Die Gevare van Postmodernisme

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2010)

Die vroeë 21ste eeu word ideologies en teologies deur ‘n skerp swaai na postmodernisme gekenmerk. Hierdie denkrigting het in die laaste twee dekades van die vorige eeu geleidelik inslag begin vind, maar geniet tans die steun van miljoene mense dwarsoor die węreld. Postmodernisme is die geestesingesteldheid en leefwyse van die totaal bevryde mens wat homself losgemaak het van alle ideologieë, tradisies en bande wat sy vryheid van denke en optrede enigsins aan bande gelę het. Ons sal duidelikheid oor die ware aard van  postmodernisme moet verkry, asook die belangrikste gevare wat daaraan verbonde is.

Volgens postmoderniste kan die węreldgeskiedenis ideologies in die volgende drie tydperke ingedeel word:

Premodernisme

Dit was die tydperk van primitiwiteit toe elke volk sy eie, tradisionele geloof gehad het wat hoofsaaklik gebaseer was op towery, waarsęery, voorvaderaanbidding en verskillende vorms van afgodediens, asook die mistisisme van die Oosterse gelowe. Die meeste van die primitiewe volke was ongeletterd en in hierdie tyd het daar geen noemenswaardige ontwikkeling op tegnologiese, mediese en ander terreine plaasgevind nie. Kennis was beperk en het tot ‘n groot mate gestagneer omdat dit nie op navorsing gebaseer was nie en dikwels met bygeloof vermeng was.

Modernisme

Hierdie periode in die węreldgeskiedenis is ingelui deur die vestiging van die Christelike geloof in baie węrelddele. Die Christelike jaartelling wat by die geboorte van die Here Jesus begin het, het oral inslag gevind en is ‘n aanduiding van die chronologiese verloop van die Christelike beskawing wat sinoniem met modernisme geraak het. Die Christelike geloof het egter sedert sy vroeë uitbreiding uit Jerusalem met meedoënlose opposisie deur heidense gelowe, en ook ‘n heidense węreldryk, te kampe gehad. Verder is die Christendom aansienlik verswak toe die grootste deel daarvan onder die beheer van die Rooms-Katolieke Kerk gekom het. Dit het na geestelike sowel as akademiese stagnasie gedurende die donker Middeleeue gelei.

Dit was eers tydens die groot geestelike ontwaking van die 18de en 19de eeue dat węreldevangelisasie met groot erns en toewyding uitgevoer is. Dit het na groot uitbreidings van die Christelike kerk gelei en die grondslag vir die Westerse Christelike beskawing gevorm. Aansienlike tegnologiese ontwikkelings het gevolg toe mense van bygeloof bevry is, en onderwys tot op tersięre vlak het in alle ontwikkelende lande ‘n groot prioriteit geword.

Ander ideologieë het ook tydens die ontwikkelingsfase van modernisme inslag gevind, veral kapitalisme, sosialisme en kommunisme. Kapitalisme het ‘n baie sterk dryfkrag geword wat tot die kolonisering en modernisering van verskeie derdewęreldlande gelei het. Sosialisme het tot die vestiging van kommunistiese diktature in baie węrelddele aanleiding gegee.

Postmodernisme

Die verbysterende wetenskaplike en tegnologiese prestasies van die 20ste eeu het gaandeweg na nuwe ideologiese en godsdienstige sienings in die węreld aanleiding gegee. As gevolg van die mens se verhoogde kennis en vaardighede het hy aansienlik meer mag gekry, al hoe meer wetenskaplike verklarings vir die menslike lewe en natuurverskynsels ontdek, en in die proses self oplossings vir die meeste van sy probleme gevind. Navorsing het die sleutel tot nuwe insigte geword, kennis het eksponensieel toegeneem en die mens het sy eie węreld begin skep. Hy neem die sentrale posisie in hierdie nuwe węreld in, en dit het van hom die bepaler van sy eie lotgevalle gemaak.

‘n Humanistiese selfverlossingsleer is uit hierdie mens- en kennisgeoriënteerde lewensbeskouing gebore, want die mens het homself begin bevry van alle ideologieë uit die moderne era wat inbreuk op sy vryheid van denke, vryheid van spraak en vryheid van optrede gemaak het. Hy het doelbewus uit die moderne era na ‘n postmoderne era beweeg. Om dit te kan doen, moet hy egter die belangrikste kenmerke van die moderne era in diskrediet bring en afbreek, omdat hulle te beperkend en voorskriftelik van aard is. Dit het tot ‘n omvattende proses van dekonstruksie gelei.

Die Christelike godsdiens word om die volgende redes gedekonstrueer:

·       Dit lei na geloof in ‘n Opperwese wat mag oor die mens het om sy lewe te reël en hom ook vir ewig te verdoem indien hy nie aan goddelike voorskrifte voldoen nie.

·       Dit bied bonatuurlike verklarings aan vir die ontstaan van die węreld en alle lewensvorme, en dit is in stryd met wetenskaplike bevindings soos die evolusieleer.

·       Dit beskryf konsepte soos die hemel, die hel, en lewe ná die dood, wat nie wetenskaplik verifieerbaar is nie.

·       Dit spreek onaanvaarbare oordele uit oor die meeste mense, insluitend Christene wat sekere idees huldig wat in stryd is met die Bybel. 

·       Dit skep ‘n baie negatiewe beeld van die nie-Christelike godsdienste.

·       Dit dwing ‘n stel morele norme op mense af wat hulle vryheid van optrede beperk, insluitend hulle seksuele oriëntasie, en  laat ‘n stigma aan diegene kleef wat nie aan die norme voldoen nie.

·       Dit ontmoedig die mens om slegs sielkundige metodes aan te wend vir die hantering van gedragsafwykings, selfbeeldprobleme en geestesversteurings.

Dit is om redes soos dié dat die postmoderne mens homself as post-Christelik of post-teďsties sien. Sommige van hulle verwerp die Christendom heeltemal en volg ‘n sekulęre lewenswyse. Ander slaan die weg in van drastiese hervormings van die teologie ten einde dit aan hulle eie sienings te onderwerp. Vir hulle word liberale kerke en ander godsdienstige byeenkomste forums vir die verdere dekonstruksie van die evangeliese Christendom.

Die Bybel word deur hierdie hervormers verlaag tot op die vlak van ‘n menslike geskrif vol teenstrydighede. Die transendente God word van sy mag gestroop en as ‘n panteďstiese god voorgehou wat in alle mense en in die natuur gesetel is. Die Here Jesus se maagdelike geboorte, godheid, opstanding uit die dood en hemelvaart word ontken, asook die heilswaarde van sy kruisdood. Gebed word deur Oosterse meditasie vervang en alle  voorskriftelike prediking uit die Bybel word verban om plek te maak vir spekulatiewe gesprekvoering waarin die geloofwaardigheid van die Bybel bevraagteken word. Sulke byeenkomste is die teelaarde vir postmoderne agnostisisme.

Een van die sienings wat deur postmoderne teoloë van die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika gehuldig word, is dat daar in ‘n wetenskaplike węreldbeeld geen erkenning van die Bybelse begrip van ‘n “bo” en ‘n “onder” is nie. Volgens hulle is daar geen bewyse dat daar ‘n hemel of ‘n onderwęreld en ‘n hel is nie – ook nie ‘n duiwel nie. Die bewering word gemaak dat die vroeë Christendom sterk onder die invloed van premoderne bygelowe in die Midde-Ooste was, en vandaar hulle begrip afgelei het van ‘n duiwel wat as ‘n draak of slang beskryf is wat sy koninkryk iewers in die lug het. Dit is glo net ‘n mite.

Die meeste postmoderniste verwerp ook die idee van lewe ná die dood. Hulle meen dat die mens bloot na die stof terugkeer waaruit hy gemaak is, en dat sy bewussyn met sy dood ophou bestaan. Menslike lewe moet dus op die horisontale vlak beoordeel word, sonder enige verwysings na ‘n bonatuurlike dimensie wat in elk geval volgens hulle nie wetenskaplik geverifieer kan word nie. Alle beskouings hieroor word aan die invloed van ‘n primitiewe, premoderne węreldbeeld toegeskryf.

Behalwe dat die postmoderne mens rigiede godsdienstige idees oorboord gooi, verwerp hy ook ander instellings in die samelewing wat sy gedrag en vryheid van keuse aan bande lę. Dit sluit politieke ideologieë soos kapitalisme en kommunisme in, daarom word postmodernisme in sekere samelewings as post-kapitalisties, post-kolonialisties of post-kommunisties ervaar. Die demokratiese regte van die bevryde mens moet absolute voorrang geniet en deur geen onderdrukkende stelsel aan bande gelę word nie.

Dekonstruksie is ‘n sleutelbegrip in postmoderne hervormings. Die ou orde van menslike samelewings moet heeltemal verdwyn om vir die nuwe orde van ‘n vry en verenigde mensdom plek te maak. In moderne regstelsels word hierdie vryhede as die hoogste grondwetlike reg van elke mens eerbiedig.

’n Revolusie teen God

Postmodernisme is ten diepste ‘n revolusie teen die God van die Bybel. Sy gesagsposisie staan in die pad van ‘n vervalle mensdom wat in volle beheer van sy eie sake wil wees. Mense wil nie langer aan God se riglyne voldoen nie, maar vry wees om te doen net wat hulle wil. Volgens Psalm 2, waarin die Here Jesus se Koningskap oor die aarde bevestig word, spoor węreldleiers mekaar aan om hierdie goddelike beheer te verwerp en aan ‘n revolusie teen God en sy Seun deel te neem:

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sę: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps. 2:1-3).

Hierdie revolusie het al ver gevorder, soos blyk uit die feit dat Christelike grondwette waarin die Drie-enige God se oppergesag erken word, ‘n rare verskynsel in die węreld geword het. As gevolg hiervan is staatsgesubsidieerde Christelike onderwys ook ‘n verdwene verskynsel. In die plek hiervan het óf sekulęre onderwys óf multigodsdienstige lewensoriëntering gekom. Die jong geslag groei toenemend in ‘n postmoderne milieu op waarin hulle feitlik onbeperkte vryhede het om hulle lewens moreel, sosiaal en godsdienstig te reël soos hulle wil. Christelike standaarde word as uitgedien of irrelevant beskou en deur baie min lede van die opkomende geslag verdedig en gehandhaaf.

‘n Verdere aspek van hierdie revolusie is die gesamentlike optrede van die węreld se leiers om die hele mensdom te bevry. Die begrip van globalisme kom baie duidelik hieruit na vore – m.a.w. ‘n nuwe węreldorde. Die mensdom moet polities, godsdienstig en ekonomies verenig word as die hoogste uitdrukking van die mens se selfverwesenliking en heerskappy oor die węreld en sy inwoners. ‘n Moderne toring van Babel word dus gebou.

Sintese

Soos wat die dekonstruksie van die ou orde momentum verkry, het ‘n nuwe samelewingsorde begin gestalte aanneem wat op sintese gebaseer is. Dit is ‘n eklektiese samevoeging van opvattings en gebruike uit sowel die premoderne as die moderne eras, en idees kan ook uit verskillende godsdienste oorgeneem word. Daar is letterlik geen perke aan dit wat die “bevryde mens” kan verwerp en weer in die plek daarvan aanvaar nie. Dit is nie meer vreemd om te hoor dat mense gay is, nie in formele huwelike belangstel nie, nie in die Bybel of in God glo nie en besluit het om Boeddhistiese of Hindoeďstiese meditasietegnieke te beoefen.

Die mense van Afrika is ook nou vry om óf voorvaderaanbidding uit die premoderne tydperk te beoefen, óf een of ander weergawe van die Christendom, óf enige van die nie-Christelike gelowe. Hulle kan ook al hierdie tradisies probeer vermeng. Geen druk mag op enigeen toegepas word om slegs aan die beginsels van een of ander spesifieke geloof te konformeer nie.

Verdraagsaamheid

In die ontluikende samelewings word ‘n kultuur van onderlinge verdraagsaamheid geskep deur nie mekaar te kritiseer of verdag te maak nie. Enige neiging in hierdie rigting kan as haatspraak bestempel word en tot siviele of kriminele vervolging lei. Almal se vryheid moet gerespekteer word en een persoon se morele beskouings oor reg en verkeerd mag nie op ander mense afgedwing word nie.

Die enigste beperking wat in postmoderne samelewings op mense gelę word, is dat hulle nie deur hulle optrede ander mense mag benadeel of in gevaar stel nie, en hulle ook nie aan wreedheid teenoor diere mag skuldig maak nie. Vrede, eenheid en harmonie moet as die hoogste ideale nagestreef word, ook op die internasionale vlak.

Redding en straf

Wat sę die Here van hierdie revolusie teen Hom en sy Seun, wat in die eindtyd ‘n węreldwye beweging geword het?

“Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesę: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:5-12).

God is ‘n God van liefde en goedertierenheid. Hy het besluit om sy Seun mens te laat word in die gedaante van ‘n nederige dienskneg, en Hom as Verlosser na ‘n sondige węreld te stuur wat vol ongeregtigheid en gewelddadigheid is. ‘n Engel van die Here het voor die geboorte van Jesus aan Josef verskyn en oor die Kind gesę: “Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). “Jesus” beteken “God is Verlossing”. Die Here Jesus het ook vir alle ander nasies “gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:10), daarom het Hy sy dissipels met die evangelieboodskap tot aan die eindes van die aarde uitgestuur (Mark. 16:15; Hand. 1:8). Węreldevangelisasie is die groot taak van die kerk in hierdie bedeling.

Wanneer alle nasies die evangelie gehoor het en die wat wil, gered is, sal Christus terugkeer om aktiewe beheer oor die hele węreld uit te oefen: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17). Hy sal nie as ‘n nederige dienskneg terugkeer nie, maar as Koning van die konings en Heer van die here, met baie krone op sy hoof (Op. 19:11-16).

Gedurende die Here Jesus se regering op die troon van Dawid sal daar vrede sonder einde in die Midde-Ooste én die hele węreld wees (Jes. 9:6). Jerusalem sal die troon van die Here genoem word, alle nasies sal daarheen optrek om deur die Here onderrig te word en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie (Jer. 3:17). Die geredde Israel sal grootliks deur al die nasies wat gereeld na Jerusalem sal kom, geëer word (Sag. 8:22-23). Voormalige oorlogsugtige nasies sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse, en nie meer leer om oorlog te maak nie (Jes. 2:2-4). Dan eers sal alle nasies deel van Christus se koninkryk wees en onder sy direkte beheer lewe.

Dit spreek vanself dat ‘n rebelse mensdom wat weier om Jesus Christus se beheer te aanvaar, eers geoordeel en van hulle mag en invloed op aarde ontneem sal moet word voordat Christus se koninkryk ten volle geopenbaar kan word. Dit maak nie saak of die vyande van God uit die nie-Christelike gelowe kom of deur antichristelike ideologieë beďnvloed word om die Drie-enige God te verwerp nie – hulle is almal rebelle teen die Vader en sy Seun en besig om hulleself sy oordele op die hals te haal.

Uit die beskrywing in Psalm 2 is dit egter duidelik dat die węreldleiers en regters waarna hier verwys word, vroeër die gesag van God en sy Seun erken het, maar dit vervolgens op ‘n besliste en militante manier verwerp: “Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” sę hierdie leiers. Hulle is dus selfverklaarde postmoderniste wat uit die Christelike tradisie uitstap en hulleself bemagtig om te leef soos hulle wil.

Mense wat God se reddende genade smaad deur die versoening te verwerp wat sy Seun uit liefde aan hulle bied, laat aan die Here geen keuse as om hulle te oordeel nie. Gedurende die groot verdrukking sal God se oordele oor die hele aarde uitgestort word om die sondaars te verdelg (Jes. 13:9-13; 24:1-23; Matt. 24:21; Op. 19:15). Dit sal ook ‘n tyd wees van groot loutering vir afvallige Israel, sowel as nominale en teruggevalle Christene (Jer. 30:7; Op. 6:9).

Sal weergebore Christene ook die voorwerpe van God se toorn wees? Hoegenaamd nie! Soos in die dae van Noag en Lot sal die Here eers die regverdiges uit die ramptoneel van goddelike oordele verwyder en dan sy toorn oor al die rebelle teen sy koninkryk uitstort. Die wegraping is die wyse waarop ware gelowiges voor die tyd van oordele van die planeet aarde af weggeneem sal word (Luk. 21:36; 1 Thess. 4:16-17). Hulle word welgeluksalig genoem  omdat hulle by die Seun geskuil het.

Die huidige postmoderne rebellie teen God, sy Seun, sy Woord en ‘n Christelike tradisie van byna 2000 jaar, is die hoogtepunt van die eindtydse mensdom se geestelike dwaasheid en selfverheffing. Hulle sal net hulleself kan blameer wanneer hulle in die hande van die lewende God val en die regverdige straf vir hulle geestelike verraad ontvang. Ons is egter nou nog in die bedeling van genade en moet geen tyd verspil om in die regte verhouding met God te kom nie. “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie, want gou kan sy toorn ontvlam.” Dit is oneindig beter om Hom nou as jou Verlosser te ken, as om Hom eendag as Regter te ontmoet en saam met al die ongelowiges veroordeel te word.