Matthéüs se Boodskap aan Israel

Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2014)

Die Nuwe Testament word ingelui deur vier weergawes van die evangelie van Jesus Christus. Hierdie beskrywings is onderling aanvullend en skep saam ’n geheelbeeld waarmee verskillende groepe mense kan identifiseer. Die eerste drie Evangelies bevat ’n sinopsis van die lewe en werke van Jesus (die sg. “Sinoptiese Evangelies”), waarin die geestelike behoeftes en eskatologiese verwagtings van die Jode in Matthéüs aangespreek word, dié van die nie-Joodse volke in Lukas, terwyl Markus nie ’n bepaalde groepsgerigtheid het nie. In Johannes se Evangelie val die klem veral op Jesus se Godheid en ewige selfbestaan.

Die mees uitstaande kenmerke van Matthéüs se boodskap aan Israel sal in oënskou geneem word in hierdie artikel.

As gevolg van Matthéüs se oorwegend Joodse oriëntasie is sy Evangelie aanvanklik net in Israel versprei. In die heel eerste vers van Matthéüs word Jesus aangedui as “die seun van Dawid, die seun van Abraham”. Uit hierdie Joodse geslagsregister blyk dit duidelik dat Hy die beloofde Messias en Koning van Israel is. Vergelyk hierdie beskrywing van Jesus met dié in Lukas se Evangelie wat vir ’n nie-Joodse gehoor geskryf is. Hier word Jesus se geslagsregister verder terug bereken tot by die eerste mens, Adam. Lukas beskryf Jesus as die Seun van die mens wat onder alle afstammelinge van Adam gekom het om te soek en te red wat verlore was. Lukas verwys ook na die tye van die nasies (Luk. 21:24), maar Matthéüs doen dit nie omdat sy gesprek primêr met Israel is, veral met die oog op die bekendstelling van die Messias aan hierdie volk.

Die Messiaanse benadering in Matthéüs is die rede vir die besondere aanbieding van feite oor die maagdelike geboorte en naamgewing van Jesus, sy tydelike verblyf in Egipte en vestiging daarna in Násaret, die feit dat Hy siekes gesond gemaak, in gelykenisse gespreek, Jerusalem op ’n esel binnegery het, en uiteindelik deur sy dissipels verlaat is, “sodat vervul kon word wat God deur die profete gespreek het” (1:21-22; 2:15, 23; 8:17; 12:17; 13:35; 21:4; 26:54). Ander belangrike besonderhede soos sy geboorte in Betlehem, die ongeloof van die Joodse volk, die aanstoot wat sy volgelinge aan Hom sou neem en die feit dat Hy vir 30 silwerstukke verraai sou word, word telkens aan Ou-Testamentiese profesieë gekoppel (2:5; 13:14-15; 26:31; 27:9). Hierdie aanhalings van bewysplase uit die Ou Testament is nie naastenby so prominent in die ander Evangelies nie.

Gebeurtenisse net voor en tydens die geboorte van Jesus het onteenseglik ’n boodskap van Goddelike ingryping oorgedra. ’n Engel het in ’n droom aan Josef verskyn en hom meegedeel dat die Kind in sy swanger vrou deur die toedoen van die Heilige Gees verwek is. Die naam van die Seun moes volgens die engel se opdrag Jesus wees (Heb. Jeshua – God is Verlossing): “... en jy moet Hom Jesus noem want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Matthéüs haal ook ’n profesie van Jesaja 7:14 aan: “Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Immánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons” (Matt. 1:23). Jesus is God (vgl. Jes. 9:5) en sy eerste doel was, en is steeds, om Israel met God te versoen, want slegs dan kan Hy ook hulle Koning wees.

Matthéüs vertel ook die verhaal van die wyse manne uit die Ooste wat aan Jesus as die Koning van die Jode hulde kom bring het (Matt. 2:1-12). Hulle het ’n ster gevolg wat gaan staan het bokant die krip in Betlehem waar Jesus gebore is. Daar het hulle die Kindjie gevind en aan Hom hulde gebring. Deur die eeue heen sou ontelbare mense uit alle volke na Jesus gelei word om in aanbidding voor Hom neer te buig. Dit wat Israel aanvanklik nie wou doen nie, naamlik om Jesus as Verlosser te erken en eer, sou deur miljoene ander mense gedoen word.

Johannes die Doper het voor Jesus se openbare bediening as wegbereider vir Hom opgetree (Matt. 3:1-12). Hy het daarop gewys dat Jesus sy volgelinge met die Heilige Gees sou doop, dat Hy sy dorsvloer sou skoonmaak en die kaf met vuur verbrand (Matt. 3:11-12). Dit gaan dus in die eerste plek vir Hom om mense se harte te reinig en sy volk op die weg van heiligmaking te plaas. Die kaf sou met vuur verbrand word, en dit dui op die veroordeling van onbekeerlike sondaars. Indien Israel hulle nie van harte bekeer van hul sondige weë en toegewyde dissipels van die Messias word nie, dan sou hulle geen gelukkige voortbestaan as God se volk hê nie, maar deur hulle eie toedoen voorwerpe van sy toorn word. Daar sal ook in Israel ’n skeiding tussen regverdiges en onregverdiges kom.

Matthéüs vestig die aandag hoofsaaklik op die gevolge wat Jesus se eerste én tweede koms vir Israel inhou, veral in die lig van hulle verwerping van sy Messiasskap. In die aanbieding van Christus se profetiese rede word Israel se pad deur die verdrukking aangetoon, en die belofte van die wegraping as ontvlugting uit God se oordele word nie aan die ongelowige volk voorgehou nie. Die klein minderheid Messiaanse Jode word egter bemoedig om aan Jesus getrou te bly, en hulle skielike verdwyning saam met die ware kerk van Christus word aan die meerderheid ongelowige Israeliete van die eindtyd as ’n teken gegee dat die ware Messias sy bruid kom haal het. Diegene onder hulle wat nie op hierdie teken ag slaan nie, sal navolgers van die valse messias word.

In Matthéüs word Israel gekonfronteer met die feit dat hulle deur die eeue heen ongehoorsaam aan die Here was en die profete vervolg het. Behalwe vir ’n klein groepie getroues het hulle die pad van sonde verkies bo die geregtigheid van God. In Matthéüs 23 voer die Here Jesus ’n gesprek met die goddelose volksleiers, waarin Hy prontuit vir hulle gesê het dat hulle verwerping van Homself as Messias die finale daad van hulle rebellie teen God was:

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39). In hierdie paar verse word die groot tragedie van Israel se nasionale verwerping van die Messias uitgespel. Dit sou onder meer die volgende gevolge hê:

·      Israel se huis sou vir hulle woes gelaat word – dit sluit die kern van hulle nasionale tuiste in, naamlik Jerusalem as hulle godsdienstige en politieke hoofsetel. Die Here het hulle duisende jare gelede al teen die gevolge van volhardende geestelike afvalligheid gewaarsku: “En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het. ... En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode dien” (Deut. 28:52, 64). Tydens hulle internasionale verstrooiing sou Joodse vervolging voortduur en hulle eie land ’n woesteny wees: “En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ’n wildernis en julle stede puinhope word” (Lev. 26:33). Dit het inderdaad in die eerste eeu ná Christus gebeur, nadat Israel as volk hulle Messias verwerp en ook die vroeë Christelike kerk probeer uitroei het. Nadat die Romeine Jerusalem in 70 n.C. verwoes en die oorlewendes in Israel verstrooi het, het baie eeue van intense Joodse vervolging gevolg.

·      Israel word ingelig dat hulle die Messias vir ’n tyd lank nie sou sien nie, maar dat Hy later weer na hulle sou terugkeer. In die tussentyd sou die troon van Dawid in Jerusalem in ’n vervalle toestand bly omdat die Messias-Koning nie daar is nie. Hierdie toestand sou gedurende die ganse kerkbedeling voortduur, terwyl die nasies die geleentheid kry om Jesus as Messias en Verlosser te aanvaar. Vir hierdie doel het die Here Jesus ná sy verwerping deur Israel, asook sy kruisiging en opstanding, sy dissipels na alle nasies uitgestuur (Matt. 28:19; Luk. 24:46-49).

·      Die besliste belofte word aan Israel gemaak dat hulle verwerping en verstrooiing nie finaal sou wees nie, maar dat Jesus as Messias-Koning na Jerusalem sou terugkeer, en dat hulle Hom dan van harte sal aanvaar: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Hierdie belofte staan vas, en met die oog daarop sê die Here Jesus: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17). Groot benoudheid en ernstige geestelike misleiding wag egter op die steeds ongeredde Israel voordat hierdie geseënde ontmoeting met hulle Messias sal plaasvind.

Waarskuwings teen misleiding

Omdat Jesus as Messias deur die volksleiers van Israel verwerp is, het hulle hulself as gevolg daarvan ook in ’n geestelike ballingskap bevind – ver weg van die waarheid af. Omdat hulle nie ’n tempel gehad het nie, kon hulle wettiese godsdiens met sy voorgeskrewe offers nie funksioneer nie, en het hulle óf hulle rug op godsdiens gedraai óf met ’n afgewaterde vorm van Tora-georiënteerde rituele in hulle sinagoges voortgegaan. Steeds het hulle aangehou hoop dat die Messias sou kom om Israel se nasionale lewe en tempeldiens weer in ere te herstel.

Die groot meerderheid Jode sien egter nie vir Jesus in die rol as Joodse Messias nie, en beskou selfs Jode wat vir Jesus aanbid as verraaiers van hulle eie volk omdat hulle na bewering agter die gode van die heidene aanloop. Hierdie ingesteldheid het net een logiese gevolg, en dit is dat Israel ’n nabootser as Messias sal aanvaar – iemand wat homself as ’n groot weldoener en redder van Israel sal voordoen. Jesus het hulle hierteen gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

In Christus se profetiese rede in Matthéüs het Hy geestelike misleiding as die belangrikste enkele teken van die eindtyd uitgesonder. Die dissipels het vir Hom gevra: “... wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matt. 24:3). Die woord wat hier vir “wêreld” gebruik word is, is “aioon”, wat ook vertaal kan word as ’n “lang tydperk” of ’n “bedeling”. Die vertaling van die New King James Version is beter: “And what will be the sign of Your coming, and of the end of the age?” Dit gaan dus hier oor die situasie wat sal heers aan die einde van die bedeling tussen Christus se eerste en tweede koms. Dit sal dan nog nie die einde van alle dinge wees nie, want die hele Messiasryk op aarde moet nog verloop voordat die eindoordeel plaasvind.

Jesus sê die volgende oor geestelike misleiding aan die einde van hierdie bedeling: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! [Heb. ‘Ek is die Messias!’] en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). ’n Menigte valse profete sal vir hierdie misleiding ingespan word: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. ... Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:11, 24).

Wanneer die finale valse messias verskyn, sal hy deur Israel aanvaar word as Messias. Hulle sal met hom ’n verbond sluit, en dit sal onder meer behels dat hulle die tempel in Jerusalem kan herbou en weer die offerdiens instel (Dan. 9:27). Dit sal die valse messias goed pas, want hierdeur sal hy Ortodokse Jode se voortgesette verwerping van Jesus se eenmalige offer aan die kruis verseker, en al hulle aandag op die hervatting van Ou-Testamentiese offers vestig. Judaïsme sal ’n bloeitydperk beleef, maar dit sal nie baie lank wees voordat die Jode die slagoffers van veel groter dwalings word nie.

Ontheiliging van die tempel

Die eerste paar jaar onder die bewind van die valse messias sal vir Israel die vervulling van ’n lank gekoesterde ideaal wees – die tempel sal gebou en in gebruik geneem word onder die leiding van die “Messias” self. Hulle valse vreugde sal egter van korte duur wees, want op ’n gegewe oomblik sal die Antichris ’n beeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat plaas en homself dan daar tot God verklaar (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Wanneer dit gebeur, sal Israel besef dat hulle deur ’n bedrieër om die bos gelei is, en dan hulle verbond met die selfaangestelde “Messias” verbreek. Die Antichris sal onmiddellik weerwraak neem deur ’n Joodse volksmoord te gelas. Israeli’s sal vinnig vir oorlewing uit Jerusalem en omstreke moet vlug, want dan sal die groot verdrukking aanbreek – dit is die tweede helfte van die Antichris se regering, wanneer hy as ’n militêre diktator op sy teëstanders sal toeslaan:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:15-22).

Die ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking word spesifiek aan die vervulling van Daniël se profesieë verbind. Met verwysing na die Antichris het hy gesê: “En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees” (Dan. 9:27). Die rede vir die opskorting van die offerdiens sal wees omdat die Antichris vir Israel sal verbied om verder aan Jahweh offers te bring. In plaas daarvan sal hulle die Antichris self (en ook sy beeld) as God moet aanbid. Hierdie dekreet sal militêr afgedwing word:

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak. ... En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word. En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie ... want hy sal homself bo alles groot hou” (Dan. 11:31-32, 36-37).

Dit is die profetiese agtergrond van die Here Jesus se profesie oor hierdie dramatiese gebeurtenis in die middel van die verdrukking. Let daarop dat dit ’n tipies Joodse scenario is wat niks met die kerk te doen het nie. Jode sal te voet uit Jerusalem na die berge vlug – waarskynlik in die rigting van die Dooie See. Die teken vir hulle skielike vlug sal die ontheiliging van die tempel in Jerusalem wees, asook die Antichris se eis dat alle mense hom as God moet aanbid. Groot haas sal vereis word, anders sal die Antichris se agtervolgende leërs hulle inhaal en doodmaak. Die Jode sal selfs moet bid dat hulle vlug nie vertraag word deur winterkoue en suigelinge wat gedra en versorg moet word nie. Hulle sal ook moet bid dat hulle nie op ’n Sabbat vlug nie, want die Sabbatswette vereis dat ’n persoon op daardie dag nie verder loop as die afstand tussen die Tempelberg en die Olyfberg nie, wat minder as twee kilometer is (vgl. Hand. 1:12). Wette van dié aard geld net vir Ortodokse Jode in Israel.

Die Here wil deur hierdie profesie verseker dat ’n oorblyfsel van Israel gedurende die donker dae van die groot verdrukking behoue sal bly, sodat hulle met Hom versoen kan word op die dag van sy wederkoms (vgl. Sag. 12:10). Die groot doel met die benoudheid waardeur Israel in die verdrukking sal gaan, is dus dat hulle geestelik tot besinning sal kom. Wanneer dit gebeur, sal hulle teruggaan na die boek Daniël en daarin ook ’n aanduiding kry van die tyd van die ware Messias se koms: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik” (Dan. 12:11-12).

Die jaarweke in Daniël 9 bestaan uit profetiese jare van 360 dae elk, waarin elke maand 30 dae het. Die sewe jaar kan in twee helftes van 1 260 dae elk verdeel word (vgl. Op. 11:2-3; 12:6; 13:5). Hierdie profetiese jare kan dus gebruik word om op die Gregoriaanse sonkalender sowel as die Jode se maankalender by ’n spesifieke datum uit te kom. Die volgende tydsbepaling is onderskeibaar uit Daniël 12:11-12:

·       Van die tyd af dat die valse messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ᾿n beeld van homself daarin te plaas, sal 1 260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Die Jode wat uit Jerusalem gevlug het, sal dus aan die einde van daardie jaarweek, nadat hulle 42 maande lank in ballingskap in die woestyn was, na Jerusalem optrek om die koms van die Messias in te wag. Ná ᾿n verdere 30 dae van rou sal die geestelike vereniging tussen die gelowige oorblyfsel en die Messias voltooi wees (Sag. 12:11-14; 13:1). Dan sal daar 1 290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse Messias homself in die tempel in Jerusalem tot God verklaar het.

·       ᾿n Verdere 45 dae sal in beslag geneem word deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem, en die oordeel oor die nasies (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32). Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1 335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1 260 dae van die groot verdrukking (Matt. 24:15-22) die koms van die Messias aanskou. Ná 1 290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1 335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer (Dan. 9:24).

Die oorblyfsel in Israel

Hoewel die Here Jesus in sy profetiese rede die pad van ongelowige Israel deur die groot verdrukking aandui, verwys Hy ook na die belangrike rol van die minderheid Messiaanse Jode wat wel in Hom glo. Die goue draad van Israel se toekoms loop deur hulle ervarings, ten spyte daarvan dat hulle gereeld in botsing was met hulle wettiese en vormgodsdienstige volksgenote.

In Matthéüs 24:36-44 vergelyk Christus die oordele van die eindtydse verdrukking met die sondvloed in die tyd van Noag. Die mense van daardie tyd was ongeërg oor die naderende oordele en het met hulle materialistiese en immorele lewens voortgegaan asof daar niks sou gebeur nie. Op ’n uur toe niemand dit verwag nie, het God se oordele hulle getref. Net diegene wat vir God aanneemlik was, is bewaar en het nie omgekom nie. Dieselfde ingryping deur God sal in die eindtyd plaasvind, wanneer gelowiges eers weggeneem sal word voordat die sondaars gestraf word: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie” (Matt. 24:40-42).

In hierdie Skrifgedeelte is daar enersyds ’n waarskuwing aan die goddeloses wat roekeloos op die oordele van God afstuur, en andersyds ’n waarskuwing aan die gelowiges om voortdurend vir die hemelse Bruidegom se skielike koms gereed te wees. Diegene wat wederkomsgerig leef, besef hulle verantwoordelikheid en aanspreeklikheid teenoor die Here vir alles wat hulle doen. Diegene wat die wederkoms uit die oog verloor, kan dalk geneig wees om hulle eie belange voorop te stel en in die proses onverskillig en vleeslik te begin leef: “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ’n dag dat hy dit nie verwag nie ... en sal hom pynig en hom ’n deelgenoot van die geveinsdes maak” (Matt. 24:48-51).

In ’n gelykenis hierná word gelowiges weer ernstig gewaarsku om vir die Bruidegom se koms gereed te wees, en Jesus wys daarop dat baie van dié mense wat dink dat hulle aan Hom behoort, glad nie vir die ontmoeting met Hom gereed is nie (Matt. 25:1-13). Die lampe van hulle getuienis gaan uit omdat hulle nie met die Gees van God vervul is nie – hulle is net meelopers.

Daar is ook ’n ander rede waarom hierdie tipies Joodse gelykenis gebruik word. Dit is gebaseer op tradisionele huweliksgebruike in Israel, toe die voornemende bruidegom eers die volle bruidsprys betaal en daarna vir ’n lang tyd na sy vader se huis gegaan het om ’n woonhuis vir hom en sy bruid op te rig. Wanneer dit voltooi is, het hy in die geheim gekom – gewoonlik tussen 6-uur die aand en middernag – om sy bruid te kom haal en saam met hom terug te neem. Tydens Christus se eerste koms het Hy die volle prys vir sy bruid betaal (1 Kor. 6:20; 1 Pet. 1:18-19; Op. 5:9-10). Daarna het Hy na sy Vaderhuis vertrek om vir haar plek te gaan berei (Joh. 14:2-3). Hierna sal Hy sy bruid kom haal en na die hemel wegvoer (1 Thess. 4:16-17).

Wanneer ’n groot groep Messiaanse Jode skielik tydens die wegraping verdwyn, sal baie ander Jode weet dat Jesus die ware Messias en hemelse Bruidegom is. Hulle sal Hom dan as Verlosser aanneem en gered word. Uit hierdie herlewing sal die 144 000 Joodse evangeliste van Openbaring 7:1-8 kom. Die groot meerderheid van die Jode sal egter nie op hierdie teken ag slaan nie, en voortgaan om in gehoorsaamheid aan hulle nuutgevonde “Messias” (die Antichris) die tempel in Jerusalem te herbou. Groot spanning en vyandskap sal tussen die aanhangers van die ware Messias en valse messias ontstaan. Die Here Jesus moedig gelowige (Messiaanse) Jode aan om Hom met groot ywer te dien, omdat Hy hulle daarvoor sal beloon wanneer sy koninkryk geopenbaar word (Matt. 25:14-30).

Openbaring van die Messias se koninkryk

Tydens die wederkoms van Christus in mag en majesteit sal baie van diegene wat die groot verdrukking oorleef het, met berou oor hulle sonde tot bekering kom: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30). Onder hierdie bekeerlinge sal ook die hele oorblyfsel van Israel wees (Sag. 12:10; Jer. 31:31-34). Hulle sal Hom dan toeroep: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Almal wat uit die verdrukking kom, sal daarna voor Christus se troon van heerlikheid verskyn sodat die ongelowiges onder hulle geoordeel kan word voordat Christus se regering van geregtigheid ingestel word. Net die gelowiges sal hierdie koninkryk beërf: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 25:31-34).

Onder die geseëndes wat die koninkryk van die hemel sal beërf, sal lede van Israel én alle ander volke wees. Hoewel die koninkryk aanvanklik (in Ou-Testamentiese tye) net aan Israel aangebied is, het hulle ongehoorsaamheid daartoe gelei dat lede van alle volke in die wêreld gedurende Nuwe-Testamentiese tye genooi word om toe te tree tot die Here se koninkryk. Die koninkryk van God sal op aarde geopenbaar word wanneer die Koning kom. In die lig hiervan het Jesus vir Israel gesê: “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis” (Matt. 8:11-12). Vir Jode (“die kinders”) wat nie die Here Jesus erken en aanvaar het nie, sal daar geen plek in sy koninkryk wees nie.

Die seën van die Here

In die kerkbedeling is dit nie die volk Israel wat die geseëndes van die Here is nie, omdat hulle die meeste van die tyd in verstrooiing was/is, en nie in verbintenis met Jesus Christus wat die Bron van alle seën is nie. Die spesiale seën van die Here rus in hierdie bedeling op sy getroue dissipels, wat die ware kerk onder alle nasies is. Hulle kry saam met die opdrag van wêreldevangelisasie die volgende belofte: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Die woord vir wêreld (“aioon”) verwys na die hele bedeling tussen Christus se eerste en tweede koms: “... and lo, I am with you always, even to the end of the age” (New King James Version).

In die boek Matthéüs word daar verwys na drie verskillende vorms en tydperke van evangelisasie:

·      Jesus het aanvanklik net na Israel gekom as hulle beloofde Messias-Koning. Indien Israel Hom deur ’n heelhartige bekering aanvaar het, sou Hy ook Israel se koninkryk herstel en van Dawid se troon af regeer het. Die geredde Israel sou dan daarna sy getuies onder die nasies gewees het. In die lig hiervan is sy apostels aanvanklik slegs na Israel uitgestuur om die evangelie van die koninkryk te verkondig: “Moenie gaan op pad na die heidene nie, ... maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt. 10:5-7). Israel het egter nie die boodskap oor Jesus se Messiasskap aanvaar nie, daarom is hulle koninkryk nie tydens Jesus se eerste koms herstel nie en het hulle ook hulself as volk gediskwalifiseer om sy getuies onder die nasies te wees.

·      Ná Jesus se verwerping en kruisiging was die oordele oor ongelowige Jerusalem ’n uitgemaakte saak (Matt. 23:37-38), en het sy klein groepie dissipels die opdrag gekry om die hele nie-Joodse wêreld te gaan evangeliseer: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). In hierdie lang tydperk word die evangelie van die genade van God verkondig (Hand. 20:24). Tydens hierdie hele bedeling sou die Israelgebaseerde koninkryk van die hemele nie herstel word nie, en sou die koninkryk dus verborge wees (nie van hierdie wêreld nie). Alle Christene sou moes leer om geestelik staande te bly in ’n wêreld wat in hierdie hele bedeling in die mag van die Bose lê (2 Kor. 4:4; Ef. 2:2; 6:12; 1 Joh. 5:19).

·      Nadat die kerkbedeling deur middel van die wegraping afgesluit is, sal die gedeeltelik herstelde Israel geestelik begin ontwaak en dissipels van die ware Messias word (vgl. Op. 7:1-8). Hoewel die meerderheid Jode in hierdie vroeë stadium van die verdrukking volgelinge van die valse messias sal wees, sal die 144 000 dissipels van die ware Messias die taak van wêreldevangelisasie oorneem by die kerk, wat weggeneem is. Hierdie Joodse evangeliste sal spesifiek weer die evangelie van die koninkryk onder alle nasies verkondig in die kort tydjie wat hulle sal hê om dit te doen. Dit is met verwysing na hulle bediening dat die Here Jesus in sy profetiese rede gesê het: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14).

Wanneer die koninkryk van die hemel (Christus se vrederyk) finaal ingestel is, sal die hele oorblyfsel van Israel gered wees: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34). Tydens die koninkryksbedeling sal hulle Christus se getuies in die wêreld wees: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). Wonderlike dinge wag vir hierdie volk nadat hulle tydens Jesus se wederkoms voor Hom neergebuig en uit hulle harte gesê het: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”