Redes vir die Wegraping

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2013)

Die belofte oor die wegraping word in ’n toenemende aantal kerke ontken, geïgnoreer of swak beklemtoon in prediking oor die eindtyd. Dit is egter ’n baie belangrike belofte wat om goeie redes by profesieë oor die eindtyd ingesluit is. Dit gee aan Christene ’n positiewe en onbetwisbare toekomsverwagting – ’n konkrete hoop op Goddelike ingryping en seën om na uit te sien in ’n andersins donker toneel van komende oordele oor ’n goddelose wêreld. Die volgende redes vir die wegraping word in die Bybel genoem:

1. Dit is ’n ontmoeting met Christus

Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal, sal dié wat in Christus gesterf het, uit hulle grafte opgewek word en diegene wat nog lewe, in ’n oogwink met verheerlikte liggame beklee word (1 Kor. 15:51-53). Daarna sal die ware gelowiges saam in wolke weggevoer [of weggeraap] word, die Here tegemoet in die lug:

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Die grootste verwagting wat ons met betrekking tot die wegraping behoort te hê, is nie om weg te kom van die sondedeurdrenkte wêreld af waarin ons as vreemdelinge en bywoners woon nie, maar eerder die wonderlike vooruitsig om ons finale bestemming in die hemel te bereik! Die verlangende bruid sien daarna uit om met die hemelse Bruidegom verenig word. Op daardie dag sal “Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Hulle sal Hom sien en straal van vreugde.

Mense wat nie in die wegraping glo nie, moet vir hulleself uitmaak hoe anders as net deur die wegraping alleen hulle van die aarde af weggeruk kan word om die Here Jesus in die lug te ontmoet. Só is Jesus ná sy eerste koms na die hemel “weggeruk” (Op. 12:5); só is Paulus tot in die derde hemel “weggeruk” (2 Kor. 12:2); en só sal ons ook aan die einde van die kerkbedeling “weggevoer” word. In al hierdie gevalle word dieselfde werkwoord gebruik, naamlik “wegvoer” of “wegruk” (Gr. harpazo) wat beteken “om vinnig weggeruk te word”.

Die hemelse Bruidegom kom by hierdie geleentheid soos ’n dief in die nag om sy bruid te kom haal (Op. 16:15). Sy openbare koms wanneer elke oog Hom sal sien, sal eers plaasvind aan die einde van die sewe jaar-lange verdrukking wat ná die wegraping verloop (Op. 1:7). Tydens die wegraping sal Hy nie tot op die aarde kom nie, maar sy bruid in die lug ontmoet en haar daarna saamneem hemel toe. Diegene wat agterbly, sal met ’n skok ontdek dat al die ware Christene skielik spoorloos verdwyn het! Dissipels van Jesus sal dan in die hemel wees, in die heilige teenwoordigheid van die Koning van konings, en eers ná die donker dae van die verdrukking saam met Hom terugkeer (Sag. 14:4-5).

2. Dit bevorder ’n Christus-verwagting

Dit is belangrik om daarop te wys dat ’n voorverdrukking-wegraping by gelowiges ’n Christus-verwagting skep en nie ’n Antichris-verwagting nie. Ons wag vir die hemelse Bruidegom en nie vir die mens van sonde nie. Die hele 70ste jaarweek van Daniël 9 is deel van Israel se heilsgeskiedenis, en sal ingelui word deur ’n verbond wat Israel en die nasies met die valse messias sal sluit. Christene wat verkeerdelik in ’n wegraping in die middel van die verdrukking glo, verskuif hulle aandag weg van die Here Jesus af en bestee soms baie geld, tyd en energie om strategieë in plek te kry vir oorlewing gedurende die komende verdrukking van sewe jaar. Sommige van hulle ruim selfs ontvlugtingsplekke in weg van die groot stede af, omdat hulle nie in ’n wegraping voor die uitstorting van goddelike toorn glo nie. Die Bybel sê egter dat ons die Seun van God uit die hemele moet verwag, naamlik “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10).

Die belofte van die wegraping vestig ons aandag op die skielike en onverwagte koms van Christus vir sy bruid. Daar is geen uitdruklike tekens wat hierdie gebeurtenis direk voorafgaan nie – minste van alles die verskyning van die Antichris. Ons moet onsself besig hou met voorbereidings wat daarop ingestel is om ’n heilige lewe voor die Here te lei, terwyl ons voortgaan om mense te nooi om die lank bestaande uitnodiging na die bruilof van die Lam te aanvaar. Wanneer die huis van die Here vol is, sal Hy uit die hemel neerdaal met geklank van die basuin van God. Daarna sal al die tekens van die tye wat op Christus se sigbare verskyning aan die einde van die verdrukking dui, finaal in vervulling gaan. Dit sal ’n tyd van natuurrampe en oorloë wees soos nooit tevore nie (Matt. 24:6-7).

3. Dit is ’n ingryping deur God

“Die Here self sal van die hemel neerdaal … en ons sal … in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” (1 Thess. 4:16-17). Die bonatuurlikheid van die wegraping, naamlik die wegvoering van miljoene Christene, sal só duidelik ’n Goddelike ingryping wees dat geen wetenskaplike verklarings daarvoor gevind sal kan word nie. Daar sal waarskynlik absurde teorieë vir hierdie verskynsel aangebied word, maar dit sal in dieselfde kategorie wees as die evolusieteorie waardeur agnostici probeer om God se skeppingswerk weg te verklaar. Die Here kan inderdaad deur sy almag al sy kinders in ’n enkele oomblik opwek, verander en van die aarde af wegvoer. Hy sal diegene wat aan Hom behoort, wegneem en al die ander op die aarde agterlaat:

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34-36). Die “aanneem” van sommiges sal tydens die wegraping plaasvind. Die “verlaat” van die ander dui daarop dat ongelowiges en misleide mense sal agterbly om die donker dae van die Antichris se skrikbewind in die groot verdrukking te beleef.

Die skok-effek van die wegraping kan nouliks oorbeklemtoon word. In die vernietigende tekens hierna sal die Here se hand ook duidelik gesien kan word, veral in die groot oordele oor ’n afvallige mensdom (Op. 6:12-17). Deur die dramatiese effek van die wegraping sal die Here ’n ernstige boodskap aan ’n multigodsdienstige en afvallige mensdom rig, naamlik dat hulle enigste hoop daarin geleë is om weer na sy Woord terug te keer en dit ernstig op te neem. Die wegraping sal die mat heeltemal onder die moderne vergeestelikingsteologie uittrek, waarin Bybelse uitsprake nie letterlik opgeneem word nie maar as vae beeldspraak, allegorie of simboliek afgemaak word.

Ná die wegraping sal die meerderheid mense weens die verhardheid van hul harte wél deur die krag van die dwaling mislei word, maar miljoene ander sal nuwe begrip kry vir die waarheid van die Bybel en die Here soek, ongeag die verwerping en vervolging wat hulle getuienis in ’n antichristelike nuwe wêreldorde tot gevolg sal hê.

4. Dit is die verkryging van ’n opstandingsliggaam

Die wegraping staan duidelik in verband met die eerste opstanding wanneer al die ware gelowiges verheerlikte liggame sal verkry. Miljoene van dié wat weggeraap gaan word, is reeds dood, daarom moet hulle eers onverganklike nuwe liggame kry. Op daardie selfde oomblik sal die lewende gelowiges verheerlikte liggame kry en sonder die dood van verganklikheid tot onverganklikheid verander word. Paulus verduidelik hierdie belofte só aan ’n Christelike gemeente:

“Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Aan die Filippense word gesê: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21; vgl. 1 Joh. 3:2).

Die eerste opstanding word as “die opstanding van die regverdiges” beskryf (Luk. 14:14), en ook as “die opstanding van die lewe” (Joh. 5:29). Johannes sê: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).

Dit verwys na die duisendjarige vrederyk wanneer die opgestane en verheerlikte Christene saam met Jesus Christus sal regeer. Die goddeloses sal nie deel hê aan die eerste opstanding en die wegraping nie, daarom sê Johannes ook: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Op. 20:5). Hulle sal deel hê aan die tweede opstanding, wat ook genoem word “die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29), en voor die groot wit troon tot die ewige dood veroordeel word (Op. 20:11-15).

5. Dit is ’n skeiding tussen nominale en ware Christene

Behalwe die skeiding wat die wegraping sal teweegbring tussen geredde en ongeredde mense in die wêreld, sal dit ook binne die verband van die Christelike kerk self ’n skeiding tussen wedergebore en vormgodsdienstige lidmate tot gevolg hê. Die dwase maagde sal agtergelaat word wanneer die Bruidegom kom, al het hulle ook hulleself as ’n deel beskou van die groep wat aan die Bruidegom behoort, en selfs op sy koms gewag. Die afwesigheid van die olie van die Heilige Gees in hulle lewe dui op die feit dat hulle nie weergebore en Geesvervuld is nie (Matt. 25:6-10).

Baie van hulle sal eers ná die wegraping ’n eerlike ondersoek na hulle geestelike status doen, en dan agterkom dat daar geen aanduiding van die Heilige Gees se wederbarende krag in hulle lewens is nie. Hoewel hulle tydens die verdrukking steeds hulle lewens aan die Here kan oorgee, sal die Bruidegom nie by wyse van ’n tweede wegraping die deur vir hulle oopmaak nie – selfs al bid hulle daarvoor en begeer dit met hulle hele hart. Hulle sal buite in die koue moet bly, die donker dae van die verdrukking in die gesig staar en bereid moet wees om as martelare vir hulle geloof te sterf – dit alles weens hulle eie nalatigheid.

Hoeveel miljoene kerklidmate bevind hulleself nie in die bootjie van ’n selfmisleidende, dooie vormgodsdiens nie! Hulle redeneer dat aangesien hulle uitverkies is, en d.m.v. die doop in ’n ewige verbond aan God verbind is, hulle nie ’n ondervinding van wedergeboorte hoef te hê nie. Die Here Jesus het egter aan een van hierdie uitverkore verbondskinders gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Dit is net die herskeppingswerk van die Here wat jou lewe kan verander – nie kerklike ritualisering nie!

Maak seker dat jy nie tydens die wegraping die slagoffer van ’n dooie vormgodsdiens sonder wedergeboorte is nie, want dan sal jy beslis agterbly wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal (Joh. 14:2-3; Heb. 4:1). ’n Voorwaarde vir redding is ’n eerlike belydenis van jou sonde (1 Joh. 1:9), tesame met geloof in Jesus Christus as jou Verlosser en Saligmaker (Hand. 16:31).

6. Dit is die einde van ’n dispensasie

Die wegraping beëindig die bedeling van die kerk op aarde, omdat die ware kerk dan van die aarde af na die hemel toe weggevoer sal word. Net die valse kerk en die valse godsdienste wat deur die gees van die Antichris mislei is (1 Joh. 4:1-6), sal in die wêreld agterbly. Ons is tans baie naby aan die einde van die kerkbedeling op aarde. Die Bybel beskryf hierdie tydperk as ’n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite (1 Tim. 4:1). Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom ingestel moet wees, te mislei en aan die slaap te sus.

Terselfdertyd word die allesinsluitende eenheidsideologie van die komende antichristelike bedeling (holisme) aktief verkondig en strukture vir die wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie van die Antichris geskep. Uiteindelik sal daar ook ’n valse Christus aan die wêreld gebied word. Dit was met die oog op die openbaring van die intense, eindtydse misleiding dat die eerste waarskuwing in die Here Jesus se profetiese rede gewy is aan ’n beskrywing van sataniese misleiding wat sal uitloop op die verskyning van ’n valse wêreldleier: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). Moenie meegesleur word deur die stroom van postmoderne denke waardeur die verdorwe beginsels van ’n antichristelike nuwe wêreldorde bevorder word nie.

Dit is belangrik om die wegraping in sy korrekte dispensasionele plek te plaas, naamlik aan die einde van die kerkbedeling, net voor die begin van die Antichris se openbaring en die instelling van sy wêreldregering. Ons moet die tydgees van verval in die Christelike kerk teëstaan, asook die opmars van die komende Antichris (2 Thess. 2:7). Doen jy dit? Die hemelse Bruidegom sê dat terwyl dié wat vuil is nóg vuiler word, moet die regverdiges nóg regverdiger en heiliger word (Op. 22:11). Hulle moet besef dat die aanvegtinge teen die koninkryk van God in die eindtyd groter word, en dat hulle nie in die minste aan die druk van die vyand moet toegee nie.

Prediking oor die wegraping is in ’n tyd soos hierdie van kardinale belang. Ons is in die posisie van ’n atleet wat aan ’n langafstand-wedloop deelneem en reeds die klok vir die laaste rondte gehoor lui het. Dit moet hom motiveer om nie in sy poging te verslap nie, maar tot die einde toe te volhard. Petrus sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12). Ons moenie in die vinnig veranderende wêreld perspektief verloor en kompromie maak nie. Stry die goeie stryd van die geloof en bied vasberade weerstand teen alle vorms van boosheid en misleiding.

7. Dit skep die geleentheid vir die Antichris om geopenbaar te word

Die wegraping word regstreeks met die openbaring van die Antichris in verband gebring: “…julle weet wat hom teëhou sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” (2 Thess. 2:6-10).

Die ware kerk van Christus wat ’n tempel van die Heilige gees is, staan die openbaring van die Antichris teë; daarom kan hy eers ná hulle wegname geopenbaar word. Die Heilige Gees in die kerk is sterker as die gees van misleiding wat in die wêreld werk (1 Joh. 4:4). Wanneer die evangeliese Christene skielik weggeneem word, verdwyn die lig van die wêreld en breek die uur van die duisternis aan. Dan kan die mens van sonde sonder teëstand geopenbaar word. Die wegraping móét dus plaasvind voordat die Antichris sy verskyning kan maak!

Om mense dus op die wegraping voor te berei, behels ’n geestelike ingesteldheid van getrouheid aan die ware Christus en ook die aktiewe verwerping van die komende Antichris. Jy moet ’n teëhouer wees wat standpunt teen antichristelike ideologieë en hulle humanistiese strukture inneem.

8. Dit is ’n motivering vir standvastigheid in ’n tyd van afvalligheid

Die koms van die Bruidegom vind plaas in ’n tyd waarin dit geestelik gesproke donker is. Die einde van die kerkbedeling is ’n tyd van groot afvalligheid en goddeloosheid. Die relatief klein groepie Christene sal skyn soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag. Soos in die dae van Noag en Lot sal die aarde vol gewelddadigheid, materialisme en seksuele perversie wees.

Ongelukkig sal hierdie gees van sondigheid en immoraliteit ook sy tol onder Christene eis. Hulle sal in hulle waaksaamheid verslap deur geestelike standaard aanhoudend afwaarts aan te pas: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Baie sal so ’n lae profiel hou dat hulle in totale passiwiteit verval. Die Here Jesus het hierteen gewaarsku en aan gelowiges die verwagting van sy skielike koms as ’n motivering vir standvastigheid gegee: “Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:35-37).

Onaktiewe Christene verflou in hulle liefde teenoor die Here Jesus. Die verskynsel van geestelike afkoeling manifesteer op twee maniere: enersyds ontwikkel daar ’n liefde vir die wêreld en wêreldse partytjies waar drank gebruik word, en andersyds lei dit tot bekommernis en depressie. Hierteen waarsku die Here Jesus ook, en Hy hou weer eens die wegraping as ’n positiewe motivering voor om te volhard tot die einde toe: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:34-35).

Moenie jou eerste liefde verlaat deurdat jy van Jesus Christus vervreemd raak nie, want dit kan jou duur te staan kom! Die Here het sy Gees aan die afvallige kerk in Éfese onttrek en die gemeente het daarna agteruitgegaan en uiteindelik doodgeloop (Op. 2:4-5).

9. Dit is ’n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele

Die teks in Lukas 21:36 stel dit onomwonde dat die wegraping ’n ontvlugting uit oordele is. Die Here sê: “Waak dan, en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Die woord ontvlug beteken om buite die rampgebied te bly – nie om behoue déúr dit te gaan soos die Nuwe Afrikaanse Bybel sê nie.

Net soos in die dae van Noag en Lot, móét die regverdiges eers in ’n plek van veiligheid gestel word voordat die goddelike toorn oor ’n Christus-verwerpende wêreld uitgestort sal word. Die Here het self die ark se deur agter Noag toegemaak voordat die watervloed begin het. In die geval van Lot en sy gesin het die engele aangedring dat hulle die stad moes verlaat, omdat die vuur en swael nie kon neerdaal terwyl hulle nog daar was nie. Hulle was nouliks weg toe word die oordele van die Here oor die sondaars uitgestort.

Net so sal die wegraping vir ons ook ’n uitkoms wees. Dit is ’n salige hoop, soos ’n helder lig wat aan die einde van ’n donker tonnel skyn. Baie mense sê die chiliaste het ’n ontvlugtingsindroom, en dat hulle net hier wil wegkom sonder om hulle plig te doen terwyl hulle nog op aarde is. Die teendeel is eerder waar. Chiliaste besef juis dat hulle min tyd oor het om vir die Here te werk, daarom is hulle dalk meer as andere gemotiveer om te doen wat hulle hand vind om te doen. Hulle besef dat daar ’n verdrukking kom soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21). As die Here ons daaruit wil verskoon, soos wat Hy ook met Noag en Lot gedoen het, waarom sal ons nie die wonderlike belofte van die wegraping aangryp en waak en bid om daarvoor waardig te wees nie?

Mense wat sinies oor die belofte van die wegraping is en nie geestelik voorbereid is om die komende oordele te ontvlug nie, openbaar ’n baie onverskillige houding. Wat sou jy daarvan sê indien Noag soos volg geredeneer het: “Ek glo nie werklik dat die Here die aarde deur ’n watervloed sal oordeel nie, daarom gaan ek nie ’n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie”? Of wat sou van Lot en sy gesin geword het as hy gesê het: “Ek dink die oordele oor Sodom en Gomorra moet metafories verklaar word, daarom hoef ek en my gesin nie te vlug vir ons lewe nie. Indien Goddelike wraak wél uitgestort word, dan sal die Here ons net hier te midde van die vlamme bewaar”?

Die komende oordele van die verdrukking is ’n vaste Bybelse feit wat letterlik in vervulling sal gaan, en net so letterlik sal daar vir die kinders van God ’n ontvlugting uit die oordele wees. Ons moet dié belofte aanvaar en hiervoor gereed wees. Die verdrukking van sewe jaar moet nie verwar word met die verdrukking wat Christene nog altyd in ’n sondige wêreld as gevolg van hulle geloof ervaar het nie. Die eindtydse verdrukking is God se oordele oor ’n Christus-verwerpende wêreld. Die ware gelowiges is glad nie hiervoor bestem nie: “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9; vgl. Joh. 5:24).

10. Dit is ’n oproep om voor die regterstoel van Christus te verskyn

Die behoefte om vir die wegraping gereed te wees, spruit uit die vaste afspraak wat alle gelowiges het om rekenskap van hulle lewens te gee voor die regterstoel van Christus. Dit sal gebeur direk nadat ons ons finale bestemming in die hemel bereik het. Die vooruitsig op die wegraping konfronteer gelowiges baie duidelik met die verantwoordelikheid om te verskyn voor dieselfde Here wat aan sy dissipels die opdrag gegee het om die evangelie van redding te verkondig en daardeur hulle plig te vervul om die lig van ’n donker wêreld en die sout van ’n bedorwe aarde te wees. Ons Verlosser sal ook ons Koning en Regter wees.

Een van die uitdruklike redes vir die wegraping sal dus wees om ons op te roep om voor die regterstoel in die hemel te verskyn. Paulus sê: “Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10). Aan die kerk in Rome sê hy: “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12). Die Here Jesus sê: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12).

Hierdie oordeel is nie daarop ingestel om die gelowiges van die ongelowiges skei nie, want slegs gelowiges sal voor Christus verskyn sodat hulle plig m.b.t. dissipelskap beoordeel kan word – m.a.w. wat hulle gedoen het nadat hulle tot bekering gekom het. Suksesvolle dissipels sal beloon word terwyl lui, vleeslike diensknegte betig sal word (Luk. 19:20-23).

In die lig van die belangrike afspraak voor die regterstoel moet ons nooit op ’n eng manier aan die wegraping dink as bloot ’n wonderlike reis na die hemel toe, sonder inagneming van dit wat aan die einde van die reis op ons wag nie. ’n Inherente deel van die hele ondervinding rondom die wegraping is die verpligting om rekenskap van ons aardse lewens aan Jesus Christus te gee. Om dus basies vir die wegraping te kwalifiseer, vereis ’n duidelike getuienis van wedergeboorte. Om egter ook volkome gereed te wees vir die wegraping in terme van dit wat in die hemel op ons wag, moet ons ook van heiligmaking en toewyding aan die diens van die Here kan getuig.

Omdat slegs Christene deel sal hê aan die wegraping, sal net hulle voor die regterstoel verskyn sodat hulle werke getoets kan word met die oog op genadeloon: “...elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang ... want ons is medewerkers van God. ... Maar elkeen moet oppas hoe hy op [die fondament] bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:8-15).

Ons word duidelik nie deur ons werke gered nie, maar deur geloof. Jakobus beklemtoon egter die feit dat geloof sonder werke dood is (Jak. 2:26). In ’n ware Christen se lewe sal daar werke wees wat by die bekering pas. Genadeloon sal voor die regterstoel in die hemel toegeken word vir werke wat deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees gedoen is. Sommige diensknegte het hulle talente goed gebruik en sal baie loon ontvang. Ander het dit minder produktief gebruik en sal minder loon ontvang; en daar sal selfs diegene wees wat hulle talente begrawe het en met leë hande voor die Here sal staan – gered asof deur vuur heen! Die volgende is die vyf krone waarvoor Christene hulleself in die diens van die Here kan beywer:

·      Die onverwelklike kroon vir ’n heilige en diensbare lewenswandel (1 Kor. 9:24-25);

·      die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19);

·      die kroon van heerlikheid vir getroue herders wat nie deur hoogmoed en hebsug gemotiveer was nie (1 Pet. 5:2-4);

·      die kroon van die lewe vir Christenmartelare en almal wat swaar beproef is tydens hulle aardse lewe (Op. 2:10; Jak. 1:12); en

·      die kroon van geregtigheid vir dié wat Christus se koms liefgehad het, in die lig daarvan geleef het en nie ’n mensgemaakte koninkryk nagejaag het nie (2 Tim. 4:8; Heb. 11:10).

11. Dit is ’n reis na die hemelse bruilof

Ná haar verskyning voor die regterstoel van Christus word die bruid met haar hemelse Bruidegom verenig om nooit weer van Hom geskei te word nie. Die brandende begeerte na die wegraping is dus terselfdertyd ’n verlange om by die bruilof van die Lam te wees en in ’n hemelse ivoorpaleis na Hom toe gelei te word in veelkleurige gewade wat met gouddraad geborduur is (Ps. 45:10, 14-16), “toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is” (Op. 21:2).

Jesus Christus is nie net ons verlossing nie, maar ook ons heiligmaking: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Het jy Christus al vir heiligmaking vertrou? Dit is aan die bruid van die Lam “gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8).

12. Dit is ’n reis na ons ewige tuiste

Die Here Jesus het beloof dat Hy sal terugkom om sy bruid te kom haal en na haar hemelse tuiste te neem. Voor sy hemelvaart het Hy gesê: “Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3).

Hierdie woning in die hemel is só wonderskoon dat dit nie in menslike woorde beskryf kan word nie. Die Bybel sê: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9). Johannes sê die nuwe Jerusalem het pêrelpoorte, strate van deurskynende goud, en ’n muur rondom wat van die kosbaarste edelgesteentes gebou is (Op. 21:9-21). Om na só ’n plek weggevoer te word, is inderdaad ’n blye vooruitsig!

13. Dit lei na die aanvaarding van ons regterlike en koninklike posisie

Die verheerlikte Christene sal ná die wegraping saam met Christus die wêreld oordeel in geregtigheid en daarna as konings saam met Hom hier op aarde regeer. In Openbaring 4 en 5 word die verheerlikte kerk as 24 ouderlinge met krone op hulle hoofde voorgestel: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

14. Dit is ’n vaste versekering van seën vóór die oordele

’n Finale argument ten gunste van ’n voorverdrukking-wegraping, is die feit dat die boek Openbaring dispensasioneel en chronologies geskryf is. Eers word die kerkbedeling in Openbaring 2 en 3 beskryf, dan word die toneel in Openbaring 4 en 5 na die hemel verskuif waar ons die verheerlikte kerk aantref net ná hulle wegvoering van die aarde af. Hulle word as 24 ouderlinge uit alle nasies voorgestel. In Openbaring 6 tot 19 word die sewe jaar-lange verdrukking beskryf wat deur die sigbare koms van Christus beëindig sal word. In Openbaring 20 word die duisendjarige vrederyk van Christus beskryf, en in Openbaring 21 en 22 die nuwe hemel en aarde wat ná die eindoordeel aan die einde van die millennium geskep sal word.

Ons is tans in Openbaring 3 in die sewende en laaste kerkperiode, kort voor die einde van die kerkbedeling. Die geestelik lou, afvallige en materialistiese kerk van Laodicéa is tans oorheersend in die wêreld. Binnekort sal die ware kerk deur middel van basuingeklank opgeroep word hemel toe. Dit is duidelik net die dissipels van die Here Jesus wat die belofte gekry het dat Hy hulle sal kom haal nadat Hy in die hemel vir hulle plek gaan berei het (Joh. 14:2-3). Nie almal wat hulleself as Christene beskou is waarlik gered nie, daarom kan nie almal van hulle op die belofte van die wegraping aanspraak maak nie.

Die volgorde van eindtydse gebeure, waarin gelowiges eers beveilig en geseën word voordat die goddeloses geoordeel word, word ook deur Christus in ’n gelykenis bevestig. In Lukas 19:11-27 sê Hy dat wanneer Hy as Koning terugkeer, Hy sy diensknegte sal versamel om aan hulle loon vir hulle arbeid te gee. Nadat Hy dit gedoen het, sal Hy Hom tot sy vyande wend en hulle oordeel omdat hulle geweier het om Hom as Koning en Verlosser te aanvaar.

’n Belofte om jou geestelik op te hef!

Besef jy hoe aktueel die wegraping vir elke Christen is, hoe dramaties die gebeure is wat daarmee saamhang, en hoe oor en oor die moeite werd dit is om hiervoor gereed te wees? Die Christendom sal geestelik verarm raak as hierdie belofte, en al die verantwoordelikhede wat dit meebring, nie duidelik verkondig word nie. Sonder die Bybel se profetiese perspektief op die eindtyd sal ons onseker wees oor wat die toekoms inhou, in die duisternis van onkunde rondtas en nie ons prioriteite reg bepaal nie (2 Pet. 1:19).

Terwyl ons die naderende voetstappe van die Here Jesus kan hoor, moet ons baie seker maak dat ons inderdaad aan Hom behoort, anders sal Hy by ons verbygaan wanneer Hy sy kinders kom haal. Die ongeredde naamchristene wat nooit ’n ontmoeting met die Here Jesus gehad het nie, en net ’n gedaante van godsaligheid het, sal tevergeefs eendag voor die groot wit troon op hulle kerklike ampte, wonderwerke en bevrydingsbedienings roem. Selfs die Nuwe Afrikaanse Bybel met sy baie verdraaiings en weglatings (waarin die belofte oor die wegraping uit Lukas 21:36 wegvertaal is), laat hierdie waarskuwing oor valse godsdiens duidelik deurkom. Dit is veral teen valse leraars gerig:

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt. 7:21-23 NAB). Baie van hierdie misleiers is ongeredde predikante wat selfs in Jesus se naam gepreek het.

Dit hoef egter nie so te wees nie. As ons harte deur die wedergeboorte verander is en ook deur die vervulling met die Heilige Gees brandend vir die Here is, sal ons waardig wees om die hemelse Bruidegom te ontmoet wanneer Hy aan die einde van die kerkbedeling kom. Hy het aan sy dissipels gesê: “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag. … Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of die derde nagwaak kom, en dit so vind – gelukkig is daardie diensknegte” (Luk. 12:35-38). Wees elke dag gereed vir sy skielike koms!