Godsdienstige Dwalinge

Johan Malan, Universiteit van die Noorde

Opsomming: Ernstige dwalings waarin 'n ander Jesus, 'n ander gees en 'n ander evangelie verkondig word, word in oënskou geneem.

Polarisasie tussen lig en duisternis

Die huidige verwikkelinge op godsdienstige gebied dui op ‘n verskerpte stryd tussen lig en duisternis. Die spanning en polarisasie tussen God se ryk en Satan se ryk neem as ‘n voorspel tot die openbaring van die Antichris en die begin van die verdrukking drasties toe.

Hierdie stryd manifesteer toenemend in die samelewing deurdat individuele Christene, asook gemeentes en denominasies, duidelike keuses oor betrokkenheid by die ekumeniese beweging en die intergeloofsbeweging maak. Terwyl die wêreld met sy valse godsdienste hulle inklusiewe agenda vir godsdiensgelykheid en godsdienseenheid voortsit, sal evangeliese Christene hulle eksklusiwiteit moet bewys deur hulleself uitdruklik van hierdie antichristelike strukture en bewegings te distansieer.

Om as oorwinnaars uit dié hewige stryd te kan tree, is dit nodig dat elke Christen die vyand en sy strategieë goed sal ken, met die volle wapenrusting van God beklee sal wees, en ook van die Here die nodige geestelike onderskeidingsvermoë sal afbid. Omdat dit ‘n stryd tussen twee geestelike magte is wat ons voer, is ons óf aan die kant van die ware Christus, óf aan die kant van die Antichris. Ons sal onsself ernstig moet afvra hoedanig die kwaliteit van ons verhouding met die Here Jesus is. Baie mense weet só min van Hom dat hulle nie eers in staat is om die ware Jesus van die baie ander Jesusse, wat antichristelike vervalsings van die waarheid is, te kan onderskei nie.

In hierdie hoofstuk wil ons jou oor die valse voorstellings van Jesus inlig sodat jy paraat vir die stryd teen geestelike misleiding kan wees, wat binne-in Christelike kerke woed. Wanneer jy van al hierdie dwalinge kennis geneem het en die gevaar daarvan besef, moet jy jou geloof in die ware Jesus herbevestig. Slegs deur die waarheid en die leuen duidelik teenoor mekaar te stel, kan die dwaling volkome ontmasker en die waarheid ten volle begryp en aanvaar word.

Vervalsings

Sedert die vroegste tye het die meeste Christelike kerke ‘n betreurenswaardige onvermoë getoon om tussen die waarheid van God se Woord en die baie vervalste weergawes daarvan te kan onderskei. Paulus sê:

"Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!" (Gal. 1:6-8).

Die Korinthiërs het dieselfde gebrek aan geestelike insig en onderskeidingsvermoë gehad:

"Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval" (2 Kor. 11:2-4).

Uit die aangehaalde gedeelte is dit duidelik dat daar drie sake is wat deur die sielevyand vervals word om Christene in die war te bring en op ‘n dwaalweg te laat beland, naamlik:

·       'n ander Jesus;

·       'n ander gees; en

·       'n ander evangelie.

Kom ons kyk kortliks na die belangrikste vervalsings wat in moderne tye op hierdie drie terreine gepropageer word om ‘n verskeidenheid geestelike dwalings populêr aanvaarbaar te maak.

‘n Ander Jesus

Die volgende is die sewe algemeenste vervalsings of namaaksels van Jesus wat aan die wêreld gebied word. Dit word gedoen in ‘n poging om die verlossingswerk van die ware Lam van God ongedaan te maak deur aan die mense net ‘n gedaante of skewe beeld daarvan voor te hou:

1. Jesus die profeet

In baie gelowe, byvoorbeeld Islam en die Jehovasgetuies, word Jesus se Godheid ontken en word Hy net as ‘n profeet en menslike leermeester voorgehou. Hy word ook as die Seun van God en as Christus geloën.

"Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie" (1 Joh. 2:22-23).

Die ernstige dwaling van die ontkenning van Jesus se Godheid het in die laaste dekade van die 20ste eeu egter ook in baie lande van die wêreld tot in die binnekringe van verskeie teologiese fakulteite en seminariums ingedring. Hierdie gees van afvalligheid is ook sterk in Suid-Afrika waarneembaar.

Navorsing oor dié onderwerp deur die Universiteit van Suid-Afrika [Unisa] se Instituut vir Teologie en Religie het in September 1997 op die aanbieding van ‘n Jesus-konferensie uitgeloop. Die referate wat gelewer is, is kort daarna in ‘n boek, Images of Jesus, onder die redaksie van prof. C.W. du Toit gepubliseer. Hierin word ‘n duidelike onderskeid tussen die “historiese Jesus” en die “kultiese Jesus” [of “die Jesus van geloof”] getref. Die mees algemene standpunt op dié konferensie was dat die historiese Jesus net ‘n profeet was en dus nie een met God is of selfs eers die Seun van God is nie. Die stelling word gemaak dat die Bybelskrywers, asook die vroeë kerkvaders, Jesus tot God verklaar het omdat hulle ‘n God wou hê om te aanbid. Sodoende het hulle na bewering ‘n valse beeld van ‘n kultiese of mitiese Jesus geskep wat vandag nog in die meeste kerke verkondig word. Hierdie moderne, afvallige teoloë verwerp dus uitdruklik die idee van ‘n Drie-enige God deur Jesus se Godheid te verwerp!

2. Jesus die voorbeeld

Daar word dikwels in swak prediking net na Jesus se lewe as ‘n voorbeeld verwys wat nagevolg moet word. In afgewaterde boodskappe van dié aard word die kruis en die bloed van Jesus wat vir sondaars gestort is, verswyg. Die eis van wedergeboorte word ook nie erken nie, en mense word net aangemoedig om soos Jesus ‘n mooi lewe te lei. Een van die gevolge van hierdie sienswyse is dat Jesus só onwerklik vir mense word dat Hy net as ‘n denkbeeldige Jesus vaagweg in hulle gedagtes bestaan. Hulle dien Hom deur verstandelike instemming, maar geestelik is Hy nie vir hulle ‘n werklikheid nie omdat hulle Hom nog nie in die geloof in hulle lewens ontvang en deur die wedergeboorte nuwe mense geword het nie. Hoewel hulle van Jesus of God praat, ken hulle Hom nie regtig as ‘n Persoon nie en vereer net ‘n denkbeeld van Hom.

3. Jesus die gewer van gawes

Baie mense dien ‘n Jesus wat net gawes en voordele aan hulle bied. Hy moet hulle gesond maak, krag gee en hulle seën deur in al hulle materiële behoeftes te voorsien. Jesus word as die tweede Adam gesien wat aan ons alles kom teruggee het wat die eerste Adam deur die sondeval verloor het. Ons kry nie net beheer oor die skepping nie, maar selfs ons woorde kry skeppingskrag omdat ons deur die wedergeboorte in klein godjies getransformeer word. Dit is dus net ons eie skuld as ons swak, siek of arm is.

Die navolgers van hierdie Jesus wat van mense gode maak, identifiseer nie met die gekruisigde Here Jesus nie, en verwerp vervolging, lyding en siekte as die gevolge van ‘n swak geloof. Hulle is positiewe denkers wat hulle eie werklikheid deur middel van positiewe belydenis skep.

Jesus het baie populêre volgelinge gehad toe Hy siek mense genees en wonderwerke gedoen het. Die massas opportuniste het Hom egter verlaat toe Hy van sy bloed en die kruis as die grondslag vir ware eenheid met Hom gepraat het (Joh. 6:53-66). Baie mense skep nog steeds hulle eie populêre Jesus.

4. Jesus die politieke verlosser

In die Derde Wêreld word dikwels ‘n Jesus verkondig wat met die onderdruktes assosieer en vir hulle ‘n vryheidsvegter is. Nie net verbreek hy die kettings van politieke onderdrukking en slawerny nie, maar hy hef die miskendes ook sosiaal en ekonomies op. Dié Jesus is net by die sekulêre lotgevalle van die mens betrokke. Hy bevry hulle nie van sonde nie, maar van ander onaangename omstandighede. Hy help hulle in hulle bevrydingstryd teen die onderdrukking van die kapitaliste en kolonialiste.

5. ‘n Jesus wat in die hel gesterf het

Nog ‘n ernstige verdraaiing van Jesus se verlossingswerk wat baie veld wen, word deur Word of Faith predikers soos E.W. Kenyon, Kenneth Hagin, Kenneth Copeland, Charles Capps en andere verkondig. Volgens hulle siening is die fisiese kruisdood van Jesus nie van kardinale belang nie omdat Hy geestelik in die hel vir die sondes van die wêreld gesterf het. Die onbybelse en lasterlike bewering word gemaak dat Jesus ‘n sondige natuur aangeneem en daardeur, soos Adam, vir Satan as stiefpa aanvaar het. In die hel is Hy vir drie dae lank deur die demone bespot totdat Hy opgestaan en oor Satan en sy magte getriomfeer het. Sodoende het Hy die regte en voorregte van die eerste Adam vir die hele menslike ras teruggewen. Die toneel is dus nou vir die Christendom voorberei om sy verlore magte en heerskappy terug te kry, die wêreld oor te neem, dit Christelik te rekonstrueer en daaroor te heers.

6. Jesus die sondaar

Die Jesus wat in Hollywood se films uitgebeeld word, is ‘n sondaarmens wat, soos enige ander gevalle mens, deur sondige hartstogte oorheers word. Hierdie hoogs lasterlike voorstelling van Jesus is die tema van films soos Jesus Christ Superstar, The last temptation of Christ en Jesus of Montreal. In laasgenoemde film leef Jesus saam met ander jongmense in ‘n woonstel. Hulle drink en leef ‘n permissiewe, onsedelike en losbandige lewe.

Soms word Jesus as homoseksueel uitgebeeld, en op ‘n skildery wat in aartsbiskop Tutu se katedraal in Kaapstad uitgestal was, as ‘n hulpelose Vigslyer wat vol sere is. In die Bybelse tyd is Jesus al as ‘n sondaar, ‘n wetsverbreker en ‘n drinker bestempel (Joh. 9:16, 24; Matt. 11:19).

Hierdie is duidelik ook ‘n ander Jesus wat geen sondaar se siel kan red nie. As gevolg van die doelbewuste bespotting van die ware Jesus wat sonder sonde was (Heb. 4:15; 7:26), haal mense vir hulleself God se toorn op die hals: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie” (Gal. 6:7).

7. Die kosmiese Jesus

Die groot eindtydse vervalsing van Jesus is daarop gemik om die verskyning van die Antichris en sy misleidende meelopers moontlik te maak. Saam vorm hulle ‘n hiërargie van valse Jesusse, met die Antichris as hulle hoof. Jesus het self teen die aanmatigende en verraderlike misbruik van sy Naam gewaarsku:

"Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei" (Matt. 24:4-5).

Die Nuwe Era Beweging propageer ‘n universele Jesus wat die verpersoonliking van die messiaanse verwagtinge van alle godsdienste ter wêreld is. Vir die Christendom is hy die Christus, vir die Jode die Messias, vir die Hindoes die Krishna, vir die Moslems die Imam Mahdi, en vir die Boeddhiste die Maitreya Boeddha. Hy is dus die gemeenskaplike kosmiese Jesus van alle gelowe.

In die Nuwe Era Beweging se gebed vir wêreldvrede word onder meer gesê: “May Christ return to Earth.” Sundial House verduidelik dié strofe soos volg:

"Hierdie uitdrukking is ‘n triomfantelike uitroep deur alle mense op aarde dat die Wêreldleraar, die Avatar wat die volgende ontplooiing van goddelikheid op aarde sal laat plaasvind, in ons kritieke tyd moet kom. Die woord Christus dui op veel meer as die leier van die Christelike kerk. Hy is die Wêreldleraar wat ook in die Ooste as Heer Maitreya, die Bodhisattva en as die Imam Mahdi bekend staan."

Hoe word die Jesus van die Christendom aan al hierdie ander gelowe verbind? In die Aquarian Gospel of Jesus the Christ wat deur die Nuwe Era Beweging uitgegee word, word die sg. vermiste jare van Jesus tussen sy ouderdomme van 12 en 30 beskryf. Die bewering word gemaak dat Hy in hierdie tyd in Indië, Nepal, Tibet, Egipte en Griekeland was voordat Hy met sy openbare bediening in Israel begin het. Daar word verduidelik hoedat Hy in Indië ‘n studie van die Vedas [die heilige geskrifte van die Hindoes] gemaak en in Nepal in die Himalajas Homself in die Boeddhistiese geskrifte verdiep het. Hy is daar as ‘n reïnkarnasie van Boeddha beskou en het ook die titel Issa [Seun van God] gekry. In ‘n Egiptiese tempel in Heliopolis [die Stad van die Son] het Hy die amp van die Christus verwerf en was daarna vir sy bediening in Israel gereed.

Die kosmiese Jesus is die laaste van ‘n lang reeks vervalsings van die Naam en Persoon van die Here Jesus. Hierdie dwaling vind tans vinnig in vervalle Protestantisme inslag. In die boek Images of Jesus wat deur Unisa uitgegee is, word Jesus met messiaanse figure in ander gelowe vergelyk en groot ooreenkomste tussen hulle aangetoon. Die volgende slotsom word gemaak:

"Indien dit waar is dat die ‘konstruksie’ van Jesus in die vroeë Christendom ooreenkomstig dié van Boeddha, Zoroaster en Krishna is, dan moet die vraag beantwoord word oor watter voordele daar in ‘n vergelykende studie van hierdie aard geleë is… Om die vroeë Christendom en sy ‘gekonstrueerde’ verlosser in die vreemdheid van ‘n Oosterse godsdiens aan te tref, moet sekerlik nuwe en onverwagte maniere aan Christene bied om Jesus Christus te ‘konstrueer’. Dit is veral belangrik vir die debat oor die kontekstualisering van die Christendom in die Afrika-verband. Meer nog, behoort dit Christene, Jode, Boeddhiste en Hindoes tot ‘n gesonder en meer verdraagsame interaksie op die kulturele en godsdienstige front aan te moedig. Hoe sterk ons ook al in ons eie uniekheid wil glo, drink ons almal uit dieselfde fontein" (bl. 221).

Die groot klem op die kosmiese Jesus is ter voorbereiding op die verskyning van die Antichris, wat die universele christus van alle valse gelowe sal wees.

‘n Ander gees

Gepaard met die verkondiging van ‘n ander Jesus is daar ook ‘n ander gees werksaam om mense te mislei en hulle onder die krag van die dwaling te bring. Dit is in ons tyd absoluut noodsaaklik om onderskeidingsvermoë te hê en nie goedsmoeds enigiets te aanvaar wat reg klink nie:

"Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan" (1 Joh. 4:1).

In 1 Johannes 4:6 word onderskeid tussen die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling getref. Dit is nie altyd maklik om hierdie onderskeid te tref nie, omdat die gees van die dwaling oor groot mag beskik waarmee hy die gawes van die Gees van die waarheid naboots.

Paulus waarsku dat die koms van die Antichris sal wees:

"…volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo" (2 Thess. 2:9-11).

Die gees van die dwaling is in hierdie tyd reeds intensief werksaam om die wêreld op die verskyning van die kosmiese Christus met sy wonderwerkende kragte voor te berei. Sy tweede in bevel, die valse profeet, sal oor net sulke verbysterende magte beskik:

"En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is..." (Op. 13:12-14).

Die geweldige beheptheid met bonatuurlike geestelike kragte wat op ‘n skouspelagtige wyse as tekens en wonderwerke manifesteer, is besig om oral op aarde pos te vat. Die Nuwe Era Beweging en sy geassosieerde valse godsdienste gebruik dit as klimaatskepping vir die openbaring van die kosmiese Christus [die Antichris]. In sekere Christelike kringe is daar ooreenstemmende verwagtinge van ongelooflike openbaringe van die Heilige Gees se krag in voorbereiding op Jesus Christus se wederkoms. Die vraag in baie mense se gemoedere is: waar moet die streep getrek word? Die meeste Christene is bang om ‘n standpunt in te neem, uit vrees vir moontlike sonde teen die Heilige Gees.

Vreemde manifestasies by Christelike byeenkomste is aan die orde van die dag, bv. “val in die gees”. Dit het verskeie wanordelike uitvloeisels soos dans in die gees, lag in die gees, profeteer in die gees, dronk word in die gees, asook die nabootsing van ‘n groot aantal dieregeluide. Huidiglik word sg. “nuwe wyn” byeenkomste gehou waartydens tipiese simptome van dronkenskap ervaar word, saam met baie ander vreemde manifestasies soos goudstof op mense se hande, in hulle hare, en tandestopsels wat na bewering in goud verander. Die volgende is ‘n bekende liedjie wat oral op “nuwe wyn” byeenkomste gesing word:

Now I laugh like an idiot and bark like a dog,

If I don’t sober up, I’ll likely hop like a frog!

And I’ll crow like a rooster ‘til the break of day,

‘Cause the Holy Ghost is moving, and I can’t stay away!

Now I roar like a lioness who’s on the prowl,

I laugh and I shake, maybe hoot like an owl!

Since God’s holy river started bubbling up in me,

It spills outside, and it’s setting me free!

So I’ll crunch and I’ll dip and I’ll dance round and round,

‘Cause the pew was fine, but it’s more fun on the ground!

So, I’ll jump like a pogo stick, then fall on the floor,

‘Cause the Holy Ghost is moving, and I just want more!

CHORUS:

Now I’m just a party animal grazing at God’s trough,

I’m a Jesus junkie, and I can’t get enough!

I’m an alcoholic for that great New Wine,

‘Cause the Holy Ghost is pouring, and I’m drinking all the time!

Hoe moet ons hierdie vreemde manifestasies beoordeel? Die Good News sendinggenootskap doen dit só:

"Daar is vandag ‘n gees waarneembaar in die wêreld wat as die Heilige Gees bestempel word, maar wat nie die egte kenmerke van die Heilige Gees openbaar nie. Dit is ‘n gees wat veral die klem op homself laat val, in plaas van op die Here Jesus Christus. Dit is ‘n gees wat die uitsprake van die Bybel verontagsaam ter wille van die verwesenliking van sy eie doelwitte. Hierdie gees maak ook voorsiening vir diegene wat nie vir Jesus as Middelaar tussen God en die mens aanvaar het nie.

"Dit is ‘n gees wat al die uiterlike manifestasies van die Heilige Gees naboots, maar hy oortuig nie van sonde nie. Hy het inteendeel geen probleem om met leuens, bedrog en halwe waarhede saam te leef nie en deins nie daarvoor terug nie.

Hierdie nuwe godsdiens versprei onrusbarend vinnig deur die hele wêreld. In teenstelling met die ware Christelike godsdiens waarin die Here Jesus die middelpunt is, word dié gees bokant Christus verhoog as middelaar tussen God en die mens. Die aanhangers hiervan haal graag tekste aan soos ‘word met die Gees vervul’ (Ef. 5:18), maar ignoreer gerieflikheidshalwe tekste soos Joh. 14: 20, 2 Kor. 13:5, Gal. 2:20 en Ef. 3:17 wat beklemtoon dat Jesus Christus in ons moet woon.

"Die nuwe geloof leer dat jy ‘n openheid moet hê en net moet glo en ontvang wat die gees aan jou bied. Deur hierdie gees word onwedergebore kinders gebaar asof hulle egte produkte van die Heilige Gees is. Uiterlik gaan hulle deur al die prosesse van wedergeboorte, maar daarna kan hulle beswaarlik van die wêreld onderskei word. Tóg beskik hulle soms oor vermoëns en kan getuig van ondervindings wat menige ware kind van God in die skadu stel.

Ons leef in gevaarlike tye. Vir bykans 2 000 jaar het Satan probeer om die kerk van die Here van buite af deur geweld te vernietig, sonder om daarin te slaag. Nou, in die doodsnikke van hierdie bedeling, het hy van taktiek verander. In plaas van hom voor te doen as die brullende leeu, koer hy nou soos ‘n duif en praat soos ‘n lam om die kerk van Christus te probeer verlei en in ‘n valse gerustheid te dompel.

"Hierdie dwaling hou ‘n groot en baie ernstige gevaar vir die Christendom in. ‘n Gees wat die plek van Jesus in die gedagtes en lewens van mense inneem, is ‘n gees wat hulle uiteindelik van die Here Jesus sal vervreem. In 2 Korinthiërs 11:4 waarsku Paulus ons teen die aanneem van ‘n ander gees. Laat ons teen hierdie gevaar waak."

Die Heilige Gees self waarsku ons teen verval uit die waarheid van God se Woord na geestelike nabootsings van die duiwel:

"Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang" (1 Tim. 4:1).

Nog een van die talle verleidende geeste van die duiwel wat ingedring het in Christelike kerke waarin daar ‘n openheid vir alles is, is die sogenaamde Christelike meditasie. Hierdeur word gebed vervang en word gelowiges geleer om te ontspan, aan niks te dink nie en deur ‘n proses van inkering na die dieper, kreatiewe vlakke van hulle intuïtiewe regterbrein oor te skakel. Sodoende kom ‘n ongelooflike gevoel van liefde, vrede en die eenheid van alle dinge [insluitende die eenheid van alle gelowe] oor die mediteerders en word eenheid, samesmelting en versoening hulle groot lewensideaal. Hulle hang die kosmiese Christus aan, en as gevolg van hulle mistiese ervarings beskou hulle hulself as baie beter Christene as die ander wat nie in hulle ervarings deel nie.

Hierdie Oosterse psigo-tegniek wat uit Hindoeïstiese Transendentale Meditasie (TM) afkomstig is, het nie net kerke nie, maar ook die onderwysstelsel binnegedring. Dit is wesenlik deel van suggestopedie, waarin meditasie- en regterbreintegnieke, asook joga ontspanningsoefeninge en barokmusiek deel van ‘n nuwe en ‘meer kreatiewe’ leerproses is.

Hierdie gekerstende vorm van okkultisme hou ‘n baie groot gevaar vir almal in wat daaraan blootgestel is. Dit is vreemde geeste wat die samelewing deur verskeie poorte binnedring om die koninkryk van die duisternis te bevorder en die krag van die dwaling stewig te vestig.

Die volgende duidelike teenstellings kan tussen die Heilige Gees en hierdie ander gees gemaak word:

DIE HEILIGE GEES

‘N ANDER GEES

Die Heilige Gees getuig nie van Homself nie. Hy herinner ons aan wat die Here Jesus gesê het en maak Hóm ‘n groot werklikheid in ons lewens.

Die teenwoordigheid, krag en gawes van hierdie gees word ‘n oorweldigende werklikheid en Jesus Christus word subtiel op die agtergrond geskuif of selfs vervang.

Hy oortuig jou van sonde sodat jy jou werklike probleem kan besef en vergifnis kan kry.

Hy laat jou lekker en ontspanne voel sodat jy al jou probleme kan vergeet en dink dat alles reg is.

Hy oortuig jou van God se geregtigheid soos wat dit deur Jesus se volmaakte lewe en sy soendood gestalte gekry het.

Hy oortuig jou d.m.v. bonatuurlike ervaringe soos val in die gees en ander ‘gawes’ dat God met jou is en dat sy krag jou oorskadu.

Hy doen sy oortuigingswerk in jou gees en openbaar jou hart en lewe soos wat God dit sien.

Hy gebruik mense om suggesties op jou oor te dra en indrukke te skep wat nie van God af is nie.

Hy spreek tot jou deur die Woord wat gees en lewe is, en bring ewige heilswaarhede onder jou aandag. Die Bybel, as God se Woord, word steeds vir jou kosbaarder.

Hy gebruik profete om boodskappe aan jou te rig oor wat God wil hê dat jy moet doen. Hy spesialiseer ook in buite-Bybelse openbaringe van God, bv. gesigte en drome.

Hy is werksaam op die vlak van jou gees en werk op ‘n stille manier om jou geestelik te laat ontwaak, oortuigings by jou te skep en jou hart te verlig sodat jy die Here se stem kan hoor en in Hom glo.

Hy maak sy teenwoordigheid deur sensuele ervarings kenbaar, soos ‘n lekker gevoel, rillings in jou lyf, tintelings op jou vel, onbeheerste lagbuie of ‘n krag wat jou fisies laat sweef of afdruk op die vloer.

Hy lei jou na die kruis waar jy van al jou laste bevry en van alle besoedeling van die gees en die vlees gereinig kan word. Hy lei jou dus altyd na Jesus wat jou Verlosser is.

Hy verdryf in eie reg die duisternis en skuldkomplekse uit jou lewe sodat jy bly en ontspanne kan voel omdat jy in die lig wandel. Jy is dus van hom afhanklik om jou te verander.

Indien jy na aanleiding van jou sonde-oortuiging en op grond van Christus se genadewerk jou saak met God regmaak, dan wederbaar die Heilige Gees jou en maak jou ‘n nuwe mens.

Hy neem jou deur dieselfde uiterlike prosesse van wedergeboorte, maar wederbaar nie jou siel nie. Hy manipuleer net jou gevoelens en skep valse indrukke by jou wat jou laat glo dat jy gered is.

Hy oortuig jou steeds van jou sonde sodat jy heilig kan lewe, deur die bloed van Jesus Christus gereinig kan word en voortdurend in die lig van God se teenwoordigheid kan wandel.

Hy oortuig jou nie van sonde nie, en het geen probleem om met leuens, bedrog, hoerery en halwe waarhede saam te leef nie. Hy gee juis aan sulke mense die valse hoop dat hulle saak met die Here reg is.

Hy kan maklik bedroef word deur ‘n ongehoorsame Christen wat willens en wetens kompromie maak en aan die hartstogte en begeerlikhede van die vlees toegee. Hy sal jou van hierdie sonde oortuig sodat jy dit kan bely en laat staan en ‘n nuwe oorgawe aan die Here maak.

Hy is nie ontsteld oor die sonde wat jy doen nie. Hy sal dit ignoreer maar in die plek daarvan ‘n misleidende skuldkompleks skep. As jou standpunte té Bybels fundamenteel is, sal hy jou van liefdeloosheid, onverdraagsaamheid en ‘n kritiese gees beskuldig. Hy plaas jou op ‘n verkeerde spoor.

Hy lei jou om in ‘n selfondersoek van alle sonde en ongeregtigheid afstand te doen en die Here vir ‘n rein hart te vertrou. Reiniging deur die bloed van die Lam en ‘n hart vervul met die Heilige Gees is God se weg vir ‘n oorwinningslewe.

Hy wil jou deur middel van innerlike genesing na geestelike herprogrammering lei waarin die letsels van die verlede, en selfs voor jou geboorte, deur belydenis ‘reggestel’ word. Hy wil jou geestelik heroriënteer vir die toekoms en jou sorge laat vergeet.

Hy maak jou Christusbewus sodat die Here Jesus die ereplek as Leidsman van jou lewe kan inneem. Die Heilige Gees is ook die Gees van Christus en fasiliteer net Jesus se Middelaarskap in jou lewe.

Hy maak jou van homself bewus en afhanklik sodat jy al jou versoeke en begeertes net aan hom alleen moet rig. Jy word primêr deur hierdie gees gelei en bekragtig. Hy is ‘n groter werklikheid as Jesus in jou lewe.

Wanneer Hy iemand vervul dan word die persoon heilig, nederig en diensbaar gemaak en word sy hoofdoel die verkondiging van die evangelie van verlossing. Hy werk mee om siele vir Christus te wen.

Hy gee aan ‘n persoon ‘n nuwe selfbeeld wat aan hoogmoed en arrogansie grens. Die hoofdoel van só ‘n persoon word die najaag van geestesgawes, asook tekens en wonderwerke.

Die teenwoordigheid van die Heilige Gees kan kennelik aangevoel word waar Hy werksaam is en die Here Jesus verheerlik word. Dit vind op ‘n geestelike vlak plaas en lei na verootmoediging, oorgawe en ‘n diep vrede en blydskap in die Here.

‘n Vreemde gees doen kragtoertjies om mense te beïndruk en te laat dink dat hulle in die teenwoordigheid van die Here is. Omdat mense deel van dié kragvertoning wil wees, kom hulle uit en stel hulleself daarvoor oop. Sonder dit voel hulle hol en leeg.

Hy leer jou bid. Hy snel jou onvermoë en swakhede te hulp en tree vir jou in. Hy gee aan jou verligte oë van die verstand sodat jy die dinge van God kan verstaan en ook verantwoordelike besluite kan neem.

Hy leer jou mediteer. Hy help jou om na jou ‘regterbrein’ oor te skakel en mistiese ervarings te hê. Jy vergeet alles rondom jou, skakel by ‘n kosmiese sfeer in en beleef ‘n alternatiewe bewussynstoestand.

Hy beheer die emosies en besluite van mense uit hulle harte. Die sentrum van ‘n persoon se beheer oor sy lewe verskuif van die eie-ek beheerde verstand en siel na sy wederbaarde gees.

Emosies word van buite af geskep en jy tree soos ‘n gehipnotiseerde persoon op. Jy sal lag, huil, brul, blêr, kraai en blaf sonder dat jy besef waarom jy dit doen. Hierdie lafheid word Bybels geregverdig.

Hy lei jou deur die Woord en deur jou gewete, en gee ook aan jou geestelike insig om die Here se wil te ken en te doen.

Hy gee aan jou opdragte d.m.v. profesieë wat deur ander mense oor jou uitgespreek word. Uit vrees en onkunde gehoorsaam jy dit.

Die Here Jesus is jou Leidsman wat jou deur sy Woord en Gees lei. Jy dien en volg Hom.

Die leier van jou groep word ‘n kultusleier wat belangrike besluite voorskryf. Jy moet dit slaafs navolg.

Gawes word aan jou gegee om jou meer diensbaar te maak. Deur die krag van die Heilige Gees kan jy ‘n getuie vir Jesus wees en ook ander mense met die veelvuldige genadegawes van die Here bedien.

Jy kry die gawes van profetering, waarsêery, wonderwerke en selfgenesing. Goudstof val ook op mense, of hulle tandestopsels verander in goud. Al die ‘gawes’ van vreemde geeste is okkulties en derhalwe vals.

Jou opdrag is om mense na die Here te lei, waar hulle vergifnis en volle verlossing van sonde kan kry. Dit maak nie saak deur watter vorm van bose mag hulle gebind was nie, Jesus is en bly die Verlosser, en onder die oortuiging van die Heilige Gees moet die persoon sy/haar sonde besef, bely en laat staan. Deur die bloed van die Lam sal sondaars se harte gereinig en die mag van Satan verbreek word.

Jy word misbruik om ander mense na byeenkomste te nooi waar hierdie valse herlewing aan die gang is. Daar kan hulle genesing kry, wonderwerke ervaar, dronk word in die gees en deur goudstof (nie die bloed van die Lam nie) geheilig word. Jy raak veroordelend teenoor almal wat negatief teenoor dié moderne herlewingsbeweging staan. Jy kom nie agter dat jy deur die manipulering van jou emosies en sintuie mislei word nie.

Jy is ‘n dienskneg van Christus, ‘n soldaat van die kruis, en ‘n vreemdeling en bywoner in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê. Jy weet dat jy ter wille van jou geloof verdruk en vervolg sal word. Die outoriteit vir jou optrede is in God se gesag en beloftes geleë. In die koninkryk van Christus, ná sy wederkoms, sal jy saam met Hom as koning regeer. Dan sal omstandighede heel anders wees.

Jy is ‘n koning wat nou reeds saam met Christus regeer. Jy het die mag om alle opposisie en teëstand van die vyand uit die pad te vee en te regeer. Jou eie woorde en positiewe belydenis het krag om dinge te verander. Jy hoef nie verdrukking ter wille van jou geloof te hê nie, en ook nie probleme soos siektes en armoede in die gesig te staar nie. Dit is alles ‘n teken van ongeloof en pas nie by ‘n ‘koning’ wat oorvloed moet hê nie.

Die groot aanklag wat die Bybel oor die saak van geestelike misleiding teen Christene rig, is ten opsigte van hulle naïwiteit, onkunde en gebrek aan insig oor gevaarlike dinge wat op ‘n onskuldige wyse aan hulle voorgehou word: “...as julle ‘n ander gees ontvang as [die Heilige Gees] wat julle ontvang het... laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:4). Die misleides is self vir hulle verwarde toestand te blameer omdat hulle nie onderskeidingsvermoë het nie!

‘n Ander evangelie

Om begryplike redes sal die verkondiging van ‘n ander Jesus onder die beïnvloeding van ‘n ander gees ook ‘n ander evangelie tot gevolg hê. Die duiwel het in sy misleidingsprogram inderdaad ‘n groot aantal ‘Christelike’ predikers wat hiermee besig is:

"Sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie" (2 Kor. 11:13-15).

Baie van hierdie wolwe in skaapsklere staan vandag op kansels! Kom ons let op ‘n aantal van die ander evangelies wat deur hulle verkondig word om mense van die waarheid afvallig te maak en hulle op ‘n dwaalspoor te lei:

1. Dooie vormgodsdiens

‘n Evangelie waarin die kruisboodskap en die bloed van die Lam wat vir ons sondes gestort is, asook die gepaardgaande eis van wedergeboorte, nie absolute voorrang geniet nie, lei na ‘n dooie vormgodsdiens. Die meeste mense in Suid-Afrika, waarvan 77% aan Christelike kerke behoort, is op pad hel toe omdat hulle godsdienstig maar verlore is. Die mening is al uitgespreek dat net sowat 10% van die mense in dié land ‘n getuienis van wedergeboorte het. Die ongeredde meerderheid het as gevolg van hulle kerkisme slegs ‘n gedaante van godsaligheid. Die Here sal hulle eendag wegwys (Matt. 7:13-23).

In dooie kerke word meesal net ‘n denkbeeldige Jesus verkondig wat nie ‘n realiteit in mense se harte en lewens is nie. Hulle bewys wél lippediens aan Hom, maar Hy is niks meer as ‘n simbool waaraan kerklike tradisies en dogmas gekoppel word nie:

"Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou... So maak julle dan die woord van God kragteloos..." (Mark. 7:6-13).

  Daar is ‘n verskeidenheid teologiese tradisies en ander evangelies waardeur die Woord van God kragteloos gemaak word. Hieronder is die volgende:

Vergeestelikingsteologie, waarin die grondbetekenis van die Woord van God na willekeur deur vrysinnige denke geherinterpreteer, afgewater en verander word.

Vervangingsteologie, waardeur nuwe begrippe in die Bybel ingelees word. Israel word bv. deur die kerk vervang, met die gevolg dat profesieë oor die herstel van Israel noodwendig vergeestelik word en só hulle letterlike betekenis verloor.

Ontmitologiseringsteologie is ‘n benadering waardeur verskeie Bybelse gebeurtenisse as mites verwerp word. Die skeppingsverhaal, asook Noag, die ark en die sondvloed, word as mites beskou; so ook die profeet Jona en die verhaal van die groot vis. Die duiwel en die hel word ook as mites beskou wat nie regtig bestaan nie, en deesdae selfs die hemel.

Verbondsteologie, waarin die kruis- en bloedevangelie deur ‘n verbond en waterdoop vervang word. Ritusse word dan die grondslag van ‘n persoon se redding, terwyl die Drie-enige God waarop hy homself beroep, meesal net in sy gedagtes bestaan en nog nooit regtig in sy lewe ingekom het nie.

Uitverkiesing, in terme waarvan ‘n persoon homself as salig beskou omdat God hom uitverkies het, en nie op grond van sy ontmoeting met die Here Jesus en die reiniging van sy sonde deur die bloed van die Lam nie. Die verbondsteologie word aan die uitverkiesing gekoppel, en op dié wyse word die fundamentele evangelieboodskap totaal kragteloos gemaak.

Bybelse moralisering, in terme waarvan verskeie wette en reëls in die Bybel as die grondslag vir die mens se saligheid beskou word. Hierdie werkeheiligheid kan ook rigiede reëls oor kleredrag insluit. Sodoende word daar ‘n mooi lewe sonder wedergeboorte nagestreef, en diskwalifiseer mense hulleself vir die hemel (Joh. 3:3).

Geestelike relatiwiteit, waarin die mens sy eie kontemporêre geestelike reëls en belydenisse opstel. Die Bybel word nie as ten volle geïnspireerd beskou nie en meesal slegs histories geïnterpreteer. Jesus se Godheid, sy maagdelike geboorte en die dieper betekenis van sy kruisdood word geïgnoreer en sodoende kragteloos gemaak.

Kontekstuele teologie as ‘n skrifbeskouing waarin die verlossingswerk van Christus gesekulariseer en op die mens se politieke en sosio-ekonomiese behoeftes toegepas word. Die politieke bevrydingsteologie is een van die uitvloeisels van hierdie horisontalistiese toepassing van die Bybel. Geestelike waardes en die mens-God-verhouding word glad nie beklemtoon nie aangesien daar na politieke bevryding gestreef word. Ander kontekste soos groepsbelange, of die kerk en sy dogma, kan ook die evangelieboodskap skeef trek, inperk, afwater en marginaliseer.

2. Israelvisie

Die Israelvisie is ‘n onbybelse siening dat die blanke nasies van die tien stamme van Israel afstam. Dié mense beweer dat God Hom net met ‘Israel’ bemoei en dat alle ander rasse verdoemdes is. Die evangelie is egter vir elke volk, stam en nasie in die hele  wêreld bedoel (Matt. 28:19; Hand. 13:46-48; Kol. 3:11; Op. 7:9).

3. Koninkryk-nou

Die koninkryk-nou teologie is een van die ongelukkige gevolge van ‘n antichiliastiese skrifbeskouing. Chilias is van die Griekse woord chilioi afgelei wat duisend beteken. Chiliaste aanvaar die letterlike grondbetekenis van die Bybel, daarom glo hulle aan die herstel van Israel, die koms van die hemelse Bruidegom soos ‘n dief in die nag om sy bruid te kom haal [die wegraping], die openbaring van ‘n persoonlike Antichris en sy bewind tydens die sewe jaar lange verdrukking, die sigbare koms van Jesus én sy heiliges op die Olyfberg, die verdelging van die Antichris en die valse profeet tydens die wederkoms, die binding van Satan vir ‘n duisend jaar, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem, en ‘n duisendjarige ryk op aarde onder die regering van die Messias.

Antichiliaste sê dat ons nóú in die duisendjarige vrederyk is, dat die duiwel tans in ‘n put gebind is, dat alle beloftes oor Israel se herstel op die kerk oorgedra moet word, dat daar nie ‘n persoonlike Antichris en ook nie ‘n wegraping en ‘n groot verdrukking sal wees nie. Sommige groepe wat hierdie siening huldig, sien hulleself as konings [en selfs klein godjies] wat saam met Jesus regeer, en eis nou reeds die voordele van die koninkryk op. Hulle wil dus hier en nou ‘n sigbare Christelike koninkryk op aarde vestig.

Anders as die verskillende weergawes van ‘n dooie en inhoudlose vormgodsdiens, is die koninkryk-nou teologie op bepaalde uiterlike manifestasies van mag en heerskappy ingestel. Die wêreld moet sien dat die Christene in beheer is, en alle ander magte [ook die duiwels] moet die knie voor hulle buig en hulle koningskap erken.

4. Voorspoedsevangelie

Die voorspoedsevangelie is nou verwant aan bogenoemde siening. Die Here Jesus word as die oorwinnaar en die gewer van alle goeie gawes gesien. Hy regeer nou en op grond van sy oorwinning oor die magte van die duisternis kan ons ook volkome oorwinning oor siektes, armoede en allerlei ander probleme hê. ‘n Persoon wat nie in voorspoed en rykdom leef nie, word as ‘n swak gelowige bestempel wat nog nie sy volle erfenis in besit geneem het nie. Hy moet leer hoe om deur visualisering en positiewe belydenis vir homself voordelige omstandighede te skep en in alle opsigte van sy bestaan soos ‘n koning te leef.

Van strydvoering in ‘n bose wêreld (Joh. 16:33, 1 Pet. 4:12, 1 Joh. 5:19) wil hierdie mense niks weet nie. Ook nie van al die aanslae wat Paulus in sy bediening beleef het nie (2 Kor. 1:8-11 en 11:23-29). Dit, sê hulle, kan alles maklik oorwin word as jou geloof sterk genoeg is.

Uit die aard van die saak het sulke mense nie ‘n sterk wederkomsverwagting nie omdat hulle ‘vrederyk’ reeds aangebreek het. Hulle is ook nie ondersteuners van Israel nie omdat hulle self God se volk op aarde is.

5. Rekonstruksionisme

As ‘n kombinasie van die vorige twee sieninge behels rekonstruksionisme ‘n plan van aksie om die wêreld oor te neem en oral Christelike regerings te vestig. Op dié manier moet die koninkryk van God ook fisies op aarde kom. Rekonstruksioniste is baie positief oor die toekoms, en hulle verwag groot herlewings. Hulle is vas oortuig daarvan dat Christelike regerings verkies gaan word en dat Christene oral hoë poste sal verkry en in sleutelposisies in die openbare lewe aangestel sal word.

Op grond van hierdie siening verwag baie rekonstruksioniste dat die Here déúr hulle sy Utopia in ‘n bepaalde land, en uiteindelik in die hele wêreld, sal vestig. Hulle het met groot oortuiging aan verkiesings deelgeneem om sodoende die beheer in ‘n land oor te neem. Tot hulle bittere ontnugtering is die verkiesings omtrent oral deur humanistiese, nuwe wêreldorde georiënteerde partye gewen – soos bv. in Amerika en Suid-Afrika.

Dié mense is so positief dat hulle niks van negatiewe dinge soos die Antichris en groot morele en godsdienstige verval in die eindtyd wil weet nie. Hulle is positiewe denkers en skep in hulle gedagtes die ideale Christelike wêreld. Volgens die Bybel gaan hulle mooi drome egter nie realiseer nie, omdat daar in die eindtyd donker tye oor die aarde kom wat op die groot verdrukking gaan uitloop (Matt. 24:21-22, 2 Thess. 2:3, 2 Tim. 3:1-5, Op. 3:10).

Sonder om ongelowig of fatalisties te wees, moet mens duidelik kennis neem van die tydsomstandighede wat volgens die Bybel voor die wederkoms op aarde gaan heers, en terdeë daarmee rekening hou. Vrede sal nie op die aarde neerdaal voordat die Vredevors teruggekom en die vyand verdelg het nie!

6. Buite-Bybelse openbaringe

In baie evangelies word daar deesdae, soos ook in die nie-Christelike gelowe, ál hoe meer erkenning aan buite-Bybelse openbarings gegee. Dit sluit drome en visioene in, asook profesieë wat nie direk aan die Bybel gekoppel is nie. Die boeke van profete soos Nostradamus word herdruk en is in groot aanvraag. Geskrifte van die Boere-profeet van weleer, siener Van Rensburg, geniet ook wye aanhang in hierdie tyd van onsekerheid en onkunde oor Bybelse profesieë.

Gesigte en visioene neem só toe dat die mense hulle al hoe minder aan Bybelse profesieë steur. Die gevolg is dat hulle hulself blootstel aan geestelike boodskappe waarvan hulle die oorsprong glad nie ken nie, en wat dus ook nie geverifieer kan word nie. In goedertrou aanvaar hulle hierdie inligting en voorskrifte omdat die profeet of dromer dan ‘n ‘Christen’ is. Daar is egter waarsêende geeste wat van die duiwel af is, asook okkultiese gawes van heldersiendheid, afstandswaarneming, astrale projeksie en ingewings tydens diep meditasie, wat deur selfaangestelde profete gebruik word om mense mee te mislei. Kristalballe word ook vir dié soort profesieë gebruik.

Die Bybel waarsku ons dat daar veral in die eindtyd baie valse profete op die toneel sal verskyn en groot massas mense deur hulle tekens, wonderwerke en valse leerstellings sal mislei (Matt. 24:11, 24; 2 Pet. 2:1-3; 1 Joh. 4:1).

Dit is in ons eie belang om net by die Bybel te bly en dit as die enigste bron van kennis oor God se raadsplan vir die mens te gebruik. Luister na die stem van Heilige Gees soos wat Hy die Woord aan jou openbaar. Moenie na selfaangestelde “profete” luister en ‘n volgeling van mense word nie.

7. Dispensasionele verwarring

‘n groot rede vir baie van die verkeerde leringe van ons tyd is die onvermoë om tussen die dispensasie van die kerk en die toekomstige dispensasie van die duisendjarige vrederyk op aarde te kan onderskei. Dié twee dispensasies word saamgegooi en dit loop op ‘n koninkryk-nou teologie uit, soos reeds aangetoon. Dit is baie belangrik om hierdie twee bedelings duidelik van mekaar te onderskei sodat ons nie moet dink dat ons nóú konings is wat regeer, oorvloedige en probleemvrye toestande beleef, en nooit armoede, geestelike aanslae of siektes hoef te ervaar nie. Dié twee bedelings kan só gekontrasteer word:

DIE KERKBEDELING

DIE VREDERYK

Die koninkryk is nou verborge en ons moet deur vele verdrukkinge daarin gaan (Joh. 18: 36, Matt. 13:11; Hand. 14:22). Ons is nie konings nie, maar soldate van die kruis (Ef. 6:10-12). Ons burgerskap is in die hemel (Fil. 3:20).

Ná die kerkbedeling kom Jesus as Koning terug om sy koninkryk te openbaar (Hand. 15: 16-17). Hy sal as Koning op die troon van Dawid heers (Luk. 1:31-33; Jes. 2:3-4) en die nasies met ‘n ysterstaf regeer (Op. 19:15).

Satan beklee nou, binne die toelatende wil van die Here, ‘n magsposisie op aarde. Hy is die owerste van hierdie wêreld (Joh. 14:30), die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4) en ‘n maghebber op aarde (1 Joh. 5:19). Hy loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Pet. 5:8-9).

Satan sal vir ‘n duisend jaar gebind en dit bo hom verseël wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-3). Daarna sal hy ‘n kort tydjie ontbind word om sy verleidingswerk te hervat. Dan sal hy en sy volgelinge in die poel van vuur gewerp word (Op. 20:7-10).

Ons is nou vreemdelinge en bywoners in die teenswoordige bose wêreld (1 Pet. 2:11; Heb. 11:13: Gal. 1:4).

In die vrederyk sal ons die aarde beërwe en saam met Christus as konings regeer (Op. 20: 6; Op. 5:9-10).

Valse vrede, konflik en haat heers op aarde (Ps. 28:3; Jer. 6:14).

Sigbare vrede sal op aarde heers en geen oorloë gevoer word nie (Jes. 2:4; 9:5-6).

Israel as volk geestelik verblind en verstrooi onder die nasies (Matt. 23:37-38; Luk. 21:24).

Israel fisies én geestelik herstel in hulle land (Jes. 12:6; 27:6; Eseg. 36:24-28; Sag. 8:23).

Geestelike duisternis en onkunde heers op die aarde (Joh. 3:19; Matt. 7:13-14).

Die Here word oral geken en gedien (Hab. 2:14; Jer. 3:17; 31:34)

Siekte, pyn en lyding is algemeen (Joh. 5:2-3).

Siekte en lyding sal verdwyn (Jes. 33:24).

‘n Kort lewensverwagting in die huidige bedeling (Ps. 90:10).

Hoë ouderdomme, soos voor die vloed, sal weer voorkom (Jes. 65:20, 22).

Die skepping is aan nietigheid en rampe onderworpe, daarom kom misoeste ook voor (Rom. 8:20-21; Hab. 3:17-18).

Harmonie en oorvloed in die skepping, met baie groot oeste (Jes. 11:6-9; 41:18-19; 55: 13; 65:25; Amos 9:13).

Tans leef ons in ‘n wêreld vol ongeregtigheid (Jes. 5:18, 22-23). Die toorn van God gaan van die hemel af geopenbaar word oor al die goddelooshede en ongeregtigheid van die mense (Rom. 1:18; Jes. 13:9-13).

Reg en geregtigheid sal oral op aarde geskied (Jes. 1:26). Die Messias sal ‘n Regter wees wat die reg soek en gou is in geregtigheid (Jes. 16:5). Omdat Satan gebind is, sal die nasies nie aktief sondig nie (Jer. 3:17).

8. Universalisme

Die eindbestemming van alle valse en verdraaide evangelies is die universalistiese evangelie van die nuwe wêreldorde en die Nuwe Era Beweging, waarin hulle almal saam as ‘n korporatiewe alliansie van wêreldgodsdienste hegte aansluiting bymekaar vind. Hulle adem dieselfde gees van verderf en is op dieselfde ideaal van wêreldeenheid ingestel. Soos verskillende vertakkinge van ‘n rivier vloei hulle saam en vat hande om hulle gemeenskaplike ekumeniese doelstelling van eenheid op aarde te verwesenlik.

Die tradisioneel Protestantse wêreld het met slegs geringe uitsonderings tot in sy kern verrot geraak en werk nou hartlik met die nie-Christelike godsdienste saam. Ten spyte van sekere vervalle, liberale teoloë se aansprake oor die algemene genade van God, kan die geskrifte van ander gelowe beslis nie as openbaringskanale van God se wil aanvaar word nie. Net die Bybel het God se stempel van egtheid. Die absolute profetiese akkuraatheid daarvan het al die toets van etlike eeue deurstaan. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar die onverganklike Woord van die Here sal vir altyd stand hou! (Matt. 24:35).

Die verdorwenheid van moderne teologiese denke neig tans vinnig in die rigting van ‘n holistiese samehang met die ander gelowe. Hulle werk koorsagtig aan hulle universele teologie en bou hartlik saam aan ‘n nuwe toring van Babel.

Die intergeloofsbeweging gaan wêreldwyd van hierdie holistiese veronderstelling uit. Hulle bring die verskillende gelowe bymekaar uit en smee bande van samewerking en eenwording. Eers bevorder hulle die idee van godsdiensgelykheid. Daarna is godsdienseenheid op hulle agenda, gebaseer op die veronderstelling dat alle gelowe dieselfde God aanbid. Wanneer dié idee gevestig is, sal die gemeenskaplike Messias van alle godsdienste, die Antichris, op die toneel verskyn en vinnig na godsdienstige en politieke wêreldleierskap uitstyg. Die hoof van die hiërargie van ander Jesusse sal dan geopenbaar wees.

Die Ekumeniese Beweging

Die mees uiterste vorm van godsdienstige verval word in die sinkretisme van die ekumeniese beweging aangetref. Binne die verband van alle groot godsdienste begin daar eers net ‘n interne eenheidsbeweging om skeurings te oorbrug en kerke weer bymekaar uit te bring. In hierdie stadium van die proses voel die aanhangers van ‘n kerkfamilie nie bedreig nie, omdat die eenheid ‘n interne saak is om onderlinge harmonie te skep en hulle eie huis in orde te kry.

Spoedig gaan die verenigingsbeweging egter oor die grense van sy aanvanklike doelstelling, en word daar samewerking en eenheid met alle wêreldgodsdienste nagestreef. Die sinkretisme en kompromie neem dan geweldige afmetings aan omdat niks in die pad van ‘n godsdienstige wêreldbroederskap mag staan nie. Die einde van hierdie pad van kompromie en eenwording is die openlike verering van ‘n gemeenskaplike wêreldmessias, die Antichris (Op. 13:4).

Die samewerking met valse godsdienste is egter van die begin af ten sterkste deur die Here verbied:

"Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie" (Ex. 20:2-3).

Wat die ekumeniese beweging egter doen, is om die aandag van God af te trek en in ‘n horisontale gerigtheid sy eie godsdienstige mag te konsolideer. Uiteindelik word daar met ander godsdienste saamgewerk om hierdie magsbasis tot op sy maksimum potensiaal te verbreed. Daar word nie alleen met die aanbidders van ander gode onderhandel en saamgewerk nie, maar dit word ten koste van die God van die Bybel gedoen. In sy diepste wese is die ekumeniese beweging dus ‘n sataniese sameswering teen die Bybel en teen die enigste ware godsdiens. Daar sal nou kortliks op die geskiedenis van die ekumeniese beweging binne ‘Christelike’ verband gelet word, en aangetoon word dat dit ook universele doelstellings het.

Die Wêreldraad van Kerke

In 1948 is die Wêreldraad van Kerke (WRK) in Amsterdam gestig met die doelstelling van Een Kerk vir Een Wêreld. Van die begin af was dit egter duidelik dat dié liggaam nie net die Christelike kerke wil verenig nie, maar inderdaad ‘n wêreldwye alliansie van godsdienste wil skep. Die volgende besluite en standpunte dien as bewys hiervan:

·       In 1961 het die WRK sy derde sessie in New Dehli gehad. Die tema van die konferensie was: Jesus Christus, die lig van die wêreld. Hiermee is nie die Bybelse Christus bedoel nie, maar die Kosmiese Christus. Hindoes en Boeddhiste is as anonieme Christene beskryf op grond van die algemene genade. Dit berus op die veronderstelling dat Jesus die hele wêreld met God versoen het. Sommige mense weet dit nog nie, maar hulle is reeds met God versoen en op pad hemel toe (aldus die WRK).

·       Op sy 1968 konferensie in Uppsala, Swede, het die visie van die WRK verder as die vereniging van die kerk gegaan en het hulle hulself vir ‘n verenigde mensdom in ‘n nuwe internasionale orde begin beywer. Mense van alle rasse, kulture en godsdienste moet vir die nuwe wêreldorde verenig word. Hiervoor is die volgende twee programme gestig: Die Program om Rassisme te Beveg, waardeur geweld in die bevryding van mense en volkere teologies geregverdig en miljoene rande aan sg. bevrydingsbewegings geskenk is om ‘onderdrukkende’ regerings tot ‘n val te bring. Dan is daar ook die minder bekende Program van Dialoog met die Lede van Ander Lewende Godsdienste gestig. Sedert 1970 toe laasgenoemde program begin is, is daar nie meer van nie-Christelike godsdienste gepraat nie, maar van ander lewende godsdienste. Die idee van die universele God van alle gelowe word hierdeur gepropageer. Dié program se Bangkok-konferensie in 1973 is in die lig hiervan nie deur ‘n Christen geopen nie, maar deur die presidente van die Wêreld Boeddhistiese Vereniging. Sy het die gode van alle godsdienste aangeroep om aan die hele mensdom redding te skenk.

·       Op die 1975 Nairobi konferensie van die WRK is die verdere, meer intieme vereniging van die mensdom bespreek. Een van die geslote vergaderings oor geestelikheid is deur Katolieke, Ortodokse- en Pinkster-Christene, asook Hindoes, Boeddhiste en ‘n ateïs bygewoon.

·       Die 1983 Vancouver konferensie in Kanada het ook erkenning aan die tradisionele geloof van die Rooi Indiane gegee. ‘n Totempaal is opgerig wat al die verskillende geeste verteenwoordig. Die voorstel is hier gemaak dat alle godsdienste hande moet vat om vrede op aarde te help bevorder.

·       Op die 1991 konferensie in Canberra, Australië, is gesê dat ‘n versoenende benadering deur die Christelike godsdiens gevolg moet word. Geregtigheid en vrede moet oral bevorder word. Daar is beklemtoon dat dit ‘n intergeloofsaksie moet wees, omdat een godsdiens alleen nooit vrede in ‘n troebel en verdeelde wêreld sal kan bring nie. By hierdie konferensie het toordokters van die Australiese Inboorlinge ‘n vuur met nat blare gemaak, sodat dit ‘n digte rookwolk afgegee het. Die 4000 afgevaardigdes is toe versoek om deur die rookwolk te loop om hulle vir die voorvadergeeste van die Inboorlinge aanvaarbaar te maak. Die bewering is gemaak dat die Heilige Gees ook in die rookwolk teenwoordig was. Dit is hoogs godslasterlik om die Heilige Gees met demone en die geeste van voorvaders gelyk te stel. Op die konferensie is gesê dat sendingwerk onnodig is, omdat God in alle kulture en gelowe aanwesig is. Die Christendom is vir die WRK dus nie ‘n unieke openbaringskanaal van God nie, maar een van baie gelowe waardeur Hy Homself aan die wêreld openbaar. Alle godsdienste is uit dié oogpunt gelyk en die een mag die ander nie in ‘n slegte lig stel nie.

Streeksrade van kerke

Daar is in verskeie lande streeksrade van kerke wat erkenning aan die WRK gee, en ook befondsing van die WRK en ander ekumeniese liggame ontvang het. Twee hiervan is die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en die Council of Churches in Namibia (CCN). Die SARK was sedert sy ontstaan in 1968 ten nouste by die bevordering van die WRK se bevrydingsteologie betrokke, wat op die politieke bevryding en sosio-ekonomiese opheffing van onderdruktes gerig is. Ander terme vir dié mensgerigte en polities-georiënteerde teologie is protesteologie, teologie van die revolusie en kontekstuele teologie. Dit is soms ook swart teologie genoem en tans word die klem op die teologie van versoening geplaas. Groter eenheid moet geskep word.

Die algemene sekretaris van die SARK, Me. Brigalia Hlophe Bam, het die voorwoord vir haar organisasie se boekie Rite of Reconciliation geskryf. Hierin word versoeningsrituele aan lidkerke voorgestel waarin die voorvadergeeste aangeroep én Christus ook aanbid word. Hierdeur volg sy die tradisie van haar voorgangers na, wat ooreenkomstig die voorbeeld van die WRK dikwels die hand van versoening na ander gelowe uitgesteek het.

Die voormalige algemene sekretarisse van die SARK was diep by die intergeloofsbeweging betrokke. Dr. Frank Chikane het in 1990 die hoofreferaat op ‘n konferensie van die multigodsdienstige Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV) in Johannesburg gelewer. Hy het gesê:

"Ek wil graag die WKGV bedank vir sy goeie werk in Suid-Afrika. In die laaste paar jaar het dit kontak bewerkstellig en konstruktiewe dialoog met mense van verskillende gelowe gevoer en daardeur ‘n beter verstandhouding tussen hulle geskep. Hierdeur is daar op die stryd teen apartheid voortgebou, omdat mense van verskillende gelowe skouer aan skouer teen dié bose sisteem geveg het."

Dr. Chikane het in sy referaat verskeie WRK uitsprake aangehaal ter ondersteuning van sy voorstel vir ‘n sekulêre staatsvorm in Suid-Afrika waarin daar geen statutêre erkenning aan een godsdiens bó ‘n ander gegee moet word nie. Hy werk dus mee om die Christendom te ondermyn.

‘n Ander voormalige sekretaris van die SARK is dr. Beyers-Naudé. Sy versoek is dat die Verenigende Gereformeerde Kerk nie alleen tot die SARK sal toetree nie, maar ook by die WRK moet aansluit.

Nog ‘n voormalige algemene sekretaris, aartsbiskop Tutu, het die vreemde stelling gemaak dat God nie ‘n Christen is nie! Hy sê dat God veel langer as die Christendom bestaan. In gedenklesings tot Tutu se eer is die geleentheid ook al aan ‘n Moslem gebied om ‘n referaat te lewer.

John de Gruchy was ook ‘n baie prominente lid van die SARK, en redakteur van die tydskrif, Kairos. Deur sy geskrifte is die kontekstuele bevrydingsteologie sterk gepropageer. Later was hy professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, en tans direkteur van die RGN se Instituut vir Vergelykende Godsdiens. Volgens ‘n tydskrif van die RGN sien hy sy huidige taak soos volg:

"Die Instituut poog om beter begrip tussen die verskillende gelowe in Suid-Afrika te skep… Godsdiensonderrig in skole behoort nie net in die belang van een godsdiens te wees nie, maar onderrig te bied wat tot ‘n beter verhouding tussen al die gelowe in ons land sal lei."

Heidense rituele

In die lig van die bogenoemde intergeloofstendense is dit vanselfsprekend dat die SARK in die nuwe Suid-Afrika veel meer openlik die weg van verbroedering met die inheemse godsdienste sal bewandel. Dit is inderdaad wat op die oomblik besig is om te gebeur.

Een van die skokkendste verwikkelings aan die ekumeniese front in Suid-Afrika is die SARK se openlike pogings om vooroueraanbidding en heidense rituele in hulle Christelike lidkerke aan te moedig. Die SARK het in sy publikasie, Rite of Reconciliation, verskeie voorbeelde van versoeningsrituele beskryf wat in kerke uitgevoer kan word. Dit is onder meer gedoen in ‘n poging om aan die doelstellings van die Waarheids- en Versoeningskommissie uitvoering te gee.

In hierdie rituele word daar van water, vuur, gal, bloed, bier en olie gebruik gemaak. In een van die reinigingsritusse word daar van vuur as ‘n genademiddel gebruik gemaak. Die aanbidders vergader rondom die vuur, hou hulle hande na die vuur toe uitgestrek, en bid onder meer soos volg saam:

"Vader, heilig hierdie vuur en gee dat ‘n nuwe vlam van hoop deur die Here Jesus Christus in ons harte sal brand. Reinig ons deur hierdie vuur van die vlekke aan ons siele. Brand ook die mure weg wat skeiding tussen ons maak. Inspireer ons deur die vuur met moed om die waarheid te aanvaar. Dryf deur hierdie vuur ook die spook van die verlede uit."

In ‘n verdere ritueel word die gebruik van ‘n spesiale drankoffer soos volg in die boekie voorgeskryf:

"Bier, bloed, of water word met mieliemeel in ‘n kalbas gemeng en gebruik. Assegaaie, knopkieries, gewere en ander gepaste simbole word op ‘n kombers of deken op die vloer gesit. Onder gebed word die drankoffer dan stadig oor die simbole uitgegiet waardeur die voorvaders en die geeste van diegene wat onregverdiglik in die stryd vir of teen die apartheidsregering gesterf het, voorgestel word. In die gebed word gesê: Terwyl ons hierdie drankoffer uitgiet, roep ons ons voorvaders om by die versoeningseremonie teenwoordig te wees. Ons nooi die geeste van al die onskuldige slagoffers wat onnodig gesterf het as gevolg van menslike blindheid… Ons vra God se krag… Ons vra vir Jesus Christus… Ons roep die geeste van ons voorouers op…"

In ‘n ander ritus word ‘n bok in die kerk ingebring en al die sondes van verdeeldheid, haat en onverdraagsaamheid op sy kop gelê, waarna die sondebok uit die kerk gelei word. In nog ‘n ritus word van gal gebruik gemaak om die aanbidders in die kerk teen die bose gees te beskerm wat byna die beeld van God in hulle vernietig het.

Nouer assosiasies

Die skaamtelose intergeloofskompromie van die WRK werk vinnig na al sy geaffilieerde streeksliggame soos die SARK deur. As die wortel bedorwe is, dan is die takke van die boom ook verrot. Hierdie besoedelde en kompromiemakende moederorganisasie en haar dogters is geen plek vir evangeliese Protestantse kerke om hulle in te begewe nie. Dit is nie net ‘n geval van ‘n bietjie suurdeeg wat die hele deeg suur maak nie (1 Kor. 5:6), maar ‘n totaal antichristelike bondgenootskap waarin daar in een juk met die afgode getrek word. Die Bybel sê dat ons onder hulle moet uitgaan as ons hoegenaamd aan die eer van die Here en die suiwerheid van ons geloof in Jesus Christus waarde heg (2 Kor. 6:14-18).

Dit is ook heeltemal onregverdigbaar om waarnemerstatus by sulke organisasies te aanvaar en saam met hulle in dieselfde kring te sit. Dit is net die begin van gevaarlike ekumeniese samewerking wat uiteindelik na noue bande en ook na godsdienstige universalisme sal lei. Die afvalliges kan nie op hierdie manier opgehef word nie.

Daar is ook ‘n groot gevaar geleë in die stelling dat die verskillende kerke in ‘n land met ‘n verenigde stem moet praat ten einde inspraak en gesag by die regering van die dag te kan hê. Omdat die betrokke regerings hulleself nie meer amptelik tot die Christendom verbind nie, volg hulle nou ‘n beleid van godsdiensgelykheid tussen alle gelowe. Die Christelike godsdiens word dus van regeringsweë af saam met ander gelowe geklassifiseer, ook saam met voorvaderaanbidding en towery. Dit blyk reeds uit die feit dat Christelike predikers saam met die nie-Christelike gelowe tyd op die TV program Kompas deel, en ook in ander programme as gelykes voorgestel word. Die nuwe onderwysstelsel sal ook nie meer Christelik-nasionaal wees nie, maar sekulêr met geen formele verwysing na godsdiens nie, of, alternatiewelik, multigodsdienstig-internasionaal.

Die Bybelse weg is dié van totale distansiëring van diegene wat nie ongekwalifiseerd die Bybelse Christendom erken nie. Jou heil is nie by die kompromiemakers geleë nie, maar by die Here Jesus wat jou roep om die wêreld te verloën.

Ander ekumeniese liggame

Die WRK gee ook sy ondersteuning aan ander ekumeniese liggame in die groeiende intergeloofsbeweging. Een hiervan is die Parlement vir Wêreldgodsdienste. In Augustus 1993 het 7000 afgevaardigdes van 250 gelowe, waaronder ook hekse en towenaars, in Chicago, VSA, vir die grootste en mees verteenwoordigende intergeloofsberaad van alle tye vergader. ‘n Verklaring van universele etiek is aanvaar, waardeur die beginsel van samewerking deur die verskillende gelowe gevestig is. Hulle volgende konferensie is in Desember 1999 in Kaapstad gehou. By hierdie geleentheid is verdere stukrag aan die idee gegee dat ‘n alliansie van gelowe die politici kan help om vrede en eenheid op aarde te skep. Daar word beplan om elke vyf jaar ‘n wêreldkonferensie te hou.

Verskeie regerings, asook die Verenigde Nasies, steun die inisiatief vir die vestiging van ‘n bond van wêreldgodsdienste. Hulle sien dit as ‘n belangrike faktor in die vestiging van ‘n godsdienstige wêreldbroederskap wat die regte internasionale klimaat vir die nuwe wêreldorde sal skep. Dit is die rede waarom die VN ook self ‘n ekumeniese liggaam ter wille van vrede en eenheid in die lewe geroep het, naamlik die Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV). Dit is ‘n kategorie 2 nie-regeringsorganisasie.

Die WKGV is ook sterk in Suid-Afrika werksaam onder die presidentskap van prof. Kobus Krüger van Unisa se Departement van Godsdienswetenskap. Die vorige president was dr. Gerrie Lubbe van dieselfde departement. Hy het gesê dat daar geen vrede in die wêreld sal wees as daar nie eers vrede tussen die verskillende godsdienste geskep word nie. Dit beteken dat volgelinge van Christus, Boeddha, Krishna en Mohammed saam met die voorvaderaanbidders en toordokters om dieselfde vuur moet sit en ‘n vredespyp rook, anders kan daar nie vrede in die wêreld wees nie!

Die verdere vergestalting van ‘n allianasie van wêreldgodsdienste was in September 2000 in New York, waar die Verenigde Godsdienste Inisiatief ‘n beraad gehou het. Hulle doelstelling is om in die nabye toekoms ‘n Verenigde Godsdienste Organisasie in die lewe te roep wat die wêreld godsdienstig sal verenig. Hulle strategie is om saam met die VN te werk om ‘n nuwe, verenigde toekoms vir die mensdom uit te werk.

Die intergeloofsinisiatiewe wat tans aan die gang is, gaan volgens die Bybel inderdaad op ‘n alliansie van valse gelowe uitloop wat groot invloed en mag in die wêreld sal verkry. In Openbaring 17:3-6 word hierdie liggaam as ‘n ontugtige vrou voorgestel wat op die dier [die Antichris] se rug sal ry. Sy sal die bloed van die ware Christene wat nie met haar wil saamwerk nie, aan haar hande hê. In ruil vir ‘n kort tydjie van internasionale erkenning en roem sal sy haar siel aan Satan verkoop. Soos Esau, sal sy nie die rampspoedige, ewige gevolge van haar optrede in ag neem nie. Sy sal verdelging in die gesig staar nadat die Antichris haar klaar vir sy doel misbruik het (Op. 17:16). Daarna sal hy alleen as die selfverklaarde god van hierdie wêreld aanbid word (Op. 13:4, 8, 15).

Die ekumeniese vereniging van die wêreldgodsdienste moet met groot agterdog bejeën en totaal verwerp word. Daar is niks goeds hierin nie omdat dit ‘n fyn uitgewerkte set van Satan is wat slegs op antichristelike doelstellings gerig is. Die aanvaarding van die beginsel van godsdiensgelykheid plaas die evangeliese Christendom op ‘n gelyke vlak met die heidense gelowe. Hierdie gelykstelling baan die weg vir die propagering van godsdienseenheid gebaseer op die leuen dat alle gelowe dieselfde skepper-God aanbid. Wanneer dié leuen aanvaar is, sal die aanhangers van alle gelowe vir dieselfde Messias wag, wat die wêreld godsdienstig verder sal verenig. Dit sal die Antichris wees (Op. 13:3-4). In die middel van die verdrukking van sewe jaar sal hy homself tot God verklaar en die verpligte aanbidding van alle mense opeis. Almal wat weier om dit te doen, sal tereggestel word (2 Thess. 2:4; Op. 13:15).

Dit is die tragiese uiteinde van die huidige populêre pad van die ekumeniese vereniging van ‘n godsdienstig erg misleide wêreld ter wille van ‘eenheid’, ‘samewerking’ en ‘vrede’. Die groot probleem is net dat die beplande eenheid die platform vir die Antichris se wêreldregering en wêreldgodsdiens sal skep.