Sleutel tot die Verstaan van Openbaring

Johan Malan, Mosselbaai (April 2015)

Lees Openbaring 1.

Die laaste boek in die Bybel word “Die Openbaring van Jesus Christus” genoem omdat dié boek belangrike profesieë bevat oor hoe die verheerlikte Seun van God as Regter, Bruidegom en Koning geopenbaar gaan word in die eindtyd, gedurende die dag van die Here. Die boek is aan die kerk van Christus gegee as ʼn openbaring oor wat die toekoms vir die mensdom inhou, en is dus nie ʼn onverstaanbare verborgenheid nie. Indien ons die sleutel tot die regte verstaan van hierdie boek in die eerste hoofstuk ontdek en konsekwent toepas, is ons gereed om op ʼn opwindende profetiese reis te vertrek wat ons van baie gevare op ons pad deur die lewe sal vrywaar, en ook aan ons ʼn toekomsperspektief sal gee tot by die skepping van die nuwe hemel en aarde.

Die Here Jesus bevestig aan Johannes die chronologiese aard van gebeurtenisse wat hy in die jaar 95 in sy visioen gesien het: “Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is sowel as die wat gaan gebeur” (Op. 1:19). In hierdie stelling is ʼn verwysing na drie kategorieë gebeurtenisse – dié wat reeds gebeur het, dié wat eietyds is, en dié wat nog toekomstig is. Dit wat Johannes gesien het, was die verheerlikte Christus tussen die sewe kandelaars: dit stel Christus voor aan die begin van die kerkbedeling. Die eietydse dinge is die kerkbedeling – Johannes was baie naby aan die begin daarvan en ons is baie naby aan die einde van dieselfde bedeling. Die periode van die sewe gemeentes wat na die hele kerkbedeling verwys, is dus nog nie verby nie. Die dinge wat hierna gaan gebeur, verwys na alles wat bestem is vir die tydperk ná die kerkdispensasie wanneer alle ware gelowiges opgewek, verheerlik en na die hemel weggevoer sal word. Kort daarna begin die verdrukking van sewe jaar onder die Antichris, gevolg deur die sigbare koms van Christus op die Olyfberg. Hierna sal die Here Jesus vir ʼn lang tyd as Koning van die konings op aarde regeer en dan as Regter die eindoordeel voltrek. Grootskaalse verwarring word geskep indien hierdie volgorde versteur en die huidige kerkbedeling bv. in die situasie van die duisendjarige vrederyk van Openbaring 20 geplaas word, of die huldiging van die siening dat die Antichris reeds in historiese tye geopenbaar is, en dat die duiwel al klaar in ʼn put gebind is sodat hy die nasies nie kan verlei nie.

Terwyl Johannes op die eiland Patmos was, was hy in die Gees op die dag van die Here. Daar is mense wat verkeerdelik meen dat die apostel tydens die weeklikse Sabbat of Sondag sy visioen gehad het, maar dit is so nie. Die uitdrukking “die dag van die Here” (Heb. Jom Jahweh) is ʼn bekende Bybelse term wat op die Messias se eindtydse openbaring dui wanneer Hy in mag en majesteit sal kom om te seën, te regeer én te oordeel. Die dag van die Here is ʼn lang tydperk van net meer as ʼn duisend jaar. Dit begin by die wegvoering van die ware kerk, gevolg deur die sewe jaar van die verdrukking, die duisendjarige vrederyk, die eindoordeel, en direk daarna die skepping van ʼn nuwe hemel en aarde wanneer Christus alles sal nuut maak. Al hierdie gebeure vloei voort uit die openbaring van Jesus Christus in verskillende hoedanighede. Hulle volg mekaar só op:

·         Die oomblik wanneer die basuin blaas vir die wegraping, begin die dag van die Here. Christus word dan heel eerste as Bruidegom aan sy ware kerk geopenbaar, maar ook as hulle Regter. Almal van ons moet rekenskap van ons lewens voor die regterstoel van Christus gee (Rom. 14:10-12), daarom sê Paulus: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:8; “dié dag” verwys na “die dag van die Here”).

·         Nadat die kerk verheerlik en met Christus verenig is, vergader hulle rondom die troon om saam met Hom die wêreld in geregtigheid te oordeel. Die Here Jesus sal as Regter die seëls van God se oordele oor ʼn onbekeerlike wêreld breek. Dit sal gevolg word deur die blaas van sewe basuine, asook die uitgiet van die sewe laaste plae, en saam sal dit ʼn groot verdrukking tot gevolg hê soos wat die wêreld nog nooit beleef het nie (Matt. 24:21-22). Paniekbevange mense op aarde sal weet dat die Lam van God hierdie ongekende oordele uitstort weens die mensdom se boosheid, sondigheid en minagting van sy oproep tot bekering (Hand. 17:30-31). ʼn Groot skrik sal hulle oorweldig, en onder die gerammel van kragtige aardbewings sal hulle na die berge wegvlug en tot die berge en rotse roep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:15-17). Die dag van die Lam se toorn is ʼn belangrike fase in die langer dag van die Here, waarvan dit deel is. Talle profesieë, veral ook in die Ou Testament, fokus op hierdie ongeëwenaarde tyd van rampe en goddelike oordele oor ʼn bose wêreld. Jesaja sê: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ʼn woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9). Joël sê: “Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” (Joël 2:11). Die hoogtepunt van die sewe jaar van verdrukking sal die dag van Christus se wederkoms wees. Sagaria sê: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant. ... En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg; Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sag. 14:4, 12). Johannes beskryf hierdie toneel in veel meer besonderhede in Openbaring: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ʼn wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ʼn vuurvlam, en op sy hoof was baie krone. ... En Hy was bekleed met ʼn kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ʼn skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ʼn ysterstaf regeer” (Op. 19:11-15).

·         Wanneer God se oordele oor die nasies verby is, sal almal wat hierdie donker tyd oorleef het, Christus op die wolke sien kom en Hom met berouvolle harte as Verlosser aanvaar. Die Here Jesus het in sy profetiese rede gesê: “... al die stamme van die aarde sal rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:30). Dit sal ook die hele oorblyfsel van Israel insluit, want hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10). Christus sal dan in Jerusalem as Koning geopenbaar word: “En in dié dag [van die Here] sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:8-9). Daar sal inderdaad baie somers en winters in die dag van die Here wees, wanneer Christus sal kom om te oordeel en dan as Koning te regeer. In Sagaria 14:16 staan daar: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier.” Dit sal tydens die duisendjarige vrederyk van Christus gebeur, wanneer Hy as Koning oor die hele wêreld sal heers (vgl. Sag. 8:21-23). Die nasies sal van hulle swaarde pikke smee van hulle spiese snoeimesse omdat hulle in vrede met mekaar sal lewe (Jes. 2:2-4). Johannes verwys in Openbaring dikwels na die koninkryksbedeling van die dag van die Here. Die verheerlikte kerk sal ná die wegraping in die hemel in ʼn loflied vir die Lam sing: “U het ons konings en priesters vir ons God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:10). Hulle sal daarna uitsien om saam met Hom as konings terug te keer aarde toe en sy koninkryk saam met Hom te beërf en te openbaar. Johannes laat ook geen onduidelikheid oor die lengte van die vrederyk nie: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).

·         Ná die duisendjarige vrederyk volg die eindoordeel, wat nog steeds deel van die belangrike gebeurtenisse van die dag van die Here is. Al die ongeredde gestorwenes van alle eeue sal dan opgewek word om voor die groot wit troon te verskyn en hulle regverdige oordeel te ontvang (Op. 20:11-15). Hulle sal saam met die duiwel en sy engele in die poel van vuur gewerp word. Hierdie oordeel val saam met die einde van die huidige hemel en aarde soos ons dit vandag ken, en wat ook oral die gevolge van die mens se sondeval vertoon. Die einde van die dag van die Here val dus saam met die skep van ʼn nuwe hemel en aarde, waarin geen sonde ooit sal inkom nie. Wanneer Petrus van die dag van die Here praat, dan verwys hy na die tyd aan die einde van die vrederyk wanneer die huidige hemel en aarde sal vergaan en deur ʼn nuwe skepping vervang sal word. Deur ons heelhartige toewyding aan Christus moet ons nou al voorberei word om hierdie nuwe skepping te bewoon: “Maar die dag van die Here sal kom soos ʼn dief in die nag, waarin [aan die einde waarvan] die hemel met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:10-14). Die dag van die Here begin reeds by die wegraping wanneer Hy onverwags soos ʼn dief kom om sy bruid weg te voer. Hy sê in Openbaring 16:15: “Kyk, Ek kom soos ʼn dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar.” Hierna volg die bruilof van die Lam, die sewe jaar van verdrukking op aarde, en dan die duisendjarige vrederyk. Aan die einde daarvan sal die huidige hemel en aarde eers verbygaan en die gebeure van die dag van die Here afsluit.

Johannes beskryf die verskillende scenario’s van Openbaring in presies dieselfde volgorde waarin hy dit gesien het. Die dag van die Here begin in Openbaring 4:1 op die oomblik toe Johannes deur basuingeklank opgeroep is hemel toe, en daar die verheerlikte kerk aangetref het. Hulle sing die Lam toe: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9). Die wegraping het dus in daardie stadium reeds plaasgevind, en daarmee saam die eerste opstanding toe al die ontslape gelowiges opgewek en saam met dié wat nog in die lewe is, in verheerlikte liggame na die hemel weggevoer is (1 Thess. 4:16-17; Joh. 14:2-3).

In Openbaring 6:1 begin die verdrukking van sewe jaar, wanneer die eerste seël van God se oordele in die hemel gebreek word en die Antichris as gevolg daarvan sy verskyning op aarde maak. Hierna word ʼn groot aantal oordele genoem wat tydens die Antichris se relatief kort bewind op aarde uitgestort sal word. Die hoogtepunt van die oordele sal Christus se wederkoms aan die einde van die verdrukking wees – hierdie keer nie soos ʼn dief in die nag nie, maar in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien. Hy sal die Antichris en sy volgelinge oordeel met die swaard wat uit sy mond gaan (Op. 19:19-21).

In Openbaring 20 word die duisendjarige vrederyk bespreek, waartydens Christus van die herstelde troon van Dawid af oor die hele aarde sal regeer (Hand. 15:16-17). Die skepping van die nuwe hemel en aarde word in die laaste twee hoofstukke van Openbaring beskryf, en dit sluit die handelinge van die dag van die Here af.

In die lig hiervan is dit duidelik dat die boek Openbaring van Hoofstuk 4 af ʼn futuristiese vervulling het, omdat die dag van die Here dan eers sal begin, en spesifiek tydens Christus se openbaring aan die kerk tydens die wegvoering. Daar was egter tye in die verlede toe Christene hewig vervolg is en gedink het dat daar nie ʼn wegraping sou wees nie en dat hulle reeds die oordele van die dag van die Here ervaar het. Paulus het sulke verskrikte Christene soos volg reggehelp: “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom [die wegraping], om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees [valse weergawes van die eskatologie] – asof die dag van Christus al daar is” (2 Thess. 2:1-2).

Johannes sien die Here Jesus in die huidige bedeling as die Een wat tussen die sewe kandelare wandel, en intiem bewus is van wat al sy volgelinge doen – ook in die geheim. Hy sê vir almal van hulle: “Ek ken jou werke...”  Die verskillende gemeentes word deur kandelare voorgestel, wat die houers is waarin die olie van die Heilige Gees gegiet word. As die lidmate van die gemeente voortdurend met die Heilige Gees vervul is, kan hulle ʼn helder lig in die donker wêreld laat skyn en sodoende hulle roeping vervul.

Christus se aangesig is soos die son wat alle duisternis verdryf. Sy spesiale getuies, en veral die leraars van die sewe gemeentes, word beskryf as helder skynende sterre in sy regterhand. Hulle moet die lig van die son van geregtigheid in ʼn donker wêreld laat skyn, en bereid wees om self minder te word sodat Christus meer kan word in hulle lewens. Hulle word ook as die engele van die sewe gemeentes beskryf. ʼn Engel (Gr. “angelos”) beteken ʼn boodskapper of ʼn gestuurde. Alle gelowiges is gestuurdes (Hand. 1:8), maar veral diegene wat ʼn voltydse roeping as leraar of evangelis het. Jesus het vir al sy dissipels gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21).

ʼn Gestuurde het die taak om die boodskap van verlossing suiwer te verkondig. Daar rus ʼn groot verantwoordelikheid op hom om dit met integriteit en op ʼn Skrifgetroue wyse te doen sodat gemeentelede nie aan valse leerstellings blootgestel word nie. Indien daar wel dwalings insluip, moet dit deur die regte onderrig uit die Woord geopenbaar en teëgestaan word: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie” (2 Tim. 4:2-3). Paulus het ook vir Timotheüs gesê: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ʼn werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15).

Die opdrag om die woord van die waarheid reg te sny, verwys na die vermoë om onder die leiding van die Heilige Gees en met behulp van ʼn deeglike Skrifkennis, die regte uitleg van ʼn Skrifgedeelte aan te bied. Bybelse uitsprake moet dispensasioneel in die konteks verklaar word waarin dit gemaak is, deur bv. vas te stel of dit betrekking het op die bedeling van die wet, die bedeling van die kerk, die bedeling van die Antichris se regering, of die koninkryksbedeling van Christus se vrederyk. Dit geld veral die boek Openbaring waarin die kerkbedeling (hfst. 1 tot 3) die verheerliking van die kerk (hfst. 4 tot 5), die Antichris se bewind (hfst. 6 tot 19), en Christus se duisendjarige vrederyk (hfst. 20) duidelik van mekaar onderskei moet word. Wanneer dit nie gedoen word nie, kan dit tot groot verwarring, valse verwagtings, gevaarlike onkunde en ernstige dwalings lei.

Verskeie ander sake moet ook by eksegese in aanmerking geneem word, soos die individue of groepe oor wie ʼn stelling gemaak word (bv. Israel, die kerk of die heidene), asook die letterlike of simboliese aard van ʼn stelling of gelykenis. Vervangingsteologie moet nie beoefen word deur die kerk in die plek van Israel te stel nie, en duidelike stellings moet ook nie vergeestelik of metafories verklaar word net om van die letterlike implikasies daarvan weg te kom nie. Die boodskappers van die Here het dus ʼn baie groot taak om die woord van die waarheid reg en suiwer te verkondig. Indien hulle self dwaal, sal hulle ook baie ander mense laat dwaal en sodoende hulle eie oordeel groter maak (Jak. 3:1).

Oordeel oor die kerk

In die jaar 95 n.C. toe Johannes sy profesieë oor die eindtyd ontvang het, het daar al aansienlike probleme in die vroeë Christelike kerk ingetree – enersyds weens vervolging en druk van buite, en andersyds as gevolg van interne geestelike en leerstellige dwalings wat wye inslag gevind het. Hierdie situasie het soveel nadelige gevolge gehad dat dit die kerk van Christus in ʼn ernstige oorlewingstryd laat beland het. Die magte van die duisternis was aktief aan die werk, en verskeie gemeentes het gevaar geloop om hulle roeping en oortuigings heeltemal te verloor. Sommiges het egter nie gedwaal en voor die druk geswig nie, en hulle word bemoedig om nie moedeloos te word nie maar die goeie stryd voort te sit en die wedloop as oorwinnaars te voltooi.

In die lig van hierdie wydverspreide probleme word verskeie waarskuwings oor geestelike afdwalings aan Christelike gemeentes gerig. Indien hulle hiermee sou voortgaan, sou dit sekere onmiddellike gevolge hê, soos dat die Here hulle kandelaar – wat die lig van die Heilige Gees voorstel – van hulle sou onttrek. Die gemeente sou dan óf doodloop óf as ʼn geestelik dooie kerk voortbestaan en aanhou om lidmate se gehoor deur fabels en valse leerstellings te streel. Christus sê vir een só ʼn gemeente: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). In ʼn ander geval sê Hy oor ʼn valse profetes wat feitlik ʼn hele gemeente mislei het: “En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op ʼn siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ʼn groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie” (Op. 2:21-22). Hierdie misleides sal tydens die wegraping agterbly en in die groot verdrukking saam met die ander sondaars geoordeel word. Al die afvalliges kry dieselfde boodskap: “Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle [die afvalliges] oorlog voer met die swaard van my mond” (Op. 2:16).

Die ware gelowiges sal egter nie in die verdrukking beland en saam met die goddeloses geoordeel word nie. Johannes het vroeër in sy Evangelie al bevestig dat almal wat in Christus as Verlosser glo, “het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie” (Joh. 5:24). Hulle sal wel béoordeel word voor die regterstoel van Christus in die hemel waar genadeloon toegeken sal word; dit is waarom die ouderlinge in die hemel almal oorwinnaarskrone op hulle koppe het (Op. 4:4). Die getroues word aangemoedig om op die regte pad te volhard en nie toe te laat dat die duiwel hulle van hulle godsvrug en toewyding aan Christus beroof nie: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11).

Die oorwinnaars sal in die duisendjarige ryk saam met Christus as konings oor die nasies regeer as hulle nie verslap en die stryd gewonne gee nie: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Selfs al dwaal ander gelowiges rondom jou, moet jy nie saam met hulle dwaal nie. Die Here Jesus sê aan getroue volgelinge van Hom wat te midde van ʼn groot aantal dooie lidmate steeds op die pad van heiligmaking volhard het: “Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is. Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie” (Op. 3:4-5).

Die klein groepie getroue dissipels van Jesus het die groot taak om die evangelie van verlossing na alle mense op aarde uit te dra. Die hele wêreld gaan in die dag van die Here geoordeel word as hulle hierdie boodskap aanhou verwerp. Die ware getuies van Christus het in ʼn geestelike sin die toekoms van die wêreld in hulle hand, want die Here het dit aan ons opgedra om van alle nasies dissipels te maak. As ons dit nie doen nie, sal hierdie mense verlore gaan, maar die Here sal hulle bloed van ons hand eis. Indien hulle egter die boodskap van verlossing hoor en dit verwerp, sal hulle steeds verlore gaan, maar dan self vir hulle ondergang verantwoordelik wees.

Kan u sien hoe lewensbelangrik is die opdrag van wêreldevangelisasie, en hoe uiters noodsaaklik is dit dat Christelike kerke nie van die waarheid van die Woord afwyk nie, maar absoluut getrou sal bly aan Hom in wie die Woord vlees geword het? Die reddende genade van God het in Jesus Christus se lewe, in sy prediking, soendood, opstanding en hemelvaart sigbare gestalte aangeneem. Weldra sal Hy weer sigbaar verskyn om sy bruidsgemeente na ewige heerlikheid weg te voer en daarna die ongeredde wêreld in geregtigheid te oordeel. Alle mense sal voor Hom verskyn en voor sy almag sal elke knie buig. Sommige sal Hom egter as Verlosser en Bruidegom sien en hulle grootliks in Hom verbly, terwyl ander Hom net as Regter sal sien wat hulle weens hulle ongeloof sal veroordeel. Onbekeerlike sondaars sal in die groot verdrukking vreesbevange van sy aangesig af wegvlug.

In watter groep is jy, jou gesinslede, ander familielede, vriende en kollegas? Is hulle almal gereed om voor Christus te verskyn? Dit is nou die tyd om geestelik te ontwaak en nie, soos die dwase maagde, eers wakker te skrik nadat die Bruidegom saam met sy bruid weg is en die duisternis van die verdrukking besig is om vinnig oor die aarde toe te sak nie.

Wanneer die vier perde van God se eindtydse oordele volgens Openbaring 6 oor die aarde begin hardloop, sal die mensdom weerloos wees teen die opmars van die Antichris na wêreldheerskappy. Sy misleidingsmag sal só groot wees, en die politieke, militêre en ekonomiese magte wat hy as wêreldleier sal verkry, só omvangryk, dat geen menslike mag teen hom sal kan standhou nie. Hy sal net geestelik oorwin kan word deur die bloed van die Lam, en mense wat hulle eie lewe tot die dood toe nie liefhet nie (Op. 12:11). Slegs ʼn vaste geloof en vreesloosheid vir ʼn marteldood sal teen hom bestand wees. Daar is egter ʼn meer uitnemende weg om te volg: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Waaksame Christene sal in die hemel wees wanneer die Antichris op aarde geopenbaar word om sy vernietigingswerk te doen.