Bibleguidance is ‘n interkerklike Christelike bediening wat daarop ingestel is om die basiese feite oor die evangeliese Christendom te verkondig en te bevorder. Die tydlose waarhede van die Bybel word bespreek, asook eietydse onderwerpe en tendense op die godsdienstige terrein. Baie aandag word aan die vervulling van Bybelse profesieë gewy. Dit is ons doel om ‘n gesonde onderskeidingsvermoë te bevorder, daarom streef ons daarna om ‘n duidelike onderskeid tussen ware en valse vertolkings van die Bybel te maak. Skrif word in die lig van ander Skrifuitsprake vertolk.
Ons hoofdoelwit is om die Here Jesus te verheerlik sodat mense na Hom toe getrek kan word. Alle temas in die Bybel word uit die oogpunt van Jesus Christus bestudeer, omdat Hy die verpersoonliking is van die Woord van God (Op. 19:13). Dit is net wanneer ons Hom ken dat ons ook Bybelse profesieë reg sal kan verstaan, “want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Die profesieë kan nie volledig verklaar word sonder inagneming van die verskillende hoedanighede waarin Christus Homself aan die mensdom openbaar nie. Die belangrikste van hierdie openbarings is die volgende:
· Tydens sy eerste koms was Jesus die nederige Dienskneg wat sy lewe as losprys vir die sondes van die hele wêreld afgelê het (Fil. 2:5-8). Dit het van Hom die Lam van God gemaak wat geoffer is ter wille van die vryspraak van alle sondaars wat hulle tot Hom bekeer (Joh. 1:29).
· Gedurende die kerkbedeling is die Here Jesus ons Hoëpriester en Middelaar wat altyd leef om by die Vader se genadetroon vir ons in te tree (Heb. 4:15-16; 7:24-28). Hoewel Hy fisies van ons geskei is, is Hy deur die Heilige Gees in en by ons gedurende die hele kerkbedeling (Matt. 28:20; Joh. 14:23). Deur die vervulling met die Heilige Gees verkry ons ‘n sterker bewussyn van sy teenwoordigheid en ook groter begrip vir sy verhewe status as Here en God.
· Wanneer Christus aan die einde van die kerkbedeling uit die hemel terugkom, kom Hy eers in die geheim as die hemelse Bruidegom om sy bruidsgemeente te kom haal en na haar hemelse woning weg te voer (Joh. 14:2-3; Matt. 25:6-10; 1 Thess. 4:16-17).
· Direk ná die wegvoering van die ware kerk sal al hierdie gelowiges in die hemel voor die regterstoel van Christus verskyn waar hulle genadeloon sal ontvang (Rom. 14:10-12; 2 Kor. 5:10; 1 Kor. 3:8-16). By dié geleentheid sal Christus hulle Regter wees.
· Nadat lede van die bruidsgemeente almal verheerlikte liggame verkry het, met die Bruidegom verenig is en ook voor sy regterstoel loon ontvang het, sal hulle rondom sy troon vergader en saam met Hom die wêreld in geregtigheid oordeel (1 Kor. 6:2). Hier sal Jesus as Regter van die goddeloses die seëls van God se oordele breek en gedurende die verdrukking van sewe jaar ongekende oordele oor ‘n onbekeerlike wêreld uitstort (Op. 6 tot 16). As Lam van God wat sy lewe vir alle sondaars afgelê het, sal Hy waardig wees om oordele oor diegene uit te stort wat sy genade versmaai het (Op. 6:12-17).
· Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal Christus as Koning na die aarde terugkeer, die Antichris, valse profeet en hulle volgelinge verdelg, die duiwel in ‘n put laat bind, die vervalle troon van Dawid in Jerusalem herstel en dan die wêreld saam met sy heiliges vir ‘n duisend jaar lank regeer (Hand. 15:16-17; Op. 19:19 tot 20:6).
· Ná die vrederyk sal die Here Jesus weer as Regter optree – dié keer op die groot wit troon. Al die ongeredde sondaars van alle eeue sal dan uit die dood opgewek word, voor Hom verskyn om volgens hulle bose werke geoordeel te word, en daarna in die poel van vuur gewerp word (Hand. 17:30-31; Op. 20:11-15).
Alles wat uiteindelik met mense gaan gebeur, kan verklaar word aan die hand van hulle verhouding met Jesus Christus. Almal wat Hom aangeneem het en dien, is sy gunsgenote wat mede-erfgename van sy koninkryk sal wees. Al sy vyande wat Hom verwerp, sal die voorwerpe van sy toorn wees. Bibleguidance is daarop ingestel om die aard en implikasies van ‘n verhouding met Jesus Christus as die enigste Verlosser van die wêreld aan te toon, asook die skrikwekkende gevolge van die afwesigheid van só ‘n verhouding.
In hierdie bediening huldig ons ‘n evangeliese belydenis, tree interkerklik op en bevorder dus nie die dogma van een of ander kerk nie. Ons werk saam met almal wat dieselfde Bybelse oortuigings huldig, sonder enige spesifieke verwysing na die denominasie waaraan ‘n persoon behoort.
Die redakteur en skrywer van die meeste artikels en boeke op hierdie webtuiste, Johan Malan, was tussen Augustus 1978 en Januarie 2006 professor in antropologie aan die Universiteit van Limpopo in Suid-Afrika. Hy het deur selfstudie kennis van teologie opgedoen. As die seun van ‘n voormalige NG sendeling in Suid-Afrika en Swaziland, wyle ds. J.S. Malan, het Johan van jongs af deeglike Bybelse onderrig by die huis ontvang – ook in die letterlike, premillennialistiese vertolking van Bybelse profesieë oor die eindtyd. Hy het besef dat die vergeestelikingsteologie groot skade aan die betekenis van profesieë oor die herstel van die volk Israel, die wederkoms van Jesus Christus en die opkoms van ‘n antichristelike nuwe wêreldorde berokken. As gevolg hiervan het baie Christene nie ‘n duidelike toekomsverwagting nie, en is nie toegerus om in ‘n tyd van groot geestelike verval staande te bly nie.
Hierdie toedrag van sake het Johan ná sy bekering en wedergeboorte in 1972 gemotiveer om ‘n intensiewe studie van die Bybelse eskatologie te maak en kennis hieroor te versprei. Hy gebruik net die Bybel as feitelike en leerstellige bron. Sy eerste boek oor Openbaring, Die Uur van Duisternis, is in ses tale uitgegee – Afrikaans, Engels, Portugees, Swahili, Estnies en Russies. Hy het ook twee verdere boeke oor Openbaring geskryf, wat beide aanlyn op sy webblad gepubliseer is, naamlik Die Dag van die Here (‘n kommentaar) en Openbaring vir ons tyd . Johan het ‘n tyd lank in Israel navorsing gedoen en benewens verskeie artikels ook ‘n boek oor Israel geskryf wat in vier tale verskyn het.
Nadat Johan vroeg in 2006 afgetree het, het hy eers na Middelburg in Mpumalanga verhuis en daarna na Mosselbaai. Hy en sy vrou, Wilma, het ook ‘n literatuurbediening waarin verskeie boeke in Afrikaans en Engels gepubliseer word. Besoek ons boekelys vir meer besonderhede hieroor.
Die webmeester van Bibleguidance is ‘n vriend van die Malans, Gerald Vos. Hy en sy vrou, Helene, bly op Middelburg in die Oos-Kaap. Hulle hanteer ook die verspreiding van CD’s en DVD’s. Besonderhede hieroor is op Bibleguidance se tuisbladsy.