Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2016)
Bybelse profesieë skets ʼn ontstellende prentjie van geestelike en morele verdorwenheid wat in die eindtyd węreldwyd sal voorkom. Jesus Christus self vergelyk hierdie tyd met dié van Noag en Lot (Luk. 17:26-30), toe die verwerping van die ware God en sy boodskappers openlik en herhaaldelik plaasgevind het. Noag se tydgenote het die beperkende aard van God se geregtigheid vermy en in hulle arrogansie en selfverheffing verkies om ʼn sondekultuur te beoefen wat gekenmerk is deur ʼn uiterste vorm van materialisme, onreinheid, boosheid, korrupsie en gewelddadigheid. In die geval van Sodom en Gomorra het die verdorwenheid selfs met die verlies aan ʼn Godgegewe geslagsidentiteit gepaard gegaan. Homoseksualiteit (sodomie) was sosiaal aanvaarbaar en het wydverspreid voorgekom. As gevolg van hierdie onnatuurlike neiging het die betrokke gemeenskappe op selfvernietiging afgestuur, want hulle kon nie (en wou nie) op die normale manier deur die sluit van heteroseksuele huwelike voortplant nie.
In Ou-Testamentiese tye het dit meermale gebeur dat die Here deur middel van oordele ingegryp het in gevalle van mense se uiterste verdorwenheid en rebellie teen Hom. Daar was egter altyd ontkoming vir die klein groepie ware gelowiges. Wat die oordeel van die sondvloed betref, lees ons: “Die Here [het gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was. ... Noag het met God gewandel. Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. ... En God sę vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou ʼn ark van goferhout” (Gen. 6:5, 9, 11-14). Noag en sy gesin het hierdie groot oordeel oor hulle tydgenote ontvlug omdat hulle gelowiges was wat op die Here se reddende genade vertrou het.
Die afstammelinge van die gelowige Noag het egter mettertyd ook in ongeloof en openlike rebellie teen God verval. In hulle sondige selfverheffing het hulle gesę: “Kom, laat ons vir ons ʼn stad bou en ʼn toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ʼn naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” (Gen. 11:4). Hierdie Babiloniese samesmelting van nasies was ʼn nuwe węreldorde wat op selfverheffing, magsmonstering en vyandigheid teenoor die ware God van die hemel gebaseer was. Die deelnemende volke het hulle selfbeskikkingsreg verloor en moes ook hulle eie woongebiede, tale, kulture, regerings en godsdienste ter wille van internasionale eenheid prysgee. Nimrod, die meesterbrein agter die Babiloniese węreldkultuur, was ʼn uitgesproke vyand van die ware God, en was self die verpersoonliking van die Babiloniese songod. Hy is ook aanbid. Astrologie en ander vorms van okkultiese mistisisme was deel van sy valse węreldgodsdiens.
Die Here het deur die taalverwarring ingegryp en verseker dat hierdie demoniese węreldorde met sy verpligte afgodediens tot ʼn val kom. Onafhanklike en selfbeskikkende volke binne hulle eie woongebiede is nog steeds God se orde vir interne harmonie en samehorigheid. Ekstern is dit ook die enigste basis vir vreedsame naasbestaan tussen verskillende volke (Hand. 17:26). Dit is in almal se belang dat hierdie grense (geografies, kultureel, ekonomies en polities) eerbiedig word. ʼn Vermengde Babiloniese samelewingsorde gaan gepaard met ʼn aansienlike mate van intimidasie, dwang tot konformering, uitbuiting van minderheidsgroepe, die verlies aan kulturele identiteit, ʼn eie taal en persoonlike vryhede – alles ter wille van gedwonge eenheid.
Die verskillende volke wat van Babel af uitmekaargegaan het, het elkeen sy eie vorm van afgodediens en bygeloof ontwikkel, en uiteindelik het die hele bewoonde węreld verheidens. Saam met die geestelike misleiding het ook morele verdorwenheid ontstaan wat by tye so erg was dat die Here Sodom, Gomorra en verskeie ander stede in die Jordaanvallei verdelg het. Hier is ook seker gemaak dat regverdiges nie geoordeel word nie. Die twee engele wat gestuur is om die oordele te voltrek, het by Lot aangedring om vinnig na die berge te vlug: “Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie” (Gen. 19:15). Eers nadat hulle weg is, is die sondaars geoordeel.
Met die roeping van Abraham en die uiteindelike vestiging van Israel as God se uitverkore volk in die Beloofde Land, was daar ʼn duidelike grens – geografies, etnies, godsdienstig én polities – tussen God se volk en die heidense volke onder die beheer van Satan. By verskillende geleenthede het God oordele uitgestort oor Israel se vyande, bv. tydens Israel se uittog uit Egipte (Ex. 7 tot 11 en 14), die verdelging van heidennasies in Kanaän (Jos. 6 tot 12), asook Goddelike ingrypings tydens verskeie van Israel se oorloë teen hulle vyande. Die laaste duidelike Goddelike oordeel was egter teen Israel self, insluitende die verwoesting van Jerusalem, weens Israel se verlengde geskiedenis van afvalligheid, en uiteindelik die verwerping van die Messias self (Lev. 26:33; Deut. 28:52, 64; Matt. 23:37-39; Luk. 19:41-44; 21:20-24). Die oordele oor Israel het egter nie tot hulle verdelging en totale verwerping as God se volk gelei nie (Lev. 26:44-45), daarom sal hulle weer in die eindtyd herstel word – fisies, staatkundig én geestelik (Jer. 31:31-34; Eseg. 36:22-28; 37:21-22; Rom. 11:25-26).
Ná die oordeel oor Israel, en al die pynlike gevolge wat dit vir die afvallige volk van God ingehou het, het die Nuwe-Testamentiese bedeling van genade vir alle nasies aangebreek (Matt. 28:19). Tydens hierdie hele bedeling gee die Here aan alle volke, tale en nasies op aarde (ook die verstrooide Jode) die geleentheid om gered te word en sodoende oor te kom uit die duisternis van verlorenheid tot in die wonderbaarlike lig van die Here se koninkryk. Die meerderheid mense maak egter nie hierdie oorgang na die ewige lewe nie, omdat hulle die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19). Die gevolg hiervan is dat die breë weg van die verlorenes veel meer verkeer dra as die smal pad na die hemel toe. Dit verklaar waarom die węreld selfs tydens die bedeling van genade grootliks in die mag van die Bose lę (1 Joh. 5:19), en dus geestelik en moreel gesproke ʼn donker en goddelose plek is om in te woon.
Omdat hierdie hele bedeling bestem is vir die węreldwye verkondiging van God se reddende genade op grond van die soendood van sy Seun, Jesus Christus, word die goddeloses nog nie geoordeel nie. Valse kerke, heidense gelowe en bose politieke ideologieë het in baie gevalle eeue lank voortbestaan sonder dat God hulle geoordeel het. Selfs wanneer sekere nasies ondergegaan het, was dit nie deur God se oordele nie, maar deur die toedoen van mense self, onder die aanhitsing van die duiwel as die groot mensemoordenaar. Natuurrampe wat die afgelope twee millennia plaasgevind het, is ook nie deur God beskik nie, omdat beide gelowiges én ongelowiges daarin dood is of daardeur benadeel is. God se oordele is altyd regverdig en tref net die skuldige party – nie die regverdiges nie.
In die huidige bedeling laat God “sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matt. 5:45). Ons leef ook in ʼn tydperk waarin die hele skepping aan die nietigheid en verganklikheid onderworpe is (Rom. 8:19-21), daarom is daar droogtes, oorstromings, vulkaniese uitbarstings, aardbewings, kieme, virusse, gifstowwe, baie verskillende siektes, gevaarlike diere, vyandige, bose mense, misdaad, verdrukking, vervolging en talle ander gevare. Christene word ook hierdeur getref – nie omdat God hulle oordeel nie, maar omdat hulle in ʼn onvolmaakte, sondige węreld woon waarin Satan die meerderheidsteun geniet (Ef. 6:10-13). Die Here Jesus het self gesę dat ons vyandigheid, verdrukking en swaar tye in die węreld te wagte kan wees (Joh. 15:18-20; 16:33). Ons ly egter nie weens Goddelike straf oor ons sonde nie (baie sonde het nogtans die vermoë om hulle eie pyn en ellende oor hulle slagoffers te bring), maar ons ly basies omdat ons in ʼn vyandige en gevaarlike węreld woon wat vir Christus vervolg het, en daarom ook sy volgelinge haat en verwerp (Luk. 6:22-23).
Petrus sę dit is ʼn eer om vir Christus te ly, maar ʼn skande wanneer ons as gevolg van moedswillige sondes ly: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ʼn ander bemoei nie. Maar wanneer iemand as ʼn Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig” (1 Pet. 4:12-16).
Dit is in die lig van die stryd teen boosheid en al die dreigende gevare in ʼn gebroke węreld dat ons gereeld moet bid dat die Here ons van siektes, ongelukke, gevare en versoekings sal bewaar. Ons moet inderdaad die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Waarom oordeel die Here dan nie die boosdoeners in hierdie bedeling nie? Omdat die Christene en sondaars in dieselfde samelewings woon sonder fisiese grense tussen hulle. Ons is soos koring en onkruid wat saam in dieselfde land groei, soos wat Jesus aan sy dissipels verduidelik het:
“ʼn Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesę: Die koninkryk van die hemele is soos ʼn man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesę: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ʼn Vyandige mens het dit gedoen. Toe sę die diensknegte vir hom: Wil u dan hę dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sę: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur” (Matt. 13:24-30).
In die eindtyd gaan daar skeiding tussen die regverdiges en onregverdiges kom. Hierdie skeiding moet noodwendig voor die begin van die verdrukking plaasvind, omdat die sewe jaar van die verdrukking ook ʼn tyd van Goddelike oordele oor die sondaars is, en die Here oordeel beslis nie sy eie kinders nie (vgl. Gen. 18:23). Daar is geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Rom. 8:1), daarom verwag ons God se Seun uit die hemel wat ons van die toekomstige toorn sal verlos (1 Thess. 1:10). Wanneer ons weg is, sal die Here sy oordele oor die sondaars uitgiet: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ʼn woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9; vgl. Matt. 24:21; Op. 6:15-17).
Daar moet ʼn duidelike onderskeid getref word tussen die verdrukking wat Christene tans in ʼn sondige węreld ter wille van hulle geloof ervaar, en die groot verdrukking aan die einde van die kerkbedeling wanneer die ongelowiges, sondaars, teruggevallenes en afvallige Israel deur God geoordeel sal word. Die komende verdrukking sal die tyd van benoudheid wees vir Jakob én almal uit alle volke wat, soos afvallige Israel, vir Jesus as Messias verwerp het (Jer. 30:7; Op 3:10). Christene is nie vir die toorn van die dag van die Here bestem nie, daarom sę Hy vir ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Christene se ontvlugting voor die aanbreek van die verdrukking sal in ooreenstemming wees met ʼn vaste Bybelse patroon van gelowiges se ontvlugting voor die uitgiet van Goddelike toorn oor die sondaars:
· Tydens die sondvloed is Noag en sy gesin eers in ʼn plek van veiligheid gestel voordat God Homself tot die sondaars gewend en hulle weens hulle onbekeerlikheid geoordeel het. Daar was geen gelowiges onder hulle toe dit gebeur het nie.
· Tydens die verwoesting van Sodom en Gomorra is die ware gelowiges beveel om die rampgebied van Goddelike oordele te verlaat pas voordat die oordele uitgestort is.
· Tydens Israel se uittog uit Egipte het al die plae telkens net die ongelowige Egiptenare getref – nooit die volk van God nie.
· Tydens Israel se baie oorloë in Ou-Testamentiese tye was God se oordele ewe selektief en net op ʼn bepaalde teiken van boosdoeners gerig.
· Tydens die oordele oor ongelowige Israel ná die koms en verwerping van hulle Messias, het die oordele net oor ongelowige Jode gekom, eers nadat al die dissipels betyds uit Jerusalem gevlug en die Jordaanrivier oorgesteek het na ʼn plek van veiligheid (Luk. 21:20-22).
· Tydens die komende wegraping sal Christene van die aarde af weggevoer word, omdat die hele ongeredde węreld deur die oordele van God getref sal word (Jes. 24:3-6; Op. 6 tot 19). Gelowiges sal fisies weggevoer word, die Here tegemoet in die lug (1 Thess. 4:16-18). Die verdrukking sal die tyd van Israel en die ongelowige nasies se benoudheid wees (Jer. 30:7; Matt. 24:21) – nie die tyd van die kerk se benoudheid nie.
Soos wat ons nader aan die einde van die kerkbedeling beweeg, vind daar intensiewe voorbereidings plaas vir die openbaring van God se koninkryk op aarde onder die koningskap van Jesus Christus, én ook vir die openbaring van Satan se koninkryk onder die leiding van die Antichris. Nadat die opstanding van die gelowiges plaasgevind en almal van hulle met verheerlikte liggame na die hemel weggevoer is, sal die eindtydse oordele van God oor die ongelowiges voltrek word. Daarna sal Christus as Koning van die konings met sy heiliges terugkeer aarde toe om hier ʼn regering van geregtigheid te vestig (Op. 5:9-10; 19:11-15).
Tydens die sewe jaar van oordele oor die ongelowiges sal die ware kerk saam met Christus in die hemel wees. Die duiwel sal dan van daardie geleentheid gebruik maak om sy koninkryk van ongeregtigheid, sonde en rebellie teen die ware God op aarde te vestig onder die leiding van die Antichris en valse profeet. Dit sal kort ná die wegraping gebeur, want weens die afwesigheid van die ware kerk as ʼn tempel van die Heilige Gees, sal daar geen weerstand teen sy bose planne wees nie. Dit is waarom Paulus sę: “... die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8).
Dit is ʼn verdere onomstootlike bewys dat die wegraping voor die openbaring van die Antichris sal plaasvind. Die Nuwe-Testamentiese kerk is ʼn tempel van die Heilige Gees, en as sodanig ʼn teëhouende faktor teen die openbaring van die Antichris. Wanneer hierdie teëhouer deur middel van die wegraping van die aarde af weggeneem is, kan die Antichris sonder teëstand geopenbaar word. Die Heilige Gees sal daarna wel nog op aarde teenwoordig wees, want God is altyd alomteenwoordig, maar nie meer in sy Pinkstervolheid nie, omdat die ware kerk as sy tempel en spreekbuis weggeneem is. Hy sal wel weer, veral in Israel, ander kanale kry waardeur Hy sal werk, maar gedurende die kort tydperk van totale geestelike duisternis ná die wegraping, sal die Antichris en die valse profeet die volle geleentheid hę om geopenbaar te word en fisiese beheer oor die hele misleide węreld te verkry.
Ons is beslis baie naby aan hierdie situasie, want dit is duidelik dat mense nou finaal voorberei word om óf voor Christus te verskyn en aan die openbaring van sy koninkryk deel te hę, óf om die Antichris as ʼn multigodsdienstige węreldleier te ontvang en na te volg. Diegene wat vir die Here Jesus wag, reinig hulleself soos Hy rein is (1 Joh. 3:3). Hy maak sy dorsvloer deur en deur skoon, sodat die kaf en die koring heeltemal van mekaar geskei kan word. Spoedig sal die oes van weergeborenes in die hemel versamel word. Die onkruid word egter in bondels saamgebind en sal binnekort in die vuur van God se oordele beland tydens die verdrukking van sewe jaar. Hierdie twee groepe dryf al hoe verder van mekaar af weg, terwyl dié wat vuil is nog vuiler word en dié wat heilig is nog heiliger word (Op. 22:11).
Daar is reeds ʼn algemene wegbeweeg van Bybelse waarhede af deur die groot meerderheid mense, en dit sluit ook naamchristene in afvallige kerke in. Hulle raak geestelik al hoe meer verblind en vervreemd ten opsigte van evangeliese Christelike beginsels – tot só ʼn mate dat hulle die multigodsdienstige Antichris as die ware Christus en Verlosser van die węreld sal aanvaar en aanbid. In die proses draai hulle al hoe meer die rug op die ware God en sy Woord, en laster selfs openlik teen Hom. Terselfdertyd neem sonde en ongeregtigheid soos leuens, korrupsie, immorele lewenstyle en dubbele standaarde vinnig toe, en dit berei die weg voor dat die mensdom ook uit ʼn morele oogpunt gewillige geesdriftige volgelinge van die Antichris as “die mens van sonde” sal wees (2 Thess. 2:3). Soos wat ons dieper in die eindtyd ingaan en die Bruidegom talm om te kom, neem die probleme van verval steeds groter afmetings aan.
Net ʼn klein groepie getroue Christene hou aan om te waak, te bid, en hulleself rein te bewaar. Terwyl die nag donkerder word, skyn die blink môrester helderder, en dit is vir hulle die simbool van hoop op die koms van die hemelse Koning. Net Hy kan deur sy wederkoms en vrederyk ʼn diepgaande en standhoudende verandering in hierdie sondige węreld teweegbring.
Die ongeredde węreld, asook die miljoene naamchristene wat nie veranderde (weergebore) harte het nie, het nie só ‘n geestelike perspektief nie en is net besig om na die węreld te kyk en dit vir hulleself meer leefbaar te probeer maak. Hulle is druk besig om die toenemende aantal probleme wat internasionaal ervaar word deur middel van ʼn groter mate van węreldeenheid te probeer bekamp. Hierdie benadering manifesteer nie net as politieke en ekonomiese globalisme met die oog op ʼn węreldregering en die beheer oor die węreldekonomie nie, maar dit kan ook duidelik gesien word in ʼn proses van godsdienstige globalisme. Binne die raamwerk van hierdie inisiatief word planne gemaak om ʼn alliansie van węreldgodsdienste te skep wat kan saamwerk om węreldvrede en eenheid te bevorder. Węreldekumene berus op die misleidende idee dat alle gelowe dieselfde God aanbid en dus ook vir dieselfde węreldmessias wag wat al die gelowe verder sal verenig. Saam sal hulle probeer om verdraagsaamheid, liefde en goeie naasbestaan te bevorder deur ʼn mistiese broederskap van alle gelowe, maar hierdie valse eenheid sal die weg na die openbaring van hulle gemeenskaplike verlosser (die Antichris) baan.
Volgens Openbaring 13 sal die gevalle en misleide mensdom se globalistiese inisiatiewe in die eindtyd onder die invloed van die duiwel lei tot die vestiging van ʼn węreldregering onder die persoonlike leiding van die Antichris, ʼn sentraal-beheerde węreldekonomie waarin niemand sonder die Antichris se nommer sal kan koop of verkoop nie, asook ʼn węreldgodsdiens waarin alle mense die Antichris as hulle gemeenskaplike verlosser sal aanbid. Aanvanklik sal almal op aarde verwonderd wees oor die vervulling van hulle globalistiese drome, en die Antichris vrywillig navolg en aanbid. Dit sal egter nie lank duur voordat hulle verneder sal word tot willose slawe in sy militęre diktatuur nie. Almal wat sal weier om hom as God te aanbid, sal summier tereggestel word, en niemand sal sonder ʼn eed van getrouheid aan hom enige ekonomiese regte hę nie.
Hoe nader ons aan die koms van die ware Christus kom, hoe nader is die tyd ook vir die openbaring van die valse christus van alle gelowe. Die vervulling van Bybelse profesieë oor die eindtyd – veral die herstel van Israel en die skepping van globalistiese strukture vir die Antichris se węreldregering – dui daarop dat die koms van Christus as die hemelse Bruidegom enige tyd kan plaasvind. Die profetiese toneel vir hierdie belangrike gebeurtenis is vir etlike jare al gereed, en ons leef nou in die tyd wanneer die Bruidegom talm om te kom (vgl. Matt. 25:5). In hierdie tyd tref die węreldlinge koorsagtige voorbereidings om hulle globalistiese nuwe węreldorde in te stel en hulle gemeenskaplike węreldleier en węreldmessias te ontvang. Toegewyde Christene leef in afwagting op die blaas van die basuin wat hulle na ʼn ontmoeting met die hemelse Bruidegom sal lei. Almal wat agterbly, sal aan die grootste misleiding van alle tye blootgestel word, en weens hulle dienstigheid aan die Antichris sal hulle aan ʼn groot verdrukking onderwerp word wat ook onvergelyklik in die węreldgeskiedenis sal wees.