Die NG Kerk en Chiliasme

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2014)

’n Belangrike kenmerk van die evangeliese Christendom is geloof in die Bybel as die geïnspireerde en foutlose Woord van God. Die Bybel word letterlik, grammaties-histories, vertolk en dit vereis dat die basiese betekenis van elke woord en sin bepaal sal word in die lig van die taalkundige en historiese konteks waarin dit geskryf is. Die Bybel verskaf betroubare kennis oor die Here se reddende genade vir sondaars, en is ’n vaste riglyn vir ons lewe in al sy fasette (2 Tim. 3:15-17). Verder bevat die Woord van die Here ’n groot aantal profetiese openbarings oor die toekoms van gelowiges én ongelowiges (2 Pet. 1:19-21), daarom is dit belangrik dat ons uitsprake hieroor letterlik en ernstig sal opneem. Dit is deel van die Bybelse perspektief wat die Here ons op die lewe in sy geheel gee – ook op ons eindbestemming.

’n Verdere feit wat deurgaans in ag geneem moet word, is dat God se heilsplan vir die mens progressief geopenbaar word binne die raamwerk van verskeie bedelings (of dispensasies). Vir elke bedeling geld daar verskillende bepalings oor die wyse waarop uitdrukking gegee moet word aan God se tydlose opdragte met betrekking tot geloof, bekering en heiligmaking. As gevolg hiervan is daar tipiese kenmerke van die Ou-Testamentiese bedeling van die wet, die Nuwe-Testamentiese bedeling van genade, en die toekomstige bedeling van die geopenbaarde koninkryk van Christus ná sy wederkoms. Goot verwarring en ernstige misleiding word geskep wanneer beginsels van die bedelings van wet en genade met mekaar vermeng word (Gal. 5:2-4); net so ook is misleiding en valse profetiese verwagtings die gevolg van ’n vermenging van die kerkbedeling en die toekomstige bedeling van die koninkryk. Ons leef tans in ’n bose wêreld – nie in die vrederyk nie (Ef. 6:12; 1 Joh. 5:19) – daarom het ons die opdrag om die lig van die evangelie in ’n geestelik donker wêreld te laat skyn.

Wanneer die Bybel reg verstaan en verklaar word, sal Bybelse profesieë en die vooruitsig op die openbaring van Christus se duisendjarige vrederyk ook reg verstaan word. Die evangeliese Christendom met sy sterk verbintenis tot grondwaarhede in die Bybel, gaan hand aan hand met die letterlike vertolking van profesieë oor die eindtyd. ’n Evangeliese Christen behoort hom- of haarself dus ook as ’n chilias te kan beskryf. Die benaming “chilias” is afgelei van die Griekse woord “chilios” wat “duisend” beteken, en verwys na diegene wat glo in ‘n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. ‘n Sinoniem vir die begrip “chiliasme” is “millennialisme” wat van die Latynse woord vir duisend, nl. mille, afgelei is. ‘n Persoon wat nie in ‘n letterlike duisendjarige ryk glo nie, word ‘n antichilias of ‘n amillennialis genoem. Chiliaste glo dat Christus voor die duisendjarige ryk sal terugkeer en dat ons dus nie nou in die millennium, of vrederyk, leef nie; daarom word ons sienswyse ook as premillennialisme beskryf.

Antichiliaste glo egter dat ons nou in ’n geestelike sin in die duisendjarige vrederyk leef en dat die duiwel volgens Openbaring 20:1-3 reeds in ’n put gebind is. Op grond hiervan verhef hulle die status van die kerk deur koninkryksmagte daaraan toe te skryf. Hulle gebruik aksies soos die ekumeniese beweging en die transformasiebeweging om die kerk se mag en invloed kunsmatig te probeer verhoog sodat ampsdraers soos konings en vredevorste kan regeer. Hulle neem dus nie profesieë oor groot geestelike verval in die laaste dae in ag nie, omdat afvalligheid nie inpas by hulle scenario van ’n triomferende kerk nie.

Die verwerping van die letterlike vervulling van Bybelse profesieë beteken ook dat antichiliaste nie in die fisiese herstel van Israel glo nie omdat hulle hulself as die geestelike Israel van die Nuwe Testament sien (vervangingsteologie). In die gees van hierdie subjektiewe benadering tot die Bybel glo hulle nie in ’n wegraping en ’n persoonlike Antichris wat gedurende die verdrukking van sewe jaar oor die aarde sal regeer nie – ook nie in die oordele van God wat in hierdie tyd oor die aarde uitgestort sal word en op die slag van Armagéddon sal uitloop nie. Eindtydse profesieë word óf vergeestelik óf na historiese tye verplaas (preterisme) en bv. toegepas op die skrikbewind van die Romeinse keiser Nero in die eerste eeu ná Christus.

Die grootste Afrikaanse kerk in Suid-Afrika, die NG Kerk, was vir baie jare lank evangelies en chiliasties – in elk geval wat ’n groot aantal van sy teoloë, predikante en gemeentelede betref. Dit verklaar die feit waarom daar in die laat 19de eeu onder die leiding van Andrew Murray ’n herlewing in hierdie kerk uitgebreek het: verskeie Christene was ernstig in hulle verhouding met die Here en het Hom vertrou vir heiligmaking in hulle eie lewens én in die lewens van ’n groot aantal lidmate wat geestelik lou en afvallig was. Daar was ook aansienlike belangstelling in die vervulling van Bybelse profesieë. Dit het aan lidmate perspektief op wêreldgebeure gegee en hulle het uitgesien na die wegvoering van die gelowiges, die openbaring van God se koninkryk op aarde en die hemelse woning wat die Here Jesus vir ware gelowiges gaan voorberei het.

Die evangeliese erkenning van Skrifgesag, asook chiliastiese beskouings oor Bybelse profesieë, het egter radikaal in Suid-Afrika verander sedert die middel van die 20ste eeu. Tans is daar reeds so ver van hierdie beskouings af wegbeweeg dat Andrew Murray se siening oor  heiligmaking as werke-heiligheid (“metodisme”) afgemaak en chiliasme bestempel word as ’n sektariese leerstelling wat glad nie gereformeerd is nie. Hoe het die proses van verval verloop?

Die vestiging van chiliasme in SA

Teoloë van die NG Kerk het gedurende ’n periode van omtrent 75 jaar ’n leidende rol gespeel om chiliasme aan die Teologiese Seminarium in Stellenbosch te vestig, en daardeur ook in die res van die land te bevorder (Scholtz, 2013). Hierdie seminarium is in 1859 gestig. Een van die eerste dosente was prof. N.J. Hofmeyr, ’n uitgesproke chilias. Hy het van 1859 tot in 1907 hier onderrig aangebied. In 1877 is ’n pos as dosent aan die bekende chilias, ds. S.J. du Toit van die Paarl, aangebied maar hy het dit van die hand gewys. Prof. J.I. Marais, ook ’n chilias, is in hierdie pos aangestel, wat hy tot in 1919 beklee het. In die “Gereformeerde Maandblad” van September 1917 het Marais sy standpunt oor chiliasme só bevestig: “Duidelik is het, dat de wederkomst van Christus vóór het duizendjarig rijk de gangbare meening was in de Kerk de eeuwen door.” Twee ander dosente wat later aangestel is, prof. P.J.G. de Vos (1883-1919) en prof. C.F.J. Muller (1899-1915), was ook toegewyde chiliaste.

Die Teologiese Seminarium in Stellenbosch was inderdaad vir baie lank die bakermat vir die chiliastiese en evangeliese opleiding van predikante in Suid-Afrika. Timo Kriel (1978:5-6), wat vir baie jare lank boeke vertaal het vir die Christelike Uitgerwersmaatskappy (CUM) in Roodepoort, sê in die voorwoord van skrywer se boek “Die Laaste Nagwaak” onder meer: “Ek was goed bevriend met die stigters van die kweekskool op Stellenbosch: Professore Hofmeyr, Marais, De Vos, Muller en ds. Neethling. Hulle was almal chiliaste; trouens, daar was geen ander standpunt bekend nie. Antichiliasme het baie jare later uit Holland hier aangekom en die oorsaak geword dat ’n menigte wagters op Sion se mure hierdie waarhede op hulle boonste rakke weggepak het en ’n doodse swye bewaar. Wat gaan God van hulle eis?”

Die invloed van hierdie vroeë baanbrekers van teologiese opleiding in Suid-Afrika het egter lank bly voortleef. Een van hulle studente, dr. D.R. Snyman, ’n voormalige NG predikant in Stellenbosch, asook voorsitter van die Kweekskool se raad van kuratore, was ’n baie bekende chiliastiese skrywer wat onder andere in 1940 die boek “Die Komende Christus en die Komende Krisis” gepubliseer het. Hierin word die tekens van die tye, die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van die Antichris en die duisendjarige vrederyk ná die wederkoms van Christus beskryf. In die voorwoord van sy boek sê dr. Snyman: “Ons dink met dankbaarheid terug aan die ondersoek van die profesieë deur manne soos wyle prof. N.J. Hofmeyr, ds. G.W.A. van der Lingen, ds. S.J. du Toit, prof. C.F.J. Muller en prof. J.I. Marais. Laasgenoemde het hom in sy latere jare in die besonder op die bestudering van die profesieë toegelê.”

Dr. J.D. Kestell, ’n uitgesproke chilias wat vir drie opeenvolgende termyne moderator van die Vrystaatse sinode van die NG Kerk was, asook een van die vertalers van die eerste Afrikaanse Bybel, het in 1919 as redakteur van Die Kerkbode voorgestel dat ’n aparte tydskrif oor die vervulling van Bybelse profesieë uitgegee word. Hierdie chiliastiese tydskrif, “Ziet Hij Komt” (Kyk, Hy Kom) het sedert 1920 maandeliks verskyn. Die redakteur daarvan gedurende die eerste 20 jaar tot in 1940, was ds. A.G. du Toit van Kaapstad. Dr. D.R. Snyman was vir die volgende 9 jaar tot in 1949 die redakteur. ’n Groot aantal predikante en sendelinge van die NG Kerk was intekenare van hierdie tydskrif. Verskeie artikels uit die Nederlandse chiliastiese tydskrif, “Het Zoeklicht”, het ook hierin verskyn. Onder die persone wat gereeld artikels vir die tydskrif geskryf het, is dr. Kestell, J.H. Barneveld, ds. G.D. du Toit, D.F. du Toit (“Oom Lokomotief”), ds. J.F. Botha, ds. J.F. Marais, ds. D.S.B. Joubert, P.J.A. van der Merwe, dr. D.R. Snyman (die volgende redakteur) ds. A.C. Murray, ds. C.H. Radloff en ds. D.G. Malan (assessor van die sinode: 1925-1928, en later professor aan die Kweekskool in Stellenbosch van 1931 tot 1937).

In 1922 is daar in die tydskrif met ’n reeks artikels begin onder die opskrif: “Bij ons dispensatie kaart”. Onderwerpe wat behandel is, sluit in: Daniël se 70 jaarweke, Die Joodse teken en Israel se eindtydse herstel (dit was etlike jare voor die herstel van moderne Israel in 1948), die eerste en tweede opstandings, die wegraping, die huidige kerkbedeling, die komende verdrukking van sewe jaar, die Antichris, geestelike verval in die eindtyd, die millennium-tempel, die tye van die nasies, valse leerstellings soos Brits-Israelisme (die Israelvisie), ens. Kort Bybelstudies is ook aangebied, insluitend bydraes deur Scofield, Torrey en Moody. “Kyk Hy Kom” was ’n maandblad waarvan die aanvanklike intekengeld ses pennies per uitgawe was, of vyf sjielings per jaar.

Daar was ook verskeie ander predikante wat ’n groot bydrae gelewer het om chiliasme in Suid-Afrika te vestig en verder uit te brei. Een van die uitstaande persone op hierdie terrein was ds. S.J. du Toit, ’n teoloog, skrywer en die vader van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Hy was leraar van die NG gemeente Paarl-Noord (die sogenaamde Toringkerk). Sy seun was Jacob Daniël du Toit, alombekend as Totius (1877-1953). S.J. du Toit was “een van die skerpsinnigste manne van sy tyd” (NP van Wyk Louw), ‘n man met ’n versiende blik, iemand “wat sy tyd in baie opsigte vêr vooruitgeloop het” (PJ Nienaber). In sy boek, “S.J. du Toit van die Paarl (1847-1911)” sê die skrywer, V.E. d’Assonville, dat du Toit met sy 72 boeke die grootste Afrikaanse skrywer van sy tyd was. Hy was ook redakteur van vyf tydskrifte waarin duisende artikels verskyn het. Hy was ’n buitengewone kenner van die Joodse volk, en het die talle profesieë oor hulle eindtydse herstel letterlik verstaan en verkondig. Omdat Bybelse profesieë vir Du Toit so belangrik was, het Victor d’Assonville twee hoofstukke hieraan gewy, naamlik: “Die profesieë word gepreek” en “Die duisendjarige vrederyk”.

Wegbeweeg van chiliasme

In die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog het teologiese denke egter met rasse skrede in Suid-Afrika begin verander. Die histories-kritiese metode van Skrifuitleg het aan Europese Universiteite gevestig geraak, spesifiek ook aan die Vrye Universiteit in Amsterdam. Suid-Afrikaanse teoloë wat vir nagraadse studies na Europa toe is, veral na universiteite in Nederland, België en Duitsland, het hierdie nuwe benadering na Suid-Afrika oorgedra.

Die histories-kritiese benadering is geskoei op menslike denke en voortvloeiend uit ’n wetenskaplike wêreldbeskouing. As sodanig is dit skepties oor bonatuurlike verskynsels soos die skeppingsverhaal, die sondvloed en baie ander wonderwerke wat in die Bybel beskryf word. Diegene wat hierdie benadering huldig, is ook afsydig teenoor die letterlike vervulling van Bybelse profesieë, omdat dit volgens hulle menslik onmoontlik is om eeue voor die tyd foutlose profesieë aan te kondig. Op grond hiervan betwyfel hulle die outeurskap en datum van profetiese boeke soos Daniël. Hierdie kritici verklaar ’n eskatologiese boek soos Openbaring in sy eerste eeuse historiese konteks, en ontken dus die futuristiese vervulling daarvan.

Soos wat die nuwe, antichiliastiese benadering teen die middel van die 20ste eeu in Suid-Afrika begin veld wen het, is chiliasme toenemend uit teologiese leerplanne oor die eskatologie weggelaat, en was daar ook gou al hoe minder predikante wat bereid was om daaroor te preek. Die keerpunt het op die NG Kerk se algemene sinode van 1962 gekom toe ’n voorlegging deur dr. J.A. Heyns ten gunste van antichiliasme aanvaar is. In daardie jaar is die chiliastiese vertolking van Bybelse profesieë amptelik deur die NG Kerk verwerp, en sou hierdie teologiese wending in 1963 opgevolg word deur die NG Kerk Uitgewers se publikasie van dr. Heyns se boek: “Die chiliasme of duisendjarige ryk”. Dit het aansluiting gevind by boeke uit Europa, waarin daar onder andere sterk teenkanting uitgespreek is teen profesieë oor die letterlike herstel van Israel in hulle eie land as ’n voorspel tot die duisendjarige vrederyk.

In 1962 was daar veral onder lidmate van die kerk nog sterk steun vir die chiliasme in Suid-Afrika. Omdat hierdie onderwerp in verskeie gemeentes omstrede was, het die Natalse Sinode van die NG Kerk in 1957 ’n versoek gerig dat die Algemene Sinode riglyne oor die vertolking van Bybelse profesieë moes gee. Daar is eers in 1962 aan hierdie versoek voldoen.

Die voorlegging van dr. Heyns

Hieronder is enkele uittreksels uit dr. Heyns se verslag oor chiliasme wat in 1962 aanvaar is:

Chiliasme: waar of vals? Dr. Heyns het die inleiding van sy verslag versigtig verwoord. Hy sê: “’n Sekere rigting van denke wat die einddinge in ’n bepaalde lig stel en dit volgens ’n besondere patroon voorstel, staan bekend as die leer oor die Duisendjarige Vrederyk, of, soos dit ook genoem word, die Chiliasme. Met ’n sekte, in die tegniese sin van die woord, het ons hier nie te doen nie. Hierdie rigting vind aanhangers onder lidmate en predikante van verskillende kerke. ... Om hierdie rede juis mag die Chiliasme nie sonder meer as ’n denkrigting van minder belang opsy geskuiwe word nie. Want ook hierin gaan dit om – so wil ons graag glo – ’n eerlike worsteling om die suiwere formulering van die boodskap van die Skrif. ... Blyk dit dat hulle daarin geslaag het om die Skrif suiwer weer te gee, dan sal ons hulle moet gelyk gee ... en ons by hulle skaar. Maar blyk die teendeel, sal ons dit moet openbaar en ons van hierdie standpunt distansieer.” Hierna is alle moontlike argumente gebruik om chiliasme onder verdenking te bring.

Lengte van die vrederyk. Heyns sê: “Die direkte aanleiding vir die gebruik van die begrip duisend jaar word gevind in Open. 20:1-7 waar die apostel Johannes tot ses maal toe melding maak van die periode van duisend jaar.” Dr. Heyns wy ’n lang gedeelte van sy voorlegging aan ’n poging om aan te dui dat die sogenaamde vrederyk niks anders as die kerkbedeling is nie, en in elk geval nie letterlik opgeneem moet word nie – ook nie die tydsduur daarvan nie. Hy probeer om verskeie teenstrydige begrippe met mekaar te versoen, soos bv. dat die duiwel reeds gebind en verseël is sodat hy die nasies nie kan verlei nie, maar terselfdertyd loop hy los rond en heers in die harte van baie mense. Die letterlike vertolking van profesieë pas nie by sy konstruksies in nie, daarom verwerp hy dit: “Om die uitdrukking 1000 jaar dus letterlik te verstaan soos die Chiliaste, beteken dat die karakter van die boek Openbaring skade aangedoen word. Die werklike duur van hierdie periode kan nie in letterlike jare of eeue bereken word nie. ... Maar wat leer Openbaring 20:1-10 ons in sy geheel dan wel? Daar is ’n duisendjarige vrederyk, maar dit sien op die jare wat die Nuwe Testamentiese bedeling sal duur, m.a.w. ons verkeer nou reeds daarin. Gevolglik mag hierdie duisend jaar nie letterlik verstaan word nie.”

Die heerskappy van gelowiges. Oor die belofte dat gelowiges vir ’n duisend jaar lank saam met Christus sal heers tydens sy vrederyk op aarde, sê Heyns: “Die voorstelling dat die gelowiges met Christus heers is volkome Skriftuurlik. Ons verskil egter van die Chiliaste m.b.t. die vrae wanneer en waar hierdie heerskappy uitgevoer word. Na ons mening het dit uit die vorige opmerkings genoegsaam geblyk dat die heerskappy onmiddellik by die sterwe van die gelowige begin en gevolglik in die hemel uitgeoefen word.” Dié vorm van eksegese deur Heyns toon egter geen agting vir duidelike uitsprake in die Bybel dat hierdie heerskappy eers ná die eerste opstanding sal begin en vir ’n duisend jaar lank sal voortduur nie (Op. 20:6). Verder is die Bybel ook baie duidelik daaroor dat hierdie regering op aarde sal wees en nie in die hemel nie. Ná die wegraping sal die verheerlikte kerk in die hemel sê: “... en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:10). Daar is in elk geval nie nasies in die hemel wat met ’n ysterstaf regeer hoef te word nie! (vgl. Op. 2:27).

Israel se rol is uitgedien. Heyns sien Israel se rol as uitgedien die oomblik toe die Messias gekom en deur hulle verwerp is: “As Christus eers eenmaal gekom het, keer die normale en nie die abnormale terug nie; dan het Israel sy taak volvoer m.b.t. die vleeswording van die Seun van God en neem sy plek in die ry van volkere in.” Vir hom is die kerk die geestelike Israel van die Nuwe Testament, ons is nou in die duisendjarige vrederyk en die duiwel is gebind. Hy sê: “Deur [Christus se] verlossingswerk is die 144,000 verseël, d.w.s. die geestelike Israel is beveilig teen die mag van die hel. Die heerskappy oor die duiwel is dus nie eers in die verre toekoms nie, maar nou al reeds ’n werklikheid.” Hy spreek homself ook skerp uit teen enige moontlikheid dat die hele Israel in die toekoms gered sal word: “Nêrens kry ons die indruk in die Skrif dat daar ’n volksbekering sal plaasvind nie.” Hoe kan ’n teoloog so-iets sê? Dit druis regstreeks in teen wat die Here self in Jeremia 31:31-34 sê, en wat ook deur Paulus in die Nuwe Testament bevestig word: “En so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). In elk geval is die 144 000 verseëldes van Openbaring 7 nie die Nuwe-Testamentiese kerk nie, maar geredde Jode – 12 000 uit elk van die 12 stamme van Israel (Op. 7:4). Antichiliasme lei na ’n onbybelse vorm van vergeesteliking en vervangingsteologie. Heyns trek ’n streep deur Israel se eindtydse herstel: “Israel as godsdienstige grootsheid – soos dit in die Ou Testament was – word nie herstel nie; as sodanig is sy taak afgehandel.”

Augustinus se sienswyse. Johan Heyns skaar homself volkome by Augustinus se aanspraak dat die kerkbedeling met die beloofde koninkryksbedeling gelykgestel moet word: “Wanneer Christus weer sal kom op die wolke van die hemel, sal dit nie wees om hier op aarde ’n vrederyk te stig nie. ... Ewemin is ’n bevoorregting van die Jode, wat daarin bestaan dat hulle na die heilige land terugkeer, in ooreenstemming met die Skrif – aldus Augustinus. Israel is volgens hom slegs ’n fase in die geskiedenis van die Godsryk, tipies van karakter, simbolies van aard en slegs afbeeldend van wat die heilige, algemene Christelike Kerk en die ryk van die heerlikheid is en sal wees. Vir Augustinus is die duisendjarige ryk die koningheerskappy van Christus waarin ons nou al reeds verkeer, d.w.s. die periode van die Christelike Kerk is die periode van die volheid van die tyd. Só groot was die invloed van Augustinus se kritiek op die Chiliasme dat dit voortaan as ’n veroordeelde ‘kettery’ bekend gestaan het – ofskoon niemand veroordeel is alleen ter wille van sy Chiliastiese gevoelens nie. Geen wonder dus dat ons in die latere eeue en in die Middeleeue slegs by enkele sektes Chiliastiese voorstellinge terugvind. Die Kerk en sy geestelike leiers het hierdie denkbeelde verwerp.” Wat dan van die NG Kerk self, wat tydens sy vroeë geskiedenis vir die beste deel van ’n eeu uitgesproke chiliasties was? Die kerk van die donker Middeleeue kan nouliks as normatief vir die waarheid voorgehou word, veral in die lig van die feit dat Augustinus ook die belangrikste kerkvader van die Rooms-Katolieke kerk is.

Koninkryk of antichristelike oorheersing? Volgens Augustinus en alle antichiliaste leef ons nou in die koninkryksbedeling wanneer die duiwel gebind is. In terme van hierdie scenario word groot oorwinnings oor boosheid en ’n wêreldwye Christelike transformasie in die vooruitsig gestel. Daar is egter ’n baie groot probleem met hierdie siening, want wanneer gaan die duiwel losgelaat word en wat gaan dan van die Christelike koninkryk word wat Augustinus en sy aanhangers op aarde gestig het? Sal dit ondergaan en die knie voor die Antichris moet buig? Ten einde hierdie dilemma te ontkom, beweer die meeste antichiliaste dat een of ander historiese figuur soos Nero die Antichris was, en dat die kerkbedeling dus nie in ’n groot verdrukking sal eindig nie. Dr. Heyns erken egter die stelling dat die duiwel aan die einde van die “vrederyk” losgelaat gaan word: “Ons glo dat ons nou al reeds in die duisendjarige ryk lewe, dat elke gelowige wat sterwe tot Christus opgeneem word en dat Satan nou gebind is maar later losgelaat sal word en in die optrede van die Antichris die hoogtepunt van sy verwoestingswerk sal bereik.” Wat verwag antichiliaste werklik aan die einde van die kerkbedeling – ’n Christelike of ’n antichristelike koninkryk?

Die gevolge van antichiliasme

Die diskreditering van die chiliastiese vertolking van Bybelse profesieë het geweldige implikasies vir die heersende Skrifbeskouing en die erkenning van Skrifgesag in verskeie kerke gehad – ook in die NG Kerk. Die verwerping van die letterlike, grammaties-historiese metode van Skrifverklaring het nie net by veranderde denke oor Bybelse profesieë gebly nie, maar is daarna ook op ander leerstellings toegepas. Spoedig sou ’n groot aantal Bybelse stellings vergeestelik en metafories verklaar word, en sou daar wegbeweeg word van letterlike begrippe soos die hemel, die hel en die duiwel, en selfs die maagdelike geboorte en Godheid van die Here Jesus. Die Bybel self sou sy integriteit as ’n outentieke openbaring van God aan die mens verloor, en uiteindelik sou hierdie aangepaste en hervertolkte vorm van die Christendom ’n leë leerstelling sonder enige geestelike inhoud word.

Wanneer daar ’n sluier oor Bybelse profesieë getrek word deur hulle primêre betekenis te ontken, is die pad oop om ook op ander terreine ’n afwaartse aanpassing van Bybelse standaarde te doen. Op hierdie manier gun die mens aan homself meer vryheid om sy eie sienings op die Bybel af te dwing, van onaangename werklikhede af weg te kom, ’n makliker manier van verlossing te bedink, ’n meer verdraagsame houding teenoor sonde in te neem, en daardeur effektief die smal pad van die Here by die breë pad van sonde te laat aansluit. Sodoende bou die selfregverdigende mens aan sy eie koninkryk en strek homself nie uit na die toekomstige koninkryk van Christus wat ná sy wederkoms geopenbaar sal word nie.

Ten spyte van al die veranderings en verval was daar nog altyd ’n paar manne wat nie by die omverwerping van beskouings oor die profetiese woord betrokke was nie. Een daarvan was ds. W.H.M. Oosthuizen wat in 1963 ’n boek gepubliseer het onder die titel: “Die wegname van die gemeente”. Op bl. 84 sê hy: “Die verwerping van die leer van ’n wegname vóór die Verdrukking hang ook baie nou saam met die verwerping van die leer aangaande ’n toekomstige Vrederyk op aarde. Die opvatting, naamlik dat ons tans reeds in die Vrederyk lewe, terwyl die Satan ook reeds gebonde is sedert die kruisiging, kan ons nie aanvaar nie, want dit is duidelik in stryd met die uitsprake van Openbaring 20. Hierdie onderwerp is meer breedvoerig deur die skrywer behandel in ’n ander werk met die titel: As die Seun van die Mens Kom. In laasgenoemde werk het ons ook reeds aangetoon dat vele Gereformeerde teoloë tans ’n onhoudbare middeweg inslaan met betrekking tot Israel en die Vrederyk, deurdat ’n herstel van Israel aanvaar word, dog sonder om daarmee ook die Vrederyk te aanvaar. Treffend skrywe dr. H. Berkhof in hierdie verband: ‘Beide onderwerpen hangen samen en wel zo, dat het herstel van Israel onze gedachten naar een komend vrederijk leidt’ (Christus de Zin der Geschiedenis, bl. 144).”

Preke en boeke van hierdie aard het egter spoedig ’n rare verskynsel in gereformeerde kerke geword, met die uitsondering van die Evangelies-Gereformeerde Kerk wat steeds amptelik die chiliastiese standpunt huldig. ’n Hele nuwe geslag van antichiliastiese predikante is sedert 1962 deur die drie groot gereformeerde kerke opgelei, met die gevolg dat boodskappe oor die herstel van Israel, die eerste fase van Christus se wederkoms tydens die wegraping, die verskyning van ’n persoonlike Antichris, die verloop van die sewe jaar lange verdrukking, en die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem ná die premillennialistiese verskyning van Christus op die Olyfberg, as vreemde en onbybelse spekulasie beskou word – selfs as sektaries – terwyl dit deel van ’n Skrifgetroue teologiese beskouing is wat oor baie jare heen deur die NG Kerk self in Suid-Afrika gevestig is!

Dit is inderdaad ironies dat die kerk wat so ’n groot rol gespeel het om chiliastiese eskatologie in Suid-Afrika te vestig, die leiding geneem het om hierdie leerstelling in onguns te bring en te probeer uitwis. Die rede vir hierdie wending van sake is nie moeilik om te vind nie. Soos vroeër reeds aangetoon, is die praktiese implikasies van die nuwe, kritiese beskouings oor teologie dat die Bybel aan die gesag en oordeel van teoloë onderwerp word wat hulleself die vryheid veroorloof om dit uit te lê en toe te pas volgens hulle eie oordeel. Hulle aanvaar of verwerp Bybelse stellings net soos hulle wil, omdat hulle hulself nie meer onvoorwaardelik aan die gesag van die Skrif onderwerp nie.

’n Nuwe wending

Sedert 1980, toe Jerusalem ná meer as twee millennia weer die hoofstad van ’n onafhanklike Israel geword het, het die letterlike vertolking van die profetiese woord weer sterk begin veld wen. Hierdie belangrike gebeurtenis in Jerusalem (vgl. Luk. 21:24), het onder meer daartoe gelei dat die Internasionale Christenambassade in Jerusalem gestig is. Die eerste direkteur van die Ambassade was ds. Johann Lückhoff, voormalige NG leraar van Port Elizabeth-Sentraal. Hy was vir nagraadse studies in Israel en het tot die oortuiging gekom dat die volk Israel volgens verskeie beloftes in die Ou Testament na die land van hulle vaders sou terugkeer. Christene het ’n plig om Israel in hulle proses van herstel te ondersteun (Gen. 12:3; Rom. 11:11-12).

Sedert 1980 het duisende Christene uit verskeie lande (tans sowat 6 000 uit 80 lande) die jaarlikse viering van ’n Christelike Loofhuttefees in Israel bygewoon. Onder die feesgangers is daar gereeld etlike honderde uit Suid-Afrika. Hierdie viering het aansienlik daartoe bygedra dat evangeliese Christene bewus geraak het van Israel se herstel, asook die profetiese betekenis van Israel se sewe groot feeste wat jaarliks gevier word (Malan, 2012). Israel se eindtydse herstel is ’n sleutel tot die regte verstaan van Bybelse profesieë.

Al hierdie verwikkelinge stimuleer ’n groeiende belangstelling in die vervulling van eindtydse profesieë – veral m.b.t. die herstel van Israel, die komende verdrukking van sewe jaar, asook die wederkoms van Christus en sy vrederyk op aarde. Die belofte dat Christene nie vir die oordele van die verdrukking onder bewind van die Antichris bestem is nie, word ook met groter begrip en dankbaarheid aanvaar (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10; 5:9). Ons wag vir die hemelse Bruidegom – nie vir die Antichris nie!

Dit is om goeie redes dat Paulus gesê het: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19-20). Die Heilige Gees wil ons benewens sy ander bedieninge ook deur die kennis van Bybelse profesieë oor die toekomstige dinge onderrig (Joh. 16:13). Ons behoort almal by ’n studie van hierdie aard betrokke te wees, sodat ons nie emosionele en geestelike slagoffers sal word van die moeilike tydsomstandighede wat die Bybel vir die laaste dae voorspel nie (vgl. Luk. 21:34-35; 2 Tim. 3:1-5). ’n Situasie soos dié wat in 2 Timótheüs 3:1-5 beskryf word, is tipies van ’n postmoderne samelewing sonder morele beginsels, waarin geweld, korrupsie en dubbele standaarde hoogty vier, mense net in hulle eie prestasies roem, en waarin die lewe wat Christus aan ons bied, kennelik ontbreek. Net ’n gedaante van godsdienstigheid het oorgebly, sonder enige substansie.

Timótheüs kry die opdrag om homself uit sulke normlose en selfmisleidende kringe te onttrek en nie deel van hulle lewenspatroon, denkwyse en oppervlakkige geestelike praatjies te word nie. Die pad na ’n sinvolle geestelike lewe is terug na die Woord: “... dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:15-17).

Die profetiese woord is deel van “die hele Skrif” wat deur God ingegee is, en is beslis ’n belangrike deel van die geestelike toerusting en perspektief wat ons nodig het om tussen goed en kwaad te onderskei en terselfdertyd ’n Bybelgefundeerde oordeelsvermoë ten opsigte van eindtydse sake te kan hê. Dit bied ook aan ons die enigste betroubare toekomsverwagting om ons te midde van groot afval geestelik te versterk, te bemoedig en op die regte pad te hou.

Profeties ingeligte Christene streef na vaste geestelike waardes en moet daarop ingestel wees om ander wat dalk koersloos op die groot oseaan van die lewe ronddobber, te help om weer vaste oortuigings, rigtinggewende beginsels en ’n duidelike toekomsverwagting te verkry (Gal. 6:1). Ons is nie veronderstel om soos dwalende skape te wees wat elkeen sy eie pad bewandel nie, maar gehoorsame volgelinge van die Opperherder wat ons na sy ewige heerlikheid begelei. Terwyl die wêreld deur ’n donker tyd van groot onsekerheid en misleiding gaan, moet die lig van ons getuienis helder skyn.

Verwysings

Algemene Sinode van die Nederduits Gereformeerde Kerk. 1962: Agenda (bl. 52-94). Kommissie vir Aktuele Vraagstukke van die Raad van die Ned. Geref. Kerke van SA.

Heyns, J.A. 1963. Die chiliasme of duisendjarige ryk. NG Kerk Uitgewers.

Kriel, Timo. 1978. Voorwoord, in Die Laaste Nagwaak deur J.S. Malan. CUM, Roodepoort.

Malan, J.S. 2012. Die sewe feeste. Lux Verbi, Kaapstad.

Scholtz, J.J. 2013. Persoonlike kommunikasie. Jaco Scholtz was in 2012 en 2013 ’n nagraadse student in teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy het aan skrywer ’n ongepubliseerde artikel oor die ontstaansgeskiedenis van chiliasme in SA gestuur. Erkenning word aan hom gegee vir hierdie navorsing.