Die Nuwe Jerusalem en die Bruid van Christus

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2013)

Daar is by baie mense onduidelikheid oor die verband tussen die bruid van Christus en die Nuwe Jerusalem. Sommiges beweer die stad self is die bruid, nie die inwoners nie, terwyl ander weer sê dat die stad slegs die tuiste van die verheerlikte Israel sal wees – nie van Christus se bruidsgemeente nie. Johannes sê die volgende oor die betekenis en glansryke voorkoms van hierdie wonderstad:

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Een van die sewe engele ... het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ’n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ’n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. En dit het ’n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel. ... En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam. ... En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam is sy lamp. En die stad het sie son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp” (Op. 21:2, 9-14, 22-23).

 

 

Die volgende pertinente vraag kan aan diegene gevra word wat meen dat die stad self, sonder enige spesifieke verwysing na sy inwoners, die bruid van die Lam is: “Hoe kan ’n stad en sy geboue die bruid van Christus wees?” Uit die hele verband van die beskrywing is dit duidelik dat die Nuwe Jerusalem die verpersoonliking van sy inwoners is – dit is die tuiste van die Lam se bruid. Die stad se verhewe status moet in die lig van sy Oprigter se teenwoordigheid en die verheerlikte posisie van sy inwoners verstaan word, en nie in terme van die fisiese strukture van die stad self nie. Die skoonheid van die stad is slegs ’n weerspieëling van sy inwoners se heiligheid, want die stad is toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is – dit is nie die bruid self nie!

Dit is ’n bekende Bybelse gebruik om na ’n sekere groep mense te verwys na aanleiding van hulle woonplek. Dit verklaar waarom ’n stad soms die verpersoonliking van sy inwoners is. Die Here Jesus het agnostiese Jode só aangespreek: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is....” (Matt. 23:37). Hoewel Hy die stad aangespreek het, was sy gesprek tog duidelik op Jerusalem se leiers en inwoners gerig.

Die Nuwe Jerusalem is duidelik die eindbestemming van alle gelowiges van alle tye, m.a.w. weergebore persone uit Israel én die kerk. Die 12 poorte van die stad het die name van die 12 stamme van Israel, daarom is die stad onder andere die tuiste van die ware Israel van God (Op. 21:12). Verder het die muur van die stad 12 fondamente, met die name van die 12 apostels van die Lam daarop (Op. 21:14). Hierdie stad is dus ook die finale bestemming van Nuwe-Testamentiese gelowiges, want die 12 apostels is uitgestuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig.

Die Here Jesus het die volgende belofte aan ’n nie-Joodse gemeente in Klein Asië gemaak (in die huidige Turkye): “Wie oorwin, Ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam” (Op. 3:12). As lede van die bruidsgemeente is ons beelddraers van Christus en die Nuwe Jerusalem is ons ewige tuiste – daarom is dit ook ons stad.

Die Lam is vir sondaars van alle tye geoffer

’n Belangrike beginsel wat in verband met die inwoners van die Nuwe Jerusalem in ag geneem moet word, is dat dit nie net alle gelowiges uit alle nasies insluit nie, maar van alle tye. Ou-Testamentiese gelowiges het vir die Messias gewag, en hulle sonde is op grond van die voorlopige, skaduagtige offers van die ou verbond vergewe, hangende die koms en soendood van die Messias. Christus het die voorafgaande tipologiese offers bekragtig, want deur sy kruisdood het Hy die belofte vervul wat in al daardie offers vervat is. Diereoffers kon nie self reiniging bewerkstellig nie, “want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Heb. 10:4). Hierdie offers het vooruit gewys na hulle vervulling in die kruisdood van die vlekkelose Lam van God.

Toe die Seun van God die losprys vir die wêreld se sonde betaal het, het alle gelowiges uit die Ou Testament ook in die volle sin van die woord Messiaanse gelowiges geword, en gevolglik lede van die verlostes van die Lam. In Ou-Testamentiese tye is Israel metafories die vrou van God genoem omdat hulle deur die geloof aan Hom verbonde was (Jes. 54:5; Hos. 2:15). Hulle verhouding met die Messias sal die vervulling van hierdie intieme band met God wees, daarom sal hulle ook as sy bruid of vrou beskryf word.

Daar gaan dus in die Nuwe Jerusalem ’n samevoeging van Ou-Testamentiese en Nuwe-Testamentiese gelowiges in een liggaam plaasvind. Ou-Testamentiese gelowiges het die belofte van die Messias aangegryp, maar nie in hulle leeftyd verkry nie: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” (Heb. 11:13). Abraham, die stamvader van Israel, het saam met duisende ander gelowiges “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Heb. 11:10).

Weens hulle geloof in God is Ou-Testamentiese gelowiges ná hulle dood in die Paradys in die onderste dele van die aarde bewaar totdat die Messias gekom het om hulle verlossing te bevestig. Tussen die Paradys en die ongeredde dode wat steeds in die sjeool-gedeelte van die doderyk is, was daar ’n groot kloof gevestig (Luk. 16:26). Ná Christus se kruisdood het Hy “neergedaal in die onderste dele van die aarde” (Ef. 4:9). Hier het Hy Homself in die Paradys aan die gelowiges vertoon as die vervulling van die belofte waarop hulle gewag het, en in sjeool (Gr. hades) as die verlossing van God wat deur die ongelowiges verwerp is.

Eers in daardie stadium kon Ou-Testamentiese gelowiges in die Messias hulle hemelse erfenis verkry en vanaf die Paradys-gedeelte van die doderyk in die onderste dele van die aarde na die hemel toe geneem word. Sedertdien is die Paradys in die hemel. Paulus sê in 2 Korinthiërs 12:2-4 dat hy tot in die derde hemel weggeruk is, en noem dit “die Paradys”. Die Paradys was toe nie meer in die onderste dele van die aarde nie, maar iewers in die hemelruim waarheen die Here Jesus ook 40 dae ná sy opstanding uit die dood opgevaar het (Hand. 1:9-11). Hier, in die Vaderhuis met sy baie wonings, is Hy besig om vir almal wat aan Hom behoort, plek te berei (Joh. 14:2-3).

Daar gaan ’n gesamentlike verheerliking wees van die bruid van Christus uit Israel en die nasies (Ou Testament sowel as Nuwe Testament), daarom word daar van die Ou-Testamentiese gelowiges gesê: “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (Heb. 11:39-40). Ons en hulle gaan saam in die nuwe Jerusalem verheerlik word.

Daar is dus ’n eenvoudige en logiese definisie vir die bruid van die Lam – sy verteenwoordig alle ware gelowiges van alle tye. Die Nuwe-Testamentiese kerk, en daarmee word net weergebore mense bedoel, is deel van die bruid van Christus. Paulus sê aan een van die gemeentes: “Ek het julle aan een Man verbind om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Kor. 11:2). Hy het Homself oorgegee aan die kruisdood sodat ons gered én geheilig kan word om verheerlik en sonder vlek of rimpel voor Hom te verskyn (Ef. 5:25-27).

Die heerlikheid van die bruid

Jesus Christus se bruid, met wie Hy by die bruilof van die Lam verenig gaan word, bestaan uit weergebore mense wat met die Heilige Gees vervul is. Hulle maak erns daarmee om hulleself met Christus te beklee deur elke besoedeling van die vlees en die gees af te lê en die heiligmaking in die vrees van God te volbring (Rom. 13:14; 2 Kor. 7:1). Die vrug van die Gees in hulle lewe verleen aan hulle ’n vlekkelose bruilofskleed: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).

 

 

’n Lewe van heiligmaking vereis dat ons onder die leiding van die Heilige Gees met goud, silwer en kosbare stene op die fondament van bekering sal bou (1 Kor. 3:11-14), want alleen dié werke is die vrug van die Gees. Dit sal nie net aan ons ’n gepaste bruilofskleed verleen nie, maar ook verseker dat ons met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus sal verskyn, waar genadeloon toegeken sal word aan diegene wat vrugbare lewens van diens aan die Here gelei het.

In die Bruilofslied van die Messias word die huwelik tussen Christus en sy bruid só beskryf: “Uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. ... Die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir. ... Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei. ... Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:9-16).

Die gouddraad en kosbare stene waarmee haar bruilofskleed versier is, is deel van “die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8). Dit is die goud, silwer en kosbare stene waarmee sy in haar lewe van toewyding aan die Messias op die fondament van haar bekering gebou het. Diegene wat nie deur die vervulling met die Heilige Gees na ’n hoër vlak van toewyding gestreef het nie, het nie ’n versierde bruidskleed nie en sal met leë hande voor Christus verskyn, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Hulle sal ook in die koninkryk van die Here wees, maar word in Psalm 45:15 as die “vriendinne” van die bruid beskryf. Die ongeredde naamchristene sal nie hier teenwoordig wees nie.

Motivering vir volkome toewyding

Ons moet deur die belofte van ons hemelse erfenis gemotiveer word, sodat ons met die oog daarop skatte in die hemel sal bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Die regverdige dade van die heiliges op aarde het ’n regstreekse invloed op die mate van genadeloon en heerlikheid wat hulle in die Nuwe Jerusalem te beurt sal val. Is jy op ’n ondubbelhartige wyse aan die opdrag tot heiligmaking toegewy, sodat die Here jou in sy diens kan gebruik? “... elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. ... Bly in My, soos Ek in julle” (Joh. 15:2-4). Dit is ’n opdrag wat uitgevoer moet word, en nie ’n vanselfsprekende gevolg van Christenskap nie.

Ons volle samewerking is in die proses van reiniging nodig, want ons moet alle vleeslike werke bely en laat staan en ’n volle oorgawe aan die Here maak: “As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk” (2 Tim. 2:21).

Indien dit die hoogste doel van jou lewe is om die Here met ’n volkome hart te dien en lief te hê, sal jy eendag verbaas staan oor dit wat Christus in die huis van sy Vader gaan berei het. Die skoonheid van die Nuwe Jerusalem kan nie eers bedink of in woorde uitgedruk word nie. Paulus sê: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).