ʼn Dispensasionele Oorskakeling met Dramatiese Gevolge

Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2015)

Die wêreldbevolking is op die drumpel van ʼn dispensasionele verandering wat ongekend in die geskiedenis van die mensdom sal wees. Deur die eeue heen was geestelike insig en goeie onderskeidingsvermoë nodig wanneer daar oorgeskakel is van een dispensasie na ʼn ander in die raadsplan van God vir die mens. Elke oorskakeling het sy eie, unieke aard en stel bepaalde eise aan mense terwyl daar van die ou bedeling af wegbeweeg en by die eise en beginsels van die ontluikende nuwe bedeling aangepas word.

Wanneer daar uit ʼn dispensasionele oogpunt na die geskiedenis van die nasies gekyk word, is dit opvallend dat elke oorgang na ʼn nuwe bedeling vinnig plaasgevind en telkens verreikende gevolge gehad het (bv. die oorgang van die OT wet in Israel na die wêreldwye bedeling van genade in die NT). Die suksesvolle geestelike aanpassing by sulke oorskakelings vereis dat mense profetiese voorkennis het van God se beloftes oor hoe Hy Homself gaan openbaar, terwyl hulle voortgaan om sy opdrag tot bekering van sonde na te kom (Jes. 55:7; Luk. 24:46-47; Hand. 17:30). Insig van dié aard sal hulle in staat stel om betyds, op die regte manier, tot die eer van die Here en dus ook tot hulle eie voordeel op nuwe situasies te kan reageer.

Omdat ons God se koninkryk as ʼn geestelike werklikheid ervaar, gaan elke nuwe bedeling in die progressiewe ontplooiing van God se raadsplan met duidelike geestelike beginsels en voorskrifte gepaard. Dit het nie net belangrike implikasies vir ons praktiese godsdiensbeoefening en verhouding met die Here nie, maar ook vir ʼn verbeterde morele bewussyn en die lei van ons sekulêre lewens (sosiaal, opvoedkundig, ekonomies en polities) volgens Bybelse beginsels.

ʼn Verdere belangrike feit wat in gedagte gehou moet word, is dat daar op geestelike gebied ook ʼn vyandige koninkryk van die duisternis is. Satan beveg God as die Heerser van die heelal, en streef daarna om self die god van hierdie gevalle wêreld te wees (2 Kor. 4:4). Hy beveg nie net die geestelike beginsels van God se koninkryk nie, maar ook die morele en kulturele leefwyse wat die Here van gelowiges verwag. Die duiwel vervreem mense van God af en bevorder ʼn dekadente lewenspatroon van immoraliteit, selfsugtigheid, gewelddadigheid en bandeloosheid. Hy probeer veral om gedurende elke dispensasionele verandering die maksimum voordeel vir sy koninkryk te verkry deur mense van die Here se beloofde seëninge af weg te hou.

Die tragiese geskiedenis van die mensdom oor duisende jare heen lewer oorvloedige getuienis van die mislukte geestelike reis waarop die groot meerderheid van hulle was, en nog steeds is. Misleiding en ʼn bykans onstuitbare beweging na ʼn immorele, perverse en gewelddadige lewenswyse het telkens, en vir lang tye, die botoon gevoer. In ʼn sekere stadium was die verval en openlike rebellie teen God só erg dat Hy die hele mensdom van daardie tyd – met die uitsondering van slegs Noag en sy gesin – in ʼn oordeel uitgewis het. Tydens die bou van die toring van Babel was die gevalle mens op die punt om ʼn magtige wêreldryk te vestig waarin alle volke op aarde gedwing sou word om net die valse, Babiloniese afgode te aanbid. Die Here het weer ingegryp en deur die taalverwarring hierdie bose eenheidsprojek beëindig.

Dit is dus van die grootste belang om God se raadsplan te verstaan, ʼn vaste verhouding met Hom te handhaaf, die beginsels van die bedeling waarin jy is te begryp, teen die vyandige koninkryk van Satan weerstand te bied, en ook reg ingestel te wees op dit wat in die toekoms gaan gebeur. Misleiding en onkunde is wapens wat aktief deur die vyand gebruik word om mense se geloof te ondermyn en hulle te verblind vir God se profetiese beloftes.

Ten spyte daarvan dat basiese geestelike beginsels oor sonde en geregtigheid tydloos is en dus altyd eerbiedig moet word, is onderskeidingsvermoë van groot belang tydens sulke oorskakelings. Die manier waarop uitdrukking aan dié beginsels gegee word, ondergaan oor tyd heen groot veranderings, daarom die noodsaaklikheid van geestelike vernuwing en ʼn wandel met die Here in die lig van nuwe openbarings wat Hy maak. Baie mense weerstaan egter tot hulle eie skade die vernuwende werk van die Heilige Gees en bly onbeweeglik by die ou gebruike en tradisies. Die meerderheid Jode het dit gedoen toe Jesus as die Messias gekom het om die wet en die profete te vervul en voorsiening te maak vir ʼn baie meer intieme en persoonlike verhouding met God deur die Heilige Gees. Mense wat nie hierdie veranderings wou aanvaar nie, het in ʼn dooie, ritualistiese vormgodsdiens vasgevang geraak. Ons kan dus baie leer uit dispensasionele veranderings wat reeds in die verlede plaasgevind het, asook die ernstige foute wat mense toe gemaak het. Ons ly trouens nog steeds aan die gevolge van die sondeval deur ons eerste ouers, terwyl baie Christene hulle geloofslewe ondermyn deur die genade van Christus met aspekte van die uitgediende bedeling van die wet te probeer vermeng.

Die bedeling van onskuld in die paradys

Adam en Eva is binne-in die paradys deur die duiwel mislei om aan God ongehoorsaam te wees deur sy bevele te verontagsaam. Die gevolg hiervan was nie net dat die mens kennis van goed én kwaad opgedoen het nie, maar self die slagoffers en slawe van sonde geword het. Adam en Eva het vervreem geraak van God as die bron van die lewe. As gevolg daarvan het hulle geestelik gesterf en ook fisies sterflike mens geword. Hulle sondige natuur het ʼn attribuut van die hele menslike geslag geword (Rom. 5:12), en ons kan slegs deur wedergeboorte weer die ewige lewe van God verkry wat volg op geloof in die laaste Adam, Jesus Christus (Rom. 5:17; 1 Kor. 15:22). Ons eerste ouers is weens hulle ongehoorsaamheid uit die paradys verdryf, en daarna het ʼn veeleisende bestaan in ʼn sondige wêreld op hulle én hulle nageslag gewag.

Daaropvolgende bedelings

Ná die sondeval het die bedelings van die gewete, van menslike regering, van die wet en uiteindelik die bedeling van genade gevolg, waarin die Here op verskillende maniere met mense gekommunikeer het. In hierdie tyd is daar verskeie skaduagtige offers gebring en feeste gevier wat profeties vorentoe gewys het na die koms van God se Seun as die Verlosser van die wêreld. Hy het ‘n baie belangrike dispensasionele verandering ingelui toe Hy dit alles vervul het.

Die huidige dispensasie in God se raadsplan word die kerkbedeling genoem, die bedeling van die Heilige Gees, asook die bedeling van genade. Tydens hierdie bedeling word die Kerk van Christus onder alle volke en nasies op aarde gevestig. Sondaars word op grond van die verkondiging van die evangelie uit genade deur die geloof gered. Die Heilige Gees wederbaar hulle en lyf hulle geestelik by die Kerk (of liggaam) van Christus in. Daarna lei Hy hulle in die hele waarheid van God se Woord, en gebruik hulle om ook ander mense na die Here Jesus te lei.

Die onsigbare, geestelike koninkryk van Christus waarby alle ware gelowiges ingelyf word, gaan egter ná die kerkbedeling sigbaar op aarde geopenbaar word. Dit is die rede waarom daar nog ʼn koninkryksbedeling moet verloop voordat God se raadsplan vir die mens sy finale stadium sal bereik. Voordat dit gebeur, moet daar ʼn tyd van oordele wees sodat almal wat God se genade versmaai en verwerp het, geoordeel kan word. Vir hierdie doel moet daar eers fisiese skeiding tussen gelowiges en ongelowiges geskep word, want die Here sal nie sy kinders saam met die ongelowiges oordeel nie.

Die oomblik van skeiding

ʼn Baie drastiese en dramatiese dispensasionele verandering sal aan die einde van die kerkbedeling plaasvind. Dit sal gevolg word deur gebeure wat vir twee groot groepe mense op twee verskillende plekke sal afspeel, naamlik vir die gereddes in die hemel, en vir die verlorenes en vormgodsdienstiges op aarde. Die skeiding tussen die twee groepe sal bewerkstellig word deur die wegraping, wanneer alle gelowiges (lewendiges in Christus en ook diegene wat in Christus gesterf het) met verheerlikte opstandingsliggame beklee en in ʼn oomblik na die hemel weggevoer word (1 Thess. 4:16-17; 1 Kor. 15:51-52). Hulle sal in die hemel verder voorberei word om sewe jaar later saam met Christus terug te keer aarde toe (Sag. 14:4-5; Kol. 3:4; Op. 5:9-10; 20:6) en die bedeling van die geopenbaarde koninkryk van God op aarde in te lui.

Dit is egter nie net God wat aan alle gelowiges ʼn koninkryk belowe het nie – die duiwel het aan sy volgelinge ook ʼn koninkryk belowe in die vorm van ʼn wêreldryk wat onder die beheer van ʼn multigodsdienstige “Christus” sal staan (dit is die Antichris). Daar was verskeie voorlopers van hierdie bose wêreldleier tydens die kerkbedeling, maar hy kan nie geopenbaar word om volle beheer oor te neem terwyl die Kerk van Christus nog hier is nie (2 Thess. 2:1-12). Die oomblik wanneer die teëhouer uit die weg geruim word, sal die ongeregtige geopenbaar word; dan sal die kortstondige bedeling van sy goddelose wêreldregering ʼn aanvang neem.

Gelowiges in die hemel

Die heel eerste afspraak wat gelowiges in die hemel sal hê, sal voor die regterstoel van Christus wees, sodat hulle werke en lewe ná bekering beoordeel kan word (Rom. 14:10-12; 2 Kor. 5:10). Hier sal elkeen van hulle genadeloon van die Here ontvang (1 Kor. 3:8-15; Luk. 19:15-21) en in ooreenstemming daarmee verskillende posisies in sy koninkryk beklee. Die bruilof van die Lam sal ook in die hemel plaasvind, waarna die bruid van Christus in al sy toekomstige heerlikheid sal deel. Hulle sal saam met Hom die wêreld in geregtigheid oordeel (1 Kor. 6:2) en sterk daarna uitsien om saam met Hom as konings op aarde te regeer (Op. 5:9-10).

Alle Christene moet gedurende die kerkbedeling die nodige voorbereidings tref vir die dispensasionele verandering wat met die wegraping sal intree, want hulle sal voor Christus se regterstoel rekenskap van hulle lewe op aarde moet gee. By daardie geleentheid sal sommige van hulle baie genadeloon ontvang, ander sal minder kry, en sal daar sal ook diegene wees wat niks sal ontvang nie (vgl. Luk. 19:15-23). Die laasgenoemde groep sal as mislukte dissipels met leë hande voor die Here staan, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:10-15). Geen Christen sal voor die regterstoel met terugwaartse effek dinge kan regstel wat in sy lewe verkeerd geloop het nie, daarom moet almal van ons in die huidige bedeling volle aandag aan ons geestelike lewe en ons toewyding en diens aan die Here gee. Profetiese voorkennis oor wat die toekoms vir ons inhou, is dus van onskatbare waarde sodat ons nou reeds ons prioriteite kan regkry en die nodige voorbereidings vir die ewigheid kan tref.

Die goddeloses op aarde

Ná die wegraping sal die Antichris geopenbaar word – aanvanklik nie as ʼn wrede diktator nie, maar as ʼn multigodsdienstige allemansvriend en valse vredevors. Hy en sy persoonlike assistent (die valse profeet) sal deur duiwelse magte groot wonderwerke doen, en selfs daarop aanspraak maak dat hulle ʼn dreigende wêreldoorlog afgeweer het. As gevolg hiervan sal die Antichris nie net as ʼn diplomaat en militaris vereer word nie maar ook as ʼn god aanbid word: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier [die Antichris] aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Ten spyte van die oorweldigende en wêreldwye steun van die Antichris, sal daar vroeg in die sewe jaar-lange verdrukking ʼn geestelike polarisasie op aarde plaasvind. Baie mense, veral ook ʼn groot aantal in Israel, sal besef dat die Antichris ʼn valse leier is en hulle dan tot Jesus Christus as die enigste Verlosser en ware Koning van die wêreld bekeer (Op. 7:1-17). Hierdie beweging sal dwarsdeur die verdrukking voortduur en na alle volke uitbrei. Omdat dit die bedeling van die Antichris se wêreldregering sal wees, sal hy die mag hê om sy teëstanders – waaronder die ware gelowiges in Christus – te beveg en fisies te oorwin (Op. 13:7). Hierdie gelowiges sal die Antichris egter geestelik oorwin omdat hulle tot met hulle dood as martelare sal weier om hom as God te aanbid (Op. 12:11).

Wanneer die Antichris se valse vrede en wêreldeenheid ná 3½ jaar (42 maande) in duie stort, sal hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4) en alle mense dwing om homself én sy beeld in hierdie hoedanigheid te aanbid (Op. 13:15). Hy sal ʼn militêre diktatuur instel en almal wat hom teëstaan, summier laat teregstel. Dit sal ʼn groot ontnugtering vir sy alliansie van wêreldgodsdienste wees, omdat hulle vervolging in die gesig sal staar indien hulle sou weier om die Antichris as God te aanbid (Op. 17:16).

In hierdie tyd sal die aarde en sy bewoners ook deur groot oordele geteister word weens hulle rebellie teenoor die ware God. Hierdie oordele kon nie tydens die kerkbedeling begin het nie, omdat dit nie vir die gelowiges bedoel is nie. Soos in die tyd van Noag en Lot, moet die gelowiges eers op ʼn plek van veiligheid gestel word voordat die Here die goddeloses oordeel; daarom kan hierdie oordele noodwendig eers ná die wegraping plaasvind.

Daar sal ʼn groot menigte mense uit alle volke wees wat hulle nie by die misleides en aanbidders van die Antichris sal skaar nie, omdat hulle sal besef dat hy ʼn misleier is wat bose planne in die mou voer. Baie van hierdie ontnugterde mense wat agtergebly het, sal oor die profetiese voorkennis m.b.t. die wegraping, die verdrukking en die Antichris beskik, maar vroeër nagelaat het om dit ernstig op te neem en hulle saak met die Here reg te stel.

Wanneer dié mense ná die wegraping met ʼn skok besef dat alles in die Bybel waar is, sal hulle tot bekering kom en dan noodwendig die Antichris as ʼn vervalser en bose wêreldleier verwerp. Dit sal van hulle vyande van die Antichris maak en, veral gedurende die tweede helfte van die verdrukking, sal miljoene van hulle as martelare sterf (Op. 7:9-14; 13:7). Hulle sal nie op grond van hulle marteldood gered word nie, maar dit sal ʼn praktiese bewys wees dat hulle ʼn vaste geloof in die ware Christus het en as gevolg daarvan vreesloos vir die dood is. Hoewel hulle fisies sal sterf, sal hulle geestelik teen die Antichris en sy misleiding oorwin (Op. 12:11).

Christus se wederkoms en vrederyk

Die dispensasie van die Antichris se regering op aarde sal nie lank duur nie, en dit sal op ʼn vinnige en beslissende wyse deur Jesus Christus se wederkoms beëindig word. Op die dag van Christus se wederkoms wanneer Hy sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sit, sal dit die hoogtepunt van die slag van Armagéddon wees. Die Antichris en valse profeet sal lewendig in die poel van vuur gewerp, hulle volgelinge geoordeel en die duiwel in ʼn put gebind word (Op. 19:19–20:3; vgl. Sag. 14:12-13).

Oorlewende lede van Israel én die nasies sal dan vir Christus as Verlosser aanneem terwyl hulle in diepe berou oor hulle sonde voor Hom neerbuig (Sag. 12:10; Matt. 24:29-30; Op. 1:7). Eers dan, wanneer alle boosheid en teëstand uit die weg geruim is, sal die Here Jesus sy koninkryk op aarde openbaar en saam met sy heiliges regeer. Hy sal die troon van Dawid in Jerusalem herstel en self van dié troon af regeer (Hand. 15:16-17). Al die nasies sal Hom dien en eer, en gereeld afvaardigings na Jerusalem stuur om deur Hom onderrig te word (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:20-23). Hulle sal gereeld godsdienstige feeste in die Stad van die Groot Koning vier om die groot verlossingsdade van die Here in herinnering te roep (Sag. 14:16).

Die groot waarde van Bybelse kennis

Al die belangrike dispensasionele oorskakelings in die geskiedenis van die mensdom tot op hede het tragiese gevolge ingehou vir die groot meerderheid sondaars as gevolg van hulle geestelike onkunde oor God se koninkryks- en verlossingsplan vir die mens. Die sondaars leer ook nie uit hulle eie foute nie, daarom word die oordele oor die ongeredde menigtes altyd net groter. Ernstige waarskuwings word nie ter harte geneem nie, soos blyk uit die feit dat Noag die sondaars in sy tyd omtrent 120 jaar lank teen God se oordele gewaarsku het. Hulle het hulle egter nie hieraan gesteur nie en hardkoppig met hulle sonde voortgegaan “tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het” (Luk. 17:27).

Hierdie geweldige ramp waarin ʼn groot skare mense onder God se oordele gesterf het omdat hulle geweier het om tot bekering te kom, gaan tydens die wederkoms van Christus herhaal word: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens” (Luk. 17:26). In ons tyd word die sondaars ook teen die oordele van die groot verdrukking gewaarsku, maar met al hoe minder effek. Op ʼn bepaalde oomblik sal die Here besluit daar was genoeg waarskuwings en oproepe tot bekering, dan sal Hy die gelowiges deur die wegraping in ʼn plek van veiligheid stel. Daarna sal die sondaars gestraf word soos beskryf in die oordele van die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae (Openbaring 6 tot 19). Dit sal die oordele van die dag van die Here wees (Jes. 13:9-13; 24:1-6, 19-23), waartydens die Antichris en valse profeet ook hul skrikbewind op die aarde sal voer.

Sodom is ʼn verdere voorbeeld van Goddelike ingryping deur oordele. Sodom en Gomorra het sinoniem met sonde en seksperversie geword, daarom word homoseksualiteit ook “sodomie” genoem (vgl. 1 Kor. 6:10). God se oordele oor Sodom en omliggende stede word in Génesis 19 beskryf. In hulle Bible Knowledge Commentary (bl. 60) sê proff. Walvoord en Zuck: “Hierdie hoofstuk (Gen. 19) beskryf God se oordele oor ‘n moreel korrupte Kanaänitiese beskawing, maar dit rig ook ʼn ernstige waarskuwing aan ander wat soos hulle word.” Die eindtydse wêreld is besig om al hoe meer soos Sodom te word: immoreel, gewelddadig, goddeloos en totaal onverdraagsaam teenoor mense wat dit sou waag om die sondaars in hulle bandeloosheid en vuil gedrag aan te spreek. Homoseksualiteit word weer openlik en skaamteloos beoefen.

Die eindtydse samelewing sal in ʼn toenemende mate soos Sodom raak, en die toestand sal verder versleg tot op die dag wanneer Jesus Christus die regverdiges deur die wegraping sal wegneem. Direk daarna sal die oordele van God tydens die verdrukking van sewe jaar oor die verdorwe en onbekeerlike mensdom uitgestort word: “Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swael van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word. ... Ek sê vir julle: in daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. ... Twee sal op die land wees; die aan sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:29, 30, 34, 36).

Die dispensasionele verandering aan die einde van die kerkbedeling sal skielik plaasvind en die gevolge daarvan oral gevoel word. Selfs in gesinsverband sal diegene wat nie ware Christene was nie, agtergelaat word. Dieselfde skielike skeiding tussen regverdiges en onregverdiges sal oral in die samelewing plaasvind, en veral ook baie sigbaar wees in die werksplekke. Die regverdiges sal na die hemel weggevoer word (1 Thess. 4:16-17) waar hulle rekenskap van hulleself voor die regterstoel van Christus sal gee. Die oorblywende wêreldbevolking sal dan oral mislei word om die Antichris as die “Christus” van alle gelowe te aanvaar. Gedurende die daaropvolgende verdrukking sal hulle ʼn laaste geleentheid hê om te midde van uiters moeilike omstandighede die ware Christus as Verlosser aan te neem. Baie van hulle sal dit doen, maar hulle sal steeds net ʼn minderheid van die wêreldbevolking wees.

Die groot meerderheid mense op aarde sal dan volgelinge en aanbidders van die multigodsdienstige Antichris word, en baie beïndruk wees met sy ideologie van politieke, godsdienstige en ekonomiese globalisme (Op. 13:1-18). Diegene wat vir Jesus Christus kies en op grond daarvan die Antichris as ʼn valse leier verwerp, sal hewig vervolg word (Matt. 24:21). Hulle toekoms sal egter veilig en gewis wees, en selfs nie ʼn marteldood kan dit ongedaan maak nie (Op. 20:4). Daar is vir alle mense op aarde net een veilige keuse om te maak, en dit is om die Here as Verlosser te soek op grond van die soendood van sy Seun (Rom. 8:1; 1 Joh. 5:12).

Dit is uiters noodsaaklik om tred te hou met die progressiewe openbarings van God se raadsplan, wat telkens na nuwe dispensasies in die mens se heilsgeskiedenis lei. Gaandeweg neem die kennis van goed en kwaad toe, maar die stryd raak ook hewiger namate ons op die groot eindtydse konfrontasies tussen die koninkryke van lig en duisternis afstuur. Die feit dat miljoene mense in alle nasies navolgers en aanbidders van die Antichris gaan word (Op. 13:3-4, 8), is alles die gevolg van onkunde oor God self én ook oor sy verlossingsplan vir die wêreld.

Behalwe vir die vatbaarheid vir misleiding onder gelowiges wat nie goed ingelig is oor die grondbeginsels van die huidige kerkbedeling nie, is daar ook wesenlike gevare wat veroorsaak word deur diegene wat die eienskappe probeer naboots van die toekomstige koninkryksbedeling wat eers ná die wederkoms van Christus geopenbaar sal word. Dispensasionele verwarring van dié aard speel net in die hand van die vyand, omdat die najaag van ʼn koninkrykstransformasie in ʼn oorwegend bose wêreld ekumeniese assosiasies in die hand werk wat humanisties eerder as evangelies is, asook ʼn beheptheid met tekens en wonders. Dit is ʼn teelaarde vir misleiding, insluitend ʼn mensgemaakte koninkryk op aarde wat uiteindelik in die hande van ʼn valse vredevors sal val, naamlik die Antichris.

Elke dispensasie het sy plek en eie, unieke kenmerke. Dit verteenwoordig ‘n bepaalde fase in die progressiewe openbaring van God se koninkryks- en verlossingsplan en mag nie verander of verkeerd toegepas word deur mense nie. Ons het die verantwoordelikheid om die woord van die waarheid reg te sny (2 Tim. 2:15), veral ook in sy regte dispensasionele verband.