Die Vrede van Israel en die Nasies

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Junie 2010)

Een van die grootste Messiaanse Jode van alle tye, Paulus, het aan die Efesiërs gesê: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede... want deur Hom het ons albei [Israel én die nasies] die toegang deur een Gees tot die Vader” (Ef. 2:13,14,18).

Solank as wat die nasies van die wêreld, insluitend Israel, voortgaan om die Here Jesus, sy Woord en sy evangelie van verlossing te verwerp, sal hulle strewe na vrede ‘n ontwykende droom bly. Uit eie keuse volg hulle die weg van postmoderne hervormings, wat die dryfkrag is agter die ontluikende post-Christelike samelewings van die 21ste eeu. Die Christelike beskawing van moderne tye is aan die verdwyn, omdat dit as uitgedien verwerp is deur die postmoderne mens wie se sinne deur die heerser van die bose wêreld verblind is (Joh. 14:30; Ef. 2:2).

Die noodwendige gevolg daarvan om weg te draai van Jesus Christus af, wat die lig van die wêreld is, is om die donker paaie van die god van hierdie wêreld te bewandel, wat homself as ‘n engel van die lig voordoen (2 Kor. 4:4; 11:14). Dit is ‘n sekere weg na geestelike verwarring, morele verval, sonde, ongeregtigheid, en uiteindelike vernietiging as ‘n individu of ‘n volk.

Die magtige VSA het na ‘n posisie van onbetwiste wêreldleierskap uitgestyg toe hulle vir twee eeue lank Christelike grondwette eerbiedig het. Hierdie feit alleen het nie van Amerika in alle opsigte ‘n Christelike volk gemaak nie, maar nogtans aan die ware Christendom aansienlike ruimte geskep om te kon gedy. Gedurende hierdie tyd het hulle sendelinge na baie volke gestuur, bose ideologieë soos kommunisme teëgestaan, geweier om amptelike erkenning aan die nie-Christelike gelowe te verleen, en was ook die belangrikste ondersteuner van Israel sedert die geboorte van die moderne Joodse staat in 1948. Hulle was basies ‘n vredeliewende nasie wat humanitêre projekte oral in die wêreld onderneem of gefinansier het. In die afgelope twee dekades het hulle egter radikaal van koers verander en neem nou die leiding in multigodsdienstige, postmoderne en post-Christelike hervormings. Hulle is ook onder die presidentskap van Obama duidelik besig om Israel die rug toe te keer. Die nuwe beleidsrigtings wat hulle  aanvaar het, kom op die minagting neer van “die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13). As gevolg  van hierdie verwikkelings is die VSA stadig maar seker besig om hulle grootsheid as ‘n nasie te verloor, en is op ‘n afdraandepad na middelmatigheid.

Dieselfde hervormings is ook in post-Christelike Europa ingestel. Geen wonder nie dat die EU begrip verloor het van God se plan vir die herstel van Israel in die land van hulle vaders. Hulle is tans besig om Israel se vyande te help en te versterk in Gasa, wat ‘n inherente deel van Israel is. Hulle bring daardeur noodwendig die vloek van Genesis 12:3; Joël. 3:2 en Sagaria 14:12-13 oor hulleself.

Wat Israel betref, is hulle deur die voortgesette verwerping van Jesus as Messias grootliks verantwoordelik vir die verergering van hulle eie probleme. Daar is geen moontlikheid vir langdurige vrede sonder Hom nie. Terwyl Israel en die nasies voortgaan om Christus en sy koninkryk uit hulle onderhandelings weg te laat, is hulle op pad na Armageddon waar Jesus, die Messias en Vredevors, die rebelse nasies sal oordeel. Israel sal ook grootliks ly gedurende die komende tyd van benoudheid, en slegs ‘n oorblyfsel van hulle sal gered word.

Solank as wat Jesus en sy boodskap van verlossing nie ernstig opgeneem word nie, sal daar geen vrede op aarde wees nie. Sy vrederyk sal slegs ingestel word nadat sy vyande geoordeel en vernietig is. Tot dan moet elkeen van ons (Jood én nie-Jood) ‘n persoonlike keuse oor ons verhouding met Jesus Christus maak. Hy is óf jou Verlosser óf Hy sal jou Regter wees. Daar is geen moontlikheid om ons afspraak met Hom te ontwyk nie, want elke mens moet die knie voor Hom buig. Jy sal óf voor sy regterstoel verskyn waar Hy sy getroue dissipels sal beloon (2 Kor. 5:10), óf voor die groot wit troon waar Hy sy vyande tot die poel van vuur sal verdoem (Op. 20:11-15).

Hoe gouer Israel en die nasies verder as politieke en militêre oplossings begin dink in hulle soektog na vrede, en ook ernstige aandag gee aan die geestelike aspekte van ons stryd, hoe gouer sal hulle die werklike oplossing ontdek. Daar is slegs Een wat die magte van die  duisternis kan oorwin – dié Een wat alle mag in die hemel en op aarde het (Matt. 28:18).  Aangesien die magte van die duisternis nie hulle stryd teen die koninkryk van God gewonne sal gee voordat hulle finaal verslaan is nie, moet ons seker maak dat ons aan die kant van die Oorwinnaar, Jesus, is. As geredde mense moet ons die geestelike wapens van die lig aangord (Rom. 13:12) en streng by die riglyne van God se Woord hou.

Die kritieke faktor

Dit moet duidelik verstaan word dat alle mense se eindbestemming deur hulle verhouding met Jesus Christus bepaal word. Nie net in Israel nie, maar oral in die wêreld, is Jesus “bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie ... en tot ‘n teken wat weerspreek sal word” (Luk. 2:34). Die aanspraak oor Jesus se Messiasskap was veral in Israel ‘n hoogs omstrede onderwerp. Hy was egter, onbetwisbaar, God wat mens geword en al die Messiaanse profesieë in die OT vervul het. Hy het nie alleen na die wêreld gekom om die mensdom te red nie maar ook om, in ‘n later stadium, diegene te oordeel wat die aanbod van verlossing verwerp het (Joh. 1:29; Hand. 17:30-31; Op. 6:15-17).

Individue sowel as volke moet met betrekking tot hulle verhouding met Jesus Christus beoordeel word en nie in die eerste plek op grond van hulle verhouding met Israel nie. Diegene wat waarlik gered is, sal begrip vir Israel se posisie hê en in die liefde van die Messias na hulle uitreik. Diegene wat vir God verwerp, sal ook die uitverkore volk verwerp. Mense wat geestelik verlore is, moet eers deur Jesus Christus met God versoen word voordat die sekondêre probleem van hulle eksterne verhoudings met ander volke suksesvol aangespreek kan word.

Die kritieke faktor wat Israel se posisie in die koninkryk van God én in die wêreld bepaal, is hulle verhouding met die Messias. Die ongeredde wêreld het nog altyd die volk van God geminag en selfs gehaat, en dit is van weinig waarde om getuienis teen hulle op te stapel as bewys van hulle anti-Semitisme. Indien Israel die weë van die Here bewandel, sal hulle vyande niks teen hulle kan uitrig nie. Die Here sê: “Ek sal vir hom [Jerusalem] wees, spreek die Here, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in” (Sag. 2:5).

Wat gebeur egter indien Jerusalem (die leierskap en kern van die Joodse volk) openlik hulle God minag deur nie hulle verbond met Hom te eerbiedig nie, en deur die Messias te verwerp wat na hulle toe gestuur is om hulle te red en te lei? Hulle sal die goddelike beskerming verbeur wat hulle gehad het en ‘n maklike prooi word vir hulle talryke vyande rondom hulle.

Kom ons kyk na die situasie wat tydens die eerste koms van die Messias geheers het. Het Hy die Romeinse Ryk gekritiseer oor hulle negatiewe houding teenoor Israel – of het Hy die Jode gewaarsku teen die gevolge van hulle gebroke verhouding met die Vader, en die  verbandhoudende feit dat hulle nie in staat was om Hom (Jesus) as hulle beloofde Messias te erken nie? Die antwoord is duidelik. Israel het hulle eie ondergang bewerk deur die Messias te verwerp, en kon nie hulle probleme in die eerste plek aan die vyandigheid van die Romeinse Ryk toeskryf nie. Jesus het gesê:

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38). “Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:43-44).

Israel was bykans tweeduisend jaar lank onder die nasies verstrooi, en gedurende hierdie tyd het hulle die ergste wreedhede denkbaar beleef (vgl. Lev. 26 en Deut. 28). Wat was die hoofoorsaak van al hulle lyding: die geestelike rebellie van Israel self, of die vyandigheid van die nasies? Die Here het gesê: “As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit, sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ek sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes... Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes... En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ‘n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ‘n wildernis en julle stede puinhope word” (Lev. 26:27-33).

Hoe kan ons ‘n objektiewe beoordeling van Israel se probleme doen sonder om hulle gebroke verhouding met God in oorweging te neem? Van watter waarde is dit om aanhoudend te fokus op die negatiewe houdings van Sirië, Iran, Rusland, Amerika en baie ander lande teenoor Israel? Sal dit enige bydrae tot die oplossing van die probleem lewer? Nie in die minste nie! Indien ons slegs Israel se teëstanders blameer, neem ons die risiko om onsself teen God se plan vir die geestelike herstel van Israel en die nasies uit te spreek.

God het gesê dat Hy kort voor Israel se finale herstel alle nasies teen hulle sal vergader (Sag. 12:3; 14:2). Dit sluit ook Amerika in, daarom hoef ons nie so verbaas te wees omdat die Obama-administrasie Israel begin vervreem nie. Die Here sal inderdaad die nasies oordeel omdat hulle teen Israel saamgesweer het (Sag. 14:12-13; Joël 3:2), maar hierdie aanvalle sal in die eerste plek toegelaat word om Israel te louter en na God toe te dryf (Eseg. 22:19-22). Die meerderheid van die geestelik verharde lede van Israel sal gedurende die komende tyd van die benoudheid van Jakob sterf (Jer. 30:7; Sag. 13:8-9).

Waarheid en leuen

Die geestelike dimensie van Israel se stryd is ‘n baie belangrike en beslissende faktor vir hulle toekomstige oorlewing. Alhoewel dit steeds ‘n baie omstrede onderwerp is, moet ons hierdie belangrike feit baie duidelik stel. Moenie slegs vaagweg na God verwys wanneer u met Israeli’s praat nie, want dit kan as aansporing vir ortodokse Jode dien om na die wet terug te keer en ook die tempel te herbou. Ons moet spesifiek na Jesus as Messias verwys, omdat Hy die enigste weg na die Vader is (Joh. 14:6). Sommige van die prominente Christelike bedienings in Israel is nie duidelik genoeg oor hierdie saak nie, en lewer dus nie ‘n noemenswaardige bydrae tot Israel se versoening met God nie.

Israel is as gevolg van hulle geestelike onkunde in ‘n swak posisie om die groot krisisse te kan hanteer waarvoor hulle te staan kom. Gedurende die komende tyd van goddelike oordele (die verdrukking) sal God op ‘n dramatiese wyse ingryp om Israel te red wanneer hulle in ‘n volskaalse Russies-Arabiese inval van hulle land, deur uitwissing bedreig sal word (Eseg. 38–39). Hulle sal ten volle besef dat God hulle vyande op ‘n bonatuurlike wyse deur vuur vernietig het (Eseg. 39:2-7). God sal vir hierdie reddingsoperasie geëer word, ook deur lede van die nie-Joodse nasies.

Ten spyte van die skielike geestelike ontwaking in ‘n ongelowige wêreld, sal kennis oor die persoon en werke van die ware Messias steeds baie gering wees. Satan sal daarin slaag om hierdie onkunde uit te buit deur aan die wêreld ‘n valse messias in die naam van Jesus te bied, naamlik die Antichris. Hy sal voorgee dat hy op ‘n kritieke oomblik deur God gestuur is om Israel én die hele mensdom uit ‘n volskaalse wêreldoorlog te red. Alle mense sal hom as die universele Vredevors verwelkom en hom as hulle verlosser aanbid (Op. 13:3-4). Israel sal ook sy aanspraak om die beloofde Messias te wees, volkome aanvaar (Joh. 5:43), aangesien hy aan ortodokse Jode die reg sal verleen om die tempel te herbou en die OT offerdiens te hervat. Deur hierdie daad sal hulle uitdruklik die groot offer van die ware Messias aan die kruis verwerp. Die valse messias sal hulle suksesvol deur sy messiaanse eise mislei.

Dit is ‘n algemene neiging onder menslike samelewings om blindelings ‘n leier te aanvaar wat ‘n twyfelagtige rekord het, maar nogtans buitensporige beloftes maak oor groot hervormings onder sy leierskap. Hierdie neiging is duidelik gedemonstreer deur Rusland se aanvaarding van ‘n kommunistiese leier in 1917, in die hoop dat kommunisme die werkersklas van  uitbuiting deur die rykes sou bevry. Kommunisme het egter na die wreedste diktatorskap, onderdrukking en ekonomiese ellende in die menslike geskiedenis gelei. Die Duitsers het op ‘n soortgelyke wyse ‘n swak berekende besluit geneem om volgelinge van Hitler te word, omdat hulle mislei is deur sy beloftes om Duitsland tot ‘n posisie van onbetwiste leierskap en voorspoed in die wêreld te ontwikkel. Hy het hulle egter na ‘n situasie van byna-uitwissing in  Wêreldoorlog II gelei. In beide gevalle het Christene en Jode swaar onder hierdie diktators gely. Die Antichris sal ook ‘n meesterlike misleier wees wat daarin sal slaag om die volle ondersteuning van Israel sowel as die internasionale gemeenskap te verkry om sy nuwe wêreldorde van politieke, godsdienstige en ekonomiese internasionalisme in te stel. Behalwe dat hy ‘n posisie van politieke en ekonomiese leierskap sal verkry, sal die lede van alle gelowe hom ook as hulle gemeenskaplike messias aanvaar en aanbid, en sodoende die koningskap en verlossingswerk van die ware Messias ontken.

Binne ‘n paar kort jare sal die wêreldwye aanvaarding van hierdie nuwe leier ‘n baie duur fout blyk te wees, omdat hulle verbond met Satan se valse vredevors die mensdom op koers na die grootste verdrukking van alle tye sal plaas (Dan. 12:1; Matt. 24:21). ‘n Oorblyfsel in Israel sal inderhaas na die berge moet vlug om die wraak van die valse messias te ontkom, nadat hulle hul verbond met hom verbreek het omdat hy homself in die Allerheiligste van hulle herboude tempel tot God verklaar het (Matt. 24:15-21; 2 Thess. 2:4). Die duiwel en die Antichris sal dan die nie-Joodse nasies deur die hulp van bose geeste mobiliseer om hulle magte in die Midde-Ooste te ontplooi vir ‘n konfrontasie met die ware Messias. Dit sal na die slag van Armageddon lei, wat die grootste oorlog van alle tye sal wees (Op. 16:13-16; 19:19).

Deur wie sal die stygende gety van boosheid gestuit word? Deur die Messias, want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik (Kol. 2:9). Wanneer sal dit gebeur? Met sy wederkoms sal Hy sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sit om sy vyande te verdelg (Op. 19:11-21; Sag. 14:2-13). Op daardie selfde dag sal die hele oorblyfsel in Israel gered word. Onder die sterk oortuiging van die Heilige Gees sal hulle Jesus as Messias erken. Die Here sê: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Hierdie rouklag verwys na Israel se diepe berou oor hulle ongeloof van die verlede. Hulle sal ‘n sterk bewussyn van hulle sonde van die verwerping van die Messias hê, opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en reiniging vind in die fontein teen sonde en onreinheid (Sag. 13:1). En so sal die hele Israel gered word (Rom. 11:26). ‘n Oorblyfsel van die nasies sal ook gered word wanneer hulle sal ween oor hulle sondes met betrekking tot die verwerping van die Messias (Matt. 24:30; Sag. 14:16).

Voordat ware vrede op aarde kan heers moet Satan, die verleier van die nasies, eers van die toneel verwyder en in ‘n bodemlose put gebind word. Dit sal inderdaad gebeur wanneer Christus weer kom (Op. 20:1-3). ‘n Aantal belangrike gebeurtenisse moet dus eers plaasvind voordat ware vrede op aarde kan heers:

·       Jesus Christus moet as Koning en Regter na die aarde terugkeer om aktiewe beheer oor wêreldsake oor te neem.

·       Die rebelle teen die koninkryk van Christus moet vernietig word.

·       Die duiwel moet gebind word om sy invloed op aarde te beëindig voordat die duisendjarige vrederyk van Christus ingestel kan word.

·       ‘n Oorblyfsel van Israel en die nasies moet gered word.

Op die oomblik is die duiwel nog nie gebind nie en het steeds groot invloed op aarde (2 Kor. 4:4; Ef. 2:2; 1 Joh. 5:19). Christus se koninkryk is nog nie hier geopenbaar nie, en Hy lei gelowiges deur sy Heilige Gees om soos ligte te skyn te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Ons moet die volle wapenrusting van God aantrek om staande te kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). Christus sal slegs by sy tweede koms die bose heersers vernietig en dan die regering op sy skouers neem (Op. 11:15; Hand. 15:16-17; Dan. 2:44-45; Psalm 2:1-12; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17).

Onder die huidige, moeilike omstandighede, is Jesus Christus die lig van ‘n donker wêreld en die Verlosser van Israel én die nasies. Net Hy kan ons met die Vader versoen en aan ons ware vrede gee. Slegs in Hom het ons ‘n hoopvolle toekoms. Om Hom te verloën, is ‘n sekere manier van selfvernietiging vir individue én vir nasies. Hy is die opstanding en die lewe – ook die blink môrester wat die koms van ‘n nuwe dag van God se rykste seëninge vir ‘n probleembelaaide wêreld aankondig.

Indien jy nóú vrede met God wil hê, aanvaar dan die Here Jesus as jou Verlosser en verkry vergifnis van jou sondes. Indien jy in die huidige wêreld teen boosheid wil oorwin, word dan meer as ‘n oorwinnaar in Christus deur met sy Heilige Gees vervul te word en te leer hoe om jou geestelike wapentuig te gebruik. Indien jy begeer om in die vrede en seëninge van Christus se vrederyk op aarde te deel, word dan een van sy dissipels en tree op in waardigheid van sy koninkryk. Indien jy ‘n woning in die hemel wil hê, word ‘n volgeling en getuie van dié Een wat nou besig is om vir ons ‘n plek te berei. Slegs deur die geliefde Seun van God kan jy toegang tot hierdie wonderlike seëninge verkry. Dit moet ons basiese boodskap aan Israel én die hele wêreld wees.