Die Dag van die Here Breek Spoedig Aan

Johan Malan, Mosselbaai (September 2016)

Dit is opvallend dat daar in die Bybel na verskillende tydskale verwys word om korter of langer tydperke mee aan te dui. As gevolg hiervan is daar in die Bybel ʼn hele paar toepassings van die begrippe “dag” en “week”:

·         Daar is ʼn week van dae bestaande uit dae van 24 uur elk. Dit is die mees algemene tydeenheid (vgl. Lev. 23:3).

·         Daar is ʼn week van weke, naamlik 50 dae (vgl. Lev. 23:15-16). Volgens die Jode se inklusiewe tydsberekening is daar 50 dae in sewe weke omdat beide die eerste én laaste dag as volle dae getel word. Die Pinksterfees (die Fees van die 50ste dag) word van die Sondag ná die Paasfees getel tot by die agtste Sondag, sewe weke later, toe die Heilige Gees in die jaar 32 n.C. uitgestort is.

·         Daar is ʼn week van jare, waarin sewe jare saam as ʼn jaarweek gereken word (Lev. 25:2-8). In Daniël 9:24 word jaarweke as “sewetalle” beskryf. Die komende verdrukking sal ook ʼn jaarweek lank duur. Die 50ste jaar ná sewe jaarweke word ʼn jubeljaar genoem (Lev. 25:8-11).

·         Dan is daar ʼn week van millennia waarin elke dag ʼn duisend jaar lank is. Die hele menslike bedeling van Adam af tot aan die einde van die vrederyk kan binne die raamwerk van só ʼn week ingepas word. “... een dag by die Here [is] soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag” (2 Pet. 3:8).

Wat die laaste “week” betref, is dit opvallend dat daar twee millennia was tussen Adam en Abraham, twee millennia tussen Abraham en Christus, gevolg deur twee millennia van die kerkbedeling, en dan uiteindelik die millennium van die duisendjarige vrederyk. Saam is dit naastenby sewe millennia.

Dit is belangrik om van hierdie tydskaal bewus te wees, want soms word daar na die kerkbedeling en die tyd van Israel se geestelike verharding en internasionale verstrooiing as “twee dae” verwys, bedoelend twee millennia. Die kerk het in die jaar 32 n.C. ontstaan, en die lang tyd van Israel se geestelike verblinding ná die verwerping van die Messias het ook in dieselfde jaar begin. Hulle internasionale verstrooiing het weliswaar eers in 70 n.C. met die Romeinse inval begin, maar dit was die direkte gevolg van wat in 32 n.C. gebeur het. Die “twee dae” van Israel se geestelike blindheid verloop dus tussen hulle nasionale verwerping van die Messias en sy wederkoms, wanneer die hele oorblyfsel van die volk met Hom versoen sal word. Hierna volg die sewende dag van hierdie week van millennia, naamlik die duisendjarige vrederyk van Christus. Daar word dikwels hierna verwys as “die dag van die Here” of soms net as “dié dag”.

Wat die kerkbedeling betref, het Jesus self daarna verwys as twee dae: “Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar” (Luk. 13:32). Toe Hy dit gesê het, het Hy vir nog baie meer as twee dae van 24 uur elk met sy aardse bediening voortgegaan om siekes gesond te maak en duiwelbesetenes te verlos. Trouens, Hy het die afgelope twee duisend jaar nog met sy verlossingswerk voortgegaan om mense van hulle krankhede te genees en van duiwelse bande van sonde te bevry. Hy sal hiermee voortgaan totdat Hy in die derde duisend jaar tydens die vrederyk sy bestemming as Koning sal bereik; dan is Hy eers klaar met die aktiwiteite van die voorafgaande “twee dae”. Die Griekse woord wat in ons Bybel as “klaar” vertaal word, teleioo, beteken volgens die Strong’s Konkordansie “om af te handel, af te sluit, te vervolmaak”. Die King James-Bybel vertaal dit as: “... the third day I shall be perfected”, (so ook die NKJV); die NIV sê: “... on the third day I will reach my goal”. Die Here Jesus is nie net Profeet en Hoëpriester nie, maar ook Koning. In die derde duisend jaar ná sy eerste koms sal Hy sy bestemming as Koning bereik en van die troon van Dawid af oor die aarde regeer. Dit was van die begin af sy doel, daarom het die engel nog voor sy geboorte aan Maria gesê: “... die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32).

Sagaría verwys ook na “dié dag” waarin Jesus as Koning sal regeer: “En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:8-9). In hierdie “dag” sal daar dus somers en winters wees, m.a.w. baie jare. Die een helfte van die stroom water van die Tempelberg af sal na die Dooie See in die ooste loop. Dit sal die water van die Dooie See weer lewendig maak sodat groot hoeveelhede visse daarin sal voorkom (Eseg. 47:1-12). Die ander deel van die stroom sal wes vloei na die Middellandse See. Dit sal alles in die “derde dag” gebeur ná Jesus se wederkoms.

Die twee dae van die kerkbedeling word ook met die geestelike blindheid en diaspora van Israel in verband gebring. In ʼn Messiaanse profesie sê die Here vir Israel dat hulle as volk eers ná twee dae (twee millennia), te midde van die ellendes van die groot verdrukking, tot besinning sal kom en ernstig na hulle verwerpte Messias sal soek: “Want Ek is soos ʼn leeu vir Efraim, en soos ʼn jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red. [Jesus is deur die Joodse leiers se openlike vyandskap en verwerping van Hom gedwing om die verwoesting van Jerusalem en die internasionale ballingskap van die volk aan te kondig]. Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug [die hemelvaart van die Messias], totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood [in die groot verdrukking] sal hulle My soek. Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe” (Hos. 5:14–6:2). Dit is uit die aangehaalde gedeelte duidelik dat die Here Jesus sy teenwoordigheid in Israel verbreek het toe Hy na sy woning in die hemel teruggekeer het. Die Jode in Israel sal Hom eers weer in Jerusalem sien wanneer Hy ná “twee dae” op die Olyfberg verskyn tydens sy wederkoms aan die einde van die verdrukking. Dit is wanneer hulle nasionale versoening met Hom sal plaasvind.

Die twee dae van Israel se geestelike en fisiese ballingskap het dus begin toe die Messias van die Olyfberg af opgevaar het hemel toe. Daarna het hulle nie meer die lig van die wêreld in hulle midde gehad nie, en toe het dit skielik ook baie slegter met hulle gegaan weens botsings met die Romeinse owerheid. Net die Messiaanse Jode wat die Heilige Gees in hulle harte gehad het, het in ʼn donker wêreld van die lig getuig. Hulle is egter ook uit Jerusalem verdryf (Hand. 8:1-4). Dit het van Israel ʼn maklike teiken vir die koninkryk van die duisternis gemaak, daarom het hulle onwrikbaar op die groot oordeel van 70 n.C. afgestuur toe Jerusalem en die tempel afgebreek en die oorlewende Jode oor die aardbol verstrooi is.

Dit is ʼn wonderlike profetiese vooruitsig dat Israel gedurende die groot benoudheid van die verdrukking, ná baie eeue van rondswerf, weer sal besin oor die ernstige foute wat hulle voorvaders twee millennia gelede gemaak het, en dat hulle dit sal bely en met die Messias versoen sal word. As gevolg daarvan sal ʼn oorblyfsel van Israel op die derde dag, die dag van die Here tydens die vrederyk, as volk almal gered word en met vreugde voor die aangesig van die Messias lewe. Hulle sal Hom almal van harte dien en nooit weer afvallig raak nie: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ʼn nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ʼn God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:31-34). Die groot rebel, Satan, sal saam met sy demone gebind wees (Op. 20:1-3) en net die Christelike geloof oral verkondig word (Jes. 11:9; Jer. 3:17).

Kenmerke van die Here se dag

Dit is belangrik om die begrip “die dag van die Here” elke keer reg te verstaan in die verband waarin dit gebruik word. Dit verwys na die lang tydperk van God se eindtydse openbarings aan die mensdom deur Jesus Christus, en sal strek van die wegraping af tot by die oordeel van die groot wit troon aan die einde van die vrederyk, asook die skepping van ʼn nuwe hemel en aarde. Sommige profesieë oor hierdie tyd verwys net na die ontmoeting tussen Jesus Christus en sy bruidsgemeente, ander (die meeste daarvan) verwys na die oordele van God tydens die groot verdrukking, sommige na Christus se Koningskap en ander aspekte van die vrederyk, terwyl sommige van hulle net na die eindoordeel en vernuwing van die skepping verwys. Alles is egter onderdele van dieselfde oorkoepelende “dag van die Here”. Die volgende is van die belangrikste toepassings van hierdie begrip (klem word bygevoeg om aan te toon waar die uitdrukkings “die dag van die HERE”, “dié dag”, of “die groot dag van sy toorn” in tekste voorkom):

·         Koms van die Bruidegom. Die eindtydse openbarings van Jesus Christus begin op die dag wanneer Hy as die hemelse Bruidegom aan sy aardse bruid sal verskyn, hulle sal verheerlik en na die hemel wegvoer (Joh. 14:2-3). Daar sal hulle voor sy regterstoel genadeloon ontvang. Paulus het reikhalsend na hierdie “dag” uitgesien: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:7-8).

·         Die groot verdrukking. Baie van die profesieë oor die dag van die Here verwys na die oordele van die groot verdrukking: “Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra? ... Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom” (Joël 2:11, 31; vgl. Jes. 13:9-13). Johannes sê: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ʼn groot aardbewing; en die son het swart geword soos ʼn harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ʼn groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ʼn boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:12-17). Tydens die hoogtepunt van hierdie rampe en oordele sal Christus op die Olyfberg verskyn: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sag. 14:4).

·         Israel sal geestelik gereinig wees om waarlik God se volk te wees.In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie; en ook die profete en die onreine gees sal Ek uit die land laat wegtrek” (Sag. 13:1-2). Soos wat die kerk nou die taak van wêreldevangelisasie het, sal dit in vrederyk die geredde Israel se taak wees om die evangelie aan alle nasie te verkondig: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). Paulus het van Israel gesê: “Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid [in die vrederyk] dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12). Die dissipels het die opdrag gekry om die evangelie wat deur Israel verwerp is, na alle nasies uit te dra sodat hulle in die olyfboom van God se koninkryk ingeënt kon word. Dit is nou ons taak om die Messias en die God van Abraham, Isak en Jakob só te dien dat ons Israel jaloers sal maak sodat sommige van hulle gered kan word – al is dit net ʼn klein minderheid. Wanneer Israel in die vrederyk as ʼn volk almal gered is, sal hulle nog meer as in die verlede ʼn seën vir die hele wêreld wees. Hulle sal hoog in aansien wees by al die nasies: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek. So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ʼn Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23; lees ook Jesaja 60:10-22).

·         Die koningskap van Jesus in die vrederyk. “Die HERE van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees” (Jes. 24:23). “En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai [verwysende na Jesus, die Messias] wat daar staan as ʼn banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jes. 11:10). “In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van Israel” (Jes. 17:7). “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een” (Sag. 14:9). Hy sal uit Jerusalem oor al die nasies regeer (Hand. 15:16-17).

·         Vrede en harmonie in die Midde-Ooste. Dit is nie net die oorblyfsel van Israel wat tydens Jesus se wederkoms gered sal word nie, maar die oorblyfsel van al die ander nasies (Matt. 24:29-30). As gevolg hiervan sal die nie-Christelike gelowe verdwyn, en vrede en harmonie sal tussen alle nasies heers. Daar sal nie meer godsdienstig gemotiveerde oorloë (sg. “heilige oorloë”) gevoer word nie, en dit veral opvallend wees in die verhoudings tussen volke in die Midde-Ooste: “En die HERE sal Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en die Egiptenaars sal die HERE ken in dié dag; en hulle sal Hom dien met slagoffers en spysoffers en geloftes doen aan die HERE en dit betaal. En die HERE sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die HERE bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees. In dié dag sal daar ʼn grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas [saam met] Egipte en Assirië, ʼn seën in die midde van die aarde, omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:21-25).

·         Jerusalem sal die onbetwiste hoofstad van die wêreld wees. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4).

·         Herskepping aan die einde van die dag van die Here. “Maar die dag van die Here sal kom soos ʼn dief in die nag, waarin [aan die einde waarvan] die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:10-14).

Ons het alle rede om op die kort termyn ʼn verwagting te hê vir die aanbreek van die sewende dag in die “week” van menslike geskiedenis. Eers aan die einde daarvan sal die “eerste dinge” verbygaan en “alles” nuut gemaak word (Op. 21:4-5).