Die Oproep tot Gereedheid vir Christus se Koms

Johan Malan, Mosselbaai (September 2015)

Alle gelowiges word opgeroep om waaksame, toegewyde en godvrugtige lewens onder die beheer van die Heilige Gees te lei, sodat hulle gereed kan wees vir die koms van die hemelse Koning wat ook hulle Regter en Bruidegom sal wees. Waaksaamheid is ʼn belangrike kenmerk van ʼn kerngesonde en dinamiese geloofslewe. Die Here Jesus sê:

“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ʼn man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:33-37).

Jesus Christus beklemtoon die uiterste noodsaaklikheid van geestelike waaksaamheid vir al sy dissipels deur die eeue heen. Almal van ons leef in dieselfde goddelose wêreld waarin ons moet skyn soos ligte te midde van ʼn krom en verdraaide geslag, almal van ons het dieselfde opdrag om die evangelie van Christus tot aan die eindes van die aarde uit te dra, en almal van ons gaan voor sy regterstoel verskyn sodat ons lewe as dissipels beoordeel kan word. Met die oog hierop het almal van ons die opdrag om te waak en bid sodat ons nie in passiwiteit verval, ons visie en ywer vir die saak van die Here verloor, in ons liefde verkoel en as gevolg daarvan geestelike neerlae in die stryd teen die vyand begin ly nie.

Daar is verskeie aspekte van geestelike waaksaamheid wat in ag geneem moet word indien ons seker wil maak dat ons in elke opsig uitvoering daaraan gee:

Die noodsaaklikheid van bekragtiging deur die Heilige Gees

Die Here Jesus sê dat Hy tydens sy fisiese afwesigheid aan sy dissipels volmag gegee het om hulle werk te doen. Dit verwys na die krag van die Heilige Gees waardeur hulle – én almal van ons – in staat gestel word om onder dikwels moeilike omstandighede sy getuies te wees en vir Hom te werk: “En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Dit is van die uiterste belang dat dissipels van Christus nie alleen van die wederbarende krag van die Heilige Gees kan getuig nie, maar ook van vervulling met die Heilige Gees sodat Hy hulle vir diens kan bekragtig. Nie alle Christene is toegerus met krag uit die hoogte nie, daarom kan hulle nie suksesvolle dissipels wees nie. Pas voor sy hemelvaart het die Here Jesus hierdie belangrike belofte herhaal: “... julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Die krag van die Gees is nie slegs noodsaaklik om vir Christus te kan werk nie, maar ook om suksesvol teen die vyand weerstand te kan bied: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Hierdie bekragtiging word deur die Heilige Gees gedoen, maar dit word net prakties ervaar wanneer Hy volle beheer oor jou lewe verkry en jy sodanig in Bybelstudie vorder dat Hy jou deur die Woord teen dwalings kan waarsku en in die hele waarheid kan lei. In die gelykenis beeld die deurwagter geestelike weerbaarheid teen gevaar uit. Dit is ʼn onbetwisbare Bybelse feit dat die werk wat die Here aan sy kerk opgedra het, in ʼn geestelik vyandige omgewing uitgevoer moet word, daarom die taak van die deurwagter.

Het jy al ʼn volle oorgawe gemaak en die Here vir die toerusting met krag uit die hoogte vertrou? Dit is die enigste weg na ʼn lewe van vrugbare diens, oorwinning oor die vyand se aanslae, en volharding in ʼn geestelike stryd wat soms baie veeleisend kan raak. Die noodsaaklikheid van hierdie geestelike toerusting word ook deur die Here Jesus in verskeie ander gelykenisse beklemtoon, omdat Hy wil voorkom dat ons deur nalatigheid die volle seën daarvan verbeur:

Elke dissipel ontvang ʼn Goddelike werksvermoë

In Lukas 19:11-20 sê Jesus: “’n Man van hoë geboorte het na ʼn ver land gereis om vir homself ʼn koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en ʼn gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede. En ʼn ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in ʼn doek weggesit het.”

Die man van hoë geboorte wat na ʼn ver land gereis het om ʼn koningskap te ontvang, verwys na Jesus Christus self. Tydens sy eerste koms was Hy ʼn nederige Dienskneg en Lam van God wat sy lewe as ʼn losprys vir die sonde van die wêreld afgelê het, maar met sy wederkoms kom Hy as die Koning van die konings om sy vyande te oordeel en oor die wêreld te regeer. Voor sy hemelvaart het Hy aan elke dissipel ʼn pond gegee om daarmee te werk in die uitbreiding van sy koninkryk op aarde. Hierdie pond verwys na die instaatstellende krag van die Heilige Gees, en dit word net gegee aan mense wat reeds diensknegte van Christus is.

Volgens 1 Korinthiërs 3:8 sal elke dissipel sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Dit is alles net genadeloon volgens die mate waartoe elkeen onder die leiding van die Heilige Gees vrug gedra het wat by die bekering pas. Nie almal se erns en toewyding is op die selfde vlak nie, daarom sal sommiges meer loon ontvang, ander minder, en sommiges selfs niks nie. Daar is ongelukkig Christene wat glad nie hierdie “pond” gebruik nie, dit in ʼn doek toedraai en so aan die Here teruggee. Hulle sal voor Hom staan met leë hande, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:13-15). Dit is die beeld van ʼn mislukte dissipel wat net met sy eie dinge besig was en geen visie vir die saak van die Here gehad het nie. Om vir die Here se koms gereed te kan wees, beteken dus om op geestelike gebied aan God se doel met jou lewe te voldoen, deur ook dinge te doen wat ewigheidswaarde het en sodoende skatte in die hemel te versamel.

Uit hierdie gelykenis is dit ook duidelik dat daar baie mense in die samelewing is wat totaal negatief teen die Here Jesus en die verkondiging van die evangelie is. Hulle sê: “Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie” (Luk. 19:14). Diensknegte van Christus moet besef dat hulle hul werk in ʼn vyandige wêreld moet doen, waarin net ʼn minderheid mense werklik positief op die evangelie sal regeer. Die meerderheid van hulle sal die duisternis liewer hê as die lig, omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). As gevolg hiervan is ware dissipels van Christus vreemdelinge en bywoners in ʼn wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19).

Ons is nie in hierdie bedeling konings wat ʼn koninkryk-nou teologie verkondig nie, maar diensknegte wat die evangelie van genade moet verkondig. Dit is eers wanneer die Koning teruggekeer en sy vyande geoordeel het, dat sy koninkryk sigbaar op aarde geopenbaar sal word. Dán sal ons as konings saam met Hom regeer – dit gebeur nie nou al nie!

Ware Christene en meelopers

Die gelykenis oor die vyf wyse en vyf dwase maagde in Mattheüs 25 sluit ook aan by dié een in Markus 13 oor geestelike waaksaamheid. Hieruit blyk dit dat daar in die koninkryk van die hemel baie meelopers is wat selfs ook die koms van die hemelse Bruidegom verwag, maar wat hoegenaamd nie daarvoor gereed is nie. Hulle probleem word duidelik geïdentifiseer: “En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie” (Matt. 25:3). Olie is ʼn bekende simbool van die Heilige Gees, en hierdie groep volgelinge van Jesus het die lewenspad sonder die Heilige Gees probeer bewandel. Hulle is verteenwoordigend van die groot groep naamchristene wat net ʼn gedaante van godsaligheid het, omdat die wederbarende krag van die Heilige Gees heeltemal in hulle lewens ontbreek (2 Tim. 3:5).

Dit is wel moontlik om Christus met jou lippe te bely, terwyl jou hart koud en onweergebore is (Matt. 15:8). Hierdie soort Christelike getuienis hou egter nie lank nie, want toe die dwase maagde se verwagting nie vervul is nie en die nag baie donker en koud begin raak het, het die flou liggie van hulle vleeslike getuienis begin flikker en later uitgegaan. Hulle het hulle gebrek té laat agtergekom en was nie vir die Bruidegom se koms gereed nie. Vir hulle sal die Here ook, soos vir die dooie gemeente in Sardis, sê: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). Daar is geen toekoms vir ongeredde naamchristene in die koninkryk van die hemel nie, want hulle is beslis nie gereed vir die koms van die Bruidegom tydens die middernaguur van die kerkbedeling nie.

In die gelykenis van die saaier word daar ook na hierdie dooie lidmate verwys: “En by wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ʼn tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik” (Matt. 13:20-21). Hierdie mense het die Christelike geloof met blydskap aanvaar, hulleself as verbondskinders laat doop en lidmate van een of ander kerk geword, maar hulle het nie geestelike diepte en geen getuienis van ʼn grondige hartsverandering deur wedergeboorte nie. Wanneer daar moeilike omstandighede intree en krisisse hulle tref, verval hulle in twyfel en wanhoop. Hulle probleem is dat hulle nooit met die Here deurgegaan het en die getuienis van die Heilige Gees in hulle harte ontvang het dat hulle gered is nie (Rom. 8:16). Hulle sal noodwendig agterbly wanneer die Bruidegom sy bruid kom haal.

Twee basiese opdragte

Die feit dat die Here Jesus vir sy diensknegte hulle werk gegee het en vir die deurwagter die opdrag om te waak, beteken nie dat sekere dissipels die basiese werk in sy koninkryk moet doen, en dat ander net moet waak teen gevare en vyandige indringers nie. Hierdie twee aktiwiteite moet deur alle diensknegte uitgevoer word. Elke dissipel moet alles moontlik doen om ʼn getuie van Christus se reddende genade te wees, maar terselfdertyd ook waak teen die vyand se aanvalle. Diegene wat net by die evangelie betrokke wil wees en hulle glad nie steur aan die stryd teen die Bose met al sy planne vir misleiding nie, sal gou self die slagoffers van misleiding en vleeslike versoekings wees. Elkeen van ons móét weet wat “die goeie stryd van die geloof” is (1 Tim. 6:12), sodat ons die volle wapenrusting van God kan aantrek om staande te bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11).

In die Ou Testament is daar ʼn treffende illustrasie van die gelyktydige uitvoering van ons twee opdragte om vir die Here te werk én teen vyandige aanslae te waak. Israel het ná hulle terugkeer uit die Babiloniese ballingskap die groot taak gehad om Jerusalem en die tempel te herbou. Die werk is egter bemoeilik deurdat Israel se vyande hulle voortdurend aangeval het terwyl hulle gebou het. Nehemia het toe opdrag gegee dat die bouers bewapen moes word om voortdurend paraat te wees vir moontlike aanvalle: “Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou, en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou” (Neh. 4:17-18).

Ons is in dieselfde situasie en moet voortdurend weerbaar wees teen aanvalle op ons persoon, op ons sosiale en ekonomiese belange, op die bediening wat die Here aan ons toevertrou het, en ook op aanvalle teen die suiwerheid van die leerstellings wat ons verkondig. Ons moet daarop ingestel wees om die leuen teë te staan terwyl ons die waarheid verkondig. As ons ons pad suiwer wil hou, sal ons moet waak teen al die subtiele maar valse afdraaipaadjies wat aan ons gebied word – nie net op morele gebied nie maar ook op leerstellige terrein.

In die eindtyd is daar ʼn geweldige toename in valse leerstellings wat Satanies geïnspireerd is: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Die Bybelse leer oor die wederkoms word ook geweldig aangeval, verdraai, en die kardinale aspekte daarvan ontken. Toe die dissipels aan die Here Jesus gevra het wat die tekens van sy koms is, het Hy geestelike misleiding as die heel eerste teken genoem: “Pas op dat niemand julle mislei nie. ... [Want] baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Matt. 24:4, 11). Die duiwel en sy medewerkers kom dikwels in die gedaante van ʼn engel van die lig en doen hulleself as spesiale gesante van Christus voor – sodoende oorreed hulle die deurwagter om die deur vir hulle oop te maak en hulle in te nooi (2 Kor. 11:13-15). Hulle gebruik dan die geleentheid om Christene deur valse leerstellings te mislei en ontrou aan die leer van Christus te maak.

As deel van die misleiding sal daar ook baie valse gerugte oor Christus se wederkoms in omloop wees: “As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer [dalk op die TV?] – moet dit nie glo nie” (Matt. 24:26). Hierdie ander aansprake verwys na die verskyning van die Antichris. Die Here Jesus kom voor die verdrukking soos ʼn dief in die nag wanneer niemand dit verwag nie (Op. 3:3; 16:15) en sal dan sy bruid na haar hemelse woning wegvoer. Ná die sewe jaar van verdrukking kom Hy op ʼn hoogs dramatiese wyse in die openbaar, soos die weerlig wat van die ooste uitslaan en tot in die weste sigbaar is, en dan sal elke oog Hom sien (Op. 1:7). Hy sal nie iewers in die Midde-Oosterse woestyne of in mense se binnekamers verskyn nie, maar uit die hemel neerdaal en sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sit (Sag. 14:4-5).

Ons kan net vir die wederkoms gereed wees as ons Christus waarlik ken, al die beloftes oor sy koms reg verstaan en ook besef dat ons geestelik voorbereidings moet tref om op ʼn waardige wyse voor die hemelse Bruidegom te verskyn. Dit is van geen geestelike nut om die koms van Christus hoofsaaklik ter wille van sensasie te verkondig en allerlei tekens en datums vir sy geheime koms op te dis nie. Die spreekwoordelike “dwase maagde” sal agterbly – nie omdat hulle nie die Bruidegom verwag het nie, maar omdat hulle nie geestelik reg voorbereid was om Hom te ontmoet nie.

Elke Christen moet seker maak dat albei die basiese opdragte met betrekking tot waaksaamheid uitgevoer word, naamlik eerstens aktiewe toewyding aan die diens van die Here, en tweedens die behendige gebruik van die Woord as die swaard van die Gees sodat ons dwalings en versoekings kan identifiseer en weerstaan. Alle idees en leerstellings wat in stryd met die Woord is, moet aktief weerstaan word omdat dit van die vyand af kom. Het jy ook die skild van die geloof en die swaard van die Woord opgeneem terwyl jy die Here in ʼn vyandige wêreld dien?

Waaksaamheid as die sleutel tot getrouheid

Dit is duidelik dat waaksaamheid ter wille van die onafgebroke handhawing van ʼn hoë Christelike standaard ʼn belangrike sleutel is tot getrouheid aan Christus. ʼn Ingesteldheid van hierdie aard verseker paraatheid in die stryd teen die Bose, asook voorbereidheid vir die oorgang van ons tydelike aardse lewe na die ewige lewe in die hemel. Waaksaamheid help ons om ons fokus altyd op die Here Jesus te hou – nie net met die oog op sy wederkoms nie, maar ook vir ons tydelike behoeftes aan voortdurende reiniging van sonde en krag tot oorwinning (1 Joh. 1:7; 5:4). Paulus sê:

“[L]aat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Ons geestelike wedloop eindig wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien – dan sal geloof oorgaan in aanskouing! Met die oog hierop is alle ander oorwegings en verpligtings in ons lewe van minder belang, veral dit wat ons aandag weglei van ons verpligtinge in die diens van die Here. Dit help ook om ons sensitiwiteit vir sonde te verskerp sodat ons nie dalk in ʼn oomblik van swakheid en onnadenkendheid sal toegee aan versoekings om te sondig nie.

Ons moet onthou dat daar voortdurende groei in ons geloofslewe moet plaasvind terwyl ons opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13-14). As dit nie gebeur nie, kan ons geestelik stagneer en selfs veragter in die genade. Die belofte van die wederkoms is bedoel om ons doelgerig te laat voortgaan op die weg na groter diensbaarheid en heiligheid. Daar is ʼn daadwerklike gevaar dat ons ons geestelike perspektief en bestemmingsbewustheid kan verloor as ons ophou om die werklikheid van Christus se wederkoms voor oë te hou, asook die aanspreeklikheid wat Hy van ons verwag (Rom. 14:12). Mense wat hulle uitkyk op die wederkoms verloor, kan maklik arrogant en geestelik onverskillig raak: “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ʼn dag dat hy dit nie verwag nie ... en hom ʼn deelgenoot van die geveinsdes maak” (Matt. 24:48-51).

Dit is nie noodwendig dat almal wat die belofte van die wederkoms vergeet of ignoreer, tot hierdie uiterstes van geestelike verval sal afdaal nie, maar daar sal nogtans negatiewe gevolge intree. In die gelykenis van die tien maagde lees ons: “En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak” (Matt. 25:5). Selfs die ware gelowiges kan toelaat dat hulle verwagting op die koms van die hemelse Bruidegom vervaag, en dit kan tot passiwiteit en selfs belangeloosheid in die diens van die Here lei. Dit is nodig dat hulle ontwaak om die erns van die situasie te besef dat geleenthede om vir die Here te werk, vinnig verbygaan. Dit is ʼn aanklag teen die wyse maagde dat selfs hulle wat die Here ken, ook geestelik aan die slaap kan raak wanneer hulle behoort te waak en te bid.

Die Here Jesus wil ʼn situasie van hierdie aard voorkom, daarom word die moontlikheid van sy skielike koms as ʼn dringende wekroep aan sy dissipels voorgehou: “Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:35-37). Ons moet wakker, diensbaar en waaksaam wees, want die nag van God se oordele tydens die verdrukking is op hande, en dan sal die kerkbedeling verby wees. Ons moet werk, want die nag kom nader.

ʼn Aktiewe verwagting op die koms van Christus lei nie net tot groter diensbaarheid nie, maar ook tot groter heiligheid. Johannes sê: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Moenie wag dat ander diensknegte jou wakker maak en aanspoor om te waak en te bid nie. Kyk na die tekens van die tye en besef dat die uur reeds daar is om uit die slaap wakker te word. Vertrou jouself opnuut aan die Here toe en bid vir ʼn nuwe toerusting met krag uit die hoogte. Weerstaan die tydsgees van toenemende boosheid en verkondig die reddende genade van Jesus Christus met dubbele ywer. Die oordele van die Here oor ʼn goddelose wêreld is onafwendbaar en baie naby, maar daar is nog steeds die moontlikheid van ontvlugting vir elkeen wat waarlik glo:

“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ʼn strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:34-36). Sonde en donker gedagtes tree dikwels in wanneer die blye verwagting op die Here se koms vervaag. Sulke mense vergeet die wonderlike beloftes van sy koninkryk van geregtigheid wat op aarde gevestig gaan word, staar hulleself blind teen die donker scenario van ʼn eindtydse, goddelose wêreld, en verval dan maklik in sondige gewoontes om die onaangename werklikheid rondom hulle te probeer vergeet. Teruggevalle Christene kan hulle genadeloon verloor (2 Joh. 1:8), en in uiterste gevalle selfs hulle geloof (Heb. 3:12-14). Ons geloof moet vasberade opgebou en versterk word (Jud. 1:20), en nie deur sonde en twyfel verswak word nie.

Toegewyde dissipels van Jesus Christus is egter nie kompromiemakers en twyfelaars wat maklik kapituleer as die stryd hewig raak nie, maar is by ʼn proses van toenemende heiligheid betrokke (Op. 22:11). Wanneer die nag ver gevorder het, sal die Blink Môrester (Christus – Op. 22:16) bokant ʼn donker horison verskyn om sy getroue volgelinge weg te voer na die hemelse ivoorpaleis waar die bruilof van die Lam sal plaasvind (Ps. 45:9-10). Onder op die aarde sal die donker tyd van die Antichris se misleiding en skrikbewind kort daarna aanbreek. Dit was met verwysing hierna dat die Here Jesus gesê het ons moet waak en bid sodat geestelik waardig sal wees om die komende uur van duisternis en verdrukking te ontvlug en in hemelse heerlikheid voor die Seun van die mens gestel te word.