Globalisme en die Regering van die Antichris

Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2013)

Die stelling word dikwels gemaak dat die humanistiese agenda van globalisme (węreldeenheid) die weg baan na ’n nuwe węreldorde onder die persoonlike leierskap van die Antichris. Die Bybel bevestig hierdie scenario en gee ’n aantal profetiese waarskuwings teen ’n eindtydse beweging van hierdie aard. Daar word egter ook in die Bybel beloftes gegee oor ’n Christelike nuwe węreldorde onder die leierskap van Jesus Christus gedurende die Millennium. Dit is nodig om duidelik tussen hierdie twee ryke te kan onderskei. In hierdie artikel sal ons ’n kort oorsig gee ten opsigte van die ideologie van humanistiese globalisme, en ook aandui hoedat dit gebruik word om ’n ingesteldheid te skep wat bevorderlik is vir die aanvaarding van die Antichris.

Die polities, kultureel en geestelik verdeelde nasies van die węreld is besig om nader aan mekaar te beweeg en al hoe meer deel te word van ’n internasionale gemeenskap wat saamgebind word deur ’n toenemende aantal gemeenskaplike belange. Multinasionale optredes is nodig om probleme aan te spreek soos die internasionale oorlog teen terrorisme, die bedreiging van węreldvrede deur oormatige militęre magsopbou, die vervaardiging en opberging van wapens van massavernietiging, misdade teen die mensdom wat deur fanatieke diktators gepleeg word, godsdienstige vyandskap en die voer van “heilige oorloë”, onbeheerde oorspandering en korrupsie wat na nasionale bankrotskappe en dreigende ekonomiese inploffings in ryk én arm lande lei, wydverspreide lyding as gevolg van oorbevolking, werkloosheid en armoede, die growwe minagting van menseregte, die ernstige besoedeling en vernietiging van natuurlike hulpbronne, aardverwarming, die vinnige verspreiding van aansteeklike siektes oor die hele węreld, die behoefte aan gekoördineerde multinasionale noodleniging in gevalle van ernstige natuurrampe, ens.

Tesame met die styging in węreldwye bedreigings is daar ook ’n ontwaking van ’n węreldbewussyn. ’n Nuwe węreldorde word nie net deur die nasies nagestreef om kragte saam te snoer vir die oplossing van węreldprobleme nie, maar ook vir die onderskraging van pogings om hulleself te bemagtig om die bepalers van hulle eie lotgevalle te word. Die mees uitstaande kenmerk van die opkomende nuwe węreldorde is die ideologie van globalisme, wat sy invloed op alle lewensterreine laat geld. Gedurende die laaste fase van die transformasie vanaf nasionalisme na globalisme, sal die nasies uitdrukking aan hulle samehorigheid gee deur węreldleierskap te aanvaar in die vorm van ’n węreldregering met uitvoerende magte. Internasionale kundiges sal gebruik word om oplossings te kry en hulp te verleen om beleidsrigtings te bepaal wat die beste belange van alle gemeenskappe op aarde sal bevorder.

Die praktiese implementering van die humanistiese agenda vir die węreld sal moontlik gemaak word deur die gebruik van gevorderde rekenaarnetwerke en ander gesofistikeerde tegnologiese stelsels. Die aanwending van moderne tegnologie, sowel as die hoë mate van beheer wat daardeur moontlik gemaak word, open die weg na die vestiging van ’n revolusionęre nuwe stelsel van węreldregering waarna soms as ’n “tegnokrasie” verwys word.

Die behoorlike funksionering van so ’n stelsel is afhanklik van ’n algemene stel humanistiese beginsels en reëls, asook uitgebreide databasisse wat wetenskaplik saamgestel is om die beste moontlike lewenskwaliteit vir almal te verseker. Op hierdie manier sal kundigheid op elke lewensterrein in ’n elektroniese stelsel ingebou word om sodoende ’n “universele brein” te skep met die vermoë om die beste wetenskaplike oplossing vir elke problematiese situasie te bepaal, en selfs ook morele uitsprake te maak wat op ’n vooraf geprogrammeerde waardestelsel gebaseer is. Die gerekenariseerde universele brein met sy verborge elektroniese oë sal ’n onmisbare hulpmiddel vir sy menslike meester (die Antichris) wees, en saam sal hulle die hoogste gesag in die węreld verteenwoordig.

Die ingesteldheid van globalisme moet ’n gevorderde stadium bereik voordat ’n omvattende tegnokrasie daaruit sal kan voortvloei. Die internasionale gemeenskap sal eers moet ooreenkom oor algemeen aanvaarbare reëls vir menseregte, die etiek van ’n gelykberegtigde ekonomiese stelsel vir die węreld, ’n multigodsdienstige organisasie waarin die deelnemers nie-vyandige vennote is in ’n alliansie van gelowe, en die morele reg van militęre intervensie deur ’n węreldliggaam om te verseker dat alle nasies en individue voldoen aan die beginsels en eise van die nuwe węreldorde.

Die gerekenariseerde universele brein van die internasionale gemeenskap sal die hoogste gesag op aarde beklee, wat beteken dat die verenigde mensdom sy eie god sal word. Hulle sal sę: “Ons is een ... ons is God.” Dit sal ’n uitdrukking wees van die groot leuen wat die duiwel aan ’n geestelik verlore en moreel verdorwe mensdom verkondig het. Geen erkenning hoegenaamd sal aan ’n transendente God bo in die hemel gegee word nie – ook nie aan sy Seun as die Redder en Koning van die węreld nie, en nog minder aan sy Woord met vaste geestelike en morele beginsels, die veroordeling van sonde, en waarskuwings teen goddelike oordele oor onbekeerlike sondaars.

Wanneer die nasies hulleself verenig het, alle mag op aarde ingepalm het, en godsdiens afgeskaal is tot ’n handige hulpmiddel om mense te verenig en te vergoddelik, sal hulle finaal teen God in opstand kom en sy opperheerskappy totaal verwerp (Ps. 2). Teen daardie tyd sal die infrastruktuur vir Satan se alternatiewe koninkryk reeds gevestig wees, en die tyd geleë vir die openbaring van die valse christus. Die volgende ses vorms van globalisme sal almal kenmerke of boustene van sy koninkryk wees:

1. Ideologiese globalisme

Węreldburgers van die eindtyd sal hulleself verenig agter ’n enkele persoon wat die sigbare vergestalting sal wees van hulle holistiese droom van węreldeenheid. Johannes sę: “En die hele węreld het verwonderd agter die dier aan gegaan” (Op. 13:3). Hierdie hoogs suksesvolle persoon sal op ’n baie besondere manier die ondersteuning van alle nasies verkry, en “hy sal een week lank [’n jaarweek van sewe jaar] met baie ’n sterk verbond sluit” (Dan. 9:27). In sy diplomatieke veldtog vir vrede en eenheid sal hy regkry wat nog geen ander diplomaat of leier voor hom reggekry het nie, daarom sal daar oral in die węreld so ’n groot bewondering vir hom wees.

Węreldeenheid sal ’n sigbare werklikheid word kort nadat hy as die onbetwiste węreldleier aanvaar is. Nasionale grense sal of verwyder word of aansienlik afgeskaal word, en daardeur sal nasionale soewereiniteit afgeskaf word sodat die verskillende lande niks meer as streke of provinsies in die węreldstaat sal wees nie: “Want hy sę: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder” (Jes. 10:13).

Volgens Openbaring 17:12-14 sal die dier en sy mederegeerders almal een gesindheid hę, en dit sal daartoe lei dat hulle sal oorlog maak teen Christus en almal wat in Hom glo. Die volgelinge van die dier sal sy anti-God-ideologie en selfvergoddeliking heelhartig ondersteun. Hulle nuutgevonde eenheid as węreldburgers sal hulle daartoe beweeg om hulleself as hulle eie god, asook die enigste meesters van die heelal, te verklaar. Hulle sal nie enige gesag buite dié van die węreldregering en sy leier erken en respekteer nie.

In ’n gesamentlike verklaring sal hulle die gesag en morele wette van God verwerp, en alle mense aanmoedig om te leef net soos hulle wil: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sę: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps. 2:2-3). Onder die leierskap van die duiwel se valse christus sal die gevalle mensdom hulleself verhef en sę: “Ons is een ... ons is God.” Geen reëls anders as dié wat neergelę is deur “die mens van sonde” sal geld nie (2 Thess. 2:3). ’n Internasionale kultuur van sonde sal beslag kry, waarin daar geen beperkings op menslike gedrag geplaas sal word nie. Mense sal geestelik en moreel verdorwe raak tot op ’n vlak wat herinner aan die dae net voor die sondvloed: “... die boosheid van die mens op aarde was groot en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg” (Gen. 6:5). Soortgelyke toestande het in die dae voor die vernietiging van Sodom en Gomorra bestaan, toe immoraliteit en rebellie teen God tot groot uiterstes gevoer is.

Dit sal die tragiese en selfvernietigende einde van ten volle ontwikkelde humanisme wees. Die mens sal ’n futiele poging aanwend om sy eie god te wees, maar in die proses sal hy die enigste bron van ware lewe, ordelike bestaan en sinvolle betrokkenheid by die lewens van ander mense verwerp. Dit sal van mense slagoffers van die koninkryk van die duisternis maak, waarin ellende, valse vrede, magsbeheptheid, leuens en boosheid die botoon voer.

2. Godsdienstige globalisme

Die meerderheid van die gevalle mensdom het nog nooit die oppergesag van die transendente God aanvaar nie. Voorkeur is meesal gegee aan mensgemaakte godsdienste waarin menslike kultusleiers tot meesters van wysheid verhef word, terwyl mense ook verkies om neer te buig voor beelde wat skeppings van hulleself is. Selfs die meerderheid Jode aan wie die ware Skeppergod Homself geopenbaar het, sal uiteindelik ’n messias van menslike oorsprong navolg. Hierdie leier, wat in die Bybel as die Antichris of die dier beskryf word, sal openlik in homself roem en weier om die gesag van enige god in die hemel of op aarde te erken. Die ware Messias het Israel teen die valse messias van die eindtyd gewaarsku, wat homself sal verhoog: “Ek het gekom in die naam van my vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Die groot aantal godsdienste wat deur die misleide mensdom ontwikkel is, was altyd onversoenbaar met mekaar en dus hoogs verdelend. Daar is selfs binne een godsdiens soms faksies wat in ’n gewelddadige en bloedige stryd met mekaar gewikkel is. Die ideologie van globalisme is egter besig om hierdie antagonistiese godsdienste in ’n skynbaar harmonieuse alliansie van węreldgodsdienste te omskep, gebaseer op die veronderstelling dat hulle mekaar aanvul en gesamentlik die weg vir die komende węreldmessias voorberei.

Die węreldalliansie van godsdienste sal finaal verenig wees wanneer die valse messias kom en met almal van hulle assosieer. Hulle sal hom in verwondering volg en ook aanbid (Op. 13:3-4). Dit sal ’n węreldwye reaksie wees: “En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid” (Op. 13:8). Daar is alreeds ’n groeiende aantal intergeloofsbewegings waarin lede van verskillende gelowe met mekaar in gesprek is en menings wissel oor hoe om węreldvrede te bevorder deur ’n groter mate van onderlinge eenheid gebaseer op die ideaal van ’n gemeenskaplike mistiese broederskap.

Nadat die Antichris goed gevestig is as węreldmessias sal hy die volgende skuif in sy voorgenome selfvergoddeliking maak deur homself tot God te verklaar. Daniël sę hy sal homself groot hou bo elke god – ook die God van die hemel – en glad nie op hulle ag slaan nie (Dan. 11:36-37). Paulus beskryf hom as “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). Hierdie uiterste daad van rebellie sal duidelik binne die węreldwye konteks van die eindtydse humanistiese stelsel plaasvind, en sal die finale stap op die hoogste vlak wees in die bevestiging van die mens se status en gesag.

’n Belangrike feit in verband met die selfvergoddeliking van die Antichris is dat die moderne tegnologie gebruik sal word om dit af te dwing. Die valse profeet sal die nasies mislei “deur aan die bewoners van die aarde te sę dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier. “... En dit is hom gegee om ’n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie” (Op. 13:14-15). Dit is duidelik dat ’n vorm van elektroniese lewe aan die beeld gegee sal word, waardeur dit in staat gestel sal word om aan ’n węreldwye rekenaarnetwerk en waarnemingstelsel gekoppel te word om mense te identifiseer en hulle reaksies te monitor.

3. Ekonomiese globalisme

’n Hoof doelstelling van die ideologie van globalisme is dat gesentraliseerde beheer oor die węreldekonomie uitgeoefen moet word, sodat daar ’n billike verdeling van rykdom kan wees en ook vir alle mense vrye toegang tot hulpbronne verseker kan word. Die beheer van ’n groot aantal hulpbronne, insluitend finansiële bronne, vereis gespesialiseerde kennis op verskillende terreine. Al die kundigheid wat nodig is vir die gladde bestuur van die węreldekonomie sal in die gerekenariseerde universele brein gelaai word, en dit sal ’n belangrike rol in die regering van die dier vervul. Hierdie tegnologiese bestuurstelsel sal ’n kontantlose ekonomie deur middel van elektroniese fondsoorplasing bedryf, en sal die vermoë hę om dit oral op aarde te doen deur transaksies goed te keur en te monitor:

“En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is 666” (Op. 13:16-18). Dieselfde rekenaarstelsel sal finansiële sowel as godsdienstige en talle ander aktiwiteite monitor om te verseker dat almal daarvan aan die Antichris se beleid van globalisme voldoen.

Bron: http://davidszondy.com/future/Dystopias/technocracy.htm

As die opperheerser van ’n węreldregering, sal die Antichris terselfdertyd in ses verskillende hoedanighede regeer – hy sal die hoofideoloog wees, die messias en selfverklaarde God, beheerder van die węreldekonomie, politieke heerser van die węreld, hoofregter, asook gesagvoerder oor die węreldwye militęre mag. Dit sal dus onmoontlik wees om bv. slegs politieke of ekonomiese dienstigheid aan hom te bewys sonder om hom in al sy ander hoedanighede te erken en ook te aanbid. Om sy nommer te aanvaar, sal ’n uiterlike teken wees waardeur al sy ander aktiwiteite aanvaar word – spesifiek ook sy rebellie teen God. Diegene wat dit doen, sal hulleself aan die oordele van God onderwerp:

“As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:9-11).

4. Politieke globalisme

Die eindtydse regering van die Antichris sal die sewende en laaste politieke manifestasie wees van sataniese globalisme sedert die antieke Babiloniese Ryk van Nimrod. Die eerste ses van hierdie ryke is almal gekenmerk deur ’n noue samehang tussen politieke en godsdienstige globalisme – tot só ’n mate dat baie van die keisers hulleself vergoddelik en godsdienstige verering saam met politieke onderdanigheid geëis het, terwyl die ander gereeld die afgodediens van hulle ryke op al hulle onderdane afgedwing het. Dit sal ook so wees in die toekomstige ryk van die Antichris.

Openbaring 17 beskryf die simbiotiese verhouding tussen ’n sataniese węreldleier en ’n valse godsdienstige stelsel – in hierdie geval tussen die dier en die sedelose vrou (’n afgodsdienares). Hierdie scenario het ’n baie wyer toepassing as die Romeinse Ryk, vandaar die identiteit van die sedelose vrou as “Verborgenheid, die groot Babilon”, wat terugverwys na antieke tye ná die sondvloed toe die eerste węreldryk gevestig en die toring van Babel gebou is. Die engel het aan Johannes gesę: “Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het” (Op. 17:1-2).

In die daaropvolgende verse word aangetoon dat die vrou op sewe berge sit wat sewe opeenvolgende konings of koninkryke gedurende die geskiedenis van die nasies voorstel: “Vyf het geval en een is; en die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Op. 17:10). Vyf van hierdie koninkryke het voor die tyd van Johannes geval; dit is die Babiloniese Ryk van Nimrod, die Assiriese Ryk, die herstelde Babiloniese Ryk van Nebukadnésar, die Medo-Persiese Ryk en die Griekse Ryk. Die sesde een, die Romeinse Ryk, was aan bewind terwyl die sewende en laaste een, dié van die Antichris, nog toekomstig was.

Hierdie inklusiewe oorsig oor alle węreldryke word weer aan die einde van die hoofstuk herbevestig: “En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Op. 17:18). Sy is die verpersoonliking van ’n mistiese (geestelike) koninkryk onder die leierskap van Satan, wat die god van hierdie bose węreld is (2 Kor. 4:4). Daar word verskeie kere in die Nuwe Testament na hierdie mistiese koninkryk verwys, bv. in Efésiërs 6:12: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die węreldheersers van die duisternis van hierdie eeu.” Die Here Jesus het ook na Satan verwys as “die owerste van hierdie węreld” (Joh. 14:30).

Satan is “die owerste van die mag van die lug” (Ef. 2:2), maar hy was nog altyd van plan om sy koninkryk fisies onder die leierskap van ’n bose koning in te stel. Die Bybel beskryf die eindtydse heerser in Satan se koninkryk as die dier, en sę: “die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2). Hierdie węreldregering sal groter en sterker as al sy voorgangers wees omdat dit oor alle mense op aarde sal regeer, en dit sluit groot gebiede in wat in antieke tye onbekend was: “... en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Hy sal die mag en gesag hę om konings en heersers te ontsetel wat sou weier om van hulle soewereiniteit afstand te doen: “Deur die krag van my hand het ek dit gedoen; ... die grense van die volke het ek verwyder; ... die wat op trone sit, het ek soos ’n maghebber neergewerp” (Jes. 10:13).

In die middel van die verdrukking sal die dier selfs nog ’n groter despoot word, maar sy mederegeerders sal só onder die invloed van sy mag en prestasies wees dat hulle vrywillig hulle mag aan hom sal oordra. Dit sal van hulle blote marionette in sy węreldryk maak: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier“ (Op. 17:12-13).

5. Justisiële globalisme

Die Antichris sal alle pogings aanwend om sy invloed uit te brei en sy radikale handelinge te wettig. Hy sal toesien dat die kodering van sy uitgebreide humanistiese manifes deur al die politieke en justisiële owerhede in die węreld ondersteun word. Bose regters sal aangestel word om die grondwet van sy węreldregering op te stel en af te dwing. Alle omstrede beleidsrigtings en ander sake sal vir uitsprake na internasionale howe verwys word. Dit is vanselfsprekend dat die korrupte regters van die eindtyd streng by die wense van hulle meester sal bly. Een van sy uitdruklike opdragte sal die uitwissing van die Christelike geloof wees, asook alle ander gelowe wat weier om ekumeniese kompromie te maak, en swaar strawwe sal opgelę word aan diegene wat sou weier om aan sy reëls gehoor te gee.

Een van die grondwetlike fondamente van hierdie węreldregering sal die verpligte aanbidding van die heerser wees, tesame met die volkome verwerping van God se uitspraak dat sy Gesalfde Seun die enigste wettige Koning van die węreld is: “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:10-12).

Die oordele van God sal oor die dier se bose koninkryk uitgegiet word, en ook oor almal wat met hom saamgewerk het om die ware Christendom uit te roei deur die Bybelse Verlosser en Koning van die węreld te verwerp, en ook omdat hulle diegene vervolg het wat in Hom glo.

6. Militęre globalisme

Die węreldregering van die Antichris sal ’n sterk militęre mag tot sy beskikking hę. Dit sal nie alleen ’n vredesmag wees om rebellie teen sy heerskappy te onderdruk nie, maar ook ’n aanvalsmag om teen konings te veg wat dit sou durf waag om sy gesag uit te daag deur te weier om van hulle nasionale soewereiniteit afstand te doen. Hy sal ’n gevreesde militaris wees – selfs nog in ’n meerdere mate as wat historiese diktators soos Nebukadnésar, Alexander die Grote en Nero was. Hulle was berug vir die verdelging van hulle vyande en ook vir die instelling van militęre diktature. Die Antichris se volgelinge sal sę: “Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:4). Daniël sę dat hierdie eindtydse koning van die węreld “met groot woede sal uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:44).

Dit is duidelik dat baie van die oorloë gevoer sal word teen godsdienstige opponente wat sal weier om die dier as messias en uiteindelik ook as God te aanbid. Baie van hierdie teëstanders sal Christene wees wat op die plek doodgemaak of in openbare plekke tereggestel sal word deur onthoofding. In sy gesig oor die eindtyd het Johannes die luide geroep van martelare gehoor wat by God gepleit het om die dier te oordeel omdat hy almal doodmaak wat in God se Seun glo:

“En toe Hy [die Lam] die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ’n groot stem uitgeroep en gesę: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesę dat hulle nog ’n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees” (Op. 6:9-11).

Christene sal vervolg word soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie. Dieselfde lot sal godsdienstige Jode tref wat hulle verbond met die valse messias sal verbreek ná sy godslasterlike selfvergoddeliking in die herboude tempel in Jerusalem. Beide Christene en Jode sal verkondig dat die ware Messias spoedig sal kom om sy vyande te oordeel en dan sy vrederyk op aarde te vestig. Dit sal die dier grootliks vertoorn, en hy sal begin om ’n baie groot multinasionale mag in die Midde-Ooste te mobiliseer om teen Christus en sy hemelse leër te veg. Bose geeste sal uitgestuur word om die konings van die aarde aan te hits om deel te neem aan die grootste “godsdienstige oorlog” op aarde.

Johannes sę: “En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele węreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. ... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13-16).

Die grootste van alle oorloë in die ganse geskiedenis van die mensdom sal in en om Israel gevoer word wanneer die ware Messias kom. Die dier en sy magte sal in hulle arrogansie meen dat hulle kan veg teen Hom wat alle mag in die hemel en op aarde het. Die engel het aan Johannes gesę: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings” (Op. 17:14). Die toneel vir hierdie komende węreldoorlog sal spoedig daarná omskep word in die begraafplaas van God se vyande:

“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21; vgl. Sag. 14:12-13).

Verwikkelinge ná die Antichris se regering

Nadat Christus sy vyande geoordeel en uitgedelg en Satan in ’n put laat bind het, sal Hy die troon van Dawid in Jerusalem herstel en sy duisendjarige vrederyk op aarde instel. Globalisme sal dan gevestig word op die waarheid, geregtigheid en genade van God se koninkryk. Die Here sę: “Kyk, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg” (Jes. 32:1). In die Millennium sal die Messias in geregtigheid regeer (vgl. Jes. 11:1-5), en sy mederegeerders sal regverdig wees. Die bruid van Christus sal saam met Hom regeer (2 Tim. 2:12; Op. 5:9-10). Die martelare van die verdrukking sal opgewek word en ook in hierdie regverdige regering deel:

“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. ... Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:4, 6).

In die geestelike sfeer is daar net twee koninkryke – die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. Beide van hulle tref voorbereidings om fisies op aarde gemanifesteer te word – die een onder Satan se vervalste Messias-Koning en die ander een onder God se ware Messias-Koning. Satan gaan probeer om die openbaring van God se koninkryk voor te spring deur vooraf die dier te stuur en te bemagtig om as ’n engel van die lig te kom en die mensdom te mislei om by die verkeerde koninkryk in te skakel (vgl. 2 Kor. 11:14-15).

Christene is gewaarsku teen die groot eindtydse misleiding en goddeloosheid wat die weg sal baan na die Antichris se węreldryk. Die vervolging van Christene deur sy regering sal so erg wees dat die evangeliese kerk van Christus nie as ’n instelling onder sy bewind sal kan oorleef nie. Johannes sę: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin” (Op. 13:7). Ten spyte van hewige vervolging gedurende die kerkbedeling, kan ’n situasie soos dié onder die Antichris se diktatuur nie voor sy eindtydse magsoorname bestaan nie. Die Here Jesus het gesę: “Ek sal my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Hierdie waarborg geld egter nie gedurende die verdrukking nie. In daardie tyd sal individue hulle wel tot Christus kan bekeer en gered word, maar hulle sal as martelare sterf (Op. 12:11).

’n Baie duidelike dispensasionele lyn sal oorgesteek word tussen die kerkbedeling en die regering van die Antichris. Dit is duidelik dat die Antichris glad nie geopenbaar kan word en met sy totale vernietigingswerk kan begin terwyl die kerk van Christus nog hier is nie: “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess. 2:6-9).

Die teëhouer is die ware kerk van Christus, waarin die Heilige Gees woon. Die einde van die kerkbedeling sal gedurende die wegraping plaasvind, wanneer Christus hulle van die planeet aarde af sal wegneem: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17).

Slegs nadat die teëhouer weggeneem is, sal die Antichris in staat wees om geopenbaar te word en sy geestelike misleiding tot groter uiterstes te voer, terwyl hy ook die politieke en militęre vermoë sal hę om sy teëstanders uit te wis. Christene wat gereed en waardig is, sal egter hierdie tyd van ongekende oordele ontvlug (Luk. 21:36). Diegene wat eers daarna gered word, sal deur bloedige vervolging in die gesig gestaar word.