Kenmerke van ons Tyd – die Groot Verval van die Laaste Dae

Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2015)

Die Bybel werp lig op groot veranderings wat in die laaste dae op verskeie lewensterreine sal plaasvind. Uit ʼn geestelike oogpunt sal daar enersyds onder evangeliese Christene ʼn beweging wees van voorbereidings om die hemelse Bruidegom tydens sy geheime koms te ontmoet en daarna saam met Hom in die verdere openbaring van sy koninkryk te deel (Op. 5:9-10; 20:6). Andersyds sal daar onder die groot aantal geestelik misleides ʼn proses van morele en geestelike verval wees in afwagting op die verskyning van ʼn multigodsdienstige vredevors wat in die Bybel “die Antichris” of “die dier” genoem word (1 Joh. 2:18; Op. 13:1-2). Hy sal ʼn humanistiese nuwe węreldorde instel wat die gevalle mens se eindtydse poging sal wees om homself (soos in Babilon van ouds) sonder God, en spesifiek ook in opposisie teen God en sy koninkryk, te regeer (Op. 13:7).

Die ondersteuners van beide hierdie groepe is op die verskyning van ʼn messiaanse leier ingestel om die węreld uit sy ernstige politieke verdeeldheid, militęre konfrontasies, morele verval, gesondheidsprobleme en ekonomiese krisisse te red, maar hulle persepsies oor wie hy is verskil radikaal van mekaar. Die een messias sal God se Seun uit die hemel wees wat deur sy almag sal regeer (1 Thess. 1:10; Op. 11:15; 19:15), en die ander een sal uit die see van nasies opkom om die węreld deur Satan se mag te regeer (Op. 13:1-3). Die mensdom word nou voor ʼn finale keuse gestel tussen die ware Christus van die Bybel en die valse christus van alle gelowe. Die heersende denkklimaat in die węreld is vinnig besig om ten gunste van ʼn antichristelike nuwe węreldorde te ontwikkel, en dit maak die algemene aanvaarding van ʼn intergeloofsmessias elke dag ʼn groter moontlikheid. Die volgende tendense in die węreld werk in die guns van die komende misleier:

Verswakkende geloof

Omdat Christus liggaamlik in die hemel is, kan ons sy teenwoordigheid net op ʼn geestelike vlak deur die werking van die Heilige Gees ervaar. Ons kan Hom nie sien nie en is slegs deur geloof aan Hom verbonde: “Die geloof dan is ʼn vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ʼn bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb. 11:1). Wanneer ons geloof verswak, dan neem die kwaliteit van ons verhouding met die Here Jesus af en veragter ons geestelik tot op ʼn vlak waar ons slegs as twyfelende kleingelowiges beskryf kan word (Matt. 14:31). Ons moet so ʼn situasie voorkom deur onsself in die alleheiligste geloof op te bou (Jud. 1:20) en met oortuiging teenoor al die ongelowiges en agnostici ʼn standpunt vir ʼn dinamiese geloofsverhouding met Christus in te neem: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelę het” (1 Tim. 6:12). Is jy ook besig “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”? (Jud. 1:3).

Daar is verskeie aanduidings dat ʼn suiwer Bybelse geloof besig is om oral drasties af te neem. Die verval is deel van ʼn vasberade en węreldwye program om valse gelowe en misleiding te bevorder as ʼn deel van geestelike klimaatskepping vir die openbaring van die mens van sonde: “Maar die Gees sę uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle gewete” (1 Tim. 4:1-2). Hoewel Paulus duidelik die demoniese oorsprong van misleiding beklemtoon, verminder dit nie die aandeel wat die afvalliges self in hulle misleide toestand het nie. Hulle raak van die geloof afvallig omdat hulle ontvanklik is vir die leuens van skynheilige leuenaars. Die dwaalleraars is in hulle gewete gebrandmerk, wat daarop dui dat hulle slawe van valse leerstellings is en sodoende medewerkers van die duiwel.

Geloofsverval vind plaas wanneer ʼn gelowige in stryd optree met sy eie gewete (ʼn innerlike oortuiging onder die verligting van die Heilige Gees van wat reg en verkeerd is) en doelbewus ʼn valse leerstelling bo die waarheid verkies. Paulus het vir Timotheüs gemaan om hom nooit hieraan skuldig te maak nie maar aan sy geloof en goeie gewete getrou te bly, al bring dit ook vir hom veel stryd en spanning mee. Hy is aangemoedig om die evangelie te verkondig wat Paulus aan hom toevertrou het, “sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry en aan die geloof en ʼn goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:18-19).

Daar is vandag al hoe meer van hierdie geestelike skipbreukelinge wat van die geloof afvallig geraak het. Hulle het hulleself aan die leuens van Satan blootgestel deur bv. na verkeerde boodskappe te luister waarin Bybelse waarhede verdraai of ontken word, verkeerde boeke te lees en ook afvallige mense se webwerwe op die Internet te besoek. Die gevolg hiervan is dikwels dat hulle die ware geloof van hulle “wegstoot” en dan self verkondigers van valse leerstellings word. Paulus noem voorbeelde van sulke dwaalleraars wat in daardie vroeë stadium van die kerkgeskiedenis al baie mense se geloof vernietig het omdat hulle die hoop op die toekomstige opstanding uit die dood ontken het deur te beweer dat die opstanding reeds plaasgevind het: “... en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Tim. 2:16-18).

In moderne tye het dit algemeen geword om alle verwysings na die opstanding uit die dood te ontken – insluitend dié van Jesus self. Paulus sę: “As as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore” (1 Kor. 15:16-18). Valse leerstellings van hierdie aard het die noodwendige gevolg dat die geloof van mense wat dit aanhang, vernietig en die Bybel as irrelevant eenkant toe geskuif word.

Die duiwel het ʼn baie duidelike agenda met geloofsverval en dit is om die weg te open vir die aanvaarding van die groot misleier wat homself in Christus se plek as die koning en verlosser van die mensdom sal voordoen, naamlik die Antichris. Geestelike misleiding is dus ʼn voorvereiste vir die verskyning van die valse węreldleraar. Jesus het hierteen gewaarsku: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sę: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).

Verkoelende liefde

Liefde teenoor die Here Jesus verbind ons daartoe om aan Hom getrou te wees, heilig te leef en as ʼn basiese geestelike en morele ingesteldheid in sy liefde gewortel en gegrond te wees. Die Antichris sal as die absolute teenpool hiervan die mens van sonde, valsheid, liefdeloosheid en dubbele standaarde wees. Dit sal sy doel wees om ʼn sondekultuur in die węreld te vestig, daarom word hy “die mens van sonde” en “die seun van die verderf” genoem (2 Thess. 2:3). Soos wat die gees van die Antichris in die eindtyd al hoe meer aktief in die węreld werksaam is, raak sonde en ongeregtigheid al hoe meer aanvaarbaar – selfs ook in baie kerke waar dade wat jare lank as sonde beskou is, nou openlik toegelaat en skaamteloos beoefen word.

Die gevolg van ʼn drastiese toename in sonde en ongeregtigheid is dat baie Christene al hoe meer vleeslik begin leef en in die proses noodwendig vervreem raak van die Hoof van die Kerk – Jesus Christus. Hy het in sy profetiese rede oor eindtyd hierteen gewaarsku: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12).

Die koninkryk van die duisternis se uitdruklike doel met die verkoelende liefde teenoor Christus is dat gelowiges uiteindelik hulle rug op die Bybelse Jesus sal draai sodat hulle navolgers van die valse Jesus kan word. Daar is in die vroeë kerkgeskiedenis verskeie voorbeelde van ernstige geestelike verval. Jesus het in sy boodskap aan die gemeente in Éfese gesę: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Op. 2:4). Die gemeente het nie hierdie ernstige geestelike gebrek reggestel nie en het uiteindelik tot niet gegaan.

Hoe reageer moderne Christene as daar verdraaide of eensydige voorstellings van die Here Jesus, van die Bybel en van die Heilige Gees in hulle kerke verkondig word, en ook as die deure wyd oopgegooi word vir sondige gebruike? Besef hulle nie dat dit die werk van die duiwel is wat daarop gemik is om hulle geloofsband met die ware Jesus van die Bybel heeltemal te vernietig nie? Paulus skryf aan so ʼn gemeente wat wél goed begin maar later as die slagoffers van misleiding geëindig het: “Want ek is jaloers oor julle met ʼn goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ʼn reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4).

Mense wat verkoel in hulle liefde het reeds ʼn verkeerde rigting begin inslaan en word deur hulle eie toedoen weggevoer na ʼn geestelike woestyn. Op hierdie pad sal die duiwel hulle soos ʼn engel van die lig tegemoet gaan, veel groter vryhede van geloof en lewenswyse aan hulle bied, selfs ook kompromie en vriendskaplike betrekkinge met die nie-Christelike gelowe, en in die proses ʼn ander Jesus aan hulle bied wat in assosiasie met alle gelowe op aarde sal optree. Die groot doel met geestelike verval sal dan bereik wees.

Die ontkenning van beloftes oor die wederkoms

ʼn Wesenlike deel van die valse messias se voorbereidings om die węreld oor te neem en almal te mislei, is om te ontken dat die ware Messias uit die hemel sal neerdaal om sy dissipels van die aarde af weg te voer en sodoende uit die groot verdrukking van die eindtyd te red. Hierdie blatante verwerping van die waarheid het reeds verskeie Christelike kerke binnegedring en tot die opskorting van wederkomsprediking gelei omdat sulke mense die beloftes oor Jesus se tweede koms as mites en beeldspraak beskou, sonder enige konkrete betekenis. Diegene wat hierdie nuwe idees aanvaar het, vind dit nie nodig om te waak en bid om waardig te wees om die komende verdrukking te “ontvlug” nie (Luk. 21:36; 1933/53 Bybel). Misleide gelowiges wat die letterlike vervulling van Bybelse profesieë ontken, redeneer ook die “wegvoering” (Gr. harpazo) van 1 Thessalonicense 4:16-17 weg omdat dit vir hulle onwerklik is en ook bots met hulle planne vir ʼn aardse koninkryk.

Volgens die ganse nie-Christelike węreld, asook liberale teoloë wat van ʼn Bybelse toekomsverwagting afgesien het, is daar nie grondige redes om God se “Seun uit die hemele [te] verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” nie (1 Thess. 1:10). Al die beloftes in dié teks word deur kritici van die Bybel ontken, naamlik dat daar ʼn hemel is, dat God ʼn Seun het wat uit die dood opgewek is en na die hemel opgevaar het, en dat Hy daarvandaan sal neerdaal om ons van die toorn van verdrukking en Goddelike oordele te red. Skeptici ontken ook ten sterkste dat die mensdom op ʼn tyd van oordele en Goddelike rekenskap afstuur. Hulle verkies om eerder koninkrykstoestande te verkondig en die valse beeld te skep dat die mens self sy lotgevalle positief kan verander deur boosheid op die planeet te oorkom en uit te wis – hulle kyk dus nie op na ʼn Verlosser uit die hemel om dit te doen nie. Hierdie siening het al sodanig posgevat dat daar uit verskillende oorde die spot gedryf word met evangeliese gelowiges wat Christus se koms verwag en verkondig.

Daar is ongelukkig ook Christene wat wél sekere aspekte van die Bybelse eskatologie as letterlike waarhede erken, maar nie alles nie. Sommige van hulle aanvaar die werklikheid van ʼn verdrukking onder die Antichris, asook ʼn Goddelike ingryping aan die einde van die verdrukking tydens Christus se openbare verskyning, maar die belofte oor ʼn wegraping voor die verdrukking word ten sterkste ontken. Op hierdie manier word gelowiges se fokus van die Here Jesus af verskuif en op die komende verdrukking en die Antichris gevestig. Oorlewingstrategieë tydens hierdie moeilike tyd word dan hulle belangrikste oorweging, terwyl die blye verwagting van Christus se spoedige koms vir sy bruidsgemeente as ʼn “latere gebeurtenis” sy onmiddellike aktualiteit verloor. ʼn Onbybelse beskouing van hierdie aard onder Christene speel in die vyand se hand omdat dit die geestelike anker van Christus se verwagte ingryping voor die tyd van oordele verswak en selfs van gelowiges af wegneem. Mense wat hierdie siening verkondig, doen meer kwaad as goed en bevorder tot ʼn sekere mate die agnostici se ontkenningsteologie.

Twyfel oor die Bybel

Daar word vanuit die binnekringe van verskeie Christelike kerke en kweekskole ʼn toenemende veldtog gevoer teen die geloofwaardigheid van die Bybel as die geďnspireerde Woord van God. Nie net word die Goddelike oorsprong van die Bybel bevraagteken nie, maar ook die korrektheid en toepaslikheid van evangeliese leerstellings – insluitend die leer oor die wederkoms. Paulus bevestig ondubbelsinnig die waarheid van die Bybel as God se Woord, die noodsaaklikheid van onderrig daaruit, die Godheid en regterlike funksie van die Here Jesus, asook evangeliese Christene se plig om hierdie waarhede aan te hou verkondig, al bring dit ook vir hulle verwerping en verdrukking mee uit die geledere van die moderne agnostici. Ons moet bly by wat ons van die Here geleer het en nie saam die afvalliges begin dwaal nie:

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlę, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ʼn evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 3:16–4:5).

Die afbrekende veldtog deur verskeie vooraanstaande “Christenleiers” teen die Bybel as die outentieke Woord van God het tot gevolg dat die węreld daarbuite hulleself nog minder aan die Bybel steur as ooit tevore. Christelike grondwette en Christelike onderwys wat van staatskant af ondersteun word, het ʼn rariteit in die węreld geword. As gevolg hiervan is die gevalle mens nog tot ʼn veel groter mate besig om die beskikker van sy eie lotgevalle te word. Dit open die weg verder tot die vestiging van ʼn humanistiese en antichristelike nuwe węreldorde wat deur Satan en sy koninkryk gebruik gaan word om oorlog teen die ware Christus te verklaar wanneer Hy ná die verdrukking sal terugkeer aarde toe om sy vyande te oordeel en die troon van Dawid te herstel.

Die wetenskaplike węreldbeeld

Daar is ʼn toenemende wegbeweeg van die Bybel af as die grondslag van ʼn Christelike lewens- en węreldbeskouing, terwyl die moderne mens op groot skaal besig is om ʼn wetenskaplike węreldbeeld te aanvaar. Hiervolgens word die Bybel as mitologies en primitief beskou, en net dit wat wetenskaplik verklaarbaar is, as waarheid aanvaar. Die gevolg is dat alles wat bonatuurlik in oorsprong is en nie deur die wetenskap nagevors en bevestig kan word nie, as wensdenkery  en fiksie beskou word – dit sluit die bestaan van God in, die hemel en die hel, die skeppingsleer, die maagdelike geboorte van Jesus, die heilswaarde van sy kruisdood, sy opstanding uit die dood, sy hemelvaart en wederkoms, die beloofde opstanding van alle ontslape mense, die ewige lewe en die skepping van ʼn nuwe hemel en aarde. Bybelse moraliteit word as uitgediende en intimiderende reëls beskou wat nie op moderne samelewings van toepassing is nie. Die wetenskap ontken ook die bestaan van ʼn opponerende koninkryk van die duisternis onder die beheer van Satan en sy gevalle engele (demone), en beskou dié begrippe as metafore en vorms van primitiewe bygeloof.

Hoe meer kerke daar is wat volle erkenning aan die wetenskaplike węreldbeeld gee sonder om die absolute onvermoë daarvan te begryp om bonatuurlike verskynsels te identifiseer en te verifieer, hoe meer van hulle raak geestelik verarm en boet hulle geloof in ter wille van menslik-bepaalde rasionele denke met al sy beperkings – veral op die terrein van die beoordeling van godsdienstige opvattings en gebruike. Die mens en sy natuurlike vermoëns word verabsoluteer, en in die proses word hy sy eie god. Geen wonder nie dat ʼn humanistiese leier met buitengewone begaafdhede en charisma as ʼn węreldleier aanvaar en vereer sal word. Dit is juis op hierdie terrein dat die duiwel die moderne mens se naďwiteit sal uitbuit met die sinistere doel om almal op aarde te verslaaf deur elke aspek van hulle lewens te beheer.

Wanneer geloof in die ware God oral op die punt is om te verdwyn, en daarmee saam ook geloof in die geestelike werklikhede van die onsigbare węreld, sal die gevalle mens volle beheer oor sy eie lewe neem. Teen die einde van die verdrukking sal daar min mense oor wees wat nog in die ware Jesus glo en Hom dien, daarom het Hy gesę: “Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind? (Luk. 18:8).

Die najaag van ʼn valse vrede

Die vrede wat Christus belowe, verskil radikaal van dit wat die węreld najaag. Hy het gesę: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die węreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27). In Nuwe-Testamentiese tye was dit algemeen dat mense mekaar gegroet het deur te sę: “Vrede” (Heb. “Sjalom”). Deur sy dood was Jesus se nalatenskap aan sy dissipels dat hulle die vrede van sondevergifnis sou geniet, daarom het hulle die vrede van God in hulle harte ervaar wat alle verstand te bowe gaan (Rom. 5:1; Fil. 4:7). Die węreld kan hoegenaamd nie ʼn innerlike vrede van hierdie aard aan mense bied nie.

Die vrede wat die Here Jesus belowe, is egter nie beperk tot ʼn geestelike vrede in die hart nie, want Hy sal eendag terugkom om ook ʼn fisiese koninkryk van vrede op aarde te vestig – “vrede sonder einde op die troon van Dawid” (Jes. 9:6). Vrede sal oral op aarde heers, die nasies sal van hulle swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse: “... nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4). Daar sal geen behoefte aan militęre opleiding wees nie omdat almal in vrede sal saamleef. Die Messias self sal die verpersoonliking en handhawer van vrede op aarde wees (Miga 5:4; vgl. Hos. 2:17).

Die węreld probeer alles moontlik om die vrede van Christus na te boots, maar tevergeefs. Hulle kan nie aan mense verlossing van sonde en vrede in hulle harte gee nie, nog minder vrede tussen die verdeelde en vyandige nasies. Hulle probeer wel om vrede op aarde te skep, maar dit berus op kompromie, oorreding, beloftes van finansiële hulp, en dikwels ook op intimidasie en militęre dwang. Hulle kan hoogstens ʼn valse vrede skep wat nie langdurig en betroubaar is nie, maar nogtans is dit vir hulle die enigste uitweg omdat hulle die vrede van Christus verwerp het. Dit is mense “wat van vrede spreek met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart” (Ps. 28:3).

ʼn Valse verlosser

Weens die verwerping van die God van die Bybel stuur die węreld noodwendig af op ʼn verbond met “die god van hierdie węreld”, naamlik Satan wat die sinne van mense verblind sodat hulle nie die evangelie van Christus sal verstaan of aanneem nie (2 Kor. 4:4). In sy voortgesette stryd teen Christus sal Satan aan die węreld ʼn alternatiewe, multigodsdienstige messias bied wat ʼn valse eenheid en broederskap op aarde sal vestig. Die mensdom sal uitermate verheug wees wanneer hierdie eenheid ʼn werklikheid word, en alle nasies sal hulle nuutgevonde leier dien en aanbid: “En die hele węreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesę: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? ... En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:3-4, 7).

Hierdie valse verlosser sal aanvanklik in die gedaante van ʼn vredevors kom as die ruiter op ʼn wit perd (Op. 6:2), maar wanneer hy homself later tot God verklaar in die herboude tempel in Jerusalem, sal hy almal summier laat teregstel wat weier om hom in sy nuwe hoedanigheid as selfverklaarde God te aanbid (Op. 13:15). Hierdie ontnugtering sal egter eers in die middel van die verdrukking van sewe jaar plaasvind, wat beteken dat die valse messias vir die eerste 3˝ jaar ná sy verskyning baie mense deur misleiding en bedrog aan sy kant sal kry. Daniël sę die Antichris “sal as ʼn koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan. En sy krag sal sterk word... En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg” (Dan. 8:23-25).

Die groot skok

ʼn Skok sonder gelyke in die moderne geskiedenis sal die mensdom tref wanneer die kerkbedeling beëindig en die verborge koninkryke van God en Satan skielik op aarde geopenbaar word. Die heel eerste van hierdie dramatiese gebeure sal die wegvoering wees van die ware kerk van Christus tydens die wegraping (1 Thess. 4:16-17). Vir evangeliese, Bybelgetroue gelowiges sal geloof oorgaan in aanskoue wanneer hulle saam met die Here Jesus na die hemel gaan (Joh. 14:2-3). Hulle plekke op aarde sal skielik leeg wees, maar hierdie situasie sal deur Satan gebruik word om die koning en valse christus van sy koninkryk aan die węreld te openbaar, naamlik die Antichris.

Die skok van die wegraping sal verskeie verreikende gevolge hę. Verbrokkelende oortuigings oor die bestaan van God en sy hemelse koninkryk sal vinnig en drasties hersien word. Vir diegene wat agterbly sal die koninkryk van die hemel nog steeds verborge wees en mense sal in die geloof ʼn verhouding met Christus moet aanknoop. Hulle sal egter deur groot vyandigheid gekonfronteer word, want die koninkryk van die duisternis sal aan die węreld ʼn baie populęre maar valse christus bied wat ʼn verbond met alle nasies en geloofsgroepe sal sluit – ook met Israel en die misleide gedeelte van die Christendom. Slegs die klein groepie nuwe bekeerlinge in die verdrukking wat die ware Christus volg, sal weet dat hierdie nuwe leier vals is. Hulle sal hom kan weerstaan en geestelik in die naam van Christus oorwin, maar ʼn marteldood sal die gevolg daarvan wees om hom en sy węreldregering te verwerp (Op. 6:9-11; 12:11).

Wanneer die Antichris se populęre leierskap in die middel van die verdrukking deur opposisie bedreig word, sal hy ʼn militęre diktatuur instel wat genadeloos op sy teëstanders oral op aarde sal toeslaan (Dan. 11:44). Dan sal hy sy ware kleure wys en sal die węreld in ʼn kort tydsbestek van slegs 42 maande aan die verwoestende gevolge van Satan se ten volle geopenbaarde koninkryk op aarde onderwerp word.

Die einde van misleiding

Die einde van die huidige proses van toenemende misleiding sal eers aanbreek wanneer Christus ná die sewe jaar lange verdrukking terugkeer aarde toe om die Antichris en sy meelopers te oordeel en te verdelg (Op. 19:19-21). Die oorblyfsel van Israel en die nasies sal dan almal met berou hulle sondes bely en versoen word met Jesus Christus wat die enigste ware Verlosser en Koning van die węreld is (Sag. 12:10-14; Matt. 24:29-30; Hand. 15:16-17). Christus se wederkoms sal die einde van die valse gelowe en afgodediens meebring: “In dié dag sal daar ʼn geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 13:1-2).

Dieselfde geestelike ontwaking en versoening met God sal ook onder al die nasies plaasvind wat die groot verdrukking oorleef het, en hulle sal gereeld na Jerusalem optrek waar die Messias se troon sal wees, om daar godsdienstige feeste tot die eer van sy Naam te vier: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:16). Dit sal opregte toewyding wees wat uit veranderde harte kom: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Jerusalem sal die politieke en godsdienstige hoofstad van die węreld wees, waar die Here Jesus op die troon van die Dawid sal regeer. Hy sal deur almal geëer en gedien word, terwyl die geestelik ontwaakte volk Israel hoog aangeskrewe sal wees by al die nasies: “So sę die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sę: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sę die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ʼn Joodse man gryp en dit vashou en sę: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:20-23).

Die Here het ook deur Jesaja belowe: “Hulle [die nasies] sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jes. 11:9). In hierdie komende bedeling van die geopenbaarde koninkryk van God op aarde sal die geredde Israel die spesiale getuies van die Messias wees om die opkomende geslagte onder alle nasies te evangeliseer: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die węreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

Ons is egter nou nog in die kerkbedeling waartydens ons geestelik onderworpe is aan beďnvloeding deur God se koninkryk én Satan se koninkryk. As Christene is ons in ʼn oorlog teen boosheid gewikkel, en moet ons die volle wapenrusting van God opneem om staande te kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). In hierdie bedeling is die meerderheid van die mense op aarde op die breë weg van sonde en dus vyandig teenoor die ware kerk van Christus en ook teen Israel as God se volk. Dit is die rede waarom alle nasies in die komende verdrukking teen Jerusalem versamel sal word, sodat God daar met hulle in die gerig kan tree oor hulle anti-Joodse en anti-Christelike opvattings en dade (Sag. 12:2-3; 14:2-3, 12-13; Joël 3:1-2). Die militęre mobilisasie van węreldmagte in die Midde-Ooste sal die gevolg wees van intensiewe misleiding deur die Antichris, met die hulp van verleidende geeste wat deur die duiwel uitgestuur sal word om die nasies verder teen Israel, die Christendom en die komende Messias uit die hemel aan te hits (Op. 16:13-14).

Wanneer die ware kerk wat die tempel van die Heilige Gees op aarde is (1 Kor. 3:16), deur die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:7-12). Daarna sal geestelike misleiding en die vervolging van nuwe gelowiges wat die Antichris verwerp, tot die groot verdrukking lei (Matt. 24:21). Daar is geen kompromie met hierdie misleier en sy valse leerstellings moontlik nie, daarom het elke mens op aarde die verantwoordelikheid om te besluit aan watter koninkryk hy wil behoort. Hierdie keuse sal sy ewige toekoms bepaal.