Bedieninge van die Heilige Gees

Johan Malan, Mosselbaai (September 2014)

Skriflesing: “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ʼn Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus” (Hand. 19:1-5).

Hierdie groepie van twaalf dissipels in Éfese het wel geglo dat Jesus die Messias en Verlosser is, maar hulle het geen getuienis van wedergeboorte deur die Heilige Gees gehad nie. Johannes die Doper deur wie hulle gedoop is, het gesê: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (Matt. 3:11). Sondebelydenis en waterdoop kon die mense nie salig spreek nie. Geloof in Jesus Christus as die Lam van God wat die straf vir mense se sondes sou betaal, was nodig vir redding. Johannes die Doper se bediening as boodskapper moes eindig nadat hy die volk op die koms van die Messias voorberei en Hom aan hulle uitgewys het. Dit is waarom hy gesê het: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh. 3:30). Mense moes nie langer Johannes se dissipels wees nie maar moes dissipels van die Messias word, want net Hy kon hulle geestelik verander.

Die Here Jesus het eers ʼn soenoffer gebring sodat mense deur sy bloed van hulle sondes gereinig kan word. Daarna het Hy sy Heilige Gees uitgestort sodat almal wat die evangelie hoor van hulle sonde oortuig kan word, asook van die geregtigheid wat Christus aan die kruis bewerk het, én van die oordele wat op alle onbekeerlikes rus. Doopwater kan niemand se sonde wegwas nie; net die genadewerk van Christus wat deur die Heilige Gees aan ʼn berouvolle siel bedien word, kan dit doen. Jesus het gesê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die (Heilige) Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde. Indien hulle positief hierop reageer deur hulle sondes te bely en Jesus as Verlosser aan te neem, sal die Heilige Gees hulle wederbaar en die nuwe lewe van Christus in hulle harte vestig. Dit is die doop van Christus wat deur sy Heilige Gees bedien word. Paulus sê vir die gemeente: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (1 Kor. 12:13). Romeine 8:16 sê: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Hoe kan die Heilige Gees ons innerlik verander en deur ʼn geestelike doop van ons lede van die liggaam van Christus maak as ons nie eers van sy bestaan bewus is nie? Waarop baseer mense hulle Christenskap as hulle hoegenaamd nie van die Heilige Gees en sy herskeppende werk bewus is nie? ʼn Blote verstandelike aanname van Christus sonder diep geestelike oortuigings sal nie ʼn wesenlike verandering teweeg bring nie, selfs al word dit ook uiterlik bevestig deur ʼn kerklike ritueel soos die waterdoop.

Dit is duidelik dat die groepie gelowiges wat Paulus in Éfese ontmoet het, nog nie die oorgang gemaak het van ʼn uiterlike Christus in hulle verstand na ʼn innerlike Christus in hulle harte nie. Hulle het Johannes die Doper se getuienis aanvaar dat Jesus die Messias is, maar dit het nie na ʼn persoonlike ontmoeting met Hom gelei nie. Hulle het die Verlosser net met hulle lippe bely, maar hulle harte was steeds koud en geestelik onveranderd. Die Here Jesus het baie met sulke hartelose vormgodsdienstiges in Israel te doen gekry en vir hulle gesê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:8-9).

Menslike leerstellings, belydenisskrifte en lippediens aan die Here is nie genoeg om ʼn veranderde hart tot gevolg te hê nie. Ons harte moet herskep word deur ʼn geestelike wedergeboorte. Jesus het dit onomwonde gestel aan Nikodémus, wat een van Israel se vooraanstaande geestelike leiers was: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3) Nikodémus kon glad nie begryp hoe ʼn persoon ʼn tweede keer gebore kon word nie, want hy het niks van ʼn geestelike geboorte verstaan nie. Jesus het hom oor sy onkunde berispe: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Joh. 3:10).

Die belangrikste opdrag wat God in die Ou Testament aan Israel gee, is: “[W]ees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Hierdie opdrag geld eweneens vir ons in die Nuwe Testament: “[S]oos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Ware heiligheid wat die beeld van God vertoon, kan net van binne af uit ʼn veranderde hart kom, wanneer die beginsels van God se geregtigheid deur die Heilige Gees op die tafels van ʼn gelowige se hart geskryf is (2 Kor. 3:3). Dit bepaal jou lewensbeginsels, verander jou persoonlikheid en lewenswandel ten goede en maak van jou ʼn spreekbuis vir die Here. Heiligheid kan nie van buite af kunsmatig deur die aanleer van sekere gedragspatrone aangeplak word en in kombinasie met ʼn verdorwe hart funksioneer nie, want die resultaat daarvan is skynheiligheid. Só ʼn persoon is soos ʼn witgepleisterde graf wat van buite af mooi lyk, maar daar is geen ware lewe in hom nie. Dit kan lyk of hy godsdienstig is, maar as gevolg van sy geestelike doodsheid is sy uiterlike vertoon vals, hy smeer sy sonde toe, handhaaf dubbele standaarde, en sy gesprekke getuig nie van die Here se waarheid nie. Trouens, hy verstaan nie eers die dinge van die Here nie en het ʼn baie beperkte en verwronge begrip daarvan.

Daar was verskeie uitstaande gelowiges in die Ou Testament wie se harte deur die Here verander is. Hebreërs 11 bevat ʼn erelys van geloofshelde uit hierdie tyd. Hulle kon almal getuig van veranderde harte, iets wat net die Here alleen kan doen: “En die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe” (Deut. 30:6). Hulle het, by wyse van spreke, ʼn geestelike hartoorplanting ontvang. Die Here sê: “... Ek sal julle ʼn nuwe hart gee en ʼn nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ʼn hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Eseg. 36:26-27).

Dit is verbasend dat Nikodémus nie die noodsaaklikheid van ʼn veranderde, weergebore hart begryp het nie. Geen wonder nie dat die gewone lede van die volk ook net lippediens aan die Here bewys het, terwyl hulle harte ver van Hom af was. Die belangrikste rede vir hierdie gebrekkige insig was onkunde oor wat die Here in sy Woord sê. Hierdie aanklag geld vandag nog steeds t.o.v. sowel teoloë en kerkleiers as lidmate: “Julle is godsdienstige leiers van julle kerk en julle weet nie dat ʼn mens geestelik weer gebore moet word sodat die Here sy hart kan verander nie? ... En lidmate, dit is tevergeefs dat julle die Here probeer dien deur die voorskrifte van die leiers na te volg, sonder dat julle harte in die saak is en julle die Here julle God met ’n opregte hart liefhet.” Dit is nie genoeg om God net met jou mond en jou menslike handelinge te vereer nie, daarom sê Jesus: “Nie elkeen wat vir my sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Die Here se wil met betrekking tot ʼn weergebore hart en ʼn veranderde lewe moet uitgevoer word, want so alleen word die mens van binne af geestelik en moreel vernuwe.

Die dissipels wat Paulus in Éfese ontmoet het, was die slagoffers van onkunde, daarom het hulle prontuit erken dat hulle nog nie van die Heilige Gees gehoor het nie. Dit beteken dat hulle nie van sy oortuigingswerk of enige van sy ander bedienings bewus was nie. Hulle het slegs van Jesus gehoor en besluit om sy volgelinge te word. Die voorwaardes van dissipelskap het hulle egter nie geken nie, en ook nie die rol van die Heilige Gees om dit ʼn werklikheid te maak nie.

Dieselfde probleme van onkunde oor die grondbeginsels van die evangelie van Christus het deur die hele kerkbedeling voortbestaan, en dit verklaar die hoë voorkoms van vormgodsdiens in die wêreld. Paulus verwys na nominale gelowiges en beskryf hulle as: “mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:5). Hy gee dan vir Timótheüs opdrag om hom van hierdie mense af weg te keer en geen deel aan hulle dooie godsdienstige gebruike te hê nie. Hedendaagse kerkmense wat ook nie van die Heilige Gees se wederbarende krag kan getuig nie, behoort ondervra en geleer te word: “Het julle al van die Heilige Gees gehoor, en het julle Hom vertrou om julle van jul sonde en verlorenheid te oortuig? Net Hy kan julle wederbaar en aan julle ʼn deel gee aan die nuwe lewe van Christus. Net Hy kan die Here Jesus ʼn werklikheid maak in julle lewens en julle ook in die hele waarheid lei om die Bybel reg te kan verstaan.”

Moderne predikers behoort ag te slaan op die volgende vrae: “Begryp jy die sleutelrol van wedergeboorte in die redding van sondaars, naamlik dat niemand hiersonder die koninkryk van die hemel kan beërf nie? Het jy self ʼn ervaring van wedergeboorte gehad toe jy uit die duisternis oorgekom het tot die wonderbare lig van Christus? Of beroep jy jou net op die uitverkiesingsleer en die toepassing van verbondstekens om mense salig te verklaar? Hoe kan hierdie dinge iemand innerlik verander sonder wedergeboorte?”

Verdere bedieninge van die Heilige Gees

Die geestelike groei van gelowiges in Éfese – en in baie gevalle die gebrek aan groei – rig ʼn sterk boodskap aan die eindtydse kerk, want dieselfde beginsels geld ook vir ons. Tydens sy derde sendingreis in die middelvyftigerjare van die eerste eeu, het Paulus meer as twee jaar lank in Éfese oorgebly en intensiewe onderrig aan gelowige Jode sowel as Grieke gegee. Sy verlengde onderrig vestig die aandag op die feit dat daar ʼn lang proses van geestelike groei is wat op die wedergeboorte van ʼn persoon volg. Die rol van die Heilige Gees hierin is van kardinale belang, want nadat die sondaar tot bekering gekom, Jesus as Verlosser aangeneem en deur die Heilige Gees lewend gemaak is, moet hy ook deur die Gees bekragtig, vervul en in die hele waarheid gelei word terwyl hy tot geestelike volwassenheid opgroei.

Daar is selfs onder weergebore Christene baie onkunde oor die verdere bedieninge van die Heilige Gees, daarom stagneer so baie van hulle geestelik en raak uiteindelik by dwalings betrokke. Dit is in hierdie verband dat herlewing baie belangrik is, want daar moet nuwe lewe en toewyding kom waar daar reeds lewe is – dit is wat hérlewing beteken. Christene wat hulle visie verloor het en geestelik lou, biddeloos en materialisties is, wat sonde begin goedpraat, hulle onderskeidingsvermoë vir dwalings begin verloor, en onbetrokke raak by evangelisasiewerk, moet tot ʼn nuwe selfondersoek en oorgawe aan die Here opgeroep word. Wanneer hulle opnuut gereinig en met krag uit die hoogte versterk is (m.a.w. as hulle herleef het), sal hulle begin getuig en sal die redding van siele die vrug van herlewing wees. Net ʼn geestelik kerngesonde gemeente waarin lidmate wandel deur die Gees, kan deur die Here gebruik word om ʼn verskil te maak onder ʼn verloregaande mensdom, asook onder vleeslike en dwalende Christene.

Paulus het hom daaraan toegewy om die jong gelowiges as dissipels op te lei wat alle aspekte van God se wil goed verstaan, en weet wat dit beteken om in die volheid van die Heilige Gees te wandel. Aan die einde van sy verblyf in Éfese het hy gesê: “... ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Hand. 20:27). Hy het die leerstellings van regverdigmaking en heiligmaking intensief verduidelik, en gelowiges ook laat verstaan dat die bedeling van die wet vervang is deur die bedeling van genade. As deel van hierdie oorgang het hy die gebruik gevestig om op Christus se opstandingsdag (Sondag) byeenkomste te hou en Nagmaal te vier: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek” (Hand. 20:7).

Slegs die volle waarheid van God se Woord kan gelowiges van geestelike dwalings vrywaar. Jesus self het gesê: “As julle in my Woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31-32). Selfs nie eers al die ouderlinge in die gemeente van Éfese was sterk genoeg in die waarheid gevestig nie, en Paulus het dit geweet. In sy afskeidswoorde aan die kerkraad het hy gesê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Hand. 20:28-31).

Paulus het nie net teen dwalings gewaarsku wat van buite die gemeente af sou kom nie, maar veral ook teen valse leerstellings wat in die binnekring van die gemeente self sou ontstaan. Dieselfde verskynsel is kenmerkend van die moderne Christendom, want die groot vyand van die ware kerk op aarde gebruik elke moontlike kanaal om Christene te mislei. Volgens die Bybel sal die duiwel met sy pogings voortgaan totdat die multigodsdienstige valse christus, die Antichris, beheer oor die hele wêreld verkry. Die feit dat die antichristelike gees reeds ʼn sterk invloed in verskeie Christelike kerke en kweekskole het, dui daarop dat die groot afval van die laaste dae in ʼn gevorderde stadium is: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Wrede wolwe is steeds besig om verwoestingswerk in die lewens van vormgodsdienstige en geestelik onvolwasse lede van Christelike kerke te saai.

Verdere onderrig deur Paulus

In die jaar 60 n.C. het Paulus uit die tronk in Rome ʼn sendbrief aan die gemeente in Éfese gestuur. Hierin bid hy hulle toe dat hulle onder die leiding van die Heilige Gees verligte oë van die verstand sal hê om die evangelieboodskap reg te kan verstaan (Ef. 1:18). Hy bid ook dat die Here hulle met die krag van die Heilige Gees sal versterk sodat hulle onwankelbaar in die liefde van Christus gegrond sal word en vervul sal word tot al die volheid van God (Ef. 3:14-19). Om prakties die volheid van God te kan ervaar, vereis dat ons deur toewyding en vervulling met die Heilige Gees sal opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus, “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Ons moet die nodige geestelike insig hê om tussen reg en verkeerd te kan onderskei, en ook geestelik sterk wees om teen sonde en versoekings te kan oorwin.

Paulus herinner die Efésiërs daaraan dat kinders van die Here in ʼn stryd teen die duiwel en sy bose werke gewikkel is, en ten alle tye sterk weerstand daarteen moet bied: “[G]ee aan die duiwel geen plek nie. Laat die een wat steel, nie meer steel nie. ... Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie ... en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 4:27-29; 5:11). Wanneer gelowiges hulle hieraan skuldig maak, bedroef hulle die Heilige Gees, daarom moet sulke situasies streng vermy word (Ef. 4:30). Dwalings en morele sondes staan direk teenoor ʼn lewe van vervulling met die Heilige Gees en kan nie daarmee versoen word nie: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).

Die leer van heiligmaking as ʼn dieper genadewerk word aan die gemeente voorgehou as die enigste oplossing vir oorheersing deur sondige begeertes. Hulle word daaraan herinner dat hulle vorige, sondige lewe deur die mag van die gewoonte gevestig is, en dat dit in ʼn daadwerklike stap van oorgawe afgelê moet word. In die plek daarvan moet gelowiges die Here vertrou om hulle deur sy Gees met die nuwe lewe in Christus te beklee. Sy opdrag is: “... dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

Die saak van heiligmaking is só van wesenlike belang dat Paulus dit in dieselfde brief herbevestig en voorhou as een van die vereistes wat op die bruidsgemeente rus om heilig en sonder gebrek voor die hemelse Bruidegom te verskyn: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee ... om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Ná die eerste reiniging van ons sondes wil Christus ons ook volkome heilig maak sodat ons sonder gebrek voor Hom kan verskyn by die bruilof van die Lam.

Wat was die gevolg van al Paulus se onderrig, waarskuwings en bemoediging aan lede van die gemeente in Éfese? ʼn Gemengde reaksie. Sommige lidmate het met hulle dooie vormgodsdiens voortgegaan sonder om ooit regtig by die Here uit te kom. Ander was waarlik weergebore maar nie met die Heilige Gees vervul nie. Hulle het vleeslik en moreel permissief gelewe en was geneig tot geestelike dwalings wat vir hulle sekere voordele ingehou het. Dan was daar ook die minderheid Geesvervulde kinders van die Here wat sterk standpunt vir die waarheid van die Woord ingeneem het, maar as gevolg van hulle streng standaard van heiligheid was hulle onpopulêr by die meerderheid lidmate.

Uiteindelik het vormgodsdiens in assosiasie met geestelike dwalings die oorhand gekry en die gemeente het veragter in die genade. Die Naam van Jesus is nog bely, maar heilige wandel en Godsvrug was ʼn rariteit. In die jaar 95 n.C. toe Johannes na die eiland Patmos verban was, het die verheerlikte Christus uit die hemel deur die Heilige Gees aan Johannes ʼn brief gedikteer wat hy aan die gemeente in Éfese moes stuur. Hierin word die gemeente geloof vir hulle ywerige arbeid in die gemeente van Christus, en ook vir die feit dat hulle die ernstige dwalings van sekere sektes teëgestaan het. Op die verborge, geestelike vlak van hulle lewe het hulle egter die toets gedruip. Hulle het Christus wel met hulle lippe bely, maar hulle harte was nie op Hom gerig nie en eerder deur vreemde liefdes vervul, bv. liefde vir hulle kerk. Hulle het nie ʼn persoonlike verhouding met die Here Jesus gehad nie, en daarom was Hy op die punt om sy Gees aan hulle te onttrek. Hy sê aan hulle: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

Die kandelaar met die olie daarin simboliseer die Heilige Gees wat die lig van Christus in die gemeente laat skyn. Wanneer die Here hierdie kandelaar onttrek, tree daar totale geestelike duisternis in die gemeente in, en dan sal dwalings en vormgodsdiens nog meer begin floreer, en alle werke van die duisternis sal toeneem. Die gemeente in Éfese het, behalwe vir ʼn klein groepie getroues, selfs nie op hierdie waarskuwing van Christus gereageer nie, en het uiteindelik heeltemal tot niet gegaan.

Veertig jaar nadat Paulus die twaalf dissipels van Jesus in Éfese aangetref het wat niks van die Heilige Gees geweet het nie, het feitlik die hele gemeente hulle eerste liefde verlaat en kon nie meer van ʼn persoonlike verhouding met Jesus Christus deur die Heilige Gees getuig nie. Die jong geslag is nie meer voor die uitdaging van wedergeboorte gestel nie, en gevolglik nie in die vrese van die Here onderrig nie. Deur hierdie optrede het die vervalle gemeente nie net die Gees van God bedroef nie, maar Hom ook weerstaan en uitgeblus.

In die lig van die lesse wat ons uit die ervarings van die gemeente in Éfese kan leer, is daar ʼn aantal indringende vrae wat ons aan onsself behoort te stel:

·         Is ons bewus van die Heilige Gees se oortuiging van sonde, asook sy krag tot wederbaring, of dien ons Jesus net met ons lippe sonder dat Hy op ʼn geestelike vlak deel van ons lewe is?

·         Is ons bewus van die gevare van ʼn vleeslike Christendom wat wel gered is maar nie met die Heilige Gees vervul is nie?

·         Besef ons dat klein kindertjies in Christus (onvolwasse Christene) nie insig het in die leer oor heiligmaking nie en ook nie ʼn duidelike begrip het van sonde nie?

·         Verstaan ons die leer oor heiligmaking en die opdragte wat daarmee gepaard gaan, naamlik die aflê van die ou natuur en alle neigings wat daarmee geassosieer kan word, en om beklee te word met die nuwe natuur van Christus?

·         Begryp ons die gevaar van skeuringe in ʼn gemeente wat die gevolg is van dwalings wat nie bespreek, in die lig gebring en vermy word nie?

·         Wanneer gaan ons agterkom dat ʼn gemeente wat geestelik siek is, nie op ʼn oortuigende wyse kan uitreik na die vleeslike Christendom en die heidendom rondom hom nie?

·         Is ons werklik bereid om aan die eis van heiligheid te voldoen en sodoende ons eie lewens op God se standaard gevestig te kry, sodat Hy ons doeltreffend in sy diens kan gebruik?

·         Het ons al die ontdekking gemaak dat ʼn gebrekkige gebedslewe, ʼn swak kennis van die Bybel en onvoldoende blootstelling aan goeie prediking ons geestelik kan lamlê en onbruikbaar in die Here se diens kan maak?

Die Here is onveranderlik, sy liefde vir sondaars grensloos, en sy begeerte om getroue diensknegte toe te rus om sy getuies te wees, onwrikbaar. Selfs al het die sonde meer geword, is die genade van die Here nog meer oorvloedig. Christus is magtig om te vergewe en ons teen die verskerpte aanvalle van Satan en sy koninkryk te beskerm. Hy is ook meer as gewillig om herlewing te skenk aan elkeen wat dit begeer en daarom bid, al is die meerderheid ook afvallig en onverskillig. Aanvaar die uitdaging om onder die getroue minderheid te wees wat nie net die seën van regverdigmaking deelagtig geword het nie, maar ook met hulle hele hart na heiligmaking streef. Daar was sulke manne en vroue in Éfese, en hopelik is daar in ons tyd ook ʼn gesonde kerngroep wat die Here vir ʼn groter ingryping in hulle lewe sal vertrou, sodat hulle bruikbaar kan wees in die uitbreiding van sy koninkryk.