenheid van alle gelowiges in die Here Jesus, die Messias.
8. Ons glo in die proses van dissipline en die oplossing van geskille wat in Matthéüs 18:15 en verder geleer word, en dat dit van toepassing is op alle lidmate en leierspersone.
9. As Joodse volgelinge van Jeshua is ons geroepe om ons Joodse Bybelse erfenis in stand te hou, om deel te bly van ons volk in Israel en terselfdertyd ook deel te bly van die wêreldwye liggaam van gelowiges. Dit is deel van ons identiteit, asook ’n getuienis van die getrouheid van God.
Britse Messiaanse Joodse Alliansie (www.bmja.net)
“Dit is met groot besorgdheid dat ons kennis neem van die wêreldwye toename in anti-Semitisme, wat in hierdie tyd ook die gedaante van anti-Sionisme aanneem. Ons is bekommerd omdat anti-Joodse sentiment so dikwels in die Britse samelewing voorkom. Ons doen ’n beroep op die kerk om dit teë te staan. As Jode wat deel van die kerk is, is ons ontsteld om te hoor dat anti-Joodse uitsprake selfs in die kerk en in die naam van die Christendom gemaak word. Ons doen ’n beroep op ons medegelowiges in alle lande om te erken dat Jesus ’n Jood was, en om alle vorms van rassisme teen Jode binne én buite die staat van Israel af te wys. Ons versoek die kerk om openlik te erken dat God ’n voortgaande verhouding met die Joodse volk het, en sal aanhou om met hulle bemoeienis te maak omdat Hy hulle nie verwerp het nie. Dit is ondenkbaar en beledigend om te beweer dat die Verbondsgod sy eerste keuse sou laat vaar ter wille van ’n ander. Wanneer ons hoor dat mense in kerke beweer dat God se beloftes aan die Jode van nul en gener waarde is, dan is ons bekommerd – nie net oor dit wat daar van ons gesê word nie, maar ook oor dit wat van God gesê word, asof Hy veranderlik is. Ons bestaan as ’n volk in die 21ste eeu spreek vanself. Ons is deel van die groot, diverse en lewenskragtige Messiaanse Joodse beweging wat bely dat Jeshua [die naam van Jesus in sy Hebreeuse vorm] Messias, Verlosser en Here is.”
The Messianic Times (www.messianictimes.com)
The Messianic Times is ’n leidende internasionale Messiaanse Joodse koerant wat al sedert 1990 bestaan. Dit word tweemaandeliks uitgegee en berig oor die wêreldwye Messiaanse beweging, huidige gebeure in Israel en ook oor ander sake van belang. Die sentrale uitgangspunt van die koerant is dat Jeshua die Messias van Israel is.
Jews for Jesus (www.jewsforjesus.org)
Op hierdie organisasie se webtuiste maak hulle die volgende stellings oor hulle roeping om die evangelie onder Jode te verkondig, asook die probleme wat daarmee gepaard gaan:
“Jode verwerp die metodes en publikasies wat algemeen vir evangelisasie gebruik word, omdat dit in ’n soort Christelike taal en onder omstandighede aangebied word waarby hulle uitgesluit voel. Ons moet hierdie aanname vermy, daarom moes ons vernuwe om die Jode meer sinvol te kan bereik. Ons plaas volblad beskrywings van die evangelie as betaalde advertensies in leidende koerante en tydskrifte soos Newsweek, Parade en The New York Times. Ons probeer om die Messiasskap van Jesus in die sekulêre media ’n onvermybare saak vir Jode te maak. Ons hou ook in groot stede in die VSA, Brittanje, Frankryk en Rusland byeenkomste waar Messiaanse Jode hulle getuienisse gee.
“Dit is moeilik om selfs in ’n sendingorganisasie skerp gefokus te bly op die opdrag om Christus met die ongereddes te deel. Joodse evangelisasie is moeilik. Die Jode het ’n lang tradisie van ongeloof, en sien dikwels neer op diegene wat probeer om die evangelie met hulle te deel. Die gevoel van weerloosheid en die pyn van verwerping wat noodwendig met doeltreffende evangelisasie gepaard gaan, kan sy tol eis indien dit nie reg hanteer word nie. Indien ons nie hierdie weerloosheid en emosionele pyn in die regte perspektief sien nie, kan ons natuurlike neiging om dit te vermy, stadig maar seker ons geesdrif vir regstreekse evangelisasie ondermyn.
“’n Tweede probleem in die handhawing van jou fokus op evangelisasie is die feit dat daar so baie dinge is wat jou aandag aftrek. Ongeag of dit betrokkenheid by die lei van toere na die Heilige Land is, die reël van profetiese konferensies, of pogings om steun vir die staat van Israel te verkry, kan nie een van hierdie waardige pogings die taak van Joodse evangelisasie vervang nie. Geen Joodse sendingorganisasie kan bekostig om sulke take te onderneem ten koste van sy primêre doel om regstreeks met die ongereddes te praat nie. Dit is waarom jy ons by Jews for Jesus op die strate en op universiteitskampusse sal aantref, besig om traktaatjies uit te deel. Ons maak ook telefoonoproepe en reël persoonlike ontmoetings met Jode. Dit is alles deel van Jews for Jesus se verbintenis om sigbaar en beskikbaar te wees, asook bereidwillig om kritiek te verduur, terwyl ons regstreekse Joodse evangelisasie as ’n prioriteitstaak uitvoer.”
Trumpet of Salvation to Israel (www.trumpetofsalvation.com)
“Die wedergeboorte van Jacob Damkani het gepaard gegaan met ’n roeping om Jeshua aan die verlore skape van die huis van Israel te verkondig, ongeag wat die koste daarvan sou wees. Deur die verspreiding van traktaatjies wat hy self geskryf het, het hy evangelisasie in die strate van Israel gedoen, ongeag die weerstand van sy eie familielede, asook die vyandigheid van ortodokse Jode. Trumpet of Salvation to Israel is in 1984 gevestig. Sedertdien het Jacob sy lewe voltyds aan sy roeping gewy. Die outobiografie van Jacob Damkani, Lama Davka Ani? (Why Me?), het baie Israeli’s gehelp om tot geloof in Jeshua te kom, en ook aan baie Christene beter insig in die oorsprong van hulle geloof gegee. Hierdie boek is beskikbaar in Hebreeus, Russies, Nederlands, Engels, Fins, Frans, Duits, Hongaars, Italiaans, Koreaans, Portugees, Spaans en Sweeds.”
Die eindtydse Messiaanse beweging in die wêreld is ten nouste by die herstel van die Joodse staat betrokke, en het ’n sterk profetiese verwagting op die wederkoms van die Messias. Sommige van hulle verhuis na Israel, terwyl ander hulle kinders stuur om op kibboetse te werk, in die Israeli-weermag te dien of enige sekulêre werk in Israel te doen. Hulle is bewus van die Here se plan met die herstel van sy volk in hulle land, naamlik Israel se geestelike lewendmaking deur die nasionale aanvaarding van die Messias, Jeshua.
Die eerste fase van Israel se herstel is fisies en staatkundig, terwyl hulle geestelike ontwaking eers daarna sal volg. Die eerste fase is nietemin baie belangrik, want die Here bring hulle terug na ’n land wat deur Homself “Israel” genoem word en nie “Palestina” nie: “So spreek die Here Here: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17).
Hier sal die Here ongelowige Israel in benoudheid bring totdat hulle hul verwerpte Messias sal soek, vind en voor Hom neerbuig (Eseg. 22:18-20; Jer. 30:7; Hos. 5:15). Die Messiaanse Jode doen alles moontlik om hulle volksgenote nou by Jeshua uit te kry, sodat hulle die ewige oordeel kan ontvlug en ook nie die tyd van benoudheid vir Jakob hoef te beleef nie (Jer. 30:7).
Hulle hou ook vas aan die belofte dat Israel nie in die komende uur van benoudheid sal ondergaan nie, maar dat die Here sal ingryp om ’n oorblyfsel van sy volk te red en op ’n dinamiese wyse as sy getuies te gebruik. Hy sal ook twee spesiale getuies opwek om tydens die valse messias se regering ’n sterk Messiaanse getuienis te laat uitgaan (Op. 11:3-12). Ná die beëindiging van die kerkbedeling sal daar dus nuwe getuies opgewek word om Israel as volk verder op hulle geestelike ontwaking voor te berei.
Tydens die wegvoering van ware Christene, insluitend die Messiaanse gelowiges, sal daar veral vir Israel ’n duidelike aanduiding wees dat die hemelse Bruidegom gekom het. Jode weet baie goed dat die bruidegom in tradisionele Joodse huweliksgebruike sy bruid onverwags in die nag kom haal en dan saam met hom weggeneem het na sy vaderhuis toe. ’n Gebeurtenis wat hiermee ooreenstem, behoort dus sigbaar aan hulle die boodskap oor te dra dat Jesus die Messias is en dat Hy sy bruid kom haal het.
Die Here Jesus het in Matthéüs 25:1-13 aan eindtydse Israel juis so ’n situasie beskryf, naamlik dat die hemelse Bruidegom sy getroue dissipels in ’n donker tyd sal kom haal. Tydens Jesus se eerste koms was daar groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte aan hulle gemaak: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).
Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ᾿n huweliksverbond behels het. In die tyd van Jesus was dit gebruiklik dat só ᾿n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy vir haar moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is die huweliksverbond tussen hulle gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As ᾿n simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en die bruid gedrink uit ᾿n beker ongegiste wyn waaroor die verlowingseën uitgespreek is.
In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus 2 000 jaar gelede sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: “Julle is duur gekoop” (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19).
In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.
Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir omtrent ’n jaar lank gebly. Hierdie jaar het aan die bruid die geleentheid gebied om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.
Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Hy, sy strooijonkers en ander manlike reisgenote het ᾿n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ᾿n geheime ontmoeting met haar was, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede vertoon nie. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ᾿n geroep voorafgegaan. Deur hierdie geroep is die bruid gewaarsku om vir die koms van die bruidegom gereed te wees (Matt. 25:6).
Op ᾿n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ᾿n geroep aangekondig word (1 Thess. 4:16-18).
Wanneer die huisgenote van die bruid die volgende oggend gemerk het dat sy en haar vriendinne verdwyn het, het hulle geweet dat die bruidegom daardie nag gekom het. Hulle het dan ook as ᾿n afsonderlike groep na die huis van die bruidegom vertrek om die huweliksfees by te woon.
Wanneer die Messiaanse Jode saam met al die ander lede van Jesus se bruidsgemeente skielik tydens die wegraping verdwyn, sal baie van die Jode besef dat die hemelse Bruidegom hulle kom haal het. Dit sal vir hulle ᾿n sterk bewys wees dat Jesus die Messias van Israel en Verlosser van die wêreld is, en op grond daarvan sal daar ᾿n groot herlewing in Israel wees waarin 144 000 Jode kort ná die wegraping gered sal word (Op. 7:1-8). Die meerderheid van die volk sal egter geestelik verblind wees en met die valse messias ᾿n verbond sluit om sodoende deel van sy valse bruid van misleide aanbidders te word (Op. 17:3).
Dieselfde ontdekking van die skielike verdwyning van evangeliese Christene sal ook met ᾿n groot skok oral in die wêreld gemaak word, waar dit baie opsigtelik sal wees dat sommige mense spoorloos uit hul huise en van hulle werksplekke af verdwyn het (Matt. 24:40-42; Luk. 17:34-36). Hiervoor sal daar net een Bybelse verklaring wees, en dit is dat die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal het!
Wanneer die Joodse bruidegom en sy geselskap by sy vaderhuis aangekom het, was sy bruid steeds gesluierd en het hy haar na die bruidsvertrek (huppah) geneem waar hulle vir sewe dae lank alleen saam was en die huwelik finaal volvoer is. Intussen het die gaste aangekom om die voltrekking van die huwelik te vier. Ná die sewe dae het die bruidegom sy bruid ongesluierd aan die gaste voorgestel sodat almal van hulle haar kon sien. Dit het tot groot blydskap en uitbundige feesviering gelei.
Op ᾿n soortgelyke wyse sal die bruid van die Messias weggeneem en verborge gehou word op ᾿n plek waar die res van die wêreld haar nie sal kan sien nie. Die sewe dae van die huppa dui profeties op ᾿n jaarweek, wat die sewe jaar is wat sal verloop tussen die wegraping en die sigbare openbaring van Jesus Christus en sy bruid aan die hele wêreld. Ná die vereniging tussen Christus en sy bruid sal daar inderdaad sewe jaar verloop voordat die bruilofsmaal van die Lam (die onthaal ná die troue) hier op aarde gevier sal word.
Jesus en sy bruid sal by sy wederkoms aan die hele wêreld geopenbaar word: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Hierna sal die bruilofsfees plaasvind, waar die oorblyfsel van Israel wat eers tydens die Messias se wederkoms gered sal word, onder die gaste sal tel: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Sy sal in ᾿n vlekkelose kleed voor die Messias verskyn.
’n Baie belangrike gebeurtenis wat aan die begin van die verdrukking net ná die openbaring van die Antichris sal plaasvind, is die redding van 144 000 Jode en hulle afsondering vir die diens van die Here. Die 144 000 sal ’n aanduiding van die begin van die volk se nasionale geestelike ontwaking wees, omdat hulle verteenwoordigend van die hele volk sal wees: “En ek het die getal van die verseëldes gehoor: 144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel” (Op. 7:4).
Daar is geen onduidelikheid omtrent hierdie stelling nie, en dit is eksegeties totaal onregverdigbaar om die 144 000 Joodse evangeliste op die kerk of enige ander groep mense buite Israel van toepassing te maak. In hierdie gedeelte word daar glad nie van simboliese taal gebruik gemaak nie. Die 12 stamme van Israel is ’n bekende historiese feit wat nie ’n simboliese of allegoriese voorstelling van die kerk of enige ander groep mense is nie.
So ook is die getal 144 000 nie simbolies nie, maar letterlik. Die komponente van die getal is nie 3 X 4 X 12 X 1 000 soos soms beweer word nie, maar 12 000 X 12: dit is 12 000 uit elk van die 12 stamme van die kinders van Israel! Volgens Eségiël 48 gaan die land Israel (die Beloofde Land, wat veel wyer grense as die huidige Israel sal hê) in die vrederyk onderverdeel en aan die twaalf stamme van Israel toegeken word.
Dit is uit ’n dispensasionele oogpunt ook baie duidelik waarom die 144 000 Jode gered en in die diens van die Here gestel gaan word. Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal het, sal die dispensasie van die kerk beëindig wees. Hy sal dan die geestelike potensiaal van die herstelde Israel benut om sy lig in die donker nag van die verdrukking te laat skyn. Toe Elía weggeraap is, het sy mantel en profetiese bediening op Elisa geval. Ook in die komende uur van die duisternis sal die Here Homself nie onbetuig op die aarde laat nadat sy bruid weggeneem is nie, maar Joodse getuies opwek om hierdie taak voort te sit.
Openbaring 7 sluit aan by ’n lang reeks profesieë in die Bybel waarin die waarborg gegee word dat die Here sy volk Israel in die laaste dae na hulle land sal terugbring, sodat hulle ook geestelik kan herleef: “Daarom, sê vir die huis van Israel: ... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word. ... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ’n volk en Ek sal vir julle ’n God wees” (Eseg. 36:22-28; vgl. Jer. 31:31-33).
Die oomblik wanneer die Messias sy verskyning op die planeet aarde maak, sal die Olyfberg in twee gesplits word en ᾿n groot dal vorm waarin die vlugtelinge skuiling teen die vyand sal soek (Sag. 14:4-7). Die duisternis van God se oordele sal oordag toesak soos wat dit meer as 2 000 jaar gelede gebeur het toe sy oordeel vir die sonde van die wêreld deur Jesus aan die kruis buite Jerusalem gedra is (Matt. 27:45).
Op die hoogtepunt van sy oordele oor sondaars sal die genade van die Here nog steeds aangebied word aan dié wat hulle toevlug tot Hom neem. Die oorlewende Jode wat deur die magte van die valse Messias omsingel is, sal sien hoedat die Olyfberg in twee verdeel wanneer die Messias kom. Hulle sal in die geopende rotsskeure in die berg vlug terwyl die duisternis toesak. Daar, letterlik aan die voete van Jesus, die Messias, sal hulle veilig wees.
In hierdie beslissende oomblikke sal daar groot verwarring onder die vyande van Israel heers terwyl hulle deur Goddelike oordele getref en verdelg word. Hulle sal mekaar ook begin doodmaak (Sag. 14:13). Die valse Messias en die valse profeet, as die twee leiers van die wêreldwye rebellie teen God en sy volk, sal gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20).
Wanneer dit weer begin lig word, sal die oorblyfsel van Israel vol verwondering en aanbidding voor die Messias neerval. Wanneer hulle na Hom opkyk, sal hulle verbasing baie groot wees om wonde in sy hande te sien. Hulle eerste vraag aan Hom sal wees: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy aan hulle sê: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).
Hoe verklaar Israel die feit dat die Messias, volgens die profeet Sagaría, wonde in sy hande sal hê wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal? Waar het Hy die wonde opgedoen? Dit kan tog nie in die hemel wees nie! Onder die leiding van die Heilige Gees sal hulle besef dat dit die gekruisigde Here Jesus is wat tot hulle redding gekom het. In ’n Messiaanse profesie sê Hy:
“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind” (Sag. 12:10). Hulle nasionale rouklag sal waarskynlik 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik in Israel was (Num. 20:29; Deut. 34:8).
Op hierdie oomblik sal die geestelike herstel van die hele Israel afgehandel en onomkeerbaar wees (Jer. 31:34). Paulus sê: “... en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26).
Ná hulle volkome versoening met die Here Jesus, sal Israel gered en gereed wees vir hulle toekomstige rol in die Messiasryk, waarin die volgende omstandighede sal heers:
· “En hulle sal My tot ’n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelye hê soos ’n man medelye het met sy seun wat hom dien” (Mal. 3:17).
· “In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ’n sierlike kroon en ’n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5).
· “So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23).
· “Dan sal julle weet dat Ek die Here julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem ’n heiligdom wees” (Joël 3:17).
· “In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: ’n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!” (Jes. 26:1-2).
· “En julle sal in dié dag sê: Dank die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!” (Jes. 12:4).
· “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).
Om begryplike redes is dit ’n situasie hierdie wat die groot vyand van God én van Israel en die kerk van Christus, ten alle koste sal wil vermy. Hy gaan ’n laaste eindpoging aanwend om alle volgelinge van God op aarde te verdelg of te mislei om die verkeerde messias aan te hang.