Die Bose Koning van die Noorde (1)

Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2014)

Israel was sedert hulle oorsprong as ʼn volk wat deur God geroep is, nog altyd deur vyande omring en dit het daartoe gelei dat oorloë of dreigende oorloë deel was van hulle bestaan. Die grootste bedreiging het meesal uit die noorde gekom, van waar magtige vyande op Israel toegeslaan het met die doel om hulle uit te wis. Hierdie oorloë was demoniesgeïnspireer omdat Israel God se uitverkore volk is aan wie sy Woord met ʼn boodskap van redding vir die hele mensdom toevertrou is (Rom. 3:1-2). Hulle was ook ʼn volk deur wie die Seun van God mens geword het in die koningshuis van Dawid (Luk. 1:26-35; 2:11), sodat Hy versoening kon doen vir die sondes van alle mense (Joh. 1:29; Rom. 3:23-24). Israel is verder bestem om eendag in die vrederyk saam met die Messias oor die wêreld te regeer (Jes. 60:12), maar dit sal eers gebeur nadat die hele oorblyfsel van die volk met die Messias versoen is (Jer. 31:31-34; Sag. 12:10; Rom. 11:25-26).

Geen wonder nie dat die komende Antichris ʼn wêreldmag sal monster om Israel te probeer uitwis en as finale doelwit teen hulle Messias in Jerusalem te veg tydens sy wederkoms (Op. 19:19). Hierdie bedrieër sal sy magsbasis noord van Israel vestig en as gevolg daarvan “die koning van Babel” (Jes. 14:4), “die koning van die Noorde” (Dan. 11:36-45), asook “die koning van Assirië” (Jes. 10:12-14) genoem word.

Die koning van die Noorde het deur die eeue heen verskeie magbasisse in die gebied ten noorde en noordooste van Israel gehad, en teen dié historiese agtergrond moet die eindtydse herlewing van hierdie bose koninkryk gesien word. Hoewel sommige van die vyandige gebiede meer oos as noord van Israel geleë is, het die bekende handelsroetes wat ook vir militêre doeleindes gebruik is, van die noorde af deur die huidige Sirië na Israel gelei. Die volgende was die belangrikste manifestasies van vyandige ryke noord van Israel, en in die lig daarvan sal die huidige geopolitieke en godsdienstige verwikkelinge in dié streek beoordeel word:

Die val van Satan

Die geskiedenis van die nasies begin in Génesis 11 by ʼn Babiloniese sameswering teen God en sy koninkryk. Sedertdien was die konings van Babilon almal tipes van die Antichris, wat die eindtydse hoof sal wees oor Satan se koninkryk op aarde. Soos wat Christus as die Seun van God die menslike verteenwoordiger van God die Vader is (Joh. 14:8-9), sal die Antichris as die seun van die verderf die menslike verpersoonliking van Satan wees (2 Thess. 2:3; Op. 17:8). Die duiwel heers oor die gevalle wêreld (Ef. 6:12; 1 Joh. 5:19), en hy sal die Antichris spesiaal bemagtig om as diktator heerskappy oor sy wêreldryk te voer: “... en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2).

Die finale oorname deur die Antichris kan egter eers plaasvind nadat sy teëhouer, die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees, tydens die wegraping weggeneem is: “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan …” (2 Thess. 2:6-10).

Satan het deur die eeue heen verskeie beheersentrums gehad van waar sy bose idees en instellings na ander gemeenskappe of lande versprei geraak het of op hulle afgedwing is. Hieronder was Babilon, Ninevé, Damaskus en Rome, maar Babilon het die mees prominente rol vervul. Alles dui daarop dat Babilon in die huidige Irak in die eindtyd weer tot prominensie sal verrys, omdat sy finale vernietiging nog nie plaasgevind het nie. Die eindtydse vernietiging van Babilon word in Jesaja beskryf as ʼn verdere gevolg van Satan se uitwerping uit die hemel, en om hierdie rede moet daar ʼn duidelike verband gesien word tussen die Babiloniese Ryk en Satan se voortgesette rebellie teen God nadat hy uit die hemel gewerp is:

“Dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: ... Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, en my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil opklim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ’n woestyn gemaak en sy stede verwoes het?” (Jes. 14:4, 12-17).

Dit is duidelik dat daar agter die aardse koning van Babilon ʼn bose geestelike mag was, en hy was die werklike gesagspersoon oor Babilon. Sy naam is Lucifer en hy is uit die hemel neergewerp waar hy homself as ʼn magtige engel met God probeer gelykstel het. Ná sy val het hy die aardse koning van Babilon onder sy beheer gekry en gebruik om sy koninkryk hier te vestig en verder uit te brei.

Volgens Openbaring 17 het Babilon deur middel van die valse godsdienste in verborgenheid gegaan en sodoende haar invloed verder versprei. Johannes beskryf haar as ʼn ontugtige vrou wat die moeder van die geestelik losbandiges is (Op. 17:5). Sy het in verskillende gedaantes onder die nasies voortbestaan en soveel aansien geniet dat sy heerskappy gevoer het oor die konings van die aarde (Op. 17:18). Babilon sal eers in die groot verdrukking verdelg word wanneer haar rol uitgedien sal wees en die Antichris sal eis dat alle mense op aarde hom alleen as God aanbid (Op. 13:15; 17:16; 18:1-8; 2 Thess. 2:4). Verborge Babilon se finale verdelging sal saamval met die vernietiging van die herboude Babilon van die eindtyd, wat ʼn groot handelstad in die gebied van die antieke Babilonië sal wees (Op. 18:21).

Die geskiedenis van Babilon, asook dié van ander stede en koninkryke van waar Satan groot beheer oor sy koninkryk op aarde uitgeoefen het, sal kortliks in oënskou geneem word.

Die Antieke Babiloniese Ryk

Volgens Génesis 10:4-10 het Nimrod vir homself ʼn koninkryk in Babel gevestig in die land van die Chaldeërs. Dit was nie alleen ʼn politieke ryk nie, maar sy heerskappy het ook ʼn sterk heidense godsdienstige inslag gehad. As ʼn geweldenaar en kampvegter vir die mens het Nimrod (sy naam beteken “Rebel”) homself in opposisie teen God gestel. Hy het nie net ʼn koning vir sy onderdane geword nie, maar ook ʼn god. As die bouer van versterkte stede in die land Sinear (dit is Babilonië) is Nimrod as die God van Vestings vereer. Hy is ook Bevryder en Kroondraer genoem, en selfs as die verpersoonliking van die songod gesien wat as die gewer van lig en lewe beskou is. Ná hom het alle Babiloniese en Assiriese konings hulleself vergoddelik. In ander wêreldryke, veral in die Romeinse Ryk, is hierdie gebruik ook nagevolg.

Babilon was sedert sy vroegste bestaan die middelpunt en simbool van ʼn Godverwerpende wêreldmag wat ʼn alternatiewe, sataniese koninkryk aan die gevalle mensdom gebied het. Vir sy geestelike ankers het die stad na die kosmiese godewêreld uitgereik. Dit word ook deur die naam “Babilon” weerspieël, wat “Poort na die gode” beteken. (Ná die taalverwarring is Babilon ook met die begrip “verwarring” geassosieer).

Die poort na die gode was ʼn tempeltoring (ziggurat) waarin die priesters opgeklim het om met die gode kontak te maak. Dit was ʼn tempel met ʼn traptoring bo-op. Deur middel van die spiraaltrap rondom die toring kon die bo-punt daarvan bereik word. Dit is deur die priesters gebruik as ʼn plek waar hulle gemediteer en een met die kosmiese wêreld geword het. Dit was die begin van transendentale meditasie. Waarnemings met die oog op sterrewiggelary is ook van daardie uitkykpunte af gedoen, en hierdeur is die mens se bestemming in sterrebeelde en kosmiese kragte gesoek (Jes. 47:13-14). Die mens het sy eie god en die bepaler van sy eie lotgevalle geword, en sodoende in die rebellie van Lucifer gedeel.

Die oorsprong van die idee van politieke, ekonomiese en godsdienstige globalisme kan ook na Nimrod se Babiloniese Ryk teruggevoer word: “En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ʼn stad bou en ʼn toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ʼn naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” (Gen. 11:4). Hulle ideaal was die vestiging van ʼn sterk gesentraliseerde wêreldmoondheid waarin alle mag in die hande van die koning is, en waarin niemand buite sy bevele mag optree nie. Die antieke Babiloniese Ryk, asook al hulle opvolgers, het hulle teen God se gesag verset en al hulle onderdane gedwing om net die gode van Babel te aanbid. Valse vorms van bonatuurlike krag en wysheid is aangemoedig, en Nimrod was bv. ook die hoof van die Babiloniese orde van waarsêers.

In Babilonië het die geskiedenis van die nasies ʼn uitdruklik goddelose koers ingeslaan en die weg begin baan na ʼn goddelose nuwe wêreldorde waarin alle mense op aarde die onderdane sal wees van Satan se spesiaal bemagtigde koning, die Antichris. Alle nasies wat hulleself nie geestelik en grondwetlik as volgelinge van die ware God identifiseer nie, is besig om ʼn antichristelike samelewingsorde te skep en ʼn pad te bewandel wat weg van die Here af lei. Hulle sal egter vroeër of later agterkom dat wanneer die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort (Jak. 1:15; vgl. Spr. 16:25).

God het vroeg in die geskiedenis van die Babiloniese volkere, meer as 4 000 jaar gelede, ingegryp om die grondslag te lê vir die vestiging van Godvresende volke wat die Here volg en dien. Soos wat Nimrod die grondlêer van ongelowige en misleide Babiloniese volke was, het die Here vir Abraham geroep om die grondlêer van gelowige volke te wees wat die Here dien: “En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ʼn groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ʼn seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:1-3).

Die roeping van die Here aan Abraham het behels dat hy ʼn “Hebreër” moes word – hy moes “oorkom” uit die land van Nimrod oorkant die Eufraatrivier na ʼn nuwe land wat God aan hom sou gee. Sy gelowige afstammelinge het aan die Here erkenning gegee vir hierdie reddingsdaad: “U is die Here, die God wat Abram uitverkies het en hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het en sy naam tot Abraham [die vader van ʼn menigte] gemaak het” (Neh. 9:7).

Abraham se gelowige nageslag het hulle afgesonder van die heidense praktyke van die Babiloniese volke wat in geestelike duisternis vasgevang was. Die duiwel het die heidene met haat teenoor God se volk vervul, daarom was Israel in onophoudelike oorloë teen heidense nasies gewikkel. Die sterkste heidense nasies was ten noorde van Israel geleë, vandaar die gevaar wat die heidense “koning van die Noorde” vir lang tydperke in die geskiedenis vir hulle ingehou het.

Die Assiriese Ryk

Nimrod het deur sy magspolitiek die grondslag gelê vir beide die Babiloniese en Assiriese ryke: “Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om ʼn geweldenaar op aarde te wees. ... En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear [Babilonië]. Uit hierdie land het hy getrek na Assur [Assirië] en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag en Resen, tussen Ninevé en Kalag – dit is die groot stad” (Gen. 10:8-12). In Miga 5:5 word Assur ook “die land van Nimrod” genoem, daarom sal daar na die Antichris beide as “Assur” (die Assiriër) en “die koning van Babel” verwys word. Hierdie twee ryke het beurte gemaak om naastenby dieselfde gebied in die Midde-Ooste te oorheers.

In omtrent 900 v.C. het Assirië die verdeelde Babiloniese Ryk onderwerp en die dominante mag in die streek geword. Hulle het hierdie posisie beklee tot in 612 v.C. toe die Babiloniese Ryk hulle oorwin en weer die heersers van die destyds bekende wêreld geword het. Die Assiriërs het Israel meedoënloos vervolg en telkens probeer uitwis. Tussen 740 en 722 v.C. het hulle talle lede van Israel se tienstammeryk in Samaria as gevangenes weggevoer na Assirië toe (2 Kon. 17). Dit het gebeur as gevolg van die voortdurende sondes van Israel (2 Kon. 17:6-23). In die suidelike koninkryk van Jerusalem was daar egter ʼn gelowige oorblyfsel en die Here het op ʼn dramatiese wyse ingegryp om die stad te spaar en die Assiriese leër wat rondom Jerusalem ontplooi was, te verslaan. Hy het gesê:

“Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid. En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd vyf en tagtig duisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak – was dit almal dooie liggame! En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Ninevé gebly. En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns Adramméleg en Saréser hom met die swaard neergeslaan” (2 Kon. 19:34-37).

Assirië is by Babilonië ingelyf nadat Ninevé in 612 v.C. deur koning Nebopolasser (die pa van Nebukadnésar) onderwerp is. Hierdie twee ryke het noue kulturele en taalkundige bande gehad, en hierdie assosiasie het begin tydens die veroweringstogte van Nimrod – die groot rebel teen die koninkryk van God.

Die herstelde Babiloniese Ryk

Die suidelike koninkryk van Juda is ook deur die koning van die Noorde onderwerp toe Jerusalem in die hande van Babilon geval het. Jeremia skryf hieroor: “En die woord van die Here het vir die tweede keer tot my gekom en gesê: Wat sien jy? En ek antwoord: Ek sien ʼn kokende pot wat van die noorde af kyk. Toe sê die Here vir my: Van die noorde af sal die onheil losbreek oor al die inwoners van die land” (Jer. 1:13-14). Volgens Jeremia 39:1-3 is hierdie profesie vervul toe die Babiloniërs die koninkryk van Juda oorwin het. Die Babiloniese ballingskap van die volk is in drie fases voltrek tussen 605 en 586 v.C. Jerusalem en die tempel is verwoes en Judéa het ʼn provinsie van Babel geword (2 Kon. 25:1-21).

Wat die samestelling van Israel betref, moet in gedagte gehou word dat die volk vir 250 jaar lank in twee koninkryke verdeel was, naamlik die tienstammeryk van Israel in Samaria en die tweestammeryk van Juda en Benjamin in Jerusalem. Gedurende hierdie tyd was daar verskeie migrasies van die noordelike na die suidelike ryk, met die gevolg dat Juda spoedig weer verteenwoordigend van al twaalf die stamme geword het (vgl. 2 Kron. 11:14-16; 15:9). Juda is die koninklike stam waaruit Dawid en later ook die Messias gebore is, en dit is die rede waarom al die stamme altyd met die stam van Juda assosieer. Die volksname “Israel”, “Jode” en “Hebreërs” word ook deur al twaalf die stamme aanvaar.

Gedurende die ballingskap het die twee groepe verder verenig geraak omdat Babilonië ook die voormalige Assirië verower en ingesluit het. Israel en Juda is dus saam in dieselfde gebied verdruk: “So sê die Here van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, Here van die leërskare is sy Naam” (Jer. 50:33-34).

Ballinge van die tien stamme het nie in groot getalle na Europa gemigreer en later as Wes-Europese blanke volke voortbestaan, soos soms beweer word nie. In die geskiedenis van Israel is daar geen grondslag vir die teorie van die “tien verlore stamme van Israel” nie, en derhalwe ook nie vir die Brits-Israelse Beweging, die Israelvisie en ander nie-Joodse “Israelgroepe” buite moderne Israel en die erkende Joodse bevolking van die wêreld nie. Wanneer Daniël tydens die ballingskap na Israel verwys, bedoel hy die verenigde volk wat uit twaalf stamme bestaan. Tydens en ná die Babiloniese ballingskap word daar net na een volk verwys wat as “Jode” én “Israeliete” beskryf word (Esra 6:8,16-17, 21; Neh. 1:6 en 4:1). Dieselfde afwisseling van name word ook in die Nuwe Testament aangetref, waarin daar na dieselfde volk met sy 12 stamme 174 keer as Jode en 70 keer as Israeliete verwys word (vgl. Hand. 2:5,14, 22, 36; 4:5-8; 13:5, 16-17; 22:3; 26:6-7; Joh. 3:1, 10; 4:22; Rom. 11:1; Jak. 1:1).

Die val van die Babiloniese Ryk het regstreeks verband gehou met ʼn ingryping van die Here weens hulle ontvoering en onderdrukking van die Israeliete, die verwoesting van die tempel en die ontheiliging van die tempelvoorwerpe deur Belsasar, asook die Babiloniërs se terugkeer na afgodediens nadat Nebukadnésar tot besinning gekom en die God van die hemel bo die afgode vereer het (Dan. 4:37). In een nag, terwyl Belsasar in die grootsheid van die Babiloniese mag geroem en God openlik gesmaad het, het die skrif aan die muur verskyn wat die einde van hierdie wêreldmag aangekondig het. Die Meders en Perse het Babel ingeneem en hulle mag gebreek (Dan. 5).

Die Medo-Persiese Ryk

Die val van die Assiriese en Babiloniese ryke het nie die einde van bedreigings vir Israel uit die noorde beteken nie, aangesien hulle net plek gemaak het vir verskeie ander anti-Joodse wêreldmagte wat geen ontsag vir Israel as die uitverkore volk gehad het nie. In die eindtyd sal hierdie vyandskap tot nuwe hoogtes opgebou word terwyl dit die weg baan na die wêreldryk van die Antichris.

Gedurende die Persiese oorheersing het die Israelse ballinge wat vroeër na Assirië en Babilonië weggevoer is, in groot getalle na hulle land teruggekeer om Jerusalem en die tempel te herbou (Neh. 2:1-9). Baie van hulle het egter in die lande van hulle ballingskap agtergebly, wat toe provinsies van die Medo-Persiese Ryk was. Daar het egter groot vyandskap teen hulle ontstaan wat tot ʼn gepoogde volksmoord gelei het (Est. 3:1-15). Deur ʼn ingryping van die Here het die Jode die reg gekry om hulleself te verdedig en sodoende die aanslag teen hulle oorleef (Est. 8:1–9:16).

Persië se mag is later deur Alexander die Grote van Griekeland gebreek, maar Persië het as ʼn ondergeskikte land bly voortbestaan. In 1935 het Persië ʼn naamsverandering ondergaan en staan sedertdien as Iran bekend. Israel het deur al die eeue heen ook as ʼn volk voortbestaan, ten spyte van ʼn internasionale verstrooiing van byna twee millennia. Sedert hulle herstel as ʼn onafhanklike volk in die land van hul vaders in 1948, het eeue-oue vyandskappe teen hulle ook weer begin opvlam – nie net van hulle Arabiese buurlande nie, maar veral ook vanaf Iran. Daar het al verskeie oproepe uit Iran gekom vir die uitdelging van die Joodse staat, omdat dit verdeeldheid in die Islamitiese wêreld skep. Die huidige haatveldtog is ʼn moderne herhaling van Haman se komplot in die antieke Persiese Ryk om ʼn Joodse volksmoord te pleeg. Op 29 Julie 2014 het Iran se godsdiensleier, Ajatolla Ali Khamenei, Israel ʼn dol hond en roofsugtige wolf genoem wat onskuldige mense in Gasa aanval.

Iran se olierykdom, hulle ontwikkeling van kernwapens, tesame met hulle fundamentalistiese Moslem-regering met sy diepgewortelde haat teenoor die Christendom en die Jode, maak van hierdie staat ʼn belangrike rolspeler in die Midde-Oosterse konflikte sowel as in wêreldpolitiek.

Die Griekse Ryk

Die Griekse Ryk (333-146 v.C.) het ʼn groot rol in vyandigheid teenoor Israel gespeel. Tydens Alexander die Grote se veroweringstog teen Persië het hy suidwaarts gedraai om Tirus en Egipte te onderwerp. Die Samaritane het hom tydens hierdie opmars aangehits om die tempel in Jerusalem te verwoes. Die Joodse historikus, Josephus, beskryf egter die verrassende wending wat Alexander se veldtog hier geneem het.

Toe Alexander besig was om Jerusalem te nader, het die hoëpriester, Shimon HaTzaddik, uitgegaan om die beroemde leërowerste te ontmoet omdat hy gevrees het dat die Grieke die stad en die tempel sou verwoes. Toe Alexander die hoëpriester sien, hy het van sy perd afgeklim en voor hom neergebuig – iets wat hy byna nooit gedoen het nie. Sy generaal, Parmerio, het hom na die rede vir sy ongewone gedrag uitgevra, waarop hy geantwoord het: “Ek het nie voor hom neergebuig nie, maar voor die God wat hom met die hoëpriesterskap vereer het, want ek het hierdie selfde persoon in ʼn droom gesien met presies dieselfde kleed aan.”

Alexander het die visioen van die hoëpriester met sy kleed as ʼn goeie teken gesien, en op grond daarvan Jerusalem gespaar en vreedsaam by sy ryk ingelyf. As ʼn eerbewys aan hom het rabbi’s beveel dat eersgebore Joodse seuns in daardie tyd die naam Alexander moes kry. Dit is vandag nog ʼn Joodse naam (http://www.simpletoremember.com/articles/a/the_greek_empire/).

Alexander die Grote het nie ná sy groot oorwinnings oor Medo-Persië teruggekeer huis toe nie, want hy is op 32-jarige ouderdom in die omgewing van Babilon aan malaria dood, asook komplikasies wat deur drankmisbruik veroorsaak is. Hy het geen erfgenaam gehad nie en sy ryk is tussen vier van sy generaals verdeel: Cessander het oor Griekeland en Macedonië regeer, Lysimachus  het Tracië en Bitinië gekry, Ptolemeus is oor Egipte aangestel en Seleusus het beheer oor Sirië gekry. Uit Israel se oogpunt was die laasgenoemde twee koninkryke van groot belang, omdat hulle nie alleen mekaar vir opperheerskappy beveg het nie maar ook probeer het om Israel in te lyf en te beheer.

In Daniël 11 word die magstryd tussen die koning van die Noorde en die koning van die Suide beskryf. Seleusus het beheer oor Sirië in die noorde gevoer en Ptolemeus het gesag oor Egipte in die suidweste gehad. Dit is merkwaardig dat die profesieë wat in 535 v.C. oor hierdie twee koninkryke uitgespreek is, honderde jare later, tussen 320 en 164 v.C., letterlik vervul is. Ons het dus alle rede om te glo dat die oorblywende profesieë wat op die eindtydse ryk van die Antichris dui, nét so letterlik vervul sal word.

ʼn Langdurige stryd is tussen die konings van die Noorde en die Suide gevoer, met ʼn wisselende mate van sukses aan albei kante. Uiteindelik het die koning van die Noorde die oorhand gekry en die sterkste mag geword. In hierdie voortslepende konflik het Israel dit dikwels ontgeld omdat hulle tussen dié twee moondhede geleë was (Dan. 11:11-16).

ʼn Groot deel van Daniël 11 word aan die diktator Antiochus IV Epifanes gewy, omdat hy so ʼn duidelike tipe van die eindtydse Antichris was (Dan. 11:21-35). Hy was ʼn veragtelike mens wat homself Epifanes (die skitterende) genoem maar sy bynaam was Epimanes (die mal mens). In sy optrede teen Israel het hy die ondersteuning van verskeie Jode gekry wat nie die wet eerbiedig het nie. Deur hulle het hy ʼn venynige aanslag op die godsdienstige Jode gedoen. Hy het die tempel in Jerusalem ontheilig en ʼn beeld van die afgod Zeus daarin opgerig. Israel is op dié manier gedwing om ʼn Griekse god in plaas van hulle eie God, Jahweh, te aanbid.

Daniël 11:31-35 is oorgangsverse tussen die historiese en eindtydse konings van die Noorde, omdat dit verwys na aktiwiteite wat kenmerkend is van Antiochus sowel as die Antichris. Die kern hiervan is die ontheiliging van die tempel deur ʼn afgodsbeeld daarin te plaas, asook militêre optrede om die aanbidding daarvan af te dwing en die staking van tradisionele godsdiensvorms te verseker: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Dan. 11:31). Antiochus Epifanes was nie die enigste diktator wat hierdie godslasterlike dinge gedoen het nie, want die Antichris sal sy voorbeeld hierin navolg (Dan. 9:27).

Die Here Jesus het in sy profetiese rede na die Antichris se ontheiliging van die tempel deur ʼn gruwelike afgodsbeeld verwys en dit spesifiek aan Daniël se profesieë gekoppel: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15-16, 21). Die Antichris sal die tempel in Jerusalem ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar (2 Thess. 2:4) en ʼn beeld van homself daarin laat oprig (Op. 13:14-15).

In Daniël 11:32-35 word melding gemaak van sowel Antiochus Epifanes as die Antichris se misleiding, op grond waarvan sekere Jode hom sal aanhang, terwyl ander weer verdrukking sal verduur eerder as om van die ware God afvallig te word.

Van vers 36 af tot aan die einde van die hoofstuk het al die verdere profesieë net op die eindtydse koning van die Noorde betrekking, naamlik die Antichris. Daniël sê: “En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god.” Antiochus Epifanes het homself nie tot God verklaar nie, maar die Antichris sal dit wel doen. Paulus verwys na hierdie teëstander wat homself bo God sal verhef en wat “in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).

Die Antichris sal ʼn militêre diktatuur instel en mense dwing om hom en sy beeld te aanbid en ook sy nommer op hulle regterhand of voorkop te ontvang. Sy verbond met Israel en die nasies sal vir een jaarweek van sewe jaar lank duur. In die middel van hierdie week sal hy die offerdiens in die herboude tempel afskaf, die Allerheiligste ontheilig deur ʼn beeld van homself daarin te plaas, homself tot God te verklaar en universele aanbidding van hom en sy beeld te eis (Dan. 9:27; Op. 13:15). Sy groot doel sal wees om teen Israel se komende Messias te veg, want hy sal van Bybelse profesieë bewus wees dat Christus aan die einde van die verdrukking sal terugkom en sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sit (Sag. 14:4-5; Op. 19:19).

Volgens die Afrikaanse Bybel sal die Antichris sy paleistente, m.a.w. sy militêre beheersentrum, tussen die see en die berg van die heilige Prag opslaan (Dan. 11:45), m.a.w. tussen Jerusalem en die Middellandse See. In die oorspronklike taal word daar egter in die meervoud na seë verwys. Die bedoeling is dat hy homself op die berg Sion in Jerusalem sal ingrawe, wat tussen die Dooie See en die Middellandse See is. Die NIV stel die duidelik: “He will pitch his royal tents between the seas at the beautiful holy mountain.”

Hier sal die Antichris die ware Messias inwag. Volgens Daniël 11:45 sal hy “aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.” Johannes sê hy sal saam met die valse profeet gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20). Paulus sê die Here Jesus sal hom “met die asem van sy mond verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet maak” (2 Thess. 2:8). Geen menslike óf duiwelse mag sal hom op daardie dag kan help nie, want Christus het alle mag in die hemel én op aarde (Matt. 28:18).

Die Romeinse Ryk

Met die opkoms van die Romeinse Ryk in die laaste eeu voor Christus het donker wolke van vervolging nie net oor die Joodse volk toegesak nie, maar sou die vestiging van die Christelike kerk in Jerusalem ook deur grootskaalse vyandigheid gekonfronteer word. Hierdie goddelose wêreldryk het die Jodedom en die Christendom fisies probeer uitwis, en Nero was die eerste keiser in Rome wat die vervolging van Jode en Christene tot staatsbeleid verhef het. Nero is in 54 n.C. op slegs 17 as keiser aangestel en hy het in 68 n.C. selfmoord gepleeg nadat hy in onguns geraak en tydens ʼn rebellie verwerp is. Gedurende sy bewindstermyn het talle Christene as martelare vir hulle geloof gesterf, en Nero het ook self die teregstelling van Paulus en Petrus gelas.

Hoewel die Romeinse Ryk se sentrale magsbasis nie in die Midde-Ooste of in Klein Asië ten noorde van Israel geleë was nie, het hulle alle gebiede rondom die Mediterreense See verower en beheer, en die Siriese provinsie later as ʼn basis vir verdere aanvalle op Israel gebruik. In dié sin het hulle die tradisie van die historiese konings van die Noorde voortgesit.

In die jaar 66 het Cestius Gallus, die Romeinse goewerneur van Sirië, met ʼn aansienlike taakmag na Jerusalem opgeruk en die stad beleër. Die Christene het Jesus se waarskuwing onthou dat Jerusalem se verwoesting naby sou wees wanneer die stad deur leërs omsingel word (Luk. 21:20), en het besef dat hulle baie haastig sou moes vlug. Cestius het in ʼn stadium gedink dat hy nie goed genoeg vir ʼn lang beleëring toegerus was nie, en besluit om die beleg te beëindig en sy magte terug te trek. Wat hy egter nie geweet het nie, was dat die Joodse magte in die stad ontmoedig en op die punt was om oor te gee.

Deur hierdie skielike wending van sake het die beleërde Jode in die stad opnuut moed geskep en gemeen dat God die vyand in hulle hand oorgegee het. Hulle het die Romeinse mag agtervolg en meer as 5 000 van die soldate in ʼn hinderlaag gelei en doodgemaak. Keiser Nero in Rome was erg ontstoke oor die vernedering van sy magte en het een van sy beste generaals, Vespasianus, gestuur om die Joodse gebiede te onderwerp en hulle dorpe en stede te verwoes. Vespasianus en sy seun Titus het ʼn gesamentlike mag van 60 000 man gehad. Hulle het een na die ander dorp in Galilea en Judéa ingeneem, duisende inwoners om die lewe gebring en die geboue aan die brand gesteek. Baie van die vlugtelinge het in Jerusalem skuiling gaan soek omdat hulle gemeen het dat die stad só goed deur sy dik mure beskerm was dat dit feitlik oninneembaar was. Die Christene (Messiaanse Jode) se optrede was egter die teenoorgestelde – hulle het die stad verlaat omdat hulle volgens profetiese waarskuwings geweet het dat sy verwoesting naby was (Luk. 21:20-24).

In September 70 n.C., ná ʼn beleëring van vyf maande, is Jerusalem ingeneem en verwoes. Die tempel is aan die brand gesteek en daarna tot op die grond afgebreek. In die proses het 1,1 miljoen Jode omgekom – die helfte deur oorlogvoering en die ander helfte weens hongersnood. Die oorblywende 97 000 oorlewendes is as krygsgevangenes weggevoer en baie van hulle is op slawemarkte verkoop. Net klein groepies Jode het in Judéa en Galilea oorgebly en hulleself as onderdane van die Romeinse Ryk hier hervestig. Hulle het steeds die hoop gekoester dat Israel in die toekoms weer ʼn vrye volk in hulle eie land sou wees.

Net meer as 60 jaar nadat Jerusalem deur die Romeine verwoes is, het die Joodse bevolking van Judéa sodanig herstel dat hulle in die Bar Kochba-rebellie (132-135 n.C.) opnuut teen die Romeinse oorheersing in opstand gekom het. In hulle gewapende rebellie het die Jode ʼn groot aantal Romeinse soldate laat sneuwel. Die leier van hierdie opstand, Simon Bar Kosiba, is deur die meeste van die ortodokse Jode as die Messias beskou en op grond daarvan die titel “Bar Kochba” verleen wat “Seun van ʼn Ster” beteken (“Kochba” is ʼn Aramese woord wat “Ster” beteken). Hierdie titel is van ʼn Messiaanse profesie in Númeri 24:17 afgelei: “’n Ster kom te voorskyn uit Jakob, en ʼn septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.”

Die Bar Kochba-oorlog het 3½ jaar lank geduur, meer as 500 000 Jode het gesneuwel en feitlik al die oorlewendes is uit die land verdryf. Die Romeine het selfs ʼn ploeg oor die berg Sion getrek as die letterlike vervulling van ʼn profesie wat die Here lank tevore deur Miga uitgespreek het, naamlik dat Sion soos ʼn land omgeploeg, Jerusalem ʼn puinhoop en die tempelberg ʼn bosrant sou word (Miga 3:9-12). Die gevolge van hierdie oorlog was so erg dat dit deur sommige historici as ʼn volksmoord beskryf is. Die oorlewende Jode het hulle siening oor Simon Bar Kochba heeltemal verander en hom daarna as ʼn vals messias beskou.

Keiser Hadrianus wat die groot Romeinse offensief teen die Jode gelas het, het homself ten doel gestel om Judaïsme heeltemal uit te wis omdat hierdie geloof die oorsaak van verskeie rebellies en die dood van talle Romeinse soldate was. Hy het die Tora verbied, die Hebreeuse kalender afgeskaf, die leermeesters van Judaïsme laat teregstel en die heilige boekrol seremonieel op die Tempelberg laat verbrand. Op die plek waar die heiligdom van die tempel was het hy ʼn Romeinse tempel laat oprig en twee standbeelde daarin geplaas – een van Jupiter en een van homself. In die Romeinse mitologie is Jupiter die koning van al die ander gode en ook die god van die lugruim. As ʼn hoofgod is hy die ewebeeld van die Griekse God Zeus.

In ʼn verdere poging om die gedagtenis aan Judéa en groter Israel heeltemal uit te wis, het Hadrianus hierdie plekname van die kaart af laat verwyder en die vroeëre Joodse woongebiede by die Romeinse provinsie “Sirië Palestina” ingelyf. Sodoende het hy Israel se etniese en godsdienstige karakter heeltemal probeer verander en hulle woongebied deel van die tradisionele land van die “koning van die Noorde” gemaak. Hy het die verwoeste Jerusalem ook herstig en dit Aelia Capitolina genoem. Jode is verbied om in die stad te kom, behalwe een keer per jaar tydens ʼn Joodse herdenkingsdag om donker tye in hulle geskiedenis in herinnering te roep.

Hierdie byeenkoms staan bekend as “Tisha B’Av”, wat beteken “die 9de dag van die maand Av”, wat die vyfde maand op Israel se godsdienstige kalender is (dit is in Julie of Augustus op die Gregoriaanse kalender). Tisha B’Av is ʼn vasdag waarop die Jode verskeie groot tragedies herdenk wat gedurende hulle lang geskiedenis op hierdie dag van die jaar plaasgevind het, veral die vernietiging van die eerste en tweede tempel asook die bitter gevolge daarvan deur die ballingskap van die volk. Tot en met die jaar 135 n.C. was daar ook ander tragedies wat op dieselfde dag van die jaar plaasgevind het, waardeur meer redes vir vas en verootmoediging tot die gebeure van 9 Av toegevoeg is. Die volgende vyf gebeure was die eerstes wat tot die uitroep van hierdie dag van roubeklag aanleiding gegee het:

1.    Die 12 spioene wat deur Moses uitgestuur is om die land Kanaän te verken, het op hierdie dag van hulle sending teruggekeer. Slegs twee van hulle, Josua en Kaleb, het ʼn positiewe verslag gelewer, terwyl die ander tien negatiewe kommentaar gelewer en daardeur vir Israel ontmoedig het om die Beloofde Land in besit te neem. As gevolg daarvan het die Here die hele ongelowige geslag gestraf en in die woestyn laat rondswerf totdat hulle omgekom het (Num. 13 en 14; 32:13).

2.    Die eerste tempel (van Salomo) is op 9 Av deur die Babiloniërs onder die leiding van Nebukadnésar verwoes. Dit is deur die Babiloniese ballingskap van die Jode gevolg.

3.    Die tweede tempel wat deur Esra en Nehemia gebou en in die eerste eeu voor Christus deur Herodes herbou is, is op 9 Av in 70 n.C. verwoes, en dit is gevolg deur die internasionale verstrooiing van Israel uit hulle land.

4.    Op 9 Av in 135 n.C. is die Bar Kochba opstand deur die Romeine onderdruk, met ʼn skrikwekkende dodetal van meer as 500 000 Jode.

5.    As deel van die Romeinse oorwinning oor die Jode op 9 Av 135 n.C., is dele van die Tempelberg omgeploeg om die verwoeste heiligdomme van Israel te beklemtoon.

Vanaf hulle basis in die Siriese provinsie (die gebied van die antieke koning van die Noorde) het die Romeine twee vernietigende oorloë teen Israel gevoer in ʼn poging om hierdie volk uit te wis, hulle kultuur en godsdiens te vernietig, die grense en identiteit van hulle land te verander, en ook in die plek van hulle verwoeste hoofstad, Jerusalem, ʼn Romeinse stad, Aelia Capitolina, te vestig wat van die keiser se familienaam (Aelius) en sy mitologiese afgod Jupiter (Jupiter Capitolinus) afgelei is.

Die Jode het self ook hulle probleme veel groter gemaak deur Jesus as Messias te verwerp en in sy plek ʼn vals messias (Simon Bar Kochba) aan te hang. Hulle nasionale verwerping van Jesus (behalwe vir ʼn klein groepie Messiaanse Jode) het deur die eeue heen voortgeduur, en as gevolg daarvan die verbeuring van die seën van die Here oor die hele volk (vgl. Matt. 23:37-38; Luk. 19:41-44; 21:24). Hierdie situasie duur tot in die eindtyd voort wanneer Israel weer te midde van ʼn groot bedreiging deur vyandelike magte, dieselfde fout sal begaan wat hulle voor die Bar Kochba-oorlog gemaak het: in die plek van die verwerpte Jesus sal hulle ʼn verbond sluit met ʼn vals messias wat sal voorgee om hulle redder in tye van benoudheid te wees (Joh. 5:43).

Die vyandskap wat Israel tydens hulle internasionale verstrooiing ervaar het, sou die lys van nasionale rampe wat veral op 9 Av herdenk word, nog aansienlik langer maak. Die Here het hulle deur die diens van Moses al op die seën van ʼn Godvresende lewe asook die rampspoedige gevolge van geestelike afvalligheid gewys:

“As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en doen ... sal Ek vrede gee in die land. ... En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard. ... En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ʼn God wees, en julle sal vir My ʼn volk wees. ... Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp ... dan sal Ek dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik. ... En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers. ... En Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes. ... En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ʼn swaard agter julle uittrek; en julle land sal ʼn wildernis en julle stede puinhope word” (Lev. 26:3-33).

Hoe het die swaard nie agter afvallige Israel aangetrek nie, en hoe sou hierdie volk nie verder vervolg en verdruk word nie! Hulle moes sonder die seën en beskerming klaarkom van hulle Messias vir wie hulle aan die Romeine oorgelewer het om gekruisig te word. Daarna het hulle self by herhaling teen die magtige Romeinse Ryk in opstand gekom, en dit het Israel in 70 n.C. en weer in 135 n.C. tot op die randjie van algehele uitwissing gevoer. ʼn Klein oorblyfsel van hulle het hierdie oorloë en ballingskap daarna oorleef, maar kon nêrens vir baie lank rus en vrede vind nie. Vyandskap teen hulle het telkens weer tot hoë hoogtes opgevlam.

Hoewel die Romeinse Ryk in 476 n.C. al sy mag verloor en as ʼn gesentraliseerde politieke eenheid van die toneel verdwyn het, het verskeie Europese volke in eie reg voortgegaan om magspolitiek te beoefen en die verstrooide Jode te vervolg. ʼn Ander nalatenskap van die Romeinse Ryk was die Rooms-Katolieke Kerk. Konstantyn het in 312 n.C. die eerste Christelike keiser geword, en spoedig daarna het hy gelas dat die vervolging van Christene gestaak moes word. Onder sy leiding het die kerk groot invloed gekry en op ʼn onbybelse manier tot ʼn magtige staatskerk ontwikkel met hoë magte wat aan die pous in Rome verleen is.

Kerklike magsmisbruik het dramaties toegeneem, en in die Middeleeue is verskeie militêre kruistogte deur die Vatikaan georganiseer (die sg. Kruisvaarders) om teen die vyande van die Christendom te veg – veral teen Jode en Moslems. Europese regerings is ook beïnvloed om Jode te vervolg en te verban. Sedert die elfde eeu het verskeie nasionale rampe die Jodedom in die maand Av getref – die meeste daarvan selfs op die 9de dag van die maand, en dit het die lys tragedies wat jaarliks op hierdie dag herdenk word, aansienlik uitgebrei. Duitsland het in die 20ste eeu ook ʼn groot bydrae gelewer om die voortbestaan van die Joodse volk opnuut ernstig te bedreig. Die volgende tragedies word tans ook op hierdie vasdag in herinnering geroep:

·         Die eerste Kruistog het in 1096 op 9 Av begin, waartydens honderdeduisende Jode in Frankryk en Duitsland om die lewe gebring is.

·         Op dié dag in 1290 is alle Jode uit Engeland verban.

·         Jode is in 1306 uit Frankryk verban, ook op hierdie donker dag vir Israel.

·         In 1492, op 9 Av, is alle Jode uit Spanje verban.

·         Op 9-10 Av in 1914 het Duitsland by die Eerste Wêreldoorlog betrokke geraak, en daardeur is ʼn baie groot veldtog teen Europese Jode begin wat uiteindelik tot die Joodse slagting in Wêreldoorlog II gelei het.

·         Op 2 Augustus 1941 (9 Av) het die SS bevelvoerder, Heinrich Himmler, formele goedkeuring by die Nazi-party verkry om die “finale oplossing” vir die Joodse vraagstuk te implementeer, naamlik ʼn Joodse volksmoord. Tydens die daaropvolgende Joodse slagting is ses miljoen Jode dood, wat bykans ʼn derde van alle Jode in die wêreld was.

·         Op 23 Julie (9 Av) in 1942 het die grootskaalse deportasie van Jode uit die Warskouse ghetto na Treblinka in Pole begin, waar tussen 700 00 en 900 000 van hulle in die gaskamers dood is. In Treblinka het meer Jode gesterf as in enige ander Nazi konsentrasiekamp, behalwe in Auschwitz waar een miljoen Jode dood is.

Die Romeinse Ryk, asook die voorsetting van hierdie ryk deur middel van Europese nasies en die Vatikaan in Rome, het ʼn baie groot rol gespeel in Joodse vervolging, en op verskillende maniere die tradisie van die bose koning van die Noorde voortgesit. Terselfdertyd het daar egter ook ander magte in die wêreld ontstaan wat hoogs vyandig teenoor Israel is, en hieronder is veral die Islamitiese nasies, Mongoolse nasies, asook Rusland in die agterhoeke van die Noorde. Die herstel van Israel in hulle eie land in 1948 het verskeie ou én nuwe vyandskappe teen hulle laat opvlam, terwyl die antieke koning van die Noorde ook besig is om te ontwaak en opnuut die gesag van die God van Israel uit te daag. In die volgende aflewering van dié artikel sal in die lig van Bybelse profesieë na hierdie nasies te rol gekyk word.