Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2016)
Skriflesing: Openbaring 17:1-7; 19:7-9.
Die twee groot geestelike realiteite waarvoor alle mense op aarde te staan kom, word in die Bybel as twee koninkryke beskryf – die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. Twee beskrywende name wat ook dikwels vir hulle gebruik word, is die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis. Hoewel dié twee koninkryke vanuit ʼn geestelike sfeer funksioneer, is beide van hulle besig met voorbereidings om as sigbare, fisiese koninkryke op aarde geopenbaar te word. God se ryk sal onder die koningskap van sy Seun, Jesus Christus, geopenbaar word en Hy sal ná sy wederkoms van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem oor die aarde regeer. Satan se ryk sal onder die koningskap van die Antichris geopenbaar word gedurende die sewe jaar tussen die einde van die kerkbedeling en die koms van Christus op die Olyfberg.
Die Antichris sal homself as Israel se Messias voordoen, sy gesag op Jerusalem afdwing en homself in die middel van die verdrukking uit die herboude tempel tot God verklaar. Hy sal egter ook op die messiaanse titels van ander gelowe aanspraak maak en aktief regeer uit die gebied wat na die noorde en ooste aangrensend aan Israel is. Dié gebied het in antieke tye as Babilonië of Assirië bekend gestaan, en in moderne tye ekonomiese en politieke prominensie verkry as die Arabiese Golfstate, naamlik Irak, Saoedi-Arabië, Koeweit, Bahrein, Katar, die Verenigde Arabiese Emirate en Oman (Iran behoort nié aan dié groep nie omdat hulle nie Arabies is nie maar Persies). Dié sewe lande is almal welvarende olieproduserende state aan die Persiese Golf wat onder die gemeenskaplike sambreel van Islam funksioneer. Die Antieke Babilonië het die huidige Sirië ingesluit, en dus ook hawens in die Middellandse See gehad. Dit is moontlik dat Sirië weer deel van die moderne Babilonië sal word, al gebeur dit eers onder die bewind van die Antichris. Hy sal benewens sy assosiasie met ander gelowe ook Islam se eindtydse kalief of Imam Mahdi wees en ʼn magtige Islamitiese kalifaat stig.
Tydens die volgende twee dispensasies – die Antichris se regering en Christus se vrederyk – sal die wêreld respektiewelik uit die herstelde Babilonië en Jerusalem regeer word. Hierdie twee koninkryke verteenwoordig twee dispensasies wat die kerkbedeling só opvolg:
|
Die Kerkbedeling sal beëindig word deur die wegraping. Die groot aantal geestelik misleides sal almal agterbly. |
Sewe jaar van die Antichris se wêreldregering. ʼn Alliansie van misleide gelowe – die Antichris se bruid – sal in dié tyd groot aansien geniet en die Christendom probeer uitwis. |
Die duisendjarige vrederyk van Christus sal gevestig word nadat Hy teruggekeer en die Antichris en sy wêreldregering vernietig het. Lede van sy bruid sal saam met Hom op aarde regeer. |
Die twee konings wat in die eindtyd geopenbaar sal word, sal nie net politieke en ekonomiese leiers wees nie, maar spesifiek ook godsdienstige leiers wat vereer en aanbid sal word. Geestelik gesproke sal beide van hulle ʼn vrou hê – die vrou van die Antichris (ʼn alliansie van valse wêreldgodsdienste) en die vrou van die Lam (die ware kerk van Christus). Hierdie twee vroue sal in die heerlikheid van hulle onderskeie leiers deel en ook saam met hulle regeer. Die een huwelik sal ná net 3½ jaar rampspoedig eindig wanneer die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar en dan van sy vrou skei omdat haar rol uitgedien sal wees, maar die ander een sal vir altyd voortbestaan.
Dit is belangrik dat ons van hierdie twee huwelike sal kennis dra, want elke persoon op aarde is ʼn lid van een van die twee groepe. Diegene wat deel is van Christus se bruidsgemeente (weergebore Christene), het die opdrag om vir die bruilof van die Lam voor te berei sodat hulle in ʼn vlekkelose kleed voor Hom kan verskyn. Hulle moet heiligmaking onder die leiding van die Heilige Gees nastreef. Dié wat egter by die opponerende koninkryk inskakel (almal buite die ware Christendom, insluitend ongeredde naamchristene) word beïnvloed om so ekumenies, multigodsdienstig en globalisties as moontlik te wees in hulle lewensuitkyk, sodat hulle aanvaarbaar kan wees vir die universele messias (Op. 13:3-4, 8) en die universele god van alle gelowe (2 Kor. 4:4). Hulle voer ʼn hewige stryd teen die evangeliese Christendom wat weier om kompromie met ander gelowe te maak en by die ekumeniese beweging aan te sluit. Volgens die ekumenies gesindes kan daar net vrede op aarde wees as die lede van alle gelowe handevat, ten nouste met mekaar assosieer en sodoende ʼn einde aan godsdienstige konflikte bring.
Jesus Christus is die Verlosser van ʼn verlore mensdom. Hy het nie net na die wêreld gekom om die losprys vir alle mense se sonde aan die kruis te betaal nie, maar ook om ʼn lewenslange liefdesverhouding met sy dissipels aan te knoop: “ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). Ons moet só deur sy liefde en die werking van sy Gees verander word dat ons aan sy beeld gelykvormig sal word. Die einddoel hiermee is om eendag as ʼn lid van Christus se bruidsgemeente in ʼn onberispelike toestand voor Hom te verskyn.
Die Here Jesus het ons lief soos ʼn man sy vrou versorg en liefhet, en maak dit vir ons deur die verdere genadewerk van heiligmaking moontlik om in ʼn rein kleed voor Hom te verskyn. Paulus sê: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Christus het Homself dus nie net oorgegee om ons deur die eerste genadewerk van weergeboorte te reinig nie, maar ook om ons deur die verdere genadewerk van heiligmaking voor te berei om as sy bruid vlekkeloos voor Hom te verskyn.
Die bruid het self ook ʼn groot verantwoordelikheid om deur die krag van die Heilige Gees ʼn lewe van toewyding te lei en sodoende aan haar bruidskleed te werk: “… want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Die regverdige dade van die heiliges is die vrug van die Heilige Gees in ʼn ten volle oorgegewe persoon se lewe. Soos wat getroude pare deurgaans aan hulle huwelik moet werk om nader aan mekaar te groei, moet ons aan ons geestelike verhouding met die hemelse Bruidegom werk sodat Christus meer kan word en ons tot ʼn groter mate ons roeping as sy getuies en sy geheiligde bruid kan vervul.
Ons moet daarvan bewus wees dat ons ons geestelike roeping moet vervul in ʼn vyandige omgewing wat deel is van ʼn wêreld wat grootliks in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Die alternatiewe koninkryk van Satan maak van die mees misleidende en subtiele tegnieke gebruik om sy valse messias/koning voor te stel in die gedaante van ʼn engel van die lig in ʼn poging om hom vir alle gelowe aanvaarbaar te maak. Hy sal as ʼn multigodsdienstige vredevors op die wêreldtoneel verskyn om ʼn brug te bou tussen alle gelowe en sodoende tegelyk met almal van hulle te identifiseer – ook met ekumeniese Christene wat verkeerdelik meen dat alle gelowe dieselfde God aanbid. ʼn Wanvoorstelling word van die Jesus van die Christendom gedoen deur sy beeld te vervals en sy Goddelike attribute te ontken, sodat iemand anders in sy plek as die universele Christus van alle gelowe op die toneel kan verskyn.
Dit is verbasend dat baie Christene reeds ontvanklik is vir valse propaganda van hierdie aard, en geen weerstand bied teen verkeerde voorstellings van die Here Jesus, teen verdraaide weergawes van die evangelie, en teen geestelike manifestasies wat duidelik vreemd is aan die Heilige Gees nie. Trouens, hulle dryf goedsmoeds en sonder teëspraak saam met die stroom van ekumeniese denke af onder die leiding van valse leraars wat die Skrifte verdraai tot hulle eie verderf (2 Pet. 2:1; 3:16). Paulus het ernstig teen valse leerstellings gewaarsku omdat hulle toetreepunte tot die koninkryk van die duisternis is:
“Want ek is jaloers oor julle met ʼn goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ʼn reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4).
Daar is baie vervalsings van die Bybelse Jesus, bv. die populêre historiese Jesus wat nie ʼn Goddelike oorsprong het nie, nie deur sy kruisdood versoening vir sonde bewerkstellig het nie, nie uit die graf opgestaan het nie, nie na die hemel opgevaar het nie en dus ook nie daarvandaan na die aarde sal terugkeer nie. Die evangelie word ook só afgewater dat alle paaie na Rome lei, m.a.w. saligheid kan deur alle gelowe verkry word. Die aanvaarding van hierdie leuens wat onder die aanstigting van verleidende geeste verkondig word, lei daartoe dat groot getalle mense van die ware geloof afvallig word (1 Tim. 4:1). Ontrouheid aan die ware Christus lei tot lojaliteit aan die valse christus (2 Joh. 2:18-29).
Die mens is benewens sy biologiese en sielkundige karakteristieke ook ʼn geestelike wese wat óf onder leiding van die Gees van die waarheid leef óf onder die invloed van die gees van dwaling verkeer. Volgens 1 Johannes 4:1-6 gaan die gees van dwaling van die Antichris af uit om sy messiasskap te bevorder, terwyl die Gees van die waarheid mense oortuig van die feit dat Jesus Christus die ware Messias, die enigste Verlosser van die wêreld en ook die hemelse Bruidegom is. Niemand is gepredestineer om by een van hierdie twee groepe aan te sluit nie, omdat elkeen ʼn vrye keuse het oor sy/haar geestelike assosiasie (vgl. Jos. 24:15; Matt 23:37; Op. 22:17).
Johannes beskryf die ontugtige vrou wat op die dier se rug sit, as: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere” (Op. 17:5). Sy is ʼn moederorganisasie, en dus ʼn ekumeniese liggaam (of beweging) wat in noue assosiasie met die Antichris sal optree. Babilon was die oorsprong van al die valse gelowe wat in antieke tye ʼn toring gebou het as die simbool van selfverheffing en selfvergoddeliking. Ná die val van die toring van Babel het die valse godsdienste hulleself onder die nasies gevestig en miljoene mense in hulle mag gekry. Nou is hulle besig om weer hande te vat en nuwe gestalte te gee aan hulle gemeenskaplike herkoms vanaf die “moeder van die hoere”. Dit is ʼn eindtydse poging om godsdienstige mag te monster en dit te gebruik om die ideaal van valse wêreldeenheid te bevorder. Hulle streef ook daarna om met politieke leiers saam te werk om hierdie doel te bereik, en dit baan die weg na hulle toekomstige samewerking en “huwelik” met die Antichris. Hy sal hulle bemagtig, en uit hulle geledere sal die valse profeet kom wat die Antichris se mede-regeerder sal wees.
Multigodsdienstige ekumene het reeds ver gevorder. Ná ʼn relatief klein begin in 1893, het die Parlement vir Wêreldgodsdienste in 1993 ʼn reuse kongres in Chicago gehou wat deur 7 000 lede van 250 godsdienste en okkultiese groepe bygewoon is. In 1999 is ʼn ewe groot kongres in Kaapstad gehou, en hierdie liggaam gaan steeds voort met hulle internasionale kongresse. Die laaste een was in 2015 in Salt Lake City, VSA. Hierbenewens is daar die Verenigde Godsdienste Inisiatief wat tydens die Millenniumberaad van die Verenigde Nasies gestig is en ook gereelde byeenkomste organiseer. Die Wêreldraad van Kerke het sedert 1948 al hoe meer multigodsdienstig geraak en hou nie meer byeenkomste sonder om verteenwoordigers van die groot wêreldgodsdienste uit te nooi nie. Dieselfde intergeloofsbenadering word deur die Vatikaan gevolg, en dit het al na verskeie intergeloofsbyeenkomste in Italië gelei.
Die strukture is dus reeds geskep vir die ontugtige vrou wat al die valse wêreldgodsdienste sal verteenwoordig, die Antichris as die universele christus van alle gelowe sal aanbid en ten volle met hom sal saamwerk. Hierdie vrou sal sy bruid wees, in nabootsing van die ware kerk wat die bruid van die ware Christus is. Hierdie noue assosiasie beklemtoon die feit dat daar beslis in die Antichris se wêreldregering ʼn huwelik tussen godsdiens en politiek sal wees, en dit verklaar waarom die hele wêreld hom ook sal aanbid. Johannes sê:
“En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak [die valse god van hierdie wêreld] aanbid wat die dier mag gegee het en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? … Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges [die martelare van die verdrukking] en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie” (Op. 13:3-4, 7-8).
Die intieme band tussen die Antichris en die menigtes wat hom sal aanbid, sal gedurende die hele eerste helfte van die verdrukking voortduur. Onder hulle sal ook ortodokse Jode wees wat sal meen dat die Antichris hulle beloofde Messias is (vgl. Joh. 5:43). Hy sal onder andere aan Israel die reg gee om die tempel in Jerusalem te herbou, maar dit sal met die sinistere doel wees om Jode deur die hervatting van die tempeldiens van geloof in die ware Messias te weerhou. Verder sal hy die bose oogmerk hê om homself in die herboude tempel tot God te verklaar. Dit sal in die middel van die jaarweek van sewe jaar gebeur.
Daniël sê van die Antichris: “En hy sal een week lank met baie ʼn sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ʼn verwoester wees” (Dan. 9:27). Hy sal die Joodse offerdiens ná 3½ jaar summier verbied en die tempel ontheilig deur ʼn afgodsbeeld van homself in die Allerheiligste te laat plaas. Paulus sê hierdie mens van sonde en teëstander van God se Seun sal homself “verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).
Hy sal nie net die Jode nie, maar ook die aanhangers van al die valse gelowe, gebied om hulle eie godsdiensoefeninge te staak en voortaan slegs hom alleen as God te aanbid. Almal wat weier om dit te doen, sal sonder meer om die lewe gebring word: “En dit is hom [die valse profeet] gegee om ʼn gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie” (Op. 13:15).
Die gevolg van hierdie nuwe verwikkeling sal wees dat die Antichris se huwelik met sy ontugtige vrou skielik ontbind en al haar plekke van aanbidding vernietig sal word. Sy en al haar volgelinge sal dan voor die keuse gestel word om óf slawe van die Antichris te word en hom as God te aanbid, óf om tereggestel te word indien hulle sou weier om hom as God te aanbid. Johannes sê dat die tien konings wat saam met die Antichris regeer het tydens die eerste helfte van die sewe jaar lange verdrukking, ook hulle gesag aan die dier sal oordra wanneer hy in die middel van die verdrukking tot alleenbeheer oorgaan en ʼn militêre diktatuur instel (Op. 17:12-13). Hulle sal hulle volle samewerking gee om die alliansie van wêreldgodsdienste te ontbind en te vernietig: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op 17:16). Die Jode wat sal weier om die Antichris as God te aanbid, sal dan vinnig vir oorlewing uit Jerusalem moet vlug, want dan sal daar ʼn groot verdrukking wees soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:15-21).
Dit sal die tragiese uiteinde van die Antichris se vrou wees, wat vir ʼn spreekwoordelike pot lensiesop die ware Messias verloën en haar weergeboortereg verkoop het, net om vir ʼn kort rukkie erkenning en mag by die Antichris te kry. Enige ooreenkoms of bondgenootskap met die duiwel of sy valse koning, is ʼn bondgenootskap met die dood.
Hoe anders is die situasie nie met die bruid van die ware Christus nie! Die Bruidegom sal van die hemel neerdaal met geklank van die basuin van God, sy bruid van die aarde af wegvoer, haar in die lug ontmoet en dan dadelik saam met Hom terugneem hemel toe (1 Thess. 4:16-18; Joh. 14:2-3). Hier sal die bruilof van die Lam plaasvind in ʼn ivoorpaleis wat so wonderlik is dat dit nie in mensetaal beskryf kan word nie. Paulus sê van die hemelse heerlikheid: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9). In die bruilofslied vir die Messias word hierdie huweliksluiting só beskryf:
“U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig. ... U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ʼn regverdige septer. ... Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir. ... Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:3, 7, 10, 14-16).
Gedurende die hele sewe jaar wanneer die verdrukking op aarde onder die bewind van die Antichris verloop, sal die vrou van die Lam in die hemel by Christus wees. Ná die sewe jaar sal sy saam met Hom terugkeer na die aarde om hier saam met Hom in heerlikheid geopenbaar te word (Sag. 14:4-5; Kol. 3:4). Dan sal die bruilofsmaal van die Lam – dit is die feestelike onthaal ná die troue – op aarde gevier word. Dit is waarom Openbaring 19:7 na die vrou van die Lam verwys tydens dié feestelike geleentheid, en nie meer net na die bruid nie. Die huwelik sal dan reeds in die hemel voltrek wees.
Dit is met die oog op die bruilof in die hemel, maar ook met die oog op die fees daarna op aarde, dat die bruid van die Lam nou reeds aan haar bruidskleed moet werk deur middel van die regverdige dade van die heiliges. Hierdie lewe van diensbaarheid en toewyding aan die Here kan net onder die leiding en in die krag van die Heilige Gees gelei word. Dit beteken dat elke Christen ʼn ondervinding van hartsreiniging én vervulling met die Heilige Gees moet hê.
Moet dus nie die fout begaan om net by weergeboorte te berus en dan terug te sit en as ʼn vleeslike Christen sonder die bekragtiging deur die Heilige Gees voort te sukkel nie. Aanvaar die Pinksterbelofte van die toerusting met krag uit die hoogte, dan sal jy beslis nie eendag met leë hande voor die Here staan, gered asof deur vuur heen nie (1 Kor. 3:15). Die belofte van vervulling met die Heilige Gees is aan alle Christene gemaak (Hand. 1:8), en dit is oor en oor die moeite werd om jouself te verootmoedig en van alle besoedeling van die gees en die vlees gereinig te word. Bely ook jou vleeslike toestand en gee dit oor om gekruisig te word – dan alleen kan God se Gees volle beheer oor jou lewe neem en jou in staat stel om vir die luisterryke geleentheid van die bruilof van die Lam gereed te maak.