Twyfel, Geloofstoetse en Aanvalle deur die Vyand

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (September 2012)

Daar bestaan dikwels by Christene die verkeerde opvatting dat groot Godsmanne nie by tye twyfel aan God of die Bybel nie, en nooit ernstige geloofstoetse ondervind nie. Dit is ver van die waarheid af. John Bunyan, die skrywer van Pilgrim’s Progress (Pelgrim se reis na die ewigheid) is as Christen erg vervolg en ook vir lang tye in die gevangenis opgesluit as gevolg van leerstellige verskille wat hy met die amptelike staatskerk in Engeland gehad het. Daar was selfs tye van wanhoop en twyfel in sy lewe toe die sielevyand hom hewig aangeval het. Aan die einde van sy boek, Grace abounding to the chief of sinners, John Bunyan die volgende:

“Van al die versoekings wat ooit in my lewe oor my gekom het, was die ergste wat ek verduur het dié waardeur die bestaan van God bevraagteken word, asook die waarheid van die evangelie. Wanneer ek sulke versoekings ervaar het, het dit gedreig om my van vaste oortuigings te beroof en die fondamente onder my te laat verkrummel. In hierdie tye het ek dikwels gedink aan die woorde: ‘Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord’ (Ef. 6:14); en ook: ‘As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?’ (Ps. 11:3).

“Soms, nadat ek sonde gedoen het, het ek swaar tugtiging van die Here verwag maar dan in plaas daarvan ’n nuwe ontdekking van sy groot genade gemaak. Wanneer die Here my vertroos het, het ek besef hoe dwaas ek was om my deur probleme te laat oorweldig ...

“Ek het soms meer gesien in ’n enkele reël in die Bybel as wat ek ooit kan beskryf, en tóg was daar weer tye wanneer die hele Bybel vir my so droog soos ’n stok was. In werklikheid was dit my hart wat so dood en droog vir die Woord was dat ek geen geestelike lafenis daaruit kon kry nie, selfs al het ek ’n gedeelte oor en oor gelees.

“Die waardevolste van alle trane is dié wat gestort word na aanleiding van die bloed van Christus; en die hoogste vreugde is dit wat vermeng is met rou oor Christus. O, hoe wonderlik is dit nie om op ons knieë voor God te wees met Christus in ons arms nie. Ek hoop dat ek iets meer hiervan sal begryp.

“Ek vind steeds die volgende sewe afskuwelike dinge in my hart: 1. ’n Neiging tot ongeloof. 2. Om skielik die liefde en genade van Christus te vergeet. 3. ’n Neiging na die werke van die wet. 4. Wisselvalligheid en koudheid in my gebedslewe. 5. Nalatigheid om te let op gevalle van gebedsverhoring. 6. Gereed om te murmureer omdat ek so min het, maar geneig om te verkwis wat ek wel het. 7. Wanneer ek God se opdragte wil uitvoer, dan is die kwaad ook werksaam in my om dit nie te doen nie. ‘As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig’ (Rom. 7:21).

“Ek ervaar dikwels hierdie negatiewe en neerdrukkende gevoelens, maar in sy wysheid laat die Here dit vir my ten goede meewerk: 1. Hierdie gedagtes veroorsaak dat ek myself verafsku; 2. hulle weerhou my daarvan om op myself te vertrou; 3. hulle oortuig my van die ongenoegsaamheid van alle vorms van eiegeregtigheid; 4. hulle beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om my toevlug na Jesus te neem; 5. hulle motiveer my om tot God te bid; 6. hulle toon aan my die noodsaaklikheid daarvan om waaksaam te wees; en 7. hulle wek my op om deur Jesus Christus na God op te sien om my te help en my deur hierdie wêreld te dra” (einde van aanhaling).

Dit is belangrik dat John Bunyan sy twyfel, versoekings en beproewings as geleenthede gesien het om geestelik herstel en versterk te word, omdat God al hierdie negatiewe ervarings vir sy kinders ten goede kan laat meewerk. Dit het hom aangespoor om op grond van Jesus Christus se genadewerk ’n nuwe oorgawe aan die Here te maak, en minder as ooit tevore op homself te vertrou of in sy eie prestasies te roem.

Toetse en beproewings

Daar is verskeie omstandighede wat almal ’n sterk negatiewe invloed op ons geloofslewe kan uitoefen, en ons moet leer om dit te kan hanteer en te oorwin as ons geestelik weerbaar wil wees teen negatiewe ervarings en bose aanvalle. Die volgende is voorbeelde van situasies waardeur ons geloof ondermyn kan word:

1.   Daar breek soms tye aan wanneer God se stem oënskynlik stil raak in ons lewe en dit voel of ons nie kontak met Hom het nie. Dit gebeur veral wanneer ons gebede bid wat nie verhoor word nie, want dit voel dan of God ons verlaat het. Volgens Jakobus 4:3 bid ons soms en ontvang nie omdat ons verkeerd bid. Die eer van die Here, die uitbreiding van sy koninkryk, asook die geestelike belange van mense moet voorrang in ons gebede geniet. Indien ons hoofsaaklik oor verganklike dinge bid (gesondheid, rykdom, ens.) dan het ons nie vaste beloftes om op te staan nie en sal heel waarskynlik teleurgesteld wees. Dit kan die rede vir ’n onvervulde geestelike lewe wees. Selfs wanneer ons vir ander mense se geestelike ontwaking en groei bid, het ons volharding nodig om nie moedeloos te raak nie. Alle mense het ’n vrye wil en hulle kan die Heilige Gees baie lank weerstaan as hulle wil. Wanneer ons bid, gee die Here egter aan hulle nog kanse.

2.   Christene wat beplan om met ’n geestelike bediening te begin, of ’n spesiale taak vir die Here aan te pak, word geweldig deur die duiwel aangeval. Hy rig sy vurige pyle op hulle, wat selfs lasterlike gedagtes teen die Here kan insluit, of gedagtes van absolute ongeloof. Hy probeer hulle ontmoedig om met hulle planne voort te gaan. Paulus het dit ook ervaar: “Want ’n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders” (1 Kor. 16:9). Ons moet nie die stryd gewonne gee nie, maar die uitdaging aanvaar om alle teëstand te oorkom. Die Here kan enige negatiewe situasie verander en in ’n geestelike bate omskep. Paulus was ’n besondere werktuig in die Here se hand en groot openbarings is aan hom gemaak. Hy moes egter deur ’n harde leerskool gaan sodat sy belangrike taak nie na hoogmoed sou lei nie: “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ’n doring in die vlees gegee, ’n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon” (2 Kor. 12:7-9).

3.   Geloofstoetse kan ook sommige mense se geloof verswak indien hulle nie op die regte manier daarop reageer nie. Die Here laat egter altyd met ’n positiewe doel toetse en beproewings oor gelowiges toe, veral as hulle vleeslik is en nie volkome in met Hom wandel nie. Hy tugtig ons tot ons beswil, “sodat ons sy heiligheid deelagtig kan word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur  geoefen is” (Heb. 12:10-11). Sommige mense hanteer sulke beproewings verkeerd, met die gevolg dat hulle veragter in die genade en verbitterd word oor dit wat met hulle gebeur (Heb. 12:15). Hulle sien nie die hand van die Here daarin raak nie, en skryf eerder hulle probleme toe aan sy oënskynlike afwesigheid in hulle lewens.

4.   ’n Hewige geestelike stryd kan soms ook ondermynend op ons geloofslewe inwerk. Paulus het erg deurgeloop onder aanvalle van die duiwel, byna tot op die punt van moedeloosheid, maar hy het vasgestaan in die geloof totdat die oorwinning behaal en die bose magte oorwin was: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie” (2 Kor. 4:8-9). Hy is weens sy geloof aangeval en nie as gevolg van vleeslikheid beproef nie. Soos wat ook eeue later die geval met John Bunyan was, het die Here ’n baie besondere doel met Paulus se tronkstraf gehad omdat hy deur omstandighede gedwing was om briewe aan gemeentes te skryf in plaas van persoonlike optredes in hulle teenwoordigheid. Hierdeur het hy onwetend ’n uiters belangrike bydrae tot die kanon van Nuwe-Testamentiese geskrifte gelewer en deur die eeue heen ontelbare miljoene mense oor die hele aarde bereik. In plaas daarvan om kwaad of teleurgesteld oor sy onaangename omstandighede te wees, het hy die pen opgeneem en onder die leiding van die Heilige Gees begin skryf.

5.   ’n Ander rede wat kan dreig om ’n persoon se geestelike lewe uit te blus, is depressie. Dit is ’n donker emosionele toestand wat ’n hoogs nadelige invloed op die gees en denke van sy slagoffer het. Depressie is dikwels die oorsaak vir ’n gevoel van godverlatenheid en nutteloosheid. Dit is noodsaaklik dat die oorsprong van hierdie negatiewe ingesteldheid eers bepaal word. Mense ly gewoonlik óf aan endogene óf aan reaktiewe depressie. Endogene depressie het met ’n siektetoestand of fisiologiese wanbalans in jou liggaam te doen (bv. hormoonversteurings). Mediese terapie is hiervoor nodig. Reaktiewe depressie se oorsprong is op die vlak van jou siel of gees geleë. Jy reageer emosioneel en geestelik op sekere negatiewe situasies, bv. trauma, slegte nuus oor verskeie dinge, egskeiding, negatiewe omstandighede by jou werk, aanhoudende kritiek teen jou as persoon, ’n finansiële krisis (bv. dreigende bankrotskap), donker vooruitsigte in jou land of in die wêreld, geestelike misleiding of twyfel, ens. Sulke probleme moet verwerk word, veral saam met ’n nuwe oorgawe aan die Here en vertroue in Hom, om aan jou krag tot oorwinning te skenk. Vir ’n Christen is daar altyd die hoop op ’n beter toekoms met die Here, asook beloftes vir Goddelike ingryping om jou onmiddellike probleme te verlig.

6.   Teruggevalle gelowiges word gereeld deur die duiwel aangeval met die gedagte dat die Here hulle verlaat het omdat hulle teen Hom gesondig het. Dit is egter hoegenaamd nie waar nie, maar verdigsels van die vader van die leuen. Solank iemand nog oor sy geestelike lewe bekommerd is, maak die Heilige Gees steeds met hom of haar bemoeienis om geestelike herstel teweeg te bring. Dit is net in ekstreme gevalle dat mense onvergeeflike sondes doen deur die Heilige Gees te laster of Hom langdurig en kras te weerstaan. Sulke persone se harte word so hard en gevoelloos soos klippe (1 Sam. 25:37) en hulle het hoegenaamd geen berou of begeerte om met die Here versoen te word nie. Die Heilige Gees oortuig hulle nie van hulle sonde nie, want Hy het hulle verlaat (Heb. 6:4-6; 10:28-31). Hierdie is egter gevalle van uiterste verval. Die meeste teruggevallenes is in die posisie van die verlore seun, en vir hulle is die pad altyd oop om na die Vader se huis terug te keer (Luk. 15:11-32).

Die oplossing

Moenie mislukking in die geloofstryd aanvaar nie (1 Tim. 6:12). Met verwysing na verskillende soorte verdrukking en benoudheid wat deur gelowiges ervaar word, sê Paulus: “In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Rom. 8:37). Volg die Bybelse weg van geestelike herstel, sodat jy dadelik weer jou taak kan hervat om ’n getuie vir Christus te wees (2 Kor. 2:14):

1.   Hou vas aan die Here se belofte dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie (Heb. 13:5). Hy het belowe om hom of haar wat na Hom toe kom, nooit uit te werp nie (Joh. 6:37). Jesus het gesê: “En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag” (Joh. 6:39). Indien jy jou plig nakom om in Christus te bly, sal Hy ook in jou bly en voortgaan om jou te bewaar en te onderhou (Joh. 15:4-5). Dit is net diegene wat hulle geloof heeltemal laat vaar en die stryd gewonne gee, op wie daar ’n donker toekoms wag (Joh. 15:6).

2.   Ondersoek die kwaliteit van jou geloofslewe en kyk of dit op ’n gesonde grondslag berus (2 Kor. 13:5). Stel vas of daar nie dalk sonde en ongeloof in jou lewe is nie, en vra die Here om jou volkome daarvan te verlos en te reinig (Ps. 139:23-24). Moenie toelaat dat negatiewe emosies jou geloofslewe aantas of bevraagteken nie. Volhard in heiligheid.

3.   Hou aan om van die Here en sy goedheid te getuig, al is jou siel in jou binneste neergeboë: “O my siel waarom onrustig, en wat buig jy jou in my? Waarom in Gods lof onlustig, as die vyand jou bestry? Menigmaal het Hy jou druk, laat verwissel in geluk. Hoop op God in Hom weer rustig, in sy lof sal ek my verlustig!” (Ps. 42:3; Berymde Psalms). Wanneer ons deur die skadu’s van die lewe gaan, moet ons weet dat die son weer sal skyn!

4.   Elke negatiewe gedagte moet gevange geneem word tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5). Weerlê alle versoekings en valse suggesties deur jou op vaste beloftes uit die Woord te beroep. Vra die Here om jou hart en jou gedagtewêreld te reinig en jou opnuut met die Heilige Gees te vervul. Die duiwel sal altyd weer probeer om jou aan sondes van jou verlede te herinner en jou sodoende van die werklikheid van jou verloste status af op ’n reis van skuldgevoelens weg te voer. Weerstaan hierdie gedagtes, vra die Here om jou te help om te vergeet wat agter lê (Fil. 3:14) en ’n nuwe begin van gehoorsaamheid aan Hom te maak.

Die aard en eise van eindtydse omstandighede

Die eindtyd, kort voor die wederkoms van Christus, sal volgens die Bybel deur besonder veeleisende omstandighede gekenmerk word. Dit is nodig dat ons hiervan sal kennis neem omdat ons in die eindtyd lewe. Dit is ’n tyd hierdie wat soortgelyk aan dié van Noag en Lot is (Luk. 17:26-30), en dit beteken dat mense oordrewe materialisties, uiters immoreel en totaal boos sal raak. Hulle sal ongeërg met hulle sondige lewenswyse voortgaan totdat die Here die gelowiges na ’n plek van veiligheid sal wegneem sodat Hy sy oordele oor die ongelowiges kan uitstort.

Christene se geloof sal, soos nooit tevore nie, deur hierdie omstandighede getoets word, en baie van hulle sal nie die innerlike krag hê om die toetse te kan deurstaan nie. Die volgende verskynsels is tipies van die eindtyd, en ons sal ons geestelike lewe ook in die lig daarvan moet verantwoord – ons sal óf deel van die probleem word óf deel van die antwoord bly:

1.   Misleiding en geestelike afvalligheid. In die eindtyd sal die meeste mense op aarde, behalwe vir ’n relatief klein groep behoudende Christene, toegee aan die druk van die ergste denkbare vorms van geestelike misleiding. Deur middel van die algemene verwerping van geestelike en morele standaarde sal die mensdom voorberei word op die koms van die Antichris, wat die mens van sonde en valse messias van alle gelowe sal wees (Op. 13:3-4). Daar sal ’n algemene verloëning wees van duidelike Bybelse leerstellings ten einde die persoonlike eienskappe en Goddelike attribute van die Here Jesus só in die oë van misleides te verander dat Hy aan die beeld van die Antichris gelykvormig gemaak word. Hy sal namens alle gelowe op aarde verskyn en almal van hulle sal hom aanvaar en aanbid (Joh. 5:43; Op. 13:3-4). Multigodsdienstige denke sal ook daartoe lei dat die God van die Bybel getransformeer sal word na die universele God van alle gelowe. Dit sal alles die gevolg wees van demoniese misleiding wat daarop gerig is om ’n Bybelse geloof te vernietig: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Dit spreek vanself dat die invloed van die meerderheid misleides groot druk op die evangeliese Christendom sal plaas, wat gaandeweg erger sal word en uiteindelik na hulle vervolging sal lei.

2.   Vervallende kerke. Die meeste groot kerke van die eindtyd sal swig voor die druk van misleiding, ontrou teenoor die ware Jesus van die Bybel raak en uiteindelik wegbereiders word vir die verskyning van die Antichris, wat ’n teëstander van Jesus en die ware gelowiges sal wees: “Eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat ... in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4). Hoe is dit moontlik dat kerke so ver van die waarheid af kan wegval? Hulle sal slagoffers van die krag van die dwaling word, en ook toegee aan populêre druk om te hervorm: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Hierdie wegval van die waarheid af sal so groot en sterk word dat evangeliese Christene belaster, uit kerke verban en vervolg sal word. Petrus praat van “valse leraars wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2). Net diegene wat geestelik sterk is, sal teen hierdie stroom van valse oortuigings staande kan bly.

3.   Voorbereidings om die bruid te heilig. Christene sal in die eindtyd ook ervaar dat die Here hulle gereed maak vir die ontmoeting met Hom, en dit kan dikwels ’n pynlike proses wees om van die wêreld en oorheersing deur die vlees losgemaak te word: “Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur” (Luk. 3:17). Die bruid van Christus moet skoon wees, sonder vlek of rimpel (Ef. 5:25-27). Die ondervinding van heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees word altyd voorafgegaan deur ’n proses van leegmaak en reiniging van alles in ons lewens wat die Here nie behaag nie. Ons moet onberispelik in heiligheid wees op die dag van Jesus Christus (1 Thess. 3:13; 5:23-24). Beproewings wat as ’n vorm van loutering dien, kan soms baie traumaties wees, maar as dit tot die versterking van jou verhouding met die Here lei, is alles die moeite werd. Ons moet altyd die einddoel hiermee in ag neem: “My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie. ... Hy tugtig ons tot ons beswil sodat ons sy heiligheid deelagtig kan word” (Heb. 12:5, 10).

4.   Benoudheid wat deur die oordele van God meegebring sal word. Die heel ergste vorm van benoudheid wat in die eindtyd oor mense sal kom, sal tydens die oordele van die groot verdrukking plaasvind: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemel sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Buitengewone groot aardbewings sal plaasvind: “... en daar het ’n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie” (Op. 16:18). Dit sal reuse tsoenamies veroorsaak wat laagliggende kusgebiede in baie lande sal oorstroom. Geen wonder nie dat mense se harte van vrees en bewing sal beswyk wanneer die aarde onder hulle begin skud en hulle die gedreun van groot branders hoor. Om hierdie rampe nog erger te maak, sal dit ook gepaard gaan met hemelliggame wat die aarde met verwoestende gevolge sal tref. Al die rampe sal ook ernstige lugbesoedeling veroorsaak. Johannes sê: “En kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval” (Op. 6:12-13). Mense sal vreesbevange vlug uit stede waar geboue weens die groot skudding inmekaar tuimel. Hulle sal weet dat hulle deur die Here geoordeel word omdat hulle sy Seun, Jesus Christus, verwerp het. In hulle wanhoop sal hulle na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Daar wag dus veel erger dinge as die huidige probleme op die inwoners van hierdie goddelose wêreld. Die Here Jesus het in sy profetiese rede hierteen gewaarsku toe Hy gesê het dat daar ’n groot verdrukking kom soos daar nog nooit gewees het en ook nooit weer daarna sal wees nie (Matt. 24:21). Ons moet die huidige benoudheid, beproewings en aanslae met ’n vaste geloof deurstaan, want dit is net die begin van veel groter smarte wat oor die aarde gaan kom. Ons moet geheilig en voorberei word om met vrymoedigheid voor die hemelse Bruidegom te kan verskyn wanneer Hy kom: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36; vgl. 1 Joh. 2:28).