Toerusting met Krag uit die Hoogte

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2015)

Tydens die kruisiging van Jesus het die dissipels nog nie verstaan waarom Hy moes sterf en opstaan uit die dood, en dat dit die letterlike vervulling van Ou-Testamentiese profesieë sou wees nie – veral Jesaja 53. Hulle het gevrees dat Jesus se dissipels dieselfde behandeling sou kry van die Joodse Raad en het hulleself in ʼn vertrek toegesluit. Op die Sondag toe Jesus uit die graf opgestaan het, het Hy teen die aand tussen sy dissipels verskyn en hulle verstand geopen om die Skrifte oor sy kruisiging en opstanding te verstaan. Lukas beskryf dit só:

“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:44-49).

Johannes beskryf dieselfde ontmoeting só: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees” (Joh. 20:19-22). Ten spyte daarvan dat die dissipels gered was en reeds die Heilige Geen ontvang het, was hulle nog nie met die Gees vervul nie. ʼn Belangrike oorgawe moes nog gemaak word voordat Hy volle beheer oor hulle lewens sou verkry.

Die dissipels het ’n baie groot en lewensbelangrike opdrag ontvang, naamlik om ’n hele wêreld te evangeliseer wat in die mag van die Bose lê en dus vyandig is teenoor die Christendom. Om dit te kon doen, moes hulle die Heilige Gees in sy volheid ontvang sodat hulle toegerus kon word met Goddelike krag uit die hoogte. Die Heilige Gees was toe nog nie in sy volheid uitgestort om die dissipels te vervul en vir diens bekwaam te maak nie, daarom moes hulle in Jerusalem wag totdat hulle die seën ontvang het. Hulle moes self ook eers leeggemaak word van hulle vrese en oorheersing deur die vlees, of eie ek, voordat hulle met die Heilige Gees vervul kon word. Daar was dus belangrike struikelblokke wat uit die weg geruim moes word voordat hulle die belofte van die Vader kon ontvang om geestelik versterk en toegerus te word.

In die 40 dae ná die opstanding van Jesus was sy dissipels vreesbevange dat die Joodse Raad hulle ook, soos vir Jesus, sou vervolg en laat teregstel. Sommige van hulle het selfs besluit om na hulle vorige beroepe as vissers terug te keer. Toe vind daar egter ’n baie belangrike gebeurtenis plaas: 40 dae ná Jesus se opstanding het Hy sy dissipels na die Olyfberg begelei, van hulle afskeid geneem en na die hemel opgevaar. In sy afskeidswoorde het Hy weer na die krag van die Heilige Gees verwys wat sou kom oor dié wat daarop wag:

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ʼn wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg. ... Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ʼn aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers” (Hand. 1:8-14). Verskeie ander gelowiges, waaronder ook ʼn aantal vroue, het hulle by die dissipels aangesluit en saam op die vervulling met die Heilige Gees gewag.

Daar is ʼn paar belangrike redes waarom die Here Jesus die krag van die Heilige Gees aan sy getroue volgelinge belowe het, want dit was duidelik dat hulle hiersonder glad nie die opdrag van wêreldevangelisasie sou kon uitvoer nie. Die taak om die boodskap van verlossing tot aan die eindes van die aarde te verkondig, is die grootste opdrag wat ooit in die geskiedenis van die mensdom aan enige groep mense gegee is. In ʼn vyandige wêreld moet elke volk en stam en nasie die goeie nuus van die evangelie hoor, naamlik dat daar vergifnis van sonde en ʼn nuwe lewe in die Naam van Jesus Christus is. Sonder geloof in hierdie boodskap kan niemand gered word nie, want ʼn donker toekoms van ewige verlorenheid wag op alle ongelowiges. Die klein groepie dissipels van Jesus was egter eenvoudige mense sonder enige mag en invloed in die samelewing, en uit hulleself glad nie opgewasse vir die taak nie. Hulle eie regering, die Joodse Raad, was sterk teen die uitvoering van die Groot Opdrag gekant en het gedreig dat die doodstraf aan oortreders opgelê sou word. In die heidense Romeinse Ryk het daar ook wydverspreide vervolging op Christene gewag.

Die Here het egter vir die eise van hierdie stryd voorsiening gemaak en aan dissipels wat reeds deur die Heilige Gees gewederbaar is, ook die krag van die Gees geskenk. Hulle moes toegerus word met krag uit die hoogte sodat hulle ten spyte van alle teëstand en vervolging sou kon voortgaan om die evangelie te verkondig. Hierdie krag funksioneer egter heel anders as dit wat die meeste mense in gedagte het wanneer hulle aan krag dink. In die Ou Testament al lees ons: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare” (Sag. 4:6). Hy maak nie van fisieke dwang en militêre geweld gebruik om sy koninkryk uit te brei, soos wat baie van die valse gelowe deur die eeue heen gedoen het, en vandag nog steeds doen nie.

Die Here gee aan sy dissipels deur die Heilige Gees die innerlike krag en motivering om ten spyte van moeilike uiterlike omstandighede voort te gaan met hulle taak. Hulle word geestelik onderskraag om nie die stryd gewonne te gee nie. Die Here sou egter dikwels ook op bonatuurlike maniere ingryp om uitkoms te gee en deure vir hulle oop te maak. Dit is met die oog hierop dat Paulus uit die tronk kon skryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil. 4:13). Hierdie stelling het niks te doen met die voorspoedsevangelie waarin jy net jou vingers kan klap, dan rol die geld en al jou probleme verdwyn soos mis voor die son nie. Paulus het hierdie stelling gemaak toe hy in gevangenisskap was en selfs die doodstraf in die gesig gestaar het. Hy sê hierdeur dat hy in staat is om in moeilike tye staande te bly en selfs verdrukking en vyandskap te verduur terwyl hy die werk van die Here doen. Hy raak nie moedeloos en gooi tou op nie, maar is in staat om al hierdie aanslae die hoof te bied.

Die stryd wat ʼn Christen voer, is nie net teen mense nie, maar teen Satan en sy koninkryk wat oorlog verklaar het teen die koninkryk van God. Die Heilige Gees bekragtig ons ook om in hierdie geestelike stryd meer as oorwinnaars te wees: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte [dit is die krag wat ons deur die volheid van die Heilige Gees verkry]. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:10-12). Vleeslike Christene wat nog nie met die Heilige Gees vervul is nie, is nie opgewasse om hierdie stryd suksesvol te kan stry nie, daarom word hulle geestelike lewe meer dikwels deur neerlae gekenmerk.

Daar is nog ander redes ook waarom die Here Jesus die krag van die Heilige Gees aan sy dissipels belowe het. Dit gee aan ʼn Christen die vrymoedigheid om die evangelie te verkondig. Alle vrese en onsekerheid verdwyn. In Handelinge 4 lees ons van ʼn tyd ná Pinksterdag toe die dissipels groot vyandigheid ervaar het en die Here vir meer bystand, krag en genade gevra het om met hulle moeilike taak te kon voortgaan: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met groot vrymoedigheid u woord te spreek. ... En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Hand. 4:29, 31). Hulle het ʼn nuwe salwing verkry met krag uit die hoogte.

Kyk maar na die voorbeeld van Petrus se lewe. Minder as twee maande voor Pinksterdag, net voor die kruisiging van Jesus, was hy nog ʼn vleeslike Christen met ʼn wankelende geloof. Hy het nie volle begrip vir die gebeure van sy tyd gehad nie, hy was nie opgewasse om die vyandighede te trotseer nie, en het gevolglik geen vrymoedigheid gehad om duidelike standpunte oor sy geloof in te neem nie. Trouens, hy het nie eers die vrymoedigheid gehad om voor ʼn diensmeisie te erken dat hy ʼn volgeling van Jesus was nie, en Hom drie keer ná mekaar verloën. Selfs ná die opstanding van Jesus en sy verskyning aan die dissipels, het Petrus nie kans gesien vir die dreigemente van die Joodse volk nie, en besluit om na sy vorige loopbaan as visserman terug te keer. Die ander dissipels het ook so gevoel en saam met hom gaan visvang.

Op Pinksterdag, toe die dissipels met die Heilige Gees vervul is, was daar egter ʼn baie groot ommekeer in hulle lewens. Petrus, wat ʼn eenvoudige en ongeleerde man was, het soveel vrymoedigheid verkry dat hy reguit en vreesloos vir die godsdienstige leiers en hulle misleide volgelinge in Jerusalem gesê het: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het” (Hand. 2:36). Hy het hulle aangeraai om hulle tot die Here Jesus te bekeer sodat hulle vergifnis van sonde en die gawe van die Heilige Gees kon ontvang. Op daardie dag het drieduisend mense in Jerusalem kragdadig tot bekering gekom, en dit was die begin van die Christelike kerk op aarde.

Dieselfde vrymoedigheid om die evangelie te verkondig, word ook geskenk aan almal wat nie net hulle harte vir die Here gee nie, maar Hom ook vertrou vir die vervulling met die Heilige Gees. Waar jy vroeër vreesagtig en huiwerig was om Bybelstudies te lei en die Woord te verkondig, kry jy deur die Gees van God die vermoë en ook die ywer om dit wel te kan doen. Wanneer jy geestelik gesproke nog in die Egipte van die ou lewe of in die woestynlewe van vleeslikheid is, sal jy jouself nooit vir sulke take aanmeld nie.

Behalwe vir die bekragtiging deur die Heilige Gees om die evangelie in ʼn vyandige wêreld te kan verkondig, verleen die vervulling met die Gees van God ook aan ʼn gelowige dieper insig in die Bybel. Alle dissipels van Jesus het nodig om die Woord beter te verstaan, daarom lees ons in Lukas 24:45 dat Jesus die verstand van die dissipels geopen het om die Skrifte te verstaan. Ná Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, doen die Gees hierdie werk om ons in die hele waarheid te lei. Hy gee aan ons Goddelike wysheid om die verborgenheid van die evangelie te kan verstaan, en herinner ons ook aan alles wat die Here Jesus gesê het (Joh. 14:26; 16:13). Paulus bid die gelowiges in Éfese toe “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand ...” (Ef. 1:17-18).

Nie alle Christene wandel egter in die volheid van die Heilige Gees nie. Toe daar in die jong gemeente in Jerusalem diakens gekies moes word, was die opdrag spesifiek dat daar uitgekyk moes word vir manne wat met die Heilige Gees vervul was: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel” (Hand. 6:3). Hulle moes dus nie deur vleeslike arrogansie gekenmerke word nie, maar deur nederigheid en Goddelike wysheid. Wanneer hierdie standaard nie nougeset toegepas word nie, kan daar ʼn toestand ontstaan soos wat later in die gemeente van Korinthe geheers het. Paulus het vir hulle gesê: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. ... Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:1, 16). Hulle het ná hulle bekering geestelik gestagneer en was totaal onkundig oor die volheidslewe wat onder die beheer van die Heilige Gees gelei word.

Dit was juis met die oog op die oorskakeling van ʼn vleeslike na ʼn Geesbeheerde lewe dat die Here ʼn wagtydperk van tien dae voor Pinksterdag bepaal het. Die lengte van die wagtyd is nie belangrik nie, maar wel die noodsaaklikheid daarvan in beginsel. Alle Christene moet duidelik verstaan dat nadat hulle Jesus Christus as Verlosser aangeneem het, hulle aan die begin van ʼn nuwe lewe staan wat slegs suksesvol onder die leiding van die Heilige Gees gelei kan word. Net Hy kan die beeld van Christus in jou lewe uitwerk, maar dan moet Hy nie deur ʼn ongekruisigde vlees geblokkeer word nie. Die aard en neigings van die ou lewe is steeds deur die mag van die gewoonte in jou lewe gevestig, daarom is dit so belangrik dat jy die ou, sondige natuur (die vlees) in ʼn bewuste stap van volle oorgawe sal oorlewer om gekruisig te word. Die Heilige Gees sal jou van alle sondes en negatiewe gesindhede oortuig wat uit die vlees voortspruit. Van jou word net die bereidwilligheid verwag om die spesifieke sondes waarvan die Gees jou oortuig, te bely en te laat staan, asook die algemene vleeslike toestand waarvan dit deel is. Ons moet heeltemal met die ou lewe breek.

Dit is duidelik dat die vroeë dissipels se gebede gegaan het oor verootmoediging, selfondersoek, die belydenis van alle vrees, wêreldgesindheid, vleeslikheid, asook hulle vroeëre onkunde oor Jesus se Godheid. Hulleself, in die gedaante van die oue mens, het dus in die pad gestaan van ʼn lewe onder die beheer van die Heilige Gees. Met die oog hierop het Jesus vroeër al aan hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Dit verg ʼn daaglikse toewyding.

Om jouself te verloën beteken om die oue mens, verwysende na die sondige natuur waarmee jy gebore is, af te lê. Hoe word dit gedoen? Deur ʼn volle identifikasie met die kruis van Christus. Paulus het vir die Galásiërs gesê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20). Die ou Paulus was dood, en in Christus het hy nou ʼn totaal nuwe identiteit verkry. Paulus het homself grootliks daarin verbly dat hy van die ou lewe en sy slawerny aan die wêreld verlos is: “Ek roem in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14). Die struikelblok na geestelikheid is dus totaal verwyder in sy lewe, daarom kon hy met groot vrymoedigheid van redding én heiligmaking getuig.

Dit was ook die ervaring van die dissipels wat op die uitstorting van die Heilige Gees gewag het. Die oomblik toe die struikelblokke van ongeloof en vleeslikheid oorkom en verwyder is, het die Gees van God beheer oor hulle lewens geneem en kragtig deur hulle gewerk. Baie Christene redeneer egter dat die uitstorting van die Heilige Gees ʼn eenmalige gebeurtenis was, en dat dit gevolglik nie vir alle Christene nodig is om ná hulle bekering te wag op die belofte van vervulling met die Heilige Gees nie.

Dit is waar dat die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag ʼn eenmalige gebeurtenis was, maar dit is ook net so waar dat elke nuwe geslag Christene dieselfde struikelblok van vleeslikheid het wat eers oorwin en uitgeskakel moet word voordat die Heilige Gees volle beheer oor hulle lewens kan verkry. Alle gelowiges móét dus ná hulle bekering ʼn tyd van verootmoediging en volle oorgawe inruim om die dieper genadewerk van heiligmaking, of vervulling met die Heilige Gees, deelagtig te kan word. Sommige Christene doen hierdie oorgawe kort ná bekering, terwyl andere jare lank in ʼn geestelike woestyn van vleeslikheid rondswerf voordat hulle die Here vir heiligmaking vertrou. Israel het ná hulle deurtog deur die Rooi See (ʼn tipe van wedergeboorte) 40 jaar lank in woestyne rondgeswerf voordat hulle deur die Jordaanrivier die Beloofde Land binnegetrek het. Die Jordaanrivier eindig in die Dooi See en simboliseer die dood van die ou lewe wat afgesterf moet word.

Die feit dat daar relatief min Christene is wat die belangrike fase van heiligmaking in hulle geestelike lewe bereik, vestig net weer eens die aandag op die ernstige aard van die struikelblokke wat uit die weg geruim moet word voordat die Gees van God vryelik deur hulle kan werk. As hierdie probleem nie ten volle begryp en oorwin word nie, dan bly die volheidslewe ʼn ontwykende droom. Ek het self 13 jaar lank in die woestyn van vleeslikheid rondgeswerf sonder enige vordering in my geestelike lewe, en ken die frustrasie daarvan.

ʼn Studie van die vroeë Christelike kerk in die briewe van Paulus lewer oorvloedige getuienis van die groot aantal vleeslike Christene wat nog nie heiligmaking deelagtig geword het nie. Hulle was ʼn remskoen vir hulle gemeentes omdat hulle negatief, selfgesentreerd en geestelik onvrugbaar was, en as gevolg daarvan die oorsaak van ernstige verdeeldheid en twis in hulle gemeentes (vgl. 1 Kor. 3:1-3; Gal. 3:3).

As ons sinvol wil vorder in ons geestelike lewe, sal ons erns moet maak met die Here se opdrag om van alle besoedeling van die gees en die vlees gereinig te word (2 Kor. 7:1). In die proses moet ons sterwe aan onsself (Gal. 5:24) sodat ons met die Heilige Gees vervul kan word (Ef. 5:18). Slegs dan sal ons deur die Gees kan wandel sonder enige oorheersing deur die sondige vlees (Gal. 5:16), en vrugte dra wat by die bekering pas.

Die opdrag tot heiligmaking stel ons dus voor die groot keuse om alle struikelblokke af te lê, sodat ons met die volheidslewe in Christus beklee kan word. Ons hoef nie aanhoudend te bid dat die Here ons met sy Heilige Gees sal vervul nie, want Hy het reeds belowe om dit te doen. Ons moet fokus op dié dinge wat hierdie seën in ons lewe verhinder, naamlik die struikelblok van die ou lewe wat nog nie volkome afgelê is nie. Ons móét eers leeggemaak word voordat ons volgemaak kan word. Nie almal is egter bereid om die oue mens met sy werke af te lê, sodat hulle met die nuwe mens beklee kan word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid nie (Ef. 4:22-24).

Dalk is die prys van selfverloëning en hartsreiniging vir baie mense ʼn bietjie té hoog in terme van dit wat hulle alles sal moet prysgee en laat vaar. Daar is dalk sekere morele sondes, verkeerde geestelike opvattings, asook wêreldse vriende, wat versaak sal moet word. Moet egter nie huiwer om hierdie stap te neem nie, want die nuwe lewe en nuwe vriende wat jy in die plek van die oues kry, is oneindig beter en meer opbouend. Die krag wat die Here jou deur die vervulling met die Heilige Gees skenk, sal jou deur elke krisis dra en jou in staat stel om take in sy koninkryk aan te pak waarvoor jy vroeër in jou eie krag nie kans gesien het nie.  Eiebelang sal nooit weer die botoon in jou lewe voer nie, want die bevordering van die doelstellings van Christus se koninkryk sal vir jou baie belangriker as jou tydelike, aardse belange wees. As jy die Here eerste stel in jou lewe, sal Hy vir res sorg (Matt. 6:33) en daar sal genoeg ruimte vir die nakoming van jou ander verpligtinge wees.

Jy sal ook nooit weer regtig alleen en verlate voel nie, want in Jesus Christus het jy ʼn Vriend wat jou nooit sal begewe of verlaat nie. Jou hart sal vol vreugde wees en jy sal ook ʼn sterk verlange na sy wederkoms hê. Die Heilige Gees sal jou daagliks van sy teenwoordigheid bewus maak, en gebed sal ook ʼn veel groter rol in jou lewe speel.

Soos die dissipels van ouds moet ons ʼn tyd van verootmoediging en selfondersoek inruim, en daarmee voortgaan totdat die deurbraak gekom en die seën ontvang is. Wanneer jy ʼn volle oorgawe maak, sal die Heilige Gees jou oortuig van alles wat nog in die pad van ʼn rein hart staan (vgl. Ps. 51:12; 139:23-24). Ons het nie almal dieselfde struikelblokke in ons lewe nie. As jy egter getrou is om met al die verkeerde dinge te breek, word die ou natuur van al die voedingsbronne ontneem wat dit tot dusver in jou lewe gehad het. Eers dan kan die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe neem en onbelemmerd die natuur van Christus in jou hart en lewe vestig. Daarna sal jy daagliks kan wandel deur die Gees (Gal. 5:16) en vinnige vordering maak op die pad van heiligmaking wat na diensbaarheid en geestelike volwassenheid lei.