Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2015)
Die wegraping van gelowiges sal ʼn belangrike dispensasionele keerpunt in die geskiedenis van die moderne węreld wees, omdat dit die formele einde van die kerkbedeling sal meebring. Die vervulling van hierdie profesie sal plaasvind tydens die skielike koms van Christus vir sy gemeente op ʼn uur wanneer niemand dit verwag nie (Matt. 24:44; 25:13; Mark. 13:33-37). Vir die ongeredde węreld sal die skokeffek van die verdwyning van miljoene Christene van die planeet aarde af baie groot wees. Dié gebeurtenis sal ook intellektueel ontstellend wees omdat dit nie rasioneel verklaar sal kan word in terme van die wetenskaplike węreldbeskouing met sy negering van bonatuurlike, geestelike werklikhede nie. Vir meer besonderhede oor hierdie denkwyse en sy selfopgelegde konflik met ʼn Bybelse geloof, sien: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Wereldbeskouing.htm.
Die ware kerk van Christus wat net uit geestelik weergebore mense bestaan (ongeredde naamchristene is nie deel daarvan nie) sal in ʼn oogwink verheerlik en weggevoer word. Hierdie groep sluit die ontslape gelowiges in wat uit die dood opgewek sal word, sowel as die lewende gelowiges wat in die tydsbestek van ʼn oomblik van sterflikheid na onsterflikheid verander sal word. Saam sal hulle die Here tegemoet gaan in die lug (1 Kor. 15:51-53; 1 Thess. 4:13-18). Hierna sal hulle na hulle hemelse tuiste weggevoer word (Joh. 14:2-3). Vir meer besonderhede oor hierdie belangrike Bybelse profesie, sien: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Weggevoer.htm.
Die groot groep wat sal agterbly, sal weens hulle eie nalatigheid nie geestelik waardig wees om die komende diktatuur van die Antichris te ontvlug nie (vgl. Luk. 21:36; ou vertaling). Hulle sal hierdie hoogs dramatiese gebeurtenis op verskillende maniere probeer verklaar, afhangende van wat hulle verwysingsraamwerk is en hoeveel kennis hulle van Bybelse profesieë het. In die meeste van hierdie verklarings sal daar oor een saak saamgestem moet word, en dit is dat daar wel so iets soos ʼn bonatuurlike, geesteswęreld is – selfs agnostici sal dit moet erken. Oor die aard van die bonatuurlike sfeer sal daar egter groot meningsverskille wees.
ʼn Uiterste geestelike polarisasie sal ooglopend ná die wegraping plaasvind, soos wat ʼn kleiner groep mense hulle tot die Bybel en die ware Christus sal wend, terwyl verreweg die grootste groep mense volgelinge sal word van die valse, universele, multigodsdienstige christus – die Antichris. In die Bybel word daar baie oor hierdie uiteenlopende geestelike groepe gesę, en veral ook oor die feit dat die verhouding tussen hulle gaandeweg sal versleg en uitloop op die wydverspreide en ongekende vervolging van evangeliese Christene.
Die vleeslike naamchristene wat nie vir die koms van die hemelse Bruidegom gereed sal wees nie, word uitgebeeld in die gelykenis van die vyf wyse en vyf dwase maagde in Mattheüs 25:1-13. In die geestelike toepassing van hierdie beeld is dit duidelik dat die vyf dwase maagde se toewyding aan die Bruidegom marginaal is omdat hulle nie seker gemaak het dat hulle genoeg olie het nie. In die Bybel is olie ʼn bekende simbool van die Heilige Gees (vgl. 1 Sam. 16:13; 1 Joh. 2:20). Die groep wat dwaas optree kan ten spyte van hulle Christelike belydenis nie getuig van die wederbarende krag van die Heilige Gees nie (Joh. 3:3), en kan dus ook nie gehoorsaam wees aan die opdrag om met die Gees vervul te wees nie (Ef. 5:18). As blote meelopers wat dink dat hulle saak reg is, sal die lampe van hulle getuienis uitgaan wanneer die Bruidegom talm om te kom en hulle eie verwagtings nie vervul word nie. Menslik gemotiveerde godsdienstigheid kan nie die toets van egtheid deurstaan nie (vgl. Matt. 7:21-23; Op. 3:1).
Hierdie groep se gebrek aan geestelike diepte en ware toewyding word in die gelykenis van die saaier verklaar: “En by wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ʼn tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik” (Matt. 13:20-21). ʼn Emosionele reaksie op die evangelieboodskap (blydskap) is nie genoeg nie, omdat dit alleen nie noodwendig beteken dat die persoon ook geestelik daarop gereageer het deur ʼn pertinente geloofsaanvaarding van Christus as Verlosser nie. Ons moet berouvolle harte hę, “Want die droefheid volgens die wil van God werk ʼn onberoulike bekering tot redding” (2 Kor. 7:10). Ons harte én lewens moet verander.
ʼn Relatief groot groep van hierdie skyngelowiges wat net ʼn uiterlike gedaante van Christenskap gehad het (kerklidmaatskap sonder redding – 2 Tim. 3:5), sowel as ongelowiges buite die kerk, sal ná die wegraping hulle sonde en verlore toestand eerlik bely en Jesus Christus as Verlosser aanneem. Hieronder sal ook ʼn groep van 144 000 Jode wees, wat verteenwoordigend van al 12 die stamme van Israel sal wees (Op. 7:1-8). Hulle sal Jesus Christus (Jeshua ha Mashiach) as die Verlosser en Heilige van Israel aanneem. Dit sal hulle in opposisie stel teenoor die ortodokse Jode wat nie vir Jesus as Messias erken nie. Verder sal volgelinge van Jesus ook standpunt moet inneem teen die ekumeniese siening van daardie tyd, waar alle gelowe hande sal vat om te verenig rondom ʼn gemeenskaplike węreldmessias wat al die dwalendes sal verwelkom.
Die groeiende groep Christene uit Israel en die nie-Joodse nasies sal uit pas wees met die ontluikende, antichristelike, nuwe węreldorde wat sal vereis dat alle gelowe hulle verskille heeltemal sal laat vaar en saamwerk onder die leiding van die gemeenskaplike węreldmessias. Ware gelowiges sal erg gekritiseer en teëgestaan word, en later in die verdrukking aktief vervolg en ook tereggestel word. Omdat hulle sal weet wat alles op die spel is, sal die meeste van hulle by hulle oortuigings bly, ongeag die geweldige druk wat op hulle toegepas sal word. Hulle sal bewus wees van die oordele wat oor die Antichris en sy volgelinge uitgespreek is en sal dus nie meedoen in sy rebellie teen God nie.
Kort ná die wegraping sal daar dramatiese verwikkelinge op politieke en godsdienstige terreine plaasvind. Die teëhouer teen die openbaring van die Antichris sal dan weg wees, nl. die ware kerk van Christus as die tempel van die Heilige Gees (2 Thess. 2:6-7). Hierdie gebeurtenis sal dit vir die Antichris moontlik maak om hom sonder teëstand as ʼn diplomaat, vredevors en verlosser met bonatuurlike magte te kan openbaar.
Die Antichris sal geopenbaar word gedurende ʼn tyd waarin daar baie groot internasionale krisisse is wat slegs deur sterk węreldleierskap en verenigde optrede opgelos sal kan word. Die volgende profetiese scenario’s word aan die tyd van sy openbaring verbind:
· ʼn Gepoogde Islamities gedrewe, Russies gesteunde uitwissingsoorlog teen Israel (Eseg. 38 en 39; Ps. 83). Hierdie groot militęre mobilisasie sal die potensiaal hę om in ʼn węreldoorlog te ontaard, en kan ook vererger word deur die ontplooiing van kernmissiele. Watter menslike leier sal só ʼn plofbare situasie kan ontlont? Hy sal ʼn messiaanse “verlosser” moet wees met die ondenkbare vermoë om eerbied en lojaliteit by alle gelowe af te dwing. Sonder hierdie vermoë sal dit haas onmoontlik wees om vrede en versoening te bring tussen hierdie hoogs vyandige groepe wat vasberade is om Israel te vernietig. Indien so ʼn leier wel op die toneel verskyn, sal hy openlik as ʼn verlosser aangehang én aanbid word, veral as hy ook nog op bonatuurlike magte aanspraak maak en dit ook kan demonstreer.
· ʼn Omvangryke militęre mobilisasie in die Midde-Ooste sal waarskynlik al die olieproduserende state in die Persiese Golf-gebied betrek, en as gevolg daarvan feitlik onmiddellik al die olieuitvoere uit dié gebied blokkeer. Dit sal groot ontwrigting en skokgolwe in die hele węreldekonomie veroorsaak, die olieprys die hoogte laat inskiet en aandelepryse oral op effektebeurse laat tuimel. ʼn Ekonomiese ineenstorting van dié aard sal alle mense op aarde se belange en lewenskwaliteit nadelig raak. Dit is vanselfsprekend dat ʼn leier wat só ʼn dreigende oorlog in ʼn gevorderde stadium van die militęre ontplooiing kan voorkom, ook as ʼn ekonomiese verlosser aangehang sal word.
· Benewens die scenario van ʼn uitgebreide oorlog in die Midde-Ooste is daar reeds internasionale probleme wat van só ʼn kritieke aard is dat ʼn nuwe węreldorde en ʼn węreldregering met uitvoerende magte as die enigste oplossing vir die hantering daarvan beskou word. Hierdie probleme sluit in die verslegtende węreldekonomie met onafwendbare bankrotskappe in verskeie lande, politieke spanning en dreigende oorloë, oorbevolking en hongersnood, groot natuurrampe en die ernstige besoedeling en oorbenutting van natuurlike hulpbronne, stygende spanning en konflik tussen sekere godsdiensgroepe, internasionale terrorisme, armoede, werkloosheid en onbeheerde migrasie van arm lande af na ryk lande toe, ensovoorts. ʼn Węreldregering kan net goed funksioneer onder ʼn sterk, dinamiese en algemeen aanvaarde węreldleier. Wanneer só ʼn persoon sy waarde as diplomaat, vredevors en ʼn brugbouer tussen verskillende godsdienste bewys het, sal hy sonder teëspraak aanvaar word. Die meeste mense, met die uitsondering van bloeddorstige terroriste, soek na veiligheid, vrede, harmonie, samewerking en ekonomiese voorspoed. Die Antichris sal dit aan hulle belowe.
Wanneer hierdie dinamiese persoon op die węreldtoneel verskyn, sal hy valslik voorgee om ʼn vredevors te wees en met ope arms deur die meeste mense verwelkom word: “En die hele węreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid” (Op. 13:3, 4). Hy sal bewonder word omdat hy ʼn dreigende derde węreldoorlog afgeweer het, die ineenstorting van die węreldekonomie voorkom het, vrede tussen strydende godsdiensgroepe en nasies gebring het, en die ideologiese sowel as religieuse raamwerk verskaf het vir ʼn verenigde węreld en sy gedenasionaliseerde węreldburgers. Hy sal gou tot ʼn posisie van węreldleierskap uitstyg: “... en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7).
Die Antichris se opgang na onbetwiste leierskap sal aangehelp word deur bonatuurlike magte wat hy sal gebruik om gesag en respek af te dwing, maar dit sal demoniese magte wees. Sy “koms [sal wees] volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess. 2:9). Regerings sal egter só beďndruk wees met sy prestasies op verskillende terreine dat hulle hom as węreldleier en węreldmessias sal aanvaar. Hulle sal ʼn formele verbond van sewe jaar met hom sluit: “En hy sal een week [van sewe jaar] lank met baie ʼn sterk verbond sluit” (Dan. 9:27). Dit sal ook die volk Israel insluit, wat hom as hulle beloofde Messias sal aanvaar in die plek van die ware Messias, Jesus Christus (Joh. 5:43). Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel in Jerusalem te herbou sodat dit langs (en op gelyke vlak met) die Moslem moskees op die Tempelberg kan funksioneer.
Die Antichris sal ʼn belangrike medewerker in die valse profeet hę. Hy sal ʼn multigodsdienstige geestelike leier wees wat ook oor groot bonatuurlike magte van ʼn okkultiese oorsprong sal beskik: “En hy oefen al die mag van die eerste dier [die Antichris] uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid. ... Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:12-13). Hy sal die aanhangers van alle gelowe mislei om die Antichris as Christus, Węreldleraar en Universele Messias te aanvaar en te aanbid.
Die Antichris se regeringstermyn van sewe jaar word in die Bybel die “verdrukking” genoem (Matt. 24:29), en word duidelik in twee helftes van 3˝ jaar elk verdeel. Die eerste helfte word veral gekenmerk deur die vestiging van ʼn valse vrede en węreldeenheid onder die Antichris se leiding (Dan. 9:27). Die tweede 3˝ jaar (of 42 maande) word beskryf as ʼn “groot verdrukking ... soos daar van die begin van die węreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21; vgl. Op. 13:5). Dan sal die Antichris ʼn militęre diktatuur instel en al sy teëstanders summier laat teregstel (Dan. 11:44; Op. 13:15).
Tydens die eerste helfte van sy bewind sal hy egter só innemend, tegemoetkomend en positief teenoor alle mense optree dat baie min van hulle enige kwaad of boosheid in hom sal sien. Dit sal baie moeilik wees om die Antichris as ʼn gesant van Satan te ontmasker, omdat hy vrede en eenheid, asook ʼn mistiese węreldbroederskap van alle gelowe, sal bevorder. Die enigste persone wat in hierdie stadium sal weier om met hom en sy miljoene lojale volgelinge saam te werk, sal Christene wees wat pas tot bekering gekom het en Jesus Christus as die enigste en ware Verlosser van die węreld sal verkondig.
In die lig van Bybelse profesieë sal Christene die węreldmessias van alle gelowe as ʼn valse leier en Antichris bestempel. Hieronder sal ook die 144 000 Messiaanse Jode wees (Op. 7:1-8), asook twee spesiale getuies wat die Here in Jerusalem sal opwek om gelowiges in Israel in hierdie tyd van groot misleiding deur die valse messias by te staan en op die regte pad te help (Op. 11:3-12). Die twee getuies se bediening sal oor 1 260 dae strek (Op. 11:3), wat dieselfde is as 42 maande of 3˝ profetiese jare van 360 dae elk. Dit is ʼn verdere bewys dat hierdie tydperke letterlik verklaar moet word en nie as simboliese uitdrukkings gesien moet word nie.
Daar sal nie grootskaalse fisiese verdrukking in die eerste 42 maande wees nie, maar misleiding, dwang, intimidasie en verontregting sal wel gebruik word teen mense wat nie die ideologiese beginsels en godsdienstige reëlings van die nuwe węreldorde onderskryf en toepas nie. Godsdiensgelykheid, gemik op ʼn latere stadium van godsdienseenheid, sal ʼn basiese bousteen van globalisme wees. Vir hierdie doel sal ekumeniese strukture uitgebrei en met aansienlike magte beklee word. Lidmaatskap sal verpligtend wees, en kerke sal nie kan aanhou funksioneer indien hulle hierdie strukture verwerp deur weiering om daarby in te skakel nie. Amptelike erkenning van die węreldmessias as die gemeenskaplike hoof van alle gelowe sal spoedig węreldwyd verpligtend gemaak word.
Hierdie verwikkelinge sal ʼn huwelik tussen godsdiens en politiek in die hand werk, in dié sin dat die politieke hoof van die węreld ook die universele godsdienstige hoof sal wees. Uiteraard sal net valse gelowe met hom kan assosieer en saamwerk, en hy sal aansienlike status en magte aan hulle verleen. Hierdie ontugtige vrou (ʼn ekumeniese moederorganisasie van al die nie-Christelike gelowe) sal op sy rug ry (Op. 17:1-6), en sy sal mag hę om alle Christen gelowiges wat nie die węreldmessias aanvaar en aanbid nie, te vervolg en selfs tereg te stel.
Almal wat Jesus Christus as Messias aangeneem het, sal nie by hierdie ekumeniese struktuur kan inskakel nie, en sal alle druk moet verwerp wat die ontugtige vrou en haar geestelike man (die Antichris) op hulle mag uitoefen om te voldoen aan die eise van multigodsdienstige ekumene. Dit beteken dat evangeliese kerke nie sal kan voortbestaan nie. Die meeste van hulle lede sal in elk geval met die wegraping weg wees, maar diegene wat daarná gered word, sal informeel en in die geheim moet vergader, so onopsigtelik as moontlik. Kerke wat wel by die ekumeniese strukture inskakel sal daardeur hulle status as kerke van die Here Jesus verloor omdat hulle dan die kerk (en by implikasie die bruid) van die Antichris sal word. Dit is dus net die valse kerke wat in daardie stadium openlik sal mag voortbestaan, en dit beteken dat die bedeling van die kerk van Christus verby sal wees. Mense sal nog gered kan word, maar hulle sal nie hulle geloof openlik en binne amptelike kerkstrukture kan uitleef nie.
Andersins sal evangeliese Christene ʼn redelike mate van vryheid hę in die eerste helfte van die verdrukking. Hulle word aangeraai om nie hulle werk te bedank en weg te vlug uit die dorpe en stede nie, want dit sal die lewe vir hulle net nóg moeiliker maak. Solank daar nie druk op hulle toegepas word om ʼn eed van getrouheid aan die nuwe węreldmessias te onderteken nie, moet hulle hul werk behou ten einde langer te kan oorleef. Hulle moet egter uitreik na ander gelowiges wat nie werk of enige heenkome het nie. Hulle sal ook Bybels en goeie Christelike leesstof moet versamel, laat druk en op veilige plekke versteek. Goeie Bybelvertalings soos die 1933/53 vertaling en die New King James Bybel in Engels, sal spoedig onverkrygbaar raak.
Die Antichris sal reg van die begin af die antieke magsbasis van die koning van die Noorde laat herleef (Dan. 11:40-44). Dit verwys na die gebied ten noordooste van Israel, wat in verskillende tye bekend gestaan het as Babilonië of Assirië, of ook as die Siriese provinsie in die Griekse en Romeinse ryke. Die dominante noordelike Arabiese state is deel van dié gebied, wat tot teenaan die Persiese Golf strek. Een van die titels van die Antichris sal wees: “Assirië se koning” (Jes. 10:12-14). Hy sal besondere simboliese waarde heg aan die antieke stad Babilon langs die Eufraatrivier in die huidige Irak, omdat die nasies weens die taalverwarring hier uitmekaar gegaan het. Babilon sowel as die nabygeleë, hoogs ontwikkelde en ryk olieproduserende lande sal tot ʼn nuwe ontmoetingspunt vir die nasies opgebou word – ʼn moderne toring van Babel – van waar ʼn verenigde nuwe węreldorde en sy alliansie van węreldgodsdienste beheer sal word. Die węreldhandel sal ook van hierdie gebied af beheer word, en al die rykdom sal aanleiding gee tot ongekende sonde en morele verval (Op. 18:3).
Die Antichris sal van bedrog gebruik maak om homself deur een van sy ouers as ʼn direkte afstammeling van Mohammed voor te doen. Hy sal hierdeur vyandige faksies in Islam onder sy vaandel verenig, en die onbetwiste koning van ʼn moderne kalifaat word. Deur sy ander ouer sal hy op afstamming van die Jode se koning Dawid aanspraak maak, en op grond daarvan deur hulle as die Messias van Israel aanvaar word. Dit sal die grondslag lę vir sy beoogde titel as węreldmessias. Weens sy bonatuurlike magte en diplomatieke suksesse om vrede op aarde te bring en die węreldekonomie van ʼn groot ineenstorting te red, sal ander gelowe ook messiaanse titels aan hom toedig. Vir die Hindoes sal hy ʼn moderne inkarnasie van Krisjna wees, en vir die Boeddhiste die vyfde Boeddha wat die messiaanse era van vrede en voorspoed sal inlui.
Die Antichris sal aan die Jode toestemming verleen om die tempel in Jerusalem te herbou, want daardeur sal hy verseker dat hulle aan hom lojaal bly en nie aansluit by die minderheidsgroep Jode wat Jesus navolg en dien nie. Laasgenoemde groep sal nie in die herstel van die tempel met al sy diereoffers belangstel nie. Volgens Openbaring 11:2 sal die herboude tempel in Jerusalem ʼn vergrote voorhof hę wat gedurende die eerste 42 maande aan die nie-Joodse nasies gegee sal word sodat hulle ook toegang tot die tempel kan verkry. Op hierdie manier sal ander gelowe deel van die Joodse tempeldiens word omdat die misleidende idee gehuldig sal word dat hulle almal dieselfde God aanbid (sien die Joodse webblad www.godsholymountain.org waarin hierdie intergeloofsidee bevorder word). Die werklike eenheid van die węreldwye alliansie van gelowe sal egter daarin geleë wees dat hulle almal saam die valse “god van hierdie węreld” (2 Kor. 4:4) aanbid. In daardie tyd sal ortodokse Jode met hulle offerdiens voortgaan, maar hulle sal dit bedryf as ʼn bydrae tot die oorhoofse doelstelling van węreldwye, intergeloofsekumene.
Mettertyd sal daar egter aansienlike spanning begin opbou, en dit sal duidelik word dat groot krake besig is om in die Antichris se nuwe węreldorde te ontstaan. Soos wat hierdie krisisse begin toeneem en verdiep, sal die dag van die Antichris se transformasie van ʼn valse vredevors af na ʼn hartelose militęre tiran soos wat die węreld nog nooit gesien het nie, vinnig nader kom. Die opposisie teen hom sal uitloop op ʼn sluipmoordaanval op hom waartydens hy ʼn dodelike wond sal opdoen. Wanneer hy deur die valse profeet se toedoen van sy dodelike wond herstel (Op. 13:3, 12), sal sy gedaanteverwisseling skielik en dramaties plaasvind, soos blyk uit die scenario in Openbaring 6 by die oopmaak van die seëls.
Wanneer die eerste seël oopgemaak word, hardloop ʼn wit perd uit wat die Antichris en sy valse vrede uitbeeld (hy het ʼn boog, maar versteek sy pyle). Wanneer die tweede seël oopgemaak word, verander die Antichris van die ruiter op ʼn wit vredesperd na die ruiter op ʼn rooi oorlogsperd. Hy sal dan self die valse vrede wegneem wat hy vroeër op aarde geskep het toe hy hom op ʼn misleidende wyse as die universele vredevors voorgedoen het (Op. 6:3-4). Dit sal in die middel van die verdrukking gebeur, waarna die “groot verdrukking” in al sy felheid sal losbars. In daardie tyd sal nog twee verdere gedaantes van die Antichris geopenbaar word, naamlik die ruiter op ʼn swart perd wat lewensmiddele sal rantsoeneer, en die ruiter op ʼn vaal perd van die dood – hy sal soveel as moontlik mense vir die dood en doderyk versamel. Die dodetal wat die Antichris deur sy verskillende optredes sal veroorsaak, sal ʼn kwart van die węreldbevolking wees (Op. 6:8).
In die middel van die jaarweek van sewe jaar sal daar ʼn konflik ontstaan wat op verskeie terreine deur ingrypende veranderings gekenmerk sal word. Die breë raamwerk waarbinne hierdie konflik sal afspeel, is die lang stryd tussen die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. Die Here het belowe om in die eindtyd ʼn Koning (Jesus Christus) te stuur om sy vyande te oordeel wat as hulle finale leiers die Antichris en valse profeet sal hę – beide spesiaal deur Satan bemagtig. Nadat hulle geoordeel en die duiwel gebind is, sal die Here ʼn vrederyk op aarde vestig waaroor Christus self van die herstelde troon van Dawid af sal regeer.
Die koninkryk van die duisternis het hom daartoe verbind om die beloofde openbaring van God se koninkryk voor te spring, soveel as moontlik mense op aarde te mislei – veral ook Israel wat bestem is om ʼn prominente rol in die vrederyk te speel – en dan alle beskikbare militęre magte op te roep om tydens Christus se wederkoms in Israel teen Hom en sy hemelse leër te veg. Hierdie uitgerekte stryd sal in die middel van die verdrukking ʼn kritieke stadium bereik wanneer die Antichris en sy regering deur sterk opposisie bedreig word. Terselfdertyd sal daar in die hemelruim ʼn oorlog tussen God se engele en die gevalle engele van Satan gevoer word:
“En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele węreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ʼn groot stem in die hemel sę: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. ... [Wee] die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:7-10, 12). Dit sal die finale aanloop wees na ʼn fisiese konfrontasie op die Olyfberg in Jerusalem tussen twee messiasse – die ware en die valse (2 Thess. 2:8; Op. 19:19-20).
Van die middel van die verdrukking af sal dit skielik baie slegter gaan op aarde, en sal die duiwel alles moontlik inspan om die Antichris verder te bemagtig om alleenbeheer oor die aarde en al sy inwoners te voer, en alle teëstand met geweld te onderdruk: “... en die draak [Satan] het hom [die Antichris] sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2). Tot in daardie stadium sou die Antichris aan die beheer van ʼn vennootskapsregering gewees het waarin hy regeer het saam met tien konings wat aan die hoof van tien geopolitieke streke in die węreld was. Hulle sal egter gewillig hulle gesag aan die Antichris oordra (Op. 17:12-13).
Die finale politieke en militęre magsoorname na alleenbeheer sal ook met verdere godsdienstige selfverheffing gepaard gaan. Die Antichris sal dan nie meer met die titel van węreldmessias vir ʼn alliansie van węreldgodsdienste tevrede wees nie, maar op die posisie van God self aanspraak maak. Hy sal “in die tempel van God as God ... sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). Dit sal beteken dat alle vorms van godsdiensbeoefening onmiddellik gestaak sal moet word sodat alle mense uitsluitlik voor die Antichris en sy beeld kan neerbuig om hom as God te aanbid.
Daar sal ʼn sigbare demonstrasie van hierdie godsdienstige oorname in Israel se herboude tempel in Jerusalem wees, want die Antichris sal die Allerheiligste ontheilig deur daar in te gaan en homself tot God te verklaar. Hy sal ook ʼn beeld van homself daar laat oprig en ʼn militęre dekreet uitvaardig dat almal wat weier om hom of sy beeld te aanbid, gedood sal word (Op. 13:15). Dit sal die beginpunt van die tweede helfte van die verdrukking wees, wat as die “groot verdrukking” beskryf word (Matt. 24:21; Op. 7:14).
Daniël beskryf hierdie oorname só: “... en gedurende die helfte van die week sal hy [die valse messias] slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ʼn verwoester wees” (Dan. 9:27). Dit sal die skielike einde van Israel se herstelde tempeldiens wees, en die begin van verpligte afgodediens wat deur militęre mag afgedwing sal word. Die vrou op die dier se rug (die alliansie van valse gelowe) sal ook verwerp en voor die keuse gestel word om óf die Antichris as God te aanbid, óf doodgemaak te word. Al haar tradisionele aanbiddingsplekke sal verwoes word: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).
Die meeste Jode sal weier om die Antichris as God te aanbid, en op grond daarvan hulle verbond met hom as hulle messias en koning verbreek. Hy sal woedend wees en ʼn Joodse volksmoord gelas. Die Here Jesus het Israel spesifiek teen hierdie krisis gewaarsku, en gesę dat hulle vlug baie vinnig en in lewensgevaar sal plaasvind (Matt. 24:15-22). Hulle sal inderhaas uit Jerusalem en omstreke vir oorlewing moet vlug na die berge langs die Dooie See, en heel moontlik nog verder tot by Petra suid van die Dooie See in Jordanië. Miljoene ander mense op aarde, insluitend evangeliese Christene wat eers in die verdrukking tot bekering gekom het, sal ook voortvlugtiges wees wat gedood sal word waar hulle ook al aangetref word (vgl. Op. 12:17). Almal wat in Jesus Christus glo, ongeag of hulle Jode of nie-Jode is, sal die Antichris se teëstanders wees. Hierdie gelowiges sal die vervolgde Jode ondersteun omdat hulle bewus sal wees van Israel se nasionale redding wanneer die Messias kom.
Omdat die Antichris deur sy verskyning en optrede oënskynlik so ʼn belangrike en welkome rol sal speel om die węreldekonomie van ondergang te red, sal hy in sy węreldregering benewens ʼn politieke en godsdienstige magsbasis ook ʼn ekonomiese magsbasis hę. Hy sal ʼn kontantlose ekonomie instel waarin niemand kan koop of verkoop sonder ʼn nommer nie (Op. 13:16-18). Voordat ʼn persoon toegang tot hierdie stelsel sal kan kry, sal hy ʼn eed van getrouheid aan die Antichris moet aflę, wat volle erkenning aan hom in al sy hoedanighede sal behels – m.a.w. as hoof van die węreldregering waarvan hy die hoogste gesagsdraer is, hoof van die enigste erkende węreldgodsdiens waarin net hy as God aanbid mag word, en hoof van die węreldekonomie waaroor hy volmag sal hę. Die Bybel noem hierdie nommer “die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam” (Op. 13:17). Dit sal dus nie net ʼn persoonlike identiteitsnommer wees nie, maar terselfdertyd ook die nommer van die Antichris.
Dit sal onmoontlik wees om die nommer net ter wille van finansiële transaksies te aanvaar, want deur die eed van getrouheid sal die ontvanger van die nommer daaraan verbind wees om ook die Antichris en sy beeld te aanbid, met die uitdruklike uitsluiting van trou aan enige ander god. Dit sal dus neerkom op die formele verwerping van Jesus Christus as die Verlosser en Koning van die węreld. As gevolg hiervan sal sulke persone hulle siele aan Satan verkoop en dan die regverdige vergelding vir hulle bose daad ontvang, naamlik die ewige verdoemenis saam met die Antichris en die valse profeet (Op. 14:9-11). Hulle sal deel in hulle leier se oordeel.
Die toekenning van nommers sal terselfdertyd as ʼn węreldwye moniteringstelsel gebruik word, omdat alle elektroniese transaksies op ʼn rekenaarnetwerk aangedui sal word. Daar sal dus presies vasgestel kan word waar ʼn persoon is en wat die aard van sy transaksies is. Omdat die nommer op die houer se hand of voorkop ingeplant sal word, sal hy nie sy identiteit of lokaliteit kan verberg nie. Wanneer kontant heeltemal uit omloop onttrek word, sal lewensomstandighede vir teëstanders van die Antichris onmiddellik totaal ondraaglik raak. Hulle sal heeltemal uitgeskakel wees van die formele ekonomie omdat hulle niks sal kan koop of vir dienste betaal nie, en ook nie vir vergoeding kan werk nie. Hulle sal nie hulle eie geld in bankrekenings kan oorplaas of op enige manier kan gebruik nie, omdat hulle geen toegang tot die stelsel van elektroniese fondsoorplasing sal hę nie.
Afgesien van die finansiële dilemma waarin sulke mense sal wees, sal hulle politieke vlugtelinge wees wat ook voëlvry verklaar sal word omdat hulle sal weier om die Antichris te aanbid. Dit sal as hoogverraad gereken word en strafbaar wees deur teregstelling in die openbaar – in baie gevalle deur onthoofding (Op. 20:4). Hoewel sulke mense as martelare sal sterf, sal hulle geestelik gesproke as oorwinnaars sterf omdat hulle nie die knie voor Satan se valse god gebuig het nie (Op. 12:11). Die meerderheid mense sal egter die nommer argeloos aanvaar en ook geen probleem daarmee hę om die Antichris as God en Verlosser te aanbid nie (Op. 13:3-4, 8). Sataniese misleiding lei na geestelike blindheid en ʼn gebrek aan onderskeidingsvermoë.
Uit Openbaring 7:9-17 is dit duidelik dat daar nogtans miljoene mense in die hele węreld sal wees wat sal weier om die Antichris en sy nommer te aanvaar en hom ook te aanbid. Nadat hulle gesterf en in die hemel aangekom het, sal hulle tot God roep om Hom op die antichristelike vervolgers te wreek. Die martelare word verseker dat dit wel sal gebeur, maar eers nadat al hulle medebroeders wat nog gedood sou word, voltallig is (Op. 6:9-11). Christene sal absolute duidelikheid moet verkry oor wat alles op die spel is met die aanbod van die nommer, sodat hulle nie dalk hulle siele vir tydelike aardse gewin verkoop nie. Vriendskap met die Antichris, al kom hy ook in die gedaante van ʼn engel van die lig, lei na die ewige dood. Hy is die mens van sonde en seun van die verderf (2 Thess. 2:3), en dit sal sy belangrikste doel wees om soveel as moontlik mense te mislei en saam met hom na die hel te neem.
Namate die einde van die verdrukking nader kom, sal natuurrampe soos aardbewings, vulkaniese uitbarstings en hemelliggame (of brokstukke daarvan) wat die aarde tref, geweldig toeneem (Op. 6:12-13; 16:18). Vanweë al die lugbesoedeling sal die maan rooi word soos bloed en die son soos ʼn harige sak. Baie mense sal weet dat God die aarde oordeel weens die boosheid van die mens, maar die meeste van hulle sal hulle nie bekeer nie en voortgaan om God te laster (Op. 9:20-21; 16:8-9). Wanneer hoë geboue inmekaar tuimel as gevolg van aardbewings, sal mense na die berge vlug en wens om eerder dood te gaan, maar te midde van dit alles besef dat Christus vir wie hulle as Verlosser verloën en verwerp het, nou hulle Regter is. Hulle kan nie vir Hom wegvlug en sy oordele vermy nie (Op. 6:15-17).
Vir diegene wat die nommer van die Antichris aanvaar het en hom ook aanbid, sal dit té laat wees om om te draai en hulle absolute, formele en doelbewuste verloëning van Jesus Christus ongedaan te maak. Hulle dwaasheid sal vergelyk kan word met dié van Esau wat onder die druk van ʼn tydelike krisis sy eersgeboortereg as hoof erfgenaam van sy vader verkoop het vir ʼn bord lensiesop: “Laat niemand ʼn hoereerder wees nie, of ʼn onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb. 12:16-17). Hy het nie berou oor sy sonde gehad nie en was net jammer vir homself toe hy die gevolge besef het van die groot fout wat hy gemaak het. Geestelike hoerery beteken om die węreld bó God lief te hę en tydelike belange bó die ewige belange van jou siel te stel. Vriendskap met die verdorwe węreld maak van jou geestelik gesproke ʼn egbreker en vyand van God (Jak. 4:4).
In die lig van Bybelse profesieë sal die Antichris weet dat Jesus Christus aan die einde van die sewe jaar van verdrukking na die aarde sal terugkeer om die goddeloses te verdelg en Hom te versoen met ʼn oorblyfsel uit Israel én alle nasies wat oor Hom sal rou bedryf (Matt. 24:29-30; Op. 1:7; Sag. 14:4-5, 12-13). Hierdie Goddelike ingryping tydens die Messias se wederkoms sal die volvoering wees van Israel se lang heilsgeskiedenis sedert hulle herstel uit die Babiloniese ballingskap tot op die punt van hulle nasionale geestelike versoening met die Messias aan die einde van die verdrukking. Ewige geregtigheid sal daarna heers (Dan. 9:24), en die hele oorblyfsel van Israel sal in die nuwe verbond bevestig wees (Jer. 31:31-34).
In Daniël 9:24-27 word hierdie baie belangrike deel van Israel se heilsgeskiedenis binne die raamwerk van 70 jaarweke geplaas, wat elkeen presies sewe profetiese jare lank is, m.a.w. 490 jare van 360 dae elk. Aan die einde van die 69ste week het Israel egter die Messias verwerp en ʼn lang onderbreking in die verloop van hulle heilsgeskiedenis as volk veroorsaak. As gevolg hiervan is die kerkbedeling vir die evangelisering van die hele nie-Joodse węreld ingestel. Die dissipels het die opdrag gekry om die evangelie aan alle nasies te verkondig en gelowiges in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop (Matt. 28:19). Dit was deel van God se raadsplan dat sy Seun nie net ʼn Verlosser vir Israel sou wees nie maar ook vir die hele węreld (Jes. 49:5-6; vgl. Hand. 13:46-47).
Waarom het Daniel nie aangedui dat daar ʼn lang tydverloop sou wees tussen die 69ste en 70ste jaarweke in Israel se heilsgeskiedenis nie? Omdat die kerkbedeling ʼn verborgenheid was wat nie aan een van die Ou-Testamentiese profete geopenbaar is nie. Paulus beskryf die liggaam van Christus onder die nie-Jode as ʼn “verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges” (Kol. 1:26). Die einde van die kerkbedeling sal ewe misterieus beëindig word tydens Christus se geheime koms vir sy heiliges. Paulus sę: “Kyk, ek deel julle ʼn verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ʼn oomblik, in ʼn oogwink, by die laaste basuin” (1 Kor. 15:51-52). Daarna verskuif die soeklig terug na Israel as ʼn volk.
Nadat Israel hulle Messias verwerp het is hulle uit hulle land verdryf, en die verstrooide Jode sou eers na aan die einde van die tyd van węreldevangelisasie na hulle land terugkeer sodat die 70ste jaarweek tot en met hulle nasionale geestelike herstel kan verloop (Luk. 21:24). Die 70ste jaarweek is bedoel as ʼn tyd van groot benoudheid en beproewing vir Israel en die ongelowige nasies wat, soos Israel, die Messias verwerp het (Jer. 30:7; NKJV Op. 3:10), en is daarom nie deel van die kerkbedeling nie. Vir meer inligting oor die 70 jaarweke, en veral die laaste jaarweek wat nog vervul moet word, sien: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Aftelling.htm.
Die duiwel gaan egter poog om die vervulling van God se raadsplan vir Israel en die kerk ongedaan te maak sodat hy self beheer oor die hele węreld kan verkry. Met die oog hierop sal die Sataniese driemanskap (die draak, die dier en die valse profeet) alle mag tot hulle beskikking gebruik om al God se volgelinge uit te wis – dit is die verbondsvolk Israel sowel as gelowiges onder alle nasies. Uiteindelik sal hulle ook teen Christus veg op die dag van sy wederkoms ten einde hulle antichristelike węreldorde van ondergang te red. In afwagting op daardie dag sal demone na die leiers van alle regerings uitgestuur word om hulle aan te hits om soldate na Israel te stuur vir die oorlog van Armagéddon (Op. 16:13-16). Dit sal egter ʼn futiele oefening wees, omdat hulle teen Hóm sal veg wat alle mag in die hemel en op aarde het. Die Antichris en valse profeet sal lewendig in die vuurpoel gewerp en hulle misleide volgelinge verdelg word (Op. 19:19-21). Satan sal gevang en saam met sy demone in ʼn put gebind word (Op. 20:1-3). Christus sal dan die troon van Dawid herstel en self uit Jerusalem oor die węreld regeer (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17; Jer. 3:17).
Almal wat hulle in die verdrukking bevind, moet duidelik besef dat hoewel die węreld geestelik baie donker sal wees nadat die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees skielik weggevoer is, dit nie beteken dat die Heilige Gees Homself van die węreld af onttrek het nie! God bly alomteenwoordig deur sy Gees, en Hy sal steeds in die verdrukking berouvolle sondaars wederbaar sodat sy Gees ook deur hulle na ander verlore sondaars kan uitreik met ʼn boodskap van redding. Die dwase maagde van die kerkbedeling kán dus ná die wegraping die ontbrekende olie van die Heilige Gees in hulle lewens verkry. Hulle sal nog steeds deur die verdrukking moet gaan, maar hulle kan as gelowiges hierdie moeilike pad bewandel en ook ander help wat totaal onkundig oor die Bybel is, of so ʼn vae kennis oor verlossing het dat hulle net ʼn gedaante van godsaligheid het (vormgodsdiens sonder redding).
Dit is egter baie onwaarskynlik dat onafhanklike evangeliese gemeentes in die verdrukking toegelaat sal word om voort te bestaan – in elk geval nie vir lank nie. Die godsdienstige vleuel van die Antichris se nuwe węreldorde sal spoedig vereis dat alle kerke sal inskakel by ʼn alliansie van węreldgodsdienste waarvan die Antichris die hoof sal wees. Evangeliese Christene sal dus vir hulle eie behoud ʼn lae profiel moet hou wat byeenkomste betref, en dit sal so informeel en onopsigtelik as moontlik moet geskied. Dit beteken nie dat hulle niks moet doen en net op hulle eie veiligheid ingestel wees nie, want duisende ander mense se siele en ewige toekoms sal op die spel wees. Hierdie hulpbehoewende mense moet nie ʼn laaste kans ontneem word om hulle saak met die Here reg te maak nie, en daarvoor het hulle betroubare leiding nodig.
Christene sal net gedurende die eerste 42 maande beperkte beweegruimte hę voordat die Antichris in die middel van die verdrukking sal toeslaan om alle vryhede weg te neem. Sy nommerstelsel sal dan eers vir ekonomies aktiewe mense verpligtend wees – nie reg van die begin van die verdrukking af nie. Geld en ander bates sal sover moontlik in die eerste 42 maande aangewend en voorrade in geheime plekke gestoor moet word – ook Bybels en geestelike lektuur. Daarna sal Christene weens die kontantlose monetęre stelsel geen toegang tot hulle eie geld hę nie en alle aanspraak daarop verloor.
Kanse vir oorlewing in die tweede helfte van die verdrukking sal uiters skraal wees. Evangeliese Christene sal nie deel wees van die Antichris se politieke, godsdienstige en ekonomiese strukture nie, en weens hulle weiering om dit te aanvaar sal hulle as rebelle gebrandmerk, op verskillende maniere opgespoor en genadeloos tereggestel word. Wat ook al die omstandighede, die dreigemente en die eise wat gestel word, moet Jesus Christus nooit verloën word en die Antichris ook nooit in enige van sy hoedanighede aanvaar word nie. Moet ook nie onder dreigemente, afpersing en omkopery swig om ander Christene te verraai deur hulle identiteit en wegkruipplekke bekend te maak nie. Almal moet so lank as moontlik aan die lewe bly sodat soveel as moontlik sondaars gehelp kan word om vrede met God te maak. Genade sal steeds betoon word aan almal wat nie ʼn verbond met die Antichris gesluit het nie.
Vir ʼn wye reeks artikels en boeke oor die eskatologie (die leer oor eindtydse dinge) besoek die webblad www.bibleguidance.co.za. Die volgende boeke is in hulle geheel beskikbaar, en handel onder meer oor die Antichris en die verdrukking van sewe jaar:
ʼn Skematiese voorstelling van die boek Openbaring:
http://www.bibleguidance.co.za/Bookimages/Revelimageafr.jpg
Bybelse Profesieë:
http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Bybelse%20Profesiee%20PDF/Eindtydpdf.pdf
Die Dag van die Here – ʼn Kommentaar oor die Boek Openbaring:
http://www.bibleguidance.co.za/Librarylists/Bookschaplist/Diedaghoofstuklys.htm
Openbaring vir ons Tyd:
http://www.bibleguidance.co.za/Librarylists/Bookschaplist/Openbaring%20VOT.htm
Die Uur van Duisternis – ʼn Studie van die Boek Openbaring:
http://www.bibleguidance.co.za/Librarylists/Bookschaplist/Dieuurhoofstuklys.htm
Die Sewe Feeste:
http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Sewe%20Feeste/FeestevanIsrael.pdf
Die Koninkryk van Satan:
http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Die%20Koninkryk%20van%20Satan%20PDF/Satanskoninkryk.pdf
Israel – ʼn Historiese, Eietydse en Profetiese Perspektief:
http://www.bibleguidance.co.za/Librarylists/Bookschaplist/Israel.htm