Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2015)
Daar is onmiskenbare tekens oral op aarde van ʼn dreigende derde węreldoorlog. In reaksie op hierdie ontwikkelings is daar koorsagtige pogings om ʼn nuwe węreldorde (NWO) in te stel wat die vermoë het om węreldprobleme op te los, konflik te verminder en die uiterste lyding en vernietiging van ʼn węreldoorlog te voorkom. Die kampvegters van onderskeidelik oorlog en vrede hoop elk dat hulle eie scenario vir die toekoms die oorhand sal kry. Die oorlogsugtiges skep egter so ʼn ernstige bedreiging dat die vredemakers verplig word om militęre aksie teen hulle te neem in ʼn poging om hulle bloedvergieting te beperk en hulle van hul bose doelstellings te weerhou. Die węreldwye stryd teen terroriste en militante regerings is deel van die wedywering tussen dié twee bewegings in hulle verskillende pogings om die inisiatief te neem en die koers van węreldgebeure te bepaal. Wie se planne sal slaag – die ondersteuners van ʼn nuwe węreldorde van internasionale eenheid en vrede, of die moreel verblinde revolusionęres wat onbuigbaar is in die bevordering van hulle gevreesde strategie om die węreld deur wapengeweld te oorheers?
Uit ʼn Bybelse perspektief is beide hierdie bewegings verkeerd omdat albei van hulle op sy eie manier ʼn donker skaduwee oor die toekoms van die mensdom werp. Nie een van die twee eerbiedig die Bybelse beginsel van selfbeskikkende en vrye volke met veilige grense nie (Hand. 17:26). Die twee ideologieë met hulle respektiewelike wye steun, dien nie een die belange van vrede en eenheid nie en sal albei deur die komende Antichris gebruik word om homself as ʼn politieke en godsdienstige węreldleier te vestig – eers as ʼn vredemaker en dan as ʼn militęre diktator. Die opkomende nuwe węreldorde is antichristelik tot in sy kern, terwyl die Derde Węreldoorlog deur die Antichris gebruik sal word om homself deur geweld as ʼn węreldleier te vestig en sy selfverheerlikende nuwe węreldorde van ondergang te red. Sy strategie hiervoor sal die monstering van ʼn węreldmag wees waarmee hy Christus sal probeer konfronteer wanneer Hy aan die einde van die groot verdrukking tydens sy wederkoms sy voete op die Olyfberg neersit (Op. 19:19-20).
Dit is belangrik om die komende Derde Węreldoorlog te verstaan as die finale gevolg van die eerste twee węreldoorloë. Afgesien van Duitsland se imperialistiese doelstellings met die verklaring van oorlog, het hierdie twee oorloë van die 20ste eeu die toneel in die Midde-Ooste help voorberei vir ʼn konfrontasie tussen Israel en ʼn geestelik misleide węreldmag onder die beheer van die Antichris. Die grootste twispunte in die komende oorlog sal die herstelde Joodse volk se bestaansreg as ʼn onafhanklike staat wees, die grense van hulle land, die teenstrydige historiese eise oor die eienaarskap van Jerusalem en die Tempelberg, asook toenemende afsydigheid tussen nasies en godsdienstige groepe wat Israel ondersteun en diegene wat hulle as volk verag en verwerp. Onder laasgenoemde is daar ook radikale Islam met hulle beplande uitwissingsoorlog teen Israel (vgl. Ps. 83:5).
Die Eerste Węreldoorlog het die tradisionele grondgebied van Israel bevry van Islamitiese oorheersing toe die geallieerde magte beheer verkry het oor gebiede wat vroeër onder die gesag van Turkye se Ottoman-regering was. Brittanje het as mandaathouer gesag gekry om groot gebiede in die Midde-Ooste te administreer, en dit het die weg gebaan om ʼn gedeelte van Israel se vroeëre tuisland aan hulle terug te gee. Die Tweede Węreldoorlog het Israel as volk van hulle lang verstrooiing verlos, aangesien die Nazi vervolging aan baie Jode geen ander keuse gelaat het as om in die land van hulle voorvaders ʼn heenkome te gaan soek en daar met ʼn nuwe lewe te begin nie. Op 15 Mei 1948 het die Verenigde Nasies Israel as ʼn onafhanklike land erken.
Aan die einde van die Derde Węreldoorlog sal Israel as ʼn volk geestelik verlos word deur met hulle Messias versoen te raak op die dag wanneer Hy ná ʼn afwesigheid van bykans twee millennia na Jerusalem terugkeer (Matt. 23:39; Sag. 12:10). Voordat dit gebeur, sal daar ook ʼn aantal węreldhervormende gebeurtenisse plaasvind wat alle mense se lewe op aarde permanent sal verander. Daar sal nie net ongekende oorloë en lyding wees nie, maar ook Goddelike ingryping om die ongelowige nasies te oordeel en aan die gesag van die Antichris uit te lewer. Die Bybel assosieer die volgende gebeure met die tydperk wat na die Derde Węreldoorlog opbou, en beskryf ook die aard van hierdie oorlog, diegene wat daaraan deelneem, asook die uitkoms daarvan:
Die Bybel sę dat die dispensasie van węreldevangelisasie (die kerkbedeling) wat ná Christus se eerste koms in Jerusalem ʼn aanvang geneem het (Luk. 24:46-47), dramaties beëindig sal word wanneer Christus sal terugkeer om sy ware kerk van die aarde af weg te voer (1 Thess. 4:16-17). Hierdie gebeurtenis sal gevolg word deur ʼn relatief kort periode van oordeel en beproewing (die verdrukking) voordat Christus met sy verheerlikte kerk sal terugkeer en sy voete op die Olyfberg in Jerusalem neersit (Sag. 14:4-5). ʼn Baie spesifieke reeks gebeurtenisse word vir die einde van hierdie bedeling voorspel, en dit is nodig om van die profetiese opeenvolging van eindtydse gebeure kennis te neem sodat ons die regte toekomsverwagting kan huldig. Ware gelowiges sal hulle bestemming in die hemel bereik (Joh. 14:2-3) terwyl die ongelowiges aan God se oordele in die verdrukking onderwerp sal word, en dit sal spoedig op die slag van Armagéddon uitloop (die Derde Węreldoorlog).
Dit is voorspel dat Jerusalem vir die duur van die grootste deel van die kerkbedeling deur die nasies vertrap sou word: “... en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Israel se nasionale verwerping van die Messias het gelei tot hulle verstrooiing onder die nasies, en gedurende hierdie verlengde tydperk van baie eeue het hulle land verlate geraak en is uiteindelik deur hulle vyande beset (Matt. 23:37-39; Deut. 28:64).
Dit was egter nooit bedoel om ʼn permanente toedrag van sake te wees nie. ʼn Tyd van genade sou vir die nie-Joodse nasies bepaal word, wanneer die evangelie aan die hele węreld verkondig moet word. Naby aan die einde van hierdie bedeling sou die verstrooide Israel na die land van hulle vaders terugkeer en ook weer gesag verkry oor hulle antieke hoofstad, Jerusalem. Die merkwaardige vervulling van hierdie profesieë is goed bekend in eietydse geskiedenis, hoewel hulle nog besig is om finaal vervul te word. Meer Jode moet na hulle land terugkeer, terwyl Jerusalem se herstel ook nie volledig sal wees voordat die Messias gekom, die troon van Dawid herstel en die tempel van die Millennium op die Tempelberg gebou is nie. Ons is baie naby aan die finale vervulling van hierdie profesieë.
Daar sal ʼn aantal belangrike Goddelike ingrypings wees aan die einde van die kerkbedeling – dit sluit die insameling van die hemelse oes van geredde siele tydens die wegraping in, gevolg deur die sewe jaar lange bewind van die Antichris tydens die verdrukking. Gedurende hierdie periode sal Israel deur die tyd van benoudheid vir Jakob gaan om hulle geestelik te louter sodat ʼn oorblyfsel van die volk gered kan word. Die verdrukking sal ook ʼn tyd van Goddelike oordele oor die ongelowige nasies wees omdat hulle die ware Messias verwerp en volgelinge en aanbidders van die valse messias geword het. Tydens die hoogtepunt van hierdie tyd van oordele sal Christus terugkom om teen sy vyande te veg en ook sy duisendjarige vrederyk op aarde te vestig.
Dit is belangrik om daarvan bewus te wees dat die tyd van oordele wat op die Derde Węreldoorlog sal uitloop beslis vooraf gegaan sal word deur die wegraping: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Waarom is geestelike voorbereidheid om die komende verdrukking te ontvlug, so absoluut belangrik vir gelowiges? Dit vestig ons aandag op die onbetwisbare feit dat die kerkdispensasie byna verby is wanneer ons sien dat Israel en Jerusalem toenemend herstel word. In die lig van hierdie verwikkelinge behoort ons ons pogings te verskerp om verlore mense met die evangelie van verlossing te bereik terwyl dit nog steeds die tyd van genade is. Die groot benoudheid en lyding wat op diegene wag wat agterbly, behoort ons tot groter meegevoel te beweeg sodat die ongereddes soos brandhout uit die vuur geruk kan word (vgl. Jud. 1:23). Ons moet ook meer waaksaam wees in ons persoonlike voorbereidings om die hemelse Bruidegom in ʼn vlekkelose kleed tegemoet te gaan, want dit sal ons motiveer om nie te sluimer en te slaap, kompromie met die verdorwe węreld te maak, te sondig en die pligte na te laat wat die Here aan ons opgedra het nie (Matt. 24:48-51; 25:1-13).
Die verdrukking sal kennelik ʼn tyd van Goddelike wraak wees oor die menigtes wat die evangelie van verlossing van die hand gewys en daardeur die genade van die Verlosser verwerp het. Deur hulle optrede sal hulle die Here geen ander keuse laat as om hulle te oordeel nie. Voordat die węreldwye tyd van Goddelike oordele begin, moet alle ware gelowiges eers van die aarde af verwyder word omdat die Here nooit die regverdiges saam met die goddeloses oordeel en ombring nie (Gen. 18:23). Dit was die rede waarom Noag en sy gesin ten tye van die sondvloed bewaar is, en waarom Lot en sy gesin ook van Sodom en Gomorra af moes wegvlug voordat die bose mense geoordeel kon word. Die verdrukking wat Christene in die węreld verduur, was nog nooit die gevolg van Goddelike oordele nie maar nog altyd die gevolg van haat wat voortvloei uit ʼn węreld wat in die mag van die Bose lę. Die 24 ouderlinge (die verheerlikte kerk – Op. 4:1-4; 5:9-10) sal in die hemel wees voordat die seëls van God se oordele deur Christus op sy hemelse troon gebreek sal word (Op. 6:1-8).
Ons moet die noodsaaklikheid van die voorverdrukkingwegraping ten volle begryp. In die loop van die kerkbedeling het nie die koninkryk van God of die koninkryk van Satan as węreldgebaseerde koninkryke gefunksioneer nie. God se koninkryk is nie van hierdie węreld nie en kan slegs as ʼn geestelike werklikheid in ons harte ervaar word, terwyl Satan se koninkryk ook onregstreeks uit ʼn geestelike sfeer beheer word. As gevolg hiervan kon kinders van God en kinders van die duiwel tot nog toe saam op aarde bestaan soos wat koring en onkruid saam in een land kan groei (Matt. 13:24-30). Wanneer hierdie twee koninkryke egter op die punt staan om op aarde geopenbaar te word, dan verdwyn die moontlikheid van verdere naasbestaan heeltemal, omdat die een vir die ander een moet plek maak. Om hierdie rede is dit ʼn futiele oefening om tydens die kerkdispensasie koninkryksteologie (dominionisme) te verkondig, en voor te gee dat Satan se magte heeltemal verbreek kan word en dat God se koninkryk fisies in die hele węreld gemanifesteer kan word voordat die eindtydse oordele van Christus plaasgevind het.
Die wegraping sal ʼn periode van dramatiese openbarings van die koninkryk van God inlui, asook van die opponerende koninkryk van Satan. Heel eerste sal die hemelse Bruidegom Homself aan sy aardse bruid openbaar direk na die opstanding van die regverdiges (Op. 20:5; 1 Thess. 4:16-17; 1 Kor. 15:51-52). Die ongeredde en teruggevalle mense op aarde sal nie hierdie ontmoeting in die lug kan sien nie, maar hulle sal beslis die skielike verdwyning van ware gelowiges opmerk. Hierdie belangrike ingryping deur God sal skokgolwe oor die hele aarde stuur en miljoene agnostici dwing om hulle opvatting oor die geestelike dimensie te heroorweeg, en veral ook die sienings wat hulle oor God gehuldig het.
ʼn Ander baie dramatiese gebeurtenis wat God se almag sal demonstreer wanneer Hy deur middel van oordele teen Israel se vyande ingryp, sal gedurende die Russies-Arabiese inval in Israel plaasvind (Eseg. 38 & 39). Israel en die nasies sal eer aan God bring omdat Hy die vernietiging van Israel voorkom het, en ook omdat Hy ʼn oorlog beëindig het wat potensieel tot die Derde Węreldoorlog kon lei (Eseg. 38:15-16; 39:6-7).
Hierdie geestelike ontwaking sal egter tot uiteenlopende reaksies lei omdat miljoene mense al vir ʼn baie lang tyd van die ware God en sy Woord vervreemd geraak het. Hierdie onkundigheid oor die volle waarheid in verband met Bybelse profesieë sal doeltreffend deur die koninkryk van die duisternis uitgebuit word om aan die węreld ʼn valse messias te bied. Hy sal ʼn węreldregering instel in samewerking met die valse profeet, wie se belangrikste taak dit sal wees om alle godsdienste ekumenies te verenig en aan die węreldmessias dienstig te maak. Erge verdrukking sal losbreek oor teëstanders wat die Antichris se eis as węreldmessias verwerp en volhou dat Jesus die ware Messias en Verlosser van die węreld is.
Dit spreek vanself dat die wedywering tussen die twee koninkryke ʼn godsdienstige karakter aan die dreigende Derde Węreldoorlog sal verleen. Die ware Messias verteenwoordig God se koninkryk en Hy is ook God self in ʼn verheerlikte menslike liggaam, terwyl die Antichris die verteenwoordiger van Satan se koninkryk is maar sal voorgee dat hy God is (2 Thess. 2:4). Ons is reeds in die aanloop tot hierdie godsdienstige oorlog, en dit kan onder meer gesien word in die twee uiteenlopende begrippe van God wat deur die belangrikste monoteďstiese gelowe gehuldig word. Aan die een kant word die God van die Bybel (die drie-enige God, Elohim of Jahweh) verkondig, en aan die ander kant die God van die Koran wat volgens dié geloof geen seun het nie – hy het net profete soos Mohammed en Isa (die Islamitiese Jesus wat geen Goddelike eienskappe het nie en slegs as die seun van Maria beskryf word).
Dit is onvermydelik dat daar ʼn groot militęre konfrontasie tussen die koninkryke van God en Satan sal wees, omdat beide daarna streef om ʼn aardse koninkryk onder die leiding van hulle eie messias fisies te openbaar en in te stel. Jesus Christus het belowe om na die aarde terug te keer, die oorblyfsel van Israel geestelik te laat herleef, die troon van Dawid in Jerusalem te herstel (Hand. 15:16-17), sy vyande te oordeel en sy duisendjarige ryk te vestig. Die koninkryk van Satan het egter ʼn noukeurig beplande strategie om die openbaring van God se koninkryk voor te spring deur die Antichris te openbaar en hom as ʼn węreldleier te vestig.
Nadat die teëhouer van die Antichris (die ware kerk as ʼn tempel van die Heilige Gees) uit die weg geruim is deur middel van die wegraping (2 Thess. 2:6-10), sal Satan op die węreldtoneel verskyn, vermom soos ʼn engel van die lig. Sy spesiale verteenwoordiger sal die universele christus van alle gelowe wees, wat in Openbaring 6:2 voorgestel word as die ruiter op die wit perd – ʼn valse vredevors wat die węreld sal verower deur sy ideologie van eenheid en vrede. Satan, “die owerste van hierdie węreld” (Joh. 14:30), sal aan die Antichris “sy krag gee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2). Die misleide węreld sal hulle nuwe leier in verwondering navolg en hom selfs ook openlik as ʼn god aanbid (Op. 13:3-4). Hulle sal verder ook sy geestelike vader aanbid – nie in sy hoedanigheid as Satan of die draak nie, maar as die universele god van alle gelowe.
Die węreldwye gevolg van die valse messias sal ook die meerderheid van die Jode insluit omdat hulle hom as die ware Messias sal aansien (Joh. 5:43). ʼn Minderheidsgroep Jode sal hulle egter nie aan hierdie ernstige vergissing skuldig maak nie en, reg aan die begin van die sewe jaar lange bewind van die valse messias, hulle lewens aan die ware Messias toewy. Hulle sal die 144 000 getuies van die Messias uit al 12 die stamme van Israel wees (Op. 7:4), maar hulle sal hewig vervolg word deur die magte van die valse messias. Deur hulle bediening sal ʼn groot menigte mense uit alle nasies tydens die verdrukking gered word (Op. 7:9-17). Die Antichris sal alles moontlik doen om enige vorm van teëstand teen sy misleidende beleidsrigtings uit te wis, maar die meeste van hierdie martelare sal weier om die knie voor die eindtydse Baäl te buig.
In die middel van die verdrukking, na 3˝ jaar van die valse vredevors se regering, sal rebellie teen sy bewind uitbreek. Die Antichris sal self hiertoe aanleiding gee wanneer hy die herboude tempel in Jerusalem sal betree en die Allerheiligste ontheilig deur hom daar tot God te verklaar en ook ʼn beeld van homself te laat oprig in hierdie spesiale plek wat net aan die God van Israel toegewy is. Hy sal eis dat alle mense op aarde hom as God aanbid, en weiering om dit te doen sal strafbaar wees deur summiere teregstelling (2 Thess. 2:4; Op. 13:15).
Israel sal die eerste volk wees om hulle verbond met die valse messias te verbreek as gevolg van hierdie godslasterlike daad van hom. Verskeie ander groepe en volke sal ook teen hom in opstand kom, en dit sal hom woedend maak. Sy grootste grief sal egter teen Israel wees, asook hulle nuwe geloof en verwagting op die spoedige koms van die ware Messias in krag en heerlikheid. Die valse messias sal dan magte begin mobiliseer vir ʼn groot oorlog teen die Messias van Israel in Jerusalem. Dit sal die vroeë begin wees van die Derde Węreldoorlog.
Die tweede helfte van die Antichris se regering sal ʼn ongekende skrikbewind wees wat oor alle kontinente heen gevoer sal word. Hierdie bose węreldleier sal skielik die wit perd van vrede verruil vir die rooi perd van oorlog (Op. 6:2-4), en dan “sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:44). Die beginpunt van sy militęre diktatuur sal die ontheiliging van die tempel in Jerusalem wees wanneer hy hom tot God verklaar, gevolg deur Israel se verbreking van hulle verbond met hom. Hy sal onmiddellik ʼn Joodse volksmoord gelas in ʼn poging om alle Jode wat hulle bande met hom verbreek het te laat doodmaak. As gevolg hiervan sal hulle inderhaas uit hulle woonplekke na die berge moet vlug.
Die Here Jesus het afvallige Joodse leiers van die eerste eeu gewaarsku teen al die probleme wat hulle sou oorval indien hulle Hom as Messias verwerp. In sy profetiese rede het Hy spesifiek verwys na die vernietiging van Jerusalem en die tempel, gevolg deur die internasionale verstrooiing van die Jode. Hy het hulle ook gewaarsku teen ʼn toekomstige verbond met die valse messias, asook die groot benoudheid wat sal toesak wanneer hy geopenbaar word as die een wat die tempel ontheilig en die teregstelling van al sy teëstanders gelas – die groot rebel teen God en almal wat met Hom geassosieer is. Jesus het gesę:
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom ... dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug. ... Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die węreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-16, 21-22).
Naas die Antichris se wrede militęre heerskappy en sy genadelose skrikbewind oor diegene wat nie aan hom lojaal is nie, sal sy belangrikste militęre doelstelling ʼn oorlog teen Christus en sy hemelse leër wees wanneer Hy terugkeer om die koninkryk van God fisies op aarde te vestig. Die Antichris sal bewus wees van Bybelse profesieë wat daarop dui dat sy eie bewind net sewe jaar lank sal duur, bestaande uit twee helftes van ʼn jaarweek wat elkeen 42 maande (1 260 dae) lank sal wees (Dan. 9:27; Op. 13:5). Daniël sę dat hierdie gewelddadige “koning van die Noorde” aan sy einde sal kom en dat daar vir hom geen helper sal wees nie (Dan. 11:40, 45).
Gedurende die verdrukking sal Messiaanse Jode, veral die 144 000 spesiale getuies van die ware Messias, die evangelie van die koninkryk oral verkondig, terwyl hulle ook ʼn duidelike tydraamwerk sal aanbied vir Christus se wederkoms aan die einde van die jaarweek van die benoudheid vir Jakob onder die juk van die valse messias. (Tans kan ons nie so ʼn tydraamwerk aanbied nie omdat ons nie weet op watter dag en jaar hierdie kritieke jaarweek sal begin nie; maar nadat dit begin het sal ʼn aftelling na die middel en einde van die sewe jaar-tydperk wel moontlik wees). Die Here Jesus het na die bediening van die eindtydse Messiaanse Jode verwys: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele węreld tot ʼn getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Dit is nie bloot die evangelie van genade nie, maar die evangelie van die spoedig komende Koning van die konings.
Gedurende die finale fase van die valse messias se sewejarige regering sal ʼn węreldwye mobilisering van magte gelas word om teen Christus en sy hemelse leër te veg. Dit sal die Antichris se groot godsdienstiggedrewe oorlog teen die ewige koninkryk van God wees, en hy sal selfs van demoniese misleiding gebruik maak om die konings van die aarde te oortuig dat hulle aan hierdie oorlog moet deelneem in ʼn poging om die openbaring van God se koninkryk te voorkom. Johannes sę: “En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele węreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. ... En hulle het versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13, 16).
Alle menslike sowel as sataniese magte sal ingespan word om teen die komende Koning te veg. Johannes beskryf hierdie bose onderneming: “En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom [Christus] wat op die perd sit, en teen sy leër” (Op. 19:19).
Die hele land Israel, maar veral die gebied in en om Jerusalem, sal in ʼn slagveld omskep word waar troepe van oral uit die węreld sal saamtrek om te wag op die verskyning van Christus terwyl daardie belangrike en beslissende jaarweek besig is om sy einde te nader. God sal nie alleen hierdie militęre mobilisasie toelaat nie, maar dit ook gebruik om die nasies te oordeel omdat hulle Hom as God verwerp het, asook sy Seun as Messias en Verlosser, sy beloofde aardse koninkryk, sy volk Israel, en verder omdat hulle die land verdeel het wat Hy aan Israel gegee het: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ʼn strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2).
Die nasies sal ʼn duur prys betaal vir hulle intense en voortdurende vyandigheid teenoor die Uitverkore Volk. Die Here sę: “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ʼn beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ʼn baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sag. 12:2-3). Dit is waar die slag van Armagéddon sal plaasvind.
Maar wat dan van die noodwendige lyding van Jode in die beleërde stad? Wat is die doel daarmee? Hulle volgehoue verwerping van Jesus as Messias is die rede vir hulle lyding, wat in die eindtyd sal lei na die “tyd van benoudheid vir Jakob” (Jer. 30:7) gedurende die verdrukking. God sę dat sy volk geestelik gesproke skuim geword het, en as gevolg daarvan sal Hy hulle binne-in Jerusalem bymekaarmaak om die vuur van sy toorn teen hulle te laat ontvlam. Die doel met hulle verhoogde lyding sal nie wees om hulle te vernietig nie, maar om ʼn oorblyfsel van Israel te louter en in die vrees van die Here te herstel (Eseg. 22:17-22). Die groot verdrukking sal ʼn tyd van buitengewone vervolging vir Israel wees en die dodetal onder hulle baie hoog: “En in die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ʼn mens silwer smelt en hulle toets soos ʼn mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sę: Dit is my volk! En hulle sal sę: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9).
Die multinasionale magte van die Antichris sal Jerusalem beleër, die stad binneval en begin om mense uit die stad te verdryf. Hulle sal nog met hulle gewelddadige inval besig wees, wanneer die Messias uit die hemel sal neerdaal en sy voete op die Olyfberg neersit: “Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lę, aan die oostekant. ... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:2-5).
Die slag van Armagéddon (die Derde Węreldoorlog) sal ʼn vinnige, dramatiese en beslissende oorlog wees omdat die Antichris en sy magte te staan sal kom teen Hom wat alle mag in die hemel en op aarde het: “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:20-21).
Sagaría verskaf meer inligting oor die aard van hierdie vernietiging van die vyandelike magte: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ʼn groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:12-13).
Armagéddon sal ʼn Goddelike oordeel oor die vyande van die Here en sy koninkryk wees, en die toneel voorberei vir die heerlike openbaring van die Messias se ryk. In ʼn ten volle funksionerende koninkryksituasie kan daar geen naasbestaan wees tussen Christus en die Antichris nie, omdat net een van hulle in ʼn absolute sin koning van die węreld kan wees. Dit is die rede waarom die Antichris nie in staat is om homself as ʼn algemeen aanvaarde węreldleier te openbaar solank as wat die ware kerk nog hier is nie. Alhoewel die koninkryk van God nog nie sigbaar op aarde gevestig is nie, is Christus die Hoof van die kerk (Ef. 1:22) en Hy het belowe dat Hy sy gemeente sou bou, “en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Bose magte van misleiding en vervolging word inderdaad voortdurend teen die kerk losgelaat, maar ons het die Here se beloftes van bewaring asook die volle wapenrusting van God om teen boosheid te kan oorwin. Die duiwel kan die kerk nie in hierdie bedeling oorwin en uitwis nie. As gevolg hiervan kan die Antichris slegs volle beheer as węreldleier neem nadat die kerkbedeling afgesluit en die ware gelowiges van die aarde af weggeneem is.
Om dieselfde rede kan Christus nie as Koning volle beheer oor die węreld neem en sy universele vrederyk instel voordat die Antichris en sy volgelinge oorwin en van die planeet af verwyder is nie. Dit verklaar die scenario tydens sy wederkoms wanneer hierdie twee konings by die slag van Armagéddon teenoor mekaar te staan sal kom. Die vyandige magte sal totaal oorwin word en al die oorlewendes sal ween oor hulle sonde en Christus as Verlosser en Koning aanneem (Matt. 24:29-30). Die hele oorblyfsel van Israel sal met die Messias versoen word en Hom daarna van harte dien (Sag. 12:10; Jes. 27:6).
Uiteindelik sal daar ware vrede op aarde wees en Christus deur almal aanbid en gedien word: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:16). Die ware Vredevors sal van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem regeer (Jes. 9:5-6; Hand. 15:16-17) en die koninkryk van die hemel sal nooit weer deur vyandige magte binnegedring en aangeval word nie (Op. 21:27). Aan die einde van Christus se duisendjarige vrederyk, nadat Satan uit die put losgelaat is, sal hy ʼn finale poging aanwend om God se koninkryk op aarde omver te werp, maar hy sal nie ver kom met sy hernude rebellie nie en dit sal tot sy absolute en ewige verdoemenis lei tydens die laaste oordeel (Op. 20:7-10).